Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Hervorming

Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Hervorming

“Nuwe Hervorming” Jesusseminaar

Daar is ‘n groep teoloë in ons land wat hulleself die “Nuwe Her­vormers” noem. Hulle wil daarmee aandui hoe belangrik hul­le werk is, so belangrik soos dié van die Kerkhervormers in die sestiende eeu. Dink maar net aan Luther en Calvyn. Watter ge­wel­dige werk het hulle nie gedoen om sekere aspekte van die evan­gelie weer na vore te bring nie. (*Hervorming)

Die “Nuwe Hervormers” het skerp kritiek op die Bybel. Dit maak die naam “Hervormers” bietjie onvanpas. Die ware Her­vor­mers het die Bybel weer op tafel gesit en die kerk opgeroep om net die Bybel as maatstaf van ons geloof en lewe te aanvaar.

Die kritiek van hierdie teoloë is hoofsaaklik gemik teen twee fa­sette van die Bybel: die verskille wat daar in die Bybel is, veral tus­sen die Evangelies, en die bonatuurlike dinge in die Bybel. (*Be­troubaarheid van die Bybel, *Apokaliptiek, *Opstanding, *Kruis)

Wat die verskille tussen die Evangelies betref, is hulle oortuig dat dit so groot en ingrypend is dat ‘n mens eenvoudig moet aan­vaar dat elke Evangelis sy eie storie opgemaak het. (*Sinoptiese probleem) Hulle praat dan ook van Jesus en die dissipels as “ver­haal­karakters”. ‘n Evangelis het ‘n verhaal geskryf, en hy het Je­sus en die dissipels laat sê en doen wat in sy verhaal pas, ongeag wat hulle ooit regtig gesê en gedoen het. Hulle bedoel die woord “ver­haalkarakter” waarskynlik nie heeltemal letterlik soos Wolf en Jak­kals en Rooikappie nie, want volgens hulle eweknieë in die VSA, die Jesusseminaar, is darem omtrent 20% van die woorde en dade wat aan Jesus toegeskryf word wel histories betroubaar.

Daar is volgens hulle ‘n ander dokument wat ook ‘n Evangelie genoem word, die *Evangelie van Tomas, wat hulle baie meer help as die Evangelies in die Bybel om Jesus te verstaan.

Uit die bespreking van hierdie dokument (Evangelie van To­mas) word dit egter duidelik dat die Tomasevangelie geen “le­we” het nie. Dis ‘n dooie, starre dokument met geen historiese kon­teks of gedagte-ontwikkeling nie, net 114 uitsprake sonder enige verband, waarvan baie ook nog totaal onverstaanbaar is.

Waarom dan die entoesiasme oor die Evangelie van Tomas in die kringe van die Jesusseminaar en die “Nuwe Hervormers”? Die “Nuwe Hervormers” is nie entoesiasties oor wat in hierdie Evangelie staan nie (trouens, hulle gee ook nie in hul publikasies baie aandag daaraan nie), maar juis oor wat nie hierin staan nie: geen maagdeli­ke geboorte, wonderwerke, duiweluitdrywing, kruis, opstanding, hemelvaart, wederkoms van Jesus nie. Niks “bonatuurliks” nie. En dit is presies wat die “Nuwe Hervormers” wil hê.

Hulle is oortuig dat ons nie vandag meer in sulke bonatuur­li­ke dinge kan glo nie. Dis natuurlik ‘n ou gedagte. Sestig jaar gelede het Rudolf Bultmann al gesê ‘n mens kan nie elektriese lig en pe­ni­sil­lien gebruik (dit was toe die nuwe dinge) en nog glo in mites soos Jesus se opstanding nie. Jy moet die betekenis daarin soek en dan die mite los. Die betekenis van Jesus se opstanding is dat Hy in ons harte wil “opstaan”, dat Hy ons wil inspireer om ‘n nuwe lewe te lei. Die betekenis van sy kruis is iets soos dat dit wys hoe on­reg­verdig die samelewing is en hoe boos mense is, en ook dat die kruis ons oproep om simpatie te hê met mense wat ly. Die betekenis van Jesus se maagdelike geboorte is dat Hy ‘n besondere persoon is, maar nie een van hierdie mites is letterlik waar nie.

In hierdie lig is dit vreemd dat hierdie mense hulleself die “Nu­we Hervormers” noem. Hulle doen presies die teenoorgestel­de as die Hervormers wat juis die Bybel weer tot sy reg wou laat kom, wat vir die Katolieke Kerk wou sê die Bybel is belangri­ker as die tradisies wat hulle so aanhang. Die een motto van die Hervormers was: Net die Bybel. Die motto van die “Nuwe Hervormers” is iets soos: Nie die Bybel nie.

