Die Groot Geloofswoordeboek: Piëtisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Piëtisme

Piëtisme

Die Piëtisme het in Duitsland in die *Lutherse Kerk ontstaan aan die begin van die agtiende eeu. Hulle het persoonlike bekering en ‘n lewe in heiligheid en toewyding beklemtoon teenoor die bloot formele aanvaarding van die leer van die kerk wat hulle as dooie ortodoksie bestempel het. Jakob Spener word as die vader van die Piëtisme beskou. Daar het baie groot sending-entoesiasme van hul­le uitgegaan na baie dele van die Derde Wêreld, insluitende Suid-Afrika. Daar is vandag ‘n groot Lutherse Kerk onder die swart be­vol­king in ons land.

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Pentateug/Heksateug

Die Groot Geloofswoordeboek: Pentateug/Heksateug

Pentateug • Heksateug

Die Pentateug is die eerste vyf boeke van die Bybel (Grieks: pen­te, wat vyf beteken) wat ook bekend staan as die wet (die Torah) of die vyf boeke van Moses. Tot in die tyd van Jesus was daar groepe soos die Sadduseërs wat net hierdie boeke as gesaghebbend er­ken het. Dit is die rede waarom die *Sadduseërs, anders as by­voorbeeld die *Fariseërs, nie geglo het daar sal ‘n opstanding wees nie. Daar staan niks van ‘n opstanding in die Pentateug nie.

Daar word nie vandag meer algemeen aanvaar dat Moses hier­die boeke geskryf het nie. Hy sou in elk geval waarskynlik nie sy eie dood beskryf het nie (Deut 34), en daar word nooit in die eer­ste persoon oor hom geskryf nie. Die feit dat daar in die Nuwe Tes­tament na hierdie boeke as die geskrifte van Moses verwys word (Mark 12:26), is nie deurslaggewend nie omdat die boeke in daardie tyd eenvoudig so genoem is.

Die moontlikheid is groot dat daar verskillende skrywers was wat aparte dokumente saamgestel het, en dat hierdie dokumen­te later saamgevoeg is. Daar is sprake van dokumente soos ‘n Jahwis, ‘n Deuteronomis en ‘n Priesterkodeks, maar daar is verskillen­de teo­rieë waaroor ‘n mens jou nie te veel hoef te bekommer nie.

Die Heksateug is dieselfde boeke met Josua daarby. Josua word bygevoeg omdat die intog in Kanaän daarin beskryf word en dit dan beskou word as die voltooiing van die belofte aan Abra­ham dat die Here die land aan sy nageslag sal gee.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Pelagius/ Pelagianisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Pelagius/ Pelagianisme

Pelagius • Pelagianisme

Pelagius is teen die helfte van die vierde eeu in Brittanje gebore. Hy was eintlik ‘n regsgeleerde, maar het nie sy beroep beoefen nie. Hy was ‘n baie ernstige Christen wat mense dringend tot be­kering opgeroep het. Hy het nie die kerklike leer oor die *erf­sonde aanvaar nie, maar geglo dat mense vandag nog net soos Adam gebore word, en nie onder die sonde van Adam ly nie. Al probleem is dat Adam vir sy nageslag ‘n slegte voorbeeld gestel het, en ons dit nog altyd vir ons kinders doen. Maar mense het ‘n vrye wil en hulle besluit self of en wanneer hulle sonde doen. Dit beteken ook dat dit nie nodig is om sonde te doen nie.

*Augustinus het teenoor Pelagius standpunt ingeneem en baie meer erns gemaak met die mag van die sonde waarvan ons baie by Paulus leer. Hy het ook aanvaar dat ons deur Adam se son­de onder die oordeel van God gekom het. Die kerk het uit­eind­e­lik die leer van Pelagius verwerp.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Pastorale Briewe

Die Groot Geloofswoordeboek: Pastorale Briewe

Pastorale Briewe

1 en 2 Timoteus en Titus word die Pastorale Briewe genoem om­dat dit soveel pastorale raad aan Timoteus en Titus gee oor hulle bediening in die gemeente. Dit verskil heeltemal van die ander briewe wat aan gemeentes gerig was en nie aan individue soos hierdie drie nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König