Engele in die Bybel (4)

Engele in die Bybel (4)

Die Engel van die Here

Een van die dinge wat Bybelkenners baie laat kopkrap, is die “Engel van die Here” waarvan daar soms gepraat word.

In sommige van die ouer verhale lyk dit asof die Engel van die Here en die Here dieselfde Persoon is. In Genesis 22 lees ons byvoorbeeld baie duidelik dat dit ‘n engel is wat na Abraham roep om vir hom te sê dat hy nie vir Isak moet offer nie. As die engel egter self praat, sê hy vir Abraham: Dit is Ek, die Here, wat praat. Bybelkenners het al op baie maniere probeer om hierdie saak te verklaar, maar dit lyk of die beste verklaring is dat die Bybelskrywers deur hierdie botsende gedagtes wil sê dat die Here self daar is as sy engel daar is, maar dat mense Hom nie sommer so direk mag sien nie. As ons dit lees, wonder ons gewoonlik: “Was dit nou ‘n engel wat met Abraham gepraat het of was dit die Here self wat direk met hom gepraat het?” Eintlik is ons dan op die regte spoor, want die skrywers wil waarskynlik hê dat ons tegelyk aan twee goed moet dink: hoe wonderlik dit is dat God met mense kontak maak én dat mense eintlik nie sommer so in God se direkte teenwoordigheid kan kom nie.

Serafs en gerubs

Serafs

Oor die serafs sê die Ou Testament nie veel nie. Om die waarheid te sê, ‘n mens hoor eintlik net in Jesaja 6 van hulle. Jesaja 6 is sekerlik een van die aangrypendste hoofstukke in die hele Bybel. In dié hoofstuk vertel Jesaja hoe die Here hom as profeet geroep het. In die visioen wat hy gesien het, het Hy die Here gesien waar Hy in die middel van sy hemelse hofhouding op sy troon sit (Jesaja 6:1-4):

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die hemel gevul. By hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

Jesaja vertel dan verder dat hy so oorweldig is deur die gesig wat hy gesien het, dat hy op die grond neergeval het en uitgeroep het: “Wee my! Ek is verlore!” Toe het een van die serafs ‘n gloeiende kool met ‘n tang gevat, na hom toe gevlieg en sy mond daarmee aangeraak sodat sy sondes versoen kon word.

Eintlik se Jesaja bitter min oor die serafs self. Daar is baie goeie rede hiervoor. Vir die Bybel is God die Een wat die heel belangrikste is. Daarom gee die Bybel altyd die meeste aandag aan God. As die engele en serafs genoem word, is dit nooit omdat hulle self so belangrik is nie, maar net omdat hulle terloops ter sprake kom as die Bybel oor God praat. Dit kan ‘n mens baie mooi in Jesaja se beskrywing hierbo sien. Al wat hy oor die serafs sê, is dit wat belangrik is vir dit wat Hy oor God wil sê. Hy sê byvoorbeeld dat hulle by God is om Hom te dien. Hy noem ook dat hulle elkeen ses vlerke het. Die rede hiervoor is nie omdat hy daarop uit is om ‘n volledige beskrywing van die serafs wil gee ter wille van die interessantheid daarvan nie. Eintlik wil hy God se heiligheid beklemtoon, want hy sê dat elke seraf net twee van die ses vlerke gebruik om mee te vlieg. Met die orige vier maak hulle hulle gesigte en hulle voete toe omdat hulle oorweldig word deur God se teenwoordigheid.

As ‘n mens mooi kyk na dit wat die serafs uitroep, sien ‘n mens ook dat die klem die hele tyd op God se heiligheid val. Ons kan sê: Jesaja noem nie die serafs omdat hulle self so belangrik is nie, maar omdat dit ‘n manier is waarop hy die grootheid en die heiligheid van God vir ons kan verduidelik.

In die res van die Ou Testament word daar nie weer van serafs gepraat nie. Daar is wel ‘n paar plekke in die Ou Testament waar ‘n mens dieselfde woord kry as wat Jesaja vir serafs gebruik het, maar dan word daar eintlik oor giftige slange gepraat. ‘n Voorbeeld hiervan is Numeri 21:6 waar die Here giftige slange onder die volk ingestuur het wat die mense gepik het sodat baie van hulle dood is. Moses moes toe ‘n beeld van ‘n giftige slang maak en dit op ‘n paal sit. Almal wat deur die giftige slange gepik is en na die koperslang gekyk het, het toe bly lewe.

