Die merk van die dier – Hermie van Zyl

Vraag: Michele vra:

Ek het vandag ‘n video ontvang waarin Walter Veith vertel van die merk van die dier. Dit is glad nie soos ek dit voorheen verstaan het nie. Die video sê die merk is iets wat nog kom: daar gaan ‘n merk op die hand/arm of voorkop kom wanneer daar net een geldstelsel gaan wees oor die hele aarde en ‘n chip ingeplant gaan word. En vandag hoor ek van Walter dat dit blykbaar ‘n koninkryk is wat die Katolieke Kerk is. Verduidelik asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die merk van die dier waaroor dit hier gaan, kry ons in Openbaring 13:16-18 (kyk ook Op 19:20; 20:4), wat soos volg lui (1983-Afrikaanse Vertaling):

16Hy (die dier uit die aarde = die vals profeet, HvZ) verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier (uit die see, HvZ) of die getal van sy naam. 18Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ‘n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Die eerste taak van ‘n Bybeluitlegger is om te probeer vasstel wat die skrywer aan sy lesers van destyds probeer sê het. Want ons moet onthou dat Openbaring in die eerste plek geskryf is aan die Christelike gemeentes wat in Openbaring 2-3 vermeld word, gemeentes wat in die suidwestelike deel van die destydse Klein-Asië – vandag Turkye – geplaas kan word. Verder, geleerdes verskil oor die presiese ontstaanstyd van Openbaring, maar die standpunt wat vandag deur die meeste geleerdes gehuldig word, is dat dit in die regeertyd van keiser Domitianus was. Hy was van 81-96 nC keiser van die Romeinse Ryk, en ons weet dat hy van tyd tot tyd besonder wreed teenoor Christene opgetree het. Die Openbaringboek moet dus teen die agtergrond van die vervolging van Christene deur die destydse Romeinse Ryk verstaan word. Baie van die verskuilde verwysings in Openbaring (meesal in simbooltaal) is dus na die Romeinse Ryk se optredes en ondergang wat in die vooruitsig gestel word. En eers as ons ‘n goeie begrip het van wat die skrywer van Openbaring aan die destydse Christene wou kommunikeer, kan ons begin om hierdie boodskap vir vandag vrugbaar te maak. Maar ons moet oppas vir al te veel “kreatiewe” toepassings op vandag se omstandighede, want – weer eens – ons moet heeltyd in gedagte hou dat Openbaring nie primêr vir ons situasie vandag geskryf is nie. Ons moet eerder probeer om die kernboodskap van (‘n gedeelte in) Openbaring vas te stel en dan ons eie situasie in die lig daarvan beoordeel, sonder om in allerlei spekulatiewe randpaaie vas te val.

Met hierdie algemene opmerkings as agtergrond kan ons nou na die spesifieke vraag omtrent die merk van die dier in Op 13:16-18 beweeg. Eers net ‘n opmerking oor die “onheilige drie-heid”, teenpool van die heilige Drie-eenheid, wat in Openbaring werksaam is. Daar is die draak (simbool van Satan, 12:9), die dier uit die see (13:1; simbool van die anti-Christelike Romeinse Ryk), en die dier uit die aarde (13:11; simbool van die vals profeet, 19:20; 20:10). Soos wat die dier uit die see in diens staan van die draak (13:2), so staan die dier uit die aarde weer in diens van die dier uit die see (13:12). Hy (die dier uit die aarde) verlei en dwing mense om die dier uit die see, d w s die Romeinse regering wat homself in die plek van die ware God gestel en die onderdane van God geterroriseer het, te aanbid. En saam stel hierdie onheilige drie-heid hulle op teen die ware God en sy onderdane. In hierdie bedeling lyk dit of die onheilige drie-heid die oorhand het, want hulle vermoor die ware God se onderdane. Maar Openbaring open juis vir ons die hemelse toneel waar God uiteindelik die onheilige drie-heid vernietig en in die poel van vuur gooi, simbool van die ewige verderf (19:20; 20:10).

