Alle Paaie lei na Jesus: Jesus Christus – Adrio König
4.12 Jesus Christus
4.12.1 Skepper
Daar het ’n baie algemene oortuiging onder Christene posgevat dat Jesus “net die Skeppingsmiddelaar is”. Dit sou dan iets minder beteken as Skepper. Hy sou maar net die instrument wees deur Wie God alles geskep het, sodat net God die Vader die Skepper in eintlike sin is.
Dit is egter nie die volle verhaal nie. Christus word bely as Skepper op presies dieselfde vlak as die Vader. In Johannes 1:1-3 verwys Johannes doelbewus terug na Genesis 1 waar God die Skepper is. Maar Johannes pas dit direk op die Woord toe. En hy beklemtoon dat Hy Skepper is: “Alles het deur Hom tot stand gekom; ja, nie een enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” Verder aan in dieselfde lied herhaal hy dit: “die wêreld het deur Hom tot stand gekom” (1:10).
Ook Paulus plaas Hom langs die Vader in sy belydenis: “Een God: die Vader, uit wie alles is … en een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan” (1 Kor 8:6). In Openbaring 3:14 is ’n effens moeiliker uitspraak. Vroeër is vertaal dat Jesus “die begin van die skepping van God” is. Die Grieks verwys egter skynbaar na ’n veroorsakende begin sodat ’n mens kan vertaal: “Die Een wat die skepping begin het” of “die Oorsprong van die skepping” (NLV). Dit is ook wat ons in Kolossense 1:16 kry: “Want in Hom is alle dinge geskape … alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (1953).
Terloops, dis nie duidelik waar 1983 en NLV hulle weergawe kry nie: “God het deur Hom alles geskape” in plaas van “alles is deur Hom geskape”. Hulle verander ’n passiewe vorm in die aktief, waarmee natuurlik niks verkeerd is nie. Maar die passief in die Grieks is “alles is deur Hom (die Seun) geskape”. Dit moet in die aktiewe vorm tog wees: “Hy (die Seun) het alles geskape.” Waar kom die gedagte dan vandaan dat God die aktiewe onderwerp moet wees wat deur die Seun geskep het? Hier is geen verwysing na God nie. Die Seun word hier as Skepper bely. Die verband vra dit ook. Hierdie sin is deel van die Christuslied wat juis Christus se grootheid besing teenoor die engele-aanbidding wat in die gemeente gedreig het. Verder aan in die lied word daarom weer uitdruklik sy grootheid bely: “Deur Hom bly alles in stand” (1:17), en “sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem” (1:18). Dit sou tog vreemd wees as Paulus in hierdie verband iets minder oor Hom wou sê, Hom as ’t ware ’n bietjie wou “afskaal” asof Hy net Skeppingsmiddelaar sou wees, en nie vol uit Skepper soos die Vader nie.
Trouens in die belydenis dat Christus saam met die Vader Skepper is, het ons een van die twee belangrikste bydraes tot die skeppingsleer in die Nuwe Testament. Soos in die geval van al die ander groot temas, lei ook hierdie een dus in die Nuwe Testament na Jesus Christus.
Daar is wel een uitsondering, Hebreërs 1:2: “God het Hom deur Wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.” Hiervolgens het God deur Christus geskape. En dit is waar. Maar hierdie een uitspraak waarvolgens Christus Skeppingsmiddelaar is, kanselleer tog nie al die ander wat Hom net soos die Vader as Skepper bely nie. En ook hierdie uitspraak is nie bedoel om Christus minder as die Vader te maak nie. Immers net ’n paar verse verder word van Hom gesê: ”U, Here (Jesus), het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande.” Dit is ’n aanhaling uit Psalm 102:26 ev, en dáár word dit direk van God gesê. Maar hier in Hebreërs word dit dan op Christus toegepas. Waar God dus in die Ou Testament as Skepper bely word, word dit in die Nuwe soms direk op Jesus oorgedra.
4.12.2 Skeppingsdoel
Maar daar is meer. Jesus word ook die doel van die skepping genoem, ’n heeltemal nuwe gedagte in die Nuwe Testament. Hy word bely as die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde (Op 22:13). Dit is omvattende uitdrukkings. Alfa is die eerste letter en omega die laaste letter van die Hebreeuse alfabet. Ons ken die uitdrukking “van A tot Z”. Dit beteken “alles”. Net so die Hebreeuse uitdrukking “die Alfa en die Omega”. Jesus het dus ’n omvattende betekenis vir die hele werklikheid. Ons kry oor ons persoonlike verhouding met Hom dieselfde gedagte in Hebreërs: “Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof” (12:2).
Maar die ander twee uitdrukkings sê selfs meer. Jesus is ook die Begin en die Einde van die skepping. Dit mag lyk na dieselfde betekenis, maar dis veel ryker. Die woord vir Begin beteken eintlik veroorsakende begin, inisieerder. Tereg vertaal die NLV Openbaring 3:14 waar Jesus die begin van die skepping genoem word, met: “die oorsprong van God se skepping.” Dit bring ons terug by Jesus as die Skepper (en nie net die Skeppingsmiddelaar nie) saam met die Vader.
Maar dan word Hy die Begin en die Einde genoem. Natuurlik kan “einde” bloot beëindiging, afloop beteken, of dit nou ’n sukses of ’n mislukking was. Maar dis presies wat die Griekse woord nie beteken nie. Die woord word dikwels tereg met “doel” vertaal. Waar Hy dus die “Einde” van die skepping genoem word, is dit ’n einde waarin die doel bereik is, die doel van God met die skepping.
Dié gedagte kry ons veral by Paulus. In sy wonderlike Christuslied lees ons onder andere: “Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol 1:16). Die “vir Hom” beteken eintlik iets soos: Op Hom gerig, in beweging na Hom toe, om sy doel in Hom te bereik. GN vertaal “vir Hom” soos volg: In Hom vind alles sy laaste doel. Elders lees ons Hy is erfgenaam van alles (Heb 1:2), wat tog ook iets hiervan sê. Wat sou dit kon beteken dat Christus die doel van die skepping is, dat alles in Hom sy doel sal bereik? In die geval van die mens weet ons eintlik wat dit beteken (hoofstuk 5). Ons as mense het misluk in God se doel met ons – om in ’n liefdesverhouding met Hom te leef en sy beeld te wees. Omdat ons misluk het, het God aan ons sy beeld kom wys in Iemand wat in so ’n liefdesverhouding met Hom leef en aan ons wys hoe Hy is – Jesus.
Maar Jesus het meer kom doen as net om te wys. Deur Jesus wil God presies doen wat sy doel van die begin af was: om in ons sy doel te bereik. Jesus kom vervang ons dus nie en stoot ons opsy soos Hy die tempelkultus opskort en vervang deur sy eie priesterskap en offer nie. Hy verenig ons deur die Gees en die geloof met Homself, só dat ons in sy lewe deel, deel van sy liggaam word, en só regtig deel word van Hom in wie God sy doel bereik. Daarom wil die Gees ons soos Jesus maak om
- soos Hy te vergewe,
- soos Hy lief te hê,
- soos Hy rein te wees,
- soos Hy te verdra,
- soos Hy die sonde te oorwin,
- soos Hy heilig te leef,
- en al die ander eienskappe wat ons in Jesus se lewe sien.
Iets hiervan sal seker deel wees daarvan dat die hele skepping sy doel in Jesus sal bereik. Die totale samelewing is bedoel om in liefde te funksioneer. Dan word dit ’n samelewing wat omgee, wat ondersteun, wat verdra en dra, en nie een waarin mense mekaar uit die pad elmboog om ten alle koste, oor hoeveel lyke ook al, vóór te kom en eerste te wees nie. Dit sal ’n samelewing wees waarin nie net die toppresteerders aandag kry nie, maar ook die “arme” gemiddelde en ondergemiddelde kind, waarin ’n kind teen homself/haarself sal meeding, en as jy jou insette verbeter het, beloon word al is jy nog altyd onder aan die lys.
Omdat God liefde is, kan net liefde regtig werk in die skepping wat uit sy hand gekom het. Hy het immers getrou aan Homself geskep. En in Jesus sien ons hoe dit werk in die lewe van ’n enkeling. Nou wil Hy deur ons vir die wêreld wys hoe dit in die lewe van ’n gemeenskap werk. Dit is wat die gemeente bedoel is om te wees: ’n Venster waardeur mense God kan sien.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König