Die Groot Geloofswoordeboek: Doop met die Heilige Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Doop met die Heilige Gees

Die uitdrukking “die doop met die Heilige Gees” kom ses keer in die Nuwe Testament voor. Vier keer kom dit voor in die mond van Johannes die Doper as hy verwys na Jesus wat met die Heili­ge Gees sal doop (Matt 3:11; Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33), een maal as ‘n uitspraak van Jesus self (Hand 1:5) wat na die uitstorting van die Gees verwys (Hand 2), en een keer in die mond van Petrus tydens Kornelius se bekering (Hand 11:16).

Hierdie uitsprake verwys almal direk of indirek na die uit­stor­ting van die Gees op Pinksterdag (Hand 2). Johannes kontrasteer sy doop, wat ‘n *bekeringsdoop was, met Jesus wat met die Gees kom doop. En Jesus verwys direk na die uitstorting van die Gees as Hy praat van “die doop met die Gees” (Hand 1:5).

Die enigste ander keer wat die uitdrukking voorkom, is Petrus se verwysing na Kornelius se bekering. Terwyl Petrus gepreek het, het die Gees op Kornelius-hulle gekom. Lukas verklaar dat die gawe van die Gees op hulle “uitgestort” is (Hand 10:46 ev) net soos op die dissipels op Pinksterdag. Nie minder nie as vier keer beklemtoon hy dat die Gees ook op die heidene gekom het “net soos op ons” (op die Joodse gelowiges – en wel op Pinksterdag). Wat dit beteken, word duidelik as ‘n mens dink aan die stryd wat die Here gehad het om Petrus te oortuig dat heidene net soos Jode deel het aan die volle heil wat Christus bewerk het (Hand 10). Die gebeurtenis by Kornelius is in hierdie sin net ‘n bevestiging dat Pinkster ook vir die heidene was, soort van ‘n Pinkster-vir-die-heidene.

Maar dit beteken dat “die doop met die Heilige Gees” ‘n teg­niese term is vir Pinkster. Die uitdrukking word dan ook nooit in die Nuwe Testament gebruik vir ander ervarings nie, ook nie vir individuele ervarings van mense na hul bekering nie. Net soos die kruisiging en die opstanding van Jesus is die koms van die Gees tydens die Pinksterfees (Hand 2) ‘n unieke gebeurtenis wat nie her­haal word nie. Dit is dus ‘n ongewone gebruik van hierdie term om vandag van gelowiges se individuele ervarings te praat as “doop met die Gees”. Die Nuwe Testament gebruik ander terme vir indi­vi­due se ervarings, soos *vervulling met die Gees. Ons het veral in Han­delinge ook nog ander uitdrukkings, soos dat die Gees op of oor mense gekom het. Dit is ‘n ervaring wat ge­lowiges herhaalde­lik kan hê. Maar tegnies is die doop met die Gees, of die uitstorting van die Gees, die eenmalige gebeurtenis waarna Handelinge 2 verwys.

Dit beteken nie dat mense nie vandag wonderlike ervarings met die Gees het nie, maar net dat dit nie is wat in die Nuwe Testament die doop met die Gees genoem is nie.

 

OuteurProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Drie-eenheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Drie-eenheid

Die Drie-eenheid

Die begrip

Die begrip “Drie-eenheid” word in die Christelike geloof gebruik vir God. Ons glo dat daar net een God is, maar dat die Vader én Jesus én die Heilige Gees al drie saam hierdie een God is. Logies lyk dit moeilik dat drie maal een (Vader én Seun én Gees) een kan wees. Daar was dan ook altyd groepe wat dit ontken en selfs belaglik voorgestel het. En daar was ook altyd welmenende Christene wat ernstige probleme daarmee gehad het. Maar dit is tog nie regtig so moeilik om iets daarvan te verstaan nie.

Daar word in twee betekenisse van Drie-eenheid gepraat, we­senlike of immanente Drie-eenheid en ekonomiese Drie-eenheid. Wesenlike Drie-eenheid beteken dat God van alle ewigheid af Drie-enig was, dat Hy dus wesenlik Drie-enig is en dit altyd was, selfs voor die skepping. Dit is nie so dat God voor die skepping eintlik net een was, maar tydens sy werk op aarde drie geword het, as’t wa­re in drie verdeel het toe Hy as die Vader die Seun gestuur het en later die Gees nie.

Die tweede betekenis, ekonomiese Drie-eenheid, is dat God ook in die geskiedenis as drie-in-een optree. Al Drie is betrokke by alles wat enigeen van die Drie doen, maar Hulle bly tog on­derskeie van mekaar. As die Seun as mens op aarde gebore word, is dit die Vader wat Hom stuur en die Gees wat oor Maria kom. Maar dis die Seun wat mens word, nie die Vader of die Gees nie. As Jesus gekruisig word, is dit die Vader wat Hom oorgee en verlaat (Rom 8:32), en die Gees wat Hom bystaan (Heb 9:14), maar dis nie die Vader of die Gees wat gekruisig word nie.

Terloops, die woord “ekonomies” het vroeër ook die betekenis gehad om dinge te laat werk.

Waarom glo ons so ‘n moeilike leerstelling oor God? Net omdat ons oortuig is dat ons dit in die Bybel kry. Dit word natuurlik nie presies só in die Bybel geformuleer nie, maar ons kry daar duidelik twee gedagtes:

 

•             Daar is net een ware God.

•             Daar is drie wat saam as hierdie God vereer word.

 

Daarom gaan ons nou na die Bybel kyk.

Net één ware God

Dit is duidelik genoeg uit die Bybel dat daar net een ware God is: die God van Abraham, Isak en Jakob, wat ook die God van Israel genoem word. Natuurlik is daar volgens die Bybel ook baie ander gode, maar net Israel se God is die ware God. Dit is alreeds duide­lik uit die eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3; kyk ook Deut 6:14-15). Veral in die tweede deel van Jesaja is daar ‘n sterk nadruk op die uniekheid van God. Net die Here is God, die ander gode is “nikse” (Jes 40:18 ev; 43:8 ev; 44:8 ev; 45:14 ev; 45:20 ev; 46:1-12).

Die feit dat daar net een ware God is, het niks met die getal een te doen asof dit vanself beter is dat daar net een God is, en nie meer as een nie. Die getal “een” is nie ‘n heilige getal nie. As daar meer as een ware God was, sou die Bybel dit met net soveel nadruk geleer het.

Maar juis dit stel ons voor die probleem dat meer as een in die Bybel inderdaad God genoem word. Soos reeds gesê, word die eenheid van God in die Ou Testament beklemtoon. Die God van Israel is die een ware God. Maar in die Nuwe Testament is daar naas God die Vader ook Jesus en die Heilige Gees, en beide van Hulle word skynbaar ook as God beskou.

 

OuteurProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Christus se twee nature

Die Groot Geloofswoordeboek: Christus se twee nature

Christus se twee nature

Ons bely dat Christus twee nature het: ‘n Goddelike natuur, en ‘n menslike natuur. Dit is woorde wat nie in die Nuwe Testament van Hom gebruik word nie, maar só geformuleer is tydens die Sinode van Chalcedon in 451 nC. Dit was ‘n poging om in die filosofiese taal van daardie tyd te bely dat Hy op een of ander manier sowel Goddelik as menslik was. Daar is genoeg gegewens in die Nuwe Testament om hierdie oortuiging te regverdig. So ‘n formulering was nodig nadat die kerk in 325 nC by Nicea uitdruklik sy Goddelik­heid bely het. Daar was altyd die neiging om uit eerbied net aan Jesus as ‘n Goddelike wese te dink en dan te vergeet Hy was ook waarlik ‘n mens. Dit bring mee dat Hy eintlik so ver van ons af staan dat ons Hom net aanbid en bewonder, en nie besef dat Hy eintlik as mens vir ons ‘n voorbeeld was nie. Paulus hou Hom uitdruklik voor as ‘n voorbeeld van hoe ons ander se belange hoër as ons eie moet ag, en eerder na hulle belange moet omsien as na ons eie (Fil 2:3 ev).

Sy Goddelike natuur word elders bespreek. (*Drie-eenheid)

 

Menslikheid van Christus

Met die formulering dat Christus nie net waarlik God is nie, maar ook waarlik mens, wou Chalcedon dus voorkom dat men­se aanvaar dat Hy net skynbaar ‘n mens was. Maar daar is sterk uitsprake in die Nuwe Testament wat ons daaraan herinner dat Hy in die volle sin van die woord ‘n mens was. Hy sê self Hy weet nie wanneer die wederkoms sal wees nie (Matt 24:50). Ons lees dat Hy aan God “gebede en smekings geoffer het met harde geroep en trane” en dat Hy “uit alles wat Hy gely het, ge­leer het wat gehoorsaamheid is”, en dat Hy deur sy lyding volmaak geword het (Heb 5:7, 8; 2:10). Dit is sterk getuienisse vir sy menslikheid wat aansluit by die feit dat Hy honger en dors geword het.

Hierdie nadruk op die menslikheid van Christus doen egter nie afbreuk aan sy Goddelikheid nie. (*Drie-eenheid)

Daar is egter ‘n paar interessante vrae oor hierdie formule­ring van ‘n Goddelike natuur en ‘n menslike natuur.

Tegelyk God én mens?

Hoe is dit moontlik dat Hy tegelyk God­delik en menslik kan wees? Is daar nie so ‘n groot verskil tussen God en mens dat dit eintlik onmoontlik sou wees om tegelyk al twee te wees nie? Het dit nie ‘n ondraaglike spanning in Jesus se lewe veroorsaak nie?

Dit is ‘n baie natuurlike reaksie as ons God en mens téénoor mekaar stel. God is groot, magtig, heilig, onfeilbaar, ewig, en ons is klein, nietig, sondig, vol foute en sterflik. Hoe kan iemand gelyk al twee wees? (*Sondeloosheid van Christus)

Maar daar is ook ‘n ander manier om na God en mens te kyk. Daar is ‘n sin waarin God en mens nie regtig so ver van mekaar is en so téénoor mekaar staan nie. Onder die mens as *beeld van God word dit duidelik dat daar ‘n bepaalde analogie (beperkte ooreenkoms) tussen God en mens is. Daar is aandag gegee aan die “soos”-uitsprake van die Bybel: dat ons soos God moet optree (barm­hartig wees, heilig wees). As ons bedoel is om die beeld van God te wees, beteken dit dat iets van God in ons lewe sigbaar moet kan word.

Die blote feit dat ons bedoel is om die beeld van God te wees beteken dus dat ons nie regtig so ver van God af is, so to­taal anders as God is nie. Iets van God se liefde moet in ons lewe sigbaar kan word, iets van sy heiligheid, van sy geduld, ensovoorts. Maar kan dit regtig?

Onthou, dit gaan oor die mens soos God ons bedoel het om te wees, en nie hoe ons deur ons sonde geword het nie. En dit is presies hoe Jesus was. Hy was nie ‘n sondige mens nie. Dit be­teken dat Hy in sy lewe as mens kon wys wat God met ons as mense in gedagte gehad het. Sy lewe as mens was ‘n analogie van God se lewe. Sy liefde, ontferming, geduld en heiligheid was ‘n getroue weergawe van hoe God is. Sy Goddelike natuur en sy menslike natuur het dus presies by mekaar gepas. Sy liefde was die liefde wat ‘n mens moet hê om God se liefde te wys. Daar was dus volkome harmonie tussen sy goddelike en sy menslike natuur omdat Hy die soort mens was wat God bedoel het ons moet wees.

As ons dan deur die *doop en die geloof (*Heilsweg) met Christus verenig is, kan ook in ons lewe iets van God sigbaar word. God kan dus iets van sy doel met ons in ons lewe bereik. Maar oppas. Dis eintlik nie ons lewe nie. Paulus het tog geskryf: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:19-20). God word dus nie in my eie lewe sigbaar nie, maar in die lewe van Christus waaraan ek nou genadiglik mag deelneem. Nie my oorwinningslewe nie, maar sy oorwinningslewe waaraan ek mag deelneem. (*Heiligmaking)

 

Vreemde formulerings

Het Hy ‘n dubbellewe gelei? Was Hy afwisselend God en mens? Daar is mense wat sekere dinge wat Hy gedoen het aan sy God­delikheid toeskryf en ander aan sy menslikheid. Hulle meen byvoorbeeld sy wonderwerke het Hy as God gedoen, maar aan die kruis het Hy net as mens gesterf.

Die oomblik as ons by hierdie sienings kom, besef ons daar word nooit só in die Nuwe Testament oor Hom geskryf nie. Hy doen nie een ding in sy Goddelikheid en ‘n ander in sy menslikheid nie. Hy het nie ‘n dubbellewe wat afwisselend die een en dan weer die ander
is nie. Chalcedon het iets daarvan besef en daarom besluit dat sy twee nature deur een Goddelike Persoon verenig word.

Die motief was baie lofwaardig: om die eenheid van sy Per­soon te bewaar. Maar die formulering skep probleme. Dink maar net aan sy sterwe. As ons nou aanvaar dat dit net sy menslike natuur was wat gesterf het, dan het sowel sy Goddelike natuur as sy Godde­li­ke Persoon bly leef. Was Hy dan regtig dood? Of was dit net ‘n derde van Hom wat dood was, en dan nog die minsbelangrike derde?

Met dié soort denke beland ons eenvoudig buite die damp­kring van die Nuwe Testament. Miskien is die probleem dat ons te veel probeer om Jesus as twee entiteite te verstaan wat op ‘n manier saam­gevoeg is en een lewe lei. Daarmee vergeet ons dat Hy ‘n unie­ke Persoon was wat in ‘n sin tussen God en mens gestaan het. (*Mid­delaar)

En ons vergeet verder dat hierdie unieke Persoon baie meer as mens geleef het, en dat daar min van sy Goddelikheid sigbaar was in sy lewe. Die Fariseërs en ander Joodse leiers het nie in aanbidding voor Hom neergeval as hulle Hom sien nie. Hulle het Hom as ‘n mens beleef; trouens, hulle kon baie ongeskik teenoor Hom wees. Hulle het Hom byvoorbeeld ‘n vraat en ‘n wynsuiper genoem (Luk 7:34), wat bepaald nie vleiend was nie. Ons lees ook ‘n interessante woord by Paulus: dat Christus, wat gelyk aan God was (en selfs toe Hy ‘n mens geword het, aan God gelyk gebly het), Homself verneder of ontledig het, en soos ‘n slaaf geword het (Fil 2:6 ev). Die minste wat dit kan beteken, is dat Hy sy Goddelikheid nie opvallend laat funksioneer het nie.

Dit beteken dat ons Jesus in die eerste plek as ‘n unieke Mens moet sien.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Dienaar van die Here

Die Groot Geloofswoordeboek: Dienaar van die Here

Dienaar van die Here

“Die dienaar (kneg) van die Here” is ‘n figuur van wie ons in Jesaja lees. Daar is vyf liedere wat die liedere van die Dienaar (Kneg) van die Here genoem word, die Ebed Jahwe-liedere (Jes 42:1-4; 49:1-6; 50:4-9; 52:13-53:12; 61:1-2).

