Die Romeinse leer
In die Nuwe Testament is die Romeinse leer die belangrikste militêre element wat die Joodse volk oorwin het en hulle eindelik oor die aarde heen verstrooi het. Maar in die proses het die Romeinse soldaat so deel van die Joodse omstandighede geword dat militêre metafore alledaags geword het. As die Christen se stryd teen die duiwel in Efesiërs 6:13-17 beskryf word, is die wapenrusting in terme van ‘n Romeinse soldaat se toerusting beskryf: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard. In Kolossense 2:15 word Jesus se oorwinning as ‘n triomftog beskryf waarin Hy die bose magte in die openbaar vertoon. Die beeld herinner aan die Romeine wat diegene wat hulle verslaan het in ‘n parade deur die strate laat loop het sodat almal Rome se mag en die vyand se verslane toestand as vernedering kon aanskou. So sal Christus ook vir Satan laat paradeer. In 2 Timoteus 2:3-4 word die Christen as soldaat van Christus voorgestel wat net soos ‘n Romeinse soldaat hom voltyds aan die leër wy en hom nie met die gewone burgerlike lewe bemoei nie.
Sesarea, aan die Middellandse See, was die hoof militêre basis van die Romeinse leër in Judea. Die stad is deur Herodes die Grote vir die Romeine gebou omdat daar ‘n natuurlike hawe suid van die berg Karmel was. Afdelings van die Romeinse leër te Sesarea het gewoonlik in Jerusalem diens gedoen en is in die Burg Antonia gestasioneer.
Soms is van die plaaslike bevolking ingespan om die soldate by te staan, maar omdat dit beteken het dat sodanige soldate moes meedoen aan die Romeinse aanbidding van die keiser-Augustus wat na sy dood as god vereer is, en Caligula wat dit nog tydens sy lewe laat instel het-en omdat hulle gedurig wapens moes dra, ook op die Sabbat, is die Jode van hierdie verpligting vrygestel. Die leër in Judea het dus uit Romeinse en Siriese troepe bestaan wat deur Romeinse offisiere aangevoer is.
Replikas van Romeinse oorlogmasjiene by Masada
Die Romeine het die finansiële uitgawes aan hulle leer op vindingryke wyse voorsien. Die soldate is redelik goed betaal sodat dit nie moeilik was om rekrute te vind nie. Verder het soldate voedsel gekry en by uittrede ‘n stuk grond, gewoonlik op die grense van die ryk waar hulle goeie buffers teen invallers kon wees as gevolg van hulle militêre ervaring. Die kostes verbonde aan die leër is betaal uit belasting wat gehef is op die dele waar die leër moes dien. So het die Romeine ‘n magtige leër gehad wat ‘n groot faktor was in hulle uiteindelike heerskappy oor die grootste deel van die destydse wêreld wat vandag as Engeland, Europa, Klein-Asië en Noord-Afrika bekend is en waaronder Palestina natuurlik as deel van Klein-Asië getel het. Hierdie groot ryk het vir die verspreiding van die Christendom, nieteenstaande die vervolgings van Christene, die voordeel gebied dat die apostels makliker kon reis en dat taal en kultuur oor die hele ryk baie ooreenstemming gehad het – eers Grieks wat nog lank nadat die Romeinse leërs gebiede oorwin het, die algemene voertaal gebly het, en later al meer Latyn wat tot na die Middeleeue oor groot dele die offisiële taal van die kerk en die akademie was.
Die Romeinse legioene of leërafdelings het in die tyd van die Nuwe Testament ‘n eenheid van 6000 soldate getel en is deur ‘n legatus aangevoer wat gewoonlik ‘n oud-senator was. ‘n Legioen is in tien afdelings verdeel van 600 man en is ‘n kohort genoem wat aangevoer is deur ‘n tribunus wat in Handelinge 22:24 ‘n kommandant genoem word. In die Ou Afrikaanse Vertaling word hy ‘n owerste oor duisend genoem wat ‘n letterlike vertaling van die Griekse term “chiliarchos” is, ‘n term wat leier van duisend beteken. Dit was egter slegs ‘n titel met ‘n ronde getal en het in werklikheid ‘n eenheid van 600 beteken. Ses hoofmanne oor honderd het die afdelings waarin die 600 verdeel is, aangevoer. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling word hulle kapteins genoem, of ook net offisiere soos in Matteus 8:8 en Handelinge 10:1, 23:23 en 27:43.
Die Romeinse legioene het almal getalle gehad wat deel uitgemaak het van die naam van die legioen. Die feit dat die vierde, sesde, tiende en twaalfde legioen almal op een of ander plek in Palestina en omgewing gestasioneer was, toon ook aan dat dit ‘n gebied was wat moeilik in bedwang gehou kon word. Immers vir die Jode was die Romeinse teenwoordigheid ‘n gruwel en al waarvoor hulle geleef het was die koms van die Messias wat volgens hulle opvattings ‘n persoon sou wees wat die Romeine sou uitjaag en weer die troon van Dawid in ere sou herstel.
Naas die voetsoldate van elke eenheid was daar ook soldate met spesiale opdragte soos die boogskutters, die ruitery, die geneeshere en die trompetters en vaandeldraers. Elke afdeling van 100 het sy eie vaandel gehad met eie simbole daarop. Die Jode en Romeine was dikwels hieroor in onenigheid, want heidense simbole in Jerusalem self, was vir die Jode onaanvaarbaar.
Die Romeinse soldaat het beskermende klere (van leer gemaak) gedra en as wapen gewoonlik die kort dolk wat-, ook as ‘n stuk gereedskap vir allerhande dinge gebruik is. Die gewone swaard was sowat ‘n halwe meter lank en die spies kon tot twee meter lank wees. Spiese is in stormlope gebruik om die vyand te gooi voordat die hand tot hand gevegte met swaarde begin het.
Die Romeine het baie oorlogstuig gebou waaronder die catapulta of reuse boog-‘n masjien wat spiese of soortgelyke lang pyle kon afskiet om bo-oor ‘n muur te trek. Die ballista was ‘n masjien wat soos ‘n reuse slingervel groot klippe tot ‘n halwe kilometer ver kon slinger.
Naas die gewone soldate was daar ook die keiserlike wag (Filippense 1:13) wat die regters beskerm het en oral ook by gevangenisse as bewakers diens gedoen het. Hulle was beskou as die keiser se lyfwagte en is meer as gewone soldate betaal.
Skrywer: Prof JP Louw