Die Groot Geloofswoordeboek: Die Erfsonde

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Erfsonde

“Erfsonde” is ‘n snaakse woord. ‘n Mens kan tog nie sonde erf soos jy blou oë van jou ouers “erf” nie. *Sonde is ‘n verhoudingsaak, ‘n morele saak.

Dit is maar net een van die misverstande wat daar oor die erf­­sonde kan bestaan. Die ander is dat die leer van die erfsonde be­teken dat mense baie sleg is. Mense sou dan ‘n slegte selfbeeld kry en morbied word omdat hulle geleer word dat hulle erfsonde het. Dit hou weer verband met ‘n misverstand oor die leer van die *totale verdorwenheid.

Alles klop nie regtig hier nie. Aan die een kant sou die “vrees­like leer oor die erfsonde” die rede wees waarom soveel Chris­tene so ‘n swak selfbeeld het. Aan die ander kant word juis die Christene, en by name die Calviniste (wat die grootste nadruk op die erfsonde lê), daarvan beskuldig dat hulle die hulpbronne van die aarde uitput met hulle ywerige geldmakery. Die kern van die waarheid in hierdie verband is dat dit inderdaad die Protestantse Christene, insluitend die Calviniste, is wat die groot kulturele en industriële ontwikkelings in die wêreld geïnisieer het. Maar hoe kan dieselfde mense nou ‘n swak selfbeeld hê en tegelyk die meeste inisiatief?  Die swak selfbeeld weens die erfsondeleer is dus nie regtig steek­houdend nie. Dis eerder maar net om ‘n argument teen die erf­sondeleer te kry.

Dit is wel waar dat ons nie die begrip “erfsonde” in die Bybel kry nie, maar daar is inderdaad ‘n paar spesifieke tekste wat aanlei­ding gegee het tot hierdie leer, en verder ‘n paar lyne wat deur groot dele van die Bybel loop. In sy kern kom die leer van die erfsonde daarop neer dat die mensdom gesamentlik skuldig staan voor God omdat sonde nie net ‘n individuele saak is nie.

In Romeine 5:15-19 lees ons:

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf

Op die oortreding van een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei …

Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer …

Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense …

Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het …

 

Dit beteken dat alle mense op een of ander manier deel het aan die sonde van hierdie een mens en daardeur onder die oor­deel van God staan. Daar word nie verduidelik hoe ons aan sy sonde deel het nie, eenvoudig omdat dit in die verband van Romeine 5 nie allereers gaan om ons aandeel aan iemand anders se sonde nie, maar juis om ons betrokkenheid by Iemand anders se gehoorsaamheid wat vir ons die verlossing bring. Romeine 5 is nie geskryf om ons iets van Adam te vertel nie, maar iets van Christus. Adam en die erf­sonde is maar bysake by die hoofsaak: Christus en die verlossing. Daar­om word die manier waarop ons aan die ongehoorsaamheid van Adam deel kry nie breedvoerig uitgespel nie, maar wel die manier waarop ons aan Christus se gehoorsaamheid deel kry: deur die doop (Rom 6) en die geloof (Rom 3:25-26). Ons betrokkenheid by Adam se sonde word eenvoudig veronderstel sonder verdere verduideliking.

Vir Westerlinge met ‘n sterk klap van individualisme klink dit vreemd. Hoe kan ek betrokke wees by ‘n ander se sonde? Maar tradisionele Afrika ken wel iets van hierdie onderlinge ver­bon­denheid van mense, dat een namens almal kan optree sodat almal daarby betrokke is. Trouens, ons weet almal iets daarvan. ‘n Staats­hoof kan namens die hele volk ‘n besluit neem, byvoorbeeld ‘n oor­logsverklaring, en dan is almal in ‘n staat van oorlog.

In die Bybel is dit ‘n baie sterk lyn. Deur een mens se sonde het ons almal onder die oordeel van God gekom. Verder sluit God met Abraham ‘n verbond, maar só dat dit tegelyk ‘n verbond met sy hele nageslag is. Tot vandag toe word alle gelowi­ges in daardie verbond opgeneem. Daar is nog voorbeelde. Baie vroeg in die Ou Testa­ment lees ons dat Abraham aan Melgisedek tiendes gegee het. Maar in die Nuwe Testament staan daar dat ook sy agterkleinseun Levi “in Abraham” aan Melgisedek tiendes gegee het terwyl ons weet hy was nog nie eens daardie tyd gebore nie. Hoe dan? Ons lees: “want Levi was nog in die liggaam van die stamvader (Abraham)” toe Abraham die tiendes vir Melgisedek gegee het (Heb 7:10). Op ‘n manier het Levi dus deel gehad aan wat Abraham selfs voor sy ge­boorte gedoen het.

En dan dié Voorbeeld. Trouens, dis eintlik oor Hom wat dit in Romeine 5 gaan. Soos reeds verduidelik, gaan dit vir Paulus nie in die eerste plek om die vraag presies hoe ons deur een mens se son­de geraak word nie. Hy wil eintlik verduidelik hoe ons deur een Mens se gehoorsaamheid aan die genade van God deel het. Maar dieselfde beginsels is ter sprake: Een vir almal, en almal in Een. En daaroor is ons diep dankbaar. As ons self ons skuld voor God moes dra, was ons verlore. Goddank dat Iemand anders in ons plek kon staan, en wel op so ‘n wyse dat ons deur die geloof in Hom deel het aan wat Hy gedoen het.

Dink weer aan wat Paulus in Romeine 5 oor ons verlossing deur Christus skryf:

Op die oortreding (van Adam) het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei (v 16).

Dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe (v 17).

So het die een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal (v 18).

So word baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vryge­spreek (v 19).

Hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword (v 20).

 

Miskien kan ons in hierdie geval van “erfgenade” praat, maar dan is “erfsonde” dalk nie so ‘n vreeslike gedagte nie. Immers, Pau­lus skryf in dieselfde hoofstuk dat die genade baie oor­vloediger as die sonde is. Ek “erf” genade wat baie meer is as die sonde wat ek “erf”. Dan neem ek die “erfsonde” baie maklik op die koop toe ter wille van die “erfgenade”.

Behels die erfsonde meer as dit? Baie Christene sien iets meer in die leer oor die erfsonde as net ons gemeenskaplike skuld. Hulle is oortuig dat ‘n mens gebore word met die neiging om verkeerd te doen. Hulle praat van ‘n “innerlike verdorwenheid” en bring dit graag in verband met Psalm 51:7: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” Maar ‘n mens moet mooi kyk wat daar regtig staan. In die vori­ge verse praat Dawid oor en oor van “my skuld, my oortredings, my sonde”. En in die voorafgaande vers beklemtoon hy: “Ek het gesondig, ek het verkeerd gedoen.” As hy dan vervolg dat hy al by sy geboorte skuldig was, is dit juis om sy eie skuld nog verder te beklemtoon, en nie om dit af te maak asof hy homself wil verskoon nie. Met ‘n oorgeërfde neiging om te sondig wat jou persoonlike skuld verdoesel of ook maar net versag, het Psalm 51 niks te doen nie.

Erfsonde hou verband met die beginsel dat een namens almal kan optree, en dat almal dan in ‘n sekere sin daarby betrokke is. Dit is nie vreemd aan die Bybel of aan Afrika of aan enige mo­derne samelewing nie. Maar in die Bybel word dit hoofsaaklik ge­bruik om ons verlossing te verduidelik: Christus namens ons, ons ten goede. Die “erfsonde” word maar net in Romeine 5 by­gebring om die genade duideliker te maak. Dit is nie die hoof­saak nie.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Engele

Die Groot Geloofswoordeboek: Engele

Engele

  • Beskermengele Die Engel van die Here

Die bestaan van engele word eenvoudig aanvaar in die Bybel. Net soos in die geval van God word daar nie spesifiek na hul ont­staan verwys nie. Engele verskyn in die vorm van mense en kom­munikeer soos mense. Behalwe in die geval van die serafs (Jes 6:2) word nooit na engele as wesens met vlerke verwys nie. Enge­le word met verskillende woorde aangedui, soos “seuns van God” (1953-vertaling by Job 1:6; 2:1) of “hemelwesens” (1983-verta­ling van hierdie verwysing). Daar is ook soorte engele, soos serafs (Jes 6:2 ev), gerubs (Eks 25:18-22; Ps 80:2; 99:1) en “aartsengele” soos Migael en Gabriël (Dan 8:16; 9:21; 10:13, 21; 12:1; Luk 1:19, 26; Op 12:7). Die feit dat hulle uitgesonder word, dui daarop dat daar ‘n soort hiërargie onder die engele is. Daarom kry ons ook verwysings na groepe engele (“trone, heerskappye, owerhede, magte” – Kol 1:16, 1953-vertaling, onderskeidings wat nie in die 1983-vertaling duidelik na vore kom nie).

Engele is in diens van die Here ter wille van die gelowiges (Heb 1:14; Hand 12:7 ev). Daarom tree engele ook dikwels by be­langrike keerpunte in die heilsgeskiedenis na vore, soos by die aankondiging van Johannes en Jesus se geboorte (Matt 1:20 ev; Luk 1:11 ev, 26 ev; 2:8 ev), by sy opstanding (Matt 28:2 ev; Luk 24:4 ev) en hemelvaart (Hand 1:9 ev).

 

• Beskermengele

Soms word uit Matteus 18:10 (waar van klein kindertjies gesê word: “hulle engele in die hemel is gedurigdeur by my hemelse Vader“) afgelei dat elke klein kindjie ‘n “beskermengel” het. Daar staan egter net in die algemeen van “engele”, sodat ‘n mens nie daaruit kan aflei dat elke kind ‘n aparte engel het nie. Dit is waarskynliker om te aan­vaar dat daar ‘n besondere groep engele is wat na die belange van die gelowiges omsien, en dus ook na die kinders. Jesus sê dit hier om te beklemtoon dat klein kindertjies vir God belang­rik is. Dit is bedoel as kritiek op die destydse samelewing wat nie veel aandag aan kinders gegee het nie.

 

  • Die Engel van die Here

Die Engel van die Here is ‘n bekende figuur in die Ou Testa­ment. Hy kom veral in die vroeër dele van die Ou Testament voor. Dikwels bring die Engel van die Here ‘n boodskap van die Here, of praat of handel namens die Here (Gen 21:17 ev; 22:11 ev; Eks 3:2 ev; Rig 2:1-4; 6:11 ev).

Dit is nie duidelik wat die verhouding tussen die Engel van die Here en die Here self is nie. Soms is daar in ‘n verhaal eenvoudig ‘n oorgang sodat dit die een oomblik nog die Engel van die Here is, en die volgende oomblik die Here self (Gen 16, met die oorgang na die Here by v 13; ook Gen 48:15-16; vgl ook Gen 22:11-12, 15-17). Maar in ander gevalle is daar ‘n duidelike alternatief: óf die Here óf die Engel van die Here (Eks 33:1-3 ev). Die Engel van die Here kan dus ‘n verskyningsvorm van die Here self wees, maar ook sy verteenwoordiger.

Daar is egter nie voldoende grond om aan te neem dat die Engel van die Here die ewige Seun van God is wat later uit Ma­ria gebore is as die baba Jesus nie. Trouens, hoe later in die Ou Testament, hoe minder word na die Engel van die Here verwys.

 

OuteurProf Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Ekumene

Die Groot Geloofswoordeboek: Ekumene

Ekumene

Die woord “ekumene” is ‘n Griekse woord wat “die hele be­woonde wêreld” kan beteken.

Ekumeniese beweging

In die vorige eeu het die Ekumeniese beweging ontstaan on­der invloed van die groot sendingkonferensies wat daarop aan­gedring het dat daar nouer samewerking tussen die kerke moet kom. Die wêreldwye verskeurdheid van die kerke was ‘n groot verleentheid vir die sending. In plaas daarvan dat net een kerk van Jesus Christus deur die sending aan die nie-Christene voorgestel is, het talle kerke afsonderlik uitgereik en groot verwarring onder nie-Christene gesaai. Van die gebed van Jesus dat die wêreld sal glo as hulle die eenheid en die liefde onder die kinders van God sien (Johannes 17:21-23), het min tereggekom.

Verskillende ekumeniese liggame het sedert die helfte van die vorige eeu ontstaan waarvan die Wêreldraad van Kerke die grootste is. Alle kerke wat Jesus as Here en Verlosser bely, kan hierby aansluit. Daar het ook binne sekere tradisies ekumeniese lig­­ga­­me ontstaan, soos die Gereformeerde, Lutherse en Baptiste-tra­di­sies. Daar het wêreldwyd ook heelwat kerkverenigings ontstaan. Gedurende die laaste jare is die nadruk nie meer soseer op kerkverenigings nie, maar eerder op kerklike samewerking.

Die *Katolieke Kerk het nog nie amptelik deel van die Wêreld­­raad geword nie alhoewel daar op baie terreine goeie same­werking is. Die Katolieke is nog oortuig dat hulle nie op dieselfde vlak as die ander kerke is nie, maar in ‘n besondere sin dié kerk is.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

OuteurProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (4)

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (4)

Die heidensending

Die kerk se taak om die evangelie aan alle mense te verkondig is een van die tekens van die nabye we­derkoms van Christus. Jesus het self ‘n duidelike uitspraak: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Matt 24:14).

Beteken dit dat die Here dus nie nou al kan kom nie, of dat sy koms selfs nie eens naby kan wees nie? Daar is baie mense, selfs volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Maar dit moet ‘n mens tog ‘n bietjie onrustig maak. Sy koms was dan al in die tyd van die Nuwe Testament naby.

Wat het Jesus bedoel? Dis interessant om Paulus se briewe hieroor te lees. Paulus skryf aan die Kolossense oor die evangelie “wat in die hele wêreld vrug voortbring”, “die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is” (1:6, 23), en later lees ons: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor” (2 Tim 4:17). En skielik is dit duidelik waarom Paulus, en al die ander skrywers in die Nuwe Testament, kon verkondig dat die koms van Christus (in hulle tyd) naby was. Hulle was oortuig dat die uitspraak van Jesus deur hulle optrede in vervulling gegaan het: al die nasies (waarvan hulle geweet het) het reeds in hulle leeftyd die evangelie gehoor. En dit was ‘n teken dat Jesus reeds in die tyd van die Nuwe Testament enige oomblik kon kom. Ons kan nie aanvaar dat Jesus onder “al die nasies” iets anders bedoel het as wat die apostels daaronder verstaan het nie.

Gevolgtrekking

Die eindtyd of die laaste dae is dus nie ‘n tyd wat die apostels eers in die (verre) toekoms verwag het nie. Hulle verkondig dat Jesus in die laaste dae gebore is, dat sy opstan­ding die algemene opstan­ding ingelui het wat aan die einde sou plaasvind, dat die Heilige Gees in die laaste dae uitgestort is, dat die gemeente in die eindtyd leef, ja, in die laaste uur. Daarom verkondig hulle dat die Regter voor die deur staan, dat die tyd kort is, dat die einde naby is, dat Christus gou sal kom. Dit was ‘n troos vir die vervolgde gelowiges, en ‘n waarskuwing vir die ongelowiges.

 

• ‘n Vertraging van die wederkoms?

Dit is natuurlik ‘n dringen­de vraag waarom Christus dan nog nie gekom het nie. As sy koms al in die tyd van apostels naby was, as Hy toe al kon gekom het, wat van die 2 000 jaar wat intussen ver­loop het? Kan ons vandag nog met eerlikheid sê dat ons Hom spoedig verwag “op die wolke van die hemel”?

‘n Mens kan skaars ‘n definitiewe antwoord uit die Nuwe Tes­tament verwag. Die apostels het nie hierdie 2 000 jaar sedert die hemelvaart verwag nie. Hulle het in elk geval nie in hul verkondi­ging daarvoor voorsiening gemaak nie.

Daar is wel hier en daar ‘n opmerking wat ons kan help om self ‘n antwoord te soek. Baie belangrik is die een in 2 Petrus 3:8-9: “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

Hierdie opmerkings is geskryf in ‘n situasie waar daar alreeds mense was wat gevra het waarom die Here nog nie gekom het nie. Die feit dat hulle alreeds teen die einde van die eerste eeu so ‘n vraag gevra het, toon hoe sterk die boodskap van die apostels oor die nabyheid van die wederkoms deurgekom het.

Die opmerkings gaan oor die berekening van tyd en oor God se diepste motiewe. Die berekening van tyd word prakties on­moontlik gemaak. Wat vir ons vreeslik lank lyk, kan vir God baie kort wees, en andersom. Duisend jaar en een enkele dag is twee absolute uiter­stes. Die berekening is uit! Om dit te probeer konkretiseer: dit kan vir die Here voel of die hemelvaart van Christus maar net eergister was (twee dae; dus 2 000 jaar). God beleef tyd anders as ons. En verder is sy diepste motief die bekering van mense. Dit beteken dat daar aan ons kant net dankbaarheid kan wees vir hierdie lang “vertraging”.

Intussen het ons sy belofte dat Christus weer sal kom. En ons het die algemene tekens wat voortdurend oor en oor in vervul­ling gaan om ons daaraan te herinner dat Hy enige oomblik weer kan kom. Die spesifieke tekens is reeds vervul, maar is self in ‘n sin ‘n staande herinnering dat Hy enige oomblik weer kan kom. Daar was al heelwat mense wat hulleself as die “Christus” voorgedoen het, en heelwat wat op die allerradikaalste manier die kerk vervolg het, wat telkens weer die boodskap bring dat die Here enige oomblik kan kom. Die verharding van die Jode, die anomalie dat die heidene met Israel se Messias sit, herinner ons ook aan sy koms. Volgens Romeine 11 sal hierdie verharding voortduur tot by die wederkoms.

Die feit dat Christus na 2 000 jaar nog nie weer gekom het nie, is inderdaad ‘n verleentheid. Maar ons laat dit gelowig in God se hande omdat ons nie toegang het tot die agtergrond hiervan nie. Intussen het ons ‘n getuienis wat meer mense kan oorreed om Hom te vertrou en in die vreugde te deel om sy kinders te wees.

Dit is terloops totaal buite die kwessie om 2 Petrus 3:8 se “een dag soos duisend jaar” te beskou as ‘n basis om die ouderdom van die aarde en die tyd van die wederkoms te bereken. Daar is die gedagte dat God die aarde in ses dae gemaak het en die sewende dag gerus het (*Skepping), en dat dit dan sou beteken dat die aarde net 6 000 jaar bestaan (een dag soos duisend jaar) voordat die wederkoms aanbreek met die sewende dag as die *Duisendjarige Vrederyk. Maar dis ‘n willekeurige interpretasie van hierdie teks wat in elk geval dan geen raad sal hê met die tweede deel – “en duisend jaar soos een dag” – nie.

 

Outeur: Prof Adrio König