Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (7) – Hennie Stander
Die dryf van handel
‘n Bestaan is ook gemaak deur handel te dryf. Dit was egter ‘n latere ontwikkeling omdat die eenvoudige landboukundige ekonomiese bestel van die vroeë periode nie voorsiening gemaak het vir die dryf van handel nie. Dit was bloot aanvaar dat die eenvoudige lewenstyl die enigste en die regte lewenstyl was (vgl Spreuke 31:10-17). Tog, teen die tyd dat Esegiël 27:17-24 geskryf is, was daar ‘n lewendige handel in landbouprodukte aan die orde van die dag. Daar is met Tirus handel gedryf ten opsigte van goedere soos graan, olywe, vye, heuning, olie en balsem. Olie en wyn is uitgevoer na Egipte, waar daar weer ‘n graansurplus was. Wol en wolstowwe is na verskeie gebiede uitgevoer en in ruil hiervoor is hout, metale (tin, lood, silwer en koper) ingevoer, asook luukse goedere soos speserye, sy, juwele en goud. Hierdie handel het tot stand gekom as gevolg van die uitbreiding van die koninkryk onder Salomo. Die uitbreiding het dit vir die koning –moontlik gemaak om belastings te hef op die goedere wat deur sy grondgebied gegaan het.
Die belangrikste handelsroete was die “Seeweg”, wat al langs die kus van Egipte geloop het deur dit wat altyd die Land van die Filistyne was. Dit het daarvandaan noordoos geswenk na Megiddo en Hasor en het deurgegaan tot by Damaskus. Die heuwelroete van Egipte het deur Berseba, Hebron, Jerusalem, Bet-El en Sigem gegaan en daarna het dit verdeel, hetsy na Bet San en uit na Damaskus, of na Samaria en verder aan na Megiddo. Dit was egter ‘n moeilike roete wat net in nat toestande gebruik is wanneer dit onmoontlik was om ander roetes te volg.
Aan die oostekant van die Dooie See en die Jordaanrivier, het die “Koning se Hoofweg” die Golf van Akaba met Ammon en Damaskus verbind. Die seeroetes is beheer deur die Fenisiërs, wat in bondgenootskap met Salomo was.
Aangesien die belangrikste handelsroetes deur gebiede gegaan het wat onder die beheer van die Jode was, was dit moontlik vir diegene met kapitaal om goedere in en uit te voer. Dit lyk of Salomo perde uit Silisië ingevoer het en waens uit Egipte en dit alles weer uitgevoer het (1 Konings 10:28-29). Reëlings is ook getref dat die koning sy goedere kon verkoop op die mark van die omringende stede. Agab het ook so ‘n reëling in Damaskus gehad (1 Konings 20:34).
Die probleem met hierdie soort van handel is dat diegene met kapitaal gewoonlik meer en meer rykdom verkry, terwyl diegene sonder kapitaal armer word. Dit het op beide individuele en nasionale vlak gebeur. Individuele persone is deur Amos veroordeel veral waar die rykdom gepaard gegaan het met die onderdrukking van die armes (Jesaja 5:8-12; Amos 6:1-7; Miga 2:1-2). Tirus is veroordeel vir die feit dat by hooghartig geword het oor sy voorspoed (Esegiël 28:2; sien ook Jesaja 23). In die Nuwe Testamentiese tye was die dryf van handel algemeen aan die orde van die dag en die Pax Romana (d.w.s. die vrede en die stabiliteit wat die Romeine vir die gebied om die Middellandse See gebring het) het die moontlikhede van handel verder vergroot omdat die paaie baie veiliger was. Rome het die sentrum van rykdom en handel geword terwyl “alle paaie na Rome gelei het”. In hierdie periode is al hoe groter hoeveelhede olyfolie uit Judea uitgevoer, terwyl Griekse wyne, glas, appels, kaas, linne en katoen algemeen geword het in die land.
Skrywer: Prof Hennie Stander