Die Groot Geloofswoordeboek: Dood en Lewe na die dood

Die Groot Geloofswoordeboek: Dood en Lewe na die dood

Dood

Die woord “dood” word in die Bybel in minstens vyf bete­kenisse gebruik:

•             dood as ‘n toestand wanneer die biologiese lewe opgehou het

•             dood as ‘n bose mag

•             dood as die geestelike toestand van iemand wat nie die Here ken nie

•             dood as deel van die oorwinning van ‘n gelowige oor die sonde (dood vir die sonde)

•             dood as die ewige verderf

 

Die eerste twee betekenisse kry ons alreeds in die Ou Tes­ta­ment.

Eerstens dood as die beëindiging van die gewone biologiese lewe. In die Ou Testament is hierdie dood egter nooit ‘n on­skuldige saak nie. Inteendeel, dit was juis vir die gelowiges ‘n skrikwekkende bedreiging. Juis omdat iemand die Here liefhet, sien hy of sy nie kans om te sterf nie (Jes 38:1-22). Dit beteken dat die tweede betekenis van dood, dood as ‘n bose mag, van die begin af deel van die biologiese dood was. Om dood te gaan was die beëindiging van gemeenskap met die Here in ‘n totaal hooplose en uitsiglose toestand, weggeruk uit die teenwoordigheid en die mag van die Here, en uitgelewer aan die mag van die dood (Job 10:20-22; Ps 88:4-13). Hierdie uitsiglose bestaan onder die mag van die dood kon nie regtig “lewe na die dood” genoem word nie omdat ware lewe net in gemeenskap met God bestaan het.

Die dood het van die begin af hierdie bedreigende karakter. Volgens Genesis 2:17 het die dood as straf op die sonde gekom juis in die sin dat dit soos die sonde die mens uit God se gemeenskap sal vervreem. Die Ou Testament weet dus nie van ‘n biologies “on­skuldige” dood nie. Die dood is ‘n straf en ‘n bedreiging.

In hierdie lig is dit volkome duidelik waarom die evangelie in die Nuwe Testament as opstandingsevangelie begin. (*Opstan­ding) Die dissipels heg aanvanklik geen heilswaarde aan die *kruis nie. Dit is ‘n skanddaad, selfs ‘n moord. Hulle is getuies van Jesus se op­standing (Hand 3:15; 4:10; 5:30, 32). Selfs die ver­gifnis van sonde wat hulle verkondig, word aanvanklik nie aan sy kruis verbind nie (Hand 3:19; 5:31). Eers Paulus doen dit baie later, die eerste keer in Galasiërs 1:4. Die opstanding is die evangelie wat hulle aanvanklik verkondig omdat die dood die groot probleem in die Ou Testament was. En nou is die mag van die dood gebreek, al is die dood (as mag) nog nie vernietig nie. Paulus noem die dood “die laaste vyand wat vernietig word” by die wederkoms van Christus (1 Kor 15:26). Maar nou weet hulle dat hulle selfs deur die dood heen in gemeenskap met God sal bly.

Die derde en vierde betekenisse van dood is baie interessant. Ongelowiges én gelowiges is “dood”, ongelowiges vir God, en ge­lowiges vir die sonde.

Die derde betekenis: Ongelowiges is dood vir God (Ef 2:1 ev). Dit beteken dat hulle God nie kan dien nie. ‘n Mens kan die begrip *we­der­geboorte hiermee in verband bring: hulle moet van God nuwe lewe ontvang om in staat te wees om Hom te dien. ‘n Mens moet dit nie so verstaan dat ‘n mens jou nie kan bekeer voor jy weergebore is nie, en ook nie dat ‘n mens eers tot *bekering moet kom voor jy weergebore word nie. Beide is misverstande. (*Heilsweg)

Die vierde betekenis: Gelowiges is dood vir die sonde. Ons kry dit veral by Paulus. Ons is deur die *doop en die *geloof aan Christus verbind sodat ons deel in alles wat met Hom gebeur het: sy lyding, kruisiging, dood, opstanding. Omdat Hy vir die sonde gesterf het, deel ons in sy dood vir die sonde, net soos ons nou deel in sy lewe vir God omdat Hy van God ‘n nuwe lewe ontvang het (Rom 6:3-10). Paulus se uiteensetting eindig kort en saaklik: “Julle moet dus al­tyd onthou dat ook júlle (nie net Jesus nie) vir die sonde dood is, maar vir God lewe omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom 6:11). Om só dood te wees vir die sonde beteken nie dat die gelowiges vanselfsprekend geen sonde kan doen nie. Maar dit beteken wel dat hulle weerstand teen die sonde kan bied en nie langer in diens aan die sonde hoef te leef nie (Rom 6:12 ev).

