Wat sal die Engelse vertaling vir die woorde “ter helle neergedaal” wees? – Hermie van Zyl

Van: Rudolf

Onderwerp: Engelse vertaling vir woorde in Geloofsbelydenis

Boodskapteks: Wat sal die Engelse vertaling vir die woorde “ter helle neergedaal” wees?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Dis ‘n kort vragie met ‘n ietwat lang antwoord. Ek handel eers oor die Afrikaanse vertaling van hierdie frase, dan die Engelse. Die probleme in die vertaling van hierdie formule vertoon in Engels dieselfde kenmerke as in Afrikaans, want dit hang alles af van die interpretasie wat aan die oorspronklike Latynse formule gegee word. Met ander woorde: die vertaling volg die interpretasie.

Die frase “neergedaal ter helle” was nie deel van die oorspronklike Belydenis van Rome (2e/3e eeu nC) waaruit die Apostolicum (Apostoliese Geloofsbelydenis/Twaalf Artikels) gegroei het nie. Dit kom ook nie in die Geloofsbelydenis van Nicea (325 nC) voor nie. Die vroegste voorkoms van hierdie frase vind ons in die Belydenis van Sirmium (359 nC). Daarna is dit sporadies in ander belydenisse opgeneem. Ná die 6e eeu kom dit baie meer voor en uiteindelik is dit ook opgeneem in die Apostolicum (finale bewoording in 8e eeu nC).

Die oorspronklike Latyn van hierdie formule in die Apostolicum (soos dit in die 8e eeu nC geformuleer is) lui: descendit ad inferna. (Vir dié wat Latyn ken: inferna is die akkusatief neutrum meervoud van infernus.) In Afrikaans beteken die frase dus letterlik: “hy het neergedaal na die (geeste van die) onderste dele/onderwêreld”. Dit korrespondeer met die oorspronklike Griekse teks van die Apostolicum, wat lui: κατελθόντα εἰς τὰ κατώτατα (katelthonta eis ta katōtata), met dieselfde betekenis as die Latyn.

Die vraag is net wat hierdie “onderste dele/onderwêreld” beteken. Die nuutste navorsing dui daarop dat die oorspronklike bedoeling van hierdie formule waarskynlik was om te verwys na die doderyk (Hebreeus sheōl, bv Ps 6:6; Grieks hadēs, bv Op 20:13). In die Bybel is die doderyk die plek waarheen alle afgestorwenes gaan – goed of sleg, regverdig of onregverdig. Alle dooies verkeer hier in afwagting op die finale oordeel wanneer almal se ewige lot bepaal word deur God. Een van die erkende maniere om destyds te beskryf dat iemand werklik dood is, was om te sê dat iemand na die doderyk gegaan het of homself in die doderyk bevind. Toegepas op Christus wou die kerk met hierdie formule dus bely dat Christus na sy mensheid werklik dood was; Hy het nie maar net ‘n skyndood ondergaan nie, maar het soos alle mense ná sy dood na die doderyk gegaan. En destyds is geglo dat die doderyk onder die aarde gelokaliseer was, vandaar die term in Latyn en Grieks wat “onderste dele/onderwêreld” beteken. So gesien sou mens die frase dan in Afrikaans vertaal met: “hy het neergedaal na die doderyk”.

Gaandeweg het die formule egter ‘n betekenisverskuiwing ondergaan. Vanuit ‘n teks soos 1 Pet 3:19 is gespekuleer dat Christus nie net in die doderyk was nie, maar spesifiek in die hel, die blyplek van die duiwel, sy engele en alle ongelowiges. Christus se taak sou dan veral wees om die gelowiges van die ou verbond te bevry uit die hel. Die Grieks vir “hel” is geenna (uitgespreek “gehenna”) (bv Matt 23:33). Indien so verstaan, moet mens die frase dan vertaal: “neergedaal na die hel”. En vir lank was dit die gangbare verstaan van die frase.

