Die Groot Geloofswoordeboek: Kruis dra/opneem

Die Groot Geloofswoordeboek: Kruis dra/opneem

Kruis dra/opneem

Jesus stel dit as ‘n eis dat die mense wat Hom wil volg:

•             hulself moet verloën

•             hul kruis moet opneem

•             agter Hom moet aankom (Mark 8:34 ev)

Hierdie “kruisdra” het niks daarmee te doen dat ons ons siekte of die algemene seer en lyding in ons lewe geduldig dra nie. Dit het te doen met die lyding wat mense ons aandoen omdat ons Jesus volg.

Dit is ‘n radikale uitspraak. Kom ons kyk eers na selfverloëning. Om iemand anders te verloën beteken om te ontken dat jy hom of haar ken. Ons sien dit in Petrus se reaksie op die diensmeisie se vraag of hy ‘n volgeling van Jesus is. Hy ontken dat hy Jesus ken, en sweer dit selfs later (Matt 26:69 ev). Om jouself te verloën moet dus iets beteken soos om jouself nie te ken nie, om jou behoeftes nie te erken nie.

Daarby kom dan om jou kruis te dra. Die Boodskap omskryf dit as: “Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken” (Mark 8:35). Mense wat gekruisig sou word, moes hul kruis self dra, soos Jesus. Dit be­teken as jy iemand sien wat ‘n kruis dra, het jy geweet daardie persoon is op pad om gekruisig te word. Nou eis Jesus dat ek my kruis moet dra! Dit beteken om my lewe veil te hê vir Hom.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Kreasionisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Kreasionisme

Kreasionisme

Kreasionisme is die leer dat die skepping plaasgevind het “pre­sies soos dit in die Bybel staan”. Die oortuiging is dan dat dit in die Bybel staan dat God die heelal omtrent 6 000 jaar gelede in ses dae net deur bevele (“deur die woord”) uit niks gemaak het.

Dit het ‘n hele paar implikasies. Eerstens kan daar nie van lang tydperke soos miljoene jare sprake wees nie omdat die ge­slags­re­gisters in die Bybel die indruk skep van niks meer as ‘n stuk of 6 000 jaar nie. Daar is wel die alternatiewe siening on­der sekere krea­sioniste dat die dae van Genesis 1 lang tydperke kan wees wat dan kan beteken dat die skepping inderdaad baie ouer as 6 000 jaar kan wees. Meestal word dit egter betwis.

Verder is elke spesie apart en voltooid geskep sodat daar wel oor die 6 000 jaar ontwikkeling binne ‘n spesie kon gewees het, maar geen oorgange van een soort ding of plant of dier na ‘n ander soort nie.

Die geweldige hoë ouderdom van die heelal volgens sekere na­tuurwetenskaplike waarnemings word op verskillende ma­niere han­teer. Sommige is oortuig dat die berekeningsmetodes foutief is. Ander meen daar het ‘n baie lang tydperk tussen Ge­nesis 1:1 en 1:2 verloop. Daar sou dan ‘n ouer skepping gewees het wat vergaan het sodat die aarde “woes en leeg” geword het. Die ou fossiele sou dan oorblyfsels van hierdie eerste skepping wees.

Daar is natuurlik ook nog die eenvoudiger feit dat daar sterre is waarvan ons die lig kan sien alhoewel hulle ‘n hele aantal lig­jare van die aarde af is. Hulle lig moes ‘n oneindig langer tydperk as ‘n paar duisend jaar getrek het om ons te bereik. Hulle lig kon onmoontlik in 6 000 jaar tot by ons op aarde getrek het. Een van die verklarings wat daarvoor aangebied word, is dat God die sterre so geskape het dat hulle lig al ver op pad was aarde toe en net 6 000 jaar nodig gehad het om ons te bereik. ‘n Ander voorstel werk met Einstein se relatiwiteitsteorie en meen dat tyd anders in die ruimte werk, en dat lig anders deur die ruimte trek as waarvan ons bewus is.