Die vyfde betekenis waarin dood gebruik word, is die verderf. Daar is die algemene waarheid dat die loon wat die sonde gee, die dood is (Rom 6:21-23), en dan die spesifieke verwysing na “die tweede dood” (Op 20:6) wat op die verderf slaan (Op 21:13). In hierdie geval sou die eerste dood dan óf die dood-in-sonde wees, óf die dood as die einde van die biologiese lewe.

 

Lewe na die dood

Omdat die dood in die Ou Testament die beëindiging was van die gemeenskap met God, kon daar nog nie sinvol oor lewe na die dood gepraat word nie. Gelowiges kon nie dink aan werklike lewe buite gemeenskap met God nie. Dit was juis die oorsaak vir hulle vrees vir die dood: hulle verloor hierdie gemeenskap. Al was daar dan ‘n soort skimbestaan na die dood was dit hoegenaamd nie die woord “lewe” werd nie. Hulle was onder die mag van die dood afgesny van God.

Baie mense meen dat hierdie probleem “oorwin” word deurdat daar ‘n *onsterflike siel is. By die dood is dit net die *liggaam wat doodgaan. Die *siel is onsterflik en gaan dadelik na God toe.

Daar is egter nie regtig so ‘n gedagte in die Nuwe Testament nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Die gedagte dat ‘n mens ‘n on­sterflike siel het, kom van Plato af wat nie die skrikwekkende werklikheid van die dood wou aanvaar nie.

Die Bybel het ‘n ander antwoord. Ons het reeds gewys op die feit dat die evangelie aanvanklik die opstandingsevangelie was. Dít is die Christene se hoop en troos. Jesus het uit die dood op­gestaan en só die dood oorwin. Deur die *doop gee Hy ons deel aan sy opstandingslewe sodat ons nou reeds deel het aan ‘n lewe wat deur die dood heengegaan het en oorwinnend anderkant uitgekom het. Selfs as ons nou sterwe, het ons nog steeds deel aan hierdie lewe en bly ons in Jesus se gemeenskap.

“Die lewe na die dood” is ons aandeel aan Jesus se op­stan­dings­lewe, nie ons eie kwaliteit dat ons in onsself iets het wat sterker is as die dood en ongeskonde deur die dood heengaan nie. As dit waar was, het die gelowiges in die Ou Testament in ‘n waan verkeer en heeltemal onnodig die dood gevrees. Nie ons eie onsterflikheid nie, maar Jesus se oorwinning oor die dood is ons hoop en ons troos.

 

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd

Chiliasme/Dispensasionalisme

  • Millennium/Vrederyk Wegraping
  • Groot Verdrukking Merk van die Dier (666)
  • Armageddon Premillennialisme
  • Postmillennialisme Amillennialisme

Chiliasme/Dispensasionalisme

Chiliasme/Dispensasionalisme verteenwoordig ‘n beson­de­­re sie­­ning oor die toekoms, en veral oor die gebeurtenisse rond­om die wederkoms van Christus. Dit is ‘n ingewikkelde skema met gewel­dig baie kleiner besonderhede. Daar is ook baie ver­skille tussen die voorstanders van hierdie skema. Die woord “Chilias­me” is afgelei van die Griekse woord chilios wat “duisend” beteken. Dit verwys na die Duisendjarige Vrederyk wanneer die duiwel gebind word (Op 20). Die Latynse woord “Millennium” wat vir die Vrederyk ge­bruik word, beteken ook “duisend”, so­dat hierdie beskouing ook die Millennialisme genoem word. Die woord “Dispensasionalisme” kom van “dispensasie” of tydperk. Dit verwys na die oortuiging dat die wêreldgeskiedenis in ‘n aantal tydperke ingedeel is waarvan die Dui­sendjarige Vrederyk die laaste een is net voor die einde (voor die nuwe hemel en die nuwe aarde kom).

 

Dispensasionaliste verskil oor hoeveel en presies watter tyd­perke daar is. Sommige aanvaar so min soos vier, en ander soveel soos ag. Heelwat dispensasionaliste aanvaar dat daar sewe tyd­perke of dispensasies is:

 

1.            die dispensasie van onskuld (voor die sondeval)

2.            die dispensasie van die gewete (voor Noag)

3.            die dispensasie van burgerlike regering (sedert Noag)

4.            die dispensasie van die belofte (aan Abraham)

5.            die dispensasie van die Mosaïese wet (die res van die Ou Tes­tament)

6.            die dispensasie van die genade of die kerk (die Nuwe Tes­ta­ment)

7.            die dispensasie van die Duisendjarige Vrederyk

 

Die Duisendjarige Vrederyk neem ‘n sentrale plek in hierdie siening in. Alhoewel daar heelwat kleiner verskille tussen Chi­liaste is, aanvaar die meeste die volgende dinge wat moet gebeur:

 

•             die Wegraping van alle lewende gelowiges

•             die opstanding van die gestorwe gelowiges

•             die oordeel oor alle gelowiges

•             die bruilof van die Lam in die lug

•             die verskyning van die antichris op aarde

  • die groot verdrukking wat sewe jaar lank sal duur (in hier­die tyd sal net dié wat die Merk van die Dier (666) op hul hand of voorkop het, kan koop of verkoop)

•             die wederkoms van Christus

•             die slag van Armageddon

•             ‘n massabekering van die Jode

•             die binding van Satan

•             die Duisendjarige Vrederyk waartydens Christus in Je­ru­sa­lem op die troon van Dawid die wêreld sal regeer

•             die ontbinding van Satan na die Millennium

•             die oorlog van Gog en Magog

•             die vernietiging van Satan en die bose magte

•             die opstanding van die ongelowiges en hulle oordeel

•             die vernuwing van die hemel en die aarde

Die Wegraping

 

Die Wegraping is ‘n wesenlike deel van hierdie siening. Voor die eintlike wederkoms van Christus sal Hy onsigbaar kom en al die gelowiges in die lug opneem. In die lug sal die gelowiges dan die bruilof van die Lam vier (Op 19) terwyl die Groot Verdrukking op aarde aan die gang is. Tydens die Wegraping sal al die gelowiges wat reeds gesterf het, opstaan en sal hulle geoordeel word voor die regterstoel van God (Rom 14:10). Hier­die oordeel moet dui­delik onderskei word van die oordeel van die ongelowiges wat eers ná die Millennium sal plaasvind en die oordeel voor die groot wit troon genoem word (Op 20:11).

Dit is ‘n kenmerk van die Chiliasme of Dispensasionalisme dat toekomsgebeure verdubbel word. Hulle verwag twee kom­ste van Christus (die Wegraping en die eintlike wederkoms), twee op­stan­dings (die een van die gelowiges en baie later die ander een van die ongelowiges), en twee oordele (die oordeel van die gelowiges voor die regterstoel, en dié van die ongelowiges voor die groot wit troon).

Die Wegraping en die toekomstige Millennium is die sluitstuk­ke van die Chiliasme. Oor die Millennium word later kritiese vrae gevra. Maar nou eers ‘n paar opmerkings oor die Wegraping.

Vrae oor die Wegraping

Chiliaste is oortuig dat daar eers ‘n Wegraping sal wees waar­ty­dens al die kinders van God (of vol­gens sommige net dié wat die *tweede genadewerk ont­vang het) in die lug opgeneem sal word, en dan heelwat later die weder­koms. Die Wegraping sal skielik wees en die Here sal vir die ongelowiges onsigbaar wees, terwyl die wederkoms eers sal plaasvind nadat sekere tekens vervul is en dan sal die Here vir almal sigbaar kom.

Daar is ‘n paar vrae oor hierdie siening. Eerstens waarom daar op geen plek in die Bybel na albei komste verwys word nie. Elke keer word net na een koms verwys, wat dan volgens die Chiliaste óf die Wegraping, óf die wederkoms is. Maar selfs in die lang uiteenset­tings wat Jesus oor die toekoms gee, en Paulus se lang hoofstuk oor die opstanding, word elke keer net na een koms verwys.

Dis moontlik dat Matteus 24 ‘n uitsondering is. Volgens baie Chiliaste word in 24:30 na die wederkoms verwys, en in 24:40 na die Wegraping. Maar ander ontken dit juis, want die moeilikheid is dat 24:40 ná 24:30 staan, wat beteken dat Jesus die wederkoms vóór die Wegraping behandel terwyl die Wegraping tog vóór die wederkoms moet plaasvind. En daar is geen aanduiding dat Jesus ná 24:30 oorgaan om na ‘n ander koms te verwys nie. Hy bly deurgaans met dieselfde koms besig. Presies dieselfde situasie kry ons in Lukas 17. Ons lees oor die wederkoms in 17:24, en dan in 17:34 ‘n verwysing wat as die Wegraping beskou word. Maar die Wegraping kan tog nie ná die wederkoms plaasvind nie, en nogeens is daar geen aanduiding dat Jesus ná 17:34 oorgaan na ‘n ander koms nie. Skynbaar gaan dit in beide hoofstukke om die één wederkoms wat met verskillende beelde beskryf word.

In die res van die Nuwe Testament is daar ‘n klomp tekste wat volgens Chiliaste na die Wegraping verwys. Maar behalwe 1 Tessa­lonisense 4 is daar nie een wat enige besonderhede gee nie. Elke keer is dit net ‘n kort verwysing soos: “Wanneer die He­re kom/verskyn.” Trouens, die een probleem is juis dat ‘n hele paar van hier­die tekste verwys na die verskyning van die He­re ter­wyl die Chiliaste glo sy koms sal onsigbaar wees vir die on­ge­­lo­wiges. Nêrens kom hierdie gedagte van “onsigbaar vir die on­gelowiges” egter voor nie. Daarom kan elkeen van hierdie kort ver­wysings netso­wel na die wederkoms self verwys. Kyk on­der andere na die volgende tekste waar “verskyn” elke keer in die Grieks voorkom: 1 Korintiërs 1:7; Ko­lossense 3:4; Titus 2:13; Hebreërs 9:28; 1 Petrus 5:4; 1 Johannes 2:28; 3:2. Om watter rede moet hierdie tekste na die Wegraping verwys, en nie na die we­der­koms self nie?

Daar is net een redelike lang verwysing na dit wat hulle meen die Wegraping is: 1 Tessalonisense 4:13-18. Die rede is omdat dit volgens hulle duidelik verskil van 1 Tessalonisense 3:13 wat volgens hulle na die wederkoms verwys. Dit is opvallend dat daar dan weer eerste na die wederkoms en eers daarna na die Wegraping verwys word.

Waarom meen die Chiliaste dit gaan hier om twee verskillen­de komste? Omdat Hy in 3:13 saam met sy “heiliges” (Grieks: hagioi) kom, maar in 4:13-18 vir sy heiliges. (Terloops, die woord “heiliges” kom nie in 4:13-18 voor nie.) Die implikasie sou dan wees dat sy “heiliges” al met die Wegraping (4:13 ev) saam met Hom is, en met die wederkoms weer saam met Hom terugkom. Maar dit is nie die enigste moontlike verklaring nie. Sommige vertalings het “heilige engele” vir “heiliges”. Dit sou beteken dat Hy saam met die engele kom (3:13) om sy kinders te kom haal (4:13 ev), ‘n voorstelling wat presies net so in Matteus 24:31 voorkom.

Die tweede verskil tussen 3:13 en 4:13-18 sou dan wees dat Hy in 3:13 tot op die aarde kom, maar in 4:14-18 net tot in die lug. Behalwe vir die feit dat ‘n mens regtig huiwer of sulke klein be­sonderhede rede kan wees vir twee verskillende komste, staan daar nie in 3:13 dat Hy tot op die aarde kom nie. Op watter gron­de moet ons dan aanneem dat ons hier met twee verskillen­de komste te doen het?

Daar word ‘n laaste verskil aangegee: die Wegraping sal skie­lik en onaangekondig wees, maar die wederkoms sal plaasvind nadat sekere tekens eers vervul is. Die probleem hiermee is dat presies wat in 1 Tessalonisense 5 oor die sogenaamde Wegraping staan, elders oor die wederkoms staan: onverwags, skielik (Matt 24:36, 42, 44, 50; 25:13). Selfs die beeld van die dief in die nag kom net so in Matteus 24:43 voor.

Onthou dat 1 Tessalonisense 4:17 eindig met: “En so sal ons altyd by die Here wees.” Ons kry glad nie die indruk dat daar nog ‘n klomp dinge soos ‘n ander koms daarna moet gebeur nie. Dan is die laaste vraag oor 1 Tessalonisense 4:13-18 wat as die finale toetssteen vir die Wegraping geld: Waarom kan dit nie oor die wederkoms handel nie?

 

Premillennialisme, Postmillennialisme, Amillennialisme

Die Chiliasme is Premillennialisties. Maar daar is ook ander sie­nings oor die Duisendjarige Vrederyk. Die verskillende sienings word nou saam behandel.

Wat tot dusver bespreek is, is die Premillennialisme. Hier­vol­gens sal die wederkoms van Christus vóór (pre-) die Millennium plaasvind. Volgens die Postmillennialisme sal die wederkoms ná (post-) die Millennium plaasvind. En die Amillennialisme is oortuig dat ons al klaar in die Vrederyk leef.

 

Die Premillennialisme

Die Premillennialisme heg baie groot waarde aan die toe­komstige Vrederyk. Hulle word nie verniet as Chiliaste geken nie, ‘n woord wat direk van “die duisend jaar” afgelei is. Hulle staan baie sterk op die letterlike vervulling van die profesieë, en hulle is oortuig dat daar baie profesieë in die Ou Testament is wat nog nie vervul is nie en wat net vir die Jode vervul kan word in ‘n besondere tyd van vrede wat onder die direkte heerskappy van die Messias op aarde moet kom. Dink maar net aan Jesaja 11:1-10.

Hulle meen ook dat die Jode nog hulle kans moet kry om die wêreld te evangeliseer, en dit sal juis wees wanneer Jesus letter­lik op die troon van Dawid in Jerusalem sal sit en oor die hele aarde regeer. Sommige groepe onder die Chiliaste beplan al om die tempel te help herbou omdat Jesus nooit sonder die tempel in Jerusalem kan regeer nie. Daar is selfs van hulle wat meen die hele offerdiens sal herstel word en dat daar weer priesters sal wees wat tydens die feeste die mense uit die wet leer. Dit sal die tyd wees wanneer die Jode hulle as volk sal bekeer (Rom 11:26) en hulle sal dan al die nasies wat nog nie die Messias erken nie, tot geloof in Hom oproep.

‘n Mens moet onthou dat die Premillennialiste oortuig is dat die Ou Testament in ‘n sekere sin die eintlike Bybel is en die Nuwe Testament ‘n soort tussenfase is, die onverwagse tyd van die kerk wat moet verbygaan sodat God uiteindelik sy eintlike doel met die wêreld deur Israel kan bereik. Hulle meen daar is geen profesieë oor die kerk in die Ou Testament nie. Die tyd van die kerk is ‘n onvoorsiene tyd, “die tyd van die heidene” (Luk 21:24; Rom 11:25).

‘n Ander kenmerk van hierdie toekomsverwagting is die feit (waarop alreeds gewys is) dat hulle die groot gebeurtenisse wat ons ver­wag, verdubbel. Hulle verwag twee wederkomste (die onsigbare Wegraping en die sigbare wederkoms), twee op­stan­dings (dié van die regverdiges, en dié van die goddeloses) en twee oordele (die een voor die regterstoel, en die ander een voor die groot wit troon). Dit is moontlik dat dit verband hou met hulle Skrifbeskouing wat om­trent deurgaans fundamentalis­ties is. Elke woord word letterlik geneem. As een teks van die regterstoel praat (Rom 14:10) en ‘n ander van die groot wit troon (Op 20:11), moet dit twee verskillende oordele wees. As die een praat van die opstanding van die regverdiges (Luk l4:14, 1953-vertaling), moet daar ook ‘n ander opstanding wees, dié van die onregverdiges (al kom dit ook nêrens voor nie).

Waar die *profesieë behandel word, word daarop gewys dat profesieë nie letterlik nie, maar merkwaardig vry vervul word sodat ‘n mens byvoorbeeld nooit uit Joël 2:28-32 sou kon aflei hoe die Heilige Gees sou kom nie (Hand 2). Daarom is dit ook gevaarlik om die profesieë oor die wederkoms van Christus woord vir woord letterlik te verstaan. As ‘n mens dit konsekwent doen, sal jy met drie of vier wederkomste of oordele eindig, en nie net met twee nie.

 

Die Postmillennialisme

Hiervolgens sal die wêreld al be­ter word sodat die geskiedenis geleidelik sal oorgaan in die Vre­deryk, en daarna sal Christus weer kom. Veral in Amerika is daar groepe soos die ondersteuners van die Kingdom Theology wat meen dat die wêreld al beter sal word. Hulle probeer veral deur ‘n wedergebore president van die VSA te kry om die Vrederyk op aarde te laat aanbreek.

Hierdie siening is nie so bekend nie en het ook nie soveel aanhangers nie. Daarom gaan ons nie verder hierop in nie.

Die Amillennialisme

Hiervolgens sal daar nie eers in die toekoms ‘n Vrederyk aan­breek nie. Ons leef alreeds sedert die opstanding van Jesus in die Millennium. Die duiwel is klaar oorwin (gebind) en moet nog net by die wederkoms van Christus heeltemal uit die weg geruim word. Hierdie siening heg baie waarde aan die uitsprake in die *Sinoptiese Evangelies en die Briewe dat Jesus die *bose magte oorwin het. Verder word daarop gewys dat daar nie regtig in Jesus se eie toekomsverwagting, en ook in dié in die Briewe, ruimte is om ‘n Duisendjarige Vrederyk in te pas nie. Verder moet ‘n mens onthou dat die sterkste getuienis vir die Millennium in Openbaring 20 is, ‘n boek wat deur en deur *apokalipties en simbolies van aard is, sodat dit moeilik is om die beelde letterlik te interpreteer. Dink maar aan die profesie dat die Satan met ‘n ketting vasgebind sal word (20:1 ev). Hierdie probleme skep ruimte vir ‘n simboliese interpretasie van duisend jaar as ‘n baie lang tyd, en die vasbind as ‘n beeld vir Jesus se oorwinning wat al klaar behaal is.

Tog is die probleme nie hiermee almal opgelos nie. Selfs die simboliese interpretasie van die duisend jaar as ‘n lang tyd, be­teken dat die kort tydjie wat die Satan dan weer losgelaat word, ook as ‘n werklike tyd verstaan moet word. En dit skep ernstige probleme. As ‘n mens aanvaar die binding van Satan beteken hy is deur Jesus oorwin, wat moet jy onder sy loslating verstaan? Sal hy dan ‘n tyd lank nie meer oorwin wees nie?

 

‘n Alternatief?

Is daar ‘n alternatief moontlik op hierdie drie sienings van die Mil­lennium? Elkeen van die drie het sy eie probleme.

Die Premillennialisme het in die Nuwe Testament net die een gedeelte waarop hulle ‘n letterlike Vrederyk kan bou: Open­ba­ring 20. Maar kan hierdie simbole so letterlik geïnterpreteer word?

Verder toon die groot verskille wat daar oor die Vrederyk is dat alles nie so maklik en duidelik is nie. Die feit dat sommige letterlik die tempel wil herbou en dat ander selfs glo dat die priesterdiens en die offerdiens weer ingestel sal word, is duidelike tekens dat die Nuwe Testament nie ernstig genoeg geneem word as ‘n geweldige plus bo die Ou Testament nie. Dit is ondenkbaar om in die lig van die Brief aan die Hebreërs so iets te verwag.

Nog ‘n vraag gaan oor hulle siening van die profesieë in die Ou Tes­ta­ment. Hier is twee aspekte ter sake. Eerstens is hulle oortuig dat daar geen profesieë oor die kerk in die Ou Testament is nie. Die kerk is ‘n onverwagte intermezzo of dispensasie omdat die Jode hulle Messias verwerp het. Dit beteken dat al die profesieë wat nie voor Christus vir die Jode vervul is nie, nog op vervulling wag, en daarvoor is die duisend jaar van vrede nodig.

Daar is egter wel sekere van die profesieë oor Israel wat in­derdaad vir die kerk vervul is. Ons het in ‘n ander verband al­reeds gekyk na Amos 9:11-12 wat ‘n profesie van ‘n nasionale oorwinning vir Israel oor Edom was, maar wat volgens Jakobus (Hand 15:15 ev) in die heidensending vervul word. (*Septuagint) Verder is daar by Paulus ‘n sterk beklemtoning van die feit dat die kerk in ‘n sekere sin deel van die ware Israel word. Die wilde takke (die heidene wat tot geloof kom) word op die mak olyfboom (die ware Israel van die Ou Testament) geënt. Dit beteken dat ook ander profesieë wat oor Israel uitgespreek is, vir die kerk in vervulling gaan. Dink maar net aan die profesieë in Hosea 1:10 en 2:22 wat duidelik vir Israel bedoel was, maar volgens Romeine 9:24-26 vervul word vir dié wat Hy “uit die ander nasies geroep het”.

Ten slotte is daar profesieë wat hulle oortuig is net in die Mil­lennium vir Israel vervul kan word, soos Jesaja 11 oor die takkie uit die stomp van Isai. Daar is egter geen rede waarom hierdie profesieë nie op die nuwe aarde vervul kan word nie.

In hierdie lig is daar ernstige vrae oor die Premillennialisme se siening van die Vrederyk.

Die Postmillennialisme is ‘n nog vreemder siening. Ons het nie in die Nuwe Testament die gedagte dat dit in die eindtyd al beter sal gaan nie, eerder al slegter. En daar is ‘n groot verskil tussen ‘n wedergebore president in die VSA, en ‘n wêreld wat geleidelik ont­wikkel tot dit die koninkryk van God is.

Die Amillennialisme probeer om sowel die oorwinning wat Christus reeds oor die bose magte behaal het as die simboliese karakter van Openbaring tot hulle reg te laat kom, maar hulle sit nog steeds met die vreemde gedagte dat die Satan aan die einde weer vir “‘n kort tydjie” losgelaat moet word.

Sou dit moontlik wees om die duisend jaar én die kort tydjie as simbole van mag te sien, en nie van tyd nie? Dat die Satan vir duisend jaar gebind word, beteken dan dat hy totaal deur Christus oorwin is, en dat hy vir ‘n kort tydjie losgelaat word dat hy tog nog ‘n beperkte vermoë het om die kinders van God aan te val.

Die voordeel van so ‘n interpretasie is dat dit die oorwinning van Christus wat sterk na vore kom in die Nuwe Testament én die bedreiging wat die duiwel tog nog inhou, wat in die Briewe beklemtoon word, beide tot hul reg laat kom. (*Bose magte)

 

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

OuteurProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Charismaties

Die Groot Geloofswoordeboek: Charismaties

“Charismaties” verwys na dit wat in verband staan met die cha­ris­mata, die gawes van die Gees. In beginsel behoort elke kerk cha­ris­maties te wees, met ander woorde die lidmate van die kerk behoort mekaar met hul gawes te bedien (1 Kor 12-14). Die teenoorgestelde sou ‘n kerk wees waar net een of net ‘n paar persone hulle gawes gebruik, en die ander “sit-Christene” is.

Met die opkoms van die Charismatiese Beweging in die 1960’s het “Charismaties” egter ‘n heel bepaalde betekenis gekry. (*Cha­ris­matiese kerke)

 

Woorde gemerk met ‘n * word elders bespreek.

Outeur:  Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Calvyn

Die Groot Geloofswoordeboek: Calvyn

 

Calvyn

Johannes Calvyn (1509-1564) was saam met Martin Luther een van die bekendste Kerkhervormers. (*Hervorming) Hy was jonger as Luther. Hy was net ag jaar oud toe Luther in 1517 die 95 stel­lings teen die *Katolieke Kerk aan die deur van die katedraal in Wittenberg gespyker het. Hy het in Frankryk en Switserland opgetree, veral in Genève.

Calvyn het ‘n reeks boeke, Die Institusie van die Christelike gods­diens, nagelaat wat vandag nog vir onder andere Gereformeerdes, Pres­bi­teriane en baie Baptiste rigtinggewend is. Heelwat van die sentrale leerstukke van die Protestantisme is van hom afkoms­tig. Die groot nadruk van sy leer, wat ook deur die meeste ander Hervormers on­derskryf is, het gegaan oor Christus, die saligheid en die geloof wat tot vandag toe nog bekend is: Net Christus, net genade, net geloof, net die Bybel. Die herhaalde woordjie “net” impliseer dat hulle oortuig was dat die Katolieke Kerk telkens ‘n “en” gehad het: die Bybel én die tradisie, Christus én ons goeie werke.

Calvyn se leer oor die *voorsienigheid en die *uitverkiesing is tot vandag nog baie omstrede. Hy was oortuig dat God letterlik alles voorbeskik het sodat alle dinge wat ooit gebeur, gebeur presies soos God dit vooraf bepaal het, selfs die kwaad en die sonde en alle lyding. Hy het beklemtoon dat dit gelowiges sal troos as hulle onthou dis ‘n liefdevolle Vader wat al die smart in hul lewe bring. Hy was oortuig dat selfs alles wat die duiwel doen, net so deur God voorbeskik is. Later het *Arminius bekend geword as iemand wat hierdie leer van Calvyn ‘n bietjie sagter probeer maak het.

 

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König