Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(1) – JP Louw

Om mense te ontvang, voedsel en verblyf te gee, was ‘n belangrike sosiale gebruik. Gasvryheid is in sowel die Ou as Nuwe Testamentiese tyd hoog geag. Die nomadiese wyse van leef, waar almal maar swerwers was soos in die vroegste Bybeltye, het sekerlik bygedra tot ‘n wedersydse gevoel vir mekaar. Nomadiese mense is goed bewus van die hardheid van ‘n dorre wêreld waar kos en water skaars is. Dit is merkwaardig dat in die geskiedenis van die mensheid rykdom en oorvloed gasvryheid gedemp het, maar dat wanneer mense min het hulle meer bewus is van ander se nood. In Romeine 12:20 skryf Paulus selfs “as jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as by dors is, gee hom iets om te drink.”

As iemand in die huis of tent van ‘n ander ‘n gas is, aanvaar die eienaar alle verantwoordelikheid (Genesis 19:2-8). Psalm 23:5 vertel dan ook van die hartlikheid waarmee ‘n eregas ontvang is. Hierdie deug is gewortel in God se troue sorg en liefde en het nog altyddeur by Christene ‘n belangrike kenmerk gebly. In die wette van Moses is baie bepalings ingebou om die vreemdeling te beskerm (Eksodus 22:21, Deuteronomium 10:18, 19; 14:29). Job 31:16-17 en Jesaja 58:7 wys hoe be­langrik dit beskou was om voedsel met ander te deel. In Deuteronomium 23:4 word die Ammoniete en Moabiete geban uit die gemeente van die Here omdat hulle kos en water geweier het toe Israel uit Egipte by hulle verby getrek het.

Die Jode het in gedagte gehou dat Abraham (Genesis 18:2-13) vreemdelinge ontvang het wat eintlik engele was. Ook Gideon (Rigters 6:11-23) het nie besef dat die vreemde man wat met hom gepraat het ‘n engel was nie. Daarom sê Hebreërs 13:2 “moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” Hierdie gedagtegang het by Christene voortgeleef in die raaksien van ‘n ander, veral as daar nood is, as iemand wat deur die Here op jou pad gebring is om iets aan die saak te doen.

Om ‘n maaltyd aan ander voor te sit was ‘n belangrike saak. Groot besluite en weldade was dikwels deel van ‘n maaltyd. In Sefanja 1:7 sit die Here self ‘n maaltyd voor. So ook in Psalm 23:5. In die gelykenis in Matteus 22:2-14 waarin Jesus praat oor die Koninkryk van God verduidelik Hy dit as ‘n maaltyd wat ‘n koning as bruilofsfees vir sy seun gee. Om by iemand te eet was dus ‘n groot saak, ‘n belangrike manier om eer aan iemand te betoon, en om baie nou met iemand te assosieer, om te se “ek is jou vriend” of “ons is ‘n broederskap”. Die nagmaal wat Christene vier is deels om die dood van die Here te gedenk, maar ook om jou ten volle met Hom te assosieer.

As gasvryheid geweier was, het dit sterk reaksie meegebring. In Matteus 10:14-15 word gesê dat selfs die stof van jou voete as oordeel teen so een afgeskud moet word. In Galasiërs 6:10 en 1 Petrus 4:9 word Christene vermaan om gasvry te wees.

In die verkondiging van die Evangelie het gasvryheid ‘n groot rol gespeel, want die eerste predikers het geen inkomste gehad nie en was geheel afhanklik van gasvryheid. 3 Johannes 5-8 sê dan ook dat dit die plig was van ander gelowiges om die predikers te versorg. Om te verhoed dat gasvry­heid misbruik is, het sekere voorskrifte gegeld. In een van die ou leerboeke van die vroeë kerk, die Didache (Leerstuk) van die Apostels, lees ons in hfst 11 dat as ‘n reisende prediker kom, moet by gasvry behandel word. Hy mag ‘n hele dag bly, en selfs ‘n tweede as dit nodig is; maar nie ‘n derde dag nie. Hy mag ook by vertrek niks anders as brood vir die reis van een enkele dag as padkos ontvang nie. Petrus se verblyf by Simon die leerlooier in Joppe, waarvan Handelinge 9:43 sê dat by geruime tyd gebly het, sou na alle waarskynlikheid ingehou het dat Petrus nie net bloot as gas vertoef het nie, maar ook dalk vir Simon gehelp het. Joppe was aan die see geleë en Petrus kon dalk nog deels vis gevang het.

Van die woorde in die Nuwe Testament wat gewoonlik met “gasvryheid” vertaal word, het ‘’n hele paar die element van ‘n “vreemdeling” as deel van die betekenis, byvoorbeeld om ‘n vreemdeling te ontvang, liefde aan ‘n vreemdeling te bewys, om ‘n vriend vir ‘n vreemdeling te wees, ens. In 1 Timoteus 3:2 en Titus 1:8 word van ‘n leier in die gemeente vereis om gasvry te wees.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(5) – JP Louw

Interessante Bybelgedeeltes

Die oog van ‘n naald

Matteus 19:24. Baie verklarings is gegee vir die uitdrukking “dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom”. ‘n Populêre, en miskien die mees bekende, verklaring is dat daar in Jerusalem ‘n baie nou poort was waar ‘n kameel moeilik kon deurkom veral as dit ‘n vrag op het. Hierdie poort is “die oog van ‘n naald” genoem. So is die skerp uitdrukking van Jesus versag. Maar daar was geensins so ‘n poort met so ‘n naam nie. Die oog hier is doodgewoon die oog van ‘n naald. Reeds die ou Griekse kerkvader Klemens van Aleksandrië het gesê dat Jesus se woorde figuurlik verstaan moet word-tog het mense deur die eeue heen aangehou met die “poort-storie”. Die uitdrukking in Matteus 19:24 (net soos die een in Matteus 23:24 “julle skep die muggie uit, maar sluk die kameel in”) is ‘n oordrewe manier van.sê om ‘n saak te beklemtoon. So sê ons ook “ek het my dood geskrik” as ons bedoel “ek het baie geskrik’. Jesus sê dat rykdom reg gebruik moet word, byvoorbeeld om sy koninkryk te bevorder, anders kan rykdom ‘n mens van God weerhou. Die sterk uitdrukking wil die saak net onderstreep. Die gebruik van die woord kameel in sowel Matteus 19 as 23 dien om iets baie groot met iets baie klein te vergelyk: ‘n kameel met ‘n naald se oog. Ons gebruik soms die woord “olifant” of “berg” en vergelyk dit met iets kleins soos ‘n muggie of ‘n miershoop om die kontras te versterk. In die Bybelse tyd was die kameel bloot die grootste dier in die alledaagse lewe.

 

Geen plek in die herberg

Lukas 2:7. Sommige dorpe het wel ‘n herberg gehad waar reisigers kon oornag, maar daar was selde meer as een so ‘n plek. ‘n Herberg het ‘n kamer of kamers gehad, soms ook ‘n eetplek en dan ook ‘n plek vir die diere. Josef en Maria kon geen plek in die gebou kry nie en het waarskynlik oornag saam met die diere, want Maria het haar baba volgens Lukas 2:7 in ‘n krip neergelê. Jesus is dus in die stal gebore. Hoe die plek gelyk het, is onbekend. Dit kon onder die herberg of langsaan gewees het. Hoeveel muur- of dakbeskerming dit gehad het, is ook nie seker nie. Die geboorteplek wat vandag in Betlehem aan toeriste getoon word, lyk na ‘n vlak grot maar dit is baie klein en kon nie diere gehuisves het nie. Behalwe dat dit moontlik ‘n deel van die wand van die stal kon gewees het, kan niks met sekerheid gesê word nie. Selfs die plek in Betlehem waar tans die Kerk van die Geboorte oor gebou is, berus bloot op tradisie. Jesus, die Redder van die wêreld het in die grootste nederigheid mens’ geword, en so geleef en gesterf (Filippense 2:7-8).

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(4) – JP Louw

Die muil

Muile is nie juis gebruik voor die tyd van Dawid nie. Levitikus 19:19 het kruisings tussen diere verbied. Tog is muile wel aangewend (2 Konings 5:17, 1 Kronieke 12:40, Jesaja 66:20)-miskien geteel deur nie Jode en aangekoop deur Jode. In Dawid se tyd was hulle moontlik nog skaars en dus besonders. 2 Samuel 13:29 meld muile as rydiere van die koningseuns. In 1 Konings 1:33, 44 ry Salomo op die koning se muil. In 2 Kronieke 9:24 word muile saam met perde as geskenke vir die koning gebring.

 

Die perd

Die perde in die Bybel was van die Arabiese tipe. Hulle is veral in oorlog gebruik, nie soseer as rydier self nie, maar meer dikwels om strydwaens te trek. In Deuteronomium 17:15-17 word die volk beveel om die koning nie toe te laat om baie perde aan te hou nie. Hulle moes nie op eie krag begin vertrou het nie. Die ander volke het strydwaens gehad (Josua 11:6, 9, Rigters 4:3). Dawid het egter ‘n klompie perde behou (2 Samuel 8:4). Salomo het die perd op groter skaal ingebring as trekdier. In 2 Kronieke 1:14 en 9:25 word vermeld dat Salomo ‘n mag van perde en strydwaens opgebou het. Teen die vertroue op perde en strydwaens word gewaarsku in Jesaja 31:1 en in Psalm 33:17-18.

‘n Strydwa was ‘n platvorm met twee wiele waarop twee persone kon staan, en van voor beskerm is met ‘n halfsirkelvormige wand, hoog genoeg om die onderhelfte van die lyf toe te maak. Die een persoon het die perde gedryf en die ander het die wapens hanteer. In later tye is byna soortgelyke rytuie vir blote vervoer gebruik met meer gerieflike sitplekke-en selfs groter eenhede as voorloper van die uiteindelike koets. In die Romeinse tyd was wedrenne met perdewaens baie gewild.

Die perd was in Bybelse tye simbool van krag. In Psalm 33:17 lees ons “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie:” Dan -gaan die digter voort en sê dat dit die Here is wat sorg vir die wat op Hom vertrou. Dieselfde gedagte vind ons ook in Psalm 147:10 waarin ons lees “die Here het niks aan die krag van die perd nie”-‘n uitdrukking wat beteken dat vir die Here die krag van die perd, so hoog geroem deur die mens, nie ‘n faktor is nie.

perd

‘n Hedendaagse Arabier ploeg met ‘n perd.

Ondanks die besondere waarde wat die perd in die antieke wêreld gehad het, moes veral die wadrywer nie te seker van sy saak gewees het nie, want waar die paaie nie baie goed was nie, kon die wa maklik vasval – veral as dit reën, en dan is selfs die perd se groot krag aan bande geld. Moontlik was dit een van die redes waarom Agab volgens 1 Konings 18:44 so angstig was om gou in te span en na Jisreël terug te keer voor dit begin reën het.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(3) – JP Louw

Belasting, hitte en formaliteite

Tol het ook in die antieke wêreld bestaan. Vir sommige paaie, brûe of poorte moes tol betaal word-veral as goedere vervoer is. Dit was maar net nog ‘n manier om belasting in te vorder. Gelukkig was daar nie paspoorte en ander dokumente nodig om te reis nie.

In die droë woestynagtige klimaat van die Bybellande was die dae, veral in die somer, ondraaglik warm. Die opdrag aan Filippus in Handelinge 8:26 moes vir hom vreemd geklink het om op die middag na die pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan. Op die middag het min mense gereis.

‘n Besondere gebruik in die antieke tyd was om mense op reis te groet as hulle by mekaar verbykom. Jesus sê aan sy dissipels in Lukas 10:4 om nie langs die pad met groetery tyd te verkwis nie. So ook het Elisa vir Gehasi gestuur (2 Konings 4:29) om gou te loop en nie langs die pad te groet nie. Dit was gebruik om mekaar uit te vra oor herkoms, die reis, families ens. Gelukkig was daar nie volop reisigers op ‘n pad nie want so ‘n groetery kon tyd neem.  .

 

Die donkie

Die versorging van die trek- en rydiere op ‘n reis het baie probleme ingehou. Voer was nie oral bekombaar nie en die veld was dikwels skraal sodat weiding tydrowend en skaars was. Reise kon nie maklik onderneem word in uitgestrekte gebiede nie. Die donkie was die mees gebruiklike pakdier en het goedere in sakke weerskante oor die rug gedra. Enigiets wat vervoer moes word, is op donkies gelaai (Genesis 42:25-28; 1 Samuel 16:20, 25:18). Alhoewel beeste die algemene dier was om mee te ploeg, is donkies tog ook gebruik. Deuteronomium 22:10 verbied egter dat donkies saam met beeste ingespan word. Donkies het ook meule en waterwiele getrek. Een tipe Arabiese donkie was ligvaal van kleur en word soms wit of bruin donkies genoem (Rigters 5:10 -sien ou en nuwe vertaling), en was baie kosbaar. As sodanig was hulle die besit van rykes. Die donkie is later deur muile en perde verdring en het ‘n meer nederige vervoermiddel geword. In 1 Samuel 25:23 ry Abigail, vrou van die ryke Nabal, op ‘n donkie wat die mees gebruiklike rydier was, maar later in Sagaria 9:9 word die donkie met nederigheid geassosieer.

 donkie

Die kameel

Kamele as rydier is sedert 3000 v.C. in Egipte bekend. In Genesis 12:16 lees ons reeds van donkies en kamele wat ‘n Egiptenaar aan Abraham gee. Vir die woestynagtige Bybellande was kamele ideale diere-veral vir lang afstande omdat hulle n hele paar dae sonder water kon hou. In Genesis 24:64 ry Rebekka op ‘n kameel, want die reis was lank. So ook in Genesis 31:17 pak Jakob ‘n lang reis met kamele aan. Kamele kan byna 5 km per uur loop en die pas die hele dag volhou. Ook kan kamele meer vrag dra as donkies. Op lang reise is kamele in troppe aangewend. Soms het die mense op die kamele self gery of donkies saamgeneem om op te ry, want ‘n kameel is nie juis gerieflik nie. Dit swaai baie been en weer. Kamele was waardevolle diere en ‘n kosbare besit, dikwels met behangsels versier (Rigters 8:21). Kamele het meestal strooi geëet of van die veld geleef. Hulle vleis is egter, net soos die van die donkie, nie deur Jode geëet nie, want beide was onrein diere. Hulle hare is wel gebruik om growwe klere mee te maak soos Johannes die Doper (Matteus 3:4) gedra het. Ook die vel is gebruik vir houers of vir klere. Die mees algemene kameel was die een met die enkelbog, ook bekend as dromedaris.

Skrywer:  Prof JP Louw