Geloof en wetenskap – Hermie van Zyl

Jan vra:

Ek is so 6 jaar na die tyd, maar ek het gister probeer vasstel wie dr Jurie van den Heever is wat Sondae aan ‘n program van RSG deelneem “Hoe verklaar jy dit?”. Kom ek af op ‘n webwerf, Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, waar die geleerde man ‘n artikel geplaas het onder die opskrif: “Quo vadis: Ope brief aan die gereformeerde kerke in Suid Afrika”, gedateer 1 September 2011. In die artikel trek hy die Bybel en die kerk uitmekaar. Groot lof gaan aan prof Sakkie Spangenberg, een van die voorste Bybelwetenskaplikes in Suid Afrika, en ‘n houtlepel vir prof Adrio König vir sy boek: Ek glo die Bybel ondanks al die vrae, wat volgens Van den Heever ‘n “kop in die sand houding is wat niks oplos nie”. Ek sou graag wou weet of die NG Kerk op hierdie brief gereageer het en wat die inhoud van hul reaksie was?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die vraagsteller verwys na ‘n artikel deur dr Jurie van den Heever wat ses jaar gelede verskyn het op die webblad van Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Laasgenoemde is, volgens die webblad, ‘n forum vir vrydenkers en voordenkers, veral wat betref die verstaan van die Bybel, die verhouding tussen geloof en wetenskap, en nuwe vorme van spiritualiteit. In sy artikel rig Van den Heever ope vrae aan spesifiek die kerke van gereformeerde inslag in SA. Hy vra wanneer die kerke gaan afstand doen van oudmodiese, voorwetenskaplike kennis oor God, Jesus en die Bybel. Meer spesifiek het hy dit daaroor dat niemand tog meer kan glo dat Jesus maagdelik gebore is, uit die dood opgestaan het, ten hemele gevaar het, en as God bely word nie. Hy sê verder dat mens nie hierdie godsdienstige “waarhede” nodig het om ‘n morele lewe te lei nie. Hy pleit daarvoor dat die rede as die toetssteen vir ‘n sinvolle lewe en moraliteit aanvaar word, en nie uitgediende mites en fabels wat die kerk steeds as absolute waarhede verkondig nie. Hy verwonder hom daaroor dat Bybelwetenskaplike insigte wat al vir dekades bekend is en in teologiese opleidingsinrigtings gedoseer word, nie deur die kerke verreken word in hulle amptelike standpunte nie, en dat kerkleiers verkies om hierdie insigte óf te ignoreer óf te weerhou van lidmate en hulle so in die duister hou oor die ware feite. Dít, sê Van den Heever, is een van die redes waarom lidmate met hulle voete stem. Kerkbywoning neem af, want lidmate is nie langer gediend daarmee om kerklike waarhede Sondag na Sondag te bely terwyl hulle weet dat daar geen waarheid in steek nie.

Na my beste wete het die kerk nog nooit amptelik op hierdie ope brief van Van den Heever gereageer nie. (Dit is nie juis kerklike gebruik om dit so te doen nie.) Maar dit beteken nie dat die insigte oor geloof en wetenskap, soos deur verskeie standpunte verteenwoordig, deur die gereformeerde kerke – meer spesifiek die NG Kerk – geïgnoreer word nie. Inteendeel. By meer as een Sinode het die NG Kerk, byvoorbeeld, hom al in verslae amptelik uitgespreek oor sy Skrifbeskouing, dit wil sê, oor die manier waarop hy as geloofsgemeenskap wat die Bybel ernstig neem, die verstaan van die Skrif vir vandag beskou. In hierdie verslae word duidelik aangetoon hoe wetenskaplike insigte verreken word sodat die kerk nie met ‘n fundamentalistiese Skrifbeskouing opereer wat wêreldvreemd is in die tyd waarin sy lidmate leef nie. In 2011 het die NG Kerk byvoorbeeld die volgende aanvaar oor hoe menslike rede en Skrifverstaan saam opereer:

“Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradisie, beteken hierdie belydenis (dat die Skrif vir die gelowige gesagvol, betroubaar, duidelik en voldoende is wat kerngeloofsake betref– HCvZ) vir ons nié:

* dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ‘n gawe van God is, moet opoffer nie;

* dat die Bybel gesien kan word as ‘n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie;

* dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie;

* dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie.”

Hierdie verklaring sal vir seker nie mense soos Van den Heever tevrede stel nie. Want, sal hulle sê, dit lê nog te veel klem op die waarde van die Bybel en sê te min oor die rol wat die rede in die geloofslewe moet speel. Dat dit inderdaad nie tevrede stel nie, blyk duidelik daaruit dat Van den Heever nog onlangs ‘n boek laat verskyn het (Wat moet ons met ons Kerk doen? Naledi, 2017) waarin hy nie net sy gedagtes van 2011 herhaal nie maar dit ook breedvoeriger uiteensit. Sy klagtes oor die kerk se stompsinnigheid – dat steeds volhard word met oudmodiese insigte oor God, Jesus en die Bybel – is dus nog steeds dieselfde.

