Jurgens vra:
Martin Luther het gesê ons is terselfdertyd regverdige en sondaar. Die praktyk bewys dit tog duidelik. Wat is die oorsprong van sonde ná regverdigmaking? Pelagius het geglo die mens sondig sommer net uit navolging of gewoontes. Wat is die bewys dat ons steeds sondig ná regverdigmaking uit ons sondige natuur? Met verwysing na 2 Petrus 1:4 wat leer ons het die verdorwenheid ontvlug en nou ook deelgenote geword van die Goddelike natuur.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Ons vraagsteller stel ‘n baie interessante en belangrike saak aan die orde, wat op die volgende neerkom: Wat is die status van ons lewe nadat ons deur God regverdig verklaar is? Bly ons (ou) natuur presies dieselfde of verander dit? Indien dit verander, hoekom lyk dit of ons ou sondes steeds ongebreideld voortwoeker? Om hierdie vrae na behore te antwoord, wil ek begin by die sogenaamde heilsorde of heilsweg.
Regverdigmaking maak deel uit van die heilsorde of heilsweg. Ander sake wat gewoonlik ook hier ter sprake kom, is uitverkiesing, wedergeboorte, roeping, bekering, geloof, verlossing/redding en heiligmaking. Hierdie begrippe beskryf almal die manier waarop ons deel kry aan die heil wat God ons in Christus skenk. Van nature is ons slawe van die sonde, maar op bogenoemde maniere skenk God aan ons sy genesing of heil. Soms word dit so voorgestel dat hierdie begrippe ‘n bepaalde volgorde van gebeure voorstel, byvoorbeeld ons word eers uitverkies, dan wedergebore, dan geroep, ensovoorts (vandaar die term heils-orde), maar dit is eerder so dat elkeen van hierdie begrippe die hele heil beskryf, hoewel elke keer net vanuit ‘n ander perspektief of hoek. Dis soos ‘n diamant met verskillende vlakke – elke vlak laat ons die hele diamant waardeer, maar telkens vanuit ‘n ander hoek.
Wat wil regverdiging ons dan laat sien van God se heil? Regverdiging beskryf die gebeure waar God ons vryspreek, of onskuldig of regverdig verklaar, op grond van Christus se verdienste. In onsself is ons sondaars, ons het geen gronde om aan God te bied waarom Hy ons moet vryspreek nie. Maar nou het Hy in genade self Iemand voorsien wat nie net in ons plek vir ons sonde gestraf is nie, maar wat ook in alle opsigte sonder sonde was. En wanneer ons volledig afstand doen van ons eie floue poginkies tot selfregverdiging en onsself werp op Christus se verdienste, dan verklaar God ons regverdig om Christus wil; dan beskou Hy ons asof ons geen sonde meer het nie. Regverdiging beteken dus die vryspreek van sondaars op grond van Christus se verdienste. My status voor God is dan dié van regverdige, van sondelose. (Lees veral Rom 3:21-31; 4:5; 2 Kor 5:21 en Gal 2:15-21 hieroor.)
Maar nou die vraag van ons vraagsteller: Waar kom die sonde dan vandaan ná ons regverdiging? Is ons dan nie hiervan vrygespreek nie? Het ons dan nie van status verwissel in die oë van God – van sondaar na regverdige nie? Op grond van baie Skrifuitsprake moet ons sê dat ons status voor God inderdaad verander het. So moet die gemeente in Korinte van Paulus hoor dat God hulle “geroep het om aan Hom te behoort”. Letterlik staan daar dat die gemeente “geroepe heiliges” is (1 Kor 1:2). Juis hierdie gemeente waar daar soveel probleme en sonde voorgekom het, se status voor God is dié van heiliges. En so verklaar Paulus dit ook van die gelowiges in Rome (Rom 1:7), van al die gelowiges in Agaje (2 Kor 1:1), van die Efesiërs (Ef 1:1), ensovoorts. Heiliges – dít is wie hulle is in Christus; dis hulle status. Maar hierdie status moet nou verwerklik en uitgeleef word; hulle moet as ‘t ware ingroei in hulle status. Gelowiges moet nou word wat hulle reeds is kragtens hulle geloof in Christus. En dit gebeur nie eensklaps nie; dit vat ‘n leeftyd om aan hierdie status gestalte te gee. En selfs dan gebeur dit nie volkome nie. Daarom dat 1 Kor 15:42-44 sê dat hierdie verganklike bestaan van ons op aarde uiteindelik met onverganklikheid vervang moet word, hierdie geringe gestalte na heerlikheid omgeskakel moet word, ‘n natuurlike liggaam met ‘n geestelike liggaam vervang moet word. En dit gebeur in die opstanding. Dan word dit duidelik wie ons eintlik is: geheiligdes in Christus.
As ons die situasie soos hierbo geskets in ietwat geleerder, teologiese spraakgebruik moet verduidelik, kan ons sê dat ons status as regverdiges en heiliges in Christus ‘n forensiese en etiese werklikheid is. Dit beteken dat ons kragtens God se hoë reg vrygespreek is van alle skuld voor God (forensies, soos in ‘n hof deur ‘n regter). Ons status is nou dié van ‘n vrygespreekte. Maar terselfdertyd word ons opgeroep om volgens hierdie nuwe status te lewe (eties). Ons lewenswyse moet pas by ons nuwe status; ons moet soos ‘n vrygespreekte leef. Dis soos toe Jesus vir die vrou wat in owerspel betrap is, gesê het: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh 8:11). Die “gaan maar” is die vryspraak of regverdigverklaring (forensiese handeling), en die “moet van nou af nie meer sonde doen nie” is die etiese; sy moet nou haar status as vrygespreekte gaan uitleef. Verder, teoloë is baie huiwerig om te sê dat hierdie forensiese uitspraak ook inhou dat ons natuur (wese, syn) verander het. (Dis ‘n lang debat waarop ek nie nou kan ingaan nie.) Die relatiewe konsensus onder ten minste Protestantse teoloë is om te sê dat regverdiging wel ons forensiese status voor God verander, maar nie ons ontologiese status (syns- of wesenstatus) nie. Dit beteken ons is nog steeds mense met ‘n brose natuur wat tot sonde geneig is. Ons wesensaard is nie eensklaps vergoddelik nie; ons aard het nie so verander dat ons soos God geen sonde het en tot geen sonde verlei kan word nie (Jak 1:13). Regverdiging beteken eerder dat ons nou in ‘n nuwe personele verhouding tot God staan. As persone is ons steeds sondaars, maar as persone staan ons nou met ons volle sondige menswees ook in ‘n nuwe verhouding tot God. En God kom ons tot hulp in hierdie nuwe verhouding deurdat Hy deur die inwoning van sy Gees ons ‘n nuwe geneigdheid, koers en rigting in ons lewe gee, en ons ook in staat stel om dit uit te lewe.
Vanuit bogenoemde moet ons dus sê dat dit in hierdie lewe ‘n voortdurende stryd is om aan die suigkrag van ons ou natuur te ontkom en Christus toe te laat om in ons gestalte te kry. Daarom dat Paulus so sterk daarop staan dat ons vanuit ons status sal leef. In Rom 6 sê hy dat ons saam met Christus gesterf het vir die sonde; ons is dood vir die sonde; dit het nie meer ‘n houvas op ons nie. Terselfdertyd het ons reeds saam met Hom opgestaan uit die dood om vir Hom die nuwe lewe te leef. Hy moedig die Romeinse gelowiges dus aan om nie toe te laat dat die sonde langer oor hulle heerskappy voer nie, en om hulle sigbare lewens in diens van God te stel. Geen wonder nie dat Luther sy uitspraak van simul justus et peccator – tegelyk regverdige en sondaar – gemunt het om uitdrukking te gee aan hierdie bestaan van die gelowige op aarde. Ons is op weg na volkome heerlikheid, maar hier aan die duskant van die graf is ons nog besig met die stryd teen ons ou natuur, om te wees wat ons reeds in Christus is: heiliges, regverdiges.
Mens sou hierdie aard van die Christelike lewe op aarde ook kon beskryf as ‘n beweeg tussen twee pole: tussen die alreeds en die nog nie. Ons het in Christus alreeds volledig deel aan die nuwe lewe wat God gee, maar hierdie nuwe lewe het nog nie volkome in gelowiges gerealiseer nie. Dit sal eers gebeur by die wederkoms van Christus, wanneer Hy sy koninkryk aan die Vader sal gee en God alles sal wees vir alles (1 Kor 15:28).
Nou kan ons ook aandag gee aan die teks waarna ons vraagsteller verwys (2 Pet 1:4). Dis baie relevant vir hierdie gesprek. Tradisioneel was dit ‘n teks wat veral deur Rooms-Katolieke teoloë gebruik is om daarop te wys dat gelowiges deel kry aan die natuur van God via die genade wat ingestort word in die gelowige se natuur, amper asof daar ‘n uitruil van wese en eienskappe van God plaasvind sodat die gelowige nou op fisiese manier dieselfde natuur as God het, maar sonder dat die mens sy menslike natuur verloor. Wat dan sou beteken dat omdat ons menslike natuur substansieel vergoddelik is, ons eintlik nie meer kan sondig nie.
Hierdie verstaan van 2 Pet 1:4 gaan egter mank aan ‘n paar besware. Eerstens, “deel kry” aan die Goddelike natuur het in die Nuwe Testament altyd ‘n interpersoonlike betekenis; dit hef nooit die menslike aard en natuur op nie; dit is altyd die mens as mens wat persoonlik verbind is en gemeenskap hou met God. Dit gaan dus altyd oor ‘n persoonlike verhouding, nooit om ‘n fisiese deelname aan God se natuur nie. God bly God en ons bly mens. Tweedens, die deel kry aan die Goddelike natuur is nog iets toekomstig, dis nie iets wat nou gebeur nie. As mens hierdie vers meer letterlik vertaal, sal die toekomstige karakter van hierdie deelname aan die Goddelike natuur duideliker word. ‘n Letterlike vertaling van 2 Pet 1:3-4 sou kon lui: “3Sy Goddelike krag het ons alles tot lewe en godsvrug geskenk … 4waardeur Hy die kosbare en grootste beloftes aan ons gegee het sodat julle daardeur deelgenote aan die Goddelike natuur kan word, nadat julle die verdorwenheid wat deur die begeerlikheid in die wêreld is, ontvlug het.” Dit gaan dus hier oor die belofte van deelname aan die Goddelike natuur. Derdens, selfs wanneer hierdie deelname aan die Goddelike natuur in die toekoms plaasvind (in die opstanding), beteken dit ook nie dat ons dan letterlik vergoddelik sal word nie. Ons bly mense – weliswaar verheerlikte mense – en as mense sal ons in ‘n nuwe verhouding tot God staan soos wat tans op aarde nie moontlik is nie. Hierdie verhouding sal so nuut en anders wees as waaraan ons tans gewoond is dat die skrywer van 2 Petrus dit in terme van die konsepte van die antieke tyd ‘n “deelname aan die Goddelike natuur” noem, ‘n deelname waar daar geen oorblyfsels van die sonde en die gebrokenheid van hierdie bedeling meer sal wees nie. Maar die gegewens wat ons in die Bybel het oor die aard en toekoms van die mens, gee ons nie die reg om van ‘n totale vergoddeliking van die mens te praat nie, nie nou nie, ook nie in die toekoms nie.
Ons slotsom is dus dat die aard van die regverdiging van die mens, soos hierbo geskets, sowel as die betekenis van 2 Pet 1:4, ons nie ‘n opening gee om van die sondeloosheid van die mens te praat ná regverdiging nie. Dis eerder so dat ons ‘n statusverandering ondergaan in die oë van God – nie speel-speel nie maar werklik – en dat ons deur die inwonende Gees van God nou in staat gestel word om te stry teen ons ou natuur én oorwinning te behaal. Hierdie stryd duur voort tot ons die dag ons kop neerlê. Daarom geld die spreuk van Martin Luther nog steeds: ons is tegelyk regverdige en sondaar.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl