Alle Paaie lei na Jesus: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan? (2)
Alle Paaie lei na Jesus: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan? (2) – Adrio König
6.6.2 Die vroeë Christene se gebruik van die Septuagint
Waarom is hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament vir ons belangrik? Miskien het jy dit self al opgemerk dat die skrywers van die Nuwe Testament soms vreemde woorde gebruik wanneer hulle uit die Ou Testament aanhaal. Vergelyk Amos 9:11- 12 met Handelinge 15:16-17. Die twee stelle woorde kom glad nie ooreen nie, terwyl Jakobus doelbewus uit Amos aanhaal. Waar kry Jakobus hierdie vreemde woorde?
Hy haal uit die Griekse vertaling aan en nie uit die oorspronklike Hebreeus nie, terwyl ons Ou Testament juis uit die Hebreeus gemaak is. ’n Mens kry talle sulke verskille, soms kleiner, soms groter. Dit is dus nie die skrywers van die Nuwe Testament wat nie versigtig en korrek uit die Ou Testament aangehaal het nie. Dis die vertalers van die LXX wat nie noukeurig vertaal het nie. Miskien moet ons dit tog versigtiger stel. Ons is vandag taamlik seker dat daar nie net een enkele Ou-Testamentiese teks bestaan het nie. Waarskynlik het daar van sekere boeke in die Ou Testament verskillende weergawes die rondte gedoen. Daar was nog geen boekdrukkuns nie. Mense moes alles met die hand oorskryf. Dit alleen kon taamlike verskille ten gevolge gehad het. En ons is dus nie seker of die vertalers nie dalk sulke afwykende tekste gehad het vir hulle vertaling nie.
Maar waarom dié lang storie oor die twee Ou Testamente? Omdat ons nog ’n keer gaan sien hoe alle paaie na Jesus lei. Ons weet natuurlik baie min oor die situasie waarin die vertalers was of die oogmerke wat hulle met die vertaling gehad het. Ons is wel taamlik seker dat hulle nie so noukeurig vertaal het nie, en hulleself selfs heelwat vryhede veroorloof het. Ons kan selfs ’n paar tendense in die vertaling identifiseer. En dis juis dit wat vir ons belangrik is.
Dis nie vreemd dat die meeste vroeë Christene die Septuagint bo die Hebreeus verkies het nie. Die evangelie het vinnig in die Griekssprekende wêreld versprei. Dink maar net aan Paulus se sendingreise. Dis tog vanselfsprekend dat hy sou verkies het om die Grieks te gebruik in sy sendingwerk onder Griekssprekendes. En Grieks was die algemene omgangstaal in die gebiede waarin hy gewerk het.
Maar dit kan nie al rede wees vir die voorkeur aan die Septuagint nie. Jakobus haal ook uit die LXX aan, maar hy werk in Jerusalem onder Arameessprekende Jode.
6.6.3 Messianisering en Missionisering
Daar was in die inhoud van die Septuagint rede waarom ook Jakobus dit verkies het bo die oorspronklike Hebreeus. Onder die tendense in hierdie vertaling is twee belangrik, die Messianiseringstendens en die Missioniseringstendens.
Messias: Die eerste tendens het met Messias te doen. Die Griekse vertalers het die neiging gehad om tekste wat nie regtig na ’n komende Messias verwys het nie, só te vertaal dat ’n mens dit Messiaans kon interpreteer. In Genesis 47:31 het die Septuagint “septer” terwyl die Hebreeus “bed” het (“En Jakob het daar op sy septer (ipv bed) gebuig voor God”). Die vertalers van die Septuagint doen dit omdat “septer” elders in verband met die Messias gebruik word (Ps 2:9; 110:2), en hulle dus met hierdie vertaling die indruk wil skep dat Jakob ’n tipe van die komende Messias is. Ook in Jesaja 11:1 vertaal die Septuagint “heerserstaf” in plaas van “takkie”, en bereik dieselfde effek. In Numeri 24:7 lees die Hebreeus: “Israel se waterkruike loop oor, hy saai waar oorvloed water is.” Dit word vertaal as: “Iemand sal uit sy nageslag kom en hy sal heers oor baie volke.” Onmiddellik laat dit weer aan die Messias dink.
Behalwe hierdie soort Messiaserende tendens was daar ook gevalle waar die Septuagint se vertaling die vroeë Christene goed gepas het al het die vertalers dit waarskynlik nooit so bedoel nie. Die vroeë Christene het graag gebruik gemaak van die Septuagint by Jesaja 7:14. Die vroeë Christene het aan Jesus se maagdelike geboorte geglo. Om dit te bevestig, kon hulle die Septuagint gebruik wat Jesaja 7:14 met “maagd” vertaal het teenoor die Hebreeus wat “’n jong vrou” het: “Die maagd sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring” (Matt 1:23). ’n Jong vrou hoef natuurlik nie ’n maagd te wees nie, want ’n maagd is ’n meisie wat nie maar net jonk is nie, maar wat nog nooit seksuele gemeenskap gehad het nie. Só kon die Christene hulle dus op die Septuagint beroep om te sê dat Jesus hierdie kind was.
In die liedere oor die dienaar van die Here in Jesaja word die Hebreeuse woord vir “dienaar” elke keer in die Septuagint met “kind” vertaal. Die vroeë Christene kon dit maklik op Jesus toepas wat ook die Kind (“Seun”) van God genoem is. Die Grieks vir “kind” en “seun” is dieselfde.
Sending: Maar daar was ook ’n sendingtendens in die Septuagint. Tekste wat eintlik ’n meer nasionalistiese betekenis het, is vertaal as sendingtekste. Kom ons kyk na een so ’n voorbeeld. Jakobus haal Amos 9 aan in sy toespraak in Handelinge 15. Sy aanhaling kom uit die Septuagint.
Amos 9:12 Handelinge 15:17
Sodat my volk (Israel) die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is. Sodat al die nasies die Here kan soek oor al die nasies ja, al die heidennasies oor wie my Naam uitgeroep is wat Ek geroep het om my eiendom te wees.
In Amos was hierdie profesie ’n nasionalistiese profesie. Dit het daarop neergekom dat Israel in die toekoms oor Edom ’n oorwinning sal behaal, en sommer oor ’n aantal ander volke ook. Dit was ’n “lekker” belofte, want Edom was een van Israel se aartsvyande. Maar in die Septuagint word dit ’n sendingprofesie. Die heidennasies sal die Here soek, almal oor wie sy Naam al klaar uitgeroep is.
Daar is meer sulke voorbeelde. In die Hebreeus lees ons in Jesaja 54:15: “As iemand jou aanval, het Ek hom nie gestuur nie; wie jou aanval, sal die onderspit teen jou delf.” Dit word vertaal met: “Proseliete sal om my ontwil by jou aansluit, hulle sal by jou ’n toevlug soek,” ’n duidelike sendingvertaling.
In Jeremia 3:19 word die persoon wat aangespreek word, in die Septuagint “Here” genoem (anders as in die Hebreeus), en in plaas daarvan dat hy “’n besitting kry wat liefliker is as enigiets wat enige nasie het,” word Hy “die magtige Heerser oor die nasies” genoem. Sulke vertalings het gepas in die vroeë Christene se oortuiging dat die Messias oor die nasies sal heers, en dat hulle Hom dus aan die heidene moet gaan verkondig.
In Genesis 49:10 word verwys na “die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp”. Dit word in die Septuagint vertaal met: “Die heerser wat die hoop van alle volke sal wees.” Dadelik kom die sending dus in perspektief. Dit is die diepste rede waarom die Christene selfs in Jerusalem die Septuagint verkies het, al het hulle nie die Griekse taal nodig gehad soos Paulus nie.
’n Mens kan natuurlik vra waarom die Jode die Hebreeus só vertaal het. Waarom die nadruk op die Messias en die sending? Daar kan verskillende sienings hieroor wees, maar ’n mens moet onthou die Septuagint is so ongeveer 200 jaar voor Jesus vertaal. In hierdie tyd het dit sleg gegaan met Israel. Hulle is keer op keer deur vyande oorwin en oorheers. Hulle kon dus maklik ’n nuwe behoefte ontwikkel het dat die Messias sou kom omdat hulle geglo het Hy gaan hulle van hulle vyande verlos en die heerlikheid herstel soos dit in die tyd van die groot koning Dawid was. Hulle het dus ’n dringender behoefte aan die Messias ontwikkel.
Verder het hulle juis in hierdie tye baie meer te doene gekry met mense uit ander gelowe. Hulle was klein minderhede in groot wêreldstede soos Alexandrië in Egipte, en Korinte in Griekeland. Dit kon gelei het tot die besef en behoefte dat hulle hulle geloof met ander moet deel. Hulle kon ook hulle godsdiens vergelyk het met die ander, en oortuig geraak het dat hulle iets meer het om aan ander aan te bied. Daar was altyd by die profete ’n belangstelling in ander mense. Die Ou Testament het self die toekomsverwagting dat die volke na Jerusalem sal stroom. Dit alles kon ’n bepaalde dringendheid by hulle laat ontstaan het om hulle godsdiens met die mense rondom hulle te deel, sodat selfs in die vertaling van die Ou Testament die vertalers die boodskap van die sending sterker wou laat deurkom.
Die feit dat die Christene hierdie vertaling verkies het, sê net nog ’n keer dat alles vir hulle om Jesus gegaan het, en dat hulle ’n vertaling verkies het wat hulle nog meer as die Hebreeus gehelp het om Hom en sy boodskap te beklemtoon.
Wat toe agterna gebeur het, is baie interessant. Die Christene het hierdie tendense in die Septuagint met groot vrug gebruik, onder andere ook om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is. Immers hulle het geglo die Messias het in Jesus gekom, en hulle kon die Jode se eie vertaling gebruik om dit te ondersteun. Dit het beteken die Joodse leiers het ’n reaksie teen hulle eie vertaling ontwikkel, so erg dat hulle dit later amptelik verwerp het. Maar die Christene het dankbaar daaraan vasgehou. Die Septuagint het tot in die tyd van die Kerkhervorming die Ou Testament van die Christene gebly; dus vir omtrent 1 500 jaar! Eers die Kerkhervormers het besluit om daarvan af te sien, en wel om redes wat nie almal so oortuigend is nie, en na die Hebreeuse Ou Testament terug te gaan. Die Katolieke Kerk het tot vandag nog meer respek vir die Septuagint as die Protestante.
In die volgende artikel gaan ons na die gesag van die Septuagint kyk.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer:Prof Adrio König