Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se lydensweg Luk 22:1-23:56) – Francois Malan
Lukas gee benewens ’n beskrywing van Jesus se lyding, ’n uitvoerige paasgeskiedenis, wat hom onderskei van Markus en meer aan die Johannes evangelie herinner. Markus en Mattheus loop nouer saam, en Lukas en Johannes het meer raakpunte oor die lydensweg. Dit verteenwoordig twee verskillende tradisies. Markus 15:39 en Mattheus 27:54 se woorde van die Romeinse offisier ‘waarlik hierdie man was die Seun van God’ beklemtoon dat Jesus as martelaar sterf. Lukas 23:47 beskryf Jesus as die lydende Regverdige, met die woorde van die Romeinse offisier: ‘waarlik hierdie man was onskuldig.’ Lukas beskryf die sterwe van Stefanus in Hand 7:54-60 parallel met die sterwe van Jesus. Jesus bid ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie’ (Luk 23:34) – Stefanus roep uit: ‘Here reken hulle hierdie sonde nie toe nie’ (Hand 7:60). Jesus bid: ‘Vader in U hande gee Ek my gees oor’ (Luk 23:45) – Stefanus word gestenig terwyl hy uitroep: ‘Here Jesus, ontvang my gees’ (Hand 7:59). Met hierdie parallelisme word dit onmiskenbaar dat Jesus se lyding ter wille van sy volgelinge bestem was, en vir hulle die weg baan om Hom daarop te volg (Luk 14:27: wie nie sy eie kruis dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie).
Terwyl Jesus se lydensgeskiedenis die einde van sy vernedering aandui, is die paasgeskiedenis die begin van sy verhoging, soos Johannes 12:32-33 sê dat Hy met sy verhoging aan die kruis almal na Hom toe sal trek. Soos die Joodse paasfees herinner aan die bloed aan die deurkosyne wat die oordeel by hulle laat verbygaan (pasag verbygaan, Eks 12:13,23,27; Jes 31:5: Die Here sal beskermend verbykom en so sal Hy red en bevry), so laat Jesus se bloed aan die kruis die oordeel van God by ons verbygaan om ons te red en te bevry.
Sameswering teen Jesus (Luk 22:1-6)
Lukas voeg twee berigte saam: die leiers se soeke na ’n manier om Jesus dood te maak, en Judas se onderhandeling om Hom aan hulle oor te lewer. Markus 14 en Mattheus 26 plaas die salwing van Jesus in die huis van Simon die melaatse tussen die twee berigte. Lukas alleen het egter ’n salwing in die huis van ’n Fariseër in Galilea (Luk 7:36-50). Lukas het ook die vroue uit Galilea wat Sondagmôre, ná sy opstanding, te láát was om Hom te gaan salf (Luk 23:56-24:1; soos Mark 16:1 wat verwys na die Sondagmôre se poging om Hom te gaan salf, maar nie Mattheus nie).
22:1 Hoewel Deuteronomium 16:2,5-6 bepaal dat die paasfees slegs in Jerusalem gevier mag word, het die volk vir die res van die sewe dae van die fees van die ongesuurde brode huis toe gegaan vir die viering daarvan (Deutr 12:4,7; Eks 12:17-20). Die Pasga moes die Jode herinner aan die nag toe die Here hulle uit Egipte verlos het, deur die huise waar die bloed van die lammers vir die fees aan die deurkosyne gesmeer is, verby te gaan (pasag verbygaan, spaar; Engels: pass over, Eks 12:12; pesach le JHWH ’n paasoffer aan die Here, Eks 12:11). Die ongesuurde brood moes hulle herinner aan die haas waarmee Israel Egipte verlaat het, vgl. Eks 12:39; Deutr 16:3 waar dit ook genoem word ‘brood van herinnering aan hulle swaarkry,’ tydens hulle slaweskap in Egipte en hulle tog deur die woestyn.
22:2 Die leierpriesters (uit die Sadduseërs) en die skrifkenners (uit die Fariseërs) bly soek hoe om Jesus dood te maak (anaireō om van iemand ontslae te raak deur teregstelling). Hulle soek na ’n manier of geleentheid dat die volk dit nie sal agterkom nie, veral weens die groot skare van paasgangers, ook uit Galilea en elders, wat na Jesus se onderrigsessies toe stroom en aan sy lippe hang (Mark 14:2 en Matt 26:5 voeg by: sodat daar nie ’n oproer onder die volk ontstaan nie). Daarby sou ’n oproer onder die volk met geweld deur die Romeine onderdruk word, en kon dit die Romeinse onderdrukking van die Jode vererger (vgl. Joh 11:48). Die hoëpriester Kajafas (18-36 n.C.) was ’n aanstelling van die Romeine, nadat hulle reeds sy skoonvader Annas (6-15 n.C.) afgesit het.
22:3 In hulle radeloosheid hoe om Jesus stilweg te arresteer kom die Satan (‘aanklaer, teenstander’) die Joodse leiers te hulp. In Joh 8:44 sê Jesus vir die Jode, julle vader is die duiwel en hy is van die begin af ’n mensemoordenaar en die vader van die leuen. Die Satan het ingevaar (eiserchomai ingaan, beheer) in Judas Iskariot (man van Keriot/Kariot in Judea) een van die twaalf wat Jesus uitgekies het (Luk 6:12-16). Soos Jesus, is Judas die enigste van die twaalf wat in Judea gebore is.
22:4 Die bevelvoerder van die tempelwag was tweede in bevel naas die hoëpriester. Judas onderhandel met die topbestuur van die tempel, die dagbestuur van die Sanhedrin. Hulle is ook die leiers van die menigte wat Jesus gaan arresteer het in Getsemane (Luk 22:52). Hulle beplan saam met Judas hoe hy Jesus aan hulle kan oorlewer (paradidōmi dieselfde woord wat in Luk 22:48 met ‘verraai’ vertaal word; dit beteken om oor te gee, òf ’n skuldige persoon aan die owerheid vir straf, òf ’n persoon aan ’n vyand wat onbehoorlik met die persoon sal handel). Wat Judas se motiewe was om dit te doen is nie seker nie. In Johannes 6:64 impliseer Jesus dat Judas nie in Hom geglo het nie, en in Joh 6:70-71 sê Jesus, Hy het hulle 12 uitgekies en een van hulle is ’n duiwel. In Joh 12:6 sê Johannes dat Judas ’n dief was wat van die bydraes aan die dissipelkring se geldbeurs gevat het. In Joh 13:18 haal Jesus die Skrif aan, dat Judas se verraad ’n vervulling is van Ps 41:10 waar Dawid kla oor sy vriend wat hy vertrou het en saam met hom geëet het en sy hakskeen teen hom gelig het, soos bv. Saul en Absalom.
Die teenwoordigheid van die bevelvoerder van die tempelwag wat verantwoordelik is vir die orde op die tempelterrein, wys dat Jesus se reiniging van die tempelterrein en sy onderrig van die skare in daardie laaste week gewreek moes word (bv. Jesus se uitjaag van Annas se besighede, en die weerlegging van die rabbi’s se leringe). In Luk 20:20 is reeds gesê dat hulle Hom gedurende daardie week fyn dopgehou en probeer vastrek het, om Hom aan die owerheid en die gesag van Pilatus oor te lewer (paradidōmi dieselfde woord ook vir verraai).
22:5 Die leiers was bly oor Judas se aanbod en het ooreengekom om aan hom geld te gee (Matt 26:15 noem die bedrag, 30 silwerstukke, 30 denarii, ongeveer ’n arbeider se loon vir ’n maand; volgens Sag 11:12 was dit die loon wat aan hom as herder gegee is).
22:6 Judas het tot die ooreenkoms ingestem en daarmee sy skuld aan die verraad bekragtig. Toe soek hy na ’n goeie geleentheid om Jesus aan hulle oor te gee (paradidōmi), en Lukas herhaal: ‘waar die skare nie teenwoordig is nie.’ Die verantwoordelikheid vir die verraad berus daarom by die leiers en by Judas, albei gee Hom oor. Die Satan werk deur al die samesweerders, en die volk is nie aan die verraad aandadig nie. Die goeie geleentheid vir sy arrestasie word egter deur Jesus bepaal om Homself aan hulle oor te gee.