Die Groot Geloofswoordeboek: Vryheid
Vryheid
Vryheid is ’n gelade woord, of dit nou godsdiens is of politiek. Die woord “Liberalisme” is direk afgelei van vryheid (liberty). In ons politieke verlede was vryheid een van dié woorde. Die Afrikaners moes bevry word van die Engelse oorheersing, en toe hulle dit regkry, vergeet hulle hulle stryd en verkneg weer die mense van kleur. Toe kom die nuwe stryd om vryheid. Tot 1994. En daarna?
In die godsdiens is vryheid ook ’n sentrale woord. Dink maar net aan *godsdiensvryheid. Hoe kosbaar is dit nie dat ’n mens vry is om die godsdiens van jou keuse te beoefen nie. Dink maar aan ons verre voorouers wat in die tyd van die *Kerkhervorming verplig was om die Katolieke geloof te beoefen.
Wat is vryheid eintlik?
Daar was al onder die ou Grieke verskillende opvattings oor vryheid. Volgens sommige was jy net vry as jy nie onder ’n tiran gestaan het nie. Volgens ander was jy eers vry as jy oor jou drifte en hartstogte heers. Nog ’n derde groep het gemeen jy is net vry as jy vry is van die wêreldse dinge en bereid is om in afsondering en askese in die woestyn te leef.
In die vorige eeu was daar ’n groep wat hulleself die eksistensialiste genoem het. Hulle het ’n negatiewe betekenis aan vryheid geheg. Vryheid is ’n las. Omdat die mense vry is, is hulle ’n abnormale verskynsel in die res van die skepping wat streng wetmatig is. Dis ons vryheid wat ons ongelukkig maak en in ellende dompel.
Daar is ’n baie interessante verskil tussen die vryheid van die liberaliste en Bybelse vryheid. Volgens die liberale beskouing word mense vry gebore en dis net die sosiale en politieke sisteme wat ons vryheid inperk. Sodra alle sosiale beperkings en ongelykheid verdwyn, sal alle mense hulle aangebore vryheid uitleef en geniet.
Daarteenoor staan die Bybelse vryheidsbegrip. Ons is nie van nature vry nie. Ons moet vry gemaak word van die mag van die sonde. “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle waarlik vry wees” (Joh 8:36). En as ons hierdie vryheid geniet, kan ons ook in die tronk vry wees, soos Paulus en Silas (Hand 16:22 ev).
*Adam en Eva se vryheid
Die begrip “vryheid” speel altyd ’n belangrike rol in die manier waarop mense die eerste sonde verstaan. Die gedagte is gewoonlik dat Adam en Eva vry geskape was en daarom óók ongehoorsaam aan God kon wees. Dit beteken dat daar in die skepping, in die mens self, ’n duidelike verklaring is vir die sonde. ’n Mens kan maklik verstaan hoe dit moontlik was dat hulle kon sonde doen. Dit was eintlik in die struktuur van die skepping ingebou. Eintlik sou ’n mens ook kon sê dat God nie ’n keuse gehad het nie. As Hy mense wou hê wat Hom uit eie vrye keuse liefhet, moes Hy hulle so geskape het dat hulle ook vry was om Hom nie lief te hê nie. Liefde is net werklik liefde as dit vry en spontaan is. Daarom, so word verder beweer, het God hulle ook ’n keuse gegee: om Hom te gehoorsaam of nie. Dit word die “proefgebod” genoem. God wou sien hoe hulle hulle vryheid gaan gebruik. Hulle moes kies of hulle God gaan gehoorsaam en nie van die boom eet nie, en of hulle in ongehoorsaamheid wel gaan eet (Gen 2:15-17).
Maar dis tog ’n vraag of alles hier pluis is. Elders word beweer dat sonde wesenlik onbegryplik, onverstaanbaar is, en juis nêrens sinvol in die skepping inpas nie. (*Oorsprong van die sonde) Hoe is dit dat alles nou so maklik en duidelik en sinvol verklaar kan word oor die oorsprong van die sonde? Die moontlikheid om te sondig lê struktureel in die skepping ingebou.
Is dit regtig so? Kom ons kyk weer na Genesis 2. Gee God vir Adam ’n keuse? Of gebied Hy hom net een ding? Sê God: “Hier is jy op ’n kruispad. Kies watter pad jy gaan loop”?
Of sê God: “Hier is die pad. Dis die enigste pad. Loop daarop. Anders sterf jy”?
Was Adam vry om te kies? Of was daar geen keuse nie, net ’n bevel? Verder, het Adam sy vryheid gebruik toe hy teen God gekies het, of het hy juis sy vryheid verloor toe hy teen Hom gekies het? Werk ons hier met meer as een vryheidsbegrip?
Wat kry ons elders in die Bybel? Lees ons nie dat ons slawe van die sonde is en dat ons vry gemaak moet word sodat ons God in vryheid kan dien nie? (Rom 8:12 ev) En as ons in sonde val, verloor ons nie dan ons vryheid en word slawe van die sonde nie? Is dit nie wat met Adam gebeur het nie?
Formele en materiële vryheid
Kom ons onderskei tussen formele vryheid en materiële vryheid. Ons noem die een keusevryheid, iets wat ons het, maar wat diere nie het nie. Ons kan dit ook omgewingsvryheid noem, vry van jou omgewing om dit te verstaan, te ondersoek en te verander. Uit hierdie vryheid kom dan ’n kultuur, damme wat ons bou, paaie wat ons maak, fabrieke wat ons bou, om maar na een kant van die saak te kyk. Ons is nie ingehok in ons omgewing om maar net van geslag tot geslag instinktief daarin te probeer oorleef nie.
Maar materiële vryheid is iets anders. Dit is nie keusevryheid nie. Dit is vry van … en vry om te … In die Nuwe Testament is dit vry van die mag van die sonde, vry om God te dien. Is dit nie dalk die soort vryheid wat God aan Adam gegee het en wat hy toe verloor het toe hy teen God gekies het nie? En beteken dit nie dat ons in werklikheid glad nie kan verstaan hoe dit moontlik was dat hy dit gedoen het nie? Hoe is dit moontlik dat iemand wat vry van die mag van die sonde geskape is, vry om God lief te hê, besluit om aan God ongehoorsaam te wees?
Is dit nie die houding wat agter Jeremia 2 en Romeine 6 sit nie, om maar net twee gedeeltes in die Bybel te noem? Nie net Jeremia nie, maar God self vind dit onbegryplik en ongehoord dat Israel Hom vir afgode verwerp. En op die vraag of ons maar kan aanhou met sonde doen nadat God ons vry gemaak het van die sonde, reageer Paulus nie met: “Natuurlik nie, want ons mag nie,” maar met: “Natuurlik nie, want ons kan nie” (Rom 6:1-3).
’n Mens kan ook van ’n ander kant af daarna kyk. Ons is gemaak om God se *beeld en sy bondgenote te wees, om sy mense te wees wat in ’n verhouding van liefdesgehoorsaamheid met Hom leef. Ons is dus aan Hom gebind, en dit kragtens ons skepping, kragtens die soort wese wat ons is: gemaak as sy beeld.
Ons is vry om net aan Hom gebonde te wees. Tegelyk vry en gebonde. Dis die soort vryheid wat Hy ons gegee het. En daarom is sonde onbegryplik. Adam is vry van die mag van die sonde geskape. Hoe begryp ’n mens dan dat hy die sonde kies en aan God ongehoorsaam word? Die onbegryplikheid van die sonde lê struktureel ingebou in die skepping, presies die teenoorgestelde van waar ons netnou begin het.
Ons kry iets daarvan in Galasiërs 5:13: “Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.”
Kyk na die drie gekursiveerde woorde: vryheid, dien, liefde. Tegelyk vry en in diens! Presies die teenoorgestelde as die Grieke. Vry om lief te hê. Wat ook beteken: vry solank jy liefhet. Maar as jou liefde opdroog, droog jou vryheid ook op. Adam het nie sy vryheid gebruik om te sondig nie, hy het sy vryheid verloor toe hy gesondig het. As jy ophou liefhet, verloor jy jou vryheid.
Dit bring ons by die laaste belangrike saak. Het jy agtergekom dit gaan nie om die vryheid nie, maar om die liefde? Die vryheid is nie die groot saak nie, maar die liefde. Ons vryheid staan in diens van ons liefde. As ons ophou liefhet, verloor ons ons vryheid. Vryheid is die infrastruktuur vir die liefde. Vryheid is die gereedskap wat ons moet gebruik om lief te hê. En dit beteken dat ons gebonde is in ons vryheid. Dis nie keusevryheid sodat ek kan kies of ek wil liefhê of nie. Dis vryheid om lief te hê. Dis waarvoor God ons vry gemaak het van die mag van die sonde.
Waarom juis liefde? Omdat ons sy beeld is en Hy is liefde.
Skrywer: Prof Adrio König