Miskien is die selfbesef effens oordrewe. Dit is niks meer as ‘n baie laat oplewing van die radikaal kritiese Duitse soektogte na die *historiese Jesus nie. Nie een van die soektogte het nog veel op­gelewer nie, maar wel baie af­ge­breek. Dit maak hulle die teendeel van die groot Kerk­her­vorming. (*Hervorming)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Aarde

Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Aarde

Nuwe aarde

(*Hemel, *Wederkoms)

Die verwagting van ‘n nuwe aarde kom ‘n paar keer in die Bybel voor (Jes 66:22 ev; 2 Pet 3:13; Op 21:1 ev). Daarmee saam kry ons die belofte van ‘n nuwe Jerusalem (Op 21:2 ev), wat ook al in Jesaja 65:18 ev veronderstel word.

In die Lutherse teologie is die gedagte dat hierdie ou aarde ver­nietig gaan word en dat die Here ‘n ander aarde in sy plek sal maak. Hulle beroep hulle daarvoor op 2 Petrus 3:10-11 waar ons twee keer lees dat alles sal verbrand en vergaan, en dat ons volgens God se be­lofte ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde ver­wag.

In die Gereformeerde teologie kry ons die gedagte dat die ou aarde nie vernietig sal word nie, maar nuut gemaak sal word, en wel deur ‘n radikale krisis heen. Die nuwe aarde sal dus dieselfde aar­de wees, net heeltemal nuut. Daar is nie soseer ‘n duidelike Skrif­verwysing waarop hierdie siening berus nie, maar eerder ‘n argument. As God die ou aarde heeltemal sou vernietig, sou dit beteken dat Hy ‘n neerlaag teen die duiwel gely het, dat Hy nie sy oorspronklike doel kon deurvoer om op hierdie aarde met mense in gemeenskap te leef nie, maar dit wat Hy gemaak het, moet vernie­tig en iets anders, ‘n ander aarde, in sy plek moet maak. Daarom meen Gereformeerdes dat die herskepping van die ou aarde juis die trou sal bevestig van God wat nie die werk van sy hande laat vaar nie (Ps 138:8).

‘n Verdere argument word gebou op ‘n vergelyking tussen die mens en die aarde. Ook mense is deur sonde aangetas, maar God vernietig nie ‘n mens en maak ‘n ander mens in sy of haar plek nie, Hy maak die sondaarmens nuut. Dit is dieselfde mens wat van die sonde vry gemaak en nuut gemaak is. Die term *wedergeboorte is veelseggend, en daar word ook van die wedergeboorte van die aarde gepraat, en dat alles nuut gemaak word, nie vernietig word nie (Matt 19:28, 1953-vertaling; Op 21:5). Die “vernietig” van 2 Petrus moet dan in hierdie lig verstaan word: ‘n radikale verandering en herskepping.

 

Herskep én oortref

Die breedvoerige voorstelling van die nuwe hemel, die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem teen die einde van Openbaring, het twee motiewe: herskep en oortref. Daar is duidelik ‘n herskeppingsmo­tief. Genesis 1 verwys na die hemel en die aarde, Openbaring 21-22 ook. Genesis 2 het ‘n rivier en bome, Openba­ring ook (22:1-2). Aan die begin is God by die mense, teen die einde ook. Aan die begin is daar nie trane, smart en dood nie, teen die einde ook nie (21:4).

Ook die oortreffingsmotief is duidelik. Uit Openbaring 21-22 is dit sonder meer duidelik dat daar ‘n lang geskiedenis verloop het sedert die begin. Daar is sprake van Israel en ‘n tempel en die nasies en konings en die apostels. Maar die opvallendste is die oorgang van ‘n tuin na ‘n stad, van die tuin van Eden na die nuwe Jerusalem. Hierdie blote feit sê baie. In die Bybelse tye was ‘n stad ‘n vesting van veiligheid teenoor die platteland wat baie onveilig was omdat mag daar geseëvier het.

En die oorvloed en luuksheid waarmee die eindstad be­skryf word, is vir daardie tyd eenvoudig oorweldigend. Die stads­muur se (twaalf!) fondamente is met edelstene versier, die twaalf poorte is elk­een uit ‘n pêrel gekap, die strate is van goud. Vir enige era is dit oorweldigend, wat nog vir die tyd toe die boek geskryf is! Dit is on­eindig meer as Genesis 2 se tuin. En die veiligheid: die stadspoorte word nooit eens gesluit nie ter­wyl gerubs en ‘n vlammende swaard die toegang tot die tuin versper het (Gen 3:24).

