Die Openbaring aan Johannes – Migael en die draak (12:7-12) – Francois Malan

Die gedeelte oor die oorlog in die hemelruim word hier ingevoeg tussen die twee gedeeltes oor die vrou en die draak se stryd (12:1-6 en 12:13-18). Dit verskaf die perspektief op die kerk se stryd op aarde van Bo af gesien. Geweldstaal beklemtoon die konflik tussen goeie en slegte karakters. Die woord ‘oorlog’ kom hier 4x voor: 3x in 12:7; 1x in 12:17. Vier maal word gesê ‘hy is neergegooi,’ (12:9 2x, 10,13) ‘n passiewe werkwoord wat aandui dat dit God is wat die Satan verslaan het. Die draak en sy engele het nie meer ‘plek’ in die hemel nie (12:8), en sonder sy plek verloor die Satan (teenstander/aanklaer) sy reg om ‘n ‘aanklaer’ te wees (12:10). Die woord ‘aanklaer,’ soos in ‘n hof, kom net hier in die Nuwe Testament voor.

 

12:7-9 Die draak en sy engele is oorwin en uit die hemel gegooi – soos sy stert ‘n derde van die engele op die aarde neergegooi het. Jesus sê aan sy dissipels, wat bly is dat die demone hulle aan hulle onderwerp het op grond van sy Naam: Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val…maar wees liewer bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is (Lk 10:17-20). Satan het nou slegs beperkte mag op die aarde.

(Volgens die Joodse oorlewering is die Satan in die oertyd uit die hemel uitgegooi en het God se magte hom oorwin). Al is die Satan die ‘god van hierdie wêreld’ (2 Kor 4:4), is hy ‘n verslane god. Volgens Openbaring is Satan by drie geleenthede verslaan: (i) in die oertyd is hy uit die hemel uitgeskop, (ii) met Jesus se kruisiging en opstanding is sy geleentheid om die gelowiges aan te kla afgesny want Jeus het reeds hulle straf gedra; (iii) met sy finale vernietiging wanneer hy en sy volgelinge in die ewige vuurpoel gegooi word (Openb 20:10).

In Daniël 10:13,21; 12:1 is Migael (‘wie is soos God’) die hoofprins van die hemelse leër, wat Israel altyd teen sy vyande beskerm. In Judas vers 9 veg hy teen die Satan oor die liggaam van Moses. Judas 9 stel die nederigheid van die hoof-engel Migael teenoor die selfverheffing van die dwaalleraars wat die heerskappy van die Here Jesus Christus verwerp (v4), en alles wat hulle nie ken nie, belaster (v10). Die insident waarna v9 verwys kom uit die Joodse oorlewering wat in die apokriewe boek die Hemelvaart van Moses beskryf word. Daarvolgens moes Migael ‘n stryd gevoer het met Satan oor die liggaam van Moses (volgens Deutr. 34:5 het die Here egter vir Moses begrawe en niemand het die graf gevind nie). Die Joodse oorlewering het geglo dat as ‘n vrome sterf kom die engele hom/haar haal, en as ‘n sondaar sterf kom die duiwel se handlangers hom/haar haal. Satan sou gesê het Moses behoort aan hulle omdat hy die Egiptenaar doodgeslaan het en dus ‘n moordenaar is (Eks 2:12). Migael het egter die Satan weerstaan en nie die oordeel van God vooruitgeloop nie, maar dieselfde woorde gebruik waarmee die Here die Satan bestraf het in Sagaria 3:2. Daarmee het Migael die eer aan God gegee.

 

Satan se name beskryf sy aard: die groot draak (wat Johanes in die lugruim gesien het, 12:3), die slang van weleer (wat vir Eva en Adam verlei het, Gen 3), duiwel (lasteraar), satan (teenstander/aanklaer), die verleier van die hele wêreld – ‘verleier’ beskryf die duiwel (20:3,8,10) en ander bose karakters: Isebel wat die Here se diensknegte in Tiatira verlei (2:20), die dier wat die bewoners van die aarde verlei (13:14; 19:20), die onsedelike stad Babel se afgodediens wat deur haar betowering die nasies mislei (18:23).

