Die Openbaring aan Johannes – Een soos ‘n mens (1:12-20) – Francois Malan
Johannes sien ‘n imposante figuur, ‘Een soos ‘n mens’ – letterlik staan daar ‘ek het omgedraai, sewe lampstaanders gesien en in die middel van die lampstaanders, soos ‘n seun van ‘n mens’ – ‘seun van ‘n mens’ is die Hebreeuse manier om te praat van ‘n mens, vgl. bv. ook ‘kinders van Israel’ vir ‘Israeliete.’ ‘soos ‘n Mens’ is die eerste van die drie hoofbeskrywings van Christus in hierdie boek. Die ander twee is ‘die geslagde-maar-opgestane Lam’ in hoofstuk 5, en ‘die goddelike Kryger’ in hoofstuk 19. ‘soos’ – Johannes gebruik vergelykings, want hy kan nie eintlik beskryf hoe die verheerlikte Christus lyk nie. Die vergelykings onderstreep die karakter van Christus met terme vir bekende dinge, om sy andersheid en grootsheid te probeer beskryf.
Hy begin met die omgewing: ‘sewe goue kandelare’ wat Hom omring – wat in vers 20 verduidelik word – Hy is by sy gemeentes, tussen hulle; Moses moes ‘n menora met drie houers weerskante van die stam vir die tabernakel laat maak (Eks. 35:31-40) as simbool van God se teenwoordigheid deur sy Gees (Sag. 4:1-6, en Sag. 4:10 dit is die sewe oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk).
‘Iemand net soos die Seun van die Mens’ – vgl. Dan 7:13 aan wie die gesag gegee word vir ewig; en Jesus se selfbenaming in die Evangelies by sy werk (Mk 2:10,28), sy lyding (Mk 8:31) en sy verheerliking (Mk 8:38) – met ‘n lang kleed soos die hoëpriester gedra het (Eks 28:4), ‘n goue band om sy bors as teken dat Hy sy taak volbring het (nie om sy heupe om sy kleed op te hou vir werk nie, Dan 10:5). Dit word gevolg deur sewe beskrywings om die heerlikheid van sy funksies te beskryf:
i reinheid en wysheid met sy kop en hare ‘soos wit wol, soos sneeu’ (Dan 7:9)
ii insig en alwetenheid met oë ‘soos ‘n vlammende vuur’ (Dan 10:6)
iii standvastigheid met voete ‘net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond’ (Eseg 1:7; Dan 10:6)
iv kalmerende en onmisbare stem ‘soos die gedruis van baie waterstrome’ (Dan 10:6)
v sorg en beheer van die sewe sterre wat in sy regterhand gehou word (wat in v20 verduidelik word),
vi openbarende: oordelende en genesende woorde uit sy mond ‘soos ‘n skerp swaard met twee snykante’
Hy veg nie met oorlogswapens soos die konings van die wêreld nie, maar met woorde wat valsheid ontbloot en genesing bring in wie dit glo.
vii heiligheid en heerlikheid met sy gesig wat lig bring ‘soos die son wat in al sy felheid skyn’ (Eks 34:29; Mt 17:2; Ps 95:5). Sy gesig is die bron van lig vir die sewe lampe, vir die wêreld en vir die kerk; die lig wat lewe bring (Joh 1:4-5) deur sy liefdesoffer aan die kruis vir ons vergifnis, en deur sy opstanding uit die graf vir ons oorwinning oor sonde en die dood.
1:17-18 Johannes se reaksie is om op sy gesig neer te val en te lê soos een wat dood is – amper soos Jesus was in sy dood (1:18). Die Een wat die sterre van die heelal in sy hand hou en beheer, lê sy hand op Johannes om hom op te wek, te troos en gerus te stel, en toe te rus vir sy optekening van die gesigte en boodskappe.
Jesus stel hom gerus: ‘moenie vrees nie, Ek is (Eks 3:14; Jes 41:4; 44:6; 48:12; vier maal in Openbaring: 1:8,17; 2:23; 2:16):
i die Eerste en die Laaste – in 21:6 bevestig Jesus: ‘Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste,’ soos die Vader is Hy die begin en die end – daar is niks buiten die Vader en die Seun nie; die oorsprong en die einddoel van die skepping is in God en Christus. Alles is onder sy beheer, al sê en maak die dier ook wat.
ii en die Lewende; Ek was dood, maar kyk, Ek lewe vir ewig en ewig – saam met die Vader wat ewig lewe; en ons saam met Christus wat ons opwek tot die lewe.
iii Ek het die sleutels van die Dood en die Doderyk (Hebreeus: sjeool; Grieks: hades, die tydelike deurgangsfase, soos die Jode gedink het).’ – Hy was in die dood en het as oorwinnaar
opgestaan, die dood staan onder sy beheer. Dood is die straf op die sonde van die mens (Gen 2:17) wat deur Hom gedra en vir ons oorwin is. Nou het die dood die deurgang na die ewigheid geword saam met Hom wat ewig lewe.
1:19 Die opdrag aan Johannes om te skryf word herhaal (1:11) oor wat hy gesien het, wat is, en wat hierna sal gebeur – die verlede tyd, teenwoordige tyd, toekomstige tyd, word in Openbaring aanmekaar verbind om die tydloosheid van die openbaring te beklemtoon – dit is relevant in elke tyd, ook in ons tyd, soos in die tyd van die sewe gemeents in Klein-Asië.
1:20 ‘Die verborge betekenis’ (Grieks: musterion) sinspeel op die geheime wat vir die mens onbekend was en nou deur God ontsluit word – in 10:7 en 17:7 gaan dit oor die verhouding tussen Christus en sy kerk op aarde.
In die Griekse denke is die sterre, wat die heelal sou bymekaar hou, met die gode geassosieer; in die Joodse denkwêreld met engele; in die christendenke met die gelowiges (Dan 12:3; Op12:1) en hier verwys die sterre waarskynlik na die leraars van die gemeentes (soos bv. Op 3:1). Die goue kandelaar simboliseer die sewe gemeentes. Christus beheer die leraars en gemeentes, nie met mag of krag nie, maar op grond van sy liefdesoffer aan die kruis. Hy beheer die gang van die geskiedenis en van die kerk. Hy beskerm die gelowiges, en hou hulle verantwoordelik om getrou en gehoorsaam te leef. Dit is die prentjie soos van Bo-af gesien om hulle te bemoedig, so anders as die verdukking wat die gelowiges in die wêreld beleef. Teenoor die dier en die verleiding van die stad Babilon/Rome, en die kerk se versoeking om by die huidige samelewing aan te pas, is Jesus die heerser oor die wêreld in nood, die bron van lig vir die wêreld en die kerk. Die Iemand soos die Seun die Mens is aktief teenwoordig in sy kerk tussen die kandelare met die sterre in sy hand.
Skrywer: Prof Francois Malan