Die simboliek van die stad is net so ryk. Die name van die twaalf stamme van Israel staan op die poorte, en die twaalf apostels s’n op die fondamente. Dit beteken die totale Godsvolk van die Ou en die Nuwe Testament is daar verteenwoordig. Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, ‘n kubus. Dit is die simbool van vol­maaktheid. En onthou nou dat hierdie stad eintlik die bruid self is (21:2, 9 ev). Die volmaakte bruid op die nuwe aarde!

Dit is die wonderlike beskrywing van die heerlikheid wat God vir sy skepping en in besonder vir sy kinders voorberei. (*Ver­vulling van profesieë)

En die hemel? Gaan ons dan nie eendag hemel toe nie? Of kom die hemel dalk na ons toe? (*Hemel)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Nagmaal

Die Groot Geloofswoordeboek: Nagmaal

Nagmaal

In die nagmaal word die dood van die Here Jesus herdenk en ver­kondig totdat Hy weer kom (1 Kor 11:26). Volgens die *Sinop­tiese Evangelies (*Sinoptiese probleem) het die Here Jesus self die nagmaal ingestel tydens die Paasfees die aand voor Hy ge­kruisig is. Tydens die instelling het Hy eenvoudige maar heel ongewone woorde gebruik waaroor in die loop van die ge­skie­denis baie na­gedink is. Hy het die brood aan sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet, dit is my liggaam,” en die beker met die woorde: “Dit is my bloed” (Matt 26:26 ev). Die woorde is buitengewoon omdat Hy nog in lewende lywe voor hulle ge­staan het. Wat kon Hy bedoel het? Wat het Hy vir hulle gegee: brood en wyn, of sy liggaam en sy bloed? Daar word gesê dat dit die minste woorde is waaroor daar in die geskiedenis die meeste geskryf is.

‘n Paar vrae kom hieruit na vore. Hoe kon Jesus bedoel het dis letterlik sy liggaam en sy bloed? Maar as Hy bedoel het dit is net sim­bole van sy liggaam en sy bloed, moes Hy tog ‘n aanduiding daar­van gegee het. Die *Katolieke Kerk neig na die letterlike be­te­kenis: Hy het letterlik sy liggaam en sy bloed aan hulle gegee, en die Protestante neig na ‘n figuurlike, simboliese betekenis: die brood en die wyn staan vir of verwys na sy liggaam en sy bloed.

 

Eucharistie, die mis en transsubstansiasie

Die Katolieke gebruik in hierdie verband die woord “trans­sub­stansiasie”, en praat van die nagmaal as die Eucharistie of die Mis. “Transsubstansiasie” beteken letterlik dat die substansie of die materiaal verander. Die Katolieke Kerk gebruik dit vir die ver­an­dering van die brood en die wyn in die letterlike liggaam en bloed van Christus. Hulle is oortuig dat die brood wat Christus die aand aan sy dissipels gegee het, verander het in sy liggaam toe Hy die woorde uitgespreek het, en die wyn in sy bloed.

Die Katolieke aanvaar dat die priester vandag nog regtig en letterlik Jesus se liggaam en sy bloed aan die gemeente gee. Deur ‘n wonderwerk word die brood sy liggaam en die wyn sy bloed wanneer die priester die wydingswoorde uitspreek. As daar van die brood en die wyn oorbly na die nagmaal – of nee, dit is tegnies verkeerd, want dit is nie meer brood en wyn nie. Dus: as daar van Jesus se liggaam wat soos brood lyk na die nagmaal oorbly, en van sy bloed wat soos wyn lyk, moet dit op ‘n besondere manier en met die allergrootste eerbied bewaar word. Vir eeue lank het die priester ook net die brood aan die lidmate gegee. Hulle was bang van die wyn (die bloed van Jesus!) kan op die grond val.

Die Protestante dink nie so nie. In die meeste gevalle is daar min verleentheid as daar brood en wyn oorbly, al sal dit tog in sommi­ge gevalle met besondere respek behandel word. En tog is daar ook verskille binne die Protestantisme.

Die meeste Protestante sien niks meer as blote simboliek in die brood en die wyn nie. Ons hoor voortdurend net van die “tekens” van brood en wyn, waarby die predikant of pastoor eint­lik bedoel die brood en die wyn is (blote) tekens van die lig­gaam en die bloed van Christus. Die brood simboliseer, dit wil sê dit staan vir en verwys na die liggaam van Jesus.

Maar Calvyn het dit anders verstaan. Hy was oortuig dat ons inderdaad die liggaam en die bloed van Christus by die nagmaal eet en drink, maar anders as wat die Katolieke glo.  Calvyn het gesê ‘n mens het twee monde: die mond van jou maag en die mond van jou siel: jou geloof. As jy met die mond van jou maag die brood eet, neem jy deur jou geloof Jesus se liggaam in jou hart in. Dit beteken dat jy ook waarlik die Here Jesus in jou lewe opneem as die ware voedsel en drank.

‘n Mens moet onthou dat liggaam en bloed vir die hele persoon staan. Jesus het nie iets van Homself gegee nie, selfs nie baie van Homself nie. Hy het sonder meer Homself gegee. Sy opvallende woorde kon nie minder beteken het as dat Hy Homself aan sy dissipels gegee het nie.

Dit beteken dat, hoe ons dit ook al verstaan, ons in die nagmaal deel kry aan Jesus self in al sy volheid. Hierdie gemeenskap met Hom lê op ‘n ander vlak as om die evangelie te hoor. Dit werk op ander en meer sintuie sodat dit ‘n dieper en voller ervaring kan wees as om net na die evangelie te luister.

 

Kindernagmaal

Kindernagmaal is algemeen in die Katolieke Kerk, maar daar is baie verskille in die Protestantse kerke. In baie gevalle is die oortuiging dat iemand die evangelie eers goed moet verstaan, “want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself” (1 Kor 11:29).

Hierteenoor word gestel dat dit nie hier gaan om ‘n intellek­tuele vermoë nie, maar om eerbied vir die ander gemeentelede as deel van die liggaam van die Here. Die misbruik in Korinte was dat die rykes al die kos opgeëet het voor die armes kon kom omdat hulle as slawe laat moes werk. Paulus sien dit as ‘n miskenning van die feit dat ook die armes deel van die gemeente as die liggaam van die Here is. Dit beteken deur sonder liefde teenoor hulle op te tree, tree ‘n mens liefdeloos teenoor Jesus self op. Dit is die sonde; ‘n morele saak, nie ‘n intellektuele saak van “Is jy oud genoeg om genoeg van die evangelie te verstaan?” nie.

Mense wat die kindernagmaal aanvaar, wys ook daarop dat die doop in die Nuwe Testament toegang gegee het tot die nag­maal. As ‘n kerk gedooptes toegang tot die nagmaal weier, is die vraag dan of hulle die doop ernstig opneem. Dit geskied dikwels juis in kerke wat naas die grootdoop ook die kinderdoop bedien, en dan nie die kinders toelaat tot die nagmaal nie.

Wanneer kindernagmaal wel aanvaar word, is die vraag van watter ouderdom af. Waarskynlik is die suiwerste prosedure om kinders wat tuis saameet ook saam nagmaal te laat gebruik. Die nagmaal was in Paulus se sendinggemeentes ‘n ete om ‘n tafel in ‘n huis. Daar kan min twyfel wees dat die kinders saamgeëet het, en dus ook saam nagmaal gebruik het. Die nagmaal was waarskynlik ook nie so ‘n formele en afgemete gebruik wat begin het presies wanneer die wydingswoorde uitgespreek is en na een happie brood en een stukkie wyn klaar was nie. Dit was ‘n volle ete waarty­dens die lidmate hulle verhale met mekaar gedeel het, en saam gebid en gedank en geloof het op verskillende maniere (1 Kor 14:26 ev). Die hele gesin, en dus al die kinders wat kon saameet, was heel waarskynlik deel hiervan.

Die meeste historiese kerke het ‘n kinderonvriendelike nag­maalpraktyk. Dit is onrealisties om te dink kinders kan dit werklik beleef in ‘n formele liturgie. Selfs volwassenes moet ‘n sterk vergeestelikingsvermoë hê om met een stukkie droë brood en een slukkie soet wyn ‘n fees te beleef.

 

Kleingroepnagmaal

Die ideale plek om nag­maal te vier is dieselfde plek waar die vroeë Christene dit gedoen het: die huis- of *selgemeente van so vyftien mense (Hand 2:46; 1 Kor 11:17 ev). Rondom ‘n tafel kan daar regtig feesgevier word, mekaar se verhale gedeel word, vir mekaar en saam met mekaar gebid, gedank en geloof word. Daar is in terme van die Bybel geen rede waarom juis ‘n predikant, pastoor of priester die nagmaal moet instel of bedien nie.

