DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (3)
DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (3)
Galasiërs 2:1-10 Die leiers in Jerusalem het dan met Paulus saamgestem
Die dwaalleraars wat in Galasië doenig was, het na alle waarskynlikheid van Jerusalem af gekom. Jerusalem was op daardie stadium nog die hoofsetel van die Christendom.
Die dwaalleraars het waarskynlik (ten onregte!) daarop aanspraak gemaak dat die evangelie soos hulle dit verkondig het, die goedkeuring van die leiers in Jerusalem gedra het en daarom deur die gelowiges in Galasië aanvaar moes word. In 2:1-10 bewys Paulus nou dat die dwaalleraars heeltemal verkeerd is. Toe hy die tweede keer Jerusalem besoek het, het die leiers in Jerusalem met hom saamgestem dat sy boodskap reg was en gesê dat hy so kon voortgaan (Vgl. ook Lukas se weergawe van dieselfde gebeure in Handelinge 15:1-33.)
Wat het die probleem veroorsaak? Die Christelike gemeente in Jerusalem en omstreke was teologies meer “behoudend” as die Christelike gemeentes in die res van die Romeinse Ryk: Omdat die meeste van die gelowiges in Jerusalem as Jode groot geword het, het hulle dikwels nog voortgegaan om die Joodse praktyke na te kom – selfs nadat hulle gelowiges geword het. Daarteenoor het Paulus aan die Christelike gemeentes wat onder die heidene tot stand gekom het, gesê dat hulle nie ook die Joodse wet hoef na te kom as hulle gelowiges word nie. Geloof in Jesus Christus was genoeg. So byvoorbeeld was dit volgens hom nie nodig dat hulle besny moes word as hulle tot bekering kom nie. In 2:1-10 voer Paulus nou aan dat die leiers van die Jerusalemkerk hom op hierdie punt toegegee het. Dit het tydens sy tweede besoek aan Jerusalem gebeur.
As Paulus vertel wat daar gebeur het, beklemtoon hy die volgende sake:
- Hy het nie na Jerusalem toe gegaan omdat die leiers in Jerusalem hom laat kom het nie. Hy het gegaan omdat God so ‘n opdrag aan hom gegee het (2:2). Ten diepste was hy net aan God verantwoordelik vir wat hy gedoen het en nie aan die leiers in Jerusalem nie. Hulle het dus nie absolute gesag gehad nie.
- Titus, ‘n onbesnede Griek, was saam met hom en tog is hy nie gedwing om hom te laat besny nie (Dit was juis wat die dwaalleraars in Galasië nou van al die gelowiges verwag het.) Volgens Paulus was daar wel ‘n “verkrampte” faksie (vgl. 2:4) in die Jerusalemkerk wat wou hê dat Titus besny moes word. (Dit was waarskynlik gelowiges wat vroeër Fariseërs was; vgl. Handelinge 15:5). Die punt is egter: Die leiers in Jerusalem het nié daarop aangedring nie en Titus is ook nie besny nie (2:5).
- Die leiers in Jerusalem het niks aan Paulus se boodskap probeer verander of toevoeg nie (2:6) omdat hulle besef het dat hy deur God geroep is om die evangelie aan die heidene te verkondig (2:7). Hulle het selfs met hom ‘n ooreenkoms gesluit (2:9) dat húlle die evangelie onder die Jode sou verkondig terwyl hý dit onder die heidene sou verkondig. Dus: Die dwaalleraars was nie net besig om verkeerde inligting te versprei nie, hulle was ook besig om die Jerusalem-ooreenkoms te verbreek.
In hierdie gedeelte kan ‘n mens op ‘n pragtige manier sien hoe gelowiges teenoor mekaar moet optree as daar meningsverskil is. Dit is duidelik dat daar klemverskille was tussen gelowiges in Jerusalem en die gelowiges in die gemeentes wat deur Paulus gestig is. Die verskille was egter nie so groot dat hulle nie oorbrug kon word nie. Die ooreenkoms wat bereik is, het basies ingehou dat die Jerusalem-gelowiges op hulle manier sou voortgaan, terwyl hulle erken het dat Paulus se manier van doen nie verkeerd was nie. Hulle het nie vir Paulus gedwing om te maak soos hulle maak nie, maar ruimte vir mekaar gemaak.
Galasiërs 2:11-14: Onenigheid in Antiogië
Ongelukkig het die ooreenkoms wat in Jerusalem gesluit is (vgl. die bespreking by 2:1-10), nie lank gehou het nie. Na die ooreenkoms is Paulus weer terug na Antiogië wat as die hoofbasis van sy sendingbedrywighede gedien het. Toe Sefas (d.w.s. Petrus) later daar aankom, het hy aanvanklik hom by die Jerusalem-ooreenkoms gehou deur saam met die nie-Joodse gelowiges te eet. Die Jode het baie streng voorskrifte oor wat ‘n mens mag eet en hoe kos voorberei moes word, gehad. Omdat nie-Jode nie altyd dié voorskrifte geken of hulle daarby gehou het nie, het Jode nie graag saam met nie-Jode geëet nie. By die Jerusalem-ooreenkoms is besluit dat die nie-Joodse Christene hulle nie aan hierdie wette hoef te hou nie, alhoewel daar nog baie Joodse Christene was wat wel hierdie wette nagekom het.
Wat egter in Antiogië gebeur het, is dat Joodse en nie-Joodse Christene saam geëet het. (In daardie tyd is saameet gesien as ‘n teken van besondere gehegtheid aan mekaar – iets wat pragtig aangesluit het by evangelieboodskap.) Toe Petrus daar aankom, het hy ook saamgeëet, maar toe daar later ook sommige van die “verkrampte” seksie van die Jerusalemkerk daar aankom, het hy en al die Joodse Christene opgehou daarmee. Dit het aanleiding gegee tot ‘n hewige woordewisseling tussen Paulus en Petrus. Heeltemal tereg het Paulus vir Petrus daarvan beskuldig dat hulle op hierdie manier besig was om die waarheid van die evangelie te verdraai. Hulle was besig om addisionele vereistes aan die nie-Joodse Christene te stel en dit was in stryd met die evangelie. Al wat God gevra het, was geloof in Jesus Christus (vgl. die vollediger bespreking by 2:15-21),
Interessant genoeg sê Paulus nie wat die uitslag van die woordewisseling was nie. Hieruit kan ‘n mens aflei dat hy waarskynlik die stryd in Antiogië verloor het. Dit was waarskynlik juis as gevolg van hulle “oorwinning” in Antiogië dat die “verkramptes” moed geskep het en al hoe meer radikale eise aan die nie-Joodse gelowiges begin stel het. Dalk het hulle ook ‘n nuwe aanslag in al die ander gemeentes wat deur Paulus gestig is, geloods en so het die dwaalleer ook in Galasië uitgekom.
Galasiërs 2:15-21: God spreek die vry wat glo!
In hierdie gedeelte vertel Paulus nog wat hy vir Petrus tydens hulle woordewisseling in Antiogië (vgl. 2:11-14) gesê het. Alles wat daar gebeur het, was direk van toepassing op die dwaalleer wat in Galasië veld gewen het en daarom beweeg hy terselfdertyd ook oor na dit wat in Galasië aan die gebeur was.
Om 2:15-16 te verstaan, moet ‘n mens onthou dat die Jode ‘n ander verstaan van die begrip “sondaars” gehad het. Vir hulle was “sondaars” mense wat nie volgens God se wet geleef het nie. Paulus begin hier met dieselfde onderskeid (2:15), maar wys dat dit eintlik totaal ongeldig is om so te praat, want eintlik is alle mense sondaars (2:17).
Dit hang saam met ‘n ander belangrike ontdekking wat hy gemaak het: Vryspraak is uit die geloof en nie uit die wet nie. Dit beteken dat mense nie hulle verlossing op allerhande maniere hoef te verdien nie (hulle sal dit in elk geval nie regkry nie). God skenk dit genadiglik aan hulle omdat hulle in Jesus Christus glo. Dit kan Hy doen omdat Christus in hulle plek aan die kruis gesterf het en so vir hulle sonde betaal het (2:20; vgl. ook 3:6-14). Vir Paulus is hierdie wonderlike waarheid die fondament van die evangelie. Daarom kon hy nie toelaat dat dit in Antiogië of in Galasië op enige manier aangetas word nie (vgl. 2:18).
In 2:18-20 noem Paulus ‘n klomp wonderlike veranderings wat in ‘n mens se lewe plaasvind as God aan jou die vryspraak gegee het: vir die wet dood (mense hoef nie meer krampagtig hulle verlossing te probeer verdien deur goeie werke nie); vir God kan lewe (hulle kry nóú al deel aan die ewige lewe omdat hulle in Jesus glo); saam met Christus gekruisig (hulle deel in die voordele van Jesus se dood); en Christus wat in my lewe (hulle kry nie net ‘n nuwe “ek” nie, Christus neem deur die Heilige Gees die kern van hulle persoonlikheid oor). Inderdaad ‘n rewolusionêre verandering wat in hulle lewe plaasvind!
Skrywer: Prof Francois Tolmie