Die Groot Geloofswoordeboek: Proseliet

Die Groot Geloofswoordeboek: Proseliet

Proseliet

‘n Proseliet is ‘n bekeerling, maar die woord word meestal in ‘n ne­ga­tiewe sin gebruik as mense op onregmatige manier ander na hulle geloof probeer oorhaal. (*Sending)

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Profesie/Profeet/Vervulling van profesieë/beloftes

Die Groot Geloofswoordeboek: Profesie/Profeet/Vervulling van profesieë/beloftes

Profesie/Profeet Vervulling van profesieë/beloftes

Profesie/Profeet

Ou Testament

Daar is ‘n algemene misverstand oor wat die eint­like taak van ‘n profeet in die Ou Testament was. ‘n Profeet het nie in die eerste plek profesieë uitgespreek oor wat in die toekoms sou gebeur nie. Die hoofsaak van die profeet se taak was om te sê wat die wil van God daar en dan was. Dit het beteken dat die profete dikwels in spanning en selfs botsings met die volk en veral met die koning gekom het omdat dinge nie in ooreenstemming met die wil van God was nie. Dit het die beskuldiging na vore gebring dat hulle onheilsprofete was omdat hulle die oordele van God moes aankondig. En dit het die profete baie ongewild gemaak en dikwels selfs aan vervolging en lyding blootgestel en hulle lewe in groot spanning gebring. Je­remia is die klassieke voorbeeld. Hy het later selfs sy geboortedag vervloek (Jer 19-21). Ook Amos is vervolg oor sy negatiewe oordele oor die Noordryk (Am 7:10-17).

Maar profete het tog ook profesieë uitgespreek. Dit was mees­tal negatiewe profesieë oor die oordele wat die volk en die koning gaan tref as gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God. Die volk se sonde het dikwels met afgodediens in verband gestaan, maar Amos is die klassieke voorbeeld van ‘n profeet wat God se oor­deel aankondig oor sosiale onreg (oa Am 8:4-6). Die komende balling­skap, as die grootste oordeel wat Israel ooit getref het, was veral die tema van Jeremia se waarskuwende profesieë.

Daar was ook heilsprofesieë waarvan die *Messiaanse profe­sieë en die profesieë van die *dienaar van die Here die belangrikste is.

 

Nuwe Testament

In die tyd van die Nuwe Testament is daar ook nog profete. Dit word direk verbind aan die *gawes van die Gees, wat beteken dat pro­fete nie meer so uitsonderlik is soos in die Ou Testament nie, maar baie meer sou kon voorkom. Paulus alleen gebruik dan ook die begrippe “profeet”, “profeteer” en “profesie” omtrent 30 keer. In sy lyste van gawes kom profesie gereeld voor (1 Kor 12:7-11, 27-30), en hy prys die gawe van profesie sterk aan (1 Kor 14). Elders word die profete saam met die apostels genoem as die fondament waar­op die kerk gebou is (Ef 2:20). Die gawe van profesie word ook di­rek met die koms en werk van die Gees verbind (Hand 2:17-18), en tel­kens lees ons van profete en profesieë in die res van Handelinge (11:27 ev; 13:1; 15:32; 19:6; 21:9-10).

Dis ook in die Nuwe Testament duidelik dat profesie nie in die eerste plek oor toekomsgebeure gaan nie, maar oor die woord en wil van die Here hier en nou (14:3-5, 25). Daar is groepe Christene wat getuig dat dié gawe vandag nog voorkom.

Die 1983-vertaling het aanvanklik met ‘n baie ernstige fout uit­gekom, wat gelukkig gou in latere drukke reggemaak is. “Profe­sie” is vertaal met “om God se boodskap (wil) te verkon­dig” (veral in 1 Kor 12-14). Dit het die indruk geskep dat die verta­ling na die predikant/pastoor verwys, en nie na ‘n Geestesgawe nie. Daar is veral Pinkstergroepe wat tot vandag toe nog nie hierdie vertaling gebruik nie, en ons het hier een van die redes.