Met hierdie beeldspraak van die draak (Satan) en sy twee trawante (die dier uit die see en die dier uit die aarde) is die skrywer dus besig om aan sy lesers die boodskap oor te dra dat die Romeinse owerheid as die antichris van sy dag eintlik in diens staan van die Satan. En die Romeinse Ryk het weer baie bondgenote in die vorm van die priesters in die heidense tempels en ander vals stemme in die samelewing wat die Christene wil verlei om deel te neem aan die keiserverering en -aanbidding (vgl 13:12-15). Maar soos wat die drama in Openbaring ontvou, onthul die skrywer ook aan sy lesers dat hierdie oënskynlike mag van die Satan en sy twee trawante net tydelik is. Uiteindelik delf hulle die onderspit wanneer God die Satan en sy helpers vernietig.

Wat verder belangrik is, is dat die onderdane van Satan en die lojale ondersteuners van die Romeinse keiser uitgeken kan word aan ‘n merk wat hulle op die regterhand of voorkop dra (13:16). (“Regterhand” en “voorkop” wil sê dat hulle in hulle aksies en denke volledig in diens staan van die dier uit die see.) Hierdie merk is niks anders nie as ‘n uiterlike kenteken dat hulle ondersteuners is van die dier uit die see (13:17). Hierdie uitkenningsteken vorm ‘n parodie (spotlied) op God wat as die ware Alleenheerser ook sy onderdane verseël. In Openbaring 7:3 lees ons dat God sy seël op sy dienaars se voorkoppe plaas om hulle so as sy eiendom te merk en te beskerm teen die aanslae van die bose. So beskerm die Romeinse owerheid ook sy onderdane deur aan hulle sy merk te gee sodat hulle in die daaglikse handel en wandel bevoordeel kan word. Die Romeinse owerheid probeer dus die alleenheerskappy van God na die kroon steek deur as totalitêre heerser absolute gesag oor almal en alles uit te oefen. Teen dié wat nie sy merkteken dra nie, word daar dan gediskrimineer sodat hulle dit baie moeilik vind om ‘n normale lewe te lei.

Dis moeilik om te sê of hierdie merk destyds fisies sigbaar was. Kenners wys op die gebruik van sommige religieuse ordes en aanbidders van sekere gode in daardie tyd om tatoeëermerke te dra wat hulle kenbaar gemaak het. Of die amptelike dokumente van die Romeinse distrikte met die keiser se seël daarop wat aan onderdane dan die reg gegee het om handel te dryf. Maar wat duidelik is, is dat hierdie merk veral simbolies verstaan moet word. Want Op 13:17-18 sê dat die merk ‘n getal is wat die naam van die dier uit die see, dit wil sê die Romeinse owerheid, uitbeeld. Hoe moet ons hierdie getal verstaan?

Die letters van die Griekse, Latynse en Hebreeuse alfabet het destyds elkeen ‘n unieke getalswaarde gehad, byvoorbeeld a = 1, b = 2, c = 3, ensovoorts. Op dié manier was dit teoreties moontlik om van ‘n getal na die letters te beweeg en so by ‘n persoon se naam uit te kom. Maar in die praktyk was dit nie so maklik nie, want ‘n mens het nie altyd geweet hoe die getal saamgestel was nie – gewoon uit die letters van ‘n enkele naam, of dalk meer as een woord, of net die beginletters van woorde in ‘n sin wat saam na iemand verwys (akroniem)? En so kan mens die moontlikhede vermenigvuldig. Punt is, reeds in die middel van die tweede eeu na Christus (d w s ongeveer 50-60 jaar na die ontstaan van Openbaring) het die kerkvader Ireneüs nie meer geweet na wie 666 verwys het nie. Wat ons wel kan sê, is dat volgens die Hebreeuse alfabet die letters van die woorde “keiser Nero” wel optel na 666. Maar Openbaring is in Grieks geskryf, ‘n mens sou dus verwag dat dit eerder Griekse letters moes wees wat ons by die getal 666 uitbring. En verder het ons reeds genoem dat Openbaring om ander redes eerder in die tyd van keiser Domitianus geplaas moet word. Ander verklaarders wys weer daarop dat die getal 666 die getal van die mens is, die mens synde op die sesde dag geskape, terwyl God se getal weer die volmaakte 7 is. Dus, hoewel magtig (3 keer 6), is die beste wat die antichris kan doen om by 666 uit te kom; hy kan nooit by God wat volmaak is (3 keer 7) uitkom nie. Ons is gevolglik steeds in die duister wie presies die getal 666 destyds op die oog gehad het. Maar dat dit na ‘n persoon verwys het, moontlik een van die Romeinse keisers, is redelik seker. In elk geval sou die eerste lesers van Openbaring die kode kon ontsyfer, en hulle sou die simboliek daarvan begryp het.

