Die Dood – Franscois Malan

Celeste vra

My ma is die 21 ste Augustus 2017 oorlede op 69 jarige ouderdom. Sy was gesond en lus vir lewe. skielik word sy siek en binne ‘n maand sterf sy. Hoe verwerk jy dit?? Sy was my steunpilaar met my gestremde kinders by my gebly en my met alles gehelp. Ek het onwrikbaar geglo sy sal lewe. Lewe oor haar toestand uitgespreek soos God sê ek moes doen en geglo sy gaan gesond word. Die onmoontlike het gebeur, sy het voor my gesterf, al haar organe het ingegee. Al die kinders het gegroet, ek kon nie, ek wou nie aanvaar sy gaan sterf nie. Mense sê God het haar kom haal. Ander sê haar geloof was te swak om te glo sy gaan lewe. Sy was al vir weke nie by haar positiewe nie, hoe kan sy nie geglo het sy sal lewe nie. Sy was heeltyd in ‘n diep slaap, daarna is sy op die asemhalingsmasjiene gesit. Verlang sy na ons in die hemel dink sy aan ons? Wie is verantwoordelik vir haar dood? Is dit nou satan of is dit Jesus wat haar huis toe geroep het, ek verstaan nie. Hoekom kry party genesing en ander nie, ten spyte van duisende wat gebid het vir haar. Wat het verkeerd gegaan? Ek het nie vrede nie ek kan nie die ding aanvaar nie. Ek mis haar vreeslik en moet elke dag in al haar goedjies vas kyk en hoe beweeg jy aan? Dan het ek geglo as ek die bloed van Jesus oor ons pleit elke dag en ps 91 en my gebede doen en glo en vertrou sal ons beskerm wees teen satan. Ek kon nog nie weer my bybel oop maak om te lees nie. Ek sukkel om te bid. Ek sukkel om te vertrou. Ek begin bid dat die Here my gesin sal beskerm en my man wat op die pad is en eers oor ‘n naweek huis toe kom dan stop ek skaars ‘n paar sinne weg, dan dink ek, waarom bid ek, dit het dan nie vir mamma gehelp nie. My vertroue is geskend en ek weet nie hoe om reg te kom nie. Ek wil, maar ek sukkel. Dit voel of my gebed niks beteken nie. Die mees kosbaarste mens in my lewe is uit my lewe weg geruk. Sy het my van Jesus geleer, sy het my bygestaan wanneer ek nie meer kans gesien het vir die lewe nie. Sy was kosbaar en onvervangbaar. Kerk mense sê, God neem ons nie weg nie, Hy ontvang ons in die hemel. Ek kan nie glo sy kom nie terug nie, sy is weg en ek kan nie aanbeweeg nie. My 2 gestremde dogters voel my hartseer aan en dit het veroorsaak dat een van hulle al 4 epileptiese aanvalle gekry het. Die ander een het 2 gehad. Ek het my ma bitter lief gehad en alles gedoen wat ek kon om haar lewe maklik te maak. Op haar sterfbed het almal gegroet. Ek kon nie. Dokters was nie seker hoeveel ure sy oor gehad het voor haar hart gaan staan nie want al haar organe het al ingegee. Toe ek kans kry om alleen met haar te praat, toe sê ek vir haar, dankie vir alles wat sy vir my en my man en ons twee serebraal verstandelik gestremde kinders oor die jare gedoen het. Ons is baie lief vir haar. Daar het twee keer trane uit haar oog uitgekom. Die familie het buite ICU gaan sit want daar is nie plek om te sit nie. Ek het by my ma gestaan want ek wou haar nie alleen los nie. Teen half 4 die middag het ek besef ek moet ander reelings maak om iemand te kry om na my kinders te kyk tot ek by die huis kom. Ek wou nie huis toe gaan voor alles verby is nie. Toe ek klaar gereel het, het ek opgestaan, en vir my ma gesê, dis ok, sy kan maar gaan, ek en die kinders sal ok wees. Ek sal cope sonder haar. Sy is besig om te ly en ek ly om haar so te sien. Ek gaan haar vreeslik mis en ek het haar baie lief. Toe begin die monitor rooi flikker. Die dokters en verpleegsters het nader gestaan, die familie het ingekom en my ma het toe gesterf. Ek sukkel om oor dit te kom. Ek wou nie groet nie, wil haar nog hier hê, mis haar vreeslik.

 

Antwoord

Prof francois Malan antoord:

My innige simpatie met jou ma se heengaan, en met jou gemis aan jou steunpilaar.

Ons mense het nie egter nie die seggenskap oor lewe en dood nie. Dit is in die hand van die Here. En ons kan nie met ons uitsprake die Here bind om te doen wat ons wil hê nie. God is nie ons stuurman wat alles wat ons vra vir ons doen nie. Hy stuur ons, en verwag dat ons alles doen wat Hy sê, want Hy is ons God wat die seggenskap het oor ons ganse lewe. Selfs Jesus het dit nie gedoen nie. In Getsemane het Hy gebid: ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans nie soos Ek wil nie maar, soos U wil.’ Vir die tweede keer bid Hy: ‘My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.’ En met dieselfde woorde van aanvaarding dat Hy moet sterf, herhaal hy sy derde gebed as bevestiging dat Hy die wil van sy Vader aanvaar (Mat 26:39-44).

Jy sê: ‘Ek het onwrikbaar geglo sy sal lewe. Lewe oor haar toestand uitgespreek soos God sê ek moes doen en geglo sy gaan gesond word.’

Ek weet nie waar jy aan die gedagte kom nie, om ‘lewe oor haar toestand uit te spreek.’ Dit staan nêrens in die Bybel nie. Die Here nooi ons uit om met ons versoeke na Hom toe te kom, maar Hy weet beter as ons, en kan ook vir ons nee sê. Soos die Vader vir Jesus nee gesê het oor sy versoek om die beker van sy kruisdood by Hom te laat verbygaan. Paulus sê hy het die Here drie maal gesmeek oor die daaglikse beproewing wat hy moes deurmaak, die doring in sy vlees, soos hy dit noem, dat dit van hom moet wyk. Maar die Here het vir hom gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring (2 Kor 12:7-9).

Jy sê: ‘Mense sê God het haar kom haal. Ander sê haar geloof was te swak om te glo sy gaan lewe.’

Dit hang nie van haar geloof af of sy gaan lewe nie. Dit hang van God af, Hy besluit, nie op grond van ons geloof of swak geloof nie. Hy weet die beste vir elke mens. Die dood het gekom weens die sonde van die mens as God se oordeel oor ons sonde (vgl. Romeine 5:12: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom (Genesis 2:17), en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.’ Maar met Jesus se dood het Hy al ons sonde op Hom kom neem en die straf op sonde gedra. Vir die mens wat van harte in Hom glo, dat Hy as die Seun van God al my sonde aan die kruis gedra het, is daar nie meer ’n veroordeling nie. Ons saak is by God reggemaak deur ons Here, Jesus Christus (Rom 5:1). Nou het ons dood ’n deurgang na die ewige lewe geword. en jou ma verlos van al haar swakheid en ellende. So het sy haar bestemming, God se doel met haar lewe by die Here bereik, vir ewig by die Here.

Jy sê: ‘Dan het ek geglo as ek die bloed van Jesus oor ons pleit elke dag en ps 91 en my gebede doen en glo en vertrou sal ons beskerm wees teen satan.’

Satan beheer nie ons lewe nie, Hy is deur Jesus se dood en opstanding oorwin, en as ons op die Here vertrou, soos Ps 91 sê, kan Hy ons nie skade aandoen nie.

Jy sê:

‘Ek kon nog nie weer my bybel oop maak om te lees nie. Ek sukkel om te bid. Ek sukkel om te vertrou. Ek begin bid dat die Here my gesin sal beskerm en my man wat op die pad is en eers oor ‘n naweek huis toe kom dan stop ek skaars ‘n paar sinne weg, dan dink ek, waarom bid ek, dit het dan nie vir mamma gehelp nie. My vertroue is geskend en ek weet nie hoe om reg te kom nie. Ek wil, maar ek sukkel. Dit voel of my gebed niks beteken nie. Die mees kosbaarste mens in my lewe is uit my lewe weg geruk. Sy het my van Jesus geleer, sy het my bygestaan wanneer ek nie meer kans gesien het vir die lewe nie. Sy was kosbaar en onvervangbaar.’

Ek sien dat jy jou ma liewer gehad het as vir Jesus. Hy het gesê: ‘As iemand na My kom en My nie méér liefhet as sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. Wie nie sy eie kruis (elke dag) dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie’ (Lukas 14:26-27). Oppas dat Hy nie eendag vir jou sal sê  ‘Ek ken jou nie’ (Lukas 13:27; Matteus 7:21-23 ). Daarom het Jesus so aangehou roep dat mense hulle tot Hom moet bekeer (Lukas 12:3,5), dat jy anders oor Hom moet begin dink, dat Hy die belangrikste Persoon in jou lewe word, dat Hy jou God word vir wie jy lief het, want Hy het jou so lief, dat Hy sy lewe vir jou gegee het om jou van jou sonde en van jouself te verlos, en Hom vir alles begin vertrou. Niks kan jou van sy liefde skei nie, behalwe as jy jou rug op Hom draai en sy liefde verwerp (Romeine 8:31-39). Moet jy nie begin om die Here te dank en te loof vir die ma wat jy gehad het en jou van Jesus geleer het nie? Hy wil jou bystaan en nooi jou uit om na Hom toe te kom met jou hartseer en jou gemis aan jou ma, en Hy sal vir jou rus gee (Mat 11:28-30).

Skrywer Prof Francois Malan




Gebed in moeilike huislike omstandighede – Hermie van Zyl

Leser vra

Gebed  onder moeilike omstndighede Ek het nie ‘n vraag nie, wil net dankie sê vir Die Boodskap-Vertaling, dit laat my die Woord beter verstaan.

Verder, ek vra dringend gebed. My man is ‘n volslae alkoholis, ons is al amper 30 jaar getroud. Hy rand my gereeld aan sodat ek nou ‘n interdik teen hom het dat hy nie naby my en die kinders mag kom nie. Ek wil vra: Bid baie vir my kinders. My man het vir jare die evangelie aan kinders verkondig, maar hulle wou nie na sy preke luister nie, want wat hy leef en preek (lg Sondae in die kerk) is twee verskillende dinge. Hy slaap by swart vroue en gee nie om dat ons weet nie. Hy bly in die woonstelgedeelte van die huis, en ek en die kinders in die huis. Ons het geen elektriese krag nie vir meer as ‘n jaar al. Bid vir ons finansiële krisis, want al sy geld gaan vir drank, so ek en die kinders sorg vir onsself. Bid dat die Here dit moontlik sal maak dat ek heeltemal van hom kan wegkom. Die prostitute kom ook deur die dag daar aan; ek weet nie wat hy in kroeë kwytraak nie, en ons dorp is klein.

Bid baie vir Adriaan, ons oudste seun, hy stres baie. En bid dat hy en die ander kinders, Clarinda en Albert, werklik ‘n kragdadige bekering sal hê, want hulle stel nie belang in kerk nie oor hulle pa se lewe. Adriaan het wel sy matriek, maar wil sekere vakke oorskryf, want hy het nie Wiskunde en Fisiese Wetenskappe geslaag nie. Hy het 8 vakke gehad en is deur op 6 vakke. Hy werk, so dit maak dit moeilik om te swot, veral oor die feit dat hy so stres, want hy staan ook pa vir die ander seun, Albert, want hulle pa is van agt uur af dronk en ons het geen vrymoedigheid om mense na die huis te nooi nie.

Bid vir Albert, die jonger seun. Alles wat hy in sy 15 jaar gehoor het wat sy pa sy ma van beskuldig, en die aanrandings, kom nou deur, en hy begin my van dieselfde goed beskuldig. Hy was die kind wat ongelooflik na aan my was. Hy moes ook vir ‘n jaar in pleegsorg by my man se broer bly a g v omstandighede en die feit dat ons nie geld vir kos, ens, gehad het nie. Dit het ook sy letsels gelaat; hy is nou 15 en op ‘n moeilike ouderdom. Bid vir sy studies.

Al drie kinders is hoogs intelligent, maar ek weet nie watter letsels daar gelaat is nie.

Bid vir Clarinda, ons dogter, sy werk en swot deur Unisa, en is besig met haar eerste jaar as CA. Sy werk baie hard en het baie goed presteer, t s v alles wat ons moes deurmaak.

My begeerte is dat my kinders ‘n kragdadige bekering sal hê.

 

Antwoord

Prof Hermie vn Zyl antwoord:

‘n Mens het uiteraard nie al die inligting om in diepte te reageer op die situasie wat hier geskets word nie, maar uit wat hierdie ma skryf is dit duidelik dat dit nie maklik vir haar en die kinders kan wees nie. Ons harte gaan uit na haar.

Ek het dadelik in dankbaarheid teruggedink aan hoe bevoorreg ek was om in ‘n huis groot te word wat as normaal beskryf kan word – ‘n liefdevolle pa en ma wat alles gee vir hulle kinders. ‘n Mens kan die Here nie genoeg dank as kinders in normale huislike omstandighede grootword nie. ‘n Huis waar kinders liefde, respek en dissipline ontvang, waar hulle veilig en geborge voel, is seker die grootste geskenk wat ouers vir hulle kinders kan gee. As hierdie veilige tuiste ontbreek, is dit net genade as kinders sonder of met min letsels grootword. Aan die ander kant moet ons ook sê dat normale huislike omstandighede geen waarborg is dat kinders “normaal” sal ontwikkel nie. Daar is net te veel ander faktore wat ook ‘n rol speel. ‘n Mens moet jou dus nie te veel blindstaar teen jou omstandighede nie, maar eerder die beste maak van die omstandighede waarin jy is. Dit sê ek as bemoediging aan die ma wat haar moeilike situasie vir ons beskryf het.

Dit is duidelik dat hierdie ma die beste vir haar kinders begeer, en binne die moeilike omstandighede wat in haar huis heers, tog daarin slaag om ‘n tuiste vir haar kinders te skep. Sy kan seker wees dat haar kinders haar later hiervoor sal eer en dank, as hulle dit nie reeds doen nie. Sy kan ook weet dat sy nie alleen in haar situasie is nie – nie dat dit regtig ‘n troos is nie, maar ten minste kan sy weet dat daar baie ander soos sy is wat in soortgelyke ongelukkige omstandighede moet funksioneer. Daar is soveel huise waar dit so gaan en waar een van die ouers – of selfs net die kinders – die beste probeer maak van ‘n slegte situasie.

Maar laat ek dit vir hierdie ouer sê, want dis soos ek eerlik die situasie sien: Die blote feit dat haar dogter reeds werk het en verder studeer, en die een seun ook reeds matriek geslaag het en besig is om sy omstandighede te verbeter terwyl hy werk, is al klaar aanduiding daarvan dat die Here met hulle ‘n pad loop. Oorwinnings kom nie altyd in grootmaat nie, maar in klein porsies. En oor elkeen hiervan kan mens die Here dank. Dit is wel so dat die ma die begeerte het dat haar kinders “‘n kragdadige bekering sal hê”, maar dié is ook nie ‘n waarborg dat alles dan eensklaps reg sal wees nie. Die lewe bied selde kitsoplossings. Die ma moet net die Here bly vertrou dat Hy op sy tyd die volle geloofsoorgawe sal skenk waarop sy hoop vir haar kinders. Intussen moet sy daaraan vashou dat elke klein stukkie genade ‘n bousteen is waarmee die Here die kinders se geloofshuise bou. ‘n Mens moet die dag van kleine dinge nooit verag nie, sê die Here (Sagaria 4:10). In Sagaria word vertel van die herbou van die tempel (God se “woning”) ná die Jode in ballingskap was en weer teruggekeer het na Palestina. Hierdie bou van die tempel het nie in een dag plaasgevind nie. Daarom moes hulle nie moedeloos word nie, sê die profeet; hulle moenie die dag van kleine dinge minag nie, bietjie vir bietjie word daar gebou totdat die woning klaar is. So bou God vandag steeds aan ons geloofshuise. Ons wil vinnige resultate sien (“kragdadige bekerings”), maar God werk eintlik maar ‘n hele leeftyd aan ons geloofshuise. Die ma moet daarom net volhard met al die regte dinge wat sy tot sover oor ‘n lang tyd gedoen het. God seën daardie werk, omdat dit met gebed en vertroue in Hom gedoen word. Hy sál die resultate op sy manier en op sy tyd gee.

My gebed is dus nie in die eerste instansie dat alles eensklaps sal verander in hierdie vrou en haar gesin se lewe nie, maar dat sy geloofsoë sal ontwikkel vir die klein genadetjies wat die Here elke dag vir haar gee, en tot sover gegee het, sodat sy daarin kan volhard. Sy moet maar net in die klein dinge getrou wees en daarin haar vreugde vind, en die Here vir die res vertrou. Daarmee sê ek nie dat sy nie self kan inspring en haar situasie daadwerklik verbeter as dit nodig is nie, soos sy reeds gedoen het om ‘n interdik te kry. Hierdie soort aksies is ook belangrik, ter wille van haar en haar kinders se veiligheid. As sy kan, moet sy sulke geleenthede en moontlikhede gebruik. Skakel in by die plaaslike kerk, gaan klop aan by die pastoor, dominee of maatskaplike werker sodat hulle ook kan saamdink, beplan en raad gee. Want ook hierdie ondersteuning is ‘n manier waarop die Here help en nuwe paaie open.

Baie sterkte.

Prof Hermie van Zyl




Vervloeking – Francois Malan

Wayne vra

Die vraag wat ek graag aan u wil stel is:

  1. Kan iemand ‘n Christen vervloek? ‘n Vloek op ‘n Christen plaas?
  2. Kan iemand ‘n ander person in die Naam van Christus vervloek? Deur byvoorbeeld te se “ Ek vervloek jou in die Naam van Jesus Christus en dit en dat sal jou tref”

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

’n Vloek vra eintlik vir God om iemand of iets te straf as iets wat die persoon sê nie die waarheid is nie of as iemand iets nie uitvoer wat hy/sy beloof het nie

(soos bv. die vyeboom wat reeds blare het sonder om vrugte te dra, as beeld van Israel wat uiterlik godsdienstig is, maar nie vir God in hulle harte eer en liefhet nie. Jesus het die vyeboom vervloek omdat dit nie aan sy doel beantwoord het nie Matt 21:18-22).

of dat iemand reeds deur God veroordeel is of dat iemand in gevaar staan om deur God veroordeel te word

(Joh 7:49 So beskou die Fariseërs verkeerdelik dat die mense wat in Jesus glo, deur God vervloek is; Gal 3:10 sê juis: die mense wat soos die Fariseërs op die nakoming van die wet staatmaak om hulle verhouding met God reg te stel, val onder ’n vloek).

 

  •   Bileam was deur Balak van Moab gevra om Israel te vervloek. Maar telkens wanneer Bileam hulle moes vervloek, is hulle deur Bileam geseën omdat hulle die Here se volk was (Numeri 22:36-24:25).

So kan niemand ’n Christen vervloek of ’n vloek op ’n Christen plaas nie, want Paulus sê: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31).

  •  Paulus skryf in 1 Kor 16:22 ‘As iemand die Here nie liefhet nie, laat hom ’n vervloeking wees.’ Maar om iemand te vervloek in die Naam van die Here, is aanmatigend en arrogant. Romeine 12:14 së: Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie; 12:16 moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges; 12:17 moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is; 12:19 Geliefdes moet julleself nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskrywe: ‘My kom die wraak toe, Ek sal vergeld’ sê die Here.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Hooglied in die Bybel – Francois Malan

Francois vra

Waarom is Hooglied `n bybelboek? . Daar word nie na God Jesus Christus of die Heilige Gees verwys nie. Ook nie na sonde bekering of vergifnis nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

God se wêreld bevat veel meer as slegs eng godsdienstige sake. Dit omsluit ons hele lewe, wat die pragtige maar ingewikkelde wêreld van die liefde tussen ’n meisie en haar beminde insluit. Die wysheid van die Spreukedigter sê, hoe die liefde tussen ’n man en ’n meisie werk, is bo sy begrip. Hy verstaan dit nie (Spr 30:18-19). In Hooglied word veral die meisie se kant beskryf en die man se reaksie daarop.

Hooglied is nie die werk van ’n teoloog nie, maar van ’n woordkunstenaar, ’n Hebreeuse digter, wat met ’n rykdom woorde, pragtige beelde uit die natuur en literêre kunsvorms die atmosfeer skep vir die ontplooiing van die mooi liefdesverhouding tussen een man en een meisie wat tot ’n monogame huwelik lei.

In die boek vind ons treffende beskrywings van die skoonheid in die natuur, wat getuig van ‘n waardering vir die skoonheid van die skepping (2:11-13; 6:11; om die meisie te beskryf 4:1-5; om haar beminde te beskryf 5:11-13). Die skrywer se waardering vir die natuur word verbind met die innigheid en liefdesverlange van die vrou en die man na mekaar (5:6-8; 7:11-13; 8:1-3; asook 2:3-6 waar sy hom haar koning noem, 2:16; 4:10 waar hy haar besing; 6:3 haar reaksie, ens.). In Hooglied word die gesonde, natuurlike liefde besing waarby die liggaam ’n belangrike rol speel (1:15-16; 2:9-10,14; 4:10; 5:11-16 en veral 7:1-10). Die feit dat Hooglied in die Bybel staan, bewys dat daar in God se bestel plek is vir die mens se vreugde en sy behoeftes; dat die liggaam ook ‘n plek het in die bedoeling van God. Ware liefde is spontaan en moet daarom as ’n geskenk van God, wat ook deur Hom geheilig is, gesien word (8:6-7). Die gawe van die liefdeslewe moet daarom as ’n geskenk uit sy hand aangeneem word. So het God dit ook beskik dat die boek in die Bybel opgeneem is, soos ook Prediker en Spreuke. Ps 45 is ook ’n gedig, so ’n Lied van die liefde.

Die Hebreeuse Bybel is ingedeel in die Wet, Profete en Geskrifte. Hooglied is een van die 5 Feesrolle in die afdeling Geskrifte, wat tydens die 5 groot feeste in Israel gelees word. Hooglied word op Paasfees voorgelees, waarskynlik weens die skildering van God se verlossing van sy volk uit die Egiptiese slawerny en uit die ballingskap in Babel wat tydens Paasfees gevier word, met die beeld van Israel as ‘n versierde vrou en bruid  (Jes 49:18; 61:10) en God se vreugde oor sy volk, soos ’n bruidegom oor sy bruid (Jes 62:5).

In die Hebreeuse Bybel word die boek genoem ‘Die Lied van die liedere’ en is reeds in 100 v.C. in Qumran gebruik. Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament wat reeds meer as 200 jaar voor Christus vertaal is, was die eerste Christelike gemeentes se Bybel en het so deel geword van die Christelike Bybel.

Skrywer:  Prof Francois Malan