Die Groot Geloofswoordeboek: Heilig

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilig

Heilig

Hierdie woord word in verskillende betekenisse gebruik. God is heilig, en dit beteken dat Hy anders is as die sondaarmens, dat Hy ander waardes het en anders optree. Dat Hy heilig is, kan beteken dat Hy soos ‘n vuur die sonde verteer (Heb 10:26-31), maar ook dat Hy dit nie oor sy hart kan kry om die volk hulle verdiende loon te gee en hulle te verwerp nie (Hos 11:8-9). Om­dat God heilig is, word ons ook opgeroep om heilig te wees (1 Pet 1:15-16). Hierdie heiligheid beteken ook om anders te wees, volgens ‘n ander waardestelsel as die ongelowiges te leef. (*Beeld van God)

 

Verder kan heilig “afgesonder, opsy gesit” beteken. Die tem­pel was heilig, die altaar en die voorwerpe rondom die altaar was hei­lig. Dit beteken dat dit volkome aan die diens van God gewy was. Sagaria verwys na die groot dag van die Here wat kom. Daar­die dag sal selfs die klokkies aan die perde se tuie “heilig” wees (1953-vertaling), of “gewy wees aan die Here” (1983-vertaling). In hierdie sin is die gemeente en die gelowiges heilig, al is hulle nog nie vry van sonde nie. Die gemeente word in die Briewe “heiliges” genoem (1953-vertaling) of dié wat “vir God afgesonder is” (1983-ver­taling). Dit geld selfs van gemeentes waarin daar aanstootlike sondes voorgekom het (1 Kor 1:2; 5:1 ev). Dit was dus nie bedoel as “sedelik volmaak” nie, maar “vir die Here opsy gesit”.

Maar juis daarom moet gelowiges ook “heilig” lewe, en dan het heilig ‘n sedelike betekenis van “sonder sonde”. (*Heiligmaking, *Perfeksionisme)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heil

Die Groot Geloofswoordeboek: Heil

Heil • Saligheid • Ekologie • Hulpbron-uitputting Omgewingsbesoedeling Oorbevolking

Heil – ‘n omvattende begrip

Die groep woorde wat hier saam behandel word, kan vir baie lesers na strange bedfellows lyk, maar dit sal gaandeweg dui­delik word dat hulle baie goed by mekaar pas.

“Heil” is ‘n woord met ‘n baie ryk betekenis. Dit kan goedskiks weer­gegee word met iets soos: “Dit gaan goed,” maar dan in ‘n om­vattende sin. “Heil” hou verband met “heel”, en “heel” beteken dat iets nie gebreek en stukkend is nie. Dit gaan veral om dit wat God doen. Hy maak heel wat stukkend is. Daar is mense wat graag praat van “sieleheil”. Hulle bedoel dat die Here ‘n sondaar se ver­hou­ding met Hom weer heelmaak, regmaak, dat Hy ‘n mens se son­de vergeef en hom of haar as sy kind aan­neem.

Maar heil sluit baie meer in. God het alles gemaak, en alles is deur ons sonde aangetas. Daarom wil Hy weer alles heelmaak en in sy heil laat deel. Ons sien dit duidelik in Jesus se aardse bediening. Hy vergeef nie net sonde nie, Hy genees mense, Hy gee mense in die woestyn kos en Hy bevry hulle van die mag van die duiwel wat hulle lewe verskeur. (*Wonderwerke)

Die besetene van Gadara is ‘n sprekende voorbeeld. As jy wil lees van ‘n mens wie se lewe aan repe geskeur is deur bose magte, lees Markus 5:3-5. En as Jesus hierdie arme mens van die bose verlos, lees ons presies die teendeel: hy sit met klere aan en by sy volle verstand (5:15). Dit is heil. Dit maak ons hele lewe heel, nie net ons “*siel”, ons verhouding met die Here nie. In Han­de­linge gebruik Petrus dieselfde Griekse woord vir die man wat gesond gemaak is en die verlossing in die Naam van Jesus (4:9, 12). Genesing is deel van die heil wat Jesus bring.

Dit kom nog sterker na vore in die *opstanding. Vir Paulus is die hele evangelie op die spel as Jesus nie opgestaan het en ons nie sal opstaan nie (1 Kor 15). God het ons gemaak soos ons is, en Hy red ons soos ons is. En omdat ons liggaamlike wesens is, is die opstanding ‘n wesenlike deel van die heil, van God se heelmaakproses.

Uiteindelik sien ons dit op die laaste bladsye van die Bybel die dui­delikste. Die Bybel eindig met die nuwe aarde. Selfs die aarde is deur die Bose aangeval en verrinneweer. Daarom gee Jesus mense in die woestyn kos, maak Hy ‘n storm stil, en vervloek Hy ‘n vyeboom wat nie vrugte aanhet nie. Die aarde is gemaak om die mense te onderhou, nie om die mense se lewens te bedreig nie. En uiteindelik sal Hy dan volgens sy belofte die aarde nuut maak sodat daar geen siekte en dood en trane meer sal wees nie. Dan dra die bome elke maand vrugte. Dan het Hy alles nuut/heel gemaak (Op 21:4, 5; 22:2).

Heil is omvattende heelwees soos God dit bedoel het. En Hy wil sy hele skepping heelmaak.

 

‘n Heel natuur

Daarom is die toestand van die natuur van groot belang (Eko­logie). Ons kan nie ongeërg aangaan en op die ou end die om­ge­wing besoedel en die hulpbronne uitput of die aarde oor­bevolk nie. ‘n Beheersde, verantwoordelike gebruik van die na­tuur is ‘n deel van die evangelie. Dit word nie in die Bybel beklemtoon nie (al staan Gen 2:15 wel daar) omdat daar in daardie tye nog nie dié soort probleme was wat ons vandag ervaar nie. Ons het hier ‘n in­teressante voorbeeld daar­van dat ons soms uit gegewens in die Bybel gevolgtrekkings moet maak wat nie só in die Bybel self uit­gespel word nie. By die *kinderdoop en die Sondagviering (*Son­dag) het ons dieselfde situasie.

Ons het wel alreeds in die Bybel spore daarvan dat alles in die natuur nie in orde is nie. Die profesieë oor die Messiaanse ryk beeld ‘n ander natuurprentjie uit as waaraan ons gewoond is, met lui­-perds en bokkies, en slange en kinders wat saam is (Jes 11:6-8).

 

En die hemel?

Dit kan ‘n leser opval dat die woord *”hemel” glad nie gebruik is in hierdie beskrywing van heil nie. Daar is baie Christene wat dadelik aan die hemel dink as dit om heil gaan. Hulle praat dan ook by voorkeur van “saligheid“. Om hemel toe te gaan is vir hul die eintlike inhoud van die heil of saligheid.

In die Ou Testament is daar geen “hemelverwagting” of “he­mel­­verlange” nie. In die Ou Testament beteken heil om in hier­die lewe op hierdie aarde (heel spesifiek in die land Kanaän in die om­ge­wing van Jerusalem en die tempel) in ge­meenskap met die Here te leef en sy seën te beleef in die vorm van voorspoed. Voor­spoed sluit dan goeie oeste in, vrede, ge­sond­heid, vry van vyan­de. (*Voor­spoedsevangelie) Maar in dit al­les is die gemeenskap met die Here die oorheersende faktor.

Daar is geen hemelverlange nie. Daar is selfs uitsprake wat dit uitsluit, soos: “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee” (Ps 115:16). Waar daar van hemel en aarde in een asem sprake is, oorheers die belangstelling in die aarde heeltemal (Gen 1). Ons kry dit selfs nog in die Nuwe Testament waar ons lees van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, maar al wat werklik in besonderhede bespreek word, is die nuwe aarde/Jerusalem (Op 21-22). Daarom verdwyn die belangstelling in die aarde ook nie in die Nuwe Testament nie.

 

Heil op aarde

Omdat heil lewe-in-gemeenskap-met-die-Here-op-die-aarde is, is daar in die Ou Testament ook geen belangstelling in “die lewe na die dood” (*Dood) nie. Daar was ook geen gedagte van sinvolle lewe na die dood nie. Eers deur die geloof dat daar ‘n opstanding is, wat baie laat in die Ou Testament ontwikkel, word die moontlik­heid geskep dat iemand kan uitsien na die dood (Fil 1:21 ev). En dit word eers ‘n werklikheid deur Jesus se *opstanding omdat Hy die mag van die dood breek.