 

12:10-12 die loflied van ‘n harde stem in die hemel interpreteer die betekenis van die oorlog in die hemel. Die oorwinning van die oorlog tussen Migael en die Satan word behaal aan die kruis en deur almal wat deur geloof aan die dood en opstanding van Jesus Christus deel het en van sy oorwinning getuig deur hulle lewe en woorde en selfs hulle dood. Die loflied word in drie dele aangebied: v10 verkondig God en sy Christus se oorwinning en die aanbreek (‘nou’) van die nuwe tyd van verlossing. Die aanklaer van die gelowiges kan hulle nie langer voor God aankla nie, hulle lewe nou onder God se heerskappy, oorgegee aan Christus se volmag oor hulle lewe; v11 verduidelik hoe die oorlog gewen is – deur Christus se offer van sy lewe aan die kruis, waarvan die gelowiges getuig deur hulle lewens, selfs tot die dood toe; v12 die reaksie op Christus se oorwinning en die val van die duiwel.

 

Die hemel juig dat die aanklaer die gelowiges nie meer by God kan aankla nie (soos in 1 Kon 22:19-23; 1 Kron 21:1; Job 1:6-12; 2:1-6; Sag 3:1), maar, omdat die duiwel en sy trawante nou die stryd in die hemel verloor het, is die duiwel woedend en sit sy stryd voort op die aarde en op die see (waar die twee diere van Hfs 13 vandaan kom) , en is daar ellende (die derde ‘o,wee!’). Die eerste twee ‘o,wee!’s was teen dié mense wat teen God gerebelleer het. Die derde ‘o,wee!’ raak die hele aarde, ongelowiges en gelowiges. Teenoor die ewigheid van die koninkryk van God is die duiwel se tyd van versoeking en misleiding egter kort. Dit strek slegs van Chistus se kruisdood tot die einde van die tyd van Satan se verleiding, wanneer hy en almal wat aan hom verbind is in die ewige straf beland (20:10,15).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die derde hoofdeel van Openbaring (12:1-22-21) – Francois Malan

Die deel begin met die geboorte van Christus en sluit af met sy wederkoms.Tussenin word die stryd tussen God en die Bose geskilder, soos dit in die geskiedenis afspeel tot by die beskrywing van die nuwe Jerusalem.

 

Hoofstuk 12:1-6 vertel van die stryd tussen die draak en die vrou; 12:7-12 van die oorlog tussen Migael en die draak; 12:13-18 weer die stryd tussen die draak en die vrou saam met die res van haar kinders wat vashou aan God en Jesus se gebooie en sy getuienis.

 

Die vrou en die draak (12:1-6)

12:1-2 Die twee, die vrou en die draak, word verbind deur die woord ‘teken’ (semeion). Die vrou is die groot teken, die groot draak die ander teken met mindere status as die vrou in die visioen. Hulle verskyn in die hemelruim. Hulle verteenwoordig ‘n blik van Bo af op die stryd tussen goed en kwaad op die aarde. Jesaja 7:14 se teken vir Juda se koning Agas in sy stryd teen Aram en Israel, is ‘n jong vrou wat swanger word en ‘n seun in die wêreld bring met die naam Immanuel, God met ons (Matteus 1:23 pas dit op Maria toe). God voer stryd teen die groot draak, die groot stad (16:19; 18:16-17), die grote Babilon (14:8; 16:9; 17:5; 18:2-3), en die groot prostituut (17:1; 19:2)

 

Uit die vrou se klere blyk haar innerlike karaktertrekke: stralend beklee met die son en die maan, ‘n koningin met ‘n kroon van 12 sterre as tekens van haar heerskappy (vgl. Josef se droom van son, maan, 11 sterre, Gen 37:9). Die hemelse klere kontrasteer die drag van die prostituut Babilon met haar aardsgebonde koniklike purperrooi en helderrooi klere, opgesmuk met goud, edelstene en pêrels (17:4; 18:6). Albei die vroue is koninginne, die een ‘n sataniese parodie op die ander. Met 12 sterre as krone, die volmaakte getal van God se verbond met sy verseëlde volk (7:4-8) voed die vrou van hfs 12 die volk van God. Haar sataniese bespotting voed die bewoners van die aarde met haar onsedelikheid en vervolg die volk van God (17:5-6). In Jesaja 26:16-21; 54:1; 66:7-9 word Israel voorgestel as ‘n swanger vrou wat geboorte gee. Hierdie vrou gee geboorte aan ‘n seun, soos Jesus uit die geslag van Dawid gebore is, uit die gelowige Israel, en simboliser die vrou waarskynlik die gelowiges, en haar geboortepyne die vervolging en swaarkry van die kerk.

 

12:3 Die grootste teenstander van God en sy gelowiges verskyn in 12:3. Die ‘ander teken’ in die hemelruim is ‘n ‘groot vuurrooi draak met sewe gekroonde koppe en tien horings.’

In die Ou Testament word drie terme gebruik vir die monsters wat die orde van die wêreld versteur het: (i) Leviatan soos ‘n wriemelende slang (Jes 27:1 ; Job 3:8 vernietiger; Job 40:20 krokodil; Ps 74:14 veelkoppig; Ps 104:26 God se speelding), (ii) Rahab (die lastige opdringer, Jes 51:9 ) en (iii) die draak uit die see (Jes 51:9; seemonster in Gen 1:21; die groot slang in Eks 7:9).

 

Die slang van Gen 3:1-5 dien in Openbaring 12:9; 20:2 as beeld van die Satan (‘teenstander/aanklaer’). Die rooi kleur wys sy moorddadige binneste (Joh 8:44). Sy sewe krone is ‘n nabootsing van Christus se heerskappy in Openb 19:12. Die tien horings verwys na Daniël 7:7,19-22 se nagtelike visioen van die verskriklike dier wat alles vernietig. Alles is so anders as die heerlike glans van die vrou. Sy stert, sy wapen van vernietiging, soos die sprinkaan-skerpioen-kruising (9:10), bring slegs gedeeltelike duisternis deur die derde van die sterre wat hy saamsleep, en die kind wat hy wil verslind voordat die kind weggevoer word na God toe. Agter die skerms is God in beheer, al lyk dit nie elke dag so nie. God beperk die vernietiging deur die Satan, en beskerm sy kerk. Hy voorsien ‘n veilige skuilplek vir die kind en vir die vrou (12:6,14).

 

12:4 Die ‘derde van die sterre’ sinspeel op Daniël 8:5-10 se bokram met horings, wat selfs die hemelse leër aangedurf het en ‘n deel van die sterre op die grond vertrap het. Die derde van die sterre verwys waarskynlik na Openb 12:7-9 waar die Satan en sy engele (wat in opstand gekom het teen God) uitgegooi is uit die hemel en op die aarde neergegooi is. Ná sy neerlaag in die hemel, fokus die draak nou op die vrou en haar kind. Die draak, wat gereed staan om die kind te verslind, herinner aan Herodes wat Betlehem se kindertjies laat doodmaak het (Mt 2:16), en ook aan al die Jode se planne om Hom dood te maak.

 

12:5 Die groot oomblik in die geskiedenis breek aan en ‘n manlike kind word gebore, wat bestem is om al die nasies met ‘n ystersepter te regeer, soos Ps 2 :8-9 sê. In Openb 2:27 regeer die gemeente saam met Christus, en in 19:15 is sy woorde soos vuur, Hy regeer die nasies met ‘n ysterstaf, en Hy trap self die parskuip van die toorn van God oor die goddelose. Die herderstaf met ‘n ysterpunt beskerm die skape teen wilde diere, daarmee word afgedwaalde skape teruggebring, en dit word op reise gebruik vir verdediging (Mk 6:8). Die woord hrabdos word ook gebuik vir ‘n septer, die simbool van regering, die teken van die heerser. Die ystersepter spel die oordeel uit oor die ongelowiges, die heidennasies (ta ethne). Die wegruk van die kind verwys waarskynlik na Jesus se opstanding en hemelvaart. Hy sit saam met God op sy troon as regeerder oor die wêreld (Openb 22:1). Die Satan het die stryd teen Christus verloor, maar gee nie bes nie.

 

12:6 Soos God die Israeliete daagliks in die woestyn versorg het, word die vrou ook versorg in ‘n plek wat God vir haar gereedgemaak het in die woestyn. Hier voed en versorg die Here haar 1,260 dae = 3½jaar (so lank soos die dier se heerskappy, 13:5). Die wildernis is die plek vir die gelowiges, aan die grense van die gemeenskap. Hulle lewe anders as die gemeenskap, teen die verleidelike kultuur van die groot stad Babilon en die dier. In die onherbergsaamheid van die woestyn is die mens alleen op God aangewys vir versorging. Die geloofsvolk, op pad na die nuwe hemel en die nuwe aarde, moet ook eers vir God leer ken en getoets word, soos Israel in die woestyn op pad na die Beloofde Land (vgl. Moses se 40 jaar in die woestyn, Eks 3:1; Dawid in die En-Gedi-woestyn, 1 Sam 24:1; Elia, 1 Kon 19:4; Jesus, Mk 1:12-14). Oor die herstel van die volk sê die Here in Hosea 2:13: Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge aan haar sê om haar die hof te maak….dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.’ Die 3½ jaar is egter ook die tyd van fel vervolging. Daniël 12:7 sê: ‘Wanneer die gewyde volk se mag heeltemal vernietig is, sal hierdie dinge ophou’ en Dan. 12:10: in die 3½ jaar ‘sal baie mense gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly.’ Die verdrukking sal egter nie onbegrensd aanhou nie; wanneer dit op sy hoogste is, is die redding naby (soos Jesus se opstanding na die kruisiging).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die sewende trompet (11:14-19) – die einde kom vinnig nader – Francois Malan

11:14 Die tweede ‘o, wee!

In 8:13 is drie ‘ellendes’ aangekondig as waarskuwings van God se oordeel wat aan die kom is

Die eerste ‘ellende’ was met die vyfde trompet aangekondig oor die sprinkane wat soos perde lyk en soos skerpioene steek (9:1-11). In 9:12 is aangekondig dat nog twee ellendes volg.

Die tweede ellende waarna in 11:14 verwys word, was waarskynlik die sesde trompet van 9:13-21 wat ‘n derde van die mense se dood aangekondig het. Die tweede ‘o, wee!’ was egtger nie afgehandel en voltooi voordat Johannes se opdrag om die boekrol te eet in 10:1-11 en die twee getuies van 11:1-13, die mense opgeroep het tot bekering nie.

Die derde o, wee! ‘wat gou kom’ sê dat die kans om tot bekering te kom vinnig ten einde spoed. ‘Wat gou kom’ verwys na Christus se wederkoms in 2:16; 3:11; 11:14 22:7,12,20. Dit verhoog die verwagting dat die einde vinnig nader kom, maar die verhaal gaan nog vir die volgende 11 hoofstukke aan, voordat die einde aanbreek.

 

Die sewende (finale) trompet (11:15-19)

Die derde ‘o, wee-roep’ word nie as sodanig geïndentifiseer nie, maar word in 12:12 se ‘ellende’ gehoor met die neerdaal van die duiwel op die aarde en die opkom van die dier uit die see en die dier uit die aarde (12:1-14:18).

 

11:15 Die trompet se melodie word begelei deur ’n luide stem in die hemel wat ‘n loflied oor die Here en sy Christus (sy ‘Gesalfde’ Koning-Priester-Profeet) sing. Met Jesus se eerste koms is sy geboorte aangekondig met hemelse koorsang (Lk 2:13-14). Die fees in die hemel in hierdie toneel is die aankondiging dat die heerskappy oor hierdie wêreld aan God en sy Gesalfde oorgedra word (11:15). Nadat die dier en Babilon die heerskappy oor die wêreld vir hulle wederegtelik toege-eien het, word die skepping se orde herstel en die choas van die onegte namaaksels uitgedryf. Die koninkryk van die wêreld word nou teruggeneem in die hande van sy ware Eienaar en Heerser, vir ewig en ewig (vgl. Dan 7:13-14). In die hemel is dit reeds bekend dat die Vader en die Seun die alleenheersers is, al erken die ontaarde mensdom dit nog nie.

 

11:16-17 Die 24 ouderlinge, wat die kerk van die Ou en Nuwe Testament verteenwoordig, voeg hulle stemme by die uitroepe van aanbidding en dank dat die tydelike heerskappy nou vervang word met die ewige alleenheerskappy van God. Die titel ‘Here God Almagtig’ word 7 maal in Openbaring gebruik (1:8; 4:8; 11:17; 15:3; 16:7; 19:6; 21:22). Dit word ondersteun met ‘wat is en wat was’ in 11:17; 16:5), as ‘n verkorte vorm van ‘wat is en wat was en wat kom’ sonder die toekoms gedeelte (soos in 1:4,8; 4:8). Jesus het reeds gekom en sy heerskappy is nou in die proses om te kom in hierdie tussentyd om die bose magte omver te werp, die finale oordeel bekend te maak, en sy ewige alleenheerskappy te vestig, soos Sagaria 14:9 aangekondig het.

 

11:18 Die tweede deel van die lied vertel van die ongelowiges se woedende reaksie op die aankondiging van God se heerskappy, op sy regverdige oordeel en sy toorn oor die sonde, wat in 20:11-15 finaal voltrek word. Die bestemde tyd het aangebreek. Die gelowiges, groot en klein, God se slawe/diensknegte, profete, heiliges/toegewydes, en wat sy Naam vrees/eerbiedig word beloon met die lewe, ewig saam met God (Mt 5:11-12; 25:34; Jn 17:24; Op 21:3,7). Die ongelowiges, heidennasies, dooies, vernietigers van die aarde, word self vernietig (Mt 25:41; Op 20:10; 21:8).

 

11:19 ‘n Verskyning van God word beskryf. God se tempel in die hemel word geopen en die ark, wat in die allerheiligste van die tempel gestaan het as simbool van God se teenwoordigheid en verlossing uit Egipte, met die gebooie van God daarin, word sigbaar (Eks 25:10-22) – met Jesus se dood het die voorhangsel reeds geskeur om God se toeganklikheid vir almal te simboliseer, en ook dat sy liggaam wat vir ons aan die kruis opgeoffer word, die ou tempel vervang as ons nuwe manier om by God te kom (Jn 2:19-21). God se teenwoordigheid met sy onverdiende goedheid was verbeeld in die ark van die verbond (2 Sam 6:2); God is ook in die storm (Eks 19:16-19; Jes 30:30) wat sy oordeel uitbeeld as deel van die finale einde (Mt 27:51).

 

Johannes gee nie ‘n eindtydse tydtafel nie, maar bevestig dat God besig is om die einde voor te berei. Omdat die einde nog nie gekom het nie spot die mense met die uitbly van sy wederkoms, maar 2 Petrus 3:3,9 skryf die uitbly van die belofte van Jesus se koms toe aan God se geduld en verlange dat mense tot bekering kom.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die gelowiges as God se getuies in die eindtyd (10:1-11:13) – Francois Malan

Die twee getuies (11:3-13)

Die paradoks van ‘n kwesbare en tog beskermde gemeenskap van gelowiges word beskryf met die beeld van die twee getuies wat onoorwinbaar is en tog oorwin word. Die twee word saamgestel uit Ou-Testamentiese tipes. Hulle primêre funksie is om te getuig (11:3,7) en te profeteer (11:3,6,10). Hulle taak word opgesom deur hulle beskrywings as twee olyfbome, twee lampstaanders, twee profete (11:4,10), met klere van sak (11:3), ‘n vuur uit hulle monde as wapens (11:5), en deur hulle dood en opstanding in die simboliese stad (11:7-10).

 

Daar is twee getuies, soos vereis in Deutr. 19:15 (Joh 8:17). Hulle verteenwoordig die getroue kerk as God se getuie in die wêreld. Die twee olyfbome is die oorvloedige bron van olie vir die twee lampstaanders (vgl. Sag 4:2-4,6,10,11-14). Ten spyte van dreigemente is die kerk se getuienis nie in gevaar om uitgedoof te word nie.

 

Die klere van sak verteenwoordig rou oor die geestelike toestand van die mense op aarde (soos Jakob oor Josef se ‘dood’ gerou het; Gen.37:34); die Nineviete dra sak as teken van berou (Jona 3:5-6); die met sak oordekte son rou oor die onbekeerlike mensdom wat sy rug op God en sy gebod gedraai het (6:12; 9:20-21). Die twee getuies rou oor die mense op aarde en roep hulle tot bekering (11:13).

 

Die kerk se tyd vir getuienis stem ooreen met die tyd waarin die heilige stad vertrap word (11:2-3: 3½ jaar), so lank as wat die vrou in die woestyn beskerm word (12:6,14) en met die tyd van die dier se regering (13:5). Vervolging en beskerming, getuienis en teenstand, is twee kante van dieselfde munt gedurende die simboliese periode van ‘n halwe, ingekorte sewe jaar.

 

Die bedieninge van Moses en Elia vind weerklank in die twee getuies se getuienis: Elia het vuur op sy vyande afgebid (2 Kon 1:10,12), en die hemel toegesluit (1 Kon 17:1; Jak 5:17); Moses het die Nyl in bloed verander (Eks 7:20). Die vuur kom egter uit die twee getuies se monde. Hulle woorde is soos vuur wat die sonde van hulle hoorders verteer (11:5). Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete, God se woord in die Skrif. So is die twee getuies, wat die kerk verteenwoordig, die getuies van God se woord van verlossing, maar ook van oordeel oor ongehoorsaamheid. Volgens Lk 3:25 en Jak 5:17 het die droogte in Elia se tyd 3½ jaar geduur (1 Kon 18:1 omtrent drie jaar) , wat die helfte van die volle sewe jaar straf sou aandui, en deur die Here verkort word (vgl Mt 24:22 oor God se ingekorte oordeel) totdat die Here vir Elia na Agab gestuur het omdat die Here dit weer wou laat reën (1 Kon 18:1).

 

11:7-10 Maar die getuies is kwesbaar en die dier van 13:1, die antichris, in diens van die draak Satan, maak oorlog teen hulle en maak hulle dood (11:7). Aan die dier is volmag gegee om die kerk 3½ jaar te vervolg en te oorwin, maar die verseëldes sal hom nie aanbid nie (13:5,8). So lyk die getuienis van die kerk: as die evangelie verkondig word, is daar teenstand, soos met Jesus se bediening. Die wêreld, beskryf met vier woorde: volke, stamme, tale, nasies (11:9), vier fees oor die dood van die getuies wat vir hulle gefolter het (11:10). Die mensdom juig oor die stilmaak van die kerk se getuienis, maar die wêreld se vreugde is nie waarlik blywende vrede wanneer die getuies weer opstaan nie (11:11-13). Van onder af gesien lyk dit of die wêreld triomfeer, maar van Bo gesien verteenwoordig die getuienis en dood van die getuies God se soort triomf in die wêreld, soos met Jesus se verhoging aan die kruis as die verheerlikking van God en Christus se liefde vir die wêreld (Joh 12:32-33).

 

Die getuies se lyke lê onversorg en geminag in die straat van ‘die groot stad,’ simbool van die inwoners se selfgenoegsaamheid sonder God (die groot stad word nog 7x in Openbaring genoem: Een maal vir dié Jerusalem ‘waar die Here gekruisig is,’ en 6x as Babilon waar die dier regeer). Hier word ‘die groot stad’ geestelik genoem Sodom (simbool van boosheid) en Egipte (simbool van slawerny). Daarteenoor staan die nuwe Jerusalem, die plek van harmonie, orde en vrede, waar God en die Lam regeer. Die perspektief van Bo word aan die einde ‘ook so op aarde’: ‘U Naam geheilig, U koninkryk kom, U wil geskied, op die aarde soos in die hemel (Mt 6:10; Openb 21:10) .

 

Die drie en ‘n half dae (11:9,11) is dieselfde as die 3½ maande (1,260 dae) van 11:3, ‘n aanduiding van ‘n bepaalde beperkte tyd vir die kerk se gesagvolle woord en kragtige stem, maar in hierdie tussentyd tot die wederkoms word die kerk ook plat geslaan, op getrap en doodgemaak, soos met Jesus gemaak is.

 

11:11-13 Na die tyd van vervolging word die twee getuies opgewek: ‘die gees van lewe uit God het in hulle ingegaan en hulle het op hulle voete gestaan’ (vgl. Eseg 37:5,10) , en hulle vaar na die hemel in ‘n wolk, op die luide roep uit die hemel (vgl. Jesus se hemelvaart; Elia 2 Kon 2:11, Moses Deutr 34:5-6). Op daardie oomblik is daar ‘n groot aardbewing wat ‘n tiende van ‘die groot stad’ Babilon inmekaar laat stort, en 7,000 van die 70,000 (‘n tiende van die volle getal van die bewoners op aarde) dood – in Jes 6:13 en Amos 5:3 word nege-tiendes doodgemaak, en in 1 Kon 19:14-18 het 7,000 uit die hele volk geweier om Isebel se Baäl te aanbid – ‘n simboliese getal wat die volle getal van die getroues aandui.

Die mense se reaksie op die opwekking word beskryf met ‘n groot vrees wat hulle oorval’ (v11), ‘hulle vyande kyk hulle (die opvaderende getuies) stip agterna’ (v12), ‘die res het vreesbevange geword en aan die God van die hemel heerlikheid betoon (v13). Reaksies wat die plae nie kon bewerk nie, bewerk God deur die getuienis en lotgevalle van sy kerk, want die plae getuig slegs van oordeel, en nie ook van God se genade, dat Hy graag vergewe as die mense berou het nie. Tertullianus (oorlede 220 n.C.), het gesê: die bloed van die martelare is die saad van die kerk. Stefanus se dood werk mee tot Paulus se bekering en wye bediening as God se uitverkore instrument, en later sterf Paulus ook vir Christus (vgl. Hand 9:15; Flp 3:10).

Skrywer: Prof Francois Malan