Die Groot Geloofswoordeboek: Godsbewyse

Die Groot Geloofswoordeboek: Godsbewyse – Adrio König

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof.

Die Groot Geloofswoordeboek deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van meer as 500 geloofswoorde.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

Godsbewyse

Bestaande pogings

Deur al die eeue was daar mense wat probeer bewys dat God bestaan. Daar is die gedagte dat ’n mens uit die natuur kan aflei dat daar ’n God is. Dink maar net aan al die mooi dinge in die na­tuur: die blomme, bome, waterstrome. Maar die teendeel is ook waar. Daar is genoeg onveiligheid, wreedheid en ontreddering in die natuur om te “bewys” dat God nie bestaan nie, maar eerder die duiwel: droogtes, orkane, vuurspuwende berge.

Uit die makrokosmos en die mikrokosmos lei mense ook graag af dat God moet bestaan. Die heelal is so onvoorstelbaar groot en beweeg op so ’n ongelooflike wyse, daar is soveel merk­waar­dige samewerking tussen die gewig en die bewegings van die he­melliggame, alles is so ongelooflik in harmonie dat ’n mens dit on­moontlik kan voorstel sonder om te aanvaar dat daar in­derdaad ’n God agter alles is. (*Evolusie) Maar dan weer die teendeel: daar is sulke ontstellende chaos in dele van die heelal, soos die swart gate (black holes) wat een groot bedreiging en verwoesting van alles rondom is, daar is soveel onherbergsaamheid, soveel son­ne wat sinloos rondbeweeg, nêrens heen nie, tot dit na miljoene der miljoene jare uitbrand en verdwyn, soveel planete waar geen lewe moontlik is nie, dat die teendeel ook “bewys” kan word: ’n chaosmonster wat willekeurig alles sinloos laat ronddraai.

Ook uit die Bybel probeer mense bewys dat God bestaan. Soms word die profesieë daarvoor gebruik. Die profesieë sou dan so letterlik uitkom dat dit onmoontlik is om te ontken dat daar iemand agter dit sit wat alles presies vooruit bepaal. (*Voor­sie­nigheid) Nog­eens is die teendeel ook waar: baie profe­sieë word vry en op on­verwagte maniere vervul, in so ’n mate dat ’n mens soms moet glo dat ’n bepaalde gebeurtenis die vervulling van ’n bepaalde profesie is. (*Profesie)

Pas Godsbewyse by God?

Intussen kan ’n mens beswaarlik verwag om in die Bybel be­wyse van God se bestaan te kry. Die Bybelskrywers redeneer nie; hulle vertel verhale, verhale van Israel se ervarings met God. Hulle aan­vaar dus eenvoudig sonder enige nadenke dat God bestaan. Die Bybel begin nie met argumente nie, maar met ’n verhaal waarin God die hooffiguur is: “In die begin het God … ” Daar is geen gedagte om Hom eers voor te stel of te bewys dat Hy bestaan nie, nie aan die begin nie, en ook nie later nie. In die Bybel is dit net dwase wat ontken dat God bestaan (Ps 14:1; 53:2), en hoe redeneer ’n mens nou met dwase?

Eintlik is dit ’n vernedering vir God as iemand probeer bewys dat Hy bestaan. Dink jou in dat die koerant ’n artikel op die binne­blad het met vyf bewyse dat mnr Mandela bestaan. Dis ’n bietjie belaglik. Wie soek bewyse daarvoor? As die koerant iets sinvols wil doen, plaas hy ’n artikel oor vyf wonderlike dinge wat mnr Mandela die afgelope jaar gedoen het om arm kinders en siek mense te help. Waarom? Niemand wonder of hy bestaan nie; hy het soveel gedoen dat die vraag of hy bestaan nie eens by mense opkom nie.

En God? Dit is nou duidelik waarom die Bybel net verhale ver­tel oor wat God gedoen het, veral die twee lang verhale oor wat Hy met Israel en in Jesus gedoen het, die eerste verhaal amper
1 000 bladsye, en die tweede vier boeke vol (die Evan­gelies). Om te probeer bewys dat Hy bestaan, is onvanpas en beledigend.

In die tyd van die Bybel het alle mense geglo daar is gode. Die enigste vraag was: Watter god dien jy? Elke volk het sy eie god ge­had, sommige selfs ’n hele paar: ’n god vir elke groot behoefte, soos reën, veiligheid, vrugbaarheid. Net Israel het net een God gehad en hulle het geglo dat Hy, te midde van baie ander gode, die enig­ste ware God is. En God sou dit self deur sy seën aan hulle bewys, in so ’n mate dat die ander volke na Jerusalem sou stroom om daar te kom kyk wat Hy doen (Jes 2:2 ev; Sag 8:23). Daar was dus wel ’n Godsbewys nodig; nie ’n bewys dat Hy bestaan nie, maar ’n bewys dat Hy die enigste ware God is. En Israel se ongehoorsaamheid het veroorsaak dat Hy dit nie ge­le­wer het nie, dat die volke met Hom gespot het in plaas van om na Jerusalem te stroom (Eseg 36:19 ev).

Maar dit is vandag nie meer soos in Bybeltye nie. God be­staan op ’n ander vlak en ’n ander wyse as mnr Mandela. God se be­­staan kan ontken word, en dit word vandag deur sommige ontken. Party glo nie dat daar ’n God is nie (*Ateïsme), en ander sê hulle weet nie. (*Agnostisisme) Selfs dit wat God in Jesus gedoen het, kan betwyfel word. Dit is al in Jesus se tyd radikaal ontken deur die godsdiens­tige leiers wat Hom selfs gehaat en laat kruisig het.

Daarom is daar inderdaad gedagtes oor die vraag of ons kan bewys dat God bestaan. Maar wat bedoel ons met “bewys”? ’n Mens kan bewys 2+2=4. Maar God bestaan op ’n ander vlak. Bewyse het met beheer te doen. Ek kan iets bewys wat onder my beheer is. Ek kan bewys hoeveel geld ek in die bank het, of hoeveel water ’n boom nodig het, of wat die spoed van ’n motor is. Maar God is bo en buite my beheer. Ek be-“heer” Hom nie. Hy is self “Heer”.

En tog is dit moontlik om sinvol oor Hom te praat omdat ons glo dat Hy betrokke is by wat op aarde gebeur. Dit sal eintlik ’n mosie van wantroue in Hom wees as ons bely Hy het alles gemaak en Hy onderhou sy skepping, maar ons kan nêrens enige spore van Hom kry nie.

Spore van God

Is daar spore van God, of Godsaanduidings? As ons na die skep­ping kyk, is dit sinvoller om te aanvaar daar is ’n God as om dit nie te aanvaar nie? Die heelal is so ongelooflik fyn saamgestel, en die verhouding tussen sekere gasse en elemente op aarde is in so ’n fyn balans dat die kleinste afwyking lewe op aarde on­moont­lik sou maak. Die ontstaan van lewe is so ingewikkeld, die blote samestelling en werking van ’n sel so kompleks, dat dit in­der­daad sinvoller is om te aanvaar dat intelligensie daaragter sit as dat dit toevallig ontwikkel het. Trouens, dit vra ’n heel be­sondere vorm van intelligensie! (*Evolusie)

Natuurlik is die teenvraag dan: Wat van die vreeslike chaos, be­drei­gings en sinloosheid in die heelal? Maar daar is genoeg getuie­nis in die Bybel dat daar van die begin af chaos in die *skepping was. Daar is in die Bybel selfs sprake van *chaosmagte wat van die begin af deur God getem is. Die Bybel bied oorvloedig ruimte vir ’n dubbele kyk op die werklikheid: seën én vloek, goed én kwaad, mooi én lelik, orde én chaos.

Tradisionele Godsbewyse

Dit is interessant om ’n oomblik te kyk na die tradisionele Gods­bewyse. Die klassieke voorbeeld is die “vyf weë” van Thomas Aqui­nas. Met “weë” het hy bedoel maniere om te weet dat daar ’n God is.

Die eerste weg: Daar is baie beweging of verandering in die wêreld. Maar alle beweging of verandering moet ’n oorsaak hê, iets of iemand wat die beweging aan die gang sit. As hierdie be­weger self ook beweeg word, moet daar nog ’n beweger wees. Die lys kan nie onbepaald voortgaan nie. Iewers moet daar ’n eerste beweger wees wat self nie beweeg word nie. Hierdie on­beweegde beweger (unmoved mover) is God.

Die tweede weg: Elke ding wat gebeur, word veroorsaak. Die oor­saak word self ook weer veroorsaak. Dit kan nogeens nie tot in die oneindige voortgaan nie. Dus moet daar ’n oorspronklike oor­saak wees wat self nie veroorsaak word nie. Dit is God.

Die derde weg: Alle dinge wat bestaan, kan ook vergaan. Hulle bestaan dus nie noodwendig nie; dit is ook moontlik dat hulle nie kon bestaan het nie. Dit beteken dat hulle bestaan veroor­saak moet wees omdat hulle bestaan nie noodwendig is nie. Die een wat hulle bestaan veroorsaak, moet self egter noodwendig bestaan, anders is sy bestaan ook veroorsaak. Hierdie onveroorsaak­te oorsaak van alle dinge is God.

Die vierde weg: Ons neem dinge waar wat nie volmaak is nie, maar net gedeeltelik volmaak. ’n Ding is net amper rond, in ’n mate rond, nooit volmaak rond nie. Iets is in ’n mate swaar, in ’n mate hard. Maar dit veronderstel iets wat absoluut is, en dit is God.

Die vyfde weg: Alle dinge werk sinvol saam, maar dit is net moont­lik omdat daar ’n absolute intelligensie daaragter is. Hierdie intelligensie is God.

Thomas het nie gepraat van Godsbewyse nie. Hy het dit aan­ge­bied as “vyf weë na God”. Dit is baie kort opsommend hier be­han­del, eintlik net om ’n mens ’n idee te gee van hoe vreemd dié soort redena­sie aan die Bybel is. Dit is eenvoudig heeltemal ’n ander styl as die Bybel se manier om oor God te praat. In die Bybel word van God vertel, nie oor Hom gefilosofeer nie. Godsbewyse oortuig ook nie mense om hulle lewe aan die Here te wy nie. En dit is die doel van die *boodskap van die Bybel.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Fariseërs en Sadduseërs

Fariseërs • Sadduseërs – Adrio König

Die Fariseërs en die Sadduseërs is die twee belangrikste groepe godsdienstige leiers met wie Jesus in sy aardse bediening te doen gehad het. Hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie, en hulle oor­tuigings en oogmerke het dikwels presies teenoor me­kaar ge­staan. Paulus het by geleentheid nogal hiervan gebruik gemaak om hulle teen mekaar af te speel (Hand 22:6 ev). Die Fariseërs het aller­eers in die godsdiens belang gestel en was die streng party wat die wet tot in die fynste besonderhede wou nakom. Daarteenoor was die Sadduseërs eerder in die politiek geïnteresserd en nie so streng oor die wet nie. Hulle was bereid om met vreemde owerhede saam te werk om self politieke mag in die hande te kry sodat hulle gerieflik kon leef. Maar die Fari­seërs het hulle eenkant gehou en daarna gestreef om ’n hei­lige volk te vorm wat gereed sal wees as die *Messias kom. Hulle verwagting was dat Hy die volk van die vyand (in Jesus se tyd die Romeinse oorheersers) sou verlos en self op die troon van Dawid in Jerusalem oor hulle sou regeer.

Die woord “Fariseër” kom van ’n Aramese woord wat beteken “die afgesonderde”. Hulle wou afgesonderd leef van alles wat nie suiwer en heilig in hul oë was nie, selfs van die ander ortodokse Jode. Hulle het hulle veral geïsoleer van die gewone volk wat nie die wet stiptelik gehou het nie, en nog meer van die tollenaars en sondaars wat heeltemal verwerplik was. Dink maar net aan dit wat ons oor hulle in die Evangelies lees (Matt 12:1 ev; Luk 7:36 ev; Joh 8:1-11).

Die woord “Sadduseër” kom waarskynlik van die naam Sadok af, maar dit is onseker wie hy was. Terwyl die Fariseërs uit die gewone mense gekom het, het die Sadduseërs uit die priesters gekom, en juis die priesters kon ’n groter politieke invloed onder vreemde regeerders kry omdat dié nie graag met die godsdiens van die Jode wou inmeng nie.

Daarom sê Pilatus dat hulle Jesus volgens hulle wet moet oor­deel (Joh 18:31). Omdat hulle Jesus wou laat kruisig, was hulle egter van Pilatus se beslissing afhanklik omdat hulle nie die reg gehad het om mense tot die dood te veroordeel nie.

Die Fariseërs en die Sadduseërs het heelwat verskil oor gods­dienstige sake. Die Sadduseërs het net “die wet van Moses”, dit is die eerste vyf boeke van die Ou Testament, aanvaar. Daar­teen­oor het die Fariseërs ook “die profete” en “die geskrifte” aan­vaar, wat so ongeveer ons hele Ou Testament insluit. (*Kanon, *Sep­tua­gint) Dit beteken dat die Sadduseërs nie aanvaar het dat daar ’n opstanding uit die dood sal wees nie (Mark 12:18 ev). Daar staan niks daarvan in die eerste vyf boeke nie. Hulle het ook nie aanvaar dat daar geestelike wesens soos engele is nie, wat vreemd is omdat daar heelwat verwysing daarna in Genesis is. Ons het egter reeds opgemerk dat dit vir hulle nie in die eerste plek om die godsdiens gegaan het nie, maar om die politiek. Hulle het dus selfs die eerste vyf boeke nie so ernstig opgeneem nie.

Dit is interessant om Jesus se verhouding met hierdie twee groe­pe te bekyk. Aanvanklik speel die Sadduseërs geen rol in Je­sus se le­we nie. Hulle word eers aan die einde van sy lewe ’n fak­tor (Matt 16:1, 6, 11 ev; 22:23 ev), teenoor die Fariseërs wat van die begin af sterk teen Jesus optree. Juis omdat Jesus nie ’n politieke hervormer was nie, maar op die godsdiens gekonsentreer het, was die Saddu­seërs aanvanklik nie in Hom geïnteresseerd nie, maar die Fariseërs wel. Eers nadat Hy die tempel gereinig het en daardeur inbreuk gemaak het op die voorregte van die Sanhe­drin, die Joodse Raad, het die Sadduseërs met die Fariseërs begin saamwerk om Jesus uit die weg te ruim. Die Sanhedrin het hoofsaaklik uit Sadduseërs bestaan. Die hoëpriester was self ’n Sadduseër, en net so die meeste van die ander lede, die “skrifgeleerdes” en die “familiehoofde”.

In ons algemene woordeskat word Fariseër vereenselwig met skyn­heiligheid/huigelary. “Jy is ’n regte fariseër” is geen kom­pli­ment nie! Dit is sekerlik nie waar dat alle Fariseërs skynheilig was nie. Maar dit is wel bekend dat hulle nie net geëis het dat die wet tot in die fynste besonderhede gehou moet word nie, hulle het ook talle en talle ander wette daaruit afgelei en wou mense se lewens deur hierdie detailvoorskrifte beheer. Hierdie houding het ná die ballingskap ontstaan. Hierdie mense was oortuig dat as hulle die wet tot in die fynste besonderhede uitvoer, so ’n vreeslike ramp hulle nie weer sou tref nie. Dit het daartoe gelei dat die wette belangriker geword het as die Wetgewer en die verhouding met Hom. Onthou dat God éérs ’n verhouding met Abraham aangegaan het en toe 430 jaar later (Gal 3:17) die wet vir die volk gegee het. Die wet was dus bedoel om die lewenswyse van die gehoorsame volk van God te reël. Maar dit beteken dat die wet sy sin en betekenis verloor sodra ons verhouding met Hom verbreek is.

Dit is dus nie vreemd dat Jesus se skerpste veroordelings juis teen die Fariseërs gerig was nie. Niks mag in die plek van ons persoonlike verhouding met die Here kom nie.

Jesus beskuldig die Fariseërs veral van drie dinge:

Eerstens, hulle het allerlei onsinnige onderskeidings getref: ’n eed by die tempel is nie bindend nie, maar wel ’n eed by die goud van die tempel. ’n Eed by die altaar is nie bindend nie, maar ’n eed by die offer op die altaar wel (Matt 23:16 ev).

Tweedens, hulle het die maklike deel van die wet gehou, maar nie die moeilike en belangrikste deel nie. Hulle neem die tien­des vreeslik ernstig, gee selfs tiendes van totaal onbenulli­ge dingetjies, maar hulle verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God (Luk 11:42). Hulle wil die reinheidswette tot in die fynste besonderhede hou, maar hulle gee nie om om mense daardeur te vernietig nie (Luk 7:36-50; Joh 8:1-11).

Derdens, hulle eis van die gewone mense om die wet in die fynste besonderhede te hou, maar self doen hulle dit nie. Inteendeel, alles wat hulle doen, is daarop ingestel om eer van mense te ontvang (Matt 23:1-11).

“Huigelaars,” noem Jesus hulle oor en oor (Matt 23). En dit is
waar. Dit is ook waar ons spreekwoord vandaan kom. En ons kan ons natuurlik verlekker oor hulle so huigelagtig en vals was. Maar ons kan ook eerlik kyk na die dinge waarvan Jesus hulle aan­ge­kla het, en ons eie lewe daarin spieël. Hoeveel klein wetjies en gebruikies onderhou ons naarstiglik omdat ons meen dat dit ons in die guns van God hou? En hoeveel makliker is dit nie om hierdie wetjies te hou as om goed te wees vir die mense naby ons en om regtig iets vir die armes te doen nie? En hoeveel van die vroom dinge wat ons doen, doen ons vir ons eie eer?

Is daar nie iewers hier diep in elkeen van ons ’n stukkie Fariseër nie?

Woorde gemerk met ʼn * word ook elders bespreek

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Ewigheid

Ewigheid – Adrio König

Dit is ’n apokaliptiese begrip (*Apokaliptiek) wat ons ons moeilik kan voorstel omdat dit nie deel van ons ervaringsveld is nie. Ons kan dit wel negatief stel teenoor ons ervaring van eindigheid en tydelikheid wat weldeeglik deel van ons ervaring is. Ons sien mense doodgaan; trouens, omtrent alles om ons vergaan, en ons word self stadigaan oud. Die ewigheid sal dus iets soos die teendeel hiervan wees: om nie oud te word en dood te gaan nie, om nie deur die tyd aangetas te word nie. Baie mense meen dan ook dat die ewigheid die teenoorgestelde van die tyd is. In die ewigheid sou daar geen tyd of tydsbelewing wees nie. En veral omdat ons lees dat God ewig is en in die ewigheid woon, meen ons dat Hy bo en buite die tyd staan. Sommige meen dit beteken byvoorbeeld dat Hy alreeds op die nuwe aarde is en dat Hy alreeds ervaar en geniet dat ons daar saam met Hom is.

Allereers moet ons nie te veel maak van ons negatiewe voor­stellings oor die ewigheid nie. Om te meen dit is tydloosheid sê nog nie wat dit werklik is nie, net wat dit nie is nie. Ons kan ons geen voorstelling maak van tydloosheid nie, net so min as van ruim­teloosheid omdat ons onherroeplik in tyd en ruimte be­staan. En die gedagte dat God bo en buite tyd en ruimte bestaan en daarom geen tydsbelewing het nie, is nie goed gefundeer in getuienis in die Bybel nie. Die Bybel sê dikwels dat God op ’n sekere tydstip nog nie ’n bepaalde ding gedoen of ’n besluit geneem het nie. In die woestyn sê Hy vir Moses: “Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen” (Eks 33:5) en as Hy Jeremia met ’n boodskap na die volk toe stuur, voeg Hy by: “Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer” (Jer 26:3). Hy wag dus self om te sien wat gaan gebeur.

Daar is mense wat oortuig is dit is maar net “menslike” voor­stellings van God om ons in staat te stel om te verstaan. (*Mens­vormige spreke oor God) Maar waar sou hulle die inligting kry om dié duidelike uitsprake só te interpreteer? Waarom kan ons dit nie aanvaar soos dit daar staan nie? Dan beteken dit dat God inderdaad ’n belewing van tyd het. Uit ander Skrifgegewens weet ons natuurlik wel dat sy belewing heeltemal anders is as ons s’n. Ons lees dat “een dag vir Hom soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Pet 3:8).

Dit is dus die minimum wat ons oor die ewigheid behoort te sê: dit is heeltemal anders as die tyd, maar ons weet nie regtig hoe anders nie.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid lê na aan die hart van Protestantse gelowiges. Dink maar net aan die dae van die Kerkhervorming toe die Pro­testantse geloof deur die Katolieke Kerk en sommige regerings in Europa verbied is. Dink net hoe ons voorouers in Frankryk vervolg en gemartel is en veral na Holland gevlug het van waar hulle na die destydse Kaap van Goeie Hoop geëmigreer het. Dit is waar baie van die Franse name, soos De Villiers, Du Toit en Le Roux, vandaan kom. Daarom is die vryheid van geloof en die vryheid van ons gewete baie kosbaar vir Protestante.

Verder is die evangelie meer werd as om op mense afgedwing te word. God wil hê dat ons Hom in vryheid sal liefhê en dien. Trouens, gedwonge liefde is nie die naam liefde werd nie.

En tog is daar ook weer ‘n ander kant van waar ons moet kyk. Terwyl mense die vryheid behoort te hê om die geloof van hul oortuiging te beoefen, gaan dit ons as Christene ten diepste aan watter God hulle dien. As daar net een ware God is, en as die mensdom se heil in sy hande lê, is ons dit om menslikheidsredes aan hulle verskuldig om dit vir hulle te sê.

Trouens, daar is ‘n sin waarin God self juis nie mense vrylaat om ander gode te dien nie, maar hulle dringend oproep om Hom te dien. En ons is sy gesante. Ons glo dat hierdie mense alles mis solank hulle nie vir Jesus ken nie. En ons glo verder ook nog dat hulle Hom nie kies nie juis omdat hulle in ‘n sekere sin nie vry is nie, maar gebonde in hulle eie godsdiens of ongeloof. Eers as die Seun ‘n mens vry gemaak het, is jy werklik vry (Joh 8:36). Ons moet dus alle “ordentlike”, beskaafde druk op mense uitoefen om die regte keuse te maak (*Sending) terwyl ons staatkundige godsdiensvryheid ten volle eerbiedig en onderskryf.

 

Outeur: Prof Adrio König