 

• Jesus as Profeet

Daar word dikwels in die Nuwe Testament na Jesus as ‘n pro­feet verwys (Matt 21:11, 46; Mark 6:15; Luk 7:16; 24:19; Hand 3:22 ev; 7:37). Daar is ‘n sin waarin ons Hom, tesame met Johannes die Doper, die laaste twee profete van die Ou Testament kan noem. Hulle was God se laaste oproep aan die volk om hulle te bekeer so­dat God hulle kan begin seën en daardeur die volke nader­trek na Je­rusalem (Jes 2:2-5; kyk ook Ps 102:22-23). Daarom begin beide hulle openbare optrede met die tipiese profetiese oproep van die Ou Testament: “Bekeer julle … ” (Matt 3:2; 4:17).

Daar is egter meer op die spel. Jesus was nie maar net nóg ‘n profeet nie. Hy was dié Profeet (Joh 6:14; 7:40). Die Jode het verwag dat daar ‘n buitengewone profeet sou kom (Joh 1:21, 25) wat deur Moses beloof is en na wie die hele volk moes luister (Deut 18:15-22). Soos soveel ander profesieë is ook hierdie pro­fesie in Jesus vervul. Hy was God se beslissende oproep aan Israel. Omdat hulle Hom verwerp het, het God hulle ook verwerp (Matt 21:43; 23:37 ev; Rom 11:15). (*Israel, *Jode)

 

Vervulling van profesieë/beloftes

Daar is mense wat oortuig is dat profesieë letterlik vervul word. Die *Dispensasionalisme maak ‘n groot saak daarvan. Dit werk egter nie so nie. Soms sal een of twee woorde of ‘n sinnetjie in ‘n profesie wel letterlik uitkom, soos die woord “Betlehem” in Miga 5:1, en “die Gees wat kom” (Joël 2:28), maar as ‘n mens die volle profesie ernstig opneem, lyk die vervulling altyd baie anders as wat ‘n mens uit die profesie sou kon aflei. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde.

Op die Pinksterdag sê Petrus dat die uitstorting van die Gees die vervulling van Joël 2:28-32 is. Hy haal dan ook die profesie in sy geheel aan (Hand 2:17-21). Maar as ‘n mens die besonderhede van Joël en die uitstorting van die Gees vergelyk, is daar baie be­son­derhede wat glad nie op die Pinksterdag vervul is nie. Daar was nie besondere te­kens in die lug, of bloed en vuur en rookwolke nie. Die son het nie pikdonker geword nie en die maan nie bloedrooi nie.

Wat wel vervul is, is dat die Gees uitgestort word en dat ge­lo­wiges profeteer. Selfs van gesigte en drome is daar min of geen te­ken nie. Die profesie is dus nie in kleiner besonderhede vervul nie. Net die groot saak waarom dit gegaan het, het waar geword: die Gees is uitgestort.

‘n Ander voorbeeld is Amos 9:11-12. Jakobus haal dit aan om die sending van Paulus te verduidelik (Hand 15:15-17). Maar van die profesie soos dit oorspronklik in Amos gestaan het, is om­trent niks letterlik vervul nie. Die vervalle hut van Dawid is nie her­stel nie, en Israel het nie ‘n besondere oorwinning oor Edom be­haal nie. In werklikheid haal Jakobus ander woorde aan as wat ons in Amos 9 het. Hy kry hierdie woorde in die *Septuagint, die Griekse vertaling van die Ou Testament wat nie baie nou­keu­rig gedoen is nie. Hierin is die laaste deel heeltemal veran­der van ‘n oorlogsteks na ‘n sendingteks (Hand 15:17). Ook hier kan dus nie gepraat word van die letterlike vervulling van die profesie nie.

Volgens Matteus 2:17-18 word Jeremia 31:15 vervul in die kin­der­moord van Herodes. As ‘n mens mooi na Jeremia 31 kyk, is dit ‘n baie langer profesie as net vers 15. Dit gaan voort in vers 16-17. Dit is ‘n profesie oor die ballingskap én die terugkeer na Jerusalem. En ons weet die profesie is in daardie tyd vervul. Ra­gel het vreeslik oor haar kinders gehuil, maar later, na die balling­skap, het hulle tog weer teruggekom. “Ragel” staan hier vir die moeders van Israel wie se jong seuns en dogters as slawe weg­ge­voer is Babel toe. Hulle kon dus ook weer terugkom ná die ballingskap.

Maar in Matteus is dit ‘n totaal verskillende situasie. Die “kin­ders” is nie jongmense wat weggevoer word nie, maar babas wat ver­moor word. Van die res van die profesie, die terugkeer, kan daar dus ook geen sprake wees nie. Ook hier is dit net een bepaalde punt in die profesie wat vervul word: die moeders wat huil oor hul “kinders”, maar wie die “kinders” is, verskil heeltemal.

‘n Mens kan profesie na profesie nagaan en vind dat ons hier ‘n reël het: profesieë word nie letterlik vervul nie. Gewoonlik is daar net een of twee sake in die profesie wat met die vervulling ooreenkom.

Wat beteken dit? Dat God vry is om ons in die vervulling van profesieë te verras. Dat die vervulling heel dikwels baie ryker is as die profesie self. Dat profesieë maar net riglyne is om God se pad die toekoms in aan te dui.

Dink net ‘n oomblik aan die eerste twee beloftes wat hier behan­del is. Wat sou vir die koninkryk van God beter gewees het: Nóg ‘n oorlog in die Nabye-Ooste waarin Israel die Edomie­te ver­nie­tig, en sommer ook al die ander nasies in die omgewing (Am 9:12), of Paulus se sendingreise waartydens “al die nasies die Here gesoek het”? (Hand 15:17) Wat sou die meeste vir die eer van God beteken het: Nóg ‘n keer die wêreld vol “bloed en vuur en rookwolke” (Joël 2:30, duidelik oorlogsimbole), of die koms van die Gees (Hand 2) wat harte oorwin en nie mense ver­nietig nie.

Die letterlike vervulling van profesieë sou ‘n armoede in ons toe­komsverwagting meegebring het. Profesieë gebruik beelde wat ontleen is aan die ervarings van die profeet. Dit beteken dat geen ver­vulling ooit meer sou kon wees as dit wat klaar in die profeet se ervarings aanwesig was nie. Dit sou net ‘n herhaling beteken het van die beste wat ons alreeds ken, en nooit iets ra­dikaal nuut en anders nie. Maar dit is juis wat ons verwag by die *wederkoms van Jesus.

Daar wag heerlike verrassings op ons as God finaal sy belof­tes/profesieë vervul, hoe noukeurig ‘n mens ook al die profesieë pro­beer uitlê. Niemand sou voor die gebeure in Handelinge 2 kon vermoed het dat hierdie profesie uit Joël só vervul sou word nie, nog minder Amos 9 volgens Handelinge 15!

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Postmodernisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Postmodernisme

Postmodernisme

Postmodernisme is die versamelnaam van ‘n aantal strominge in die Westerse wêreld sedert die laaste kwart van die vorige eeu. Dit is ‘n reaksie teen die sekerhede van die *Modernisme wat oortuig was dat net dit wat gemeet en geweeg en bewys kan word, geldig en waar is. Daar is nou by sekere groepe die oor­tuiging dat daar nie net een waarheid is nie, maar dat waarheid ‘n subjektiewe begrip is. Wat vir my waar is, hoef nie vir jou ook waar te wees nie. Dit raak natuurlik die evangelie direk, want as Jesus die waarheid is, en as Christene geroep is om alle mense na Jesus uit te nooi, is daar een waarheid vir alle mense. Daarom het mense met hierdie relativistie­se oortuigings ernstige probleme met Jesus se waarheidsaanspra­ke. Hulle besluit nou self vir wie dit geldig is.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Pinksterkerke/Charismatiese Kerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Pinksterkerke/Charismatiese Kerke

Pinksterkerke • Charismatiese kerke

Alhoewel hierdie twee groepe kerke baie in gemeen het, is daar ook duidelike verskille. Die eerste verskil is die tyd van ontstaan. “Pinkster” (soos die Pinksterkerke soms genoem word) het teen die begin van die vorige eeu in Amerika ontstaan, terwyl die Cha­ris­matiese beweging ‘n halfeeu later, in die laat 1950’s begin het.