Die kerk het egter later begin worstel met die betekenis hiervan. Want watter Skriftuurlike basis sou daar wees vir die interpretasie dat Christus in die hel was? (Behalwe 1 Pet 3:19, wat egter ook op ander maniere uitgelê kan word.) En wat sou Hy daar gemaak het? En sê Jesus dan nie aan die moordenaar aan die kruis dat dié vandag saam met Hom in die Paradys sal wees nie (Luk 23:43)? “Paradys” en “hel” rym eenvoudig nie. Ensovoorts. Daarom was iemand soos Calvyn van mening dat “neergedaal na die hel” nie letterlik verstaan moet word nie, maar figuurlik: dis naamlik ‘n aanduiding van die helse pyne wat Christus aan die kruis gely het. Die neerdaling na die hel is dus nie ‘n verdere stadium in die vernedering van Jesus ná sy dood en begrafnis nie, maar is ‘n beskrywing van die soort lyding wat Hy vóór sy dood aan die kruis ervaar het – dat Hy Hom selfs van God verlate gevoel het (Mark 15:34). Om hieraan uitdrukking te gee, word daar in Afrikaans dan eerder vertaal: “neergedaal ter helle”. Die “ter helle” sou die figuurlike betekenis beter na vore bring. Die Gereformeerde Kerke in SA het dit egter nog duideliker vertaal om alle misverstand uit die weg te ruim en om die figuurlike betekenis beter toe te lig, naamlik: “Hy het die lyding van die hel ondergaan.”

Slotsom: In Afrikaans is daar dus hoofsaaklik drie opsies om die frase descendit ad inferna te interpreteer en gevolglik te vertaal: (1) Indien mens nader aan die waarskynlik oorspronklike bedoeling van die formule wil beweeg – as aanduiding dat Jesus werklik dood was – behoort mens te vertaal: “Hy het neergedaal na die doderyk”, of: “Hy het na die doderyk gegaan”, of: “ja, Hy was werklik dood”. (2) Indien inferna as “hel”, in die tegniese sin van die woord, verstaan word (verblyfplek van die duiwel en sy volgelinge), moet mens vertaal: “Hy het neergedaal na die hel”. (3) Indien inferna figuurlik verstaan word, is daar verskeie vertaalopsies: “Hy het ter helle neergedaal “, of: “Hy het die lyding van die hel ondergaan”; of: “Hy het helse smarte/angste gely”, of: “Hy het die angste van die hel ondergaan”.

Na bostaande (Afrikaanse) uiteensetting is dit makliker om die toneel van die Engelse vertalings van hierdie frase te verstaan. Hulle volg in wese dieselfde patroon as die Afrikaanse vertalings.

Engelse vertalings wat opsie 1 hierbo volg, vertaal: “he descended to the dead”. Dit is terselfdertyd ook die meer moderne vertaling van die Apostolicum op hierdie punt. Die Anglikaanse Kerk (Church of England) se Common Worship (2000) volg byvoorbeeld hierdie opsie, so ook die ekumeniese groep, English Liturgical Consultation (1988), asook die Catechism of the Catholic Church (1997). Dit is duidelik dat hierdie vertaling deesdae deur baie Engelse kerke verkies word omdat dit berus op beter navorsing oor die betekenis van hierdie formule in die Apostolicum (soos hierbo bespreek) en ook omdat dit die minste teologiese verstaansprobleme vir moderne gelowiges oplewer.

Die ouer Engelse vertalings van die Apostolicum volg egter opsie 2, as die tradisionele manier waarop hierdie frase vertaal is, en vertaal met: “he descended into hell”. Die  Roman Missal van die Rooms-Katolieke Kerk, sowel as die Book of Common Prayer (1662) van die Church of England, en die Lutherse Kerk volg hierdie vertaling, soos trouens talle tradisionele hoofstroomkerke. Die rede waarom baie Engelse kerke nog hierdie vertaling verkies, het waarskynlik daarmee te doen dat in die tyd toe hierdie vertaling ontstaan het (17e eeu), “hell” nog nie die toegespitste betekenis gehad het wat dit vandag het nie. “Hell” kon toe nog in beide die betekenisse van “doderyk” (blyplek van alle afgestorwenes) en “plek van verdoemenis” (woonplek van die duiwel, sy engele en ongelowiges) gebruik word. Selfs nadat daar ‘n betekenisverskuiwing plaasgevind het en “hell” ook in Engels al meer die toegespitste betekenis van “verdoemenis” begin kry het, is dit steeds behou in vertalings van die Apostolicum. Maar, soos by opsie 1 aangetoon, het daar wel in die onlangse tyd vertalings die lig begin sien wat met “he descended to the dead” vertaal, wat die moderne gevoel beter weergee.

Wat opsie 3 betref – die figuurlike verstaan van descendit ad inferna – is daar vreemd genoeg na my beste wete nie Engelse vertalings wat hierdie opsie volg nie. Dit het waarskynlik daarmee te doen dat daar ‘n groter mate van dubbelsinnigheid in die Engelse term “hell” is as in die Afrikaanse “hel”, en dat Engelse kerke daarom voel dat “hell” as die tradisionele term behou moet word, miskien met ‘n voetnoot ter verduideliking van die bedoeling daarvan. En, soos reeds genoem, is daar Engelse vertalings wat die probleem van “hell” ondervang deur eerder met “he descended to the dead” vertaal.

Daar is ook ‘n 4e opsie wat by sommige Engelse kerke voorkom, en dit is dat hierdie frase gewoon weggelaat word. Byvoorbeeld, die vroeë liturgiese boeke van die Metodiste Kerk laat dit weg (hoewel dit sedert 1989 by die United Methodist Church teruggekeer het as “descended to the dead”), en die Presbyterian Church of America en Baptiste Kerk laat dit ook weg. Die rede hiervoor is voor die hand liggend: omdat die frase (veral in sy tradisionele vorm – “into hell”) verwarring by moderne gelowiges veroorsaak, en omdat daar ook historiese redes vir die weglating is, naamlik dat die frase nie oorspronklik in die Apostolicum voorgekom het nie maar eers later bygevoeg is, soos aan die begin verduidelik.

Ten slotte moet net op die verskillende Latynse formulerings van hierdie frase gewys word. Die oorspronklike formulering is waarskynlik descendit ad inferna, soos reeds aangetoon. Maar ‘n formulering wat ook dikwels voorkom, is descendit ad infernos (“Hy het neergedaal na die bewoners van die doderyk”). ‘n Alternatief vir hierdie gedagte is die formulering: descendit ad inferos (sonder die “n”) (“Hy het neergedaal na hulle wat benede woon”). Al hierdie formulerings is egter net variasies op dieselfde tema, en het nie wesenlike betekenisverskille tot gevolg nie. Die klem in hierdie variasies val net sterker op die inwoners van die doderyk, maar dié word in elk geval reeds geïmpliseer in die oorspronklike formulering, descendit ad inferna.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




VRYSTEDE – Francois Malan

Jan Smih vra:

Numeri 35: 6: Die Here beveel Moses om aan die Leviete 6 vrystede toe te ken waarheen toevallige doodslagoortreders kon vlug. Hiermee saam nog 42 stede – in totaal 48.

Omdat die Here met Moses praat was hierdie opdrag vir die toekoms en ek wonder of dit later beslag gekry het en waar die 42 stede (wat hier ookal met stede bedoel word) geleë was.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Omdat Simeon en Levi al die mans in Sigem doodgemaak het (Gen 34:25), het Jakob op sy sterfbed hulle straf aangekondig: ‘hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob, versprei word in die stamme van Israel’(Gen 49:5-7).

Na die intog in Kanaän het die stam van Simeon eiendom binne-in die gebied van Juda gekry (Jos 19:1). Levi se stam het hulle ná die goue bulkalf-episode aan die Here se kant geskaar en is toe aan die diens van die Here toegewy in die plek van die eersgeborenes (Eks 32:25-29; Num 3:41). Na die intog in Kanaän het die Leviete nie ’n eie grondgebied gekry nie, maar is in Israel verstrooi, met stede in die ander stamme se gebiede, en moes lewe van die offers van die volk (Jos 13:14; en hoofstuk 21). Van die 48 stede wat hulle gekry het sou ses vry/asielstede wees  (Rigt 35:6-8; Jos 21:41).

Van die ses asielstede is 3 oorkant die Jordaan aan die Leviete gegee: Beser in die suidelike gebied van Ruben, Ramot in die middelgebied van Gad, en Golan in die noordelike gebied van die halwe stam van Manasse (Jos 20:8). Die ander 3 vrystede in die gebied wes van die Jordaan was Kedes in die noordelike gebied van Naftali in Galilea, Sigem in die middel in die gebied van Efraim, en Kirjat-Arba, dit is Hebron, in Juda in die suide (Jos 20:7). Die ander 42 stede se name word in Josua 21 aangeteken.

Die Leviete was die onderwysers van die volk wat hulle leer lees en skryf het en in die Woord van die Here ingelei het. Daarom was die 48 stede sentrums van opleiding vir die volk.

Die bloedverwant wat die bloed van sy oorlede familielid wil wreek, is die losser, wat ook die familie se eiendom loskoop waar die familielid in skuld of slawerny verkoop is (Num 35:19; Rut 4:1-8). Die asielstede is bedoel om ’n hawe vir die persoon wat doodgemaak het, te verskaf, totdat die saak ondersoek kan word en uitspraak gegee kan word of dit opsetlik of onopsetlik was (Num 35:30). As dit onopsetlik was, kon hy in die asielstad gaan bly tot die dood van die hoëpriester, en dan is hy vry (Num 35:22-28). Maar as dit bevind word dat hy dit opsetlik gedoen het, geld die wet van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand (Deutr 19:20; Num 35:30-34). Na die tyd van die uittog en die rigters, toe ‘n koning oor Israel aangestel is, het die wraak al meer verval en is die geordende samelewing beter bedien deur howe.

Toe Jesus Christus gekom het, het Hy Homself as losprys vir almal gegee (1 Tim 2:6; vgl Matt 20:28). Paulus skryf in Romeine 12:19 ‘Aan My kom die wraak toe; Ék sal vergeld,’ sê die Here. Daarom sê Paulus ‘Geliefdes, moet julle nie self wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel (van God);’ Hebreërs 10:30 voeg by ‘Die Here sal sy volk oordeel.’ Jesus verander die wet van ’n oog vir ’n oog  tot liefde vir jou vyand (Mat 5:38-48).

Daarom het ons nie meer vrystede nie, want Christus is ons vrystad. En ons kan, ná sy offer aan die kruis vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29), nie meer die bloed van ’n vermoorde familielid wreek nie. Christus is die hoëpriester wat gesterf het sodat die beskuldigde vry kan uitgaan (vgl. Num 35:28). Die wraak behoort aan die Here. Ons taak is om te vergewe (Matt 6:14-15).

Skrywer:  Prof Francois Malan




08 September: Jy is God se advertensie. – Jan van der Watt

Ef 2:11-3:13 (fokus  3:1-10)

God voel ernstig oor die advertensiebedryf. Dit is ‘n belangrike deel van sy besigheidsplan.

God het so baie om vir ons te gee. Eintlik is dit bietjie oorweldigend as ʼn mens van alles wat God vir ons gee in Ef 2 en 3 lees. Sy stoorkamers is regtig vol gepak van goeie gawes wat bedoel is vir elke liewe mens. Hy het meer genade en liefde as wat ons van kan droom. Sy redding ken geen grense nie – mense kan kom soos hulle is en God se liefde sal hulle nuut maak.

Maar dit help nie God se stoorkamers is vol en niemand weet daarvan nie. Daarom is God in die advertensiebedryf (3:7). Op die straathoeke, in kantore en huise, by ontspanningslokale, in elke woonbuurt, ja, oral moet daar advertensies opkom.

