Die Groot Geloofswoordeboek: Tussentoestand en Tussentyd

Die Groot Geloofswoordeboek: Tussentoestand en Tussentyd

Tussentoestand

Dit is een van die heel moeilikste onderwerpe in ons geloof. Dit moet onderskei word van die *tussentyd. Die tussentoestand is die toestand waarin ‘n mens is tussen jou dood en die opstan­ding by die wederkoms van Christus. Die tussentyd is die tyd tussen Chris­tus se hemelvaart en sy wederkoms.

Daar is ‘n paar bekende voorstellings oor die tussentoestand. Die een is dat daar geen tyd en tydservaring in die dood is nie, sodat jy dadelik na jou dood die opstanding beleef wat vir die mense wat nog leef, nog in die toekoms lê. Dis ‘n filosofiese be­skouing wat goed sou kon werk, maar daar is nie gronde in die Bybel daarvoor nie. Daar is nie beskouings of voorstellings oor “tyd” in die Bybel nie. Dis ‘n veronderstelling wat nie in die Bybel voorkom nie. ‘n Mens sal dus liewer eers in die Bybel na ‘n “oplossing” kyk.

Die ander baie algemene oortuiging is dat ‘n mens uit twee de­le bestaan: ‘n *onsterflike siel, en ‘n sterflike *liggaam. By die dood gaan net die liggaam dood, terwyl die onsterflike siel na die Here (he­mel) toe gaan. In die tussentyd is die liggaam dus in die graf, waar dit vergaan, maar die siel is by die Here, alreeds in volle of ge­deeltelike heerlikheid.  Daar is heelwat gegewens in die Bybel wat mense hiermee in verband bring. Dink aan Moses en Elia wat saam met Jesus op die berg verskyn, aan die ryk man en Lasarus, aan Pau­lus wat verlang om by Christus te wees (Matt 17:1 ev; Luk 16:19 ev; Fil 1:23).

Hierdie voorbeelde pas egter nie in die “onsterflike siel-sterfli­ke liggaam”-skema nie. Hiervolgens is die liggaam dood en vergaan; net die siel bestaan voort. Maar dit was skynbaar nie Moses en Elia se siele wat by Jesus op die berg was nie, maar eenvoudig Moses en Elia self as liggaamlike wesens. En dis nie die arm man se siel wat by die siel van Abraham is nie, maar die arm man wat in die skoot van Abraham is, en nie die ryk man se siel wat in die doderyk is nie, maar die ryk man sonder meer. Sonder ‘n liggaam kan ‘n mens jou nie hierdie verskynings of gelykenisse voorstel nie. ‘n Siel het tog nie ‘n tong (die ryk man) of ‘n skoot nie (Abraham – Grieks en 1953-vertaling). ‘n Mens sal tog nie vir siele huise bou nie (Petrus op die berg).

Trouens, die woord “siel” kom nie in een van hierdie voorbeel­de voor nie. Dit gaan om mense. Die ryk man (nie sy siel nie) maak sy oë in die doderyk oop; Lasarus, nie sy siel nie, word na Abraham se skoot gedra; Paulus wil by Christus wees, nie sy siel nie. En dit kan ook nie, want die Hebreeuse en Griekse woorde vir “siel” word in heelwat betekenisse in die Bybel gebruik: onder andere keel, maag, nek, begeerte, lewe, die persoon self. (*Mens)

Daar is meer probleme met hierdie voorbeelde. Die gelyke­nis van die ryk man en Lasarus het trekke wat beswaarlik na die werklikheid kan verwys. Die hemel en die doderyk is net deur ‘n kloof van mekaar geskei, en die twee groepe kan mekaar sien en met mekaar gesels. Dis tog effens onvoorstelbaar dat mense in die he­mel die hele dag en nag die gekerm van die mense in die doderyk sal moet aanhoor. Trouens, dit klop glad nie met die werklikheidsbeeld van die Bybel self nie. Daarvolgens is die hemel ver daarbo, en die doderyk onder die aarde. Dit beteken dat selfs die mense wat hierdie gelykenis gehoor het, besef het Jesus vertel ‘n verhaal om ‘n punt te maak en nie ‘n werklike gebeurtenis nie.

Dit alles beteken dat ‘n mens nie kan volhou met die gedagte van ‘n onsterflike siel en ‘n sterflike liggaam nie. In die voorstellings in die Bybel gaan dit om mense en hulle volle lewe.

Hierdie siening word gesteun deur die argument van Paulus oor die *opstanding. Paulus maak die hele evangelie afhanklik van die opstanding. As daar nie ‘n opstanding is nie, sluit die kerkdeure

(1 Kor 15). Maar as die siel al klaar by die Here was, is dit mos net die sterflike liggaam wat nog nie by die Here is nie, en die liggaam is tog nie alles nie. Volgens hierdie beskouing is die siel in elk geval die belangrikste. Dan is meer as die helfte mos klaar bereik sonder die opstanding. Maar Paulus het nie so gedink nie. Die opstanding, of niks. Dit kan net beteken dat die tweedeling van siel-liggaam nie werk nie.

Wat dan? Dis nie so maklik nie. Dis makliker om die probleme in ander sienings na vore te bring as om self te verduidelik wat in die tussentoestand gebeur.

Enige siening moet binne bepaalde grense bly. Eerstens is die tussentoestand skynbaar nie ‘n onbewuste toestand nie. Twee­dens gaan dit skynbaar om mense in hulle volle menswees, en nie om dele van mense nie. Derdens is daar nie in die mens ‘n deel wat sterker is as die dood en eenvoudig ongeskonde deur die dood heengaan, terwyl net die ander deel doodgaan nie. Net God is on­sterflik. Vierdens het gelowiges alreeds deur die doop en die geloof ‘n aandeel aan ‘n lewe wat klaar deur die dood heen is en alreeds opgestaan het en verheerlik is – Jesus se op­stan­dingslewe. (*Doop, *Geloof)

Dit beteken dat ‘n mens iets soos die volgende kan oorweeg as beskrywing van die mens in die tussentoestand. Die mens is ‘n eenheid en as hierdie eenheid sterf hy of sy. Die mens is dan dood, en lê in die graf. Vanuit die mens en menslike moontlikhede sou daar niks verder gesê kon word nie.

Maar daar is Iemand Anders. Hy is klaar verheerlik. En ons het reeds ‘n aandeel aan sy lewe. Trouens, Paulus skryf dat ons nie meer ons eie lewe het nie, maar dat Hy nou ons lewe is (Gal 2:19-20; Kol 3:4).

Maar dan is ons eintlike lewe nie dood wanneer ons dood­­gaan nie. Dan kan nóg lewe nóg dood ons skei van die liefde van God (Rom 8:38-39). As ons hierdie pad loop, kry ons nie in onsself ‘n antwoord nie, maar in en deur Hom. Paulus sou deur die dood heen in Christus se gemeenskap bly, nie omdat hy in homself iets het wat sterker as die dood is nie, maar omdat hy ‘n aandeel het in ‘n Lewe wat klaar deur die dood heen is.

Verder kom ek nie. Ek verstaan nie die gelykenis van die ryk man en Lasarus as ‘n ware verhaal nie, maar as ‘n storie om ‘n punt te maak: as ons nie na die Bybel luister nie, sal wonderwerke ook nie help nie. Wie nie wil luister nie, sal ook nie na wonders luister nie. Luister na die evangelie en word behou.

 

Tussentyd

Die tussentyd is iets anders as die *tussentoestand. Die tussentyd is die tyd tussen die hemelvaart en die wederkoms van Christus. Dit is die tyd wat die Here ons gee om die evangelie aan alle mense te verkondig.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Totale Verdorwenheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Totale Verdorwenheid

Totale verdorwenheid

(*TULIP)

Die leer van die totale verdorwenheid van die mens (corruptio to­talis) word maklik misverstaan. Sommige dink dit beteken dat geen ongelowige ooit iets goeds kan doen nie. Dit is ‘n mis­verstand. Sedert *Augustinus, een van die groot kerkvaders, is dikwels verwys na die deugde van die heidene.

Die leer van die totale verdorwenheid het na vore gekom in die stryd teen *Pelagius, wat gemeen het dat die sondaar iets tot sy of haar saligheid kan bydra. Daarteenoor het Augustinus gesê dat niks wat ons doen enige verdienste voor God met die oog op ons saligheid het nie. Maar dit het niks te doen met algemene goeie dade nie. Daar is baie mense wat geen godsdiens het nie en wat wonderlike werk aan mense in nood doen.

Maar met die oog op ons saligheid kan ons net op Christus ver­trou. Hy het alles wat ons nodig het vir ons verdien sodat wanneer ons glo (*Geloof), God vir ons Christus se verdienste net uit genade toereken (*Regverdiging), en nie omdat ons dit verdien of beter as ander is nie. Dit was van die groot sake waaroor dit in die Hervorming gegaan het: ons word net uit genade gered, net op grond van wat Christus gedoen het, net deur die geloof. (*Versoening)

Die leer van die totale verdorwenheid hou direk verband met die leer van die *erfsonde. Ook hier kan misverstande ontstaan. Die erfsonde beteken nie dat ons niks goeds kan doen en altyd net die slegste doen nie. Net soos die totale verdorwenheid beteken die erfsonde dat ons deur Adam onder die oordeel van God gekom het omdat daar ‘n soort eenheid en onderlinge ver­bondenheid in die mensdom is, en dat ons totaal op Christus se verdienste aangewese is om gered te word.

Daar is ook ‘n wonderlike troos in die leer van die totale ver­dorwenheid. As ons dan niks kan bydra om gered te word nie, hoef ons ook nooit in die vrees te leef dat dit wat ons moes bydra dalk nie genoeg was nie. As God alles moes voorsien, kan ons weet alles is voorsien, want op Hom kan ons reken. Christus se offer was meer as genoeg.

 

TULIP

TULIP is ‘n Engelse akroniem wat in Amerika gebruik word vir die vyf leerstellings van ‘n groep ultra-Gereformeerdes uit die vo­rige eeu.

T Total Depravity – *totale verdorwenheid

U Unconditional Election – onvoorwaardelike *uitverkiesing – geen verdienste van die mens is in aanmerking geneem nie, God het sonder enige rede sommige uit genade gekies en die ander verwerp

L Limited Atonement – beperkte *versoening – Christus het nie vir almal gesterf nie, maar net vir die uitverkorenes

I Irresistible Grace – onweerstaanbare *genade – God besluit wie Hy wil red, en dan gee Hy aan hulle sy genade sonder dat hulle dit kan teenstaan/verwerp

P Perseverance of the Saints – *volharding van die heiliges of ge­lowiges – gelowiges kan nie weer verlore gaan nie

 

Dit is ‘n baie radikale vorm van *Calvinisme wat nooit alge­meen onder Gereformeerde Christene aanvaar is nie. Dit gee besondere erkenning aan die inisiatief van God, maar dit is baie moeilik om die verantwoordelikheid van die mens in hierdie geslote sisteem tot sy reg te laat kom. (*Voorsienigheid)

 

T

Onder die *totale verdorwenheid word verstaan dat die mens to­taal deur die sonde van God vervreem is sodat hy of sy niks kan doen wat voor God tel nie. Die mens is dood deur die sonde, wat beteken dat enige moontlikheid van hunkering en verlange na God uitgeskakel is. Daar is eenvoudig geen beweging van die mens se kant moontlik om na God te gaan nie. Al die inisiatief moet van God af kom.

Op sigself is dit ‘n taamlik algemene oortuiging onder baie Chris­tene. Paulus self het uitsprake wat sterk in hierdie rigting wys (Ef 2:1). Daardeur word die sonde regtig ernstig geneem. Dit is meer as ‘n hindernis tussen ons en God. Dit is ‘n totale breuk. Die he­le verbondstruktuur werk so. God is op elke punt die een wat die inisiatief neem. Dit blyk reg van Abraham af (Gen 12; 15; 17). Dis nie Abraham wat na God kom en smeek dat hulle ‘n verhouding moet aangaan nie. Dis God wat kom en soewerein die verbond instel, waarop Abraham maar net kan reageer. Dis ook nie Israel wat by God pleit om ‘n Verlosser te stuur nie. Dis God wat vrymagtig be­sluit dat die tyd ryp is en dat Jesus moet kom (Gal 4:4). Tot sover sal daar breë instemming wees onder Christene.

 

U

Onvoorwaardelike *uitverkiesing sluit skynbaar logies aan by totale verdorwenheid. Maar dis net skynbaar. Daarvolgens kies God vry­magtig uit wie Hy wil red, en verwerp vrymagtig die ander. Daar is niks in enige mens wat sy besluit motiveer nie. Eintlik gee alle mense deur hulle totale verdorwenheid Hom meer as genoeg rede om hulle almal te verwerp, maar uit vrye, on­ver­staanbare genade besluit Hy dan om sekeres te red. Hy kon enige ander uitverkies het van dié wat Hy verwerp het, en almal wat Hy wel uitverkies het, kon Hy ook verwerp het. Niemand het enige aanspraak op God se goedheid nie. Hy het al lank voor die mense se geboorte, ja, selfs voor die skepping, presies besluit watter individue Hy sal red, en watter nie. Hy het dit dus besluit heeltemal afgesien van enigiets wat hulle gedoen of nie gedoen het nie.

Hierdie leer is deel van ‘n heelwat omvattender sisteem oor die *voorsienigheid. In hierdie sisteem pas dit volkome sinvol in. Hiervolgens het God vooraf alles beskik wat ooit plaasvind, en alles vind plaas presies soos Hy dit vooraf bepaal het. Dit pas dus lo­gies in dat net Hy besluit wie gered word en wie nie, en dat Hy ook die reaksies van die uitverkorenes en verworpenes vooraf só bepaal het dat hulle paslik sal reageer. Die uitverkorenes sal die evangelie aanvaar, en die verworpenes sal dit nie aanvaar nie.

Maar as ‘n mens nie in terme van hierdie geslote sisteem dink en glo nie, is dit nie maklik om hierdie leer te aanvaar son­der ‘n be­paalde huiwering nie. Beteken dit dat God netsowel kon besluit het om almal te red, maar tog besluit het dat dit liewer net ‘n klein klompie sal wees? En klop dit met God se liefde vir die wêreld? (Joh 3:16) En wat van die algemene bevel om na alle nasies te gaan en “die mense” sy dissipels te maak? (Matt 28:19)

Vir die mense wat gered word, is dit natuurlik goeie nuus. Dit is selfs ‘n geweldige troos: niks in my het God beweeg om my uit te kies en te red nie. Niks in my sal Hom dus beweeg om my agterna te verwerp nie.

Maar vir dié wat nie uitverkies is nie? Dis nie vreemd dat ‘n mens in hierdie kringe dikwels hoor dat jy nie hierdie leer aan on­gelowiges verkondig nie. Maar dit is tog vreemd om te dink ‘n mens hou ‘n deel van jou geloof liewer terug.

 

L

Beperkte versoening pas presies op hierdie leer. As God net ‘n sekere aantal mense uitverkies het en net hulle kan gered word, is dit logies dat Christus ook net vir hulle *versoening gedoen het. Hy het dus nie vir die hele wêreld gesterf nie, maar net vir die uitverkorenes. Dit sou onsinnig wees as God die massa mense nie wil red nie, maar Hy laat Christus tog vir hulle sterf.

Maar dis nie duidelik hoe sekere taamlik sterk uitsprake in die Bybel in hierdie lig verstaan word nie. Die nadruk in die Bybel is tog juis op die omvattendheid van Christus se soendood. God het die wêreld in Christus met Homself versoen. God het die wêreld so liefgehad. Christus is ‘n versoening nie net vir ons sondes nie, maar vir dié van die hele wêreld. God het deur Christus alle dinge in die hemel en op die aarde met Homself versoen (2 Kor 5:18 ev; Joh 3:16; 1 Joh 2:2; Kol 1:20). En so kan ‘n mens aangaan.

‘n Mens kry telkens die gevoel dat hier vanuit ‘n sisteem gedink word, en dat alles netjies in die sisteem moet inpas. Is dit nie eerder waar dat hierdie sisteem eenvoudig te netjies is en te goed werk nie? Is die Bybel nie ryker en bonkiger as ons netjiese sisteme nie? Moet ‘n mens nie hier en daar sê: Alles is nie regtig duidelik nie?

 

I

Onweerstaanbare *genade. Nogeens pas hierdie gedagte perfek by die sisteem in. As ons niks kan doen wat by God aanvaarbaar is nie, as God ons sonder enigiets in ons uitverkies om gered te word, as Christus net vir ons gesterf het, is dit logies dat ons nie God se genade sal kan weerstaan nie. Niks aan ons kant tel nie. Hoe kan ons dan “Nee” sê as Hy voor die skepping al besluit het ons sal “Ja” sê?

Maar onweerstaanbare genade werk nie regtig as ‘n mens dink aan die baie gevalle waar mense inderdaad op God se genade “Nee” gesê het nie. Jesus kom as God se finale genade-aanbod aan Israel (Jesus as *Profeet), en hulle verwerp Hom en vra dat Hy gekruisig word. Hoe kan ons dan sê God se ge­na­de is onweerstaanbaar? Ons kan dit net sê as ons byvoeg dat God nie regtig bedoel het dat hulle Jesus moet aanneem nie, wat weer beteken dat Jesus se pleidooie nie regtig eerlik was nie. Hy het gemaak of Hy gee, maar as hulle die hand sou uitsteek, sou Hy Syne gou teruggetrek het?!

Iewers werk iets nie.

 

P

Die volharding van die heiliges/gelowiges. Dit beteken dat mense wat regtig tot geloof gekom het, nie weer verlore sal gaan nie. (*Vol­harding) Eintlik kan dit ook anders ge­stel word: nie The Per­severance of the Saints nie, maar The Preservation of the Saints, die bewaring van die gelowiges, omdat dit nie in die eerste plek daarom gaan dat ons sal volhard nie, maar dat God ons sal be­waar.

Dit is interessant dat hierdie leerstuk van TULIP weer meer aan­vaarbaar is vir ‘n groot groep Christene. Dit gaan hier om die trou van God wat nie die werk van sy hande laat vaar nie. Al is ons ontrou, Hy bly getrou, Hy kan Homself nie verloën nie (2 Tim 2:13). Maar vir hierdie ander gelowiges gaan dit nie hier om ‘n sisteem nie, maar om die trou van God, om Jesus wat beloof het dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie (Joh 10:28).

In die geheel is TULIP nie ‘n sisteem wat gevoelig is vir die groot lyne in die Bybel nie. Dit maak ‘n harde indruk wat uit ‘n enke­le uitgangspunt redeneer en dan eenvoudig logies voort­gaan tot op ‘n punt waar die blye evangelie nie meer helder klink nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Tipologie

Die Groot Geloofswoordeboek: Tipologie

Tipologie

Tipologie verskil van *allegorie. In tipologie gaan dit oor werklike persone of gebeurtenisse en hulle antitipe of vervulling, en nie, soos in allegorie, oor die sogenaamde “dieper” betekenis van ‘n gedeelte in die Bybel nie. So was Adam ‘n tipe van Christus (Rom 5:12 ev) en die skepping ‘n tipe van die herskepping (verlossing). Paulus interpreteer Hagar as tipe van die Sinaiverbond, en Sara as tipe van die nuwe verbond (Gal 4:21 ev). Die Here het vooraf op die berg vir Moses die antitipe (die hemelse verbondstent) gewys van die tipe (die tabernakel of verbondstent) wat hy in die woestyn moes bou (Eks 25:9, 40). In die Nuwe Testament lees ons dat die tempel ‘n tipe was van die hemelse heiligdom waarin Christus na sy hemelvaart ingegaan het (Heb 9:24).

‘n Mens moet tipes en antitipes onderskei van profesieë wat vervul word. (*Vervulling van profesieë) Die dienaar van die Here (Jes 53) en die Seun van die mens (Dan 7:13 ev) is nie ti­pes van Jesus nie, maar profesieë wat in Jesus vervul is. Verder moet ons ook nie ons eie tipes uitdink nie. Daar is nêrens in die Bybel sprake daarvan dat Isak wat geoffer moes word ‘n tipe van Christus was, of die rooi tou wat Ragab by haar venster moes laat uithang, ‘n tipe van die bloed van Christus nie. Dit is wille­keurige interpretasies.