As ons nou moet vra wat dit alles vir vandag beteken, behoort dit uit bostaande uiteensetting duidelik te wees dat mens uiters versigtig met die eietydse toepassing van hierdie merkteken te werk moet gaan. Te maklik sit ons op loop met een of ander vermeende bose verskynsel in die samelewing wat ons dan met die merk van die dier wil demoniseer en as die antichris wil uitwys. ‘n Mens moet eerder sê dat enigiets – mens of instansie – wat totalitêre beheer wil toepas in die samelewing en mense se absolute lojaliteit opeis in die plek van die lewende God, antichristelike trekke begin aanneem en dat mens daarvoor in jou pasoppens moet wees. Maar om allerlei moderne verskynsels (soos ‘n “chip” wat moontlik êrens ingeplant kan word) summier as uit die bose aan te merk, is onverantwoordelik en saai onnodig paniek. Blote tegnologiese ontwikkeling is nie boos nie; dis die mens wat tegnologie misbruik om ander te beheer en van God te vervreem, wat boos is. En dít was nog altyd met ons gewees, in allerlei vorme. Net omdat daar boeke met bose of vals leringe is, beteken nie dat alle boeke boos is en vermy moet word nie. Net omdat daar pornografiese webwerwe is, beteken nie dat die internet as sodanig uit die bose is nie. Net omdat daar priesters in die Rooms-Katolieke Kerk is wat seuns misbruik het, beteken nie dat die ganse Roomse Kerk ‘n instrument van Satan is nie. Ons moet die Here dus eerder voortdurend vra om ons ‘n gees van onderskeiding te gee sodat ons in elke tydsgewrig kan onderskei tussen goed en kwaad, en sodat ons die antichris, of antichristelike tendense, kan herken, in watter vorm of gedaante dit ook al voorkom – soms as ‘n persoon, soms as ‘n ideologiese stelsel, soms as strukture of instellings van die samelewing. Want dat die bose alles in sy vermoë doen om God na die kroon te steek en mense te verkneg en van God te vervreem, is duidelik. En dit kom in elke tyd voor, soms subtiel, ander kere brutaal. Christene moet dus altyd wakker wees om die bose te herken en hom te weerstaan en te beveg (Ef 6:10-20).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Boom van kennis, goed en kwaad – Francois Malan

Martiens vra:

God die Vader het saam met Adam en Eva in die tuin gewandel, maar hulle mag nie van die boom van kennis goed en kwaad geëet het nie.

Eva en Adam het toe van die boom se appels geëet. beteken dit dan dat die duiwel: klaar uit die hemel gegooi is aarde toe voor Adam en Eva se tyd en hoekom is die duiwel uit die hemel gegooi?

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die 72 wat Jesus voor Hom uitgestuur het na die dorpe wat Hy nog wou besoek, het teruggekom en met vreugde kom vertel dat selfs die demone hulle aan hulle, sy gestuurdes, onderwerp het op grond van Jesus se Naam. Die dissipels spreek Jesus aan as ‘Here’(kurios), wat die seggenskap het in God se koninkryk en selfs oor die demone, soos hulle dit, as sy gesante, self beleef het. Jesus sê toe vir hulle: ‘Ek het Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val’(Lukas 10:17-18).

 Die naam vir die duiwel ‘Satan’ is afgelei van die Hebreeuse woord wat ‘teenstander’ of ‘aanklaer’ beteken, (vgl. sy aanklag en teenstand teen Job en teen alle gelowiges; Job 1:6-12; 2:1-7; Openb 12:7-12).  Sy blitssnel skielike val uit die hemel, soos ’n weerligstraal, beteken dat hy nie langer enige aanklag teen ’n mens aan God kan voorlê nie, want Jesus het alle aanklagte teen mense op Homself kom neem toe Hy, die Seun God, mens kom word het, en ‘die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit vir altyd weggeneem het toe Hy dit die kruis vasgespyker het (Kol 2:14). In Rom 8:33-34 vra Paulus wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus het gesterf – meer nog: Dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree (vgl. Ps 110:1). As God ons dan vrygespreek het, kan Satan ons nie meer by God aankla nie.

