Die Groot Geloofswoordeboek: Israel

Die Groot Geloofswoordeboek: Israel

Israel

Israel is die volk wat die Here uitverkies het om sy volk te wees. Hy sal hulle God wees wat vir hulle sorg, en hulle sy volk wat Hom dien. (*Verbond) Maar daar is misverstande moontlik. Israel was nie ‘n bestaan­de volk wat deur die Here gekies is en wat Hy sy volk gemaak het nie. Daar was glad nie so ‘n volk nie. Hy het Abraham en Sara wat uit die Ooste gekom het, uitgekies om uit hulle vir Hom ‘n nuwe volk voort te bring. En onthou, Hy het gewag tot dit menslik nie meer moontlik was vir hulle om ‘n kind te hê nie. Toe eers is Isak gebore. (*Hoop)

Dit beteken ‘n paar dinge. Soos God die wêreld uit niks geskep het, skep Hy as’t ware uit niks ‘n nuwe volk. Later sal Hy ook “niks” (geen lewe) uit die dood opwek. (*Opstanding)

Die beteken ook dat Israel nie ‘n eie bestaan gehad en daarna toe nog iets bygekry het, naamlik hulle verhouding met God nie. Hulle het net een bestaan gehad: hulle was die volk van God.

Omdat God nie die werk van sy hande laat vaar nie, beteken dit verder dat Hy met sy volk sal aanhou. Hy is geduldig. (Geduld by *God) Dit blyk duidelik uit die dekades, ja, eeue wat Hy volhard om Israel deur die profete tot bekering te roep. Selfs die vreeslike *ballingskap is nie om hulle te vernietig nie, maar om hulle tot besinning te probeer bring. Daarom bring Hy hulle terug en laat hulle oor begin. Die stad en die tempel word herbou.

Dit laat ‘n mens vermoed dat Hy ook tydens en ná die tyd van die Nuwe Testament met hulle sal aanhou. Israel word wel verwerp omdat hulle die *Messias verwerp het (Matt 21:43; Rom 11:15), maar dit beteken net dat hulle uit hul uitsonderingsposisie verwerp is, nie dat die deur van die heil vir hulle toegemaak is nie. As die evangelie na die heidene gaan, is dit juis om Israel jaloers te maak op die feit dat die heidene nou met hulle Messias wegloop, dat die kerk nou vol heidene sit terwyl God alles by Israel begin het. (Israel se toekoms onder *Tekens van die tye)

Hierby moet ons onthou dat die heidene wat tot geloof kom, nie ‘n nuwe volk van God vorm nie, maar op die Israel van die Ou Testament geënt word terwyl die ongelowige Jode takke is wat afgebreek word (Rom 11). Eintlik moet ‘n mens dus ná die dood van Jesus nie meer van die Jode as “Israel” praat as jy met “Israel” bedoel “die volk van God” nie. Die kerk is nou Israel (Gal 6:16), en die kerk bestaan uit alle gelowige Jode én heidene.

Daar is ‘n sin waarin presies dít natuurlik van die begin af die doel van God was. Israel moes die heidene jaloers maak op hulle God. As Israel aan Hom gehoorsaam was, sou Hy hulle só seën dat die heidene na Jerusalem sou stroom om te kom kyk. En só sou alle volke dan die Here in Jerusalem kom dien (Gen 12:3; Jes 2:2-5). Dan sou alle gelowige Jode en heidene saam Israel gevorm het. Deur Israel se ongehoorsaamheid het dit nooit voor die koms van Jesus gebeur nie. En, ironies genoeg, óók deur Israel se ongehoorsaam­heid gebeur dit nou ná die koms van Jesus dat heidene in groot getalle deel word van “Israel” (Rom 11:31).

‘n Mens kry iets van dieselfde beginsel in verband met Abra­ham. Hy word nie langs die pad vervang met ‘n ander voorvader van die gelowiges nie. Hy is die vader van alle gelowiges. Ons word nog altyd ingelyf in God se verbond met hom, want dis die verbond van die genade en die geloof (Rom 4:16). Gelukkig dat dié verbond nooit verander of vervang is nie. (*Abrahamverbond, *Doop)

Daar is dan ook nie in die Nuwe Testament ‘n ander toekoms vir die *Jode as om tot bekering te kom nie. En dit is ons taak as heiden-Christene om hulle jaloers te maak (Rom 11).

Doen jy iets daaraan?