Wat ek vervolgens hier onder aanbied, is ‘n kort reaksie op die insigte wat Van den Heever in sy geskrifte van 2011 én 2017 na vore bring. Dit is uiteraard ‘n persoonlike siening oor die verhouding tussen geloof en rede, maar tog verteenwoordig dit myns insiens ‘n breë sentiment in die kerk oor hierdie uiters komplekse kwessie. Ek kan uiteraard nie op alles ingaan wat Van den Heever skryf nie; ek bied slegs ‘n soort perspektiwiese reaksie.

  1. Daar is baie in Van den Heever se sienings waarin ek dit grondig met hom eens is. Daar is geen manier waarop die kerk eietydse insigte vanuit die natuur- en geesteswetenskappe summier kan ignoreer en voortgaan asof ons steeds in ‘n voorwetenskaplike era leef nie. En die kerk is inderdaad soms stadig om “by te kom”. Ons het wel bygekom met die aanvaarding van ‘n heliosentriese wêreldbeeld (dat die son, en nie die aarde nie, die sentrum van ons sonnestelsel vorm), dat die aarde rond en nie plat is nie, en dat die kosmos oor miljarde jare tot stand gekom het en nie in ses dae nie. Maar daar is by baie gelowiges steeds twyfel en selfs weerstand oor die aanvaarding van iets so basies in die natuur soos evolusie, om nie eens te praat van dat die mens nie uit ‘n enkele volledig gevormde mensepaar voortspruit nie maar ‘n lang evolusieproses deurgemaak het. Die voortstuwende kennisontploffing maak eenvoudig dat die kerk nie altyd kan byhou nie. Neem maar die verdere voorbeeld oor menslike seksualiteit en gevolglike selfdegeslagverhoudings (waaroor Van den Heever ook in sy boek handel). Die bolmakiesie wat die NG Kerk, byvoorbeeld, hieroor geslaan het van sy 2015-besluite (waar selfdegeslagverhoudings en -huwelike goedgekeur is) tot by sy 2016-besluite (waar weer teruggekeer is na sy tradisionele standpunte) laat nie net blyk hoe moeilik dit vir die kerk is om wetenskaplike insigte met sekere Skrifuitsprake te versoen nie, maar skep ook verwarring by sy lidmate oor hoe betroubaar die kerklike leiding oor dié kwessies is. Wat moet die lidmaat nou glo – die 2015- of die 2016-besluite? Dit is inderdaad vir die kerk moeilik om te aanvaar dat die gesag van die Skrif in tandem moet verkeer met onomstootlike wetenskaplike bewyse. Wat presies in die Skrif is nou gesagvol en wat nie? Word die grense van die Skrifgesag telkens uitgedaag en in feite teruggedruk met elke nuwe ontdekking of insig wat oënskynlik in direkte teenspraak met bepaalde Skrifuitsprake is? Ja, die kerk erken dat die Skrif nie ” ‘n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis is nie” en dat “die Bybel nie vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie”. Maar dit is nie altyd so maklik om in spesifieke gevalle te besluit hoe die insigte van die wetenskap gepaar moet word met Skrifuitsprake en -insigte wat oor eeue gemeengoed van die kerk geword het nie. Dat die kerk egter in elke tydsgewrig die roeping het om hierdie uitdaging te aanvaar – daarin is ek dit eens met Van den Heever. Want juis so ontdek die kerk telkens wat die kernsake in die Bybel is, wat as kultuur- en tydgebonde uitsprake agtergelaat kan word, en wat die essensie van sy boodskap aan die wêreld is. En die kerk hoef ook nie halsstarrig te wees in die aanvaarding van hierdie uitdaging nie, want Skriftuur en natuur kan in die grond van die saak tog nie teenoor mekaar staan nie. Dit is immers dieselfde God – so bely die kerk – wat die natuur daargestel het wat ook die Skrif tot stand gebring het. Dis net dat die korpus van kennis omtrent die natuur wat in die tyd toe die Skrif tot stand gekom het veel kleiner was as vandag. Die Bybelskrywers was immers mense van vlees en bloed, kinders van hulle tyd. Die insigte waarmee hulle vorendag gekom het omtrent God en mens vertoon dus die tipiese trekke en vorme van daardie tyd. Dis daarom te verstane dat die destydse (beperkte) stand van kennis neerslag gevind het in die Skrif en dat dit soms in stryd kom met wat ons vandag weet van die wêreld. En tog, so bely die kerk, bevat die Skrif insigte omtrent God en mens wat nie summier deur hedendaagse insigte as oudmodies omvergegooi kan word nie. Die Bybelskrywers het met insigte vorendag gekom wat die tand van die tyd oorleef het, wat inderdaad as geïnspireerde, deurleefde kennis beskryf kan word en wat daarom onontbeerlik vir elke geslag mense is, ongeag die tyd waarin hulle leef. En dit bring my die volgende gedagte.