Net soos in die geval van die beoefening van die *gawes, is die vlak van persoonlike gemeenskap in ‘n massabyeenkoms net een­voudig te laag om nagmaal of gawes tot hul reg te laat kom, al kan beide tog wel in ‘n beperkte mate sinvol wees in hierdie groot byeenkomste. (*Gawes)

Daar is maniere om die nagmaal te vier wat die persoonlike belewing kan versterk. In selgemeentes én groot byeenkomste kan twee persone langs mekaar die brood en die wyn oor en weer aan mekaar gee met woorde soos: Die liggaam/bloed van Jesus is vir jou ook gebreek/vergiet.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Onderdanigheid van die Vrou

Die Groot Geloofswoordeboek: Onderdanigheid van die Vrou

Onderdanigheid van die vrou

Die vrou se onderdanigheid het gedurende die laaste eeu ‘n al gro­ter diskussiepunt geword. Vroeër is dit byna sonder uit­son­dering as vanselfsprekend aanvaar. Die vroeë kerkvaders het selfs ‘n baie negatiewe siening van die vrou gehad wat veral verbind is aan die feit dat die Bybelverhaal die eerste sonde aan Eva toeskryf. Daar is selfs gesê dat die vrou “die poort na die hel is” omdat sy die mens­dom in sonde laat val het.

In die meeste kerke kon die vrou geen leiding neem voor die twintigste eeu nie. Selfs vandag nog mag sy geen amp beklee in die *Katolieke Kerk en ook in talle konserwatiewe Evangeliese en Gereformeerde Kerke nie.

Dit lei geen twyfel dat die vrou oor die algemeen “tweede” kom in die Bybel nie. Die Bybel is deur en deur ‘n manlike boek waarin al die sleutelfigure mans is: konings, profete, priesters, dis­si­pels. Ook Jesus was ‘n man, en selfs God word met manlike voornaamwoorde aangedui.

Daarteenoor is vrouens oor die algemeen as eiendom van die man beskou. ‘n Jong vrou het aan haar pa behoort totdat ‘n man haar by hom koop. Sy word dan ook boaan die lys van die man se besittings genoem (Eks 20:17). Dit was vir lank in die Weste so aanvaar. Ons sien dit nog in die gebruik dat die pa die bruid in die kerk inbring en dan aan die man oorhandig, al is die meeste mense nie meer van hierdie betekenis bewus nie.

Tot baie laat in die Nuwe Testament word die onderdanigheid van die vrou sterk beklemtoon. Die sterkste uitsprake kom voor in briewe van Paulus. Vrouens mag nie mans leer of gesag oor hulle uitoefen nie, hulle mag nie praat in die gemeentebyeenkom­ste nie, mag selfs nie eens vrae vra nie (1 Kor 14:34 ev; 1 Tim 2:8 ev; 1 Pet 3:1 ev).

Daar is nie baie groepe Christene – miskien selfs nie ‘n enkele groep nie – wat dit streng toepas nie. Selfs die konserwatiefste Evan­gelicals in Amerika laat vrouens toe om vrae te vra en selfs Son­dagskool te hou vir ‘n klas met seuntjies. Almal aanvaar dat ‘n ma vir haar seuntjie iets van die evangelie mag leer, selfs moet leer.

Dit beteken dat niemand hierdie uitsprake ten volle ernstig neem nie. Die vraag is natuurlik waarom, en waar trek ‘n groep die streep?

‘n Mens kan verder vra hoe ruim hierdie onderdanigheid moet geld: net in die huwelik, of ook in die kerk en verder ook in die samelewing?

Maar ‘n mens moet ook vra: Is hierdie on­der­da­nigheid deel van die evangelie of net van die kultuur van die Bybeltye? Hoe be­sluit ‘n mens daaroor? Die ant­woord is dat die evangelie altyd gel­dig is. As ‘n mens dus voorbeelde in die Bybel kan kry waar die on­der­da­nigheid van vrouens nie gegeld het nie, kan jy vermoed dat dit so is omdat die onderdanigheid nie deel van die evangelie is nie, maar van die destydse kultuur.

En daar is inderdaad sulke voorbeelde, tenminste in Genesis 1, Genesis 2, Hooglied, Galasiërs 3:28 en 1 Korintiërs 7.

Genesis 1

In Genesis 1 is daar geen sprake van die onderdanig­heid van die vrou teenoor die man nie. Hulle is albei op dieselfde wyse beeld van God, en albei kry presies dieselfde opdragte (Gen 1:26-30).

Genesis 2

In Genesis 2 is alles nie so maklik nie. Daar is sterk argumente dat die vrou hier inderdaad onder die man gestel word, maar daar is ook sterk argumente dat hulle ook hier gelyk is. Een van die proble­me is dat ons hier ‘n verhaal het en dat verhale natuurlik omtrent altyd op verskillende maniere verstaan kan word.

 

Volgens die een siening word die vrou hier ongetwyfeld onder die man gestel. Die man word eerste gemaak, en hy ontvang van God die opdragte. Die vrou word uit die man gemaak, en dit maak hom belangriker as sy. Verder gee hy aan die vrou ‘n naam (“vrou”), wat ‘n aanduiding van gesag is. En boonop is sy die man se “hel­per”, wat beteken dat sy sy mindere is. Uiteindelik is dit die vrou wat on­gehoorsaam is en dan die man verlei. En deel van haar sonde is die feit dat sy op haar eie met die slang in ge­sprek gegaan het en nie haar man se leiding ingeroep het nie. Dit beteken dat sy nie aan hom onderdanig was nie.

Vir baie Christene is dit die einde van die bespreking: dis duide­lik dat die vrou tweede moet kom. Die man is in ‘n gesagsposisie oor haar aangestel.

Maar daar is ook ‘n ander interpretasie. Dit word in Genesis 2 beklemtoon dat die vrou die man se gelyke is. Die Here het vir die mens ‘n hulp gemaak wat sy gelyke is (Gen 2:18, 20). Alhoewel dit in dié verband eintlik net beteken dat sy nie ‘n dier is nie, maar ‘n mens soos hy, beklemtoon die mens tog hierdie eendersheid in so ‘n mate dat dit beteken hulle is ook gelyk aan mekaar:

“Een uit myself.”

“Een soos ek.”

“Sy sal ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem” (2:23).

Hierdie drie sinne is belangrik. Die eerste twee beklemtoon die eendersheid van man en vrou. Die laaste sin ook, maar op ‘n be­son­dere wyse. Die Hebreeuse woord vir “vrou” is die vroulike vorm van die woord vir “man”. Al verskil tussen dié twee woorde is die vroulike uitgang wat aan die manlike woord gevoeg is. In die lig van die eerste twee sinnetjies beteken dit waarskynlik dat man en vrou presies dieselfde is behalwe dat die een ‘n manlike vorm van ‘n mens is en die ander een ‘n vroulike vorm.

Die argumente ten gunste van die vrou se onderdanigheid is nie sterk nie. “Helper” beteken nie noodwendig mindere nie. Trouens, God word self dikwels Israel se Helper genoem (Eks 18:4; Deut 33:7; Ps 20:3) en Hy is juis hulle meerdere. En verder gee die man nie hier in 2:23 aan die vrou ‘n naam nie, maar eers in 3:20. Dáár is dit inderdaad ‘n gesagsdaad, maar dit kom ná die sonde en die straf van God dat hy oor haar sal heers (3:16). Dit beteken dat die man se heerskappy deel van haar straf is en nie deel van haar skepping nie.

Die argumente teen haar onderdanigheid is dus sterker as dié ten gunste daarvan, en hierdie argumente word verder gesteun deur die feit dat die verhaal eindig met 2:24, wat as ‘n algemene stelling aanvaar dat die man sy ouers verlaat en met sy vrou saamleef, terwyl die kultuur van daardie tyd was dat die vrou haar ouers verlaat en by die man se familie intrek. Hier word die onderdanigheid van die vrou net soos in Genesis 1 deurbreek.

 

Dit bevestig dat vroue-onderdanigheid nie deel van die boodskap van die Bybel is nie.

Hooglied

In hierdie boek kry ons dieselfde situasie. Die rol wat die meisie speel, kan glad nie met vroue-onderdanigheid gerym word nie. Die meisie en die man tree as gelykes op. Trou­ens, eintlik kom die mei­sie sterker na vore as die man. Wat dié toedrag van sake nog merk­waardiger maak, is dat ons tra­disioneel aanvaar dat die man die magtige koning Salomo is en die meisie van die platteland kom waar sy in haar pa se wingerd werk. ‘n Plaasmeisie kommunikeer op gelyke vlak met die magtige koning!

As ‘n mens hulle verhouding ontleed, wissel die inisiatief voort­durend af. Die inisiatief van die meisie spreek uit woorde soos: “Die man wat ek liefhet, is myne, en ek is syne” (2:16; 6:3).

Daar is meer tekens van die belangrikheid van vrouens in hier­die lied. Sy noem haar broers “die seuns van my moeder” (1:6; 1953-vertaling) en nie van haar vader nie. Verder sê sy dat koning Salomo se moeder hom tydens sy huwelik gekroon het (3:11). En uiteindelik bring die bruid die bruidegom na haar moeder se huis (3:4; 8:2).

In Hooglied is die man en die meisie gelykwaardig. Hier is ook geen gefikseerde rolle van man en meisie nie. Hier is spontane we­dersydse liefdesvreugde. Dit is ‘n merkwaardige deurbreking van die oorheersende androsentriese kultuur waarin die Bybel ont­staan het, en ‘n verdere getuienis dat manlike oorheersing nie deel van die boodskap van die Bybel is nie.

