Engele in die Bybel (8)

Engele in die Bybel (8)

Wat sê die Nuwe Testament oor engele?

Feitlik alles wat in die Nuwe Testament oor die engele gesê word, stem ooreen met baie van die gedagtes oor engele wat ‘n mens in die Ou Testament raakloop.

Eers net ‘n paar los opmerkings oor dit wat ‘n mens in die Nuwe Testament oor die engele lees:

  • Volgens die Nuwe Testament is engele hemelse wesens wat deur God gemaak is (Kolossense 1:16) en heilig is (Markus 8:38).
  • In die Ou Testament lyk die engele gewoonlik net soos mense en kom die mense wat deur hulle besoek is gewoonlik aanvanklik nie eers agter dat dit ‘n engel is wat hulle besoek nie. Die Nuwe Testament stem egter meer ooreen met gedagtes wat in die tyd ná die Ou Testament ontwikkel het. In die Nuwe Testament word engele nog steeds voorgestel as “mans” (Markus 16:5; Handelinge 12:15), maar tog is hulle voorkoms van so ‘n aard dat mense vreeslik groot skrik as hulle hulle sien. Dikwels word ook gesê dat hulle helder wit klere aan het (Matteus 28:3; Johannes 20:12) en ‘n helder lig uitstraal (Matteus 28:3; Lukas 24:4). Soms word ook spesifiek gesê dat hulle die heerlikheid van God uitstraal (Lukas 2:9).
  • Omdat engele se voorkoms so wonderlik is, bestaan daar altyd ‘n gevaar dat mense hulle wil aanbid (Openbaring 19:10 en 22:8-9).
  • Engele prys God gedurig (Openbaring 5:8-14).
  • Engele trou nie (Matteus 22:30) en kan nie doodgaan nie (Lukas 20:34-36).
  • Engele het wel meer kennis as mense, maar nogtans is hulle kennis nie onbeperk nie (Markus 13:32; 1 Petrus 1:12).
  • Engele is ontsettend sterk en magtig (2 Tessalonisense 1:7; 2 Petrus 2:11).
  • Engele het hulle eie taal (1 Korintiërs 13:1).
  • Daar is miljoene der miljoene engele tot God se beskikking (Matteus 26:53; Hebreërs 12:22).
  • In die Nuwe Testament word net twee engele se name genoem: Gabriël (Lukas 1:19) en Migael (Judas 9 en Openbaring 12:7).
  • Engele het ‘n keuse of hulle God wil dien of nie. Die wat in die hemel is, het besluit om aan God gehoorsaam te wees (Matteus 6:10), terwyl die ander besluit het om teen Hom in opstand te kom (Judas 6; 2 Petrus 2:4).
  • Die Nuwe Testament praat ook van aartsengele, maar ‘n mens kry nêrens in die Nuwe Testament uitgebreide lyste van soorte engele of engele se name soos wat in die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament gebeur nie.

Nou en dan verwys die skrywers van die Nuwe Testament ook weer terug na gebeure in die Ou Testament waar engele betrokke was. In Hebreërs 13:2 word byvoorbeeld gepraat van die engele wat vir Abraham en Lot besoek het. In Handelinge 7:30,35 word ook verwys na die engel wat aan Moses by die brandende doringbos verskyn het. Interessant genoeg, word daar op ‘n paar plekke in die Nuwe Testament ook gesê dat God engele gebruik het om die wet aan Moses op Sinai te gee (Handelinge 7:53; Gal 3:19 en Hebreërs 2:2). As ‘n mens die gedeelte egter in die Ou Testament gaan lees, word daar nêrens enigiets van engele gesê nie. Die gedagte dat engele betrokke was by die gee van die wet het eers in die tyd ná die skryf van die Ou Testament onstaan toe Joodse geleerdes die afleiding gemaak het dat daar ook engele betrokke was toe God die wet vir Moses gegee het. Paulus, Lukas en die skrywer van Hebreërs moes ook hierdie gedagte geken het en het dit ook in hulle geskrifte gebruik.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Engele in die Bybel (7)

Engele in die Bybel (7)

Tussen die Testamente

Engele word “ingelees” in die Ou Testament

Dat sommige mense in hierdie tyd besonder baie in engele belang gestel het, kan ‘n mens sien uit die manier waarop die verhale in die Ou Testament op ‘n nuwe manier oorvertel is.

In baie van die verhale in die Ou Testament word daar glad niks oor engele gesê nie. As die verhale dan in hierdie tyd oorvertel is, het die mense sommer self engele in verhale “invertel”. Een van die interessantste voorbeelde wat hier genoem kan word, is die boek Jubileë. Hierdie boek is omtrent twee honderd jaar voor die Nuwe Testament geskryf. Dit is geskryf asof dit ‘n geheime openbaring is wat die engele van God lank terug aan Moses op die berg Sinaï in die woestyn gegee het. In hierdie boek word al die gebeure vanaf Genesis 1 tot Eksodus 12 weer oorvertel, maar baie keer op so ‘n manier dat daar heelwat veranderinge is. Een van die veranderinge wat ‘n mens dadelik raaksien, is dat daar op baie plekke engele ingevoeg word waarvan ‘n mens niks in die Ou Testament lees nie. ‘n Enkele voorbeeld:

  • In Genesis 22 (in die Bybel) word vertel hoe die Here vir Abraham beveel het om sy seun Isak te gaan offer. In die eerste gedeelte van dié verhaal word daar niks oor engele gesê nie. As hierdie verhaal egter in die boek Jubileë oorvertel word, word gesê dat dit Prins Mastema, een van die bose engele, was wat na die Here toe gekom en vir Hom uitgedaag het om vir Abraham te toets deur vir hom te sê om sy eie seun te gaan offer. Anders as wat Mastema egter verwag het, het Abraham absoluut gehoorsaam aan die Here gebly.

In ‘n boek met die naam Pseudo-Philo kry ‘n mens net sulke interessante veranderings. So word die verhaal van Dawid en Goliat byvoorbeeld op ‘n hele paar plekke verander. In plaas van vyf klippies (soos die Bybel sê) tel Dawid sewe klippies op. Op elkeen van die klippies skryf hy dan iets. Op die eerste vyf klippies skryf hy die name van sy voorvaders, Abraham, Isak, Jakob, Moses en Aaron. Op die sesde klippie skryf hy sy eie naam en op die sewende klippie skryf hy die Here se Naam. Anders as in die Bybel, lees ons in hierdie boek nog ook dat die Here spesiaal ‘n engel met die naam Zervihel gestuur het om vir Dawid by te staan toe hy vir Goliat aangedurf het. Zervihel was die Here se “Oorlogsengel“. In die Bybel word net gesê dat Dawid vir Goliat teen die voorkop met die klip gegooi het en dat hy daarna sy kop afgekap het. In Pseudo-Philo word egter vertel dat Goliat nie dadelik dood is toe Dawid hom met die klip raakgegooi het nie en nog geleef het toe Dawid by hom kom. Hy het toe vir Dawid gevra om gou te maak en hom sommer dadelik dood te maak. Dawid het toe eers vir hom gesê om sy oop te maak en te kyk wie hom doodgemaak het. Toe Goliat kyk, het hy die engel Zervihel gesien. Daarna het Dawid sy kop afgekap.

Die afleiding wat ‘n mens uit hierdie voorbeelde kan maak, is dat daar iewers in hierdie lang tydperk iets gebeur het wat gemaak het dat daar ‘n groeiende belangstelling in die engele gekom het. Presies wat dit was wat dit veroorsaak het, weet ons nie meer vandag nie. Party navorsers sê dit het dalk iets te doen met die feit dat die Jode so swaar gekry het in hierdie tyd en dat hulle op dié manier die gedagte wou uitdruk dat God wel vir hulle sorg al gaan dit swaar met hulle.

 

Engele kry name

In hierdie tyd begin dit al hoe gebeur dat engele se name genoem word. Een van die buite-Bybelse boeke uit dié tyd waarin ‘n mens name van engele kry, is ‘n boek met die naam Henog. Die boek is so geskryf dat dit lyk asof dit van Henog af kom, maar dit is nie regtig deur hom geskryf nie. Van Henog lees ons in Genesis 5:21-24.

  • Uriël: Hy is in beheer van die donderweer en aardbewings.
  • Rafael: Hy hou toesig oor die geeste van die mense en is ook die een wat genesing bring.
  • Raguel: Hy oefen beheer oor die hemelliggame uit.
  • Migael: Hy oefen beheer oor die Joodse volk uit.
  • Sariël: Hy oefen beheer uit oor die geeste wat mense mislei.
  • Gabriël: Hy is in beheer van die Paradys, die serafs en die gerubs.
  • Remiël: Hy lei die siele van mense uit die Doderyk na die Troon van God om geoordeel te word.

 

Slegte engele

In die Henogboek word ook vertel van engele wat teen God in opstand gekom het. Henog gee byvoorbeeld die name van die twintig engele wat as die leiers opgetree het toe ‘n klomp engele besluit het om teen God in opstand te kom. Op ‘n ander plek noem hy ook die name van ‘n klomp slegte engele wat vir die mense verkeerde dinge geleer het (1 Henog 8). Kyk byvoorbeeld na die volgende:

  • Asael het die mense geleer om swaarde en ander soorte oorlogswapens te maak. Hy het ook vir die mense gewys hoe om met goud en silwer te werk en om mooi goed vir hulle vrouens te maak – selfs ook hoe om grimering en juweliersware te gebruik.
  • Semhasa het die mense geleer om te toor.
  • Hermoni het die mense geleer hoe om toordery weer ongedaan te maak.
  • Barakel, Kokabiel en Zikiel het die mense geleer hoe om weerlig, sterre en vuur te gebruik in towerkuns.

Henog vertel ook wat hulle straf was. Hy sê dat hy die vreeslike plek gesien het waar die engele gestraf word deurdat hulle tot in alle ewigheid gevange gehou is.

 

Baie verskille

Die lyste hierbo is maar net twee van die voorbeelde van dit wat oor engele in hierdie tyd geskryf is. Daar is nogal redelik baie verskille tussen dit wat die verskillende boeke wat in hierdie tyd geskryf is, oor die engele sê. Enkele voorbeelde van sulke verskille:

  • Soms word gesê dat daar net twee soorte engele is: die engele van God se teenwoordigheid en die engele van God se heiligheid. ‘n Ander boek wat ook twee soorte engele noem, praat weer van die sewe “hoof-” en sewe “adjunk-“engele.
  • In sommige boeke kry ‘n mens weer lang lyste van verskillende soorte engele. Een boek praat byvoorbeeld van nege verskillende soorte engele: 1. Gewone engele; 2. Aartsengele (wat op God se bevel lewe aan mens en dier gee); 3. Vorste (engele wat oor die meteore gesag het); 4. Magte (wat oor die hemelliggame toesig hou); 5. Kragte (wat oor die duiwels beheer het); 6. Volkere-engele (wat elkeen in beheer van ‘n spesifieke volk is); 7. Trone; 8. Serafs en 9. Gerubs.

• Soms word daar ook gesê dat die hemel uit verskillende “verdiepings” bestaan en dat elke verdieping sy eie groep engele het. Soms word gesê dat daar net twee verdiepings is, maar dan praat ander boeke weer van drie, sewe of selfs tien verdiepings in die hemel. In een boek word byvoorbeeld gesê dat die hemel uit sewe “verdiepings” bestaan en dat daar tien klasse engele in die sewende hemel is. Soms word nog ook gesê watter soort werk elke engel het om te doen. In sommige boeke word feitlik alles wat gebeur – weerlig, sneeu, ryp, hael, mis, die bewegings van die son, die maan en die sterre, selfs hoe dof of hoe helder die sterre skyn! – gekoppel aan die engele wat in beheer daarvan is.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Engele in die Bybel (6)

Engele in die Bybel (6)

Die groot krisis

Die jaar 598 voor Christus. In die eerste hoofstuk vertel Esegiël hoe die Here hom tot profeet geroep het.

Hy sê self dat die hemel vir hom oopgegaan het toe hy al dié gesigte gesien het (Esegiël 1:1). As ‘n mens lees wat hy alles gesien het, kan jy nie anders as om met hom saam te stem nie. Die hemele het inderdaad vir hom oopgegaan! In die eerste deel van hierdie hoofstuk beskryf hy eers die vier gerubs wat hy gesien het. Vroeër het ons reeds gesien dat die Bybelskrywers aan gerubs as hemelse wesens wat half mens en half dier was, gedink het. In Esegiël kry ‘n mens ‘n baie meer breedvoerige beskrywing (Esegiël 1: 5-14):

Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het ‘n mensvormige voorkoms gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar mensehande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. Die een se vlerke het aan die een langs hom s’n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg. Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van ‘n mens, regs dié van ‘n leeu, links dié van ‘n bul, en agter dié van ‘n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek. Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Die vorm van hierdie wesens, hulle voorkoms, was soos die van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet.

Hoekom gebruik Esegiël so baie tyd om die vier gerubs te beskryf? Die groot saak waaroor dit gaan, is God se majesteit en grootsheid. Hierdie ontsaglike monsteragtige wesens is eintlik net God se troondraers! As dít is hoe God se troondraers lyk, moet Hy mos nog baie groter en indrukwekkender wees. Vir Esegiël is die beskrywing van die gerubs eintlik net die aanloop om uit te kom by die beskrywing van God se troon. Verder-aan in dieselfde hoofstuk vertel hy wat hy op die gewelf bokant die gerubs se koppe – daar waar God se troon was – gesien het. As hy dan probeer om dit te beskryf, is dit asof sy woorde hom in die steek laat. Hy waag nie eers om te sê dat dit God self is wat hy daar bokant die gewelf gesien het nie. Hy sê net dat dit iets soos die magtige verskyning van die Here was, as’t ware net die weerkaatsing van die heerlikheid van die Here. Geen wonder nie dat hy dadelik platgeval het toe ‘n stem van daarbo af met hom gepraat het nie!

‘n Mens moet ook probeer om hierdie beskrywing van die gerubs deur die oë van die Jode daar in Babilonië te lees. By al die tempels en paleise was daar reuse afbeeldings en groot beelde van die vier beskermgode van die Babiloniërs. In dié afbeeldings het die god Marduk gewoonlik ‘n gesig soos ‘n bul gehad; Nergal, die god van die onderwêreld, ‘n gesig soos ‘n leeu; Ninib, die god van oorlog, ‘n gesig soos ‘n arend; en Nabu, die groot aankondiger, ‘n gesig soos ‘n mens. Dit is presies dieselfde vier soorte gesigte wat in Esegiël se beskrywing hierbo voorkom! Vir die Jode in Babilonië moes dit ‘n groot gerusstelling wees. Dit is nie die sogenaamde gode van die Babiloniërs waarvan hulle orals rondom hulle afbeeldings gesien het wat in beheer van die geskiedenis is nie. God se troon was nog ver bokant hierdie wesens verhewe. Dit is Hy alleen wat in beheer van die lot van die volkere – ook die Jode s’n – was!

In Sagaria se eerste visioen (Sagaria 1:7-17) sien hy hemelse perderuiters. Hy noem hulle “mans”, maar hulle is eintlik engele wat in diens is van die Here se hemelse weermag. Hulle leier word “die engel van die Here” genoem. Sagaria vertel dan hoe die hemelse perderuiters kom terugrapporteer. Hulle sê dat hulle die hele wêreld deurkruis het en dat alles stil en rustig is. Daarop vra die engel van die Here vir die Here hoe lank dit nog sal duur voordat die Here hom weer oor Jerusalem sal ontferm, want sewentig jaar is al verby. Dan lees ‘n mens (Sagaria 1:13-16):

Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig. Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion… Ek gaan My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word.”

In hierdie visioen sê Sagaria op ‘n aangrypende wyse dat daar absoluut geen twyfel kan wees oor wie werklik in beheer van die geskiedenis is nie. Op die oog af mag dit miskien lyk of dit die groot en magtige koning Darius is wat in beheer van die geskiedenis is en wat met sy groot mag vrede oor die destydse wêreld gebring het. Dit mag miskien ook lyk of dit aan sy goedheid te danke is dat die Jode weer terug kan gaan na Jerusalem en weer die tempel kan opbou. In hierdie visioen sê Sagaria dat die Jode dieper as dit moet kyk. Bokant die magtige koning Darius is dit die Here die Almagtige wat in beheer is. Sy hemelse weermag “patrolleer” die ganse wêreld. Hulle rapporteer terug dat wêreld stil en rustig is. Dit mag miskien lyk of dit Darius is wat die vrede oor die wêreld gebring het, maar eintlik is dit die Here wat hom gebruik het om dit te doen. Die Here se eintlike plan was om vrede en kalmte oor die wêreld te bring sodat Hy weer sy volk kon terugneem na Jerusalem toe. Hy doen dit omdat Hy die Almagtige is.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Engele in die Bybel (5)

Engele in die Bybel (5)

Gerubs

In die Bybel hoor ons baie meer gereeld van gerubs as van serafs. In totaal word daar meer as negentig keer van gerubs in die Bybel gepraat en dit kom met een uitsondering (Hebreërs 9:5) almal in die Ou Testament voor.

Om te verstaan wat die Bybelskrywers bedoel as hulle van gerubs praat, moet ons so ver moontlik die prentjie wat ons in ons gedagtes het wanneer ons gewoonlik aan engele dink, probeer opsy skuiwe. As die Bybelskrywers van gerubs praat, dink hulle nie aan een of ander soort engele nie. Hulle dink aan gemengde wesens wat vlerke het en as’t ware saamgestel is uit menslike en dierlike dele. Hierdie wesens word ook nie altyd op dieselfde manier voorgestel nie. So het hulle byvoorbeeld soms elkeen net een gesig, maar in ander beskrywings het hulle tegelykertyd weer meer as een gesig. Dié gesigte lyk soms soos mense se gesigte, maar in ander gevalle lyk dit weer soos dié van diere, byvoorbeeld soos die gesigte van leeus, arende of bulle. Die gerubs het soms twee bene, maar in ander gevalle het hulle vier bene.

Soos met die serafs, het ‘n mens ook in die destydse wêreld onder die volkere wat rondom Israel gebly het, afbeeldings van sulke gemengde wesens gekry. Hierdie wesens is gewoonlik met die gode of met die koning geassosieer. Soms word ‘n koning byvoorbeeld uitgebeeld met sy troon wat bo-op die gerubs is. In Assirië het ‘n mens weer by die ingange van sommige geboue groot klipbeelde gekry met menslike gesigte, dierelywe en vlerke. Dit word vandag nog in die Britse Museum in Londen bewaar. As ‘n mens na hierdie uitbeeldings kyk, kan ‘n mens min of meer ‘n idee kry van dit waaraan die Bybelskrywers gedink het toe hulle van gerubs gepraat het.

Wanneer daar in Ou Testament van gerubs gepraat word, het dit gewoonlik op een of ander manier te doen met die idee van God se teenwoordigheid of sy majesteit. Interessant genoeg word daar meestal nie na die gerubs as sodanig verwys nie, maar na afbeeldings daarvan. Let op die volgende voorbeelde:

In die tabernakel is uitbeeldings van gerubs baie gebruik. Moses het byvoorbeeld opdrag gekry dat die materiaal waarmee die tabernakel gemaak word, versier moes word met gerubs wat daarop uitgeborduur moes word. In die heel heiligste deel van die tabernakel het die ark gestaan met die twee kliptafels daarin. Die deksel van die ark moes so lyk (Eksodus 25:17-20):

Dan moet jy ‘n deksel van suiwer goud maak, een en ‘n kwart meter lank en ‘n driekwart meter breed. Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs. Die gerubs aan weerskante van die deksel moet so gemaak word dat hulle ‘n eenheid met die deksel vorm. Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel.

Hier kan ‘n mens baie mooi sien hoe die gerubs gebruik word as ‘n simbool vir God se teenwoordigheid. God sê byvoorbeeld ook aan Moses dat Hy daar in die heel heiligste deel van die tabernakel met Moses sal praat. Hy sê dan ook spesifiek aan Moses dat Hy van daar tussen die twee gerubs uit met Moses sal praat.

Later, toe Salomo die tempel laat bou het, is afbeeldings van gerubs ook ruimskoots gebruik (1 Konings 6). Teen al die mure is daar gerubs, palms en blomknoppe in die houtsneewerk uitgesny. Op die twee deure van olyfhout wat na die binneste heiligdom gelei het, het Salomo dieselfde simbole laat aanbring en dit met goud laat oortrek. In die binneste heiligdom self het hy twee massiewe groot gerubs laat maak. Hulle was vyf meter hoog met vlerke wat elkeen twee en ‘n half meter lank was. Hulle vlerke was uitgestrek sodat dit in die middel aan mekaar geraak het en aan die kant teen die mure geraak het. Later is die ark toe in die middel onder vlerke van die gerubs neergesit (1 Konings 8:6). Hieruit kan ‘n mens ook sien dat die gerubs simbolies van God se teenwoordigheid is. Dit kan ook wees dat hulle op ‘n simboliese manier aandui dat God deur hulle sy ark beskerm.

Omdat die gerubs altyd met God se teenwoordigheid en majesteit geassosieer word, kry ‘n mens in die Ou Testament ook gereeld beskrywings van God wat hieraan herinner. Hy word byvoorbeeld die Almagtige wat oor die gerubs troon, genoem (1 Samuel 4:4). Soms gebruik die Bybelskrywers ook pragtige beeldende taal oor die gerubs. Kyk byvoorbeeld na die aangrypende uitbeelding van God in 2 Samuel 22:11:

Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg

op die vleuels van die wind het Hy verskyn.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie