Nadat Jesus gesê het dat sy evangelie vir wyses en verstandige mense verberg is maar aan eenvoudiges geopenbaar word, en sy eenvoudige gelowige dissipels as geseënd verklaar het, staan ’n wetskenner op om Hom te toets (almal het rondom Jesus gesit). Jesus se antwoord verwys na ’n reis van Jerusalem na Jerigo, wat moontlik verwys na die gebied waar die gesprek plaasvind. Van vers 38 af is Hy ook in Betanië, net buitekant Jerusalem, waarheen Hy eintlik op pad is vir sy ‘uittog.’ In dié gedeelte word die woord ‘doen’ vier maal gebruik (10:25,28,37,37). Die verwysing na die opsomming van die wet (Luk 10:25-28) stem in wese ooreen met Mark 12:28-34 en Mat 22:34-40. Die voorbeeld van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:29-37) kom slegs in Lukas voor. (In 2 Kronieke 28:5-15 word ’n uitsonderlike verhaal vertel wat raakpunte het met hierdie verhaal).
10:25 Die wetskenner (nomikos, uitlegger van die godsdienstige wet) vra vrae, nie om inligting te kry nie, maar om Jesus se bekwaamheid as uitlegger van die Skrif te toets en as ’n versoeking om Jesus voor die skare uit te vang en as ’n onbekwame rabbi te bewys. Hy staan op; waarskynlik was hy deel van die skare wat gesit en luister het na die 72 se vreugde en na Jesus se antwoord oor ware vreugde om te weet dat jou naam reeds in die hemel opgeskryf is. Hy noem Jesus wel ’Meester’ – didaskalos, die aanspreekvorm vir ’n rabbi – om te kyk watter soort rabbi Jesus is. ‘wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?’; om seker te wees dat my naam in die hemel opgeskryf is (Dit was ook die vraag van die ryk jongman, Luk 18:18); m.a.w. hoe kan hy ook deel kry aan die vreugde wat hy hier belewe. Hy bring ander mense gewoonlik tot skuldbelydenis voor God deur die onverbiddellike eise van God se wet vir hulle voor te hou.
Die gesprek tussen Jesus en die wetskenner wys duidelik die verskil aan tussen die etiek van die wet en die etiek van liefde. Vir die wetsleraar is die ewige lewe ’n prys wat verdien moet word deur die noukeurige vervulling (doen) van godsdienstige reëls. Vir Jesus is die liefde tot God en die naaste op sigself die lewe van die hemelse koninkryk wat reeds op aarde begin (Luk 10:20). Die wetsleraar wil hê die morele pligte moet beperk en omskryf word met rabbynse presiesheid. Jesus plaas geen beperking op die verpligting om lief te hê nie. Vir die een is godsdiens ’n stel beperkende reëls en ’n las (vgl. Mat 11:28), vir die ander ’n onbeperkte vreugdevolle reeks geleenthede.
10:26 Soos ’n egte rabbi gooi Jesus die vraag terug na die wetskenner. Wat staan in die Wet? Jy, as kenner van die Wet van God, hoe lees jy God se Wet oor die beërf van die ewige lewe? Daarmee wys Jesus dat die wetskenner self die antwoord op sy vraag geken het, maar Jesus se vraag is hoe hy God se wil verstaan met sy kennis van die wet van God.
10:27 Die wetgeleerde haal die twee belangrikste wette van die Here aan (1) uit Deutr. 6:5 ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag ‘- hy voeg by ‘en met jou hele verstand’ soos Jesus in Mark 1:30 (Mat 22:27 het soos Deuteronomium. net die eerste drie). Die uitdrukking beklemtoon dat die mens met al sy vermoëns en fasette van sy lewe die Here moet liefhê, met sy denke, gevoel, vermoëns en sy hele wese; (2) ’en jou naaste soos jouself’ uit Lev 19:18b. Vir die Jood was Deutr 6:4-5 deel van sy daaglikse gebed en Lev 19 was beskou as die opsomming van die etiese kode, hoewel 19:18a verwys na sy volksgenoot, en daarom het hy die naaste van 19:18b beperk tot sy volksgenoot. Die wetsgeleerde het duidelik ’n grondige kennis van die Skrif gehad.
10:28 Jesus sê die antwoord is reg, maar om dit te doen is die belangrike, dit beteken waarlik liefhê en alles uit liefde vir God en die naaste doen. En as jy in liefde lewe, dan ‘sal jy lewe’; deur nou reeds vir God en jou medemens te lewe en vir ewig te lewe by God. 1 Johannes 4:19-20 verduidelik: ‘Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê “Ek het God lief” en sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want wie sy broer wat hy sien nie liefhet nie, kan nie God liefhê wat hy nie sien nie…’
10:29 Die wetgeleerde wil homself regverdig met ’n vraag wat Jesus sal blootstel: en wie is my naaste? ’n Vraag wat baie deur die rabbi’s bespreek is. Die wetgeleerde wil ’n grens om die liefdesgebod trek. Tot waar strek die iefde wat God van my vra? Wie word uitgesluit en wie is in? Hierdie selfregverdiging van die wetsgeleerde is tipies van die Fariseërs en van ’n farisese houding. Hulle wil die naaste net tot hulle eie groepie beperk. In Luk 6:27 het Jesus reeds gesê julle moet julle vyande liefhê; en in Luk 6:36: wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.
10:30 Met die verhaal van die barmhartige Samaritaan draai Jesus egter die wetgeleerde se vraag om. Die wetgeleerde sien die naaste as ’n voorwerp van liefde. Jesus sien jou as die subjek, wat die liefde van God na ander moet uitlewe. Vir wie kan ek die liefde van God wat in my is, deurgee? Jesus rig sy antwoord aan die méns wat vra, nie op die probleem nie. Die skrifgeleerde vra: wat is die grootste gebod. Jesus sê: doen jy dit. Hy vra: wie is my naaste? Jesus sê: vir wie kan jy ’n naaste wees?
Jesus antwoord (hupolambano reageer) op die vraag van die wetgeleerde, deur hom te neem op die gevaarlike eensame pad van 27 kilometer oor berge en deur dale, van Jerusalem, die tempelstad, 3000 voet af, tussen rotse deur, tot by Jerigo, die priesterstad in die Jordaanvlakte wat 853 voet onder seespieël lê. Op die pad is ’n man wat afgaan na Jerigo. Hy word deur rowers oorval (lestai rowers wat geweld gebruik; word ook gebruik vir ’n oproermaker, ‘n rebel, soos die selote; Barnabas word so aangedui in Joh 18:40). Die rowers stroop die man se klere af, verwond hom en los hom halfdood (die soldate het Jesus se klere ook afgestroop, Matt 27:28, vgl. Joh 19:22; Ps 22:18-19; op Jesus se kop ’n doringkroon ingeslaan, Matt 27:29-30, spykers deur sy hande geslaan en ’n spies deur Hom gesteek, en heeltemal dood gelos, Joh 19:34; 20:21). Die rower se filosofie is: wat joune is is myne, ek vat dit vir my. Miskien het die man wat onder die rowers verval het ook van ’n byeenkoms in die tempel af gekom as ’n besondere ‘naaste,’ ’n geloofsgenoot van die priester en die Leviet.
10:31 Dit gebeur toe dat (sukuria, deur ’n sameloop van omstandighede) ‘’n priester met dieselfde pad van Jerusalem afgaan na Jerigo, waarskynlik ná sy diensbeurt by die tempel, op pad na sy huis in Jerigo. Levitikus 21:1 bepaal dat ‘n priester hom nie mag verontreinig deur naby ’n lyk te kom nie. Die priester sien die man daar lê en om enige kontak met die man te vermy, stap hy aan die anderkant van die halfdooie man verby. So meen hy om sy heiligheid (toewyding aan die Here en aan die woord van God) te behou, ná sy diens met die heilige dinge in die tempel. Die priester se filosofie is: wat myne is is myne, ek hou dit vir myself.
10:32 So ook die Leviet, wat waarskynlik ook van sy diensbeurt by die tempel terugkom. Die priesters het die volk se offers voor en aan die Here gebring, en moes vir die volk by die Here intree, en hulle seën (Luk 1:5,21-23). Die Leviete was, benewens die skoonmaak en onderhoud van die tempel, die hulp van die priesters met die bring van die offers aan die Here, en ook verantwoordelik vir die onderrig van die volk. Toe hy die man halfdood sien lê, gaan hy ook anderkant verby. Daar is dus twee getuienisse van die onbarmhartigheid van die godsdienstige leiers van die volk. Hulle beperk die liefdesgebod, wat hulle goed ken, tot hulle diens aan God by die tempel, en beperk hulle naaste tot hulle eie groep of volksgenoot. Hulle beskou die ‘naaste’ as ’n term wat jou verantwoordelikheid beperk en kon eindeloos argumenteer oor watter soort mense uitgesluit word uit die bedoeling van die liefdesgebod.
10:33 Maar ’n Samaritaan op reis sien die man en kry hom innig jammer. Terwyl die priester en die Leviet die man sien met oë wat op hulleself en hulle eie belange gerig is, sien die Samaritaan die man se nood en dit gryp hom aan (splangnizomai, sy binneste kom in beweging); en dit ten spyte van die eeue-oue onderlinge bitterheid tussen die Jode en die Samaritane wat deur die Jode as ketters beskou is, al het die Samaritaanse Bybel ook Deuteronomium en Levitikus. Hierdie Samaritaan se lewensfilosofie is: wat myne is is joune, ek wil dit vir jou gee. Jesus het die wetsgeleerde opsetlik geskok om hom te laat nadink oor die moontlikheid dat ’n half-heidense volksvreemdeling meer van die liefde van God weet as ’n toegewyde Jood wat verblind is deur sy vooringenomenheid met kleinlike reëls en gebruike.
10:34-35 Die verhaal wat tot hier kortliks vertel is, brei breed uit oor die optrede van die Samaritaan: wat, sonder vrees vir rowers, die man se wonde met wyn ontsmet, met helende olie smeer, hom verbind, optel, op sy eie donkie laai, na ’n herberg (pandogeion) neem, en hom daar versorg (epimelomai met toewyding versorg). Of dit nie genoeg is nie, reël hy vir die vreemdeling se versorging terwyl hy met sy reis voortgaan, betaal daarvoor twee daglone vir ’n arbeider se gesin en beloof om enige kostes te betaal as hy terugkom. Heel nugter word die Samaritaan se dade van barmhartigheid geskilder, teenoor die beperkings van godsdienstige wette en gebruike, rassepolitiek en mense se enge groepsverbondenheid.
10:36 Jesus draai sy vraag om: ‘wie van die drie, dink jy, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?’ Die wetsleraar het gevra na die beperking van die liefdesgebod: ‘En wie is my naaste’ wat ek moet liefhê soos myself, vir wie hoef ek nie lief te hê volgens God se gebod nie. Jesus leer ons om te vra: vir wie kan ek ’n naaste wees? Dit beteken dat ek nie hoef te teoretiseer of te besluit wie my naaste is nie, maar wie het my hulp nou nodig, wat die Here oor my pad gebring het? Die teenstelling tussen Jesus en die wetgeleerde gaan oor die praktiese instelling teenoor mense. So was daar skielik ‘n man vol melaatse swere wat voor Jesus neergeval het, en deur Hom genees is (5:12); ’n verlamde word deur die dak voor Hom afgesak, terwyl Hy preek (5:19); Jesus roep ’n tollenaar by die tolhuis op die pad en gaan saam met hom en sy vriende eet (5:17); Hy sien ’n man met ’n verlamde hand in die sinagoge terwyl Hy preek (6:6). Op pad kry Hy ’n weduwee voor ’n stoet met haar enigste seun dood op die baar en kry haar innig jammer (7:13); ’n slegte vrou kom salf sy voete tydens sy maaltyd by ’n Fariseër en Hy vergewe haar sondes (7:48); ’n man vol demone storm op Hom af en Hy verlos hom uit hulle mag (8:27). Hy wek die leier van die sinagoge se dogter op uit die dood en op pad daarheen genees Hy ’n vrou wat aan sy kleed raak (8:40-56); Hy voed ’n honger skare in ’n verlate plek (9:10). Vir wie kan jy ’n naaste wees?
10:37 Die ‘versoeker’ (10:25) antwoord Jesus se vraag aan hom: ‘die een wat barmhartigheid aan hom gedoen het,’ hy is die naaste aan die man wat onder die rowers verval het. Die tweede gebod gaan om prakties te doen wat nodig is teenoor die mens in nood (Jak 1:22-25; 2:14-18). God se wil, soos in sy wet uitgedruk, duld geen skemas nie. Godsdiens word ’n karikatuur as liefde met vaste reëls begrens word. Die liefde begin by die raaksien van ander mense en hulle nood soos God self ons raaksien (vgl. Rom 11:32). Dit mag ook wees dat ’n Samaritaan nader aan die koninkryk van God en sy liefdesgebod staan en bly as die kinders van die koninkryk (Luk 13:26-30)
Vir die wetgeleerde sê Jesus: ‘Gaan en doen jy netso.’ Dit is Jesus se opdrag aan alle mense om soos die Samaritaan op te tree. My gebed moet wees dat die Here my oë sal open om die nood van ’n medemens wat Hy op my weg bring, raak te sien, en dat Hy my hart sal vry maak van my binding aan myself, sodat my hart sal uitgaan na die mens in nood wat die Here op my weg bring. Dan sal dit uit my naasteliefde duidelik word hoe opreg my liefde tot God is. Jesus is dié
barmhartige Samaritaan teenoor my, en Hy wil van my ’n barmhartige Samaritaan maak wat myself verloën en Hom volg (Luk 9:23). Die Joodse godsdiens wat ander uitsluit weerspreek die verlossing wat God deur Jesus se sterwe en opstanding volbring, net soos die heidense Samaritane wat nie vir die Jood Jesus in hulle dorpie wil ontvang nie.