Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se antwoord aan Johannes die Doper (Luk 7:18-23) – Francois Malan
Die gedeelte kom inhoudelik ooreen met Matteus 11:2-19, wat aandui dat hulle dieselfde bron gebruik het en vir hulle doel aangepas of uitgebrei het. Lukas het bv. die inleiding uitgebrei om by die voorafgaande aan te pas, en om van Johannes se dissipels ooggetuies te maak.
7:18-19 Die geskiedenis volg op 3:20 wat Johannes in die gevangenis by Herodes se bergvesting Magaerus aan die oostekant van die Dooie See plaas (Matteus meld dat Johannes gevangene is; Lukas sê hier niks daaroor nie). Johannes, wie se dissipels vir hom vertel het van die vreemde dinge wat Jesus in hoofstuk 6 gesê en gedoen het, stuur twee (duo) van sy dissipels (Matteus: ‘hy stuur deur (dia) sy dissipels’) na die Here toe om te vra: Is U die Komende/die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag? Moontlik wou juis sy dissipels duidelikheid kry oor Jesus.
In Luk 3:16 het Johannes gepraat van een wat kom. Daniël 7:13 praat van een wat met die wolke kom. Ps 118:26 sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Reeds voor die Babiloniese ballingskap het Habakuk 2:2-4 gesê: dit sal gou kom, maar julle moet geduldig wag as dit nie gou kom nie. Lukas sê Johannes se dissipels is na die Here (ho kurios) toe gestuur (Matteus: na Hom toe – die Christus wat Matteus in v18 genoem het; enkele Griekse manuskripte lees hier in Lukas ‘Jesus’ in plaas van ‘die Here’). Lukas wys met die benaming ‘die Here’ dat Jesus die een is wat gekom het, die Messias/Christus/Gesalfde wat die Jode verwag.. Johannes se prediking in Luk 3:16-18 het vertel dat die Een wat kom die koring en die kaf kom skei. Sover hoor hy baie van die goeie boodskap van Jesus se barmhartigheid, en slegs waarskuwings oor die oordeel. Kom daar iemand anders wat die oordeel gaan voltrek? Johannes vra nie wat moet ons doen nie, maar wat moet ons verwag.
7:20 Anders as Matteus, herhaal Lukas die vraag toe die manne by Jesus kom, om daarmee te beklemtoon dat dit ’n vraag is wat in baie mense se gedagtes geleef het, of Jesus wel die verwagte Messias/Christus/Gesalfde-verlosser is. Johannes se dissipels noem hom Johannes die Doper, wat juis verwys na Johannes se verkondiging van ‘’n doop van bekering (metanoia ’n verandering van jou denke en optrede) met die oog op die vergewing van sondes’ wat Jesus kom bewerk (Luk 3:3).
7:21 Toe Johannes se dissipels by Jesus kom, was Hy juis besig om baie mense te genees van hulle siektes (nosoon siekte toestande), kwale (mastigoon siektetoestande wat as die straf van God gesien word), bose (poneros moreel korrupte en bose) geeste, en baie blindes om genadiglik (charizomai) weer te kan sien, soos Jesaja 35:5 gepraat het van blindes wat sal kan sien, want God is hier om te red; Jes 29:18 van blindes wat weer kan sien en mense in nood wat weer bly is.
7:22 Dit waarop Israel vir 700 jaar sedert Jesaja gewag het, gebeur nou – God is hier! Die profesieë, die beloftes van God in Jesaja 35:5, 29:18 en 61:1 word vervul deur Jesus, soos Hy dit in die Nasaret-sinagoge op Homself toegepas het (Luk 4:18-21): Die verlossingslied wat hier gesing word, kondig aan dat die heilstyd gekom het, dit waarop die vrome Israeliete gewag het (vgl. Simeon se loflied in Luk 2:28-32). By die genesing van siekes kom ook die armes wat afhanklik van God se sorg lewe, aan wie die goeie boodskap aangekondig word (vgl. Luk 6:20-23). Johannes se dissipels sien nie slegs wat Jesus doen nie, maar hoor ook sy goeie boodskap aan die armes.
Jesus antwoord nie direk op Johannes se vraag nie en sê nie dat Hy die Messias/Christus is nie. Johannes het ook nie direk gevra of Hy die Messias/Christus is nie – die term Messias/Christus het in Israel valse verwagtings gewek van ’n gesalfde koning wat hulle met geweld gaan verlos. ‘Die een wat kom’ is ’n verwysing na Jesus as die verwagte Gesalfde van God. Die messiaanse heerlikheid van Jesus is nie vir almal duidelik sigbaar nie, maar blyk uit sy woorde en optrede. Uit sy dade van barmhartigheid word die werk van die Een wat aan die kom is, geken en nie deur militêre oorwinnings oor hulle Romeinse onderdrukkers, of deur vuur oor die vyand nie. Met sy dade van barmhartigheid vervul Jesus die beloftes van God in die Skrif.
7:23 Aan die lofsang word ’n waarskuwing in die vorm van ’n seën verbind. Moenie aanstoot neem aan Jesus nie (skandalisthe word hier figuurlik gebruik as aanstoot neem; letterlik is dit om in ’n strik gevang te word deur in die strik te trap). Aanstoot neem aan Jesus kan ’n mens tot ’n val bring as jy nie hierdie waarskuwing ter harte neem nie. Die heilstyd is verbind aan die Heilbringer wat gekom het. Johannes het die onontwykbare oordeelskatastrofe aangekondig en die reiniging van die volk deur die bekeringsdoop voorsien. Jesus bring egter die begin van die heilstyd, nie deur die oordeel of ’n nasionale bevryding nie, maar met sy barmhartigheid wat God se volk kom vernuwe. Die seën eis nie onvoorwaardelike erkenning van Jesus nie, maar waarsku teen ’n vinnige veroordeling van Jesus en sy nuwe weg, waarmee jy jouself uitsluit uit God se verlossingswerk. Om die valse verwagtings wat aanstoot neem aan Jesus te oorwin, vra om vertrouend in Hom te glo. Jesus se antwoord laat dit vir die Doper en sy dissipels oop om te besluit, maar om hulle te help om reg te besluit, herinner Hy hulle aan die skildering van die heilstyd in Jesaja 29:18-19; 35:1-6; 61:1. Hierdie seën van Jesus aan dié wat nie aan Hom en sy woorde en dade aanstoot neem nie, geld vir alle mense (‘wie ookal’). Salig is ook die gelowiges wat hulle lyding ter wille van Jesus aanvaar (Rom 8:17).