Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(5) – JP Louw

Interessante Bybelgedeeltes

 

Uittrek van skoene

Eksodus 3:5: Skoene is meermale uitgetrek as mense in die huis inkom om so te verhoed dat die huis vuil getrap word. Nadat gaste se voete gewas is, het hulle die skoene ook uit gehou. Dit was ‘n teken van respek. By alle heiligdomme is skoene uitgetrek as teken van eerbied. Daarom moes Moses in Eksodus 3:5 sy skoene uittrek. Vandag nog trek Oosterlinge hulle skoene uit as hulle in die huis is en by alle Moslem heiligdomme gaan die mense ook kaalvoet in. Onder Christene gebeur dit ook by die Spade Reën gemeentes.

 

Vrouekwartiere

Rigters 4:17-22. Waar groter huise meer vertrekke gehad het, of ook in groter tente, het die vroue in die agterste dele gebly. Dit was ‘n groot oortreding om daar in te gaan. Sisera het horn in die vrouekwartier van die tent van Jael versteek waar by veilig teen sy agtervolgers sou wees, want daarin sou niemand horn gesoek het nie. Vrouens het egter ook aparte tente gehad (Genesis 24:67, Genesis 31:33. Vgl ook Genesis 30:16).

 

Die Leviet en sy byvrou

Rigters 19:21 ev. Die grusame verhaal het ‘n historiese en kulturele agtergrond wat vir ons vreemd is. In hierdie tyd het die stamme van Israel met mekaar in ‘n eenheid saamgestaan. Slegs die stam van Benjamin wou nie en het verkies om op sy eie te bly. Toe die Leviet dus in Gibea (wat aan Benjamin behoort het) kom, het die Benjaminiete besluit om horn aan te rand. Dit was dus in wese ‘n politieke dispuut-daarom ook die grusame oorlog waarin ‘n baie groot deel van die stam van Benjamin doodgemaak is.

 

Water om te drink

Markus 9:41. Dit was ‘n baie belangrike gebaar van gasvryheid om iemand water te gee om te drink. In ‘n warm en dorre woestynagtige land is dit goed te verstaan. Daarom kon die mense begryp dat toe Jesus (Matteus 10:42) gepraat het van “‘n beker koue water aan iemand gee” Hy ‘n besondere weldaad bedoel het.

 

‘n Wit steen

Openbaring 2:17. Klein stukkies klip, veral sierstene, is dikwels vir besondere tekens gebruik. In Eksodus 28:21 word gesê dat die 12 stamme van Israel met 12 stene gesimboliseer was. Stene was tekens van duursaamheid. ‘n Wit steen soos hierdie in Openbaring 2:17 simboliseer ewige oorwinning en die naam daarop ‘n nuwe identiteit wat die ontvanger gekry het. Die wit kleur het reinheid en heerlikheid voorgestel. Die wit steen sal die oorwinnaar, dit is die een wat getrou bly in die geloof, se ” toegangsteken na die hemelse heerlikheid wees.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(4) – JP Louw

‘n Formele ete

Gewone etes het meestal op die grond, of selfs om ‘n tafel, geskied. So ‘n tafel was gewoonlik baie laag, en die mense het op matte gesit. Formele etes het of ‘n tafel gehad waarop die kos geplaas is of die kos was op die grond gesit. Die gaste het letterlik aangelê by die eetgoed want om die tafel, of waar die kos geplaas is, was lae banke gerangskik waarop die gaste op hulle sy gelê het, dikwels met kussings om op te rus (Ester 1:6, Esegiël 23:41). Die kos was aan die kop en die voete het dus weg van die tafel gewys. Soms, waar meer aanlêbanke gebruik is, was ‘n hooftafel op ‘n effens hoër vloerdeel geplaas. Dit was beskou as die beste plekke (Matteus 23:6, Lukas 14:8-10). So het die gaste aangelê met die minste in status op die verste bank of deel van die bank. Die heel belangrikste gas het aan die regter­kant van die gasheer gesit en die tweede in be­langrikheid aan sy linkerkant (Markus 10:35-37). Hierdie gaste het ook die grootste borde en beste kos gekry.

In die vroegste tye het mense dikwels op hulle voete gesit as hulle eet deur die bene onder hulle te kruis, dikwels op ‘n mat. Hoewel stoele gebruik was om op te sit (2 Konings 4:10, Spreuke 9:14), was dit meer deur owerheidspersone as deur ge­wone mense gebruik. By die rusbanke het die mense op die linkersy gelê en met die linkerarm gesteun sodat die regterhand vry was om die kos te hanteer, want daar is met die hand geëet. Messe, vurke en lepels soos vandag, het eers lank na die

Middeleeue in gebruik gekom. Om so te lê en eet was nogal moeilik en ‘n mens moes die kop of lyf goed draai om te gesels, of van sy te verwissel. Toe Jesus by Simon geëet het, moes hy op so ‘n bank gelê het, want in Lukas 7:45 word verwys na die vrou wat sy voete gesoen het. Sy voete was dus weg van die ete of waar dit aan die ander ent van die bank maklik bereikbaar was.

Omdat die ereplek aan die regterkant van die gasheer was, het dit beteken dat so ‘n persoon, as hy met die gasheer sou praat, op sy bors oorgeleun het (Johannes 13:13-25). Mans het alleen saam­geëet. Slegs by onverfynde maaltye was vroue ook teenwoordig, maar vroueslawe het by maaltye bedien en dikwels teen die mure op diens gestaan. Die vrou in Lukas 7:45 was dus nie opsigtelik toe sy ook ingekom het nie.

Tydens ‘n maaltyd het die gas soms ‘n stukkie brood geneem, in die sous gedoop en in die mond van die geëerde gas geplaas as ‘n teken van besondere waardering. Toe Jesus in Johannes 13:26-29 die stukkie brood indoop en aan Judas gee, het die dissipels dit nie verstaan nie al het Jesus duidelik gesê dat die verraaier die een is aan wie hy die stukkie sal gee. Omdat so ‘n daad egter ‘n gebruiklike eerbetoon was, het hulle (vers 29) ander redes bedink waarom Judas opgestaan en geloop het.

Die kos wat by formele maaltye geëet was, het bestaan uit wyn wat met water verdun was en soms met heuning versoet is. Wyn is nooit skoon ge­drink nie. Gewoonlik is twee dele water by een deel wyn gevoeg. Iemand oor wie dit gesê was dat hy sy wyn skoon drink, was dus ‘n misbruiker, selfs dronkaard. Vleis, vis, brood, eiers en vrugte was die mees algemene kos.

By formele etes is daar soms ook vermaak aan­gebied. In Amos 6:4-6 word van musiek en liedjies gepraat. Dikwels is ook gedans en gesing. Dans was individueel. Elke persoon het op sy eie gedans. In Markus 6:22 word van Herodias se dogter vertel wat vir die gaste gedans het, en in Jeremia 31:13 lees ons van jong meisies, jong mans en ou mans wat gedans het, maar hier moet ons nie clink dat hulle met mekaar gedans het nie. Hulle het bloot terselfdertyd gedans. Elke persoon het op sy eie gedans – en meestal was daar net mans wat deelgeneem het. Mans en vroue wat met mekaar gedans het, was nie in Bybeltye bekend nie. Na die ete het die gaste hulle met lang gesprekke vermaak, soms meer ernstige diskussies, of selfs poësie­ – dikwels egter net praatjies.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(3) – JP Louw

Verblyf

Behalwe verblyf in ‘n herberg het mense ook op ander maniere as reisiger verblyf gevind. Die normale manier was om eers by die stadspoort te bly en te wag totdat jy genooi word om in te kom -dikwels deur iemand wat aan jou verblyf gee (Genesis 19:1-2, 24:25 en 31, Rigters 19:4 en 15). Wanneer ‘n persoon ingenooi is om by ‘n huis te oornag, moet ons nie bloot dink aan ‘n aparte gastekamer nie. Gewoonlik het ‘n gas saam met ander lede van die familie ‘n slaapplek gedeel. Die huise was immers maar meestal een vertrek groot met soms ‘n dak waarop ook geslaap is (1 Samuel 9:26). In die geval van ‘n tent het die reisiger saam met die mans by die ingang van die tent geslaap. Die vroue het in die agterdeel van die tent geslaap.

In later tye toe sommige huise groter begin word het, was dit wel moontlik dat ‘n kamer vir gaste afgesonder is. Elisa se situasie (2 Konings 4:8-10) was uitsonderlik deurdat die familie vir horn ‘n spesiale vertrek op die dak gebou het as gaste­kamer.

 

Etes

Om kos te voorsien was ‘n belangrike deel van gasvryheid. In die eentonige en redelik arm lewe van destyds was saam eet ‘n feesgeleentheid wat bietjie vrolikheid gebring het. Selfs al kom ‘n gas teen middernag aan, moes daar eers kos voorgesit word (Lukas 11:5). ‘n Maaltyd was teken van vriendskap en vrede tussen mense (Genesis 26:26-30, Lukas 24:29). In Genesis 24:33 praat Abraham se slaaf eers die saak uit voordat hulle eet en in Genesis 31:51-54 nooi Jakob die mense om te eet na ‘n ooreenkoms. Na Jesus se opstanding verskyn Hy aan sy dissipels en eet saam met hulle (Johannes 21:10-13).

Godsdienstige feeste was groot sosiale geleent­hede. By offerande is dele van die dier, veral die vet en ander dele, verbrand, maar groot dele is daarna deur die feesgangers geëet as teken van hulle deel­name aan die feesmaal van die Here (Deuteronomi­um 12:6-7). Wanneer Israel as volk saamgekom het en groot getalle diere geoffer is, het dit nie beteken dat alles verbrand is nie. Die eet was deel van die offer.

Soos reeds terloops gesê, is gaste by ‘n ete ook met verskeie hoflikheidsgebare vereer. Meer moet hieroor gesê word. Wanneer die gas aankom was daar by die deur ‘n slaaf, of die gasheer self, wat die voete van die gaste gewas het. Die sandale wat algemeen, gedra is en die droë, stowwerige klimaat het die voete, wat soms ver oor grondpaaie geloop redelik vuil gemaak. As die voete gewas is, het die gas ook sommer beter gevoel (Genesis 18:4-5). Soms egter is net die water voorsien, en die gaste het self gewas (Genesis 19:2, 24:32). Die was van voete het ook deelgenootskap gesimboliseer. So het Jesus sy dissipels se voete gewas (Johannes 13:3-4).

ete

By ‘n ete is veral ‘n bietjie reukolie op die gas se hoof gevryf om ‘n aangename reuk te gee, baie soos mense vandag ‘n blom aan iemand sou vassteek as eerbetoon. In die ou Afrikaanse vertaling van Psalm 23:5 lees ons “U maak my hoof vet met olie” wat na hierdie gebruik verwys, en omdat dit nie begryplik is vir mense van ons tyd nie het die nuwe vertaling dit weergegee met “U ontvang my soos ‘n eregas”.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(2) – JP Louw

Die groet

Om mense te groet het nie baie oor die eeue heen verander nie, behalwe in detail. Daar was veral drie tipe begroetinge in gebruik wat bepaal is deur die aard van die geleentheid. Die mees algemene groet was verbaal met geen fisiese kontak nie. Gewoonlik is die woorde “vrede vir jou” gebruik soos in Lukas 24:36 en Johannes 20:21 toe Jesus aan sy dissipels verskyn het. Hierdie groet is gebruik wanneer mense ietwat formeel groet of wanneer ‘n groep mense gegroet word. So ook die woorde “mag die Here met jou wees” (Rut 2:4) of “die Here seen jou” of “die Here sal jou genadig wees” (Genesis 43:29) of “gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit” (1 Samuel 25:6). Of ook net “wees gegroet” (Matteus 26:49, Lukas 1:28). Konings is soms gegroet met “mag die koning ewig lewe” (Nehemia 2:3).

Dikwels is ‘n persoon fisies gegroet met ‘n soen, of deur hom te omhels en te soen. Die manier van soen het egter meer as een vorm gehad. ‘n Soen op die mond het eintlik net tussen verliefdes gebeur. Die soen was op die wang, of deur die mond op die wang te druk of deur wang teen wang te druk ­dikwels herhaal op elke wang. Vandag nog is dit algemeen in die Midde-Ooste. In Romeine 16:16 se Paulus “groet mekaar met ‘n soen van Christe­like broederskap”. Hierdie groet is informeel en spreek van groter geneentheid. So het Samuel vir Saul gesoen (1 Samuel 10:1) toe hy hom as koning gesalf het. Simon die Fariseër het Jesus eintlik beledig toe hy hom in sy huis ontvang het maar nie gesoen het nie (Lukas 7:45). In hierdie gedeelte het ons ‘n meer intieme geleentheid met ‘n maaltyd saam en dan was nie net ‘n soen belangrik nie, maar ook moes die gas se voete afgespoel word wat natuurlik stowwerig was van die loop met sandale soos destyds op grondpaaie (Lukas 7:44). Verder moes ‘n bietjie reukolie ook op die hoof gevryf word (Lukas 7:46). ‘n Soen dui op vereenselwiging, agting, geneentheid en waardering. Daarom vra Jesus vir Judas (Lukas 22:48) “verraai jy die Seun van die mens met ‘n soen?”

‘n Derde manier van groet was baie formeel en is meestal net in besondere omstandighede gebruik. Abraham sien drie vreemde mans staan, gaan na hulle, buig voor hulle neer as groetgebaar (Genesis 18:2) en nooi hulle in sy huis in. In Genesis 23:12 buig Abraham voor die volksleiers. Nog meer eerbiedig is die neerval voor iemand (Matteus 18:26) wat veral by smekinge gebruik is. Al was dit ‘n daad van soebat, het dit ook die funksie van ‘n groet gedien. Hierby moet duidelik onderskei word die neerval voor God in aanbidding (Openbaring 19:10): op die knieë of plat op die maag uitgestrek. Hoewel die handeling ook as groet gebruik is, kan dit maklik verkeerd verstaan word as aanbidding. Wanneer Kornelius in Handelinge 10:25 voor Petrus neerbuig op sy knieë, is Petrus gou om te verhoed dat dit in aanbiddingsverering oorgaan en sê hy “staan op, ek is ook maar ‘n mens’. In Openbaring 3:9 is die kniel ‘n handeling van groot respek. Dit is net wanneer voor God gekniel word dat dit as aanbidding gedoen is (Jesaja 45:23, Romeine 14:11, Filippense 2:10-11).

Die groet het dikwels, veral wanneer mense mekaar langs die pad ontmoet het, heelwat tyd geneem want dit het ook nog ‘n gesels oor herkoms en welstand ingesluit. Reeds hierbo toe reise behan­del is, het ons gesien dat wanneer daar haas was, opdrag gegee is om niemand op die pad te groet nie.

Om iemand water te vra, was soms ook ‘n manier van groet en om daarmee saam ‘n gesprek aan te knoop. In Genesis 24:17 vra Abraham se slaaf vir Rebekka om hom water te gee en knoop so ‘n geselsie met haar am. Die Samaritaanse vrou in Johannes 4:9 is verbaas dat Jesus vir haar water vra aangesien Jode destyds nie met Samaritane gemeng het nie.

Skrywer:  Prof JP Louw