Dit beteken ook dat daar nie regtig so baie tipes is nie; een­voudig omdat ons ons hierin deur die Bybel laat lei.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Tempel; Sinagoge

Die Groot Geloofswoordeboek: Tempel; Sinagoge

Tempel Sinagoge

Tempel

Die tempel was die hart van Israel se godsdienstige lewe. Die ge­weldige betekenis van die tempel blyk uit uitsprake wat ons oral in die Ou Testament kry. Die sogenaamde Sionspsalms is sterk ge­tuienis daarvan (Ps 46, 48, 76, 84, 87, 122, 125). (Ter­loops, “Sion” is die “berg” [bult] waarop die tempel gebou was.) Dink net aan die bruisende vertroue en entoesiasme in Psalm 46 (waar­van v 5-6 die kern is) en Psalm 48! Selfs as Israel on­gehoorsaam was aan die He­re, was die tempel nog vir hulle die simbool dat die Here sal aan­hou om hulle te bewaar (Jer 7:4).

Aanvanklik was daar die tabernakel wat opgeslaan en ver­voer kon word tydens die tog deur die woestyn. Ons lees uitvoerig daar­van in Levitikus. Hierdie tabernakel is later in Silo opge­slaan (Jos 18:1). Daarna is daar in Silo ‘n tempel gebou waarin die taber­na­kel skynbaar opgeneem is (1 Sam 2:22; 3:3). Dis hier waar Samuel ge­dien het. Silo was in die tyd van die Rigters die hart van Israel se godsdiens (Rig 18:31; 21:12 ev; 1 Sam 1, 2). Later is die stad en die tem­pel verwoes (Ps 78:60; Jer 26:6).

Eers koning Salomo het die eintlike tempel in Jerusalem ge­bou (1 Kon 6-8). Dit was die sentrum van Israel se godsdiens. Die Sabbat was nie in die eerste plek ‘n godsdienstige dag nie, maar ‘n rusdag. Hulle godsdiens het eerder om die jaarlikse feeste ge­sentreer (*Joodse feeste), en daarvoor het hulle tempel toe ge­gaan in Jerusalem. Die pragtige pelgrimsliedere (Ps 120-134) is die liedere wat hulle op pad Jerusalem toe gesing het. Hier het hulle feesgevier, offers gebring en die wet geleer. Die priesters het die sentrale rol tydens die feeste gespeel.

 

Sinagoge

‘n Sinagoge is ‘n gebou waar Jode bymekaarkom vir gods­diens­oefening. Die oorsprong van sinagoges is onbekend. Dit is moont­lik dat dit teruggevoer kan word na die ballingskap in Babilon. So­wel in Babilon as in Palestina kon in dié tyd kleiner geboue opge­rig gewees het waar die Jode kon bymekaarkom vir aanbidding en lering. Dis moontlik dat Psalm 74:8 na sulke plekke verwys. Hierdie geboue kon nooit die tempel, die feeste en die offers vervang nie, maar het hul eie waarde gehad om die Jode se geloof te voed, en veral om die wet (Torah) te leer. (*Pentateug)

Jesus het self dikwels in die sinagoge die mense geleer. En op sy sendingreise het Paulus by voorkeur by die Jode begin en daar­om telkens na die sinagoge gegaan as hy ‘n nuwe plek besoek (Hand 13:5, 14, 42; 14:1; 16:13; 17:1, 10). Hierdie feit gee aanlei­ding tot die misverstand dat Paulus nog die *Sabbat gehou het. Ons lees wel telkens dat hy op die Sabbat sinagoge toe gegaan het, maar dit was eenvoudig omdat die Jode net op die Sabbat daar bymekaargekom het. Daar is verder geen aanduiding dat hy nog die Sabbat gehou het, of dat ‘n gemeente in die Nuwe Testament op die Sabbat by­mekaargekom het nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König