Die Evangelie volgens Lukas: Die konflikte oor die Sabbat (Luk 6:1-11) – Francois Malan

Vir die Judaïsme was die Sabbat die belangrikste instelling om hulle te onderskei in ’n oorwegend heidense wêreld. Terwyl ander vereistes van die wet privaat in jou huis of familie uitgeoefen of gelaat kon word, het die Sabbat die Jode verplig om weekliks ’n openbare belydenis van hulle geloof te doen deur op dié dag nie te werk nie. In Eksodus 31:16 sê die Here: die onderhouding van die Sabbat sal vir altyd ’n teken wees tussen My en die Israeliete. Die Joodse Mischna het ’n hele traktaat oor die Sabbat en al die verpligtinge daarvan. Enige bedreiging van die Sabbat het kwaai teenstand ontlok. Jesus het die streng reëls van die wetgeleerdes as ondraaglike laste gekritiseer (Luk 11:46) en Hom nie daaraan onderwerp nie. Hy wys dat sy teenstanders die hele punt van dié heilige dag miskyk. Dit is juis bedoel as ’n dag van barmhartigheid teenoor behoeftiges en lydendes (vgl. Joh 7:23-24).

Lukas volg Markus 2:23-28; 3:1-6 se twee Sabbatskonflikte, maar maak veranderings aan Markus se taal en teks vir sy Griekse lesers, en voeg dié gesprekke oor die Sabbat in by sy beskrywing van Jesus wat op reis is na Jerusalem vir sy dood en opstanding, wat die betekenis van die konflikte verhoog.

 

Jesus is Here van die Sabbat (Luk 6:1-5)

6:1 By Markus en Matteus se pluk van die are voeg Lukas in dat die dissipels die are met die hand uitgevryf het. Pluk en uitvryf is gesien as oes en dors, wat deur die Sabbatreëls verbied was. Die Talmud traktaat Sjabbat 70b beskou selfs die oes van ’n droë vy as werk. Die pluk van are, met jou hand, maar nie met ’n sekel nie, in jou buurman se land, is wel deur Deutr 23:25 toegelaat (maar die reëls sê duidelik; nie op die Sabbat nie). Die Fariseërs en skrifgeleerdes het nie net Jesus se woorde en wonders in Kapernaum kom ondersoek nie, maar om Hom fyn dop te hou om ’n aanklag teen Hom op te stel, selfs toe Jesus-hulle deur die koringlande gestap het (die woord duiwel beteken aanklaer/kwaadprater; Satan – teenstander).

6:2 Sommige (’n byvoeging van Lukas) van die Fariseërs sê toe: Waarom doen julle iets wat op die Sabbatdag nie toelaatbaar is nie? Volgens Lukas praat die Fariseërs met die dissipels, wat dit sagter maak as Markus 2:24 en Matteus 12:2 waar hulle Jesus aanspreek oor sy dissipels se optrede. Vier van die Sabbatswette verbied oes, trap, uitwaai, kos voorberei – al vier is deur die dissipels oortree.

6:3-4 Jesus, gebore uit die geslag van Dawid (3:31), verwys na die optrede van sy geëerde voorouer, die man na God se hart (1 Sam 13:14; Hand 13:22). Toe hy en sy manne honger was, het hulle die huis van God ingegaan en van die toonbrode geëet, wat net vir die priesters bedoel was (1 Sam 21:6; Lev 24:9 ). Volgens Levitikus 24:8-9 moes die offerbrode elke Sabbat vervang word en kon slegs die priesters die ou brood eet. Daarom was dit blykbaar juis op die Sabbat, toe die ou brood vervang is, dat Dawid dit geëet het. Volgens Jesus behoort geen seremoniële bepaling in die pad te staan van ernstige bestaansbehoeftes nie. Die menslike nood moet nie ondergeskik word aan leë wettisisme nie (so ook in Luk 13:10-17; 14:1-6 oor genesings op die Sabbatdag). Lukas en Matteus noem nie Markus 2:26 se foutiewe verwysing na die  hoëpriester Abjatar nie – volgens 1 Sam 21:1,6 was Agimelek die priester van Nob waar Dawid brood gevra het (en ook die spies van Goliat gekry het). Volgens 1 Sam 22:20 was Abjatar die seun van Agimelek. Abjatar het later saam met Dawid gevlug.

Markus 2:27 het ook nog: Die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie. Dit kom nie in Matteus en Lukas voor nie.

6:5 Vir die Fariseërs en skrifgeleerdes sê Jesus dat die Seun van die Mens die Here is van die Sabbat. Hy staan bo die Joodse regulasies en bo die wet. Die Seun van die Mens weet wat die bedoeling van God is met die Sabbat en hoe dit gevier moet word. Jesus sê dit as die Seun van God wat as afstammeling van Adam ook Seun van die Mens geword het (Luk 3:38). Die nuwe verhouding van God en mens bring ’n kinderlike verhouding van die mens teenoor God mee. Dan eet die honger kind wat sy Vader in sy hand gee. So identifiseer Jesus Hom met sy dissipels en antwoord Hy die Fariseërs en skrifgeleerdes namens sy dissipels op so’n manier dat die nuwe verhouding wat Hy bewerk duidelik word; die verhouding van God en mens as Vader en kind. Jesus kom egter nie die wet tot niet verklaar nie (vgl Luk 16:17), maar as Here van die Sabbat, met sy hart van liefde en barmhartigheid, ken Hy God se wil vir die Sabbat, dat ons die Sabbat sal vier uit liefde en barmhartigheid teenoor swakkes en behoeftiges. Die wet sê ons moet die Sabbat heilig (Gen 20:8). Heilig beteken afgesonder vir toewyding aan God en ons medemense.




Die Evangelie volgens Lukas: Die roeping van Levi (Luk 5:27-32) – Francois Malan

5:27-28 Lukas verkort Markus 2:13-17 (Mat 9:9-13) se berig en beklemtoon Levi se volkome gehoorsaamheid toe Jesus hom roep – hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg. So het die eerste vier dissipels ook op Jesus se woord gereageer (5:11), sowel as die verlamde wat onmiddellik op sy woord gereageer het (5:25). Markus 2:14 noem hom die seun van Alfeus; Mat 9:9 noem hom Matteus, so ook Lukas 6:15.

Levi (’n Joodse naam) is ’n tollenaar, waarskynlik naby Kapernaum op die pad van Damaskus na die see, waar padgebruikers tol moet betaal. Hy sou deur Herodes Antipas aangestel wees om elke jaar ’n sekere bedrag aan Herodes oor te betaal. Herodes sou in Rome gebie het om die belasting wat die keiser jaarliks uit Galilea en Perea verwag, in te samel. Insamelaars was nie beperk tot die bedrag wat hulle moes inbetaal nie. Tollenaars was beskou as onrein deur hulle baie kontak met nie-Jode en is toegang tot die sinagoge verbied; as agente van die onderdrukkende Rome is hulle gehaat as meelopers van die vyand en oneerlike afpersers. Die Talmud klassifiseer hulle as rowers (vgl. Luk 3:12-13). Hoe kan Jesus, ‘die Heilige van God’ (4:34) Hom met so ’n sondaar bemoei in die lig van Lev 10:10 se voorskrif oor rein en onrein?

Petrus kon as visser weer terugkeer na sy werk as hy Jesus sou verlaat. Maar hierdie tollenaar sou nooit weer sy werk kon terugkry, wat hy alles net so gelos het nie. So radikaal was sy keuse. Anders as Johannes die Doper wat bekering vereis voordat hy iemand doop (Luk  3:3), roep Jesus vir Levi om sy volgeling te word sonder enige voorvereistes of voorwaardes.

5:29 Levi vier sy roeping met ’n groot feesmaal vir ’n klomp tollenaars en ander mense, ’n vreugdevolle reaksie op die voorreg om Jesus se volgeling te word. Hy nooi sy vriende om hulle aan sy nuwe Here voor te stel.

Lukas beskryf Jesus ook as gas by hierdie en volgende gasmaaltye: 7:36 by ’n Fariseër; 10:38 by Martha; 11:37 by ’n Fariseër; 14:1 by ’n leier van die Fariseërs; 19:1.by Saggeus. Daarby kom nog die voeding van 5000 (9:14), die Paasmaaltyd (22:14), die maal by Emmaus (24:30), en die maal by die see (24:41) waar Jesus die gasheer is. By elkeen van die maaltye is daar gewoonlik ’n tafelgesprek.

5:30 Teenoor die tollenaars wat, ten spyte van hulle rykdom, as die skuim van die Joodse samelewing beskou is, staan die Fariseërs, wat almal as sondaars beskou wat nie hulle nougesette beskouing van die wet aanvaar het nie (Luk 18:11). Ter wille van hulle eie heiligheid het hulle sosiale kontak met sondaars vermy, veral mense wat nie die wette van reinheid gevolg het nie. Die populêre Jesus se tafelgemeenskap met die grootste sondaars was ’n ernstige bedreiging vir hulle lewenswyse se sorgvuldig opgestelde grense. Daarom mor (gogguzo) veral die skrifgeleerdes onder die Fariseërs  by Jesus se dissipels oor Jesus en sy dissipels se saametery en drinkery met tollenaars en sondaars. Om te murmureer is die teenoorgestelde van om te glo.

5:31 Jesus se antwoord wys op die absurde van hulle posisie as kastige toegewydes aan die wet van die Here. Sal ’n dokter net gesonde mense besoek omdat hy bang is hy steek aan by die siekes? Sondaars is nie kriminele wat deur die wet gestraf moet word nie, maar siekes wat geheel moet word. Redding uit die aansteeklikheid van die onreinheid van sonde word nie gevind in kwarantyn-regulasies nie, maar deur God se genesende krag van vergifnis na hulle toe te bring.

5:32 Jesus spel die doel van sy koms in duidelike terme uit. Hy het nie gekom om ‘regverdiges’ te roep nie – ’n tong in die kies beskrywing van die Fariseërs wat hulleself as regverdiges voor God en die mense beskou het (Luk 18:11-12). Nee, Jesus het juis gekom om sondaars tot bekering (metanoia) te roep, tot ’n hele omdenking van jouself, van jou verhouding tot God en jou medemens, van jou verhouding tot God se skepping, en om volgens die nuwe verhoudings te lewe (vgl. Luk 15:7,31-32).




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees ’n melaatse (Luk 5:12-16) – Francois Malan

Hier volg Lukas vir Markus (Mark 1:40-45), verkort dit, gee ’n eie inleiding en ’n omwerking van die slot.

5:12 Die inleiding volg op 4:44 se preektoer deur Palestina. Jesus kom in een van die dorpe, en skielik staan daar ’n man vol melaatse swere wat voor Hom plat op die grond met sy gesig kom neerval. Die Griekse lepra verwys na ’n reeks aansteeklike velsiektes, o.a. ook die huidige melaatsheid, wat as seremonieel onrein beskou is (Lev 13-14) en hulle uitgesluit het van normale verhoudings met ander mense. Die Ou Testament se godsdiens was gebaseer op die veronderstelling dat om heilig te wees, kontak met onreinheid vermy moet word. Jesus verkondig dat ware heiligheid nie deur iets van buite besmet kan word nie (11:37-40); Mark 7:15), en dat om heilig te wees beteken om soos God barmhartig te wees teenoor dié wat ly. Vol swere dui op die erns van die melaatsheid. Die melaatse glo dat Jesus hom kan reinig.

5:13 Jesus doen wat geen Jood sou waag om te doen nie – Hy raak die melaatse aan met ’n persoonlike liefdeshand, en in plaas daarvan dat Hy besmet word, maak Hy die man rein met sy wil en sy woord: Ek wil, wees gereinig. Soos met die Sabbatsgebod het Hy geen slegte gewete om die seremoniële wette ter syde te stel wat kan inmeng met sy opdrag van God nie. Hy is die Messias, God se Gesalfde, wat die skuld en die siekte en dood wat in sy opdrag in Jesaja ingesluit is, dra (vgl. Luk 4:17-19; 27). Teen die seremoniële wette, raak Hy aan die melaatse omdat sy barmhartigheid dit vereis om die man wat geen kontak met mense gehad het nie, weer heel te maak, sodat hy weer in die samelewing opgeneem kan word,.

5:14-15 Jesus het egter nie laksheid in die onderhouding van die godsdiens aangemoedig nie. Slegs ’n priester kon die melaatse offisieel rein verklaar (Lev 14), en die genesing was nie voltooi voordat die uitgeworpene formeel terug ontvang is in die gemeenskap nie; daarom die byvoeging: as bewys (marturion getuienis) vir hulle. Dit is ook ’n getuienis dat die krag van God in Jesus werk. Maar Jesus wil nie deur ’n wondergenesing tot ’n aardse Messias verklaar word nie, daarom sy opdrag aan die melaatse om dit aan niemand te vertel nie.

5:15 Die vereiste om die regte voorskrifte te volg, het Jesus se voorneme om geheim te bly in die wiele gery (Markus 1:45 sê egter dat die man orals die nuus versprei het). Die genesing van ’n melaatse, wat deur die rabbi’s gelykgestel is met ’n opwekking uit die dood, en wat hulle slegs vir God voorbehou het, het egter die toeloop na Jesus vergroot. Om gehoor en om genees te word is die twee groot verlangens van mense.

5:16 Maar Jesus het Hom teruggetrek in die woestyne (eensame plekke) om te bid. Om die populariteit van die mense te ontvlug en vir gemeenskap met sy Vader, onttrek Jesus Hom van tyd tot tyd aan die gedrang van mense wat Hom soek. Hy soek die eensaamheid op om by sy Vader te wees as deel van sy versoeningswerk tussen sy Vader en die mense wat Hom soek, en vir versterking vir sy taak.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se volmag om sonde te vergewe (Luk 5:17-26) – Francois Malan

Hier gebruik Lukas Markus 2:1-12 as bron wat hy veral aan die begin en einde sterk aanpas. Matteus 9:1-8 maak ook van Markus gebruik.

5:17 Jesus se eerste teenstand op sy reis deur die dorpe van Palestina kom van die godsdiensleiers. Na die genesing van die melaatse word Jesus ondersoek deur Fariseërs en skrifgeleerdes (vir sy Griekse lesers verduidelik Lukas dat hulle wetsleraars nomodidáskaloi is; Markus en Matteus praat net van skrifkenners grammateis, en nie ook van Fariseërs nie). Die Fariseërs (die naam beteken ‘afgesonderdes’) wou ná die Babiloniese ballingskap hulle afsonder van alle onreinheid van die volk, en het in heilige groepe gebly. Hulle wou lewe volgens al die bepalings van die wet van Moses soos dit deur die eeue uitgebrei is in fyner besonderhede. Die fyner besonderhede is beskou as ’n heining om die wet, om die wet te beskerm. Die wet om nie die naam van die Here (Jahweh) ydellik te gebruik nie wou hulle bv. beskerm deur verder te bepaal dat sy naam glad nie gebruik moet word nie. Hulle het ook ’n aardse messias verwag wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou verlos. Die meeste skrifgeleerdes was uit die Fariseërgroep.

Die ondersoekspan kom uit elke dorpie van Galilea, Judea en Jerusalem. Hulle sit daar in die huis waar Jesus die mense onderrig (Markus en Matteus sê dit is in Kapernaum), reg om Jesus se leringe en genesings te beoordeel. Lukas sê die krag van die Here het in Jesus gewerk om mense te genees. Dit is wat die godsdiensleiers kom ondersoek. Lukas plaas hulle teenwoordigheid aan die begin van die verhaal (Markus later). Hulle beskou hulleself as bevoeg om oor Jesus se doen en late te oordeel. Uit wat gebeur het, is Lukas oortuig dat Jesus se gesag van die Here kom. Dat Hy met die gesag van God beklee is en dat God deur Hom werk.

5:18-19 ‘En kyk! manne (Markus sê vier manne) dra ’n verlamde op ’n veldbed (klinidion).’ Hulle wou hom inbring en voor Jesus neersit. Maar die skare is so groot dat dit onmoontlik is om die verlamde die huis in te dra (Mark verwys na die skare ook voor die deur). Hulle dra hom tot bo-op die dak. Lukas sê hulle verwyder die dakteëls (wat nie in Palestina gebruik word nie, maar deur die Grieke en Romeine – so pas hy sy Evangelie aan by sy lesers; Markus sê net dat hulle die dak oopgebreek het; dakke is gewoonlik in Palestina van klei en plantmateriaal gemaak) en hulle laat sak hom tussen die mense reg voor Jesus.

5:20 Jesus sien die geloof van die verlamde en sy vriende, hulle vertroue dat Jesus die man kan genees, en hulle deursettingsvermoë om op dié wyse voor Jesus te verskyn. Jesus gebruik die geleentheid om sy eintlike taak bekend te stel aan die ondersoekkomitee van kritiese wetskenners en voor die hele volk. Hy het gekom om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29). Die verlamde word aangespreek as ‘mens’ (ánthrōpos) – want dit geld vir elke mens wat in Hom glo (Joh 3:16): ‘mens, jou sondes is vir jou vergewe’ (deur God, is die implikasie van die passiewe werkwoord ‘is vergewe’). Jesus het mens geword volgens die wil van God om versoening te bewerk deur die mens se verhouding tot God reg te maak en dat God se vergewing almal kan bereik wat in Jesus glo, ook die gelowige verlamde en sy vriende.

5:21 Die oordeel van die skrifkenners (grammateis) en die Fariseërs is: dit is Godslastering!. Wie is dit wat lasterlik praat? Wie kan sonde vergewe as net God alleen? (die Griekse sin veronderstel die antwoord: niemand!). Maar Jesus het daardeur juis geopenbaar dat Hy een is met God, maar dit kan die skrifkenners nie raaksien in die Seun van die Mens nie.

5:22-23 Jesus stel aan sy veroordelende godsdiensleiers ’n keuse oor wat volgens hulle oordeel die maklikste is. Vir hulle klink sy aanspraak op sondevergewing lasterlik en te maklik gesê, en om iemand werklik te genees die moeilike keuse. Vir Hom kos die sondevergewing egter sy dood aan die kruis, waar Hy die straf op die sonde van die wêreld moet dra, en is die genesing van ’n verlamde die regte gebruik van sy  genesingskrag waarmee die Vader Hom toegerus het as bewys van sy Seunskap van God  (Luk 5:17).

5:24 Jesus genees die verlamde met sy gesagvolle woord: ‘Ek sê vir jou, staan op, tel jou veldbed (klinidion ’n smal tydelike opvoubare bed/draagbaar) op en gaan na jou huis.’ Daarmee bewys Hy, die Seun van die Mens, soos Hy Homself noem (en 80 maal in die Evangelies deur Hom gebruik word), dat Hy die volmag het om op aarde sonde te vergewe. Sy woorde van vergifnis en sy genesing van mense gaan saam.

Vir die eerste van 27 keer gebruik Lukas die selfbenaming van Jesus: Seun van die Mens. So maak Jesus Hom aan die godsdiensleiers bekend. Die Ou Testamentiese uitdrukking ‘seun/kind van die mens’ dui gewoonlik op die onbelangrikheid en broosheid/swakheid/sterflikheid van die mens in teenstelling met die grootheid en almag van God (bv. Job 7:17; 25:6; Ps 8:5; 144:3). Met die selfbenaming onderstreep Jesus sy menslikheid, veral t.o.v. sy lyding en dood (bv. Mat 8:20; Luk 9:22; 18:31). In sommige verbande is dit eintlik ’n omskrywing van die voornaamwoord ‘Ek” (Luk 7:34).

Maar dit is veral Daniël 7:13-14 wat in Hom vervul word: ‘My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese (’n seun van ’n mens, ke-bar ênasj). Hy (seun van die mens) het na Hom toe gegaan wat ewig lewe (nl. God vgl. Dan 7:9-10) en is voor Hom (God) gebring. Aan die menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die nasies en tale en volksgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.’ Toe die Hoëpriester Jesus ondervra het in Markus 14:60 ‘Is jy die Christus(Messias), die Seun van die Lofwaardige?’ het Jesus geantwoord: ‘Ek is! Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige en sien kom met die wolke van die hemel (vgl. ook Ps 110:1).

Sy selfbenaming wys sy messiaanse waardigheid; die naam wat Hy verkies bo die politiekgelaaide term messias. Lukas verbind die Seun van die Mens wat hy hier in 5:24 vir die eerste keer gebruik aan sy volmag om sondes te vergewe – dit is sy groot taak waarvoor Hy gekom het. Dit impliseer ook sy goddelikheid en sy hemelse oorsprong, want dit is net God wat sondes kan vergewe (Luk 5:21). Met sy volmag dryf Hy duiwels uit (Luk 4:36), genees Hy siekes (Luk 4:40), en oefen Hy sy koningskap oor die Sabbat uit (Luk 6:5). Sy hele reis na Jerusalem in Lukas 9-19 wys dat Hy oortuig was van die noodsaaklikheid van sy lyding, dat Hy, die Seun van die Mens, só sy Vader se wil laat geskied (bv. Luk 9:22,44; 18:31-33; 22:42). Dit wys ook sy eenheid met die mensdom, veral met die swakkes en nederiges, ook dat Hy die verteenwoordiger van die nuwe Israel is en die draer van God se oordeel en van God se koningskap. Hy is die Seun van Adam die Seun van God (Luk 3:38), God se lydende Kneg (Jes 53). Hy gebruik die benaming egter nie bloot as ’n titel nie, maar as ’n uitnodiging aan ander om deel te word van sy taak in die wêreld. Die heerlikheid van die Seun van die Mens is die triomf van sy hele beweging om mense met God te versoen deur genadige vergifnis en nederige liefdediens.

5:25 Die geneesde verlamde staan onmiddellik voor hulle oë op, as bewys van Jesus se volmag om sonde te vergewe en te genees. Die lamme, wat op sy bed gedra is, dra nou sy bed en gaan al prysende na sy huis as getuienis dat Jesus se werk God se werk is. So verkondig die geneesde sy nuutgevonde geloof in Jesus se goddelike mag. Sy en sy maats se vertroue op Jesus, wat die huis se dak oopbreek om by Hom te kom vir heling, word ’n ryke ervaring van God se vergifnis van sy sonde, wat hy in sy lofsang verkondig (wat slegs in Lukas beskryf is).

5:26 Die hele skare is uitermate verbaas (ékstasis élaben hápantas ekstase het almal aangegryp) en hulle het God geprys soos die verlamde, wat hulle voorgegaan het in die lofprysing van God. Hulle is met diepe ontsag vervul (was met vrees vervul) deur die wondergenesing deur God en die sondevergifnis deur die Seun van die Mens. Daarom sê hulle: vandag het ons paradoksa gesien (teenstrydige dinge, wat moeilik is om te glo – ongelooflike dinge). Terwyl die verlamde se lofprysing aan God verbind is aan sy besondere vertroue op Jesus, sien die skare, en veral die ondersoekkommissielede wat skepties na Jesus se woorde en wonderdade kom kyk het, ongelooflike dinge, en loof hulle God vir die wondergenesing, maar bly skepties oor Jesus se volmag om sondes op aarde te vergewe. Die Fariseërs en skrifgeleerdes verkondig nie God se genade alleen as genoeg vir sondevergifnis nie, maar dat jou goeie werke God moet oortuig dat Hy jou sonde behoort te vergewe (vgl. Luk 11:46,52).