Omdat hierdie lewe die enigste geleentheid was om die heil as die gemeenskap met die Here te geniet, is die gelowige van die Ou Testament verward as dit sleg gaan met hom of haar. In die Ou Tes­tament seën God juis sy kinders en straf die on­ge­hoorsames. As gelowiges dan ly, was dit onbegryplik en het dit dikwels hulle geloof aangetas. Dink maar aan die geloofstryd van die digter van Psalm 73. Hy skryf selfs dat hy byna sy geloof verloor het (73:2).

 

Heil en aarde kan nooit van mekaar losgemaak word nie. God het die aarde gemaak om hier in gemeenskap met ons te leef, en Hy laat vaar nie die werk van sy hande nie (Ps 138:8). Trouens, die Bybel eindig met die wonderlike perspektief dat die hemel op die nuwe aarde sal neerdaal. Immers, die hemel is God se woonplek, en as Hy dan op die nuwe aarde by ons kom woon, kom die hemel ook na ons toe. Dan sal dit in die volle sin van die woord “hemel op aarde” wees. Dis ‘n wesenlike deel van die evangelie.

Daar is wel in die Nuwe Testament uitsprake wat mense laat dink aan die hemel. Daar is veral Jesus se belofte dat Hy vir sy kinders plek gaan berei en hulle dan sal wegneem om by Hom te wees (Joh 14:3). Hierdie uitspraak laat egter genoeg ruimte vir die perspek­tief in Openbaring 21-22 dat die nuwe Jerusalem uit die hemel op die nuwe aarde neerdaal en God en die Lam (21:22) dan by ons kom woon. Nadat sy kinders in die lug opgeneem is by die wederkoms (Joh 14:3; 1 Tess 4:17), sal ons as die inwoners van die nuwe stad saam met Hom op die nuwe aarde neerdaal. Onthou, die nuwe Jerusalem is die stad én die bruid in die stad (Op 21:2).

 

Heil – ‘n heel lewe

Vir ons persoonlike lewe het die betekenis van heil as ‘n heel lewe besondere betekenis. Ons is sondaars met stukkende lewens wat deur sonde verskeur is. En uit genade kom die Here ons deur die Gees weer heelmaak. Die begrip *wedergeboorte het byna dieself­de betekenis: die Here laat ons weer/nog ‘n keer/oor gebore word om­dat ons eerste geboorte nie genoeg was nie.

In heil gaan dit om die volheid van die lewe in gemeenskap met God en met ander mense, veral ander kinders van God. Dat ons heelgemaak word, het die implikasie dat ons gemaak word wat ons eintlik bedoel is om te wees. Dit beteken dat ons ten volle mens ge­maak word, nie engele of bonatuurlike wesens nie. God het ons as mense gemaak, en Hy herstel ons na sy oorspronklike bedoeling.

 

Maar mense het ‘n geweldige roeping. Ons is gemaak as die *beeld van God. Dit beteken dat God ons weer in staat stel om sy doel met ons te bereik: om Hom te verteenwoordig of teen­woordig te maak. Daar is vir mense geen hoër roeping as om mense te wees nie: beelde van God.

Dit bring ‘n baie bekende uitdrukking onder verdenking: “Ek is ook maar net ‘n mens.” Ons gebruik dit gewoonlik om onsself te verontskuldig as ons, dikwels die hoeveelste keer, iets verkeerd ge­doen het. Maar as God bedoel het mense moet sy beeld wees, sou dit nader aan die waarheid wees om te sê: “Ekskuus, ek is nog nie heeltemal ‘n mens nie.” God het ons nie bedoel om te misluk nie, maar om te slaag. En deur die krag van die Gees kan ons. (*Per­feksionisme)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Halleluja

Die Groot Geloofswoordeboek: Halleluja

Dit is, net soos *amen, ‘n Hebreeuse woord wat nie vertaal is nie, maar net in ons letters oorgeskryf is. Dit kom van twee woorde af. Die “hallelu” is ‘n werkwoord wat ‘n oproep is om te loof/prys/ver­heerlik, en die “ja” is ‘n verkorte vorm van Jahwe, die *Naam van God wat gewoonlik met *”Here” vertaal is. Halleluja beteken dus iets soos: “Laat ons die Here prys/loof.”

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: God

Die Groot Geloofswoordeboek: God – Adrio König

Die Groot Geloofswoordeboek:  God

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Die Groot Geloofswoordeboek deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van meer as 500 geloofswoorde.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

God

(*Mensvormige spreke oor God, *Here, *Liefde)

• Geduld • Frustrasie • Onvergelyklikheid • Liefde • Mag

Dink. Of luister?

Onder die begrip “almag kyk ons na die gangbare beskouing van mense oor wat God se almag, alomteenwoordigheid en al­we­tend­heid beteken. Daar is met die opmerking afgesluit dat dit nie seker is dat hierdie algemene oortuiging ooreenstem met wat ons in die Bybel oor God lees nie. Verderaan in hierdie be­spreking oor God gaan hierdie begrippe nou weer ter sprake kom, maar dan soos ons hulle in die Bybel kry, en nie soos mense daaroor filosofeer nie.

Daar is ’n groot verskil tussen dink (filosofeer) oor God, en luis­ter na sy woord. Onder die bespreking van almag is die op­mer­king gemaak dat Christene by sekere Griekse filosowe geleer het om oor God te dink in plaas van om na sy woord te luister. Daarom maak die gangbare siening oor die almag, alwetendheid en alom­teenwoordigheid van God dikwels so ’n vreemde indruk as ons met die Bybel besig raak. Daar is goeie redes daarvoor. In die By­bel word daar nie oor Hom gedink nie, maar van Hom vertel. In die Bybel word nie teorieë oor Hom opgebou nie, Hy word beleef. Wat ons in die Bybel oor Hom het, is dus nie die resultaat van ons denke nie, maar van sy dade in die geskiedenis van Israel en in Jesus. Die Bybel is hoofsaaklik ’n geskiedenisboek, nie ’n filosofieboek nie. Die Bybel vertel verhale, dit gee nie lang, teoretiese beredenerings nie. Die Bybel raak grond, dit sweef nie bo in die lug rond nie.

Wat kry ons dan in die Bybel oor God? In die Ou Testament hoof­saaklik die verhaal van God en Israel. Wat in die verhaal oor­­heers, is die getrouheid van God en die ontrouheid van Israel. God voer ’n lang en uitmergelende stryd om die hart van sy volk. Hy praat mooi, gee beloftes, vermaan, roep tot bekering, dreig, oor­­deel, straf, maar daar is min positiewe reaksie. Soms reageer hul­le wel so effens, maar meestal bly die bekering weg. Die trou van God en die ontrou van Israel is vir omtrent 2 000 jaar die een oor­heer­­sende tema in die byna 1 000 bladsye van die Ou Testa­ment.

Dit beteken dat Christene nie hoef te sit en filosofeer oor wie en hoe God is nie. Uit hierdie lang geskiedenis kan ons dit aflees. En dan is dit nie wat ons in ons slimmigheid oor Hom uitgedink het nie, maar wat Israel van Hom beleef het en neergeskryf het. Daar is baie dinge, meer as ’n hele boek vol. Kom ons kies ’n paar wat gewoonlik nie so prominent in boeke oor God voorkom nie, maar wat uitstaan in sy geskiedenis met Israel: God se geduld, sy frustrasie, sy liefde, sy onvergelyklikheid en sy mag.

Geduld

Miskien is dit die een eienskap van God wat die sterk­ste uitstaan op bladsy na bladsy in die Ou Testament. Onthou maar net die geskiedenisboeke en die profete. Nog skaars het God met mense begin, of hulle is al klaar ongehoorsaam en ontrou (Gen 3 en 4). Ek wonder of ek nie maar die hele eksperiment met die mens net daar sou gelos het as ek God was nie. Maar God is ge­duldig. Hy gaan aan.

Maar net ’n paar bladsye verder is die hele mensdom so on­trou en ongehoorsaam dat Hy regtig spyt kry dat Hy ooit met hulle be­gin het (Gen 6:5-7). En as Hy dan die wêreld skoonmaak en ’n nuwe begin met Noag maak, is daar net twee hoofstukke ver­der al weer ’n breekpunt: die toring van Babel. Maar God is geduldig, Hy begin weer, nou met Abraham (Gen 12). Maar dis ook nie sonder ernstige probleme nie: Abraham lieg vir die farao om homself te beskerm (Gen 12:10 ev). En hy glo God nie as God beloof om hom ’n seun te gee nie (Gen 15:2; 16:1 ev; 17:17).

En so gaan dit aan: die uittog uit Egipte, die intog in Kanaän, die koningskap, die verdeling van die ryk, die voortdurende on­trou en afgodsdiens, die ballingskap, die terugkeer – wat ’n geskiedenis! Maar God hou aan. Wat ’n geduld!

Frustrasie

Hy laat nie alles van Hom afloop soos water van ’n eend se rug nie. Dis nie waar dat ons ontrou Hom nie raak nie. So het sekere Griekse filosowe wel gedink. Hulle het gedink dit sou onwaardig vir God wees om Hom te laat betrek by ons kleinlike probleme. Hy is hoog verhewe en steur Hom nie aan ons nie. Dit sou Hom in te veel intriges, spanning en frustrasie laat beland.

Maar dis mos nou presies die verskil tussen hulle gedink oor God, en Israel se belewing van God. Die verhaal van God en Israel is juis vol van God se intense betrokkenheid by sy volk. En inderdaad bevind Hy Hom in een frustrerende situasie na die ander. ’n Mens sou van die pyn van God kon praat. Luister net hoe die profete dit in sy Naam uitkreun oor Israel se ontrou: “Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ’n bietjie: Het daar al ooit so iets gebeur dat ’n nasie sy gode verruil? Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Selfs die hemel moet hieroor skrik en beef en sidder! sê die Here” (Jer 2:10-12). “Hemel” is hier ’n eufemisme vir God self. Hy sidder oor Israel se ontrou.

Wat ’n frustrasie vir God! Israel tree absoluut onsinnig op. Dis soos ’n boer wat ’n plaas het met ’n sterk standhoudende fontein, en dan verruil hy dit vir ’n plaas met geen water nie behalwe ’n paar reënbakke, en dié is nog gebars ook (Jer 2:13). Om dit sag te sê: God het nie ’n lekker geskiedenis met sy volk nie.

Onvergelyklikheid

Maar Hy hou aan! Maak dit Hom nie on­ver­gelyklik nie? Maak dit Hom nie veel heerliker as die hoë, ver­hewe God van die filosowe wat Hom nie bemoei met die klein­likhede van mense en só sy ewige rus laat versteur nie? Wie het al ooit ’n God uitgedink wat eis dat die sondaars moet sterf, maar dan uit liefde vir hulle sy eie Seun ’n “sondaar” maak om in hulle plek te sterf? (2 Kor 5:18-22) (*Versoening)

Liefde

En juis dit het ons by die wese van God gebring. Waarom hou Hy so aan (geduld)? En waarom is Hy so gefrustreerd met Israel? Waarom los Hy hulle nie? Dit sal Hom oneindig baie moeite spaar.

Hy kan nie. Hy het hulle lief. Sy liefde is die dryfveer agter sy “vreemde”, heerlike optrede. Ons lees dit nêrens duideliker as in Hosea 11 nie. Hier worstel die Here opnuut oor die ontrou van die volk. Hy dink terug aan die tyd toe Hy hulle uit die slawerny van Egipte bevry het. Hy het hulle met soveel liefdesorg behan­del. Maar hulle het agter afgode aangeloop. Hy het voortgegaan met sy wonderlike versorging, “maar Efraim het geweier om hom te be­keer” (Hos 11:5). En dan besluit God Hy gaan hulle laat verwoes. Die vyand sal hulle stede platvee. Maar dan, asof uit die bloute, lees ons skielik: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk” (Hos 11:8).