 Deurdat die groot aanklaer uit die hemel uitgewerp is omdat hy niemand meer by God kan aankla nie, kon die 72 dissipels die duiwels uitdryf en het die demone hulle aan die dissipels onderwerp op grond van Jesus se Naam, die Jesus wat al die versoekings van die Satan weerstaan het (Luk 4:1-13). Die Satan is eers uit die hemelse toegang tot God uitgewerp deurdat Jesus die sonde van die wêreld op Hom geneem het en die straf op al ons sonde namens ons gedra het. Joh 1:29 noem Jesus ‘die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.’

 Omdat die Satan uit die hemel uitgegooi is, en nou saam met sy engele op die aarde neergegooi is, probeer hy   sy heerskappy hier uitoefen (Openb 12:9). In Mattheus 12:24 word hy genoem Beëlsebul, die aanvoerder van die demone. 2 Kor 4:4 noem hom die god van hierdie bedeling. Maar dit beteken nie dat hy toe eers begin het om die mens te verlei nie. Daarmee is hy van die begin af besig, maar nou sonder dat hy die mens by God kan aankla. In Johannes 8:44 sê Jesus ‘die duiwel was van die begin af ’n mensemoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie. Wanneer hy ’n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar en die vader daarvan is.’

 Voor Jesus se koms kon die duiwel vir Job by God aankla (Job 1:9-10; 2:4-5), en het Hy reeds op aarde die mense met leuens verlei, soos vir Eva vir wie hy gesê het: ‘Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles sal kan ken’ Gen 3:4-5. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee (Gen 3:6). Die vrou wou soos God wees om alles te kan ken. Dit beteken dat sy self god wou wees. En van daardie dag af leef ons mense almal vir onsself terwyl God ons gemaak het om vir Hom te lewe en vir mekaar, as God se verteenwoordigers in sy skepping (Gen 1:27-28).

 SkrywerProf Francois Malan




Vergifnis na erge trauma – Hermie van Zyl

Mariana vra

My man is ‘n alkoholis. Ons is al twee jaar uitmekaar. Hy bly nou saam met ‘n ander vrou en ons het nie eintlik meer kontak nie. Hy het my emosioneel baie mishandel. Hoe vra ek die Here dat ek my man kan vergewe? Hoe vergewe ek myself omdat ek my kinders by so ‘n pa grootgemaak het? Hulle is nou 19, 23 en 28. Al drie is dogters en almal het soveel emosionele skade opgedoen. Wat doen ek met die selfverwyt? Ek weet ek moet alles agter my sit, want ek kan nou niks verander nie. Moet ek nog vir hom bid? Wat maak mens met die skuldgevoel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is ‘n vrou wat met wisselende emosies sit. Sy het erge trauma oor ‘n lang tyd beleef as gevolg van haar gewese man wat haar emosioneel mishandel het, en sy weet nie of sy dit oor haar hart kan kry om hom te vergewe nie. Hiervoor soek sy hulp by die Here. Verder sit sy ook met selfverwyt en skuldgevoelens oor sy toegelaat het dat haar dogters emosionele skade opgedoen het weens haar man se optredes. Het hulle nie dalk onherstelbare skade gely nie? Sy voel dis alles haar skuld, dat sy hulle gefaal het. Tog weet sy dis die beste om die verlede agter te laat en vorentoe te kyk. Want wat gebeur het, het gebeur. Sy kan niks aan die verlede verander nie. ‘n Mens kan nie jou lewe lank ‘n gevangene van die verlede bly nie. God het tog sekerlik iets beter vir haar weggelê in die toekoms?

Hierdie is geen maklike kwessies nie. Skuldgevoelens, selfverwyt, ‘n onvermoë om te vergewe, ‘n onwilligheid om die verlede agter te laat en gebrek aan ‘n toekomsvisie skep ‘n “perfekte emosionele storm” en kan van ‘n mens ‘n wrak maak wat jou lewe ruïneer. Hoe help ons haar op haar weg vorentoe?

Eerstens, maak vrede met die keuses wat jy gemaak het in die verlede. By terugskou is dit maklik om te sê dat jy eerder jou kinders en jou goed moes gevat en geloop het. Maar dis maklik om dit nou te sê; nou is die kinders groot en relatief onafhanklik; al drie kan waarskynlik grotendeels vir hulleself sorg. Maar toe die kinders klein was, was dit ‘n ander storie. Toe was daar ander faktore wat ‘n rol gespeel het: die opvoeding en versorging van die kinders; finansiële sekuriteit; die hoop dat die situasie kan verander. Al hierdie oorwegings kon ‘n rol gespeel het waarom jy nie tóé jou man verlaat het nie. Dis keuses wat jy tóé moes maak wat waarskynlik nie anders kon nie. En met daardie keuses in die verlede moet mens vrede maak, selfs al was hulle by terugskou verkeerd. Niemand van ons is volmaak nie; almal maak groter of kleiner foute waarmee ons moet saamleef vir die res van ons lewe. Dit help nie om nou te sê ek moes destyds anders gekies het of van beter geweet het nie. ‘n Mens maak keuses by die lig wat jy op daardie oomblik ontvang. As jy dink – by die lig wat jy nou oor jou verlede het – dat dit destyds foutiewe keuses was, vra dan die Here om vergifnis, aanvaar sy vergifnis, en leef uit daardie vergifnis. Maar moenie tob oor jou swak keuses van die verlede net omdat jy nou in ‘n beter posisie is om daaroor te oordeel nie. Die Here hang ons nie op aan ons verlede nie. Anders sou Jesus nie vir die vrou wat in owerspel betrap is, gesê het nie: “Jy kan maar gaan, en moenie verder sondig nie” (Joh 8:11).

Tweedens, ek weet nie hoe die verhouding met jou dogters is nie, maar as dit kan, neem hulle in jou vertroue en speel oop kaarte met hulle. Sê vir hulle hoe jy voel oor die verlede – dat jy voel jy het hulle in die steek gelaat. Praat die saak met hulle deur; hoor hoe húlle reageer en daaroor voel. Kinders het partykeer ‘n heel ander perspektief as die ouers op dieselfde situasie. Verder, die drie kinders het nie noodwendig elkeen dieselfde gevoelens oor dinge wat na jou mening verkeerd geloop het nie. En as dit so is dat hulle letsels opgedoen het, vra dan hulle vergifnis daarvoor. Probeer ‘n nuwe verstandhouding met hulle aangaan waarop die verhouding met hulle in die toekoms gebou kan word. Probeer aan hulle verduidelik waarom jy destyds die keuses gemaak het wat jy wel gedoen het. Jy mag dalk net agterkom dat hulle emosionele letsels veel minder is as wat jy self oor skuldig voel. En dan straf jy jouself onnodig. Die punt is: moenie alléén oor die verlede wroeg nie, praat openlik die dinge deur met jou dogters; kry alles in die oopte. Dit op sigself behoort al klaar ‘n stuk verligting en genesing van die skuldgevoelens te bring.