Enersyds is hierdie pogings om natuurwetenskaplike waar­nemings weg te redeneer opsigtelik problematies en onoor­tui­gend. En andersyds is dit nie so dat daar in die Bybel net een skeppingsvoorstelling is nie. Daar is verskillende voorstellings van hoe God alles gemaak het. Dit skep die indruk dat dit nie vir die Bybelskrywers gegaan het om ‘n presiese beskrywing van hoe alles geskape is nie, maar dat hulle eerder ‘n getuienis wou lewer van Wie alles geskape het. (*Skepping)

Dit is beter om die Bybel se skeppingsverhale in hierdie lig te lees. Dit is eenvoudig nie moontlik om die *wêreldbeeld wat ons in die Bybel kry vandag nog te aanvaar nie. Die aarde is nie plat nie en staan nie op fondamente nie. Die blou lug bokant ons is nie ‘n koepel waaraan die sterre as klein liggies hang nie. Daar is nie ven­sters in hierdie koepel wat oopgaan as dit reën nie. Die hemel is nie bokant die aarde en die hel onder die aarde nie. Daar is geen “bo” en “onder” in die heelal nie. En so kan ons aangaan.

Wie nog hierdie wêreldbeeld teen natuurwetenskaplike waar­ne­mings probeer verdedig, bring die evangelie in ver­leent­heid. Dit geld ongelukkig van die Kreasionisme ook. (*Evolusie)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God

Koninkryk van God • Satan/Duiwel Bose geeste/magteChaosmagte Eksorsisme (Duiweluitdrywing)

Eintlik lyk dit na ‘n vreemde samevoeging in een bespreking: die koninkryk van God en die duiwel! Maar daar is ‘n baie be­lang­rike verband tussen hierdie begrippe. Hulle staan presies teenoor mekaar. Daarom kan ‘n mens nie die een sonder die an­der verstaan nie. Die koninkryk van God kom juis wanneer Jesus die duiwels uitdryf. Daarom hierdie vreemde kombinasie van begrippe.

Teenoor die koninkryk van God staan die duiwel. Onder die “duiwel” sluit ons twee groepe wesens in: die chaosmagte waar­van ons eintlik net in die Ou Testament lees, en die duiwel/Satan en die bose magte waarvan ons min in die Ou Testament lees, en wat eintlik eers in die Nuwe Testament sterk na vore kom.

 

Chaosmagte

Die chaosmagte speel ‘n belangrike rol in die Ou Testament, veral in die vroeë geskiedenis. Dink maar net aan Rahab, Levia­tan, Behe­mot, die seemonsters (Ps 74:13-14; 89:11; Jes 51:9-10; Job 40:10 ev; 40:20 ev, waar “seekoei” ‘n vertaling van Behemot is, en “krokodil” van Leviatan). Seekoei en krokodil word as ver­teen­woor­digers van hierdie magte gesien omdat dit see­mon­sters was. Dit beteken dat ook die see self gesien is as ‘n bedreiging. Ons lees telkens dat God die see moes inperk agter grense of selfs tralies (Job 38:8-11; Ps 104:6-9).

‘n Mens kry die ongewone gedagte in die vroeë Ou Testament dat God alreeds by die skepping teen die chaosmonsters ge­veg en hulle oorwin het. In Genesis 1 is daar nog spore van hierdie oor­tuiging dat hierdie magte van die begin af God se skepping be­dreig het en dat Hy sy skepping teen hulle moes beveilig. Daar­om lees ons telkens dat Hy sy skepping teen bedreiging beskerm. Hy skei die duisternis van die lig, die nag van die dag, die water bo die firmament van die water onder, en die see van die land (Gen 1:4, 7, 9, 14, 17). So beskerm Hy die lig, die dag, die aarde en die land as die woonplek van die mense. Die duister­nis, die nag, die waters daarbo en die see is bedreigings. En dit is met hierdie dinge wat die chaosmonsters vereenselwig word.

Hierdie magte speel nie meer in die Nuwe Testament ‘n rol nie. Daar word skynbaar ook nie in die Bybel ‘n direkte verband tussen hulle en die duiwel gelê nie. Hulle word net hier saam met die duiwel behandel omdat hulle ook boos is en teenstanders van God is wat sy skepping bedreig.

 

Satan/Duiwel

In die Ou Testament kom die woord “dui­wel” net ‘n paar keer voor (Deut 32:17; Ps 106:37 waar ons van “veld­duiwels” lees) en speel nie enige noemenswaardige rol nie.

Die vroeë dele van die Ou Testament ken ook nie die woord “Sa­tan” nie. Die skrywer van Openbaring identifiseer wel die slang van die tuin van Eden met hom (Op 12:9), maar dit gebeur nog nie in die Ou Testament nie. “Satan” kom net drie keer in die Ou Tes­ta­ment voor (Job 1 en 2; Sag 3; 1 Kron 21:1). Anders as in die Nu­we Testament waar hy die verbete teenstander van God is wat die skepping en veral die mense probeer vernietig, is hy in die Ou Testa­ment ‘n onskuldige figuur. (*Toelating) Hy tree op as deel van die hemelse hofhouding wat in diens van God staan en sy bevele uitvoer. Hy het skynbaar die besondere funksie van ‘n soort publieke aanklaer wat mense dophou en kyk of hulle eer­lik is in hul diens aan die Here. Daarom kom rapporteer hy oor Job wanneer die engele voor die Here verskyn. Hy meen daar is bymotiewe by Job. Hy dink Job dien die Here net omdat die Here hom so seën. Die Here stem dan in dat hy Job op die proef stel, en hy voer die ooreenkoms wat hy en die Here bereik het, stiptelik uit, en later ook ‘n tweede keer (Job 1:6 ev; 2:1 ev).

Die implikasie is dat hy ‘n plek in die hemel het soos een van die engele, en dat hy sy werk getrou doen.

Hierdie rustige samewerking tussen die Here en Satan is ook die agtergrond van 1 Kronieke 21:1. Daar is baie geskryf oor die vreemde verskynsel dat ons in 2 Samuel 24:1 lees dat die Here Dawid aanhits om die volk te tel, maar in 1 Kronieke 21 dat Satan hom aanhits. Maar in die lig van wat ons in Job gekry het, is dit nie vreemd dat die Here en Satan saamwerk en dat die een skrywer kan sê dis die Here en die volgende een dis Satan nie. Die Here het Satan gebruik in sy diens.

Dit is natuurlik ‘n totaal ander prentjie as die een in die Nuwe Testament waar hy die verbete teenstander van God is wat Jesus probeer verlei, die mense se lewens verwoes en selfs die natuur probeer vernietig.

Die implikasie hiervan is dat daar iewers iets dramaties moes gebeur het wat die Satan se karakter totaal verander het van ‘n gehoorsame dienskneg van God tot sy verbete teenstander. Ons kry nie baie verwysings daarna in die Bybel nie, en veral Esegiël 26-28 handel nie daaroor nie. Dit gaan oor die stad Tirus en oor sy koning.

 

Satan uit die hemel gedryf

Daar is egter wel in die Nuwe Tes­tament twee verwysings. Wan­neer die dissipels terugkeer van ‘n sending waarop Jesus hulle gestuur het en triomfantelik vertel dat selfs die duiwels hulle aan hulle onderwerp, hoor ons uit Jesus se mond: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val” (Luk 10:18). ‘n Mens kan dit maklik in verband bring met sy posisie onder die engele soos ons dit in Job gekry het. Iewers in die verlede is hy dus uitgegooi uit die posisie wat hy onder die engele in die hemel gehad het.

Dit kom ooreen met die beskrywing van ‘n oorlog in die he­mel (Op 12), wat skynbaar ook lank tevore plaasgevind het. Die draak wil die kind verslind, maar die kind word deur God in be­sker­ming geneem. Dan kom die oorlog in die hemel waarin Mi­gael en sy engele die draak en sy engele verslaan. Hulle word uit die hemel op die aarde neergegooi. Uitdruklik word hier daarna verwys dat die draak/duiwel/Satan die gelowiges aanhoudend by God aan­gekla het. Net soos in Job gaan dit dus nog steeds om die Satan as aanklaer, maar die toon van hierdie uitspraak is anders as dié in Job. Dit is negatief, beskuldigend.

Hierdie verwysings laat duidelik deurkom dat die verhouding tussen die Here en Satan ná Job skeefgeloop het, dat hy in opstand gekom het en daarom uit die hemel uitgegooi is. En die gevolg is sy verbete stryd om die mense te vernietig gedurende die aardse bediening van Jesus. Trouens, hy probeer ook die natuur vernietig. Dis opvallend dat die woestyn sy blyplek is, dié deel van die aarde wat alreeds vernietig is. Jesus word ook deur die Gees die woestyn ingelei om deur Satan versoek te word (Matt 4:1 ev).