 

Galasiërs 3:28

Hier lees ons: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een.”

Aanvanklik lyk dit of hierdie teks dalk net verwys na die ma­nier waarop mense salig word: almal, sonder uitsondering, word salig net deur geloof in Jesus Christus, en nie deur boonop die wet te onderhou nie. Dit is duidelik die probleem waar­mee Paulus in hierdie brief werk: dat die heidene wat tot geloof in Jesus kom nie ook nog besny moes word voor hulle gered kon word nie. Sy ge­volg­trekking is dus dat daar nie meer Jood of Griek is nie, dat dit nie meer saak maak of iemand ‘n Jood of ‘n Griek (heiden) is nie. “Almal is een” beteken almal word op dieselfde manier salig.

Dit klink alles heeltemal oortuigend. Die vraag is net waar­om hy “slaaf en vry” en “man en vrou” daarby voeg. Dit was mos nie deel van die probleem dat die Judaïste geleer het dat sla­we an­ders salig word as vry mense nie, of mans anders as vrouens nie. Dit word nog vreemder as ‘n mens agterkom die Grieks het nie “man of vrou” nie, maar “manlik en vroulik”. Dit is ‘n vreem­de uitdrukking wat ons eintlik elders net in Genesis 1:27 in die eerste skeppingsverhaal kry. En dáár was geen onder­skeid tus­sen man en vrou nie, albei was op dieselfde manier beeld van God en albei het dieselfde opdragte van God gekry.

Dit lyk dus of Paulus wil sê alle vorme van diskriminasie is uit onder gelowiges. Want op ander terreine is inderdaad vreeslik tussen slawe en vry mense gediskrimineer, en ook op ander terrei­ne tussen mans en vrouens. Hy wil dus sê alle vorme van diskrimina­sie moet uitgeroei word, nie net die verskil tussen Jode en Grieke oor hoe ‘n mens salig word nie. Dit kan seker nie anders as om ook die eensydige onderdanigheid van vrouens in te sluit nie.

 

1 Korintiërs 7:3-5

In hierdie paar verse kom die wederkerigheid van die huwe­liks­verhouding nog duideliker na vore.

1.            Elke man behoort sy eie vrou te hê, en elke vrou behoort haar eie man te hê.

2.            Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so moet die vrou ook haar huweliksplig teenoor haar man nakom.

3.            Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

4.            “Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met we­dersyd­se toestemming.”

In die kultuur van daardie tyd is dit ‘n skokkende we­der­ke­rig­heid. Wat sonder teenspraak as vanselfsprekend vir die man gegeld het, geld skielik net soseer vir die vrou. Dit was deel van die kultuur dat die man sy vrou besit het. Maar nou besit die vrou ook haar man! En natuurlik het die vrou nie oor haar liggaam ‘n sê gehad nie, sy was dan haar man se besitting. Maar nou het die man ook nie ‘n sê oor sy liggaam nie, want hy is nou sy vrou se besitting. Nou besluit die man nie meer alleen nie, man en vrou besluit saam. Ons kan geen idee vorm van hoe ‘n radikale ingryping dit was in die huwelikstruktuur van daardie tyd nie.

Wat ons hier het, is nie ‘n eensydige verhouding nie, maar ‘n we­derkerige verhouding; nie ‘n gefikseerde verhouding nie, maar ‘n oop verhouding; nie ‘n verhouding waarin die man oor­heers nie, maar een waarin albei op dieselfde manier inspraak het. Dis nie langer oorheersing en eensydige onderdanigheid nie, maar we­der­sydse inspraak en kameraadskap.

 

Efesiërs 5:21-32

Baie mense neem eenvoudig aan dat hierdie klassieke deel oor die huwelik duidelik is: die man is die hoof, die leier, sy woord is finaal, hy moet die inisiatief neem, en die vrou moet onderdanig wees, volg, luister, sy gesag en leiding aanvaar. Hoofskap en onderdanigheid. Wat kan duideliker wees?

As ‘n mens egter regtig die moeite doen om die deel deur te lees, sien jy gou dat daar baie meer in staan as die twee kort sin­netjies: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig,” en: “Die man is die hoof van die vrou” (5:22-23).

Die deel begin met ‘n algemene vermaning dat alle Christene aan mekaar onderdanig moet wees (5:21). Dit geld al ons verhou­dings, en natuurlik ook ons huwelik, want hierdie algemene vermaning is juis die inleiding tot die klassieke deel oor die huwelik wat direk hierna volg. Dit is trouens opvallend dat die skrywer juis met die huwelik begin ná hierdie algemene ver­maning tot onderlinge on­derdanigheid. Die vrou moet aan die man onderdanig wees, én die man aan die vrou. Ek moet bereid wees om vir jou terug te staan, én jy vir my.