Dit is moeilik om uit Jesaja se liedere af te lei wie hierdie figuur is. Daar is selfs die teorie dat dit eintlik terugverwys na Moses. Op een plek word Israel self die dienaar genoem (49:3). Gewoon­lik word aanvaar dat dit egter ‘n latere invoeging is omdat dit nie met die res van die liedere klop nie. Dit is egter ‘n vraag of dit noodwendig so is. Ons kry in die Ou Testament die gedagte van ‘n inkrimping of toespitsing van die mensdom. God begin met alle volke. Maar ná die toring van Babel kies Hy Abraham om uit hom ‘n enkele volk te bou. En deur Israel se aanhoudende ontrou, bly daar later net ‘n “oorblyfsel” (“klompie”) oor (Jes 1:9). Maar uit­eindelik is Jesus die enigste Een wat in ons almal se plek voor God staan.

Dit beteken dat dit wat God vir Israel bedoel het, uiteindelik in Jesus vervul is. (*Vervulling van Profesieë) In hierdie lig is dit nie so vreemd dat Israel bedoel was om die dienaar te wees, maar dat Jesus dit uiteindelik namens hulle moet vervul nie.

Jesaja 53 het altyd die meeste aandag getrek van al hierdie liede­re, juis omdat dit op so ‘n merkwaardige manier in Jesus vervul is.

Daar is egter ‘n misverstand wat opgeklaar moet word. Mense meen dat Jesaja 53 ‘n Messiaanse profesie is. (*Messias) En daarby verwag hulle dan dat die voornaamwoorde met ‘n hoofletter moet begin (Hy, Hom – 53:4-10) omdat dit in Jesus vervul is.

Eintlik is hier twee misverstande ter sprake.

Eerstens is Jesaja 53 nie ‘n Messiaanse profesie nie, dit bete­­­ken dis nie ‘n profesie waarin ‘n Messias beloof word soos byvoor­beeld Jesaja 9:1-6; 11:1-10 nie. Jesaja 53 is ‘n profesie oor die die­naar, nie die Messias nie. En daar is ‘n geweldige verskil. Die Messias sou as koning in heerlikheid kom om Israel se vyande te vernietig en Israel se heerlikheid te herstel. Maar die dienaar sal in vernedering kom, verwerp, geminag en gemartel word.

Ons verstaan dit beter as ons onthou dat daar in die Ou Tes­tament ‘n hele aantal figure vir die toekoms beloof word: ten minste die profeet, die dienaar, die Messias en die Seun van die mens. Alhoewel al hierdie profesieë in Jesus vervul is, maak dit hulle nie almal skielik Messiaanse profesieë nie, dit wil sê profesieë waarin ‘n Messias beloof word.

Die tweede misverstand is dat dit oneerbiedig is om nie die per­soonlike voornaamwoorde wat na die dienaar verwys, met ‘n hoofletter te begin nie. Kritici op die Vertaling van 1983 het so­ ver gegaan as om te beweer dat “Jesus uit die Ou Testament weg­vertaal is”.

Kom ons kyk versigtig hierna. Alhoewel hierdie profesie in Jesus vervul is, gebruik hulle hier in Jesaja 53 kleinletters. Maar in Jesaja 9:1-6 gebruik hulle wel hoofletters (Seun, Hy). Waarom? Om ‘n baie eenvoudige rede. Die vertaler probeer so vertaal dat die leser van vandag kan lees en verstaan wat die leser van destyds verstaan het. Die lesers van destyds het nie besef die profesie van die dienaar sou in ‘n Goddelike Persoon vervul word nie. Daar was niks in Jesaja 53 wat hulle so kon laat dink het nie. Maar in Jesaja 9 was wel aanduidings dat daardie profesie net in ‘n Goddelike Persoon vervul kon word. Hy word immers genoem: Magtige God, Ewige Vader.

Wanneer die vertalers in die Nuwe Testament kom waar hierdie profesieë in Jesus vervul is, gebruik hulle wel hoofletters.

Outeur: Prof Adrio König