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Inkarnasie

Die Groot Geloofswoordeboek: Inkarnasie

Inkarnasie

Dit kom van die Latynse woorde (in carnis) wat “in die vlees” beteken. Dit word gebruik vir Jesus. Die gedagte is dat Hy voor sy geboorte alreeds bestaan het as die ewige Seun van God, en toe ‘n mens geword het (“in die vlees gekom het”) deur uit Maria gebore te word. Hy is “geïnkarneer”. Dit het die gevolg dat Hy twee nature het, sy ewige *Goddelike natuur en ‘n *menslike natuur. (Christus se *twee nature) Dit is nie woorde wat ons in die Bybel kry nie. Die vroeë Christene het dit gebruik om te probeer verduidelik dat Hy op ‘n manier tegelyk Goddelik en menslik was.

 

Preëksistensie

Dit beteken dat Jesus ‘n preëksistensie gehad het – ‘n “voor­af­be­staan”. Tegnies is dit eintlik nie korrek om van “Jesus in die Ou Tes­tament” te praat nie. Hy is eers so ongeveer 4 nC as Maria se baba gebore, en toe het Hy die Naam Jesus gekry. Maar ons glo Hy het ‘n voorbestaan gehad, ‘n preëksistensie voor Hy die mens met die Naam Jesus geword het. Ons glo Hy was vooraf al die ewige Seun van God wat toe net uit Maria ‘n mens geword het. Sommige meen selfs dat Hy in die Ou Testament eintlik “die *Engel van die Here” was, maar daar is nie goeie gronde daarvoor nie.

 

Generasie, Spirasie

Die feit dat Jesus die ewige Seun van God genoem word, moet ook nie verwar word met sy geboorte uit Maria nie. Ons bely dat Hy van alle ewigheid af voortdurend uit die Vader uitgaan (ons praat van die ewige generasie – generation – of “uitgang” van die Seun uit die Vader, en die ewige spirasie – ook “uitgang” – van die Gees uit die Vader), maar die woorde beteken eintlik net ons weet nie mooi wat die verhouding Vader-Seun-Gees is nie. Ons dink wel die Vader is die Een wat altyd die inisiatief het, en die Seun en die Gees reageer op die Vader se inisiatiewe. (*Drie-eenheid)

Tog kan ‘n mens salig lewe én sterwe al verstaan jy nie al hierdie vreemde woorde nie.

 

SkrywerProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Hoop

Die Groot Geloofswoordeboek: Hoop

Hoop

  • Algemene hoop Christelike hoop

Daar is ‘n groot verskil tussen algemene hoop en Christelike hoop.

• Algemene hoop

Algemene hoop is maar ‘n brose ding. “Hoop vir die beste, die slegste kom vanself.” “Hoop in jou een hand en nies in jou ander hand, en kyk in watter hand het jy die meeste.” Ons sê selfs: “Dit help niks om te hoop jy is gered nie, weet jy dit?” Nogtans is hoop in ons gewone lewe baie belangrik. “Waar daar nog lewe is, is daar nog hoop.” “Hoop vergaan, alles vergaan.”

Die moeilikheid met algemene hoop is dat dit volkome van die omstandighede afhang of dit vervul word. Dit maak nie regtig saak hoe hard of hoe vurig jy hoop nie. Wat saak maak, is of daar omstandighede is wat die hoop gaan vervul. Dit maak nie saak hoe hard jy hoop dat dit sal reën nie, al wat saak maak, is hoe die lugstrome en lugdruk is.

Natuurlik is daar mense wat van nature meer optimisties is, en ander wat meer pessimisties is. Die een groep hoop baie vuriger en is baie meer opgewonde oor wat kan gebeur, die ander groep sit maar in ‘n gat en wag. Maar dit het alles weinig te doen met die vraag of die hoop vervul gaan word. Die grond van die algemene hoop is die omstandighede.

 

• Christelike hoop

Christelike hoop lyk egter heeltemal anders omdat dit ‘n ander grond en fondament het. Paulus skryf iewers “Die hoop be­skaam nie” (Rom 5:5). Nogal ‘n stelling! Maar anders as wat ek nou gedoen het, het hy nie agter sy sinnetjie ‘n punt gesit nie, maar ‘n komma. En dit verander alles radikaal. “Die hoop be­skaam nie, want God … ” Dit gee aan die hoop ‘n totaal ander grond en fon­dament. En dit maak al die verskil.

Die probleem met die hoop lê nie regtig in die hoop nie. Hoop op sigself is ‘n wonderlike ding. Staan ‘n bietjie een og­gend heelte­mal sonder hoop op. Jy sal glad nie opstaan nie! Hoop is ‘n vreeslike goeie ding. Dit gee lewenslus aan jou.

Die probleem is die vervulling van die hoop.

Maar die Christelike hoop het sekerheid. Dit het ook ‘n grond: God. En God is in staat om sy beloftes te vervul. (*God) Daarom sê He­breërs 11:1 ons kan seker wees van die dinge wat ons hoop. (*Mag)

Abraham

Die merkwaardigste voorbeeld van hoop in die hele Bybel is Abra­ham. Die 1953-vertaling het gelui: “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy die vader sou word van baie volke” soos God aan hom be­loof het (Rom 4:18). As sy hoop afhanklik was van die om­standig­he­de, was daar geen hoop nie.

Hy was lankal nie meer in staat om ‘n kind te verwek nie, en Sara ook nie. ‘n Mens sou kon dink hy het nog aanhou hoop net omdat hy dit nie mooi besef nie, maar ons lees: “Hy het goed besef dat sy liggaam al gedaan was” (Rom 4:19).

Maar hy het nog iets goed besef: “dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom 4:21). Dit was die een en enigste grond vir sy hoop, maar dit was genoeg.

Abraham lyk na ‘n ongelooflike “hoopheld” net soos ons ook “geloofshelde” kry. Maar is dit so?

Die geskiedenis in Genesis lyk heeltemal anders. Abraham kry die belofte van ‘n groot nageslag wanneer die Here hom roep (Gen 12:1-3). Omtrent vyf jaar later herhaal God net die belofte ter­wyl Abraham se jare onrusbarend aanstap na seker omtrent 80 toe. Abraham het in die vyf jaar wat intussen verby is, duidelik sterk voorbehoude oor dié belofte ontwikkel, en daarom gee hy vir God ‘n “bietjie goeie raad”: hy sal maar sy slaaf Eliëser as sy erfgenaam beskou. En die Here se reaksie? Nie veel nie, net ‘n herhaling van die belofte: Nie jou slaaf nie, jou kind (Gen 15:1-6).

Nog omtrent vyf jaar en Abraham en Sara “weet nou vir seker” dit kan nie meer werk nie. Van “hoop teen hoop” is daar nie eens ‘n teken nie (Gen 16:1 ev). Hulle besluit om vir God by wyse van spreke ‘n “handjie by te sit”: Abraham sal by Sara se slavin vir hulle ‘n kind verwek. Terloops, in daardie tyd was dit nie so ongewoon nie. Die slavin was hulle wettige eiendom.

Die einde van die smart van hierdie “handjie bysit” is vandag nog nie in sig nie. Die nasate van klein Ismael, Abraham se kind by die slavin, is die Arabiere, en hulle en die Jode is tot vandag toe in ‘n stryd gewikkel. Miskien is dit verstandiger om die vervulling van God se beloftes in sy eie hande te laat.

Interessant dat God Abraham hierdie episode nie verkwalik nie. Sou Hy besef hoe moeilik dit is om net op Hom te vertrou as die omstandighede al erger teen jou draai? Al wat Hy doen, is om nog ‘n keer te kom en die belofte te herhaal, hierdie keer met die “amptelike instelling” van die verbond (Gen 17:1 ev). Hierdie keer gaan dit nog erger met Abraham as ooit tevore. Ons onthou altyd so goed die skande dat Sara gelag het toe die Here die soveelste keer sy belofte herhaal (Gen 18:12). Maar net na die instelling van die verbond herhaal God weer sy belofte, en dan lag Abraham ook (17:17).

 

Verskriklik! Lag as God sy belofte herhaal!

Of is dit so verskriklik? Sou enigeen van ons anders ge­doen het? Abraham is omtrent 100, Sara 90. Hulle het die belof­te al ‘n kwarteeu gelede gekry. Intussen is al wat gebeur het, dat die belofte elke vyf jaar herhaal is, en verder dat die laaste sprankie hoop dat daar dalk nog iets kon gebeur, saam met die jare begrawe is. Sou jou hoop nog gehou het?

Maar dan verstaan ons tog glad nie Paulus se oorweldigen­de loflied op Abraham se “hoop teen hoop” nie. Het hy nie die ge­skiedenis geken nie? Het hy nie geweet van Genesis 15 én 16 én 17 én 18 nie?

Hy het. Hierdie Jode het hulle Bybels (Ou Testament) so goed geken dat hulle dit kon lees sonder die klinkers. Probeer gerus ‘n keer al die klinkers uit ‘n redelik onbekende psalm uithaal en die psalm dan lees!

Maar daar is nog ‘n paar dinge wat Paulus goed geken het: die genade van God en die kruis op Golgota. Hy het geweet God kan vergewe. As Abraham maar net “so hier en daar”, so effens geglo en gehoop het (Gen 15:6; 18:22-33), het God die skokkende twyfel en ongeloof vergewe en vergeet. En sedert Genesis se tyd het Jesus nog die groot offer ook gebring.

Dit is God se goedheid en vergifnis wat van Abraham die “hoop­held” van Romeine 4 maak. En van jou ook.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Historiese Jesus

Die Groot Geloofswoordeboek: Historiese Jesus

Uit die Duitse teologie kry ons die teenstelling: die historie­se Jesus en die verkondigde Christus. Onder “die historiese Je­sus” is be­doel Jesus soos Hy regtig was en geleef het, terwyl on­der “die verkondigde Christus” bedoel is die boodskap wat die vroeë Chris­tene oor Hom verkondig het. Daar is ‘n taamlik al­ge­­mene oortui­ging dat die vroeë Christene interpretasies aan die betekenis van Jesus gegee het wat nog nie gegeld het tydens Jesus se lewe nie. Veral deur sy opstanding is Hy verheerlik en het die apostels Hom as hierdie Verheerlikte verkondig, terwyl Hy tydens sy lewe misken en verag is.

Dit is byvoorbeeld interessant om die begin van die Evange­lie van Johannes te vergelyk met die ander drie. Matteus en Lu­kas be­gin met die geboortegeskiedenis van Jesus, die vervolging en vlug, die gewone offers in die tempel wat alle Jode moes bring, maar Johannes begin met die wonderlike gedig wat die heer­likheid van die Woord (wat in Jesus ‘n Mens geword het) van voor die skep­ping af besing, en selfs die gelykheid van die Woord aan God be­klemtoon (1:18). Só is Hy nie beleef tydens sy aardse bediening nie. Inteendeel, die Fariseërs kan Hom aanval en beledig. Hulle noem Hom selfs ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en son­daars, wat in hulle oë ‘n skande was (Luk 7:34).

Die verskil tussen die historiese Jesus en die verkondigde Chris­tus kom ook duidelik uit in Paulus se Briewe. Paulus verwys om­trent nooit na die aardse lewe van Jesus, sy *won­derwerke, sy le­ring, sy *gelykenisse nie. Vir Paulus is Hy nie die aardse Jesus nie, maar die gekruisigde en opgestane Here, die Verheerlikte. Daarom verkondig Paulus dinge oor Hom wat nooit ter sprake is in die Evangelies nie, byvoorbeeld dat Hy die doel van die skepping is, dat alles geskape is in beweging na Hom toe (“vir Hom geskep” – Kol 1:16), dat Hy die hele skepping met God versoen het (*Versoening), en dat God die hele skepping onder Hom as Hoof sal verenig (Ef 1:10; Kol 1:16, 20).

Daar hoef nie noodwendig spanning tussen hierdie twee te wees nie. Paulus leer Jesus eers ná die opstanding as die Ver­heerlikte ken, en daarom is dit nie vreemd dat dit by uitstek is hoe hy Hom verkondig nie.

Trouens, dis ‘n getuienis vir die *betroubaarheid van die Evan­gelies dat hierdie “hoë” dinge wat Paulus al dekades lank ver­kondig het toe die Evangelies eers teen 65 nC op skrif gestel is, nie in die Evangelies ingeskryf is nie.

Daar is egter teoloë wat ‘n hele kwessie daarvan maak dat die apostels, en veral Paulus, aan Jesus dinge toeskryf wat hulle self uit­gedink het. Hulle verkondig dus iets soos ‘n aangedikte Jesus, en dit word dan “die verkondigde Christus” genoem. Die apostels sou aan sy kruis ‘n heilswaarde toegeken het wat onaanvaarbaar is, en sy opstanding sou net ‘n geestelike saak gewees het. Hy sou in der waarheid net in die harte van sy dissipels “opgestaan” het, ter­wyl die apostels die idee van die leë graf uitgedink het. (*”Nuwe Her­vor­ming”, *Betroubaarheid van die Bybel)

Die wyse waarop hierdie sake deur hierdie teoloë behandel word, getuig nie van baie eerbied vir Jesus nie; trouens, selfs nie vir historiese dokumente nie. So ‘n spanning tussen Jesus soos Hy eint­lik op aarde geleef het en hoe Hy later verkondig is, doen ‘n onreg aan die Nuwe Testament. Die saak is breedvoerig behandel onder die *betroubaarheid van die Bybel en die *”Nuwe Hervorming”.

 

Skrywer: Prof Adrio König