Maar waarom dan direk daarna die opdrag spesifiek aan die vrou om aan die man onderdanig te wees? Kom ons kyk versigtig wat daar staan.

Die Grieks lees eintlik soos volg: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig, vrouens aan julle mans soos aan die Here.” Die werkwoord “wees onderdanig” word nie eens herhaal nie. Die vrou se onderdanigheid vloei dus voort uit die algemene on­derlinge onderdanigheid. Al wat vir die vrou bygevoeg word, is hoe haar onderdanigheid moet lyk: “soos aan die Here.” ‘n Mens kan net vermoed dat die apostel nie tevrede was met die soort on­der­danigheid wat die samelewing van haar verwag het nie: ‘n slaafse onderdanigheid. Die vrou was eintlik die man se besitting; hy het oor sy vrou beskik. Haar groot taak was om huis te hou en veral om vir hom ‘n nageslag te gee. Hy het die klok geslaan, en sy moes dans.

Hiermee neem die apostel nie genoeë nie. Terwyl hulle beide aan mekaar onderdanig moet wees, moet sy op ‘n ander manier aan hom onderdanig wees as wat die kultuur van haar verwag: “Soos aan die Here.” Wat beteken dit? Ons is nie slaafs aan die Here onderdanig nie. Dit is ‘n vrye besluit wat ons graag neem omdat dit ons juis gelukkig maak. Hy gee ons juis lewensruimte en die geleentheid om die *gawe wat die Gees ons gee ten volle te ontwikkel en te gebruik. Dit is natuurlik presies hoe die man ook aan sy vrou onderdanig moet wees. Paulus verwys net spe­sifiek na die vrou omdat sy alreeds onderdanig was, maar op ‘n verkeerde manier.

 

Die man se hoofskap

Om haar onderdanigheid verder te ver­­duidelik verwys hy na die man se hoofskap. Ook dit bind hy dadelik aan Christus: “Die man is die hoof van die vrou soos Christus die hoof is van die kerk” (v 23). Hoe is dit? Die gedeelte vervolg dat Christus die Verlosser-hoof is, nie die onderdrukker-hoof nie. Christus se hoofskap is ‘n bevrydende hoofskap wat lewensruimte skep. En as Paulus hom direk daarna spesifiek tot die mans rig, bind hy hulle nogeens dadelik aan Christus: hulle moet hul vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. Dis ‘n unieke soort hoof­skap! ‘n Hoof wat gee, wat tot die uiterste toe opoffer. Dit is eintlik hoof in aanhalingstekens: “hoof,” want van die ou soort hoofskap in die Griekse en Joodse wêreld bly daar net mooi niks oor nie. Van oorheers, van alleen die besluite neem, van gebied en sy moet spring, is geen teken nie, wel van opofferende diens tot die uiterste toe.

Efesiërs 5 is nie ‘n model van manlike oorheersing en vroue-on­derdanigheid nie. Dit is ‘n model van onderlinge onder­da­nigheid waarin die vrou se slaafse onderdanigheid omgekeer word in ‘n vry­willige keuse om haar man hoër te ag as haarself, net soos hy haar moet hoër ag as homself. Hiermee is die tradisionele baas­skap van die man omgekeer in ‘n radikale diensbereidheid soos Christus.

Daar is dus inderdaad vroue-onderdanigheid in die Bybel, maar dit gaan saam met mans se onderdanigheid: aan mekaar on­der­da­nig, nie met slaafse onderdanigheid nie, maar uit vrye keuse om­dat ons ander se belange hoër moet ag as ons eie.

Wat die kerk betref, is daar heelwat kerke wat tog aan die be­gin­sel vashou dat vrouens nie mans mag leer nie. Dit beteken vir hulle net dat hulle nie mag preek nie en ook nie in die regeeramp van ouderling mag dien nie. Maar daar is ander kerke wat meen dat ons hier te doen het met beginsels wat deur die kultuur van daardie tyd bepaal is. Dogters het nie saam met seuns skool toe gegaan nie sodat vrouens eenvoudig nie met mans kon saam­gesels nie. Selfs net as hulle in die gemeente sou vrae vra, sou dit ‘n verleentheid gewees het. Hulle mans kon tuis elke vraag beantwoord.

Maar dit is nie meer vandag so nie. Vandag gaan seuns en dogters saam skool en is vrouens tot net soveel in staat as mans. Daarom is daar geen rede waarom hulle nie dieselfde ver­ant­woordelikhede kan aanvaar nie. En dit geld eenvoudig die kerk én die samelewing.

 

Skrywer: Prof Adrio König