  2. Die probleem wat ek met Van den Heever se standpunte en soortgelyke standpunte het – want hy is nie uniek daarin nie – is dat dit ‘n harde rasionalistiese inslag het. Daarmee bedoel ek dat hy logika of die menslike rede as ongeveer die enigste norm vir sinvolle lewe postuleer. Alles moet vir hom immanent (binne-wêrelds) verklaar word. Daar is nie veel ruimte vir die transendente – God – nie. Volgens hom het teologiese en godsdienstige kategorieë hulle kans gehad, dié behoort tot ‘n vergange era, hulle is uitgedien; hulle bied nie meer lewensvatbare kategorieë van denke om die hedendaagse mens se behoeftes en verstaan van die wêreld te dien nie. Byvoorbeeld, die skeppingskategorieë van die Bybel moet volgens Van den Heever vervang word met natuurlike prosesse. Die ontstaan van die kosmos en van die mens is dus vir hom gewoon die verloop van natuurlike prosesse, geen transendente oorsaak hoef veronderstel te word nie. Goed, dit kan seker so verstaan word. Maar die wetenskap kan nie antwoorde bied oor wie of wat die proses begin het, of wáárom nie. Waarom is daar iets en nie niks nie? Waar kom die idee, die gedagte van ‘n kosmos, van ‘n aarde wat presies so geposisioneer is in ons sonnestelsel dat dit lewe kan onderhou, hoegenaamd vandaan? Het hierdie ingewikkelde ratwerk maar sommer vanself uit die niet tot stand gekom, of is dit ‘n skeppingsgebeure uit niks (creatio ex nihilo), voortvloeiende uit die gedagte van ‘n Oerintelligensie – die Groot Gedagte, soos Gideon Joubert dit in sy gelyknamige boek genoem het? En, met al die ontelbare moontlikhede wat die natuur bied, is die voortgaande ontwikkeling iets wat maar net op sy eie wieletjies loop en na enige kant toe kan gaan, of word dit deur ‘n Intelligensie gelei na ‘n bepaalde einde toe? Die wetenskap kan nie hierop antwoorde bied nie, want dié soort vrae kan nie aan verifikasie onderwerp word nie. Dis hierop dat die Bybel intuïtiewe, geïnspireerde antwoorde bied – geloofsantwoorde – weliswaar geklee in die destyds beskikbare kenniskonstrukte. Want die een eienskap van geloof is dat dit ‘n greep op die onsigbare werklikheid uitoefen wat nie deur waarneming en verifikasie gestaaf kan word nie, maar wat nogtans werklikheidsgeöriënteerd is. Hebreërs 11:1 sê byvoorbeeld dat geloof sekerheid gee van die dinge wat ons hoop en oortuiging bring oor die dinge wat ons nie sien nie. En dan word die res van Hebreërs 11 gewy aan Ou-Testamentiese “geloofshelde” wat die onsienlike gesien het en hulle lewe daardeur laat bepaal het. Hierdie onsienlike was nie ‘n pypdroom nie, maar het aan hulle alledaagse lewe sin, betekenis en koers gegee, selfs al het hulle nie eens naastenby alles waarin hulle geglo het, in hulle lewenspan verkry nie (Heb 11:39-40). As Van den Heever dus aan die rede die alleenreg gee om te bepaal wat sinvol is, word weliswaar allerlei bygeloof en mites die nek ingeslaan (wat goed en reg is, ons het dit nodig), maar word daarmee ook die kind met die badwater uitgegooi. En dis onnodig. Die lewe omvat baie meer as geverifieerde waarhede. Dit is juis die taak van die teologie om die Bybel so te bestudeer dat dit ook die onsigbare – maar werklike – wêreld open sodat dit sin kan gee aan ons lewe. Wat my by die Bybel uitbring.
  3. Van den Heever doen baie moeite om die resultate van die Bybelwetenskap van die afgelope dekades op die tafel te plaas en aan te toon dat Bybelwetenskaplikes self die diskrepansies, teenstrydighede, halwe waarhede, onwaarhede, fabels en mites in die Bybel ontdek en blootgelê het, en dat dit daarom hoog tyd is dat die kerk hiervan kennis neem. Die punt wat hy wil maak, is dat die Bybel na alles nie die onfeilbare Woord van God is nie; mens kan nie alles vir soetkoek opeet wat in die Bybel staan nie. My probleem is nie dat hy hierdie resultate bekendstel nie – ek dink ook dit moet gebeur – maar wel dat dit selektief, eensydig en selfs pejoratief aangebied word. Die doel waarom die resultate van die Bybelwetenskap so doeltreffend as moontlik aan die kerklike publiek deurgegee moet word, is immers nie om lidmate se geloof te ondermyn nie, maar om dit te versterk. Die Bybelwetenskap se taak is juis om die leser te laat fokus op waarop dit regtig aankom, terwyl Van den Heever dit gebruik om die Bybel as uitgediend, agterhaal en selfs belaglik voor te stel, as iets wat nie betroubaar is nie en daarom liefs verder geïgnoreer moet word. So sê hy dat die mens se lewe op aarde eenmalig is, dat daar geen hiernamaals is nie, dat Christus se opstanding, hemelvaart en wederkoms mites is. Hy stel voor dat ons eerder in pas kom met die Ou Testament waarvolgens die lewe op aarde belangrik is, en dat ons bevry word van alle gedagtes oor ‘n hiernamaals. Egte spiritualiteit is, volgens hom, gerig op die heiligheid van die aarde – dat die mens homself sien as deel van die groter kosmos en nie as kroon van die skepping en gevolglike heerser daaroor nie. Hy moet dit dus onderhou, verantwoordelik daarmee omgaan en vir die nageslag bewaar. So word menslike selfsug en eiebelang oorwin, dien jy jou naaste en transendeer jy jouself. Dít is die morele spiritualiteit wat tans gevra word, sê Van den Heever.

Ek het geen probleem met laasgenoemde strewe as sodanig nie, maar as dit al evangelie is wat Van den Heever wil hê die kerk moet verkondig, is dit, Bybels gesien, ‘n erg verskraalde evangelie. Paulus sê byvoorbeeld dat hulle wat net vir hierdie lewe op Christus hoop, die bejammerenswaardigste van alle mense is (1 Kor 15:19). Dit is nie die taak van die Bybelwetenskap om die mat van die volle evangelie onder lidmate uit te ruk nie. Dit sou dwaas wees. In elk geval, met al die kennis waaroor die wetenskap beskik, weet ons nog steeds nie veel nie. Wat weet ons nou eintlik van wat anderkant die grens van die dood lê? Daar is geen wetenskaplike bewyse dat daar geen lewe na die dood is nie. Waarom dan die alternatiewe kennis, die omvattende hoop wat die evangelie bied, verruil vir ‘n pot lensiesop, by wyse van spreke? Dit is wel so dat die Ou Testament baie meer aardsgerig is in sy toekomsperspektief oor menslike lewe as die Nuwe Testament. Maar dit is juis die Bybelwetenskap wat aangetoon het hoe daar geleidelik veranderinge binne die Jodedom rondom menslike toekomsverwagtinge ingetree het, en dat die finale perspektief hieroor deurgebreek het met die koms van Jesus Christus. Sy opstanding uit die dood het ‘n radikale herinterpretasie gebring oor verwagtinge rakende lewe na die dood. Daarom kan Paulus sê dat nie dood of lewe ons kan skei van God se liefde in Christus nie (Rom 8:38), en dat hy verlange het om ná sy dood “met Christus” te wees (Fil 1:23). Dit mag na naïewe opvattings klink, maar die punt is: dít is die evangelie wat die kerk steeds met oortuiging verkondig, teen alles in wat dit oënskynlik teenspreek. Geloof gryp egter nie na grashalmpies nie, maar bou op die groot dade van God in die geskiedenis, op sy trou en liefde, wat standhou oor alle ongeluk – ook die dood – wat die mens kan tref. Natuurlik het die kerk geen verifieerbare wetenskaplike bewyse vir wat hy hieroor glo en preek nie, maar so het die wetenskap ook geen bewyse vir die teendeel nie, ten spyte van allerlei aansprake. Dit is daarom baie beter om met hierdie omvattende hoop te lewe, en vanuit hierdie hoop ‘n sinvolle etiese lewe op aarde te voer. Wanneer Paulus sy groot hoofstuk oor die opstanding afsluit, is dit juis die opstanding wat hom daartoe bring om die Korintiërs op te roep om standvastig en onwankelbaar in die diens van die Here te wees, omdat hulle weet dat dit nie tevergeefs is nie (1 Kor 15:58). Dis beter om met hierdie oortuiging te lewe as om met die skrale hoop wat die wetenskap hieroor bied, tevrede te wees. Weer eens, ons hoef nie die kind met die badwater uit te gooi om die soort morele lewe te lei waartoe Van den Heever ons oproep nie. Daar is ‘n alternatief. Dis juis die eskatologiese hoop, gegrond in die lewe, sterwe en opstanding van Christus, wat Christene aanspoor om hier en nou verantwoordelik te lewe.

Die Bybelwetenskap se resultate bring mens dus nie uit waar Van den Heever wil hê dit ons moet uitbring nie. Die Franse filosoof en hermeneut, Paul Ricoeur, het gesê dat grondige, kritiese Bybelondersoek noodwendig beteken dat mens se eerste naïwiteite ‘n skok kry. Jy besef naamlik dat daar oneffenhede in die Bybel voorkom wat nie wegverklaar kan word nie. En dit moet inderdaad grondig onder oë geneem word. Maar dis nie waar ‘n mens moet bly vassteek nie, sê hy. Jy moet deursteek na ‘n tweede naïwiteit waar jy nie net bewus is van al die kritiese standpunte rakende die Bybel nie, maar waar die verwondering weer terugkeer, waar jy begin agterkom wat die Bybel eintlik met die leser wil doen. Dis nie jy, magtige mens, wat God ondersoek en tot die gevolgtrekking kom dat Hy nie bestaan nie, maar dis jy as mens wat deur die brose woorde van baie getuies deur God se liefde, genade en geregtigheid ondersoek en oorrompel word. Daar vind ‘n omkeer van rolle plaas: die subjek van ondersoek (die mens) word uiteindelik die objek van ondersoek. En op dié manier vind jy rus in God.

Ons weet nie regtig wat God alles vir ons in voorraad hou nie. Selfs die Bybel bied maar nog net ‘n floue beeld op die toekoms van die mens. Ons kyk nog net in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld. Maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is (1 Kor 13:12). Wat ons wel weet, is dat God nie speletjies met ons speel nie. Hy het nie verniet die asem van die lewe in ons geblaas nie. Hy laat vaar nie die werke van sy hande nie. God sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, end-uit voer tot by die wederkoms van Christus (Fil 1:6), wat dié ook al mag beteken. Wat ons nou weet, is egter genoeg om getroos te lewe en te sterwe.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Jesus se mensheid – Hermie van Zyl

Anna vra:

In Johannes 20:17 sê Jesus dat Maria nie aan Hom mag vat nie. My vraag is: was Jesus “mens”? Wanneer kon hulle weer aan Hom vat? As hulle glad nie weer aan Hom kon vat nie, hoe het Hy dan tussen die mense beweeg sonder aanraking?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar het reeds ‘n volledige verduideliking op Bybelkennis se webblad verskyn oor hoe ons Jesus se woorde aan Maria Magdalena ná sy opstanding: “Moenie My aanraak nie”, moet verstaan. Ek versoek die vraagsteller om eers hierdie verduideliking te lees (soek dit onder “Moenie My aanraak nie”). In onderstaande antwoord gaan ek aanvanklik ‘n kort opsomming gee van genoemde verduideliking en dan handel oor die implikasies wat hierdie gebeure moontlik mag inhou vir Jesus se ware mensheid.

Jesus se woorde aan Maria (“Moenie My aanraak nie”) moet glad nie verstaan word as sou Jesus aanraking vermy het tydens sy aardse bediening, of as sou sy opgestane liggaam oor bepaalde eienskappe beskik het wat dit onwenslik of onbehoorlik vir mense sou maak om Hom aan te raak nie. Jesus se woorde aan Maria het eerder alles te make met die veranderde verhouding tussen Jesus en sy dissipels ná sy opstanding. Hy is nou nie meer hulle aardse leermeester nie, maar die opgestane Here wat opgevaar het na sy Vader. Hy het dus nie, soos in Lasarus se geval, bloot teruggekeer na hierdie lewe en sit nou maar net die aardse verhouding met sy dissipels voort nie. Nee, in die toekoms gaan Hy deur die Gees met hulle wees; dit is dus ‘n voller teenwoordigheid as voorheen. Daarom dat Hy Maria (en daarmee ook die ander volgelinge) daarop attent maak dat hulle Hom nie moet probeer vashou nie, asof hy bloot teruggekeer het na hierdie lewe en alles weer gaan wees soos voorheen. ‘n Nuwe era breek nou aan; die era van Jesus se teenwoordigheid deur die Gees. As teken hiervan blaas Hy op hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh 20:22). Laasgenoemde is Johannes se weergawe van die uitstorting van die Heilige Gees, wat Lukas in Handelinge 2 breedvoerig beskryf. Van nou af is Jesus as God die Seun teenwoordig by sy kerk; eintlik is dit God Drie-enig wat nou sy intrek neem by die gelowiges. Enige poging van die dissipels om hierdie voller teenwoordig van Jesus by sy kerk – as deel van die Goddelike Drie-eenheid – te probeer beperk, moet dus vermy word. En dít is in essensie wat Jesus vir Maria probeer sê met sy woorde: “Moenie My vashou nie”. Laasgenoemde is ook ‘n beter vertaling as: “Moenie My aanraak nie.” Want Hy sê daarmee: Moenie My probeer vashou as bloot julle aardse Leermeester nie; Ek is nou die hele kerk se Here en moet al my skape lei as die opgestane Here (Joh 10:16). (Let wel: die Drie-eenheidsgedagte kom nie in soveel woorde voor in die Johannesevangelie – of Nuwe Testament – nie. Die spore daarvan is reeds sigbaar, maar die formulering van die Goddelike Drie-eenheid sou eers heelwat later in die kerk gebeur.)

Wanneer ons Jesus se woorde aan Maria soos hierbo verstaan, word dit duidelik waarom sy woorde geen afbreuk doen aan sy ware mensheid nie, as sou Hy nie ‘n egte, warmbloedige mens gewees het nie en alle kontak en aanraking probeer vermy het. Nie eens ná sy opstanding mag dit so verstaan word nie. Dat Jesus niks teen aanraking het nie, word bevestig wanneer Hy net ‘n bietjie later vir Tomas sê: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy … ” (Joh 20:27). Die bedoeling is dat Tomas Jesus se verheerlikte liggaam sou aanraak. Jesus was dus nie ‘n spook of ‘n gees nie, en daar was geen sprake daarvan dat sy opgestane liggaam dalk “ontheilig” sou word as Tomas dit aanraak nie. ‘n Verdere aanduiding van Jesus se ware mensheid – selfs ná sy opstanding – is dat Hy saam met sy dissipels geëet het. Dit word geïmpliseer deur Johannes 21:12-15, maar eksplisiet gestel deur Lukas 24:43 as daar staan dat Jesus ‘n stuk vis voor die oë van die dissipels geëet het. Enige gedagte van Jesus wat dalk nie eg mens was nie, selfs na sy opstanding, word hiermee uit die weg geruim. Hierdie gegewens klop ook met wat Paulus in 1 Korintiërs 15 sê oor die verheerlikte liggaam. Hy sê dat in verganklikheid gesaai word, maar in onverganklikheid opgewek word. Tans het ons geen begrip van hierdie “onverganklikheid” nie, maar wat ons wel kan sê, ook op grond van wat ons uit Jesus se opgestane liggaam kan aflei, is dat die verskil tussen die liggame wat ons tans het en as verheerlikte mense sal hê, nie is dat eersgenoemde ‘n egte liggaam is en laasgenoemde nie. Die feit dat Jesus vis eet ná sy opstanding bevestig dit. Die punt is: Jesus het beide in sy aardse lewe en as verheerlikte Here ‘n egte, ware liggaam gehad. So is Hy juis die Eerste uit die dood; wat met Hom gebeur het, is ‘n vooruitskouing van wat met ons as gelowiges ook sal gebeur.

Indien ons terugkeer na die aard van Jesus se aardse liggaam is dit leersaam om kennis te neem van ‘n beweging in die vroeë kerk, genaamd die Gnostiek. Hulle het onder andere Jesus se ware mensheid onder verdenking geplaas. As Seun van God sou Hy dan net ‘n skynliggaam gehad het en sy dood sou ook nie eg gewees het nie, het hulle gesê. Die Evangelies, spesifiek die Johannesevangelie en -briewe, is egter baie eksplisiet oor die feit dat Jesus eg mens was. Johannes maak wel baie van Jesus se Goddelikheid, dat Hy deur die Vader gestuur is (Joh 8:28-29), dat Hy van Bo is (Joh 8:23), en dat Hy in die begin by God was en self ook God was (Joh 1:1). Maar dieselfde Evangelie sê uitdruklik dat die Woord mens geword het (Joh 1:14). In die oorspronklike Grieks word ‘n baie sterk woord hier gebruik. Daar staan dat Hy vlees geword het; dit beklemtoon die feit dat Hy van vlees en bloed was soos enige ander mens. Daar kan dus geen misverstand by die leser wees oor die egtheid van sy mensheid nie. Die eerste Johannesbrief sê dan ook in soveel woorde dat Jesus as die Woord van God so waarlik mens geword het dat die dissipels Hom met hulle eie oë gesien en met hulle hande aan Hom geraak het (1 Joh 1:1). Daar kan dus min twyfel bestaan omtrent sy egte mensheid. Trouens, so eg mens was Jesus dat Hy saam met sy dissipels bruilof gehou het, die water in wyn verander het sodat die gaste vrolik kon wees (Joh 2), en die blinde man se oë aangeraak het nadat Hy klei aangemaak het met sy spoeg (Joh 9). Hy het selfs versoekings ervaar (Matt 4:1-11; Heb 4:15).

Dus, voor en na sy opstanding was Hy eg mens en was aanraking deel van sy menswees. Natuurlik word hiermee nie ontken dat Hy ook waarlik God was en is nie. Dit is trouens die misterie van Jesus, dat Hy as die Godmens ons Middelaar is: waarlik mens en waarlik God.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die vertaling van die woord sarks – Hermie van Zyl

Hierdie is ‘n opvolg oor ‘n vorige vraag oor die mens se sondige natuur

  1. Die Direkte Vertaling van die Interliniêre Bybel (CUM, 2012) is nie dieselfde as die Direkte Vertaling van die Bybelgenootgeskap (2014) nie. Eersgenoemde is meer letterlik as laasgenoemde. Daarom het ons in eersgenoemde verkies om sarks met “vlees” weer te gee. ’n Letterlike vertaling probeer altyd so kort as moontlik op ’n konkordante manier vertaal, dit wil sê, dit probeer ’n een tot een verhouding bewerkstellig tussen die Griekse woorde en die ontvangertaal, met so min as moontlik interpretasie. Maar juis hierdie kenmerk maak ’n letterlike vertaling baie onbevredigend vir die ontvangertaal-leser. Want die vraag bly steeds: wat beteken “vlees” nou eintlik? En daarom het ons in die  regterkantste kolom van die Interliniêre Bybel die 1983-Afrikaanse Vertaling bygevoeg sodat die leser kan sien hoe verskil ’n letterlike en dinamiese vertaling. Laasgenoemde probeer juis die betekenis van die Grieks vir die ontvangertaal (in hierdie geval Afrikaans) so presies as moontlik weergee. En, soos reeds beredeneer in die vorige antwoord, daarom word “vlees” met “sondige natuur” vertaal omdat lg die bedoeling van die teks beter verwoord. En dat die vertalers nie hier ’n fout begaan het nie, word geïllustreer in bv Rom 8:3 waar letterlik staan dat God sy eie Seun gestuur het “in gelykheid aan die sondige vlees”. Paulus self tipeer dus die vlees as sondig.
  2. Die Boodskap is op sy beurt ’n baie vrye vertaling, eintlik ’n parafrase. Hierdie vertaling vertaal “vlees” in Rom 8 op ’n verskeidenheid van maniere, soos die volgende: “mag van die sonde in ons lewe”; “deur die sonde oorheers”; “in sonde leef”; “die sonde heers oor hulle”; “in die greep van sonde”. Met hierdie uitdrukkings word in wese dieselfde gesê as die 1983-Vertaling se “sondige natuur”. Hulle druk almal die gedagte uit dat die mens nie anders kan as om te sondig nie; die mens is in die greep van sonde; hy kan met die beste wil in die wêreld nie doen wat God behaag nie. Laasgenoemde begin eers moontlik word wanneer God deur sy Gees ’n nuwe natuur in die mens genereer wat na God se wil kan begin lewe.
  3. Waar kom die sondige natuur van die mens vandaan? God het ons inderdaad nie aan die begin so gemaak nie. Die mens in sy oorspronklike staat is goed (Gen 3:31). In die teologie sê ons die mens is geskape in ’n staat van ongeskondenheid (status integritatis). Maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die mens het die sonde verbrei na alle mense (Rom 5:12) en bevind die mens hom nou in ’n staat van korrupsie (status corruptionis). Waar die mens voorheen in staat was om nie te sondig nie (posse non peccare), is hy nou nie in staat om nie te sondig nie (non posse non peccare). Dit is die situasie wat Paulus in sy aanwending van die begrip sarks beskryf. Maar deur die Gees (wedergeboorte) skep God weer in ons ’n nuwe natuur waar ons verlang om volgens al God se gebooie te lewe. En so is God met ons op weg na die verheerlikte staat (status gloriae) wat ons eers sal beklee in God se nuwe skepping. En dis die dilemma van die Christen: ons lewe tussen wat ons alreeds het in Christus, maar nog nie volkome gerealiseerd sien in ons eie lewe nie. Wanneer ons dus oor die aard of natuur van die mens dink soos ons hom nou ken, mag ons die onderskeid tussen hoe ons oorspronklik gemaak is (status integritatis) en wat die sonde van ons gemaak het (status corruptionis) nooit uit die oog verloor nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Paulus en die besnydenis – Francois Malan

Willie vra:

DIE BESNYDENIS

Boodskap Teks:

My Vraag handel oor die besnydenis en Paulus se siening (Galasiërs 5)

vers 5 Maar ons, ons verwag deur die Gees en op grond van geloof die vryspraak waarop ons hoop. 6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde in dade omgesit word.

Vers 11 En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. 12 Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself volledig laat ontman!

My vraag is hoekom sou Paulus nog die besnydenis verkondig as hy redding deur geloof en genade alleen preek ( Sola Gratia en Sola Fide)

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die probleem lê by die verstaan van Galasiërs 5:11 in die gang van die argument waar Paulus juis sê dat in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur die liefde in dade omgesit word (5:6).

Die voorwaardelike sin, ingelei deur ‘as ek nog/steeds die besnydenis verkondig,’ word gevolg deur die hoofsin in vragende vorm ‘waarom word ek nog/steeds vervolg?’ Die feit dat Paulus nog vervolg word bewys dat hy nie meer die besnydenis verkondig, soos hy voor sy bekering gedoen het nie, en dat die bewering dat hy steeds die besnydenis verkondig ’n kwaadwillige valsheid is.

In werklikheid staan besnydenis hier as die kenteken van die Joodse siening wat die besnydenis as noodsaaklik beskou vir jou verbondsverhouding met God, om as deel van die volk van God beskou te word. Dit is wat Paulus se teenstanders juis verkondig in die gemeentes in die provinsie Galasië, en waarteen Paulus so ernstig waarsku in dié brief.

Die kruis daarenteen, is die kenteken van die Christen se verhouding met God. Die kruis is die kenteken dat ons in Christus glo, in Hom wat ons verhouding met God reggemaak het deur sy dood deur al die sonde van die wêreld op Hom te neem en daarvoor versoening te doen. Die Seun van God het die doodstraf vir ons sonde in ons plek gedra.

Vir dié mense wat die besnydenis as noodsaaklik vir ons verhouding met God verkondig, is die kruis ’n struikelblok. Hulle sien besnydenis as die teken van die verlossing wat verkry word deur die wet te onderhou, en so jouself te verlos met jou goeie werke. Christus het egter met sy kruisdood die verlossing uit God se liefde en genade bewerk, en die verlossing word verkry deur geloof in Christus. Die aanstoot van die kruis as struikelblok beteken dat hulle hulle vertroue op hulle goeie werke moet prysgee as die manier om voor God aanvaarbaar te wees en nie langer op hulleself vertrou nie.

Hierdie gang van die argument begin in Galasiërs 5:2-4 met ‘Kyk ek, Paulus, sê nou vir julle, as julle julle laat besny, sal Christus vir julle niks beteken nie. Ek getuig weer teenoor elkeen wat hom laat besny, dat hy verplig is om die hele wet te onderhou (wat vir ’n mens onmoontlik is). Julle wat op grond van die wet vrygespreek wil word – julle is van Christus afgesny, julle het die genade verbeur.’ Die gang van die argument verduidelik juis dat Paulus nie die besnydenis verkondig nie. Vers 11 moet nie los van sy verband gelees word nie, dan word die vers maklik verkeerd verstaan. Die argument word in vers 12 afgesluit met ’n bevestiging dat dit nie Paulus is wat beweer dat hy die besnydenis verkondig nie, maar juis  ‘diegene wat julle so opstandig maak.’  Hulle maak die mense opstandig teen Paulus en sy prediking van Christus die gekruisigde. Daarom wens Paulus die verkondigers van die besnydenis wil hulleself volledig laat ontman!

Waarom Paulus in Gal 5:11 verwys na sy prediking van die besnydenis,

kan daarom slegs verwys na ‘diegene’ wat hulle so opstandig teen Paulus maak. Die Nuwe Lewende Vertaling gaan daarvan uit dat dit die valse leraars is wat valslik beweer dat Paulus nog die besnydenis verkondig. Hulle voeg dit daarom in: ‘Wat my betref, broers en susters, as dit waar is dat ek steeds verkondig dat die besnydenis noodsaaklik is…’

Die Griekse eerste persoon teenwoordige aanwysende vorm van die woord kerusso ‘ek verkondig’ is dieselfde as die vorm van die eerste persoon teenwoordige konjunktief, wat vertaal kan word met: ‘as ek steeds die besnydenis sou verkondig. Daarmee wys Paulus dan dat ánder mense beweer dat hy steeds die besnydenis verkondig, en nie hy self nie, soos die Nuwe Lewende Vertaling dit weergee as ’n konjunktiewe werkwoord, in die lig van die gang van die argument.

Skrywer:  Prof  Francois Malan