Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(1) – Hennie Stander

Toe die Joodse volk Kanaän ingeneem het en begin het om weer landbou te beoefen, na hul seminomadiese lewe van veertig jaar in die woestyn, het hulle ‘n bedryf opgeneem wat hulle vroeër honderde jare lank beoefen het. Verder was die nuwe land wat hulle betree het, besonder ryk aan plantelewe. Ook in Ur van die Chaldeërs, waarvandaan Abraham gekom het, was daar ‘n gesonde landbousisteem wat in stand gehou is deur watervore uit die rivier en landbou-implemente soos ploegskare en sekels van klip. Met hierdie tegnologie is die Chaldeërs in staat gestel om twee keer per jaar oeste op hul lande te hê.

Maar landbou was ook in Egipte ‘n bekende bedryf. Elke jaar het die Nylrivier sy walle oorstroom en die land met fyn rivierslik bedek wat die grond vir die volgende jaar verryk het. Die water is uit die Nylrivier geskep en is dan in slote gegooi met behulp van ‘n sjadoef. ‘n Sjadoef is ‘n soort waterpomp wat bestaan uit ‘n emmer wat aan die een punt van ‘n lang houtbalk hang. Aan die ander punt is ‘n swaar gewig wat die emmer water uit die rivier na hoërliggende dele hys. Soms moes daar van ‘n hele reeks sjadoefs gebruik gemaak word om die lande te besproei wat uitermatig hoog geleë was.

waterskep

Selfs vandag nog besproei boere hulle lande deur water uit die Nylrivier te skep met behuip van ‘n sjadoef of ‘n swaaitoestel.

 

Kanaänitiese landbou

Die wyse van besproeiing in Kanaän het heeltemal van bogenoemde metode verskil. In Kanaän het die sukses van die boerdery nie van die styging van die watervlakke van groot riviere afgehang nie, maar van winterreëns wat van jaar tot jaar gewissel het en verder was dit ook nodig om water op te gaar. Moses het derhalwe die Joodse volk daarop gewys dat die klimaat geheel en al van God se voorsienende sorg afgehang het: “Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit ‘n groentetuin is. Die land wat julle in besit gaan neem, is ‘n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater” (Deuteronomium 11:10-11). As hulle egter God dien, sal Hy vir hulle reën gee op die regte tyd (Deuteronomium 11:13-14). Omdat landbou wat geheel en al van reën afhanklik is, eintlik baie riskant is, het die Kanaänitiese volk hul tot Baäl gewend om hulle grond vrugbaar te maak en vir hulle reën te gee.

Wisselvallige watervoorrade was egter nie die enigste faktore wat die landbou in Kanaän riskant gemaak het nie. Die warm woestynwinde van die suidooste het alles wat gegroei het, geskroei (Jona 4:8; Lukas 12:55). n Ander ernstige probleem was sprinkaanplae. Verskillende soorte sprinkane het in groot swerms getrek (sien Rigters 6:5; 7:12) en alles wat groen is, verslind. In Joël 2 is daar ‘n beskrywing van ‘n verskriklike swermplaag en word dit as ‘n beeld gebruik vir wanneer die dag van die Here aanbreek. Dit was juis ook ‘n sprinkaanplaag waarmee God vir die Egiptenare getref het om hulle te oorreed om “My volk te laat gaan” (Eksodus 10:13-15). Wanneer die sprinkane aangekom het, het hulle soos ‘n leërorde gelyk (Spreuke 30:27). Op ‘n koue dag het hulle egter bly sit en eers gevlieg wanneer die son opgekom het (Nahum 3:17). Verder het die Jode ook met gronderosie te kampe gehad terwyl hulle in Kanaän was. Die winterreëns het dikwels die boonste grondlaag teen die heuwels afgespoel. Keerwalle moes gebou word om dit te voorkom.

Landbou is natuurlik die eerste bedryf wat in die Bybel genoem word. Die eerste taak wat aan die mens opgelê is, was om die grond te bewerk (Genesis 2:15), en dit het ook die mens se taak gebly nadat by die paradys verlaat het (Genesis 3:23). Boerdery het begin toe dit by die antieke mens opgekom het dat, in plaas van wilde graansoorte en groente te soek en bymekaar te maak, dit makliker sou wees om die sade te versamel en op een plek te saai. Met die ontwikkeling van die landbou-implemente en die besproeiingstegnieke het die landbou vinnig gevorder.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(7) Interessante Bybel Gedeeltes – Hennie Stander

“Tugmeester”?

Galasiers 3:24. Die Griekse woord paidagogos word in die Ou Afrikaanse Vertaling met tugmeester vertaal. In die antieke tye was die paidagogos ‘n man (gewoonlik ‘n slaaf) wat verantwoordelik was om die Griekse kind na die skool toe te neem en weer terug huis toe. Hy het ook die verantwoordelikheid gehad om sorg te dra vir die algemene gedrag van die kind. Die Griekse woord het dus later die betekenis van gids, voog of leier aangeneem. In hierdie gedeelte sê Paulus dus dat die Wet ons gids was wat ons na Christus toe gelei het

Die Hebreeuse alfabet

Psalm 37; Psalm 111; Psalm 112; Psalm 119. Op etlike plekke in die Ou Testament (Ou Afrikaanse Vertaling) sien ons die woorde alef, bet, gimel . . . Dit verteenwoordig die letters van die Hebreeuse alfabet. Hebreeuse digters was nogal lief om gedigte te skryf waarin elk van die volgende reëls met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet begin het. Die ekwivalent daarvan in Afrikaans sou wees indien ons ‘n gedig sou skryf waarvan die eerste reël of vers met ‘n “a” begin, die tweede met ‘n “b’, die derde met ‘n “c’, ens. So ‘n gedig word ‘n akrostikon genoem. Dit is natuurlik feitlik onmoontlik om ‘n Hebreeuse gedig wat in hierdie vorm geskryf is net so in Afrikaans te behou wanneer ‘n mens dit vertaal. In die Ou Afrikaanse Vertaling is die Hebreeuse letters telkens in hakies gesit om iets van die oorspronklike vorm weer te gee, maar in die Nuwe Vertaling is dit net uitgelaat.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(6) – Hennie Stander

Die Fariseërs

Die Seleukiede koning wat verantwoordelik was vir die Griekse skool in Jerusalem, is in ‘n veldslag in 164 v.C. verslaan. Die Chassidim, of Fariseërs soos hulle later genoem is, het onder leiding van Simeon ben Shetah daarop aangedring dat van daardie tyd af alle Joodse seuns die “huis van die boek” moes bywoon vir ‘n Joodse opvoeding. Let wel dogters het nie die skool bygewoon nie. Dit moes deur ‘n onderwyser gelei word wat deur die sinagoge betaal is. Die onderwysers moes getroude mans van goeie karakter wees. Sekondêre opvoeding kon ondergaan word by ‘n “huis van studie”. So ‘n skool is toegevoeg tot die tempel in Jerusalem.

Jesus het waarskynlik ook, soos ander Joodse seuns, na ‘n “huis van die boek te Nasaret gegaan toe by omtrent ses jaar oud was. Hy sou saam met ander in ‘n halwe sirkel op die vloer gesit het, met hul gesigte na die leermeester toe. Baie van die onderrig is gedoen by wyse van herhaling. Dit was ook baie algemeen om hardop te lees (sien Handelinge 8:30). Daar is onder andere op tablette geskryf wat dikwels van hout gemaak is (Lukas 1:63). Die enigste teksboek was die Wet, Profete en die Geskrifte wat later as die Christene se Ou Testament bekend gestaan het (vgl 2 Timoteus 3:15).

Die tradisionele wet is aan kinders geleer vanaf die ouderdom van tien jaar tot die ouderdom van vyftien, en na dit die Joodse Wet. Vir diegene wat verder wou studeer, was daar die geleentheid.om na een van die skole in Jerusalem te gaan. Daar het hulle aan die voete van groot leermeesters gesit, soos Paulus aan die voete van Gamaliël gesit het (Handelinge 22:3). Volgens een Joodse tradisie was dit eers in 63 n. C. dat die hoëpriester Josua ben Gimla bepaal het dat alle seuns van ses jaar en ouer in elke stad verplig was om skool toe te gaan. Hierdie datum word egter deur sommiges in twyfel getrek en hulle voer die instelling van openbare onderrig terug tot die tyd van Johannes Hirkanus van ongeveer 130 v.C. Die vroeg-Christelike gemeenskap was te arm om hul eie skole te stig vir hul kinders. Voorts is hulle ook vir bykans die eerste driehonderd jaar van hul bestaan swaar vervolg en het hul nie die mag gehad om so iets te kon doen nie.

leermeesterboekrolle

Jong Joodse seuns in die huis van die boek. Let op die boekrolle op die lae tafel voor die leermeester

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(5) – Hennie Stander

Griekse kultuur

Dit was nie lank nadat die Jode uit hul ballingskap teruggekom het, terwyl hul land nog onder die bewind van die Seleukiede (in Sirië) en die Egiptenare was, dat hulle onder, die invloed van die Griekse idees en kultuur gekom het nie. Vanweë die oorwinnings van Aleksander die Grote is die Griekse (of Hellenistiese) kultuur dwarsdeur die bekende wêreld van daardie tyd ver­sprei. Die ryk priesterlike families het die kultuur aanvaar, terwyl hulle die Griekse taal en letterkunde gebruik het en selfs Griekse spele in Jerusalem toegelaat het. Hulle het later baie van die Griekse gedagtes oorgeneem en het toe as Hellenistiese Jode bekend gestaan. Daar was hewige reaksie teen hierdie hellenisering veral toe die Griekse spele in die stad ingevoer is. ‘n Duidelike breuk het ontstaan tussen die Helleniste wat die Griekse kultuur aangeneem het en die Chassidim (godvresendes”) wat die Joodse geloof wou behou en enige verandering teengestaan het. Sake is tot ‘n spits gedryf toe die Helleniste in 175 v.C. besluit het om ‘n Griekse gimnasium (“skool”) in Jerusalem op te rig, en baie Jode het hulle seuns hierheen gestuur om ‘n Griekse vorm van opvoeding te ondergaan.

Die Griekse kind het gewoonlik vanaf die ouderdom van ses of sewe jaar skool toe gegaan. Dit was ook net die seuns van aristokratiese families wat in hierdie elementêre skole toegelaat is. Hier het by basiese vaardighede geleer soos lees, skryf, en tel, maar ook musiek (digkuns, dans, die speel van musiekin­strumente) en fisiese vaardighede (stoei, boks, hardloop, spies- en diskusgooi; vgl 1 Korintiërs 9:24-27). Op die ouderdom van sestien jaar het hulle na die gimnasium gegaan om letterkunde, filosofie en politiek te bestudeer.

Volwassenes wat daarin belanggestel het, het hierdie besprekingsklasse in die gimnasium bygewoon. Uitstaande leermeesters het hulle eie skole in die stad Athene gestig, en diegene wat wou het dan na die stad gekom om van hulle te leer. Paulus het self ook in Efese vir twee jaar lank die lesingsaal van Tirannus gebruik waar by die Evangelie van Jesus verkondig het (Handelinge 19:9-10).,

Skrywer:  Prof Hennie Stander