Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: ‘n opsomming van sewe van Paulus se aansporings aan die Korintiërs
Paulus se fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea: ‘n opsomming van sewe van Paulus se aansporings aan die Korintiërs
Paulus skryf 2 Kor. 8-9 vanuit Masedonië aan die Korintiërs om hulle aan te spoor om die fondsinsameling, wat reeds vroeër in die gemeente begin is (1 Kor. 16:1-6; 2 Kor. 8:1, 6; 9:4), nou weer op dreef te kry en te voltooi, voor Paulus se aankoms in Korinte (2 Kor. 9:3-5). Om hulle hiertoe te motiveer, gebruik hy agt aansporings. Lees gerus hier wat sy eerste sewe aansporings was.
1. Die voorbeeld van die Masedoniërs moet hulle daartoe aanmoedig (8:1-7). Paulus doen ‘n beroep op hulle eer deur ‘n vriendelike wedywering tussen die gemeentes in Masedonië en Agaje in te stel. Die Masedoniërs het ruim bygedra ten spyte van hul armoede. Die Korintiërs is (in die algemeen) welaf, en het dus die vermoë om die Masedoniërs in hierdie opsig te oortref. Die Masedoniërs se ywer en vrywilligheid om aan die projek deel te neem dien ook as voorbeeld vir die Korintiërs, wat traag geraak het ten opsigte van die projek. Om hulle eer te beskerm, moet hulle liewer nou opskud en die insameling afhandel, en soveel te meer ywerig en vrygewig wees in die insameling, sodat hulle nie die loef afsteek by die Masedoniërs nie.
2. Verwant aan die vorige punt, deur nog ‘n beroep op hulle eer, wys Paulus die Korintiërs ook daarop dat hy reeds met hulle ywer vir die saak, gespog het by die Masedoniërs (9:1-5). Dit is (ten minste gedeeltelik) vanweë die Masedoniërs se indrukke van die Korintiërs se gereedheid om by te dra, dat hulleself daartoe aangespoor is. Gevolglik mag die Korintiërs, van wie die gereedheid om by te dra alreeds ander daartoe gemotiveer het, nie nou agterweë bly nie! Om hulle eer te beskerm, moet die Korintiërs sorg dat hulle die beeld wat Paulus van hulle oorgedra het, gestand doen. Anders sal sowel hulle as hyself in die skande gesteek word. Die afvaardiging wat hy na hulle toe stuur (9:3-5), sal help dat hulle so ‘n verleentheid kan vermy.
3. Die fondsinsameling is ‘n toets van die Korintiërs se liefde (8:8). Sou hulle die insameling suksesvol afhandel, met die regte gesindheid, sal dit hulle liefde (vir Christus en hulle medegelowiges) bevestig. Paulus gee dus nie ‘n opdrag dat die Korintiërs die fondsinsameling moet afhandel nie. Hy herinner hulle egter daaraan dat hulle keuse in die verband, boekdele gaan spreek oor die mate waarin hulle liefde uitleef.
4. Paulus wys die Korintiërs ook daarop dat hulle Christus, van Wie hulle bely dat Hy “ons Here” is, se voorbeeld van selfopoffering moet náleef (8:9), deur guns aan ander te bewys. ‘n Goeie geleentheid hiervoor is om ‘n bydrae te maak vir die arm gelowiges in Judea. Om sodanige guns aan andere te bewys en hulle te “verryk”, behels om jouself in die proses te “verarm”. Hierin is die voorbeeld van Christus dus die standaard waartoe hulle moet streef en motivering om tot aksie oor te gaan. Hy het immers deur sy menswording en gevolglike kruisiging (“verarming”), in belang van die gelowiges opgetree sodat hulle daardeur die ewige lewe en al die ander gawes van God ontvang (“verryking”).
5. ‘n Voorneme wat onvervuld bly, is van geen waarde nie. Gevolglik gee Paulus die raad aan die Korintiërs (8:10-11) om hul bereidwilligheid gestalte te laat kry deur tot aksie oor te gaan en die poging, waarmee hulle wel reeds begin het, nou af te handel. Dit behoort hulle te doen sodat hulle “bereidwilligheid om gewillig te wees” voltooi kan word en nie net ‘n betekenislose voorneme bly nie.
Die Korintiërs se hulpverlening word in 9:13 ook beskryf as ‘n bewys van diens. Dit is iets meer as ‘n voorneme tot diens – hulle moet hulle diens aan hul medegelowiges (en aan God – 8:12) prakties illustreer deur tot die daad oor te gaan.
6. Ewewig: die oorvloed van sommige is die voorsiening van God vir die gebrek van andere (8:13-15). Tans bevind die Korintiërs hulle in ‘n situasie van oorvloed sodat hulle dié wat gebrek ly kan help. Die voorsiening van God aan sy mense is (ten minste gedeeltelik) daarin geleë dat sowel die wat meer het as die wat minder het, almal genoeg het. Dit natuurlik mits die gelowiges gewillig is om hulle besondere gawes (in die breë sin van die woord) met mekaar te deel. Daarom behoort die Korintiërs, wat deur die genade van God tans (finansiële) oorvloed geniet, vanuit hul oorvloed by te dra tot die verligting van die Judese gelowiges se armoede. Op wederkerige wyse kan die Judeërs dan weer vanuit hulle oorvloed (op watter terrein ookal) gawes met die Korintiërs deel waar hulle gebrek ly (vgl. Rom. 15:27).
7. Net soos die Masedoniërs se ywer en vrywillige inisiatief die Korintiërs moet aanmoedig, so ook die ywer en inisiatief van Titus (8:16-17), wat nie net Paulus se versoek om met die insameling te help, verwelkom het nie, maar ook met groot ywer uit eie beweging na hulle wou gaan. As die Korintiërs nou maar net op dié wyse sal meewerk aan die fondsinsameling…
Lees gerus die volgende artikel, wat Paulus se agste aansporing uiteensit.
Skrywer: Ds Dirk Venter