Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:12-17) – Francois Malan
1:12 Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Paulus beskou die gemeente in Filippi as sy medegelowiges in Christus (adelfoí broers, sluit susters in. Dié term gebruik Paulus 133 keer in sy briewe; in Fil 1:13; 3:1,13,17; 4:1,8,21). Hy sien homself as lid van die gesin van God, wat in liefde nou aan mekaar verbind is deur geloof in Jesus Christus om die wil van God te doen. Selfs die Christene wat swak in die geloof was (1:14) of dié wat dit vir hom as gevangene moeilik maak (1:15,17), word daarby ingesluit. Paulus wil hê die gemeente moet weet dat wat met hom gebeur het, nie die voortgang van die evangelie verhinder het nie, maar juis bevorder het. Hy verduidelik nie wat met hom gebeur het nie, maar verwys net na ‘die dinge met my.’ In 1:7 het hy egter verwys na sy gevangenskap, verdediging en bevestiging van die evangelie. Hulle het aangeneem dit sou die evangelie benadeel, maar die teendeel het gebeur. Sy gevangenskap het eerder die evangelie bevorder (prokopên vooruit sny om ’n pad oop te kap). Hy sien dat dit wat met hom gebeur het, God se plan is met sy lewe as slaaf van Christus Jesus (1:1), geroep om die evangelie van genade en vrede te verkondig (1:2).
1:13-14 Sodoende het dit by die hele pretorium (keiserlike wag) en al die ander bekend geword dat ek ter wille van Christus in gevangenskap verkeer. Die bewyse dat die evangelie bevorder is deur Paulus se gevangenskap word in verse 13-14 uitgespel: 1. Dit het by die hele praetorium en by al die ander duidelik geword (fanerós, ook: wyd bekend geword) dat Paulus nie ’n misdadiger of politieke gevangene is nie, maar dat hy in Christus is (en Christō in gemeenskap met Christus; ter wille van Christus; dat hy ’n Christen is) 2. Die meeste van die gelowiges is deur Paulus se gevangenskap geïnspireer om op die Here te vertrou, en hulle waag dit nou baie meer om die woord (van God) vreesloos te spreek (lalein). Paulus het nie die gemeente in Rome gestig nie, maar voordat hy in boeie was (Hand 21:33; 26:29) het hy vanaf Korinthe sy Romeinebrief gestuur en ’n hele klomp bekendes in Rome gegroet (Rom 16:3-16). Daarin het hy reeds geskryf dat hulle nie bang hoef te wees nie omdat die Gees self teenoor ons gees getuig dat ons kinders van God is (Rom 8:15). Die praetorium is die soldate van die paleiswag. Volgens Handelinge 28:16 is Paulus in Rome toegelaat om op sy eie te woon, met ’n soldaat wat hom bewaak het. Die Romeinse soldate het elke 3 uur snags en tweemaal bedags omgeruil. Die Romeine het die nag in vier nagwake verdeel (vgl. die vierde nagwaak in Markus 6:48). Vir twee jaar was Paulus in sy gehuurde huis verhoorafwagtend op sy appèl om voor die keiser te verskyn (Hand 25:12; 28:30). Die hele paleiswag het ’n geleentheid gekry om hom te bewaak. Tydens die soldaat se wagbeurt kon Paulus die evangelie aan elkeen van hulle verkondig, ‘en aan al die ander,’ waarskynlik almal wat hy dié twee jaar ontvang het, wat na hom in sy gehuurde huis in Rome toe gekom het. Hy het hulle met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus onderrig (Hand 28:30). So het die Here sy gevangenskap gebruik om die evangelie te bevorder. Hy skryf in dié tyd ook die Efesebrief en die briewe aan die Kolossense, Filemon en die Filippense. So het die Here sy woord laat neerskryf sodat ons dit vandag nog kan lees om God beter te leer ken en sy wil vir ons.
1:15a ‘Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid.’ Vers 14 het verwys na meeste van die gelowiges (broers) wat deur Paulus se gevangenskap geïnspireer is om die woord van die Here vreesloos te spreek (lalein). Hier vertel Paulus egter van sy slegte ondervinding van sommige predikers in Rome. Sommige preek (kêrússein) Christus wel uit jaloesie, waarskynlik teenoor Paulus omdat hy meer gewild was? meer mense bereik met sy getuienis oor Jesus? of andersom dat hulle probeer om meer volgelinge as hy te hê? oor sy posisie as geroepe apostel (Rom 1:1)? Dié Christene preek Christus uit onenigheid (érin om te argumenteer met ’n stukkie antagonisme en om slegte dinge te sê oor Paulus).
1:15b ‘ander egter uit goedgesindheid’ teenoor Paulus (eudokía omdat hulle dit verkies, omdat hulle dink dat sy verkondiging van die evangelie die beste is).
1:16 ‘Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig.’ Hy beskryf die goedgesindes se houding teenoor hom in vers 16 as uit liefde (agápê ‘liefde op grond van hulle groot waardering en hoë agting vir Paulus) omdat hulle weet dat Paulus in dié situasie, in gevangenskap, bestem is (keimai deur God permanent geplaas is) om die evangelie te verdedig (apología om te praat ten gunste van die evangelie teen valse beskuldigings teen die evangelie). Hulle verkondig die evangelie uit liefde deur Paulus se apostolaat te erken en daardeur bevorder hulle Paulus se werk.
1:17 ‘maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak.’ In vers 17 sê Paulus hulle verkondig (katangéllō aankondig, bekend maak) Christus uit teenstand (eritheía selfsugtige ambisie of: vyandigheid) – nie met opregte motiewe nie maar met die gedagte om vir my in my gevangenskap moeilikheid te veroorsaak (thlipsis moeilikheid wat direkte verdrukking veroorsaak). Vir die gelowiges se prediking gebruik Paulus drie sinonieme woorde om te bevestig dat hulle almal Christus verkondig:: vers 14: die meeste ‘spreek’ (laléō of vertel) die woord van God sonder vrees; vers 15 sommige ‘preek’ (kêrússō of aankondig, uitroep, vertel) Christus uit jaloesie en onenigheid, ander uit goedgesindheid; vers 17 en 18 sy teenstanders ‘verkondig’ (katangéllō of aankondig) Christus uit selfsug, en beide sy ondersteuners en teenstanders ‘verkondig ‘(katangéllō) Christus. Paulus kla nie dat hulle Christus as die inhoud van hulle boodskap verkondig nie, maar wys na hulle verskillende motiewe teenoor hom.