Derdens, jou man. Jy sê nie of julle formeel geskei is nie; ek vermoed van nee, want jy praat nog van jou man asof julle steeds getroud is, hoewel hy intussen by ‘n ander vrou ingetrek het. Maar dit klink of die band permanent verbreek is; jy stel nie daarin belang om die huwelik te probeer red nie. Al wat jy graag wil doen, is om finaal afskeid te neem van daardie deel van jou lewe en vorentoe te beweeg. Indien my opsomming korrek is, dink ek die eerste stap nou is om formeel van hom te skei. Egskeiding bring finaliteit en open nuwe moontlikhede. Want soos sake nou staan, kan jy nie met ‘n goeie gewete nuwe verhoudings aangaan nie. En indien jy sou, sal dit weer nuwe skuldgevoelens by jou kweek. Daarom, pak die bul by die horings en bring formeel ‘n einde aan daardie deel van jou lewe. Dis deel van die genesingsproses. Jy mag dalk vind dat die nuwe situasie van geskei te wees in sigself ‘n stuk terapie is wat dit gaandeweg ook vir jou makliker sal maak om daardie hoofstuk af te sluit. Dit wys dat jy beheer kan neem van jou lewe; jy is nie meer ‘n gevangene van jou verlede en emosies nie. Dit gaan dit ook vir jou makliker maak om hom te vergewe as jy sterker staan in jou eie emosies. Want om daardie hoofstuk werklik af te sluit, sal jy hom uiteindelik móét vergewe. Anders gaan dit aan jou bly vreet, anders bly hy deel van jou lewe. En onthou, vergifnis is nie ‘n emosionele, spontane reaksie nie. Dis ‘n geloofsbesluit wat jy neem om uit God se genade vir jóú te lewe, en op grond daarvan ook ander wat jou onreg aangedoen het, te vergewe. Jy sien dan in die eerste instansie jousélf as medesondaar wat vergifnis nodig het, en vervolgens raak dit ook makliker om ander se oortredings te vergewe. Ons is immers almal sondaars by wie dit ontbreek aan God se heerlikheid (Rom 3:23). En vanuit hierdie breër perspektief op jouself én ander vat jy dan elke dag op sy eie en lééf vanuit daardie geloofsbesluit. En gaandeweg sal jy ervaar dat daar genesing kom en dat jou emosies ook in pas kom met die besluit wat jy geneem het.

Laastens, kom ons werp ‘n bietjie lig op jou situasie vanuit twee Bybelfigure se lewe. Paulus het geweldige skuldgevoelens beleef omdat hy vóór sy bekering die gemeente van God vervolg het. Dit slaan deur in Skrifgedeeltes soos 1 Kor 15:9, Fil 3:6 en 1 Tim 1:13 waar Paulus sê dat hy vanweë sy vorige lewe nie op enigiets kan aanspraak maak nie; trouens, hy sien homself as die geringste van die apostels. Hy sê ook dat hy by terugskou nou verstaan dat hy destyds in totale onkunde gehandel het; hy het nie mooi geweet het wat hy doen nie, want tóé het hy nog nie die opgestane Here op die Damaskuspad ontmoet nie. Die blote feit dat hy hierdie dinge in meer as een van sy briewe noem, briewe wat op verskillende tye van sy bediening geskryf is, lê sy hart bloot – dat hy nooit heeltemal daarvan kon vergeet dat hy so dom en onnosel was, dat hy vroeër in sy lewe sulke verkeerde besluite geneem het nie. Tog sê hy dat hy die dinge wat verby is, agtergelaat het en dat hy hom nou uitstrek na wat voor is (Fil 3:13). Hy kan dit doen omdat hy die genade van God aanvaar het. Hy kan nou voluit vir die Here werk, selfs harder as al die ander apostels. Dus, ten spyte van sy slegte verlede het hy besluit om hom nie sy lewe lank daaroor te verknies nie, maar om aan te beweeg en vrugbaar te arbei in die wingerd van die Here. Dieselfde met die dissipel Petrus. ‘n Mens kan net dink watter geweldige sielewroeging hy moes deurgaan nadat hy sy Meester verloën het. Petrus kon homself ook, soos Judas, gaan ophang het, maar hy besluit om die Here se vergifnis te aanvaar, asook die nuwe taak wat die Here aan hom opdra – om sy kudde te versorg – en voortaan voluit met hierdie roeping besig te wees (Joh 21:15-19). Dit ís dus moontlik om jou slegte verlede agter te laat en die toekoms wat God se genade in Christus vir jou ontsluit, in die geloof aan te gryp en ‘n nuwe lewe te begin. Dit is die enigste pad wat werklik sin maak. Ek wens dit van harte vir jou toe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Surrogaatswangerskap – Jan van der Watt

Amanda vra:

