Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (1)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (1)

Heilsweg

  • Bekering Geloof Geloofsekerheid Regverdiging (Vryspraak) Regverdigmaking Redding Vergifnis Verlossing Verlosser (Enigste Verlosser) Wedergeboorte (Nuwe lewe)

Oor die *heil self het ons elders nagedink. Dit is in die eerste plek gemeenskap met God. Die heilsweg is die wyse waarop ‘n son­daar deel kan kry aan die heil.

Hier volg eers ‘n algemene bespreking van ‘n paar probleme en daarna word die begrippe in alfabetiese volgorde behandel.

Wat kom eerste: wedergeboorte of bekering?

Daar is eeue oue verskil­le oor die vraag wat eerste moet gebeur: wedergeboorte of beke­ring. Dit het baie tonge en penne in be­we­ging gebring. Die Gere­formeerdes, wat die grootheid van God en sy inisiatief in ons saligheid beklemtoon, voel sterk dat dit alles by Hom begin. Omdat die wedergeboorte sy werk in ons is, moet dit eerste kom. Ons is immers van nature dood in ons sonde (Ef 2:1 ev), en daarom moet God ons eers nuwe lewe gee sodat ons op sy roepstem kan antwoord en ons bekeer. Sommige koppel dit selfs aan die *uitverkiesing. Daar is net sekere mense uitverkies en God gee net aan hulle die wedergeboorte sodat hulle hulle kan bekeer. Met hierdie siening voel die Gereformeerdes dat hulle die eer aan God gee. Ons word deur sy genade gered, nie deur ons goeie daad van bekering nie.

Hierteenoor is daar groepe wat sterker klem lê op ‘n mens se verantwoordelikheid. Dis gewoonlik die meer Evangeliesgesin­des (*Evangelicals) en die *Pinkster- en Charismatiese Christene. Hul­le is oortuig dat dit die mens se verantwoordelikheid is om tot be­kering te kom, en dat die Here jou dan ‘n nuwe lewe gee (weder­geboorte) sodat jy Hom kan dien. Hulle meen al die dringende be­ke­ringsoproepe in die Bybel sal sinloos wees as ‘n mens eers vir God moet wag om jou die wedergeboorte (nuwe lewe) te skenk voor jy jou bekeer. Hul­le meen ook dat daar nie by hierdie dringende bekeringsoproepe die gedagte is dat ‘n mens jou tog eintlik nie kan bekeer voor­dat daar eers van God se kant af iets meer gekom het as net die bekeringsoproepe nie. Hulle wil die inisiatief van God ten volle erken. Dis Hy wat sy Seun gegee het as ons losprys. Dis Hy wat die evangelie aan ons laat verkondig. Dis Hy wat sy Gees ge­gee het om ons deur ons gewete aan te spreek en te probeer beweeg om te luister. Maar dis ons wat op sy inisiatiewe moet reageer. Ons moet ons bekeer, dan gee Hy ons die nuwe lewe.

Beide kante het sterk argumente en goeie motiewe. Is dit nie dalk omdat albei reg is én albei verkeerd is nie? Is die verskil tussen hulle nie dalk ‘n vals probleemstelling nie? Moet ‘n mens nie die hele verhouding God-mens anders verstaan nie?

 

Baie begrippe – verkeerde probleemstelling?

Kom ons begin by die verskillende begrippe wat gebruik word vir die heilsweg, dit wil sê die wyse waarop ons deel kry aan die heil. Daar is nie net wedergeboorte en bekering nie. Daar is ‘n hele aantal, soos ver­los­sing, redding, vergifnis, berou, sondebelyde­nis, regver­di­ging, vryspraak, geloof, om Jesus aan te neem, om deur God as kind aangeneem te word, om uit God gebore te word, om met Chris­tus verenig te word, en nog meer. Waarom wil mense nou juis net wedergeboorte en bekering se volgorde bepaal? Moet ons dan nie die volgorde van die hele lys bepaal nie?

Die oomblik wat ‘n mens dit probeer doen, besef jy hier is iewers fout. Wat kom nou eerste, tweede, derde … en wat kom tiende? Kom geloof nou na vergifnis, en verlossing na regverdiging? Of is dit dalk omgekeerd?

Of maak sulke vrae glad nie sin nie? Ons glo dat ons deur die geloof geregverdig word. Beteken dit dat ons eers moet glo, en daarna geregverdig word? Moet ons dan eers iets doen (glo) voor God iets doen (ons regverdig verklaar)? En sê nou ‘n mens is al weergebore, maar jy het jou nog nie bekeer voor jy doodgaan nie? Gaan ‘n onbekeerde mens dan hemel toe?

Of werk die hele saak dalk anders? Het ons in hierdie verskil­len­de woorde verskillende ervarings wat die een na die ander plaasvind? Of het ons beskrywings van dieselfde saak in verskillende woorde en beelde, en van verskillende kante bekyk? Gaan dit nie dalk om die een sentrale saak dat ons deel kry in die heil, en beskryf die verskillende begrippe nie dalk net hierdie een saak met verskil­lende woorde van verskillende kante af nie?

 

God én mens

Trouens, kan ‘n mens nie dalk hierdie begrippe op ‘n manier indeel nie? Het die een helfte nie verband met dit wat God doen, en die ander helfte met ons verantwoordelikheid om in die heil te deel nie? Dink maar net aan wedergeboorte, regverdiging, vry­spraak, redding, verlossing, vergifnis, aanneming tot kinders. Staan dit nie alles in verband met God se werk in ons lewe nie? En die ander groep, soos bekering, berou, belydenis van sonde, geloof, om Jesus aan te neem, staan dit nie in verband met ons verantwoordelikheid om in die heil te deel nie?

En is dit so vreemd dat hierdie begrippe so maklik in juis hier­die twee groepe ingedeel kan word: God se inisiatiewe en die mens se verantwoordelikheid? Is dit nie presies hoe die *verbond werk nie? In die Bybel kry ons tog die volle nadruk op wat God doen én op wat ons verantwoordelikheid is.

Kom ons probeer. Ons aanvaar dat God én mens betrokke is by ons inskakeling in die heil, en dat dit een omvattende ervaring is wat soos ‘n groot diamant verskillende vlakke of kante het, soos wedergeboorte, bekering, vergifnis, ensovoorts. Elke begrip bekyk ons ervaring van die heil van ‘n ander kant af, maar volg nie op mekaar nie.

God se betrokkenheid

Kom ons kyk eers na God se betrokkenheid. Wedergeboorte beteken dat God ons as’t ware moet oormaak omdat ons eerste geboorte ons nie kinders van God gemaak het nie. Verlossing beteken dat ons in die wurggreep van die sondemag is en dat God ons daar­uit bevry of verlos. Regverdiging beteken dat ons onder die oor­deel van God staan en dat Hy ons uit genade vryspreek (regverdig verklaar) op grond van Christus se verdienste. Vergifnis beteken dat ons dinge verkeerd gedoen het en deur God kwytge­skeld moet word, weereens op grond van Jesus se werk in ons plek. En dit is tog nie elkeen ‘n ander daad van God wat die een op die ander volg nie. Dis tog seker net elkeen ‘n beskrywing uit verskillende gesigspunte van die een groot ingryping van God in ons lewe om ons deel te gee aan sy heil.

 

Ons verantwoordelikheid

En die ander lys? Is dit nie in dieselfde sin ‘n beskrywing uit ver­skillende gesigspunte van ons verantwoordelikheid nie? Om te glo beteken tog dat ons op God vertrou. Om ons sonde te bely is om te erken dat ons verkeerd gedoen het, om vergifnis vir ons sonde te vra op grond van Jesus se offer. Om Jesus aan te neem as ons Verlosser is eenvoudig nog ‘n keer geloof, vertroue op Hom as die Een wat ons saak by God reggemaak het en ons uit die mag van die duiwel en die dood bevry het. Ook hierdie begrippe bied dus net verskillende gesigspunte op ons toegang tot die heil, hierdie keer van die mens se kant af gesien.

‘n Mens kan dus die begrip heilsweg verkeerd verstaan asof dit ‘n lang treinspoor is met baie stasies waardeur ons lewenstrein een na die ander stoom. Maar dit is eerder die wyse waarop ons in die heil deel. Dit is so ‘n ryk ervaring dat die Bybel baie woorde gebruik om dit van verskillende kante af te verduidelik. Maar dit gaan om een saak.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsorde

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsorde

Die begrip “heilsorde” word soms in die plek van *heilsweg ge­bruik. Die gedagte is dan dat daar ‘n bepaalde volgorde is waarin ‘n mens aan die heil deel kry. Basies het die verskil gewoonlik ge­gaan oor die vraag of dit eers wedergeboorte en dan bekering is, of eers bekering en dan wedergeboorte. (*Heilsweg) Die vraag kan ook breër gestel word en meer elemente insluit, maar dan word dit gou duidelik dat die vraag waarskynlik verkeerd gestel is. Dink maar aan die volgende lys en probeer dit alles in volgorde plaas: wedergeboorte, bekering, geloof, regverdiging, redding, verlossing, sondevergifnis, sondebelydenis, aanname, kindskap, en daar is meer.

Daar is geen manier waarop hierdie begrippe een na die an­der sinvol in ‘n bepaalde volgorde geplaas kan word nie. Onder *heilsweg word die moontlikheid bespreek dat dit glad nie so­veel verskillende ervarings is wat een na die ander in ‘n mens se lewe voorkom nie, maar dieselfde ervaring wat van twee kante af met verskillende woorde beskryf word: van God se kant en van die mens se kant. Indien dit die geval is, kan die hele verskil oor wat eerste is, wedergeboorte of bekering, in ‘n ander lig gesien word.

 

SkrywerProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heiligmaking

Die Groot Geloofswoordeboek: Heiligmaking

Heiliging/Heiligmaking • Vereniging met Christus Krisisse

Wanneer die begrip *heilsweg bespreek word, word beklemtoon dat dit om een sentrale ervaring gaan en dat sake soos *weder­geboorte en *bekering nie verskillende ervarings is wat na mekaar volg nie. Dit is egter anders by heiligmaking. Die begrippe wat die heilsweg beskryf, dui almal op die begin of die manier waarop ‘n mens deel kry aan die heil. Maar die begrip heiligmaking dui op ‘n volgende fase. As kind van God het ‘n mens ‘n lewe voor jou om Hom te dien. Hierdie daaglikse lewe wil Hy deur die krag van die Heilige Gees nuut maak. Dit is heiligmaking.

Soos by regverdiging en *regverdigmaking, kan ons onder­skei tussen heiliging en heiligmaking. Heiliging is God se daad om ons af te sonder vir Hom, net soos regverdiging sy daad is om ons regverdig te verklaar. Heiligmaking is ‘n voortgang of ont­wikkeling in ons lewe in verhouding met die Here waarin ons al meer die sonde afsterf en ons lewe al meer aan Hom toewy.

Daar is verbande tussen heiligmaking, regverdigmaking en voortgaande *bekering. In beginsel het al drie te doen met die ver­andering van ons lewe om in gehoorsaamheid aan God Hom en ons naaste in liefde te dien.

 

Heiliging

Kom ons kyk eers na heiliging. Dit is opvallend dat die ge­meen­telede in die Nuwe Testament “heiliges” genoem word ook al is daar opvallende en ergerlike sondes in hul lewe. In nu­wer vertalings is dit nie meer so duidelik nie omdat aller­lei verduidelikings van begrippe gegee word. Maar ouer verta­lings dui daarop dat dit ‘n staande gebruik was. Die gemeente in Korinte, waar daar sondes voorgekom het waarvan Paulus skryf dat ‘n mens dit nie eens on­der heidene kry nie, word aange­spreek as “geheiligdes in Christus Jesus”, “geroepe heiliges” (1 Kor 1:2, 1953-vertaling). Lees gerus die groet aan die begin van byna elke brief.

Die spesifieke uitdrukking “geheiligdes in Christus Jesus” is belangrik. Die “in” beteken iets soos: “omdat julle verbonde is aan.” Ons verbondenheid aan Christus beteken iets. Ons lees el­ders in Korintiërs van Christus Jesus: “Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor 1:30). Hy is dus ons vryspraak en Hy is ook ons heiliging. Dit beteken God spreek ons vry (regverdiging) en verklaar ons heilig op grond van wat Christus gedoen het. Daarom is ons vry voor God, én is ons heilig. Heilig beteken hier: afgesonder vir God eenkant gesit om volkome aan Hom te behoort, om volkome tot sy beskikking te wees.

Dit het nie betrekking op die etiese kwaliteit van ons lewe nie, maar op ons posisie, ons status, op die doel wat God met ons het. In ons heiligmaking moet dit verwerklik word wanneer ons lewe al meer verander word om aan God en Christus s’n te herinner. (*Beeld van God)

Dit is eers as ons by heiligmaking kom dat dit regtig ‘n nuwe fase in die heilsweg is. Nou gaan dit om die werklike verandering van ons lewe. Om hierdie verandering te verstaan moet ons eers kyk wat ons vereniging met Christus beteken.

 

Heiligmaking

Ons heiligmaking is ons deelname aan Chris­tus se lewe. In die mate waarin ons daarin slaag om met ons ou lewe in diens van die sonde op te hou (wat ons kan doen omdat ons deel in Christus se dood vir die sonde) en ons lewe saam met Christus te leef, in die mate hou ons op met die sonde en leef ons volkome vir Hom (Rom 6).

Vir Paulus is dit een van die vreemdste dinge in ons lewe as ge­lowiges, dat ons so sukkel om met ons ou lewe op te hou en ons nu­we lewe saam met Christus voluit te leef. Daar is ‘n sin waarin dit onlogies en onverstaanbaar is. Ons is dood vir die sonde (Rom 6), maar ons leef nog daarin. Ons lewe vir God saam met Christus (Rom 6:11), maar ons is steeds traag om God te dien.  Dit is deel van die onverstaanbaarheid van die *sonde wat in beginsel onverstaanbaar is en nie net moeilik is om te verstaan nie.

Tog is daar ‘n paar ligpunte. Die eerste is dat dit nie ons is wat onsself moet doodmaak vir die sonde nie. Dis ‘n gawe wat ons by die doop en deur die geloof ontvang. Ons moet net leer om in ter­me daarvan te leef. Dieselfde geld van ons opstanding saam met Christus en ons aandeel aan sy oorwinningslewe oor die sonde. Daar is iets daarin dat ons ons daarin moet inoefen om aan sy lewe deel te neem, om daagliks sy lewe te leef en nie ons eie nie. Dis goed om dikwels daaraan te dink dat jou doop jou begrafnis was, of liewer jou deelname aan sy begrafnis, en ook dat jou doop jou opstanding was, of liewer jou deelname aan sy opstanding. Gaan elke dag met dié geloofswaarheid binne en oefen hierdie soort lewe.

Die tweede ligpunt is die *Heilige Gees. Ons lees veral in Galasiërs van die *vrug van die Gees in ons lewe (5:22-23). Dis ‘n wonderlike versameling deugde: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, self­be­heersing. Dis is nie die vrugte van die Gees (meervoud) nie, maar die vrug van die Gees. Die gedagte is dat dit ‘n eenheid is wat ons as geheel ontvang. Elke mens kry nie een vruggie soos elkeen een gawe kry om die ander mee te bedien nie. Die vrug kom as ‘n eenheid in elke mens se lewe voor. Of is dit? In wie se lewe?

Is dit nie ‘n wonderlike beskrywing van Jesus se lewe nie? Lees weer die lys deur.

Wat beteken dit? Onthou, dis nie die vrug wat jy moet dra nie. Dis die vrug van die Gees, die vrug wat die Gees dra. Nuwer vertalings laat mooi uitkom dat dit inderdaad die bedoeling is wat Paulus met “vrug” het. Een vertaling lui: “die vrug wat die Gees laat groei,” en ‘n ander: “die vrug wat die Gees voortbring.”

Waar groei hierdie vrug? In jou lewe. Dit beteken jou inoefening om nie jou eie lewe te leef nie, maar om jou deelname aan Christus se lewe te leef, is nie jou pogings nie, maar jou oorgawe aan die Heilige Gees. Op die ou end is dít heiligmaking: die Gees wat ons leer om ons lewe te leef as ons aandeel aan Christus se opstandingslewe. Wat sou *vervulling met die Gees anders kon beteken?

 

Vereniging met Christus

Dit is ‘n begrip wat ons nie dikwels gebruik nie. Behalwe ‘n enkele keer by Johannes (Joh 15) kom dit net by Paulus voor, en by hom kom dit in verskillende vorme en male sonder tal voor. Hy gebruik sowel “in Christus” as “saam met Christus”. En dan is daar ook nog die beeld dat gelowiges lede is van die liggaam van Christus. Dit is eintlik naas *regverdiging sy geliefde terme.

Deur die *doop en die *geloof word ons op ‘n merkwaardige manier met Christus verenig. Ons word saam met Christus ge­krui­sig, saam met Hom begrawe en opgewek, sit saam met Hom in die hemel en sal weer saam met Hom kom by sy wederkoms (Rom 6; Ef 2:4-8; Kol 2-3:4). Paulus dink baie realisties daaroor. Dit hou verband met sy gedagte dat die gelowiges die liggaam van Christus is, en elke lid ‘n ledemaat van dié liggaam. Dit beteken dat elkeen op ‘n manier deel het aan alles wat Christus beleef het en nog beleef.

Daar is ook ‘n interessante wederkerigheid in hierdie ver­hou­ding. Ons is in Christus én Hy is in ons (Rom 8:1, 9-11; Gal 2:19-20). Dit is inderdaad ‘n tipiese manier om ‘n baie naby ver­houding uit te druk. Ons ken dit self. Ek sal sê my vrou het vandag diep in my hart ingekruip met wat sy gedoen het. Ons sê ook ek het my hart vir Jesus oopgemaak, en nou is Hy in my hart. Ons bedoel niks meer as ‘n baie naby liefdesverhouding nie.

Maar dit is ook meer. ‘n Mens kom nie daarvan weg dat Pau­lus iets van ‘n werklike vereniging tussen Christus en ons beleef het nie. Sy liggaamgedagte is baie realisties. Die verhouding Christus-gelowiges is nie net soos ‘n liggaam nie, ons is sy lig­gaam. Hoe ‘n mens dit dus ook al moet verstaan, ons deel reg­tig in sy kruis (sodat ons regtig kan ophou met ons sonde) en in sy opstanding (sodat ons ons lewe volkome aan Hom kan wy). En dit is presies die punt van waar ons kan begin om oor heilig­making te dink. (*Perfeksio­nis­me)

 

Krisisse

Daar is heelwat Christene wat sterk voel oor sekere krisiserva­rings wat noodsaaklik is in ons lewe. Bo en behalwe die geloof in Jesus, moet daar allerlei ander dinge kom, soos *algehele oor­gawe, *doop met die Heilige Gees, *vervulling met die Heilige Gees, *tweede ge­nadewerk. Dit is inderdaad nodig dat Christene van tyd tot tyd nuwe ervarings met Christus deur die Gees het. ‘n Verhouding moet nuwe ervarings en nuwe hoogtepunte kry. Daar is baie ruimte vir groei in die geloofslewe. Maar dis nie duidelik dat daar een enkele ervaring is wat alle Christene moet hê nie. ‘n Mens se ervarings met die Here sal ook saamhang met jou persoonlikheid. Elke mens loop iets van ‘n eie pad met die Here. En verder sal die tipe ervaring, en die interpretasie wat jy daaraan gee, sterk beïnvloed word deur die groep waarvan jy deel is. Dis nie onmoontlik dat twee groepe presies dieselfde ervaring het, maar dit verskillende name noem nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Halleluja

Die Groot Geloofswoordeboek: Halleluja

Dit is, net soos “amen”, ‘n Hebreeuse woord wat nie vertaal is nie, maar net in ons letters oorgeskryf is. Dit kom van twee woorde af. Die “hallelu” is ‘n werkwoord wat ‘n oproep is om te loof/prys/ver­heerlik, en die “ja” is ‘n verkorte vorm van Jahwe, die *Naam van God wat gewoonlik met *”Here” vertaal is. Halleluja beteken dus iets soos: “Laat ons die Here prys/loof.”

 

SkrywerProf Adrio König