Jy het seker klaar geraai hoe God se advertensies lyk. Dit lyk na jou. Jy is die een wat vir ander moet gaan vertel. Eintlik nog meer as dit, soos ʼn mens dikwels by ʼn winkel ʼn klein pakkie van ʼn produk kry om te toets, so moet jou lewe klein stukkies van God se genade en liefde vir ander gee om te “toets”. Dit is eintlik die beste advertensie.

As ons mooi dink is baie van die lewendigheid en groei van God se besigheid van advertensies afhanklik. Dit sê baie van God se vertroue in jou.




Johannes die doper – Hermie van Zyl

Jan vra

Ek het die artikels oor Johannes die Doper wat in Bybelkennis verskyn, gelees, maar die vraag wat ek oor hom het, het te make met sy persoon. Hier kom ‘n man te voorskyn: hy dra ‘n kleed van kameelhare met ‘n leergordel om sy heupe en hy eet sprinkane en wilde heuning. Met so ‘n kleredrag en dieet, asook sy uitsprake teen die Fariseërs en Sadduseërs, naamlik dat hulle ‘n “addergeslag” is, lyk hy vir my na ‘n skrikaanjaende wese. Maar nogtans stroom die mense na hom om gedoop te word. Nou wonder ek wat was die sukses van sy bediening? Sy voorkoms of dalk sy woorde? En wat het hierdie woorde: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom” vir die Jode beteken?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller vra inderdaad relevante, maar ook moeilike vrae. Want om hierdie vrae na behore te antwoord, moet mens jouself probeer verplaas na ‘n totaal ander wêreld as waaraan ons vandag gewoond is. Vra jouself af: As ‘n figuur soos Johannes die Doper vandag in jou omgewing opgetree het, sou hy dieselfde impak gehad het as destyds? Of sou die mense eerder meewarig die kop geskud het en die man afgemaak het as van lotjie getik, as ‘n godsdienstige dweper of opsweper wat probeer aandag trek? Maar die blote feit dat die mense destyds na hom gestroom het, wys dat hulle hom ernstig geneem het. En dat dit nie net ‘n sekere deel van die bevolking was wat miskien maklik mislei kon word nie, word bevestig deur die feit dat mense uit verskillende stande van die samelewing – gewone mense, tollenaars, soldate (Luk 4:7-14), selfs godsdienstige leiers (Fariseërs en Sadduseërs, Matt 3:7) – beïndruk was met hom, sy raad gesoek het en hulle deur hom laat doop het. Ook Herodes Antipas, viervors oor Galilea en Perea, was lugtig vir hom (Mark 6:20). Dis duidelik dat die mense hom glad nie as ‘n grap beskou het nie. Inteendeel, hulle het hom hoog geëer.

‘n Verdere rede waarom dit moeilik is om die vraag te beantwoord, is omdat ons slegs die Evangelies se interpretasies van die Doper se optrede het, hoewel Josefus, Joodse geskiedskrywer, in breë trekke saamstem met die Evangelies se beskrywing van die Doper. Volgens Josefus het Herodes Johannes die Doper laat teregstel omdat Herodes ‘n politieke opstand gevrees het. (Johannes se gewildheid het Herodes laat vrees dat die mense enigiets sou doen waartoe Johannes hulle oproep, insluitend opstand.) Hierdie siening hoef nie teenoor die Evangelies se weergawe te staan dat Herodes hom laat opsluit het weens Johannes se kritiek op Herodes se leefwyse nie – dat hy onwettig met sy broer se vrou getroud was (Matt 14:5). Herodes het Johannes waarskynlik laat arresteer op aandrang van sy vrou, Herodias (Mark 6:19). Die punt is: hierdie verskillende perspektiewe op die Doper se optrede laat mens net besef hoe aangewese mens is op ons bronne se weergawes van die Doper se lewe. Tog, historici is dit eens dat hierdie beskrywings vir ons ‘n wesenlik betroubare prentjie teken van die algemene klimaat van die tyd waarin die Doper opgetree het, wat mense se opvattings was, en watter verwagtinge daar deur die Doper se optredes en prediking gewek sou gewees het. Dit is hierdie sake wat ons nou gaan bespreek om te probeer agterkom waarom die mense so gaande was oor Johannes die Doper. Ons doen dit aan die hand van bepaalde hofies.