Alhoewel die Ou Testament self nie verder veel oor die serafs sê nie, is daar darem nog interessante afbeeldings uit daardie tye waarin dieselfde soort wesens op klipafbeeldings en op die seëls wat op dokumente gebruik is, voorkom. ‘n Mens kry byvoorbeeld sulke afbeeldings uit Juda, maar ook uit Egipte en Fenisië. Die wesens wat so voorgestel word, lyk nie altyd dieselfde nie. Gewoonlik het hulle net twee of vier vlerke, maar daar is een afbeelding waarop hulle ook ses vlerke het soos wat Jesaja hulle hierbo in hoofstuk 6 beskrywe. In die voorstellings wat ‘n mens in Egipte en Fenisië kry, lyk hulle baie soos slangagtige figure. Hulle word gewoonlik op so ‘n manier uitgebeeld dat ‘n mens kan sien dat hulle die godheid deur hulle teenwoordigheid beskerm. In Jesaja se beskrywing is dit natuurlik heeltemal anders: Die ware en enigste Here het nie serafs nodig om Hom te beskerm nie! In plaas daarvan om Hom te beskerm, gebruik hulle hulle vlerke om hulleself van kop tot tone te bedek omdat hulle in die heilige teenwoordigheid van God self is.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Engele in die Bybel (3)

Engele in die Bybel (3)

Hoekom stuur God engele na mense? Ou Testament

God stuur engele om geboortes aan te kondig

Toe Abraham eendag op die warmste deel van die dag by sy tentdeur gesit het, het hy drie mans sien aankom. Hy het hulle dadelik met die besondere gasvryheid van die mense van daardie tyd onthaal, min wetende dat hulle eintlik engele van die Here is. Die rede hoekom hulle gekom het, was om die groot nuus te kom aankondig dat Abraham en Sara teen die volgende jaar daardie tyd ‘n seun sou hê (Genesis 18:10).

God stuur engele om mense te bemoedig

In die tyd wat Jakob by sy oom Laban gebly het, het dit op ‘n stadium gelyk of dinge teen hom begin draai. Laban se seuns het nie daarvan gehou dat Jakob so ryk word nie, want hulle het gereken dat hy besig was om hulle pa se skape te steel. In dié moeilike tyd het die Here toe ‘n engel met ‘n boodskap gestuur. Die Here het vir Jakob gesê dat hy moet padgee by Laban en moet teruggaan na sy geboorteland. Toe het die Here hom ook bemoedig en hom herinner aan wat by Bet-El gebeur het (Genesis 31:12-13).

God stuur engele om aan mense opdragte te gee

In Eksodus 3, toe Moses by die brandende doringbos was, het God ‘n engel gebruik om aan hom die opdrag te gee om terug te gaan na Egipte toe en die Israeliete uit Egipte uit te lei.

God stuur engele om sy boodskap aan profete oor te dra

In die ouer dele van die Ou Testament is daar ‘n paar voorbeelde waar die Here engele gebruik om vir profete ‘n boodskap te gee. In 2 Konings 1 word byvoorbeeld vertel hoe koning Ahasia deur sy bokamer se traliewerk geval het en homself baie ernstig beseer het. In plaas daarvan om die Here te raadpleeg, stuur hy toe boodskappers om by Baäl, die afgod van die Filistyne, uit te vind of hy weer gesond gaan word! Daarop het die Here ‘n engel na die profeet Elia gestuur. Hy moes die koning se boodskappers voorkeer en vir hulle sê dat die Here besluit het dat Ahasia nie weer uit die bed sal opstaan nie en sal doodgaan.

God stuur engele om in krisissituasies in mense se lewens in te gryp

Toe Hagar weggeloop het van Sara omdat Sara haar so sleg behandel het, het die Here ‘n engel gestuur om haar by ‘n fontein in die woestyn voor te keer. Die engel het vir haar gesê dat sy moet teruggaan na Sara toe (Genesis 16).

Daar is ook ander voorbeelde waar die engele nie gestuur word om boodskappe oor te dra nie, maar om iets te doen. Baie keer stuur die Here hulle byvoorbeeld om mense te beskerm. As Abraham sy slaaf stuur om ‘n vrou vir Isak te gaan haal, sê hy vir sy slaaf dat die Here ‘n engel saam met hom sal stuur (Genesis 24:7). As koning Farao se soldate die Israeliete in die woestyn agterna sit, gebruik die Here ‘n engel om agter hulle stelling in te neem en hulle te beskerm (Eksodus 14:19-20).

Daar is ook voorbeelde waar die Here sy engele gebruik om mense te straf. Die bekendste voorbeeld is seker wat met Sodom en Gomorra gebeur het. Die Here het twee engele gestuur om die stede te vernietig omdat hulle so ontsettend sondig was. Tog wys die Here ook sy genade in dié situasie as hy dieselfde engele gebruik om vir Lot-hulle te help om betyds te vlug (Genesis 19).

As ‘n mens na alles kyk wat oor engele in die ouer dele van die Ou Testament gesê word, is daar een ding wat ‘n mens feitlik by almal kan raaksien: Daar word gewoonlik eintlik maar bitter min oor die engele self gesê. Hoe hulle lyk of watter klere hulle dra, word nooit gesê nie. Nie een van hulle het ooit ‘n naam nie. Dit is ook opvallend dat die mense aan wie hulle verskyn, gewoonlik nie eens besef dat hulle met ‘n engel te doen het nie. Daaruit moet ons aflei dat die skrywers van hierdie gedeeltes aan engele gedink het as wesens wat maar net soos mense lyk.

  • Toe Abraham die drie mans genooi het om by hom te eet, het hy byvoorbeeld glad nie besef dat hulle engele was nie (Genesis 18).
  • Ook Lot het die twee engele genooi om by hom te oornag sonder om te besef dat hulle engele was (Genesis 19).
  • Dieselfde kan gesien word in die manier hoe Gideon opgetree het toe die engel by hom was. Hy het met die engel gepraat asof hy ‘n gewone mens was en hom selfs “meneer” genoem (Rigters 6:13). Hy het eers besef dat dit ‘n engel was net voor die engel van hom af weg is. Die engel het met die punt van sy stok aan die offer geraak en dit het skielik aan die brand geslaan. Toe eers het hy besef dat dit al die tyd ‘n engel was wat hom besoek het.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Engele in die Bybel (2)

Engele in die Bybel (2)

‘n Hemelse weermag

Omdat God so ontsettend magtig is, het Hy miljoene der miljoene “hemelse soldate” tot sy beskikking. Kyk hoe word dit in Psalm 68:18 beskrywe:

Die skitterende strydwaens van God was duisende,

duisende der duisende,

toe die Here van Sinai af die heiligdom betree het.

In die destydse weermagte was strydwaens net so belangrik as wat groot tenks in ons tyd vir ‘n weermag is. In moderne taal gestel, sê die psalmdigter hier dat die Here ontelbare getalle “tenks” in sy hemelse leër het. Daarmee sê hy nie net hoe groot en sterk die hemelse leër is wat die Here tot sy beskikking het nie, maar veral hoe sterk die Here self is.

Dieselfde gedagte kry ‘n mens ook in Deuteronomium 33:2 as daar vertel word hoe die Here Homself op Sinaiberg bekend gemaak het:

Die Here kom van Sinai af,

Hy laat van Seïr af sy lig oor sy volk skyn,

laat dit deurbreek van Paranberg af.

Hy kom van waar tienduisende hemelwesens woon,

van waar hulle aan sy regterhand hulle plek het.

Hier kry ‘n mens weer dieselfde gedagte: Die Here beskik oor ontelbare hemelse “troepe” wat in sy diens staan.

Die Here van die leërskare

Hierdie uitdrukking kom nie minder nie as 284 keer in die Ou Testament voor nie! (In die Nuwe Afrikaanse Vertaling word die woorde “Here van die leërskare” nie meer gebruik nie. Dit word gewoonlik vertaal as “die Here die Almagtige” Die gedagte is egter nog steeds dieselfde.) Volgens die Ou Testament gebruik die “Here van die leërskare” sy leërskare om sy vyande en ook die vyande van sy volk te vernietig. Die Here stuur dan sy leërskare om aan die kant van sy volk teen die vyand te kom veg. Daarom is dit geen wonder dat die hierdie naam van die Here baie gebruik word in dié dele van die Ou Testament waar die Israeliete in een of ander stryd betrokke is nie. Byvoorbeeld, as Dawid teen Saul te staan kom, roep hy uit (1 Samuel 17:45): “Jý kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die linies van Israel wat jy verkleineer het.” Die rede hoekom hy – teen alle menslike verwagting in – dit kon regkry om vir Goliat te wen, is natuurlik omdat die Here van die leërskare hom gehelp het.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 




Engele in die Bybel (1)

Engele in die Bybel (1)

In die Bybel lees ‘n mens gereeld van engele – hemelse wesens wat deur God vir verskillende take gebruik word.

Agtergrond

In die tyd van die Bybel het mense aan God en die hemelse wêreld as ‘n koninklike hofhouding gedink. Die Here was vir hulle die Grootste Koning wat ‘n mens vir jouself kon voorstel. Net soos aardse konings wat raadgewers, soldate, boodskappers en ‘n klomp ander ondergeskiktes in sy diens gehad het, het Hy in sy hemelse hofhouding ook goddelike wesens in sy diens gehad. Een van die mooiste voorbeelde hiervan kry ‘n mens in Psalm 89. In die eerste deel van hierdie psalm is daar gedagtes wat baie ver in Israel se geskiedenis teruggaan. In dié gedeelte sing die digter oor hoe wonderlik die Here is. Dit gebeur op aarde, maar ook in die hemel – waar God in die hemelse vergadering is. Só word dit in Psalm 89:6-9 beskrywe:

Die hemel loof u wondermag, Here,

die hemelinge loof u trou.

Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word?

Wie onder die hemelwesens is soos die Here?

Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag.

Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom

Here, almagtige God, wie is soos U?

U krag is groot, U trou is oral!

In hierdie verse kan ‘n mens agterkom dat die digter aan God dink as ‘n Koning met ‘n groot hemelse vergadering rondom Hom. Hy noem spesifiek die hemelinge, hemelwesens en ‘n hemelse vergadering.

 

Een van die ander psalms, Psalm 82, is nog ‘n goeie voorbeeld waar ‘n mens dieselfde soort gedagtes kry. Om dié psalm te verstaan, moet ‘n mens jouself eers probeer indink in die leefwêreld van die mense vir wie dit geskryf is. Hulle het geleef in ‘n wêreld waarin daar baie afgode was wat deur die ander mense rondom hulle aanbid is. Hierdie mense het natuurlik almal daarop aanspraak gemaak dat hulle gode die sterkste was en beter as die Here was. In Psalm 82 word op ‘n aangrypende manier gesê dat dit beslis nie waar is nie. Die Here is baie, baie sterker as al die ander afgode. Om hierdie gedagte tuis te bring, vertel die digter vir die mense wat in die hemelse vergadering gebeur het (vers 1):

In die hemelse vergadering tussen die gode

staan God op om uitspraak te lewer

Hier het ‘n mens dus weer die prentjie van God in ‘n hemelse vergadering. Die digter sê dat die sogenaamde gode van die ander volkere ook in hierdie vergadering plek ingeneem het, maar ‘n mens kom baie gou agter dat hulle absoluut geen mag het nie. Om die waarheid te sê, in die hele psalm kry hulle nie eens kans om ‘n enkele woord te sê nie! Die enigste Een wat praat, is God. Eers beskuldig Hy die afgode van dit wat hulle verkeerd gedoen het en daarna spreek Hy ‘n straf oor hulle uit. Dit begin met God se verwyt teen hulle oor dit wat hulle verkeerd gedoen het. Hy sê hulle het die kant van die goddeloses gekies en glad nie vir die mense wat swaar gekry het (soos die weeskinders en die armes) omgegee nie. Dit beteken dat hulle toegelaat het dat die konings en die regters van die heidense volke wat hulle aanbid het, die wet op ‘n onregverdige manier toepas. Deur dit te doen, sê die digter, het die gode gewys hoe dom hulle is. Hulle het ook gewys dat hulle niks verstaan nie en dat hulle eintlik soos blindes in die duisternis rondstrompel. Daarom kondig die Here sommer daar in die hemelse vergadering hulle straf aan: Soos mense sal hulle ook doodgaan. Hiermee wys die digter op ‘n pragtige manier vir sy mense dat die afgode eintlik geen mag het nie.

In 1 Konings 22 kry ‘n mens nog ‘n baie interessante voorbeeld hiervan. Daar word vertel van die twee konings, koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda, wat teen die wil van die Here in ‘n oorlog betrokke geraak het. Voordat hulle slagveld toe is, wou koning Josafat eers hê dat hulle moes hoor of dit die Here se goedkeuring wegdra of nie. Daarom het koning Agab 400 van sy profete laat kom. Hulle het almal soos een man gesê dat die konings maar met geruste harte kan gaan veg, want die Here sal hulle beslis laat wen. Dit lyk egter of koning Josafat nie die vrede vertrou het nie. Daarom vra hy vir Agab of daar nie nog ander profete was nie. Toe het Agab ‘n profeet met die naam Miga laat roep. Daar was ‘n goeie rede hoekom Agab hom nie van die begin af laat roep het nie. Miga het nooit iets goeds vir Agab geprofeteer nie! Ook hierdie keer was dit so. Miga het uiteindelik presies die teenoorgestelde as die ander profete gesê! Hy het gesê koning Agab sal beslis nie lewendig van die geveg af terugkom nie. Hoe het hy dit geweet? In verse 19-21 vertel hy dat die Here hom laat sien het wat in die hemelse vergadering gebeur het:

Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërskare wat weerskante van Hom staan. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, totdat die gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom sover kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie