Die Evangelie volgens Lukas: Jesus voor die hoëpriester en Petrus verloën Jesus (Luk 22:54-62) – Francois Malan

22:54 Lukas noem kortliks die verskyning van Jesus in die hoëpriester se ampswoning. Johannes 18:13-24 het eers ’n verskyning voor Annas, die skoonvader van Kajafas. Markus vertel dat die hoëpriester, die leierpriesters, ouderlinge en die skrifkenners by die onwettige nagtelike vergadering was (die reëls van die Sanhedrin het bepaal dat die offisiële vergadering slegs bedags gehou mag word aangesien die deure van die tempelplein snags gesluit is; vgl. 1 Sam 3:15;  Luk 22:66). Slegs Mattheus en Johannes noem hier die naam van die hoëpriester Kajafas (Annas en Kajafas word slegs in Luk 3:2 genoem).

 Petrus het op ’n afstand gevolg, tot by die ampswoning van die hoëpriester (miskien waar Annas gebly het?). Markus en Mattheus sê eers dat al die dissipels ná Jesus se arrestasie gevlug het, maar al vier vertel dat Petrus op ’n afstand gevolg het. Johannes voeg by dat ‘die ander dissipel’ saam met Petrus gevolg het, en dat die ander dissipel, wat ’n kennis van die hoëpriester was, met die deurwagster gepraat het om Petrus ook in te laat. Wie die ander dissipel was weet ons nie. Dit kon sekerlik nie Johannes die ongeletterde visserman van Galilea wees nie (vgl. bv. Hand 4:13).

 22:55 Lukas verwys na ‘hulle’ wat in die voorhof van die hoëpriester se ampswoning ’n vuur aangesteek het. Dit verwys waarskynlik na die mense wat Jesus kom arresteer het.

 Johannes sê dit was die slawe en tempelwagte wat hulle gestaan en warm maak het omdat dit koud was. Mattheus sê slegs: Petrus het in die binnehof gesit; Markus: dat hy hom warm gemaak het by die vuur in die binnehof saam met die dienspersoneel.

 22:56-60 Lukas vertel van drie mense wat Petrus in toenemende mate van sekerheid gekonfronteer het: ’n sekere diensmeisie wat hom in die lig van die vuur stip aangekyk het, het die opmerking gemaak ‘hy was saam met Hom.’ Toe iemand anders (heteros die manlike vorm van iemand) wat hom direk gekonfronteer het: ‘jy is van Hom.’ en na ongeveer ’n uur ’n ander (allos manlike vorm van ‘ander’) wat nadruklik sê: ‘so waar, hy was saam met Hom, want hy is ’n Galileër.’ Die Galilese dialek kon maklik van die Judese dialek onderskei word (vgl. Matt 23:76; Rigt 12:6).

 Markus sê die diensmeisie het hom tweemaal uitgewys en die mense het hom as ’n Galileër uitgewys. Mattheus volg hoofsaaklik vir Markus. Johannes praat van die deurwagster, daarna van dié wat hulle staan en warm maak het, en toe ’n familielid van Malgus.

 Petrus word telkens uitgewys as iemand wat saam met Jesus was, maar Petrus ontken telkens dat hy Jesus ken (arneomai ontken en om vals teenoor jouself te wees); vir die diensmeisietjie: ‘vrou ek ken Hom nie;’ daarna ‘Man, ek is nie’ (Luk 22:58, teenoor Jesus se ‘Ek is’ bv. Joh 14:6; 15:1; 18:5,8), en die derde keer, met sy Galilese stem: ‘Man, ek weet nie wat jy praat nie.’

 Markus en Mattheus vertel dat Petrus met die derde beskuldiging begin het om sy vissermanstaal te gebruik, gevloek en gesweer het, dat hy dié man wat hulle van praat, nie ken nie.

 Daarmee gee Petrus sy dissipelskap van Jesus prys en probeer homself loslieg uit sy verbondenheid met Jesus uit. Jesus het gesê die duiwel is die vader van die leuen (Joh 8:44).

 ‘En onmiddellik, terwyl hy nog besig was om te praat (tydens sy derde verloëning van Jesus) het ’n haan gekraai (om die aanbreek van die dag aan te kondig). Markus 14:68,72 sê die haan het tweemaal gekraai, eers na die eerste diensmeisie se opmerking en die tweede direk na die derde verloëning (vgl. Mark 14:30).

 22:61-62  Tydens Petrus se derde verloëning van Jesus gebeur drie dinge tegelyk: Petrus sê: ‘Man, ek weet nie wat jy praat nie;’ ‘n haan het gekraai,’ ‘en die Here, wat Hom omgedraai het, het direk na Petrus gekyk’ (emblepō direk aankyk, en ook om aan iemand te dink, met jou hart na iemand te kyk). Jesus se kyk na Petrus staan slegs in Lukas. Terwyl Jesus voor die onwettige byeenkoms van die Sanhedrin verneder, mishandel, en deur soldate opgepas word, het Hy tyd vir Petrus wat besig is om Hom te verloën. Sy simpatieke kyk herinner Petrus aan sy selfvertroue en bravade: ‘Here, ek is bereid om saam met U in die tronk of die dood in te gaan’ (Luk 22:33), en aan Jesus se waarskuwing dat hy Hom vandag driemaal gaan verloën voor die haan kraai (Luk 22:34), maar ook aan Jesus se voorbidding en opdrag aan hom (Luk 22:32). Die opdrag word in Johannes 21:15-19 uitgespel; vgl. Jesus se verskyning aan hom in Luk 24:34. Al sê Petrus dat hy Jesus nie ken nie, ken Jesus hom en het hom al vroeër deurgrond.

 Meteens sien Petrus homself met verpletterende bewustheid. Drie maal het hy ontken dat hy Jesus ken. Maar Jesus wat vir hom gebid het, hou hom met sy blik vas terwyl hy Jesus losgelaat het. Petrus weet ineens dat hy homself verloor het en dat Jesus hom vashou. Toe gaan hy uit die kring van Jesus se vyande buitentoe en hy het bitterlik gehuil (pikrōs bitterlik, met ’n sielesmart). Was dit sy bekering waarvoor Jesus gebid het dat sy geloof nie sal wankel nie? (Luk 22:32). Was hy nog dissipel van Jesus? Lukas het Jesus se indringende blik bykbaar so verstaan. In vers 61 gebruik hy twee maal ‘die Here’ (ho kurios). Die Here het hom stip aangekyk, en Petrus het die woorde van die Here aan hom onthou. Vir Lukas is Petrus ’n sentrale figuur in sy val, in sy skaamte oor homself, in sy berou en in sy onthou van sy Here se woorde.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gearresteer (Luk 22:47-53) – Francois Malan

Lukas se weergawe is korter as dié van die ander Evangelies, maar het ook materiaal wat net in Lukas voorkom: die vraag van die dissipels (49), die genesing van die oor (51), die verwysing na die gesag van die duisternis (53).

 22:47 Jesus se waarskuwing aan die slapende dissipels word skielik ’n werklikheid terwyl Hy nog praat: ‘Kyk, ’n menigte, en die man genaamd Judas, een van die twaalf, lei hulle.’  Die naam wat Jesus nie genoem het nie, toe Hy gesê het ‘die hand van die een wat My gaan oorlewer, is saam met My aan tafel’ (Luk 23:21), maar wat Lukas in 22:3 noem: ‘Satan het in Judas, wat Iskariot genoem word, een van die twaalf, ingevaar.’

 Judas staan nader om Jesus te soen. Dit was die ou manier om naby verbondenheid uit te druk, en nie ongewoon tussen mans nie (1 Tess 5:26; Die soen is ook deur Joab verraderlik misbruik om Amasa dood te steek (2 Sam 20:9-10).  Lukas verwys met ’n wrang smaak na Judas as ‘een van die twaalf.’ Judas, ’n vorm van Juda, ‘loof die Here,’ (Gen 29:35), is die kroon van Jakob se twaalf seuns (Gen 49:8-12). Daarop deel Lukas Jesus se laaste woord aan Judas mee:

 22:48 ‘Judas, lewer jy die Seun van die Mens oor met ’n soen?’ Jesus sien deur die bedoeling van Judas. Om Hom in die maanskyn aan die menigte uit te wys is onnodig. Jesus sal Hom nie aan die arrestasie onttrek nie, maar gee Homself oor. Eintlik is Jesus se vraag ’n laaste beroep op Judas om te besin oor waarmee hy besig is, ’n laaste uitnodiging aan Judas om homself aan Jesus oor te gee, ’n herinnering aan die ellende wat wag op die man wat die Seun van die Mens verraai (22:22). 

 22:49 is slegs in Lukas. Toe dié wat saam met Hom was (die 11 dissipels) sien wat gaan gebeur, sê hulle: ‘Here sal ons met die swaard aanval (patassō)? Die dissipels het waarskynlik onthou toe Jesus gesê het dié wat nie ’n swaard het nie, moet een koop (22:36). Hulle is dadelik bereid om Jesus se arrestasie te verhinder, maar vra sy toestemming.

 22:50  En iemand uit hulle val toe die slaaf van die hoëpriester aan (patassō) en het sy regteroor afgekap.’ Hy wag toe nie vir Jesus se toestemming nie. Lukas en Mattheus volg Markus se berig daaroor. Johannes sê egter dit was Petrus wat gekap het en noem die naam van die slaaf, Malgus. Lukas en Johannes sê dit was die regteroor.

 22:51 Jesus stop die ontbranding van die geveg tussen die twee groepe en beantwoord die dissipels se vraag met ’n streng teregwysing: ‘Stop dit!’ – Hou op hiermee! En die Heiland heel die oor van die hoëpriester se slaaf. Slegs Lukas, die geliefde dokter volgens Kolossense 4:14, vertel van die wondergenesing. Jesus stel sy wondermag ten toon, maar gebruik dit nie vir Homself nie. Sy gevangeneming sal ’n selfoorgawe wees. Dit bewys Jesus se onskuld, sy onpolitiese bediening as Verlosser (2:11) en bevestig die helende doel van sy koms. Vir sy volgelinge is Jesus se optrede ’n voorbeeld van hoe om teen jou vyande op te tree, om nie na die wapen te gryp nie, maar eerder aan hulle goed te doen (Rom 12:19-20; Matt  5:44-45).  

 22:52-53 Jesus se optrede laat die leiers van die menigte wat teen Hom opgetrek het na vore kom, en Hy konfronteer hulle: Hy was (die afgelope 5 dae, Luk 19:47; 20:1-2; 21:37-38) daagliks saam met hulle in die tempel, sonder dat hulle ’n hand op Hom gelê het. Maar nou het hulle in die donker met swaarde en knuppels teen Hom uitgetrek soos teen ’n rower (lêstês ’n rower, wat met krag en geweld mense beroof, soos in Luk 10:30, ook gebruik vir ’n rebel, soos Barabbas, Joh 18:40). 

 ‘maar hierdie is julle uur en die eksousia mag/seggenskap van die duisternis.’ Hoewel hulle daagliks by Hom in die tempel kon leer, het hulle uur nou aangebreek, waarop hulle geheime gedagtes en besluite uitgevoer kan word (Luk 6:11; 11:54; 19:47; 20:19). Hulle uur is ook die uur van die mag van die duisternis wat oor Jesus toesak, en hulle is die werktuie van die mag van die duisternis. Die duisternis is die gebied van die duiwel, en sy werktuie doen hulle besigheid in sy ure. Dit is juis waarvoor Jesus as die môreson gekom het om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skaduwee van die dood bevind, en om hulle voete op die pad van vrede te plaas (Luk 1:67). Hulle uur word deur sy uur beëindig, en die mag van die duisternis word gebreek deur sy oorwinning. Daarvoor gee Hy Homself oor in die hande van die werktuie van die duisternis (vgl. Luk 9:21), om die mag van die duisternis van sonde en dood te oorwin deur sy sterwe aan die kruis en sy opstanding uit die dood




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se gebedstryd by die Olyfberg (Luk 22:39-46) – Francois Malan

22:39 Onder die paasfees se volmaan vertrek Jesus en sy dissipels uit die stad, loop deur die Kedronspruit en gaan soos gewoonlik na die Olyfberg, oos van die stad. Anders as Markus en Mattheus noem Lukas nie die Hebreeuse naam Getsemane (oliepers) van die plek vir sy Griekse lesers nie. Johannes praat slegs van ’n tuin oorkant die Kedronspruit. Net Lukas noem die Olyfberg, en dat Jesus gewoonlik daarheen gegaan het (vgl. Luk 21:37). Jesus vlug nie vir sy gevangeneming nie, en Judas sou weet waar om Hom te kry. Jesus gee Homself oor op ’n plek wat die minste oproer in die stad sou veroorsaak en dit vir die Joodse leiers die maklikste sou wees om Hom stilweg te arresteer (vgl. Mark 14:2).

 22:40 Vir sy elf dissipels herhaal Jesus sy waarskuwing van Luk 21:36: ‘Bid sodat julle nie in versoeking kom nie’ (Letterlik: in versoeking ingaan nie). Die groot oomblik van versoeking om van Jesus af weg te vlug en Hom te verlaat, het gekom. God is magtig om jou daardeur te dra. Deur jou tot Hom te wend in gebed, kan die versoekings vermy en oorwin word. Dit gaan Jesus nou doen terwyl sy dissipels aan die slaap gaan raak en deur die Satan soos koring gesif gaan word (Luk 22:31). Daarom word die waarskuwing in vers 46 herhaal, net voor Jesus se arrestasie.

 22:41 Jesus trek Homself terug (apospaō) van die dissipels af, ongeveer ’n klipgooi ver, binne roep- en hoorafstand van die dissipels af. Daar gaan Hy op sy knieë en bid. Hoewel die Jode gewoonlik gestaan en bid het (Luk 18:11,13) kniel Jesus in nederigheid en dringendheid voor sy Vader, soos Esra (Esra 9:5; 10:1).

 22:42 ‘Vader, as U wil, neem die beker van My af weg,’ ’n idioom vir: laat die lyding by My verbygaan). Die beker is ’n teken van dankbaarheid en vreugde in Ps 16:5; 23:5, en van straf en bitter verlies in Ps 11:6; 75:9; Jer 49:12.

 ‘Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.’ Jesus gee Homself heeltemal oor aan die wil van sy Vader, soos blyk uit die herhaling van ‘u wil’ in die twee dele van die teks en die prysgee van sy eie wil in die tweede deel (vgl. die derde gebed in die Onse Vader van Matt 6:10).

 22:43-44 Dié twee tekste kom slegs in Lukas voor. In meeste van die ou manuskripte makeer die twee tekste, bv. in papirus 75 vroeë derde eeu; kodeks Vaticanus uit die helfte van die vierde eeu; ens. Maar dit kom wel voor in kodeks Sinaiticus ook uit die vierde eeu n.C. moontlik ’n raps ouer as Vaticanus. Daarom is dit in die Griekse teks tussen hakies ingevoeg.

 22:43 ‘Daar het ’n engel uit die hemel aan Hom verskyn om Hom te versterk.’ Dit word aangebied as die hemel se antwoord op Jesus se gebed. Dit herinner aan die engel wat saam met die drie vriende van Daniël in die vuuroond rondbeweeg het (Dan. 3:25). In Daniël 18:18-19 word Daniël versterk deur iemand wat soos ’n mens gelyk het. Lukas se Evangelie begin met engele wat die geboorte van Jesus aankondig aan Sagaria en aan Maria, en sluit hier af met die engel wat Jesus kom versterk in sy grootste versoeking. In Lukas en Handelinge kom engele dikwels voor. Die Griekse woord angelos beteken eintlik ‘boodskapper,’ en word ook gebruik vir ’n bonatuurlike wese wat ’n bonatuurlike owerste wese bedien en optree as sy boodskapper; as ’n dienaar of boodskapper van God (Ps 103:20-21), ook dienaar of boodskapper van die Duiwel (Matt 25:41). Die engel kom vir Jesus versterk op die kritieke oomblik van sy lewe. In Joh 12:28-30 kom die Vader se stem uit die hemel, ter wille van die skare.

 22:44 Ons kry ’n klein kykie in die intensiteit van Jesus se gemoed, dat sy sweet op die grond afgeloop het soos groot druppels (thromboi klonte of druppels) bloed tydens sy ernstige gebed, toe Hy deur angs oorval is (vgl. Joh 12:72: Nou is my siel ontsteld’). Angs (agōnia) verwys na ’n groot geestelike en emosionele droefheid en angs. Op Jesus wag die verskriklike dood waardeur Hy selfs van sy Vader verlaat word (Mark 15:34) om God se doodstraf op die sonde van die hele wêreld in hulle plek aan die kruis te dra. 2 Kor 5:21: ‘Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God sonde gemaak ter wille van ons, sodat ons in Hom voor God geregverdig kan word.’

 22:45 Na Jesus se worsteling in sy gebed tot die Vader, en sy berusting in die wil van sy Vader, vind Hy sy dissipels aan die slaap, ‘oorweldig deur droefheid,’ ’n byvoeging van Lukas by die Markusberig. Hulle is skynbaar bedroef omdat Jesus hulle gaan verlaat soos Hy tydens die nagmaal gesê het (vgl. Luk 22:15 voor ek ly; v16 Ek sal dit beslis nie weer eet nie; v18 Ek sal dit beslis nie weer drink nie; v19 doen dit ter herinnering aan My; v20 my bloed wat uitgegiet word; v34 vandag sal jy my driemaal verloën; v37 Ek sal saam met wetteloses gereken word). Sy dissipels was onbewus van sy worsteling, en hulle slaap in plaas van saam met Hom en vir Hom te bid, ten spyte van sy oproep in vers 40 om te bid dat hulle nie in die versoeking kom nie, nie in versoeking ingaan nie.

 22:46 Jesus vra vir die dissipels: ‘waarom slaap julle?’ Besef hulle nie wat hier aan die gang is en nou op hulle wag nie?  As hulle Leier gevang en verwerp word, word hulle saam met Hom deur die mense verwerp, en sal hulle moet besluit of hulle langer aan Hom verbind gaan bly of nie. Daarom sluit Jesus sy worsteling en oorwinning oor sy eie wil in die gebed tot sy Vader af met ’n herhaling van sy waarskuwing aan sy dissipels: Staan op (uit die slaap) en bid sodat julle nie in versoeking ingelei word nie. As Jesus self die gesprek met sy Vader nodig het vir sy selfoorgawe aan die wil van die Vader – hoeveel te meer het sy volgelinge die gebed nodig om hulle trou aan hulle Heer te bewaar, wanneer hulle sien hoe Hy Hom vrywillig oorgee in die hande van sy teenstanders.

 Slegs in gebedskontak met die Vader en oorgawe van onsself aan sy wil vir ons, kan ons staande bly teen die versoekings van ons eie hart en van die wêreld. In Luk 18:1 het Jesus reeds vir hulle ’n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie (mê engkakeō om nie jou motivering te verloor om ’n geldige doel uit te voer nie).




Die Evangelie volgens Lukas: Aanwysings vir die nuwe gemeente (Luk 22:35-38) – Francois Malan

22:35 Die gedeelte kom slegs in Lukas voor. Die aanwysings vir die toekomstige optrede van die gelowiges ná Jesus se hemelvaart begin met Jesus se vraag oor sy sending van die 12 en weer van die 72 dissipels se sending na al die dorpies wat Hy nog voor sy dood wou besoek het (Luk 9:1-6; 10:1-12). Jesus vra of hulle destyds iets kort gekom het toe Hy hulle sonder enige voorsiening, sonder geld, ekstra klere of sandale uitgestuur het. En hulle antwoord: ‘Niks nie’ want hulle is orals vriendelik ontvang en versorg (Luk 9:4; 10:7-8).

 22:36 Die genadejaar van Lukas 4:19 (uit Jes 61:2) is verby: ‘Maar nou…’ Die heerskappy van God is gevestig. Nou breek die tyd vir die nasies aan. Dit is die tyd van die kerk wat Lukas in Handelinge beskryf. Jesus gaan nie meer by hulle wees nie en sy volgelinge gaan nie meer beskou word as dissipels van ’n gerespekteerde en geliefde Meester nie. Hy is reeds deur die Joodse leiers verwerp en word dieselfde dag nog gekruisig. Hy sal deur die hele volk as ’n gehate krimineel beskou word. Dan sal volgelinge van die Gekruisigde ook soos Hy verag, uitgeskop en vervolg word. Die geldsak en die kossak word dan nie tuis gelaat nie, maar gaan saam, en ’n swaard (machaira kort swaard, selfs ’n dolk) word gekoop, al kos dit jou bokleed. Die middels om jou te versorg en te stry teen moontlike aanslae word nou noodsaaklik.

 Die swaard gaan nie om ’n oorlog nie (vgl. Luk 22:51), maar om die nuwe stryd, om die erns van die saak en om die lyding en ontberings wat kom, te beklemtoon. Die getuies van Jesus gaan nie meer orals vriendelik ontvang en versorg word nie (Luk 10:3: Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in’). Die dissipels sal die moed nodig hê wat ’n swaard meer nodig ag as jou laaste besitting, waarvan jou bokleed die beeld is. Maar die stryd vir God se koninkryk, waarvan die swaard ’n beeld is, kan nie laat vaar word nie.

 22:37 Die erns van die dissipels se aanstaande stryd en lyding word deur Jesus se dood bepaal. ‘Want Ek sê vir julle hierdie Skrifwoord moet (dei) in My vervulling vind:’ Met Jesus geskied wat in die Skrif aangekondig word. Die ‘moet’ verwys na die wil van God wat volbring moet word (vgl. Luk 10:50: Ek het ’n doop waarmee Ek gedoop moet word).

 Jesaja 53:12 sê dat die Kneg van die Here as misdadiger beskou is – letterlik in Hebreeus pesje’im: Hy is saam met die rebelle getel; Griekse LXX: anomois onder die wetteloses/ongehoorsames aan die wet, gereken – in Hand 2:23 beskuldig Petrus egter die Israeliete: julle het hierdie man deur die hande van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. Daarmee verwys hy na Judas se verraad, die Sanhedrin se oortreding van hulle eie prosedures, die Jode wat geskreeu het ‘kruisig Hom,’ en Pilatus wat teen sy beterwete die reg oortree het deur ’n onskuldige te laat gesel en kruisig.

 ‘Want die woorde (van Jes 53:12) wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek;’ vgl. Luk 18:31; 9:44). Jesus verwag die openlike verklaring dat Hy ’n wetsoortreder is, ongehoorsaam aan die wet van die Here soos die Sanhedrin sy uitsprake en sy bediening beskou het. Dit is omdat hulle Hom nie as die Seun van God kon aanvaar nie en daarom moet Hy dood omdat Hy die volk verlei om ’n ander god as die een wat hulle aanbid, te dien (vgl. Deutr 13:10). En daarom sal hulle ook nie Jesus se volgelinge aanvaar nie, maar hulle wil uitroei (vgl. Hand 4:17-18; 5:18; 7:58; 8:1-3; 12:1-3; ens.). Maar dit is alles deel van die wil van God (‘moet’) wat oor Jesus en oor sy volgelinge regeer. Deur Jesus en sy volgelinge se verwerping en lyding word die wil van God en sy verlossingsplan vir die wêreld volbring (vgl. Romeine 8:17).

 22:38 Soos in die verlede verstaan die dissipels Jesus verkeerd. Hulle neem sy woord oor die swaard letterlik op en sê hulle het twee swaarde onder hulle. Maar Jesus breek die gesprek af, waarskynlik omdat hulle Hom nie verstaan nie. Hulle dink aan die geveg wat gaan uitbreek as Jesus oorgelewer word. Hy dink aan die komende tyd van vervolging en martelaarskap van sy volgelinge na sy dood. Daarom sê Jesus: ‘Dit is genoeg’ (hikanon estai) – genoeg van die gesprek en die onderrig van sy volgelinge, wat hier in Lukas afgesluit word (vgl. die Here se woord aan Moses in Deutr 3:26 ‘Jy het nou al genoeg daaroor gepraat’ Letterlik in Hebreeus : rab-leka genoeg vir jou; Grieks LXX: hikanousthō soi genoeg vir jou). Efesiërs 6:17 sê die swaard van die Gees is die woord van God.

 [Die misverstand oor die twee swaarde sit ook agter Pous Benedictus III se Bul ‘Unam sanctam’ van 18 Nov 1302 wat op grond van Lukas 22:38 en Matt 26:52 verklaar het dat die Here aan die kerk die mag van twee swaarde gegee het, die geestelike en die materiële gesag. Maar lank voor hom het die kerk al geweld gebruik vir sy uitbreiding en verdediging (vgl. bv. die kruistogte van 950-1350 n.C. wat veral teen die Moslemmagte opgetree en op die end verloor het,  en die inkwisisies wat ketterye met bloed wou uitroei. In 1229 is die prosedure van die inkwisisie gesistematiseer, en in 1814 is die inkwisisie weer opnuut in Spanje ingestel].