Die tyd waarin die Doper optree. Daar was ‘n breë opvatting onder die Jode in die tyd toe Johannes op die toneel verskyn het dat profesie in die formele Ou-Testamentiese (OT) sin van die woord al vir ‘n lang tyd opgehou het om te bestaan in Israel. En hier verskyn Johannes die Doper op die toneel, iemand so reg uit die OT profetiese tradisie (die kenmerke hiervan word onder verder bespreek). Dit is dus te verstane dat die mense onmiddellik die ene ore sou gewees vir wat Johannes sê en doen. Die mense wag al lank vir ‘n ware profeet om op te staan en hulle te vertel wat hulle te doen staan. Hulle is moeg vir die gewone onderrig van die geestelike leiers, wat hulle in ‘n groot mate koud gelaat het. Iets van hierdie gevoel blyk uit wat die skare opgemerk het omtrent Jesus, dat Hy leer soos ‘n man met gesag, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matt 7:28). Die mense het dieselfde gevoel oor Johannes die Doper gehad: Hier is ‘n man wat met Goddelike gesag optree. Kortom: die tyd was ryp vir iemand soos die Doper.

Die woestyn as plek van optrede van Johannes die Doper. Só belangrik is die plek van die Doper se optrede – die woestyn – dat al vier Evangelies dit vermeld (Matt 3:1; Mark 1:4; Luk 3:2; Joh 1:23). Met “woestyn” word bedoel die onbewoonde, onherbergsame gebied oos van Jerusalem (ook bekend as die woestyn van Judea), tot oorkant die Jordaan by Betanië (Joh 1:28), selfs so ver noord as Enon naby Salim (Joh 3:23). Hy het veral in die Jordaanvallei opgetree waar hy die mense maklik kon doop. Die plek van Johannes se optrede sou nie onopgemerk by mense verbygegaan het nie, want dis hier vanwaar hulle ‘n nuwe godsdienstige eksodus of uittog verwag het. Daarom is dit nie vreemd nie dat al die Evangelies juis die teks uit Jes 40:3-5 gebruik om Johannes se optrede vanuit die OT te legitimeer. Hierdie teks beklemtoon Johannes se rol as profeet wat die pad van die Here moet voorberei (“reguit maak”). Verder is die woestyn in die geskiedenis van Israel geassosieer met die ware profete wat gevlug het vir die wraak van konings, soos Elia (1 Kon 19:4). Die Doper kon die woestyn gebruik as ‘n afgeleë en relatief veilige plek om sy boodskap van bekering ongestoord te verkondig, weg van die wakende oog van die godsdienstige en politieke leiers. Hier kon hy die mense ook doop, wat in feite neergekom het op ‘n uitdaging van die gesag van die leiers.

Johannes se optrede in die woestyn bevat dus die konnotasie van ‘n nuwe eksodus, die finale tyd van redding, asook die prys wat ‘n ware profeet van God moet betaal vir sy roeping: uitsluiting van die gerief en statussimbole van die normale sosiale lewe. Al hierdie aspekte van Johannes se plek van optrede sou by die gewone bevolking ‘n snaar van herkenning geroer het en hulle op sy minste uitgedaag het om sy boodskap as ware profeet van God ernstig te neem. Trouens, dit word in soveel woorde gesê dat die mense Johannes as ‘n profeet beskou het, in so ‘n mate dat Herodes bang was om Johannes summier tereg te stel (Matt 14:5).

Die gedagte van ‘n nuwe eksodus word deur sommige verklaarders ook gekoppel aan die feit dat Johannes min of meer daar opgetree waar die Israeliete destyds die Jordaan oorgesteek het om die land Kanaän in besit te neem. Die uittog uit Egipte het gelei tot ‘n nuwe bestaan in Kanaän. Net so berei Johannes die Jode van sy tyd voor vir ‘n nuwe lewe onder die bewind van die komende Messias.

Johannes se kleredrag. Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leergordel om sy heupe (Matt 3:4). Hierdie kleredrag sou onmiddellik die assosiasie met die groot wildernisprofeet uit Israel se verlede, Elia, opgeroep het. Dié het ook so geklee gegaan (2 Kon 1:8; vgl Heb 11:37). Boonop was daar ook die verwagting dat Elia die voorloper van die Messias sou wees (Mal 4:5-6). Dat hierdie gedagte sterk geloop het onder die mense van Johannes se tyd word deur Jesus bevestig as Hy sê dat Johannes inderdaad Elia was wat sou kom (Matt 11:14-15; 17:11-13). Daarmee is die band gelê tussen Elia as voorloper en Jesus as Messias. Johannes het weliswaar ontken dat hy die Messias is, maar dis duidelik dat hy deur sy optrede groot verwagtinge wakker gemaak by die mense oor sy identiteit en oor wat hulle van hom te wagte kon wees (Luk 3:15-17). En sy kleredrag sou beslis bygedra het tot hierdie aura van verwagting rondom sy persoon en optrede.

Johannes se dieet. Johannes se totale dieet het uit sprinkane en veldheuning bestaan (Matt 3:4). Dit klop met wat ons uit ander bronne weet van vroom mense wat destyds in afsondering gewoon het – dat hulle van die veld af geleef het. Maar wat Matteus eintlik hiermee suggereer, is dat Johannes ‘n eenvoudige leefstyl gehad het; hy het in eenvoud en in volkome afhanklikheid van God geleef. Dis ‘n leefstyl wat ook herinner aan wat Jesus later onderrig het dat mens nie oor kos en klere bekommerd moet wees nie, omdat God sal sorg. ‘n Mens se hooffokus moet die koninkryk van God wees (Matt 6:25-34). En dis presies wat Johannes met sy kleredrag en dieet uitgeleef het – volkome vertroue in God, en ‘n leefstyl wat fokus op die die koms van God se koninkryk. Ook hierdie aspekte van sy bediening sou nie onopgemerk by mense verbygegaan het nie. Daar was iets outentiek omtrent Johannes wat hulle eerder sou aantrek as afstoot. Hier is ‘n man wat leef wat hy preek – in alle eenvoud en in volkome toewyding aan God; inderdaad, ‘n man van God.

Johannes se boodskap. Johannes se boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle, want die koninkryk van God/die hemel het naby gekom” (Matt 3:2), of: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mark 1:4; Luk 3:3). Die essensie is: bekering en verlossing (lg deur Matteus uitgedruk as die koms van die koninkryk van God, en deur Markus en Lukas as sondevergifnis).

Wat sou hierdie boodskap vir die Jode van destyds ingehou het? Waarom bekering verkondig aan mense wat reeds tot die verbondsvolk behoort? Bekering is mos iets wat aan die heidene verkondig word. Maar dis presies die punt wat Johannes wou maak. Hy sluit aan by ‘n ou profetiese gedagte dat juis die mense wat beweer dat hulle God se volk is, moet terugkeer na God (bv Jes 31:6; 55:7; Jer 3:6-7,10,14,22; 8:5; Hos 12:7; 14:2-4; Joël 2:12-13). Die bekering wat Johannes preek, is nie maar net die daaglikse toewyding aan God nie, maar ‘n radikale omkeer: ‘n wegkeer van jou verkeerde weë (veral die dien van afgode) en ‘n toekeer tot God. Dít is wat Johannes van die Jode gevra het – ‘n eens-en-vir-altyd bekering, ‘n wegkeer van ‘n ou lewe na ‘n nuwe, iets wat die Jode gewoonlik geassosieer het met wat gebeur wanneer heidene hulle ou lewe laat staan en die lewende God begin aanbid en dien. Hiermee lê Johannes die godsdienstige verwording van sy tyd bloot, dat mense in vals sekerhede verval het deur staat te maak op die feit dat hulle kinders van Abraham is en daarom nie nodig het om hulle lewenswyse voortdurend daarmee in ooreenstemming te bring nie. Maar Johannes wys dit uit as ‘n misleidende en selfs gevaarlike sienswyse. Wat hulle nodig het, is ‘n radikale omkeer. Hulle moenie daarop roem dat hulle kinders van Abraham is nie, want as dit daarop aankom, kan God selfs van klippe kinders vir Abraham verwek (daar is ‘n interessante woordspeling in Aramees tussen “klippe” en “kinders”; die woorde klink baie dieselfde). God word nie beïndruk deur allerlei aansprake en belydenisse van mense nie; Hy stel slegs belang in die vrugte wat pas by daardie belydenis (Matt 3:7-10). Dis belangriker dat mense die bewyse lewer dat hulle kinders van Abraham is as dat hulle net op hulle afstamming roem. En dit vra radikale bekering.

Die doop van Johannes. As simbool van mense se radikale wegkeer van ‘n ou lewenswyse en terugkeer na God, het Johannes hulle gedoop. Dis dieselfde soort doop wat van heidene verwag is wanneer hulle uit die heidendom oorgekom het na die Jodedom, die sogenaamde proselietedoop. Laasgenoemde was ‘n radikale reinigingsproses waardeur die heidene hulle vorige lewenswyse afgesweer het ten gunste van die aanbidding van die lewende God. Met hierdie doop het Johannes eintlik geïmpliseer dat hy die Jode van sy tyd as geestelik dood beskou het; hulle is soos heidene wat nog nie die lewende God ken en dien nie. ‘n Ander beeld wat Johannes vir die geestelike leiers van sy tyd gebruik, bevestig hierdie radikale siening van hom. Hy noem hulle slange, letterlik: “addergeslag” of “kinders van adders” (Matt 3:7). Dis ‘n baie kras term, waardeur hy hulle eintlike karakter aantoon, dat hoewel hulle uiterlik vroom voorkom, hulle na regte kinders van die duiwel is, gedagtig daaraan dat die duiwel ook met die slang geassosieer is (vgl Op 20:2; Joh 8:39-47). Daar was verder ook die opvatting dat adders “moedermoordenaars” was, aangesien ‘n sekere soort adder in die geboorteproses hulle pad uit die ma oopgebyt en die ma in die proses gedood het. “Addergeslag” is dus ook ‘n beeld van uiterste morele verwording, daarom dat hulle ook die oordeel probeer ontvlug, net soos slange probeer vlug wanneer ‘n ploegland aan die brand gesteek word om dit voor te berei vir die saaiproses. Met hierdie sieninge was Johannes inderdaad geen lammetjie nie. Hy het seer sekerlik op baie tone getrap, mense kwaad en verontwaardig gelaat, maar terselfdertyd ook respek afgedwing, in so ‘n mate dat mense na hom gestroom het. Hulle het intuïtief aangevoel dat hy eg is en ‘n belangrike boodskap van God het.

Al bogenoemde dui daarop dat Johannes ‘n besondere oorgangsfiguur was tussen die ou verbond en die nuwe verbond. Hy was inderdaad die wegbereider vir die Messias, Jesus. Hy het die mense in eg OT profetiese tradisie opgeroep tot ‘n ware terugkeer na God, die aanvaarding van God se vergifnis, en om die koms van die koninkryk van God in Jesus met blydskap te omhels. En dat hulle in sy robuuste optrede presies dit raakgesien het, word gedemonstreer in die groot aanhang wat hy geniet het. Selfs lank nadat hy van die toneel verdwyn het, het hy nog dissipels gehad het wat sy nalatenskap voortgesit het (Hand 18:24-26; 19:1-7).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl