Die Groot Geloofswoordeboek: Verhouding Ou en Nuwe Testament

Die Groot Geloofswoordeboek: Verhouding Ou en Nuwe Testament

Verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Tradisionele formules

Tradisioneel word minstens drie skemas gebruik om die ver­houding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament te ver­duidelik: óf dié van belofte en vervulling, óf dié van ou verbond en nuwe verbond, óf dié van wet en evangelie. Die eerste siening lui dat die Ou Testament die belofte(-s) (of profesieë) is wat in die Nuwe Testament vervul word. Die tweede siening is dat die Ou Testament die ou verbond is (wat afgeskaf is), en die Nuwe Testament die nuwe verbond waarin ons nou leef. Die derde is dat die Ou Testament die wet is wat eintlik deur die evangelie van die Nuwe Testament vervang is. Soms hoor ‘n mens selfs dat die oordeel van God in die Ou Testament oorheers, maar in die Nuwe Testament die liefde van God.

In sommige van hierdie skemas is daar inderdaad ‘n stukkie waarheid. Natuurlik is daar profesieë in die Ou Testament wat in die Nuwe vervul word. Maar nie eens ‘n tiende van die Ou Tes­ta­ment is profesieë nie. En intussen is daar in die Nuwe Tes­tament self ook ‘n aantal profesieë.

Dit geld ook van wet-evangelie. Natuurlik is die wet in die Ou Testament en die evangelie in die Nuwe. Maar daar is baie meer as net die wet in die Ou Testament, en die wet speel ook in die Nuwe Testament nog steeds ‘n belangrike rol. En daar is tog seker ook evangelie in die Ou Testament. Wat van Jesaja 53 en Psalm 23?

Die derde verhouding, ou verbond-nuwe verbond, berus eg­ter op ‘n groot misverstand. (*Abrahamverbond) Die Ou Tes­ta­ment is baie meer as die ou verbond. Die ou verbond is die Sinaiverbond (Jer 31:31), maar die verbond met Abraham is lank voor Sinai gesluit en loop deur tot vandag. Christus het hierdie verbond aan die kruis ook vir die heidene oopgemaak, en die *doop lyf ons vandag nog in hierdie verbond in (Gal 3:14, 26-29).

In die loop van die kerkgeskiedenis was daar ook ander mooi skemas. Augustinus het gesê die Nuwe Testament is verborge in die Ou Testament teenwoordig, en die Ou Testament het ten volle ontluik in die Nuwe. Ook dit is mooi, maar te min. Die saak is ingewikkelder.

Eintlik is die twee Testamente so groot, en het hulle so ‘n ryk verskeidenheid aan inhoud dat ‘n mens min hoop het om een enkele formule te kry wat die volle waarheid vertel. Trouens, dit is waarskynlik glad nie moontlik om die twee in hulle geheel, as twee groot eenhede, sinvol met mekaar te vergelyk nie. Daarom gaan ons ‘n ander pad loop.

 

Vergelyk bepaalde sake

‘n Mens kom baie verder as jy bepaalde sake in die Ou Testament ver­gelyk met bepaalde sake in die Nuwe Testament. En dan vind ‘n mens dat daar verskillende verhoudings ter sprake kom. Kom ons ver-gelyk ten eerste die boodskap oor die skepping en dan die tempel soos dit in die twee Testamente voorkom.

Oor die skepping sluit die Nuwe Testament direk by die Ou Testament aan, maar voeg by dat Christus saam met die Vader die Skepper is (Joh 1:1-3; Kol 1:16). Ons kan dus van ‘n verrykende aansluiting van die Nuwe Testament by die Ou Testament praat.

Maar met die tempeldiens en die offers is dit anders. Die hele tempeldiens word uiteindelik afgeskaf (Christus vervang die tem­pel), maar terselfdertyd ook vergeestelik: ons word die tem­pel waar­in die Heilige Gees woon. Net so die offers. In die Ou Testament is daar ‘n hele reeks offers wat by bepaalde geleent­hede gebring is. In die Nuwe Testament gebeur twee dinge met hierdie offers. Die offer van Christus vervang al hierdie offers (Hebreërs). In hierdie sin het ons dus ‘n skerp breuk tussen Ou Testament en Nuwe Testament. Maar in ‘n ander sin vergeestelik die Nuwe Testament ook hierdie offers, want die apostels beveel die Christene om nou hul lewens as offers aan die Here te wy (Rom 12:1). In die geval van die tempel en die offers sou ons dus van ‘n skerp breuk én van ‘n vergeesteliking tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament kon praat.

As ons ‘n oomblik kyk na die openbaring van God, is daar ‘n wonderlike verryking tussen die twee Testamente. In die Ou Tes­tament gaan dit om God as die God van Israel. Daar is sprake van die Gees van God, maar as die Heilige Gees regtig uitgestort word, is dit ‘n baie ryker openbaring van die Gees. Die gawes van die Gees en die vrug van die Gees maak die gelowiges se lewe baie ryker.

Daar is ook sprake van die Messias wat sal kom, van ‘n die­naar van die Here wat sal ly, van ‘n groot profeet wat beloof is, en van ‘n Seun van die mens. Maar wat ‘n verrassing as al hierdie ver­wagtings in een Persoon vervul word. En hoe verrassend ver­vul Hy sommige van hierdie profesieë; só dat selfs die mense wat die Ou Testament uit hulle koppe geken het, Hom nie eens herken nie. Hier het ons ‘n verhouding van verrykende verrassings tussen die twee Testamente.

Wat ons dus nou gekry het as ons bepaalde sake/persone in die twee Testamente met mekaar vergelyk, is:

•             ‘n verrykende aansluiting

•             ‘n skerp breuk én ‘n vergeesteliking

•             verrykende verrassings

En daar is baie meer moontlikhede.

 

Oorgange binne elke Testament

Maar daar is ook heeltemal ‘n ander manier om na hierdie saak te kyk. Tot dusver het ons dinge in die twee Testamente met mekaar vergelyk. Maar daar is interessante oorgange binne elke Testament.

Binne die Ou Testament is waarskynlik die belangrikste oor­gang in die hele Bybel: dié tydens die *ballingskap. Die bal­ling­skap was soos ‘n aardbewing in die lewe van die volk. Hulle kon hoege­naamd nie oorleef sonder dramatiese veranderings in hulle geloof nie. Die vastigheid en sekerheid van die stad en die tempel het verdwyn. Dit was hulle versekering dat God by hulle is.

Die grootste verandering was hulle siening van die werk­lik­heid. Voor die ballingskap het hulle histories en natuurlik na die werklikheid gekyk, maar tydens die ballingskap het hulle ‘n apo­kaliptiese (“bonatuurlike”) (*Apokaliptiek) siening van die werk­likheid ontwikkel. Hulle was oortuig dat die ballingskap meer was as ‘n oorwinning van die Babiloniërs. Dit was ook meer as die straf van God oor hulle ontrou. Dit was die bose mag­te wat op aarde oorgeneem het. Hulle het chaos gesaai en wou die mensdom vernietig.

Dit is die agtergrond van die groot verskil tussen die Ou Tes­tament in die tyd van die profete voor die ballingskap, en die tyd van Jesus. In Jesus se tyd is omtrent elke tweede mens onder die mag van bose geeste, iets wat heeltemal onbekend was in die Ou Testament. In Jesus se tyd verwag hulle ‘n wêreldeinde, ‘n algemene opstanding van die dooies en ‘n nuwe aarde, alles dinge wat in die tyd voor die ballingskap heeltemal onbekend was. Ons kan Jesus se bediening net verstaan in die lig van hierdie oortuiging dat die bose magte oorgeneem het. Daarom kondig Hy die koms (herstel) van God se heerskappy aan as Hy duiwels uit mense uitdryf (Matt 12:28). (*Koninkryk van God) Hierdie radikale breuk het binne die Ou Testament voorgekom.

In die Nuwe Testament het die veranderings ook nie altyd so skie­lik en dramaties plaasgevind nie. Jesus leef in ‘n sekere sin nog in die Ou Testament, die tyd van die Sabbat, die tempel, die priesters en die offers. Die apostels gaan self nog gereeld tem­pel toe en op ‘n baie laat stadium gaan Paulus nog spesiaal Je­rusa­lem toe vir die Joodse Pinksterfees en ‘n spesiale offer (Hand 20:16; 21:26). Die breuk met die tempel kom eers laat en geleidelik. ‘n Mens sou dus kon sê dat die Ou Testament nog diep in die Nu­we Testament voortgaan.

Ons moet dus nooit die twee Testamente as twee soliede blok­ke teenoor mekaar stel nie. Daar was beweging en oorvleueling binne-in hulle. In ‘n sin gaan die Ou Testament nog tydens Jesus se aardse bediening in die Nuwe Testament voort. Dis byvoorbeeld eers ná die opstanding dat ons die doopbevel, die sendingbevel en die verdwyning van die *Sabbat kry. Dus ook binne die Nuwe Testament kry ‘n mens bepaalde belangrike oorgange.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Vergifnis

Die Groot Geloofswoordeboek: Vergifnis

Vergifnis

  • God se vergifnis Ons vergifnis

Die vergifnis van sonde is een van die juwele in die evangelie. Daar is mense wat meen dit is een van die diepste verskille tussen die evangelie en Islam. Albei het duidelike wette en eise, maar daar is min sprake van liefde, genade en vergifnis in Islam.

  • God se vergifnis

Tog kan ons vergifnis maklik goedkoop maak. In die ou tyd het ons selfs mense gehad wat dit deel van hulle tafelgebed-rympie ge­maak het, iets soos: “Seën die voedsel aan ons liggame en vergeef ons al ons sondes, om Jesus wil. Amen.” So ‘n persoon sou waarskynlik on­kant gevang gewees het as iemand hom of haar direk na die gebed sou vra: “Vir watter sondes het jy nou vergifnis gevra?”

Vergifnis is nie “deur die vingers sien” nie. God is nie ‘n goe­di­ge oupatjie wat kinders bederf nie. God se vergifnis is duur, on­be­taalbaar duur. In elk geval vir ons onbetaalbaar. Juis daarom het Hy iemand voorsien wat wel kon “betaal”: Jesus. As ons ons gebed ein­dig met: “om Jesus wil” sê ons iets geweldigs. Ons sê: “Vader, ver­­geef ons, asseblief. Ons vra dit net omdat Jesus sy lewe op die al­taar geplaas het en al die emosionele en fisieke smarte van die verwer­ping deur sy eie mense én deur U en die kruis gely het.”

Die moeilike vraag waarom God so ‘n hoë eis gestel het om te vergewe, word onder *kruis behandel.

Intussen moet ons onthou: vergewe is ook vergeet. As ons ons sonde voor die kruis kom aflaai het, loop ons daarsonder terug die lewe in. Die TEV-vertaling (Today’s English Version) het by Romeine 6 ‘n prentjie wat jy gerus kan gaan opsoek.

Maar vergifnis is nie ‘n vrypas om aan te hou met sonde nie. Toe ons klein was, het die Sondagskooljuffrou graag ‘n karika­tuur gemaak van die Katolieke wat in die Middeleeue net elke keer by die priester ietsie gaan betaal het sodat hulle van hulle sonde kwytgeskeld kan word, om dan maar net weer daarmee voort te gaan. Moet ons nie dalk erken dat hulle darem nog gegaan en iets betaal het, maar dat ons maar net ligweg bely sonder dat dit ons regtig iets kos nie? Om sonde te bely en dit te laat staan kom nogal bymekaar in die Bybel voor (Spr 28:13). En in Johannes 8 vergewe Jesus nie net die vrou nie, Hy beveel haar ook om op te hou met haar sonde.

 

• Ons vergifnis

Dis nie net God wat ons vergeef nie, dis ook ons wat ander moet vergeef, en in die Bybel word God se vergifnis aan ons direk af­hank­lik gemaak van ons vergifnis van ander: “Vergeef ons ons oor­tredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” (Matt 6:12). Daar is selfs ‘n gelykenis van Jesus wat dit op ‘n skokken­de ma­nier uitbeeld (Matt 18:21-35). ‘n Man met ‘n onbetaal­bare skuld word deur die koning kwytgeskeld. Hy loop ‘n man raak wat hom ‘n onbeduidende bedraggie skuld, maar laat hom in die tronk gooi. En wat gebeur? Die koning gee hom sy skuld terug! As jy nie an­der vergeef nie, vergeef God jou ook nie, wat trouens elders in so­veel woorde staan (Matt 6:14-15).

Wie het jy om te vergewe? Onthou, sy of haar skuld is totaal onbeduidend in ver­gelyking met jou skuld aan God.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Verbond

Die Groot Geloofswoordeboek: Verbond

Verbond

(*Sonde en genade)

  • Abrahamverbond Die ou verbond en die nuwe verbond Verbondshoof Verbondskinders

‘n Mens kan die hele evangelie in terme van die verbond verstaan. Dit loop soos ‘n goue draad deur die hele Bybel. Maar ‘n mens moet ook verduidelik wat jy onder “die verbond” verstaan.

‘n Statiese verbondsbeskouing

Daar is verskillende ver­bonds­be­skouings. Daar is veral ‘n be­skou­ing wat inskakel by die *TULIP-teologie, en op die ou end net so onaanvaarbaar is. Hierdie verbondsbeskouing neig om on­hi­sto­ries en staties te wees. Dit hou verband met wat ge­noem word die ewige Raadsbesluit van God waarin Hy die hele wêreld­ge­skiedenis vooruit bepaal het (*Voorsienigheid) sodat al wat nou ge­beur, die uitvoering van hierdie besluit is. In hier­die besluit sou dan eintlik drie verbonde opgeneem wees: die heils­verbond, die werksverbond en die genadeverbond.

 

Die heilsverbond (pactum salutis)

Dit is eintlik die verbond (oor­eenkoms) wat die Vader en die Seun en die Gees in die ewigheid met mekaar aangegaan het. Dit is die ooreenkoms tussen Hulle om saam te werk om die uitverko­renes te red. Die Vader is die inisieerder van die verbond, die Seun die uit­voerder van die ver­bond, en die Gees die toepasser van die ver­bond. Die Vader sal die Seun stuur, die Seun sal gaan om die uit­verkorenes se verlossing te verdien, en die Gees sal dan die uit­verkorenes die geloof gee om die verlossing aan te neem. Dis moeilik om beduidende steun in die Bybel hiervoor te vind.

 

Die werksverbond

Dit is die verbond wat die Here oorspronk­lik met Adam gesluit het (Gen 2:16-17). Hy het aan Adam ‘n wet gegee, en as hy die wet sou onderhou, sou hy die ewige lewe daardeur verdien. Hy was nog nie ‘n sondaar nie, en daarom het hy nog nie ‘n Middelaar en genade nodig gehad nie.

 

Die genadeverbond

Hierdie verbond kom dan in werking nadat Adam ge­sondig het. Van toe af het hy genade en ‘n Middelaar nodig. Daarom kom Christus nou ter sprake. Die genadeverbond word nie vir alle mense gesluit nie, maar net vir die uitverkorenes. Al die ver­skillende verbonde waarvan daar in die Bybel sprake is, is maar net verskillende vorme van hierdie genadeverbond wat al in werking tree met die *moederbelofte van Genesis 3:15.

Dit is teen hierdie tyd duidelik waarom hier van ‘n statiese ver­bondsbeskouing gepraat word. Behalwe vir Genesis 1-3 is daar om­trent niks in die Ou Testament ter sprake nie. Die behan­de­ling van die dinamiese verbondsbeskouing sal dit duidelik maak waarom hierdie beskouing nie kan werk nie. In die ge­skiedenis wat God met die mensdom maak, is daar beweging, voor- en teenspoed, te­leur­stellings en nuwe inisiatiewe, mislukkings én verrassings.

 

‘n Dinamiese verbondsbeskouing

Die verbondsbeskouing wat hier voorgestaan word, is dinamies en histories. In die loop van die geskiedenis vind radikale ver­an­derings plaas in die wyse waarop God by die mense betrokke is. (*Uit­verkiesing, *Voor­sienigheid)

 

Meer verbonde

Daar is nie net van een verbond in die Bybel sprake nie. Daar is onder andere die verbond met Noag, die verbond met Abraham, die verbond met Josua, die verbond met Dawid, die ou verbond en die nuwe verbond. Meestal aanvaar mense dat daar nie met Adam ‘n verbond gesluit is nie. As ‘n mens egter die verbond verstaan, besef jy maklik dat die verhouding wat in Genesis 2 geteken word tussen die Here en Adam al die kenmerke het van die verbond.

 

Hierdie verbonde het elk hulle eie betekenis, maar ‘n mens sal in te veel besonderhede moet ingaan om hulle elkeen te behandel.

  • Abrahamverbond

Die Abrahamverbond in die Ou Testament

Dit is duidelik dat die een verbond wat deur die hele Ou Tes­tament in die Nuwe Testament inloop en wat deur Christus be­vestig en uitgebou word, die Abrahamverbond is. Van die sluiting van hierdie verbond lees ons in Genesis 12, 15, 17. Die verbond is saamgevat in die verbondsformule: “Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees.”

Daar is interessante statistiek oor hierdie verbond. Ná die ge­skiedenis van Abraham in Genesis word daar nie eens twintig keer in die res van die Ou Testament na Abraham verwys nie, teen­oor meer as 50 keer in die Nuwe. Enersyds beteken dit natuurlik dat Abraham en die verbond met hom baie belangrik is in die Nuwe Testament. Maar die min verwysings in die Oue moet ‘n mens nie mislei nie. In werklikheid is die Abrahamverbond byna deurgaans, en veral by die profete, die basis van die verhouding tussen God en Israel, al word die naam van Abraham nie so dikwels genoem nie. Hosea is ‘n goeie voorbeeld. As hy ‘n naam aan sy seun moet gee wat die ontrou van Israel simboliseer, is die naam “Nie-my-volk-nie”, en die rede: “want julle is nie my volk nie, en Ek is nie julle God nie” sê die Here (1:9). Dit is die presiese woorde van die Abrahamverbond.

Jeremia is net so interessant. Daar is ‘n stuk of vyftien direkte of indirekte verwysings na die verbondsformule: “Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees.” Maar daar is baie meer. Die basiese tema van Jeremia oor die sonde van Israel is dat hulle aan die Here ontrou is deur ander gode te dien. Dit is presies ‘n verbreking van die Abrahamverbond. Die tema “My volk het My verlaat” kom oor en oor voor.

Maar daar is ‘n spesifieke rede waarom die naam Abraham in die Nuwe Testament nog sterker na vore kom. Paulus gebruik hom as voorbeeld van regverdiging deur die geloof wat hy so sterk teen die Judaïseerders moet verdedig. Dit pas hom juis om Abraham te gebruik omdat hy uit die Ou Testament kom, wat die Bybel van daardie tyd was (daar was nog nie ‘n Nuwe Testament nie), en dus gesag by sy saak sou kon voeg.

Een van die sake wat die Abrahamverbond in die Ou Tes­ta­ment so belangrik maak, is die feit dat die roeping van Abra­ham die eerste groot keerpunt in die Bybelse geskiedenis is. (*Uit­verkiesing) Nadat Genesis 1-11 iets gee van God se be­trok­kenheid by alle volke, kom daar ‘n draai by hoofstuk 12: God roep Abraham om uit hom ‘n volk te bou met wie Hy in ‘n besondere verhouding wil leef. Ver daarvandaan dat Hy Homself nou wil beperk tot net een volk, wil Hy juis deur hierdie nuwe volk alle volke seën (Gen 12:3). En hierdie belofte loop soos ‘n draad deur Genesis sodat dit aan elk van die drie aartsvaders herhaal word (Gen 18:18; 22:18; 26:4; 28:14).

Dit is dus nie korrek om te aanvaar dat God na sy aanvanklike universele betrokkenheid (Gen 1-11) nou beperkend wil wees en die ander volke wil uitsluit nie. God se intensie in die res van die Ou Testament is net so “universalisties” soos Genesis 1-11. God se doel, om alle volke se God te wees en deur alle volke gedien te word, verander nie, net sy metode. In Genesis 1-11 was Hy direk by almal betrokke, van Genesis 12 af wil Hy die volke deur Israel na Jerusalem toe lok. (*Uitverkiesing)

Die verbond wat God met Abraham sluit, het ‘n paar belangri­ke kenmerke.

•             Die totale inisiatief gaan van God uit. Hy bepaal ook al sy eie en Abraham se verantwoordelikhede.

•             God sluit nie die verbond met Abraham met die belofte dat Hy dit ook later met elkeen van sy nasate sal sluit nie. Hy sluit dit met Abraham-en-sy-nageslag as ‘n eenheid (Gen 17).

•             Dit bring dadelik die korporatiewe karakter van die ver­bond na vore. Abraham verteenwoordig sy nageslag, ja, eintlik sluit hy sy nageslag in homself in. Ons sien die interpretasie wat die skrywer aan die Hebreërs daaraan gee baie duidelik as hy in 7:4 die punt maak dat Levi, Abraham se kleinkind, eintlik self tiendes aan Melgisedek gegee het toe Abraham dit gedoen het lank voor Levi se geboorte. Hy skryf: “Levi was nog in die liggaam van sy stamvader” (7:10). Hierdie kenmerk van korporatiwiteit sal nog later blyk uiters belangrik te wees.

•             Verder is die verbondsformule van hierdie verbond die een sin wat verreweg die meeste in die Bybel voorkom: “Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees.” Dit op sigself dui op die oorheersende belang van die Abra­ham­ver­bond. Hierdie formule hou alles in wat goed en reg is tussen God en ons: sy liefde, sorg en seën, en ons liefde, trou en ge­hoorsaamheid.

 

Die Abrahamverbond in die Evangelies

Omdat Matteus sy Evangelie vir die Jode skryf, begin hy Jesus se geslagsregister juis by Abraham (Matt 1). Dit is in hierdie lig vreemd dat hy verder nie besondere aandag aan Abraham gee nie (nog­tans Matt 3:9; 8:11). In Lukas se Evangelie kom Abraham sterk na vore in die lofliedere van Maria en Sagaria (Luk 1). Die hoogtepunt van Maria se loflied is die uitspraak dat die koms van Jesus die ver­vulling van die beloftes aan Abraham is (1:54-55). Ook Sagaria se loflied eindig met Abraham. Jesus se koms is die vervulling van ‘n belofte wat met ‘n eed aan Abraham bevestig is (1:70-75).

In Johannes 8:31-59 het ons ‘n besondere gesprek tussen Jesus en die Joodse leiers. Hieruit blyk watter sentrale betekenis Abra­ham vir hulle gehad het (“Abraham is ons vader”, 8:33, 39, 53), maar ook hoe Jesus ontken dat Abraham regtig hulle vader is omdat hulle nie na Hom luister en sy woorde aanvaar nie. Hier kom ‘n nuwe perspektief op die vaderskap van Abraham na vore, iets wat ons nog sterker by Paulus kry: Nie hulle wat uit die nageslag van Abraham gebore is, is sy kinders nie, maar hulle wat vir Jesus aanvaar. Dit beklemtoon die geestelike betekenis van Abraham, en weerspreek die gedagte dat die verbond met Abraham net ‘n nasionale verbond was. (*Doop)

 

Die Abrahamverbond in die Briewe

Dit is egter in die Briewe van Paulus waar ons die rykste beteke­nis van Abraham uitgewerk kry. Dit gaan veral om twee sake: die regverdiging deur die geloof, die hart van Paulus se bood­skap (Rom 4 en Gal 3), en die verbond. Hy stel Abraham sonder meer met die evangelie gelyk. Daar is in die Nuwe Testament net een manier om deur God geseën te word, en dit is saam met Abraham (Gal 3:9). Dit is so omdat Christus aan die kruis die Abrahamverbond ook vir die heidene oopgemaak het (3:14). Die *doop verbind ons aan Christus, en as ons aan Hom behoort, het ons ook deel aan die verbond van Abraham (Gal 3:26-29), want Abraham is die vader van alle gelowiges. Nogeens kom die feit na vore dat die verbond met Abraham ‘n geestelike saak is en nie bloot ‘n natuurlike of nasionale verbond nie. Dié Jode wat nie regtig glo nie, stam wel letterlik van Abraham af, maar hulle is nie regtig kinders van Abraham nie. Daarvoor is geloof nodig (Rom 9:6 ev).

 

Christus, dié nakomeling van Abraham

Hierna moet ons nog ‘n bietjie kyk. Paulus verbind Christus op nog ‘n manier, ‘n hoogs merkwaardige en selfs omstrede manier, aan die Abra­ham­verbond. In die Ou Testament lees ons dat God met Abraham en sy nageslag die verbond gesluit het (Gen 17:7 ev). In Genesis word hierdie “nageslag” verstaan as Abraham se nasate, maar Paulus interpreteer dit as ‘n enkelvoud, “nakomeling”, en pas dit op Christus toe (Gal 3:16). Daaruit lei hy dan af dat Christus hierdie “nageslag” van Abraham is met wie God die verbond gesluit het. Dit is ‘n buitengewone interpretasie wat altyd wenkbroue laat lig. Hoe werk dit?

Hierdie siening kom ook in een van Petrus se preke voor. Met verwysing na die Abrahamverbond praat Petrus ook van Abraham se “nakomeling” en pas dit ook op Christus toe (Hand 3:25-26).

Die Hebreeuse woord wat in Genesis 17:7 en elders vir “nage­slag” gebruik word, is ‘n versamelwoord of ‘n kollektief. Dit word vir gewone saad van plante gebruik, maar ook vir die nageslag van mense. In die aartsvaderverhale word dit inderdaad as die hele nageslag van Abraham, Isak en Jakob verstaan. Hoe kan Paulus en Petrus dit nou as ‘n enkelvoud interpreteer en dit dan op Christus toepas?

Miskien is dit tog nie so buitengewoon nie. Die woord word minstens twee keer in die Ou Testament in elk geval vir ‘n enkele kind gebruik (Gen 4:25; 1 Sam 1:11). Dit kan dus ook in die enkelvoud gebruik word. En verder word die interpretasie in die Nuwe Testament ook gesteun deur die verskynsel van die “oorblyfsel” of “klompie” (Jes 1:9). Meer as een keer het ons die belofte dat ter­wyl Israel as geheel aan die Here ontrou is, daar ‘n oorblyfsel sal wees wat getrou bly en wat Israel sal ver­teenwoordig. Hierdie ver­skynsel loop dan meer as een keer op Jesus uit as die enigste een wat getrou gebly het. Omdat die Here se verhouding met Israel op die lang duur al meer skeefloop, en in ‘n sin selfs doodloop, neem Jesus al meer hulle rol oor en vervul hulle geskiedenis. Heelwat van die dinge wat deel van hulle geskiedenis was, kry ons dan in Jesus terug.

•             Hy is die Paaslam (1 Kor 5:7).

•             Hy is die rots waaruit hulle water gekry het (1 Kor 10:4).

•             Hy is die eintlike brood wat die Vader uit die hemel gee, nie die manna nie (Joh 6:33 ev).

•             Hy is die Seun van God, wat Israel en hulle koning eintlik moes gewees het (Ps 2:7).

•             Hy is dié profeet.

•             Hy is die priester volgens die priesterorde van Melgisedek.

•             Hy het self ‘n uittog uit Egipte omdat Israel misluk het (Matt 2:14-15).

 

Dan is dit nie vreemd dat Hy selfs die rol van die nageslag van Abraham oorneem en vervul nie. Hulle het nie hul roeping uitgevoer om die nasies na Jerusalem te lok nie.

Dan is dit nie so uitsonderlik as Paulus én Petrus skielik die moontlikheid benut om die kollektiewe begrip “saad” of “na­ge­slag” as ‘n enkelvoud te interpreteer nie. Jesus neem nie net die rol van al die besondere ampte/persone in die Ou Testament oor nie, maar letterlik ook die rol van Israel self. Hy is die eintlike saad/nageslag in/deur wie al die nasies van die aarde geseën sal word.

Maar lewer dit nie nou weer sy eie probleem op nie? As Jesus die enigste een is wat getrou gebly het, sit God dan op die ou end met net een lid van sy volk/kerk? Nee, want Paulus hou nie by Christus op nie. Hy gaan deur tot by die *doop: Deur die doop word ons aan Christus verbind, en omdat Hy die nageslag van Abraham is, word ons ook, deur Hom, “nakomelinge van Abraham” (Gal 3:26-29).

Die sirkel is voltooi. Die verbond wat God met Abraham gesluit het, is die een wat deurloop deur die Ou Testament én die Nuwe. Christus het hierdie verbond vir die heidene kom oopmaak, en deur die doop word ons met Hom verenig om self ook nakomelinge van Abraham te word. Want niemand kan op ‘n ander manier geseën word as saam met die gelowige Abraham nie (Gal 3:9). So word die belofte vervul dat al die volke in Abraham geseën sal word (Gen 12:3).

 

  • Die ou verbond en die nuwe verbond

Dit blyk nou duidelik dat dit ‘n totale misverstand is om te be­weer dat die Abrahamverbond die ou verbond is wat afgeskaf is. Die Abrahamverbond is sonder meer die genadeverbond en die geloofsverbond. Omdat die een groot betekenis van Christus se kruisdood is dat Hy hierdie verbond vir heidene oopgemaak het, en omdat Christus self die eintlike nakomeling van Abra­ham is, is dit buite die kwessie dat hierdie verbond afgeskaf kan word. Daar­mee sou die evangelie afgeskaf wees. Dis nie ‘n wonder dat Paulus uitdruklik verklaar dat die evangelie (“goeie nuus”, Gal 3:8) alreeds aan Abraham verkondig is nie. Abraham is uit ge­nade en deur ge­loof gered. As hierdie verbond afgeskaf sou wees, hoe word ons dan nou gered? Deur ons werke?

Die werklike vraag sal eerder wees wat die verhouding is tus­sen die Abrahamverbond en die nuwe verbond. En daarvoor kyk ons nou na die ou verbond en die nuwe.

Die klassieke misverstand dat die ou verbond die Abraham­verbond is wat afgeskaf is ten gunste van die nuwe verbond, kan nooit standhou in die lig van die duidelike verwysing na die ou verbond in Jeremia nie. Daar lees ons die ou verbond is die verbond wat die Here met Israel gesluit het toe Hy hulle “aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het” (Jer 31:32). Daar is geen moontlikheid dat dit die Abrahamverbond kan wees nie. Dié is 430 jaar vroeër al gesluit (Gal 3:17). Die ou verbond is die verbond wat tydens die uittog by Sinai gesluit is. Dit is die verbond van die wet, die ver­bond wat Israel na die ballingskap verabsoluteer het deur dit los te maak van die Abrahamverbond en die geloof, en daarvan wet op wet en gebod op gebod te maak. Daar was later oor die 600 wette wat een vir een presies onthou en onder­hou moes word sonder dat dit “op hulle harte geskryf was” (Jer 31:33). Dit is die verbond waarmee aanvanklik niks verkeerd was nie omdat dit eenvoudig die wet was wat die volk se lewe binne die Abrahamverbond moes reël, maar wat deur die volksleiers ver­self­standig is, los van die geloof en die gehoorsaamheid.

Wat is dan die nuwe verbond? Presies dit wat deur die mo­ra­lis­me van die Fariseërs doodgewurg is: die egte kennis en geloof in die harte van die mense soos dit in die hart van Abraham geleef het. In Jeremia word dit só gestel: “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees” (31:33). Maar dit is presies die formule van die Abrahamverbond! Dit is dus volkome verantwoord om te sê dat die nuwe verbond die herbevestigde Abrahamverbond is wat in die tydperk na die ballingskap prysgegee is ten gun­ste van ‘n wettisis­me wat nie meer in die geloof veranker was soos by Abraham nie.

 

Daar is dus geen spanning tussen die Abrahamverbond en die nuwe verbond nie. Die inhoud is dieselfde. Christus het dit met sy bloed kom herbevestig nadat dit oorspronklik ook met bloed ingestel is (Luk 22:20; Gen 15:9 ev).

• Verbondshoof

As ons van ‘n verbondshoof wil praat, moet ons aanvaar dat dit Abraham is. Christus maak die Abrahamver­bond oop vir die heidene (Gal 3:14), Christus is Abraham se nakomeling (Gal 3:16) en ook ons word deur Christus Abraham se nakomelinge (Gal 3:26-29). Abraham is ook die vader van alle gelowiges (Rom 4:16).

• Verbondskinders

Dit beteken dat Christus Abraham se ver­bondskind is. Dit klink nogal vreemd, maar wat bedoel Paulus anders in Galasiërs 3:16? Verder is ook ons deur Christus Abraham se verbondskinders (Gal 3:16). Maar tegelykertyd is ons ook God se verbondskinders. Hy neem ons op in die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, die ewige genadeverbond.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Vaevuur

Die Groot Geloofswoordeboek: Vaevuur

Vaevuur

Die *Katolieke Kerk leer dat daar ‘n vaevuur (purgatory) is waar die siel die finale reiniging kry voordat dit voor God kan staan en Hom van aangesig tot aangesig sien. Hulle is oortuig dat geen mens volmaak en sonder enige sonde sterf nie, en dat elkeen dus nog ‘n finale reiniging nodig het.

Protestante het dit oor die algemeen verwerp as onskriftuur­lik. Origenes het hom indertyd beroep op 1 Korintiërs 3:15 om die vaevuur te regverdig: “As iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.” Maar hier is in figuurlike sin sprake van iemand wat alles verloor (dit word deur die vuur verbrand) en dan tog op die nippertjie gered word.

 

Skrywer: Prof Adrio König