Uit Openbaring 12 is dit ook duidelik dat dit nie net om een wese, Satan, gaan nie, maar om engele saam met hom. Dit is die bose magte waarvan ons dikwels in die Evangelies lees.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God en Bose Magte

Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God en Bose Magte

Jesus se stryd teen die duiwel en hier­die bose magte, en veral sy oorwinning oor hulle, is dié voor­beeld van die koms van die ko­ninkryk van God. Geen ander faset van Jesus se aardse bediening word meer beklemtoon in die Evangelies as juis sy duiweluitdry­wing (eksorsisme) nie. En die betekenis wat Jesus daaraan heg, is nog belangriker as die blote feit dat dit gebeur het. Wanneer Jesus ‘n bose gees uit ‘n man dryf, verklaar Hy uitdruklik dat dit is hoe die koninkryk van God kom (Matt 12:28; Luk 11:20).

Daar word taamlik algemeen aanvaar dat die kern van Jesus se boodskap was dat die koninkryk van God naby is. Dit is ook sy “in­tree­preek”; dit is ook Johannes s’n (Matt 3:2; 4:17). Onder “koninkryk” kan ons “heerskappy” verstaan. Maar die feit dat Jesus aankondig dat God se heerskappy naby is, impliseer dat Hy nie op daardie stadium regeer het nie. Wat het dan met sy heerskappy gebeur?

Die Ou Testament is vol van die boodskap dat die Here ko­ning is, dat Hy oor alle volke koning is, dat alle volke voor Hom moet buig en dit inderdaad in die toekoms sal doen. Sy wêreldwye heer­skappy spreek alreeds uit die feit dat die Bybel nie met sy volk Israel begin nie, maar met die skepping van die hele wêreld. Dit plaas Hom dadelik in die unieke posisie van Skepper en Heerser oor almal en alles. Later beloof Hy aan Abraham dat alle volke in hom geseën sal wees, wat nogeens beteken dat sy gesag oor alle volke strek.

Dit is ‘n buitengewone gedagte vir daardie tyd omdat dit ‘n tyd was waarin elke volk sy eie god gehad het en gode binne se­kere grense gesag gehad het. Maar Israel was oortuig dat hulle God oor alle volke gesag het (Deut 32:8). God is koning oor die hele aarde (Ps 47:3, 8); daarom behoort alle volke aan Hom (Ps 87:4), moet alle volke Hom dien (Ps 72:11) en sal alle volke uit­eindelik na Jerusalem stroom om Hom daar te aanbid (Jes 2:2-5). Hy is selfs koning oor al die gode (Ps 95:3).

Met dit in gedagte is dit tog vreemd dat Johannes die Doper en Jesus albei aankondig dat die koninkryk (heerskappy) van God op hande is. Hy is dan koning. Alle volke behoort dan aan Hom. Waarom moet sy heerskappy nog kom?

Maar dan vergeet ons dat daar tussen die Ou en die Nuwe Tes­tament dinge gebeur het. Die apokaliptiese literatuur (*Apo­kaliptiek) het tydens en na die ballingskap na vore gekom met die oortuiging dat die bose magte op aarde oorgeneem het en be­sig is om die mense en die natuur te verwoes. Dit is in hierdie atmosfeer dat Jesus optree. Daarom is daar so dikwels sprake van bose magte in mense se lewens. Trouens, daar is geen ander faset van Jesus se aardse bediening wat soveel beklemtoon word as sy genesings deur eksorsisme nie. Dit beteken eenvoudig dat Hy die mensdom kom bevry het van die bose magte wat op aarde oorgeneem het en God se heerskappy verduister het. Jesus kom dan deur sy dui­weluitdrywing die heerskappy (koninkryk) van God herstel.

Hierdie perspektief is nie tot die Evangelies en tot Jesus se aard­se optrede beperk nie. Paulus interpreteer ook sy kruisiging en op­standing in hierdie terme. (*Versoening) God het deur die *kruis en *opstanding van Jesus die bose magte ontwapen en van hulle ‘n openbare spot gemaak (Kol 2:15). Deur die opstanding is Christus verhef hoog bo alle bose magte (Ef 1:21).

Dit beteken nie dat die duiwel en sy magte daarna geen invloed meer kon uitoefen nie.

In Handelinge gaan die apostels voort om wonderwerke te doen en bose magte uit mense te dryf (4:30; 5:12-16; 6:8; 16:16 ev). Hierdie stryd gaan voort. Die duiwel en sy magte bly gevaarlik. Die duiwel word voorgestel as ‘n honger leeu wat mense wil opvreet. Die ge­lowiges moet hom in die geloof teenstaan (1 Pet 5:8). Hulle het ‘n stryd wat nie teen mense is nie, maar teen die magte in die lug. Daarvoor het hulle die volle wapenrusting van God nodig om tot die einde toe sterk weerstand te kan bied (Ef 6:10 ev).

Dit beteken dat Jesus wel die duiwel oorwin het, maar dat hy nog nie vernietig is nie, en nog met sy verwoestingswerk in mense se lewens voortgaan. Maar Jesus se oorwinning beteken dat ons die duiwel in die Naam van Jesus kan teenstaan en oorwin. Sekere groepe Christene het nog altyd getuienisse van eksorsisme wat steeds voortgaan. Terwyl die duiwel nou reeds oorwin is, sal hy eers aan die einde volkome uitgeskakel word (Op 20:10). Só sal die koninkryk (heerskappy) van God in sy volheid aanbreek op die *nuwe aarde.

‘n Mens kan dus redeneer dat die koninkryk in ‘n sekere sin reeds gekom het, maar ook nog kom, en ook eers in die toekoms finaal sal kom. Maar ons kan ten ene male nie die koms van die koninkryk verstaan sonder die donker agtergrond van die duiwel en die bose magte nie.

 

Kan ons nog aan ‘n duiwel glo?

Dit maak die vraag na die dui­wel en die bose magte in ons dag baie belangrik. Kan ons regtig vandag nog aan dié vreemde fi­guur en sy trawante glo? Is die duiwel nie eenvoudig deel van ‘n verouderde wêreldbeskouing soos die drieverdieping-*wêreld­beeld nie?

Bepaalde voorstellings van die duiwel en die bose magte is se­kerlik nie meer sinvol nie. Maar oor die feit van ‘n bonatuurli­ke geestelike mag in baie vorme kan ons nie maklik twyfel nie. Dis ‘n byna universele godsdienstige oortuiging. En gedurende die af­gelope eeu het ons aaklige voorbeelde gehad van mense wat deur ideologie gedryf is tot wandade wat bomenslike proporsies aan­ge­neem het. Dink maar net aan Hitler, die Kommunisme en apart­heid. Is dit nie skrikwekkende voorbeelde van bomens­like magte wat mense in hul greep kry en tot absolute onmenslik­heid dryf nie? Is mense regtig uit hul eie tot sulke afgryslike wandade in staat? Mis­kien is dit na die twintigste eeu makliker as ooit tevore om te aanvaar dat daar bose magte is wat mense in hul greep kry.

Intussen is dit interessant om die wêreldbeeld en die duiwel met mekaar te vergelyk. Ons sien maklik af van die wêreldbeeld, maar ons hou vas aan die bestaan van die duiwel. Is dit konse­kwent? Waarom die een en nie die ander nie? Om twee redes. Eer­stens lê hulle op twee verskillende vlakke. Die wêreldbeeld lê op die vlak van die natuurwetenskappe, en hulle het kontroleer­bare bevindings wat die drieverdieping-wêreldbeeld ongeldig maak. Maar die bose magte werk nie op so ‘n vlak nie. Daar is nie sulke bevindings moontlik nie. Elke openbaring van die bose magte kan ook aan ander faktore toegeskryf word.

Tweedens hou die wêreldbeeld op geen manier verband met die hart van die evangelie nie. Ons verloor niks as ons dit prysgee nie. Dit het nie teologiese betekenis of verband met Jesus Christus nie. En dit is twee van die maatstawwe wat ons voorgestel het om te onderskei tussen dit wat wesenlik is in die Bybel, en dit wat randsake is. (*Gesag van die Bybel, *Kreasionisme) Daarteen­oor staan die bose magte in direkte verband met die hart van die evangelie, met Jesus se aardse optrede, die betekenis van sy kruis en opstanding, en die koms van die koninkryk wat die kern van sy boodskap is.

 

Skrywer: Prof Adrio König