Pinksterkerke

Die Pinksterbeweging het in die VSA ontstaan, aanvanklik in 1901 in Topeka, Kansas, onder die Metodistepredikant Par­ham, en daar­na in 1906 in Azusastraat in Los Angeles, Kalifornië, in ‘n ou Me­to­distekerkgebou, onder die leiding van ‘n heiligheidsprediker Wil­liam Seymor. Dit was van die begin af gekenmerk deur die *doop met die Gees en *spreek in tale, en ander *gawes van die Gees. (*Pink­sterspiritualiteit)

 

Charismatiese kerke

Die Charismatiese beweging het ook in die VSA begin in histo­riese kerke wat nie verband met die Pinksterbeweging gehad het nie. Dit is eweneens van die begin af gekenmerk deur die doop met die Heilige Gees, die spreek in tale en ander gawes. Anders as die Pinksterbeweging wat van die begin af aparte kerke gevorm het, het die Charismatiese beweging aanvanklik in die historiese kerke gebly en in baie gevalle ‘n groot invloed op hierdie kerke uitge­oe­fen. In Suid-Afrika het dit in die begin van die 1960’s in die Anglikaanse Kerk begin en vinnig na ander historie­se kerke uitgebrei. Die so­ge­naamde *”Afrikaanse kerke” het die sterkste weerstand gebied, en is ook die minste deur hierdie beweging beïnvloed.

Daar is groot ooreenkomste tussen hierdie kerkgroepe, maar ook duidelike verskille. Die een probleem is dat die Cha­ris­­ma­­tie­se be­weging so wyd vertak het en soveel gestaltes aan­ge­neem het, dat veralgemenings baie moeilik en soms selfs mis­leidend is. Daar het byvoorbeeld in die 1970’s onafhanklike Cha­rismatiese kerke ont­staan (die sogenaamde deno­mi­na­sione­le Charismatiese bewe­ging) wat onderling soms groot verskille openbaar, en ook heelte­mal weg­beweeg het van die Charismatiese groepe in die historiese ker­ke. (*Charismatiese spiritualiteit)

Wat ooreenkomste betref, aanvaar albei groepe die *Four Square Gospel: Jesus is die Verlosser, die Geneser, die Doper met die Gees en die komende Koning. Beide lê groot nadruk op ‘n persoon­li­ke be­keringservaring, die doop met die Gees, die ga­wes van die Gees, die persoonlike leiding van die Gees en *evan­ge­li­sa­sie.

Wat verskille betref, beskou die Charismatiese beweging nie so al­gemeen die spreek in tale as bewys van die Geesdoop nie. Dit word meer opsioneel beskou sodat iemand wel met die Gees ge­doop kan wees sonder om juis in tale te praat. Die onafhankli­ke ker­ke in die denominasionele Charismatiese beweging het nie sterk onder­linge bande met mekaar nie, en in Suid-Afrika is daar die losse groe­pe­ring van die ICCC, die International Council of Christian Churches. Dit is heel anders as die Pinksterbeweging wat hoofsaaklik in­gedeel is in die Apostoliese Geloofsending, die Volle Evangelie Kerk van God en die Assemblies of God.

Terwyl die Pinksterkerke in klein gemeentes georganiseer is en pastore vryelik oor en weer na gemeentes beroep word, het die de­no­minasionele Charismatiese beweging in makrogemeen­tes ontwikkel wat onder die gesag van een persoon staan; die stig­terpastoor wat onafskeidelik aan die gemeente verbonde is, en sonder meer die hoof, die hart en siel van die gemeente is.

 

Skrywer: Prof Adrio König