Hoe leef ’n mens in die woestyn “sonder water”?

Hoe leef ‘n mens in die woestyn “sonder water”? – Jan van der Watt

Sonder water kan ‘n mens nie leef nie. Kom ‘n mens egter in Israel by plekke soos Kumraan of Masada wonder jy hoe die mense aan die lewe gebly het, want dit is in die middel van ‘n woestyn. Waar het hulle water vandaan gekry? Ons weet dat in die woestyn “oases” ‘n mens aan die lewe gehou het (Jerigo is byvoorbeeld so ‘n oase). By Masada of Kumraan is daar nie oases nie. Die Dooie See is wel naby, maar daardie sout water kan ‘n mens nie drink nie. Tog het groepe mense in dié stede aan die lewe gebly. By Masada het Herodes selfs ‘n pragtige paleis met tuin en al gebou. Dit lyk dus of daar selfs genoeg water was vir ‘n tuin.

Alles het gegaan oor waterbeheer. In die woestyn het daar net een of twee maal per jaar reën geval. Dit was gewoonlik donderstorms wat nie lank geduur het nie. In die kort tydjie wat die storm geduur het, het die hemel oopgeskeur en duisende liter water het neergestort.

As ‘n mens mooi na die plekke kyk, sien jy interessante dinge: Oral is vlakkerige vore (wat ‘n mens soms nie eers opmerk nie). Die vore loop na sekere punte in die nedersettings toe en daar kry jy massiewe opgaartenke wat in die rots uitgekap is. Die vore is so georganiseer dat feitlik al die water wat in die area geval het, in die opgaartenke beland het. Die water wat die een of twee keer geval het, was so baie dat dit die nedersettings die hele jaar kon hou. Die water was so baie dat die mense van Kumraan selfs elke dag rituele baddens kon vat.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Wat is ’n hoeksteen?

Wat is ‘n hoeksteen? – Jan van der Watt

Ons hoor in die Bybel van ‘n huis wat op rots of op sand gebou kan word (Matteus 7), of Jesus wat die hoeksteen van ‘n huis is (1 Petrus 2). Hierdie verse verwys na die manier waarop daar destyds gebou is.

Sement is ‘n moderne uitvindsel. Destyds kon mense nie fondasies met sement gooi nie. Hulle kon ook nie bakstene of klippe aan mekaar “sement” nie. Hulle het inteendeel baksteentjies of klippe mooi op mekaar gepak. Natuurlik is dit op so manier gedoen dat die klippe by mekaar “inhaak” sodat alles nie sommer omval as iemand daarteen stamp nie. Jy moes dus jou pak ken.

Natuurlik was die manier waarop jy weggespring het, belangrik. As jy jou klippe op sand begin pak, kan daardie sand maklik skuif of wegspoel en dan val jou huis inmekaar. Jy het dus altyd ‘n vaste en soliede punt gesoek vanwaar jy jou klippe kon begin pak. Jy het ‘n rots gesoek of indien jy nie ‘n rots gekry het nie, het jy ‘n groot klip of rots solied in die grond ingebed. Jy moes seker maak dat die rots of klip – wat ook ‘n hoeksteen genoem is – so sterk en goed geplant is dat dit nie sal skuif nie. Die res van jou gepakte klippe rus en steun dan op die rots of klip. Die klip of rots (die hoeksteen) moes onder geen omstandighede kon skuif nie.

Jesus is ons hoeksteen en ons is op Hom gebou. Een ding weet ons… Hy sal nie skuif nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die was van voete

Die was van voete – Jan van der Watt

Dit was destyds die gewoonte om gaste se voete te was as hulle by jou kom eet. Daar was praktiese en sosiale redes voor.

1)   Mense het destyds “plakkies” gedra (m.a.w. ‘n velsool met riempies om die sool aan jou voet vas te maak). Jou voete was dus gewoonlik stowwerig as jy van buite af kom. Aangesien hulle destyds op banke rondom ‘n tafel gelê en eet het, was dit onafwendbaar dat jou voete naby die gesig gelê het van die persoon wat langs jou gelê het… en wie wou nou met vuil voete langs iemand anders lê en eet? Was dit dan maar liewer!

Aangesien dit nie jou eie huis was nie, moes die gasheer die gewassery gewoonlik reël. Die “onbelangrikste” persoon in die huis (soos ‘n slaaf) moes gewoonlik hierdie werkie doen. As deel van die voetewas is daar dikwels ook parfuum oor die voete gegooi, sodat die voete nie alleen skoon was nie, maar ook lekker geruik het. Dan was die ete sommer ook baie aangenamer. So het die praktiese reëlings gelyk. Daarom was dit so “dramaties” dat Jesus sy dissipels se voete was (Johannes 13) – Hy was immers die belangrike een. Sy dissipels moes dus eerder sy voete gewas het. Daarom weier Petrus dat Jesus sy voete was.

2)   Voetewas het ook sosiale betekenis gehad, veral as dit by eerbewyse kom. As jy besondere eer aan iemand wou betoon, het jy baie aandag aan die was van sy voete gegee en duur parfuum gebruik. As die vrou Jesus se voete was en dan duur nardussalf daaroor uitgooi, betoon sy besondere eer aan Jesus.

Dink weer aan Jesus wat in Johannes 13 sy dissipels se voete was. Hy vra ons om mekaar se voete volgens sy voorbeeld ook te was. Dit beteken dat ons mekaar in eerbetoon moet voorgaan. Inderdaad, wie die minste in sy of haar optrede is, sal die meeste wees. Dit leer ons aan die hand van Jesus wat voete was.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Vat vyf!

Vat vyf! – Jan van der Watt

Ons het die gewoonte om mekaar se regterhand te skud. Dit doen ons as ons mekaar groet, maar ook as ons kontrakte beklink. Selfs as twee persone trou, moet hulle mekaar die regterhand gee, as teken van die ooreenkoms wat hulle met mekaar maak. Waarom doen ons dit?

In die antieke tyd, selfs lank voor Jesus, was die regterhand as die “veghand” beskou. Linkshandigheid was negatief gesien en alle persone is geleer om regshandig te werk en te veg. So het die gewoonte in die Ooste ontstaan dat as daar ‘n ooreenkoms of vriendskap gesluit word, die twee persone mekaar se regterhande vasvat. Dit beteken dat hulle nie hulle “vegshande” teen mekaar sal (of kan) gebruik nie. Die persoon plaas liewer sy “veghand” in die hand van die persoon met wie hy ‘n ooreenkoms maak.

Uit die afbeeldings uit die ou tyd het die persone mekaar se regterhande vasgevat. Maar wat van die linkerhande? In al die afbeeldings wat ek kon opspoor, het die betrokkenes iets (bv. ‘n knapsak of so iets) in hulle linkerhande gehou. Hulle hande was dus altwee vol.

Handsluit was dus ‘n baie simboliese aksie – dit het vriendskap en verbondenheid uitgedruk; ‘n ware “nie-aanvalsverdrag”.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt