Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (3) – Adrio König
Ons is nog besig om na heil en saligheid te kyk. In die vorige gedeeltes het ons na die doel van die skepping as ook na die Ou Testament gekyk. Nou gaan ons na die Nuwe Testament kyk. Hier gaan ons veral na vier aspekte kyk. Die eerste twee het ons reeds hanteer.
- Heil sonder gawes.
- Toekomstige heil.
- Verheerliking.
- Die ewige lewe.
2.3.3 Verheerliking
Daar is wel nog ’n ander helfte van die verhaal. Enersyds is daar baie sterk aansluiting tussen die begin en die einde, tussen Genesis 1 en 2, en Openbaring 21, 22. Maar andersyds is daar ’n belangrike plus bo die Ou Testament. Daarvoor word gewoonlik twee begrippe gebruik: Verheerliking
en die ewige lewe.
Hierdie plus moet ons waarsku om nie aan die heil te dink as bloot ’n herstel van die oorspronklike toestand (Gen 2) nie. Daar is gelowiges wat presies dit graag doen. Hulle dink ons sal teruggeplaas word in die posisie/toestand waarin Adam en Eva oorspronklik was. Net die sonde en die gevolge van die sonde sal weggeneem word. Nou sal dit natuurlik al geweldig baie wees. Trouens ons sou maklik daarmee tevrede kon wees. Maar ons kry meer in die Bybel.
Kom ons begin by Openbaring 21, 22 omdat ons so pas daarna gekyk het om aan te toon dat die heil aan die einde inderdaad aansluit by die heil volgens die Ou Testament. Maar dieselfde hoofstukke beklemtoon net so sterk dat daar op die nuwe aarde veel meer sal wees.
- Daar is veel sterker en nader gemeenskap tussen God en die mense. In Genesis besoek Hy vir Adam en Eva, maar in Openbaring woon Hy by die mense (21:3).
- Aan die begin was daar net ’n tuin, en dié moes opgepas word. Aan die einde is daar ’n stad waarvan die poorte dag en nag oopstaan (Gen 2:8, 15; Op 21:10, 25). Ons moenie hierdie opvallende verskil miskyk nie. Ons het dikwels negatiewe belewings van ’n stad, veral van ons moderne middestede. Ons sal ’n tuin honderdmaal bo ’n middestad verkies. Maar in die Ou Testament is die stad die simbool van veiligheid en geordendheid. God woon in die stad Jerusalem en Hy beskerm die stad.
Buite die stad was dit onveilig, dáár was mag reg. ’n Groot deel van die offer wat Abraham bring as die Here hom roep, is om uit die stad Haran na die oop veld van Kanaän te trek en in tente te gaan woon.
- Maar op die nuwe aarde kry ons ook nie net ’n gewone stad nie, maar ’n oorluukse een. Die rykdom is vir daardie tyd onvoorstelbaar: Die stad self en die strate is van suiwer goud, en die poorte van pêrels.
- In Genesis verlig die son en die maan die wêreld, maar aan die einde verlig die heerlikheid van die Here die stad, en “die Lam is sy lamp” (Op 21:23). Dis interessant dat die simboliese voorstelling in Genesis 1 is dat die Here eintlik aan die begin self die lig beheer het en eers op die vierde dag die son en maan gemaak het om hierdie verantwoordelikheid van Hom oor te neem. Maar skynbaar neem Hy dit terug aan die einde. Dan is daar nie meer ’n son en ’n maan nie, “want die heerlikheid van God het die stad verlig, en die Lam is sy lamp” (Op 21:23).
Hierdie plus bo die begin, kom ook in ander verbande dikwels in die Nuwe Testament voor. Paulus vergelyk Adam en Christus twee keer om te beklemtoon dat Christus veel meer is as Adam. Hieruit moet ons leer dat die verlossing en die eindheerlikheid veel meer is as die skepping.
- Deur Adam het ons onder die oordeel van God gekom, maar deur Christus word ons vrygespreek.
- Deur Adam se sonde het die dood geheers, maar deur Christus ontvang ons ’n oorvloed genade en sal ons lewe en heers.
- Die een oortreding het gelei tot veroordeling van alle mense, maar die een daad van gehoorsaamheid het gelei tot vryspraak en lewe vir almal.
- Soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars geword het, sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word (Rom 5:15-19).
Maar dis een ding om te weet die einde sal veel meer wees as die begin, ons sal verheerlik word. Maar dis ’n ander ding om te probeer agterkom wat met hierdie “verheerliking” bedoel word. Dit kan help om na die heerlikheid van God te kyk. In die Ou Testament word sy heerlikheid dikwels voorgestel as ’n ligglans wat so helder is dat ’n mens nie eens daarna kan kyk nie. Soms word gesê dat ’n mens God nie kan sien en bly lewe nie. Daarom beskryf die mense aan wie God verskyn, nooit hoe Hy lyk nie, maar net die dinge rondom Hom. Jesaja skryf dat hy die Here gesien het, maar hy sê nie hoe die Here lyk nie, hy beskryf net die dinge rondom Hom: sy troon, sy kleed, die serafs (Jes 6:1 ev).
Uit dit alles is dit duidelik dat ons nie veel uit die Ou Testament kan aflei oor die heerlikheid van God nie. Maar in die Nuwe Testament word sy heerlikheid in verband met Christus gebruik. In Jesus het die dissipels die Vader se heerlikheid gesien (Joh 1:14), en dit was die oorvloed van sy genade en waarheid. Dit bring die heerlikheid van God op ’n ander vlak, nie hoe Hy lyk nie, maar wat Hy doen. En dan kan ’n mens maklik in sy kruisiging en opstanding die toppunt van sy heerlikheid sien: genade en waarheid.
Maar verder word ook ons met sy heerlikheid in verband gebring. Ons weerspieël die heerlikheid van die Here Jesus en ons word geleidelik verander om aan sy beeld gelyk te word sodat ons sy heerlikheid al meer kan uitstraal (2 Kor 3:18). Dan word heerlikheid etiese kwaliteite. En dan dink ons onwillekeurig aan Openbaring 21:27 dat in die nuwe Jerusalem niks onreins sal inkom nie.
Maar Paulus het ook ander beklemtonings in verband met heerlikheid. Wanneer hy oor ons eie toekomstige opstanding skryf, gebruik hy sterk kontrasterende begrippe. Hy stel die mens wat gesterf het teenoor die mens wat opstaan:
- verganklik – onverganklik
- gering – in heerlikheid
- swak – in krag
- ’n natuurlike liggaam – ’n geestelike liggaam
Daar is maklik misverstand oor die “geestelike” liggaam asof dit nie meer regtig ’n liggaam sal wees nie. Maar net hierna noem Paulus Jesus se opstandingsliggaam “die lewendmakende Gees” (15:45). Daaruit kan ’n mens aflei dat “geestelike” liggaam beteken ’n liggaam wat by die opstanding deur die Gees lewend gemaak is.
Uit die teenoorstellings wat Paulus hier maak, is dit duidelik dat dit die swakheid, verganklikheid, sterflikheid van ons liggaam is wat oorwin word. Dit is die dood wat oorwin word, en dit is dan ’n deel van ons verheerliking. Maar daar is “voorvorms” van die dood, aanduidings dat ons aan die dood onderworpe is: swakheid, siekte, ouderdom. Maar ook hierdie vorms van lyding word in die verheerliking weggeneem: “Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Op 21:4). As ons nou teruggaan na “geestelike liggaam” is dit die liggaam wat deur die Gees opgewek is (Rom 8:11) en daarom volkome deur die Gees beheer word, wat beteken dat ook die sonde nou totaal oorwin is. Dit is wesenlike aspekte van verheerliking.
Maar dit het ons onbewustelik by die ewige lewe gebring, nog ’n belangrike faset van ons verheerliking.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König