Vriendin van my dogter het toe haar man met breinkanker gediagnoseer is en sy nie kon swanger raak nie, besluit om sy spermselle te vries. Hy is intussen oorlede. Sy het nou sy spermselle laat ontdooi en met haar eierselle te laat bevrug. Daar was 3 eierselle wat bevrug geraak het. Die wet het egter nog nie bepaal of ‘n persoon wat dood is se spemselle behoue mag bly nie, maar vernietig moet word. Die 3 bevrugte eierselle is toe gevries totdat die wet verander het. Omdat haar eie gesondheid dit nie toelaat nie, het sy nou ‘n surogaatmoeder waarin die bevrugte eiersel oorgeplant is. Die ander twee is nog gevries. Sy het intussen ‘n ander man ontmoet en wil trou. Sy wil egter as dit ‘n seun is die kind die pa se van gee, sodat hy ‘n nageslag het. Nou, my vraag is: is dit alles eties korrek?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is ’n paar etiese kwessies wat in hierdie verhaal na vore tree.

  1. Die verhaal is nie vir my heeltemal duidelik nie – daar word aan die eenkant gesê dat die wet die behoud van spermselle van iemand wat oorlede is, verbied het, maar aan die ander kant is dit gevries? Die wetlike kwessies gaan ons nie hier aan nie. Die punt hier is of mense spermselle mag vries vir latere bevrugting. Binne die mediese wetenskap is dit standaardpraktyk en eties dink ek  kan daar nie werklik besware teen ingebring word nie. Ons moet onthou dat die mediese wetenskap nie teen God werk nie, maar dat dit die kennis wat God is die skepping weggelê het, beskikbaar maak. Die vraag is egter hoe die selle gebruik word. Dit kan tot ander etiese vrae lei.
  2. Die tweede kwessie is die van ’n surrogaatmoeder. Die Bybel het natuurlik nie direkte uitsprake hieroor nie, omdat so iets in die Bybelse tyd nog nie moontlik was nie. As ons die Bybel betrek, moet dit alleen per afleiding wees – bv. neem die aksie lewe weg; mag die bevrugte saad van ’n vrou alleen in daardie vrou groei? Verskillende antwoorde mag op die vrae gegee word, maar dit bly spekulasie as die Bybelse materiaal gebruik word. Waar die probleme hier lê is veral by die verhoudings van die surogaatmoeder teenoor die seldoners. Die probleme is bekend: wat as die surogaatmoeder voel dit is haar kind omdat dit tot lewe in haar gegroei het en haar bloed deur die kind vloei? Die gevoel mag sterk by haar wees dat sy die kind nie wil afgee nie. Die ouers mag antwoord dat lewe reeds by bevrugting begin en die surrogaatmoeder dus nie lewe aan die kind gegee het nie, maar die kind alleen begelei het (soos ’n onderwyser in ander omstandighede doen) gedurende ’n periode in sy of haar lewe. Wat van die kind se verhouding met die surrogaatmoeder? Is die surrogaatmoeder die geboorte-ma of nie en hoe moet die kind die vroulike saadskenker sien? Dit mag problematies word wanneer die kind ouer word en self vrae begin vra. Watter aanspraak het elke party of die kind? Sommige mag selfs redeneer dat die man oortree deur sy saad (hoewel reeds bevrug) in ’n vreemde vrou te laat plaas, ens. So kan ons met die sielkundige en sosiale probleme wat mag opduik aangaan. Hierteenoor moet etiese posisies dus ingeneem word. Afhangende van die probleem wat opduik, moet etiese posisies dus geformuleer word. Behoorlike kontrakte tussen die partye mag help, maar is ook nie die volledige oplossing nie, aangesien emosionele aspekte kan veroorsaak dat die kontrak nie deur een van die partye noodwendig op die langer termyn erken word nie.

Die naam van die kind is vandag nie meer so belangrik nie. In die ou dae (Bybelse tyd) was stamme en families se karatertrekke en identiteit sterk aan hulle families verbonde en name was ’n manier binne die gemeenskap om persone se karakters, aard en herkoms te bepaal. Vandag is die nie meer in dieselfde mate die geval nie. Daarom kan mens ook jou naam sonder moeite laat verander. Dit is dus ’n persoonlike besluit rakende die naam en na my mening het dit nie eintlik algemene etiese implikasies nie. Dit gaan meer oor sake soos die erkenning van die saadskenker en of mens sy nagedagtenis wil eer en of dit beter of makliker sal wees as die kind onder die nuwe pa se naam grootword.

Skrywer: Prof Jan van der Watt