In die bespreking van die almag van God het ons die populêre siening genoem: God kan enige oomblik enigiets doen wat Hy wil. Hier sien ons hoe daar in die Bybel in heeltemal ander terme oor Hom gepraat word. Hy wil Israel verwerp, maar Hy kan nie! Sy liefde maak dit vir Hom onmoontlik. Hier is ons by die hart van God. Daarom is die kortste “definisie” van God in die Bybel: “God is liefde” (1 Joh 4:8, 16). (Onder die begrip *liefde is breedvoeriger oor God se liefde geskryf.)

Mag

’n Mens moet baie versigtig wees met die woord “almag”. Dit skep maklik misverstand. Ons het in die bespreking van *al­mag ge­sien dat mense baie probleme daarmee het en vreemde dinge daaraan toeskryf wat ons nie in die Bybel kry nie. Trouens, die Name van God in die Ou Testament wat vertaal word met “die Here die Almagtige” (Jahwe Zebaot) en “die almagtige God” (El Shaddai), is nie goeie vertalings nie. (*Here) Daar is glad nie ’n woord vir almag in Hebreeus nie, en die woorde wat in hierdie Name van God ge­bruik word, het ook nie die betekenis van almag nie. Daarom be­hoort hierdie name anders vertaal te word. Die Bood­skap vertaal byvoorbeeld Jeremia 8:3 met: “die Here wat sterker as almal en alles is” en Die Multivertaling Bybel gee: “die Here, die Magtige van die he­mel­se leër.”

Hierdie laaste moontlikheid is baie aantreklik, want die He­­-breeus is letterlik “die Here van die leërmagte” wat óf na die weer­mag van Israel verwys, óf na die engele as die hemelse leërmag. Die Here word dus die aanvoerder van hierdie magte ge­noem, en dit dui op sy eie groot mag. Maar met die begrip “almag” (“enigiets doen wat jy wil en net wanneer jy wil”) hou dit geen verband nie.

Daar is wel ’n paar tekste wat gebruik word om die gedagte te verdedig dat die Here enige oomblik enigiets kan doen (Gen 18:10; Matt 19:26; Mark 14:36; Luk 1:37). Dis goed om net ’n oom­blik na ’n paar te kyk.

Die uitspraak in Lukas is die bekendste. Die engel Gabriël sê vir Maria: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die Grieks lees: “Nie is onmoontlik by God elke woord.” Van watter woorde sou die engel praat? Hy het pas twee “woorde”, dit is twee beloftes, aan Maria gegee: sy gaan ’n baba kry (1:31), en haar tannie Elisabet ook (1:36). Beide “woorde” is natuurlik onmoontlik: Maria is nog nie getroud nie, en Elisabet is stokoud. Hoe werk dié woorde van die engel dan? Antwoord: “Nie is onmoontlik by God elke woord.” Dus: God is in staat om die twee “woorde”, die beloftes self te vervul. Hierdie wonderlike teks sê God kan sy beloftes vervul. Dit is sy groot mag.

Dit word nog interessanter as ons besef dat die engel eintlik terugverwys na die woord van die Here aan Abraham en Sara (Gen 18:14). Ons vertaling lui: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Die Hebreeus lui: “Is die woord vir die Here te won­der­lik?” Watter woord? Die een wat Hy net tevore vir Abra­ham ge­sê het: Volgende jaar dieselfde tyd sal Sara ’n seun hê. Maar dis onmoontlik. Sara is oor die 80 jaar! Maar vir God is hierdie “woord” (belofte) nie te “wonderlik” nie, want Hy het die mag om sy beloftes te vervul.

Hierdie tekste het dus niks te doen met “enigiets te eniger tyd” nie, maar met dié God wat getrou is én in staat is om sy beloftes te vervul. Dít is die groot mag van God.

Hierdie kort bespreking oor God kan nie alles behandel nie. Dit is net bedoel om die punt te maak dat ons moet ophou om oor God te dink, en na sy Woord oor Hom begin luister. Nie al die vreemde dinge wat mense oor Hom kan uitdink nie, maar die boodskap oor Hom in die Bybel is die waarheid.

Natuurlik moet ons nog altyd dink oor wat ons in die Bybel oor Hom lees, maar dan dink ons nie oor wat ander gedink het nie, maar oor wat Israel ervaar het.

 

Skrywer: Prof Adrio König