Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (1) – Adrio König

8.5 Die toekoms van Israel

Vraagstelling

Daar is in die Ou Testament baie beloftes gemaak vir Israel as die ware Godsvolk. Skynbaar is sommige van hierdie profesieë nie vervul nie. In die Nuwe Testament het Israel as die ware Godsvolk ’n nuwe gestalte gekry: alle Jode en heidene wat in Jesus glo. Wat nou van hierdie beloftes? Is daar nog vir die huidige Israel wat in die staat Israel woon en oor groot dele van die aarde versprei is, ’n aparte rol in die toekoms? Wat is die verband tussen die huidige Israel en die ware Godsvolk?

Romeine 9-11 – Paulus se toekomsvisie vir Israel Dit is goed om by hierdie klassieke hoofstukke oor Israel te begin. Maar ’n mens moet netjies onderskei tussen drie betekenisse van “Israel”.

  • Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament.
  • Die nuwe vorm van hierdie Godsvolk Israel in Paulus se tyd as die vereniging tussen alle Joodse gelowiges en alle heidense gelowiges wat almal “groei” op die ou stam van die mak olyfboom, die ware Godsvolk van die Ou Testament.
  • Israel as die Jode wat Jesus verwerp het en van wie die koninkryk weggeneem is (Matt 21:43), die takke wat afgebreek is van die mak olyfboom, maar weer teruggeënt kan word as hulle Jesus as Messias aanvaar. Die huidige “Israel” as staat en volk is deel hiervan.

 

Paulus sit in Romeine 9 met die probleem dat die heidene die kerkbanke volsit, terwyl Israel die Messias verwerp het (9:1-6). Het God se beloftes aan Israel dan gefaal? (9:7) Sy antwoord is: Nee. En dan begin hy met ’n aantal onderskeidings om dit te verduidelik. Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie. Daar is ’n duidelike onderskeid tussen Isak en Ismael, en weer tussen Jakob en Esau. Hierdie besluite lê volkome in Gods hand, want dit hang nie van ’n mens se wil en strewe af nie, maar van God wat barmhartig is. In die geval van die farao sien ons Hy ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil (9:6-18).

 

Oor wie ontferm Hy Hom? Oor die heidene wat in Jesus glo. En wie verhard Hy? Vir Israel wat die Messias verwerp (9:20-33). Wat egter nou in hierdie laaste gedeelte gebeur, is dat hy ’n hele reeks profesieë wat in die Ou Testament vir Israel uitgespreek is, op die heidene toepas. En hy sê dit ook uitdruklik in 9:24.

 

Dit beteken dat die beginsel klaar vasgestel is: Profesieë wat vir Israel uitgespreek is, kan vir die heidene vervul word, en hoef dus nie noodwendig vir Israel-as-volk vervul te word nie. Daarna behandel hy dan in Romeine 11 die toekoms van die Israel wat die Messias verwerp het. Omdat Israel hul Messias verwerp het, het hulle gestruikel, geval, en is hulle verwerp (11:11, 12, 15). Hy verduidelik dit dan met die beeld van die twee olyfbome wat reeds behandel is (hoofstuk 8.3).

 

Hieruit kom die wonderlike boodskap dat hierdie Israel se verwerping nie finaal is nie. As hulle die evangelie glo en Jesus as hul Messias aanvaar, sal hulle teruggeënt word. Intussen duur hulle verharding voort “tot dat die volle getal van die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; en op hierdie manier sal die hele Israel gered word” (11:25-26).

 

Dis goed om net mooi te kyk wat hier staan. Hier word nie gesê wanneer “die hele Israel” gered sal word nie, maar hoe: “Op hierdie manier.” Hoe is dit? Só dat die verharding van die Israel wat Jesus verwerp het, voortduur solank die heidene tot geloof kom. Dit beteken dat hulle verharding tot die einde sal voortduur, maar dat oor hierdie hele tydperk sommige van hulle gered sal word.

 

Maar kan dít dan “die hele Israel” wees? Ja, onder “die hele Israel” bedoel Paulus nie kop vir kop alle Israeliete nie, net soos “die volle getal heidene” nie kop vir kop alle heidene is nie. Trouens daar is ’n vreemde beskouing dat die volk Israel (dus al die Israeliete wat iewers in die toekoms op ’n bepaalde oomblik sal leef) tot bekering sal kom nadat die heidene ingegaan het (wat nie hier staan nie), maar al die Israeliete wat iewers in die toekoms op ’n bepaalde oomblik sal leef, is tog nie “die hele Israel” nie, maar net een bepaalde geslag van die volk. Hier word niks gesê oor wat gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie.

 

En die hoofstuk loop uit op die merkwaardige dubbele “nou”: “Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle (heidene) ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit het gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind” (11:31). Dit gaan dus glad nie vir Paulus om die (verre) toekoms nie, maar om die tyd waarin hy geleef het. In sy tyd het die Jode ongehoorsaam geword én moet hulle terugkom en ontferming vind. En dit word nog duideliker uit die volgende gegewens in hierdie hoofstuk.

 

Paulus gee vroeër in die hoofstuk sy siening van die toekoms van die Israel wat Jesus verwerp het. Die heidene wat tot geloof kom, moet hulle jaloers maak. Dit is trouens die doel van sy sending  onder die heidene. Só wil hy die massa Jode in sy eie tyd tot bekering bring:

  • Die massa
  • Maklik
  • In sy eie tyd

Dit is Paulus se visie vir hierdie Israel (11:11-15).

 

Eerstens wil hy die massa jaloers maak en red. Dit is die betekenis van “sommige” in 11:14. Dit is ’n tipiese understatement, en uit 11:17 en 3:3 waar dieselfde Grieks gebruik word, is dit duidelik dat dit die groot meerderheid beteken.

Tweedens is hy seker dit sal maklik wees, want hulle is die natuurlike takke. Natuurlike takke ent baie makliker op die natuurlike stam as wilde takke. Kyk na die “hoeveel te meer” (11:24). Israel se hele geskiedenis is vol van die werk van God. Die heidene weet niks van Hom nie. Natuurlik sal Israel dan veel makliker tot bekering kom, is Paulus se argument.

Derdens verwag Paulus hierdie bekering in sy eie tyd, trouens dit is presies waarvoor hy homself inwerp. “Alhoewel ek die apostel vir die heidennasies is, strewe ek in my bediening daarna om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige (die massa) van hulle te red” (11:13-14). Dit klop presies met “op hierdie manier” (11:26), waar nie “dan” of “daarna” staan nie.

 

Paulus se toekomsvisie vir die Israel wat Jesus verwerp het, is dat, terwyl hulle verharding voortduur, die meeste van hulle deur die heidenbekerings jaloers gemaak sal word en Jesus as Messias sal aanvaar, sodat “die hele Israel gered kan word” terwyl die heidene ingaan.

 

Sy verwagting is dus nie ’n toekomstige apokaliptiese bekering net van die laaste geslag Jode nie – hoe kan dit “die hele Israel” wees? – maar ’n voortgaande bekering van die massa wat op staande voet deur die heidene jaloers gemaak word. En intussen het dit nie gebeur nie! Ja, maar hierdie “waarom” sal die Here eendag van ons, heidenchristene, vra.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na ‘n moontlike nuwe fase na die verharding. Ons gaan na ander uitsprake in die Nuwe Testament kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Ou Testamentiese benamings van Israel vir die kerk

Alle Paaie lei na Jesus: Ou Testamentiese benamings van Israel vir die kerk – Adrio König

8.4 Ou-Testamentiese benamings van Israel vir die kerk

Dit is dan ook nie vreemd nie dat juis die benamings wat in die Ou Testament vir Israel gebruik is, in die Nuwe op die kerk toegepas word. Die merkwaardigste getuienis hiervan kry ons in die eerste Petrusbrief.

Eers noem Petrus die gelowiges “’n heilige priesterdom wat geestelike offers bring”, uitdrukkings wat natuurlik dadelik aan Israel laat dink, maar dan word ’n stortvloed van Ou-Testamentiese aanduidings van Israel op die kerk toegepas:

  • die uitverkore volk,
  • ’n koninklike priesterdom,
  • ’n nasie wat vir God afgesonder is,
  • die eiendomsvolk van God (2:9).

 

En asof dit nog nie genoeg is nie, word ook die merkwaardige woorde uit Hosea 1:10-12 en 2:22 op die kerk toegepas: “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys” (2:10).

 

Die res van die Nuwe Testament is vol hiervan. Dink maar net aan Kolossense 3:12 waar ons lees dat die kerk die uitverkore volk van God is, aan die aanhef by byna elke brief van Paulus waar die gemeente in die Grieks “die heiliges” genoem word, en elders waar die gelowiges dikwels kinders van God en kinders van Abraham genoem word. Ook die uitdrukking “volk van God”, die tipiese benaming van Israel, word in die Nuwe vir die kerk gebruik. Maar veelmeer as dit. Talle beloftes wat direk vir Israel gegee is, word vir die kerk herhaal, en selfs vir die kerk vervul. Paulus gee ’n hele lys in 2 Korintiërs 6:16-18, en dan beklemtoon hy nogal: “Hierdie beloftes (wat oorspronklik aan Israel gegee is) is ook vir ons”, dus vir die kerk (7:1). Hy doen dieselfde in Romeine 9:24-29 waar hy nie minder nie as vier beloftes aanhaal wat vir Israel gemaak is en nou op die heidene toegepas word. En nogeens is hy heel spesifiek dat  dié beloftes nou vir dié is wat uit die heidene geroep is (9:24). Hierdie verskynsel kan vermenigvuldig word uit die Briewe van Paulus.

 

Konklusie: Daar is sterk kontinuïteit tussen Israel en die kerk. Maar Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament, het die prioriteit. Ons is by hulle bygevoeg, nie hulle by ons nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (2) – Adrio König

Gestruktureerde kontinuïteit

Die ander standpunt, dié van gestruktureerde kontinuïteit, word nou verduidelik aan die hand van die sentrale teks wat vir die diskontinuïteit gebruik word (Ef 3:1-6) en van ’n paar ander dele. Gelyktydig hiermee sal die probleme in verband met die diskontinuïteit behandel word.

Efesiërs 3:1-6

Die paar verse is eintlik ’n voortsetting van Efesiërs 2:11-21, ’n besonder ryk gedeelte oor die versoening en die betekenis van die kruis. Die heidene was vroeër ver van God af en “uitgesluit uit die burgerskap van Israel”. Maar noudat hulle in Christus glo, het hulle naby God gekom. Dit beteken ook dat God deur die kruis van Jesus die skeidsmuur tussen Jode en heidene afgebreek, en uit die twee een nuwe mensheid geskep het. Hy het hulle tot een liggaam verenig sodat Jode en nie-Jode nou een is en saam deur dieselfde Gees toegang tot die Vader het. Sterker en duideliker kan dit moeilik gesê word dat Jode (die ware Israel van die Ou Testament tesame met die Jode wat nou in Jesus glo) en heidene nou saam een volk van God vorm.

 

Maar dis nie al nie. Daar is struktuur in hierdie eenheid. Dit is nie eenvoudig twee groepe wat verenig is tot die een volk van God nie. God het klaar ’n volk gehad, die ware Israel van die Ou Testament. Hulle is die burgers van God se ryk, die heidene was van hulle vervreem. Nou word die heidene wat tot geloof kom, mede-burgers (2:19) saam met die eintlike burgers. Die heidene word dus in die bestaande volk van God opgeneem. In 3:6 word dan spesifiek hierna terugverwys as die geheim wat vroeër onbekend was, maar nou aan Paulus geopenbaar is. Hierdie geheim is dat die heidene (die letterlike Grieks) nou “mede-erfgename” saam met die eintlike erfgename (Israel) is, “mede-lede” saam met die eintlike lede (Israel), en “mede-deelgenote” saam met die eintlike deelgenote (Israel) is (Ef 3:6). Dis duideliker in die Grieks as in die meeste vertalings. Maar kyk na die vertaling van die NJB wat ek in hakies aanvul terwille van die duidelikheid: “that the gentiles now have the same inheritance (as the Jews) and form the same body (together with the Jews) and enjoy the same promise (as the Jews) … ”

 

Israel het ’n prioriteit. Ons, die heidene wat glo, kom agterna by. Hulle is die oorspronklike volk van God. (Ons gaan presies dieselfde struktuur in Rom 11 kry.) God skep nie in die Nuwe Testament ’n nuwe volk nie, Hy voeg ons, die gelowige heidene, by sy bestaande volk by. Daar is dus nie so iets soos die kerk as die nuwe Israel nie. Daar is net ’n nuwe vorm van (die enigste) Israel.

 

Hierdie vereniging, hierdie byvoeging van die heidene by Israel, is ’n vrug van die kruiswerk van Jesus (Ef 2:16). En dit is kosbaar vir God. Hy het deur die kruis van Christus die vyandskap tussen Jode en heidene vernietig (2:14, 15), en die twee in een liggaam verenig (2:16). Die gelowige heidene is nou medeburgers en hulle word saam met Israel (as die ware Godsvolk van die Ou Testament) opgebou tot ’n heilige tempel vir die Here (2:19-21).

 

In hierdie lig is dit skynbaar ’n misverstand dat die blote feit van die kerk die geheim is wat nou geopenbaar is. Dit is ook nie wat 3:6 regtig sê nie. Vers 6 lui immers dat die geheimenis nog nooit tevore bekend gemaak is soos nou nie. Dit beteken nie dat die feit van die kerk in die geheel nog nooit bekend was nie, maar dat dit nou anders (beter/vollediger) bekend gemaak is as tevore.

 

Dit blyk ook uit die vervolg. Die geheimenis is nie dat daar ’n kerk sal wees nie. Die geheimenis word baie spesifiek geformuleer met drie keer “mede”. Die heidene sal nie maar net saam met die Jode die Here in Jerusalem kom aanbid soos dit reeds in die Ou Testament geprofeteer is nie. Die nuut geopenbaarde geheim is dat die heidene wat tot geloof kom, wesenlik deel word van die ware volk van God, met presies dieselfde status en voorregte as hulle. Hulle is dus nie tweedeklasburgers (“bywoners” 2:19) in die koninkryk nie. Hulle is mede-erfgename, mede-lede, mededeelgenote saam met die gelowige Jode. Hierdie gelyke status en wesenlike eenheid met Israel, is die geheim wat nie in die Ou Testament bekend was nie.

 

Nog ’n misverstand is dat die kerk uniek en onvoorsiens is omdat dit die liggaam van Christus is. Inderdaad is die beeld “die liggaam van Christus” belangrik, en word dit nie in die Ou Testament gebruik nie. Maar dit is slegs een van talle beelde vir die kerk, en die meeste van die ander beelde vir die kerk word inderdaad in die Ou Testament vir Israel gebruik, beelde soos die volk van God, die uitverkorenes, die heilige priesterdom (vergelyk  oa 1 Pet 2:9-10 wat later in hierdie hoofstuk behandel word).

 

En juis in 3:6 staan dan dat die heidene nou saam met Israel lede is van die “liggaam”, wat niks anders kan wees as die liggaam van Christus nie. Die ware Israel self word dus nou die liggaam van Christus genoem.

 

Romeine 11

Die wesenlike eenheid tussen Israel en die heidene, en daarmee saam die voorrang van Israel, word selfs nog duideliker geskryf in Romeine 11. Hier worstel Paulus met die krisis dat die heidene nou die kerkbanke vol sit, terwyl Jesus Israel se Messias is (Rom 9:1-5). Sy konklusie is dat die Israel wat Jesus as Messias verwerp het, self verwerp is en geval het (Rom 11:12, 15; Matt 21:43; 23:37 ev) en glad nie meer Israel in die eintlike sin van die woord is nie. Hulle is die takke wat van die mak olyfboom (die ware Israel van die Ou Testament) afgebreek is, terwyl die heidene wat tot geloof in Jesus gekom het, takke is wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom (die ware Israel van die Ou

Testament) geënt is (Rom 11:17).

 

Dit beteken minstens twee dinge: dat Israel en die heidene nou saam die mak olyfboom of die volk van God is, en verder dat Israel wel ’n bepaalde prioriteit bo die gelowige heidene het. Ons heidene “het deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel” (Rom 11:17), die ware Israel van die Ou Testament.

 

Dis merkwaardig dat Paulus dadelik hierdie prioriteit van Israel beklemtoon. Hy skryf vir die gelowige heidene: “Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel (Israel) dra nie, die wortel dra jou” (11:18). Dit beteken dat die gelowige heidene dankbaar en nederig teenoor Israel moet wees. Die geslag wat Jesus verwerp het, is die takke wat uitgekap is, en die gelowige heidene is geënt. Maar oppas, vervolg die apostel. As ons, heidene, nie in die geloof volhard nie, sal ons ook “uitgekap” word, in werklikheid veel makliker as wat die geslag Jode in Jesus se tyd “uitgekap” is, want ons is wilde lote.

 

En verder is die verwerping van die Jode van Jesus se tyd nie finaal nie. Hulle sal weer op hulle eie stam geënt word as hulle Jesus as hulle Messias aanvaar. En dit kan eintlik makliker gebeur as met ons, want Hy is hulle Messias, hulle is mak takke. Dié groei baie makliker op die mak stam as wilde takke (11:19-24).

 

Dit lyk nie moeilik om hieruit die volgende konklusies te trek nie:

  • Dat daar ’n besondere eenheid tussen Israel en die kerk is, of om dit effens duideliker te formuleer, dat die kerk van die Nuwe Testament (wat bestaan uit alle Jode en heidene wat glo), en Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament een is, verenig deur die kruiswerk van Jesus (Ef 2).
  • Dat daar egter ’n bepaalde struktuur in hierdie eenheid is. Israel het ’n bepaalde prioriteit of voorsprong bo die heidene. Ons is met hulle verenig, nie hulle met ons nie. Ons is opgeneem in die volk van God van die Ou Testament, ons is by hulle bygevoeg, ons is van hulle afhanklik, dis nie ons wat hulle dra nie, maar hulle wat ons dra. Die wonder is nie dat Israel die ware Godsvolk is nie, die wonder is dat ons by hulle bygekom het, en dan op presies dieselfde vlak en met presies dieselfde voorregte as hulle. Dit het die kruis van Jesus gekos! Presies dít is die misterie van Efesiërs 3:6.

 

Galasiërs 3

Hierdie siening word ook vanuit ’n ander hoek bevestig: die betekenis van Abraham en die Abrahamverbond in die Nuwe Testament. Abraham speel dwarsdeur die Bybel ’n besondere rol. Alhoewel die naam van Abraham nie so dikwels in die Ou Testament voorkom nie, nie eens 20 keer buite die geskiedenis in Genesis nie, is die formule van God se verbond met hom natuurlik sonder meer die sinnetjie wat verreweg die meeste in die Ou Testament voorkom: “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.” Kyk gerus weer na hoofstuk 1 oor Abraham.

 

Maar in die Nuwe Testament kom die naam van Abraham self skielik meer as 50 keer voor, en dit sonder ’n enkele negatiewe verwysing na hom, terwyl daar natuurlik oor al die ander prominente figure van die Ou Testament negatiewe opmerkings in die Nuwe gemaak word. Dink maar net aan Moses en Josua (Gal 3:1-6; Heb 3:1-6; 4:8).

 

Abraham word om twee redes so prominent na vore gebring in die Nuwe Testament:

  • om sy persoonlike geloof,
  • en om die verbond wat God met hom gesluit het.

Die twee is so in mekaar gevleg dat ’n mens hulle eintlik nie van mekaar kan skei nie.

 

In Galasiërs 3 gaan Paulus in besonderhede in op die betekenis van Abraham en die Abrahamverbond. Hy stel aanvanklik twee groepe teenoor mekaar: Moses, die wet, en ons eie krag teenoor Abraham, die Gees, en die evangelie (Gal 1:1-6). Dit plaas Abraham onmiddellik in ’n besondere konteks! Hy vervolg dan

  • dat die evangelie alreeds aan Abraham verkondig is,
  • dat dié wat glo, kinders van Abraham is, en
  • dat ons net saam met die gelowige Abraham geseën kan word – ’n mondvol (3:7-9)!

 

Hy doen dit in die brief waarin hy standpunt inneem teenoor die Judaïste se eis dat heidene eers besny moet word en die wet moet onderhou om gered te word. Hy stel daarteenoor dat dié wat in Jesus glo, gered word. Maar waarom dan Abraham so prominent inbring? Juis omdat Abraham net in die Here geglo het en toe deur die Here aangeneem is (Gen 15:6). In Abraham se tyd het die wet van Moses nog nie eens bestaan nie. Hy kon dus nog glad nie gered word deur die wet te hou nie.

 

Teenoor dié wat deur wetswerke salig wil word, stel Paulus dus die evangelie van die Ou Testament: ’n mens word deur geloof gered. En Abraham is die klassieke voorbeeld. Maar dan gaan hy verder. Aan die kruis het Christus die Abrahamverbond oopgemaak sodat die heidene volle deel daar aan kan kry (Gal 3:14). En hy eindig die hoofstuk met die merkwaardige stelling dat die doop ons in die Abrahamverbond opneem. Die punt wat hy maak, is dat ons deur die doop met Christus verenig word, “en as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God” (3:26- 29).

 

Hierdie perspektief kom op net so ’n merkwaardige manier in Romeine 4 na vore waar hy Abraham nogeens dié voorbeeld maak van hoe ’n mens gered word (4:1-5), daarna die besnydenis ’n teken en seël van geloofsgeregtigheid noem (4:9-12), en verklaar dat Abraham die vader van alle gelowiges is (4:16).

 

Ons het hier dus nog ’n merkwaardige voorbeeld van kontinuïteit tussen die Ou Testament en die Nuwe. En wat dit so belangrik maak vir die verhouding Israel-kerk, is die feit dat die volk Israel juis uit Abraham voortgekom het, en dat ons Abraham kan beskou as die klassieke voorbeeld van Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament.

 

Ons het dus in die Bybel oorweldigende getuienis dat daar sterk kontinuïteit tussen Israel as die ware Godsvolk en die kerk is. Hierdie nuwe vorm van die Godsvolk word dan ook “God se Israel” genoem (Gal 6:16, NLV). Opnuut word alles dus beslis rondom Jesus. Die verhouding met Hom bepaal die vorm van die volk van God. Deur Jesus se kruisdood is die vyandige groepe verenig in een nuwe liggaam.

 

En ons verhouding met Hom bepaal of ons in of uit is. Alle paaie lei na Jesus.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (1) – Adrio König

8.3 Die verhouding Israel-kerk ná Pinkster

Dit bring byna vanselfsprekend die vraag na vore wat die verhouding dan is tussen Israel en die kerk omdat die kerk ná Pinkster hoofsaaklik uit gelowiges uit die heidene bestaan het. Daar is ’n standpunt van radikale diskontinuïteit. Dit beteken dat daar ’n absolute breuk is tussen Israel en die kerk, dat die kerk heeltemal ’n nuwe saak in die Nuwe Testament is waarvan daar geen sprake in die profesieë van die Ou Testament is nie.

Hierteenoor staan die standpunt dat daar inderdaad sterk kontinuïteit is tussen Israel (as die Godsvolk van die Ou Testament) en die kerk, maar dat hierdie kontinuïteit ’n bepaalde struktuur het waarin Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament die basis is waarop die kerk groei. Hierdie Israel is nie die huidige nasionale staat “Israel” of die Jode wat Jesus as Messias verwerp het nie.

 

Nadat ons nou net ons begrippe verduidelik het, behandel ons eers die standpunt van radikale diskontinuïteit; dus dat die kerk geen verband het met die Ou Testament nie, maar totaal nuut is.

 

Begripsbepaling

Die woord “Israel” kom in die Bybel in verskillende betekenisse voor. Voor die skeuring in die ryk word die 12 stamme “Israel”  genoem. Ná die skeuring is die Noordryk “Israel”, terwyl die Suidryk “Juda” is. Na die ballingskap van die Noordryk in 722, word dikwels weer na die Suidryk (Juda) as Israel verwys. In die Nuwe Testament is daar nog meer onderskeidings nodig. Daar is sprake van die ware Israel en die vleeslike Israel (Rom 9:6), van ware Jode en Jode na die vlees (Rom 2:28 ev), van kinders van Abraham (die ware Godsvolk) en nakomelinge van Abraham (wat nie regtig met die Here ’n verband het nie, Rom 9:6 ev).

 

In hierdie bespreking sal “Israel” hoofsaaklik in twee betekenisse gebruik word. In die eerste deel waar die verhouding Israel-kerk onder bespreking is, sal “Israel” gebruik word in die betekenis van die ware Godsvolk van die Ou Testament, die Ou-Testamentiese kinders van Abraham, en in die tweede deel waar die toekoms van Israel bespreek word, sal dieselfde betekenis geld, maar soms ook die betekenis van die huidige nasionale staat en volk wat vandag inderdaad bekend staan as “Israel”. Uit die verband sal dit telkens duidelik wees watter betekenis geld.

 

Radikale diskontinuïteit

Dit is ’n standpunt wat sterk verdedig word deur dispensasionaliste, dit is die teoloë wat ’n spesiale toekoms van Israel verwag, en veral oortuig is dat die onvervulde Ou-Testamentiese profesieë oor Israel eers in die Duisendjarige Vrederyk vervul sal word, en dan letterlik vir die herstelde volk Israel.

Hierdie teoloë praat graag van die misterie of geheimenis van die kerk en bedoel daarby dat daar niks oor die kerk bekend was voor God dit eers aan Paulus geopenbaar het nie. Hulle beroep hulle hiervoor op ’n paar uitsprake in die Nuwe Testament (Ef 3:1-6; Kol 1:24-27; Rom 16:25-26; 1 Kor 2:6-8), maar alles hang af van die betekenis van die uitspraak in Efesiërs. Hier word net kortliks hierdie standpunt oor hierdie teks weergegee. Die teks sal later breedvoerig bespreek word.

 

Efesiërs 3:1-6 Hier is sprake van ’n geheimenis wat nog nooit tevore geopenbaar was nie, en dit is dan volgens hierdie standpunt die geheimenis van die kerk. Dit sou dan beteken dat daar nooit in die Ou Testament sprake was van die kerk nie, en dat geen profesieë van die Ou Testament op die kerk betrekking gehad het of in/vir die kerk vervul is nie. Trouens die profete van die Ou Testament sou hiervolgens glad nie geweet het van die fase tussen die twee komste van Jesus, sy eerste koms en sy wederkoms nie. Hulle sou die twee komste as ’n eenheid gesien het.

Hulle sou verwag het dat die koninkryk van God in een enkele fase sou aanbreek wanneer die Messias kom en die heerlikheid herstel word wat Israel in die tyd van koning Dawid gehad het. Eers met die koms en aardse optrede van Jesus sou dit dan duidelik geword het dat die koninkryk van God in twee fases sal kom: eers die geestelike, innerlike koninkryk met die koms van Jesus en die heilige Gees en die tyd van die kerk, en ná die wederkoms die tweede, letterlike fase wanneer Israel herstel sal word en Jesus letterlik in Jerusalem op die troon van Dawid oor die hele aarde sal regeer.

 

Dit beteken dat die tyd van die kerk, die tyd waarin ons nou leef, die tyd tussen die eerste koms en die wederkoms van Jesus, ’n onverwagte tussentyd is, en dat God eers daarna sy eintlike doel bereik, om Israel te herstel. Dat hierdie tyd waarin ons nou leef, ’n onverwagte tussentyd is, is eers ná die koms van die Gees aan Paulus geopenbaar.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König