Die Openbaring aan Johannes – Die laaste oordeel (20:11-15) – Francois Malan
Die laaste oordeel word baie kort beskryf (bv. in vergelyking met Matteus 24-25), maar die finaliteit daarvan word beklemtoon. Alle boosheid word beëindig, alle opstand teen God uit die weg geruim, en die pad skoongemaak vir die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die laaste gedeelte van die boek, vanaf hoofstuk 14, het telkemale na die finale oordeel van God verwys (vgl. 14:7 die uur van sy oordeel het aangebreek).
20:11 Johannes sien ‘n groot wit troon en dat die aarde en die hemel wegvlug sonder om ‘n wegkruipplek vir die teenwoordigheid van die Een wat op die troon sit te vind. Vir die ou skepping, wat saam met die mens aan ‘n sinlose bestaan onderwerp was, as slawe van vernietiging (Rom. 8:20-22) is daar geen plek meer te vind nie. Die ou aarde en hemel word vervang met die nuwe hemel en die nuwe aarde (vgl. 2 Petr 3:7). Al wat oorbly is die onvergelyklike onbesmette (groot in majesteit en suiwer wit) troon en die blywende teenwoordigheid van die Een wat daarop sit, wat Johannes in hoofstuk 4 gesien het. Alles wat skeiding gemaak het tussen God en die mens en die skepping word verwyder.
20:12 Die oordeel geskied volgens wat elke mens self in sy lewensboek geskryf het met elke woord en daad en gesindheid (vgl. Dan 7:10 se boek met die aanklagte). Dit weerspieël elke skrywer se keuses, òf uit gehoorsaamheid en toewyding aan God, en sy/haar liefde tot hulle medemens, òf aan die dier en sy wêreld van betowering en verleiding, en sy/haar liefde vir hulleself.
Die boek van die lewe is die register van die Lam wat Hý opteken ( Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3). Terwyl die eerste boek die mens se verantwoordelikheid boekstaaf, word God se genade in die boek van die lewe opgeteken. Die name in die boek van die lewe berus alleen op die Lam se geregtigheid waarmee Hy die gelowiges vrygekoop het met sy liefdesoffer (vgl. Openb. 13:8 se Lam wat geslag is). Volgens 17:8 is hulle name deur die eeue in die boek opgeskryf, van die skepping van die wêreld af (vgl. Daniel 12:1-2); Openb 3:5 sê: wie oorwin oor die versoekings van die bose, se name sal nie uit die boekrol van die lewe geskrap word nie. Dwarsdeur Openbaring word beklemtoon dat gelowiges moet volhard in hulle geloof in Jesus en in die liefdesgebooie van God (bv. 14:12); dit gaan oor ons getuienis oor Jesus, met woorde en met ons lewe, waarin die Heilige Gees ons lei en in ons werk (19:10).
20:13-15 Die dood en die doderyk word in hulle regte plek, die ewige vuur, gegooi, nadat almal teruggegee is, wat reeds in die doderyk was. Dood bestaan nie meer nie, ook nie die doderyk as ‘n wegkruipplek vir die toorn van God nie (vgl. Ps 139:8). Saam met die dood en die doderyk word dié mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeteken is nie, in hulle bestemde plek, in die vuurpoel gegooi as simbool vir God se ewige straf (vgl. Openb 19:21; Joh 3:36).
Die ‘tuin van Eden’ in 22:1-5 met sy breë rivier met water van die lewe en bome wat deur die jaar vrugte dra, met God en die Lam altyd teenwoordig, is ‘n simbool van die ewige hemelse volmaakte lewe saam met God en die Lam en met mekaar. So is die ewige vuur die simbool van die ewige straf en algehele godverlatenheid. Romeine 1:18,24,28 sê die toorn van God word geopenbaar deurdat Hy hulle oorgee aan hulle self, hulle eie begeertes, aan ‘n verderflike denkwyse sodat hulle onbetaamlik teen mekaar optree.
Dit gaan hier nie oor ‘n nuwe hofsitting nie, maar slegs oor die bekendmaking van God se oordeel, wat in Jesus klaar gevel is (Johannes 5:22: Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee. Jn 3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom. Met die bekendmaking van die oordeel op die laaste dag is die Vader en die Seun betrokke (22:1).
Elkeen word op sy regte plek gesit. Uit die chaos in die ganse skepping word weer orde geskep deur die koms van die nuwe skepping met sy nuutheid en skoonheid, wat in hoofstukke 21-22 beskryf word.
Skrywer: Prof Francois Malan