Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis?

Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis? – Jan van der Watt

As jy enigiemand sou vra of Jesus se hande en voete aan die kruis vasgespyker is, sal jy amper ‘n 100% “ja” antwoord kry. Het jy geweet dat ons dit nêrens presies so in die Bybel lees nie?

In Matteus en Markus lees ons glad nie van spykers of merke in die hande en voete van Jesus nie. In Lukas lees ons ook nie van spykers en spykermerke in Jesus se hande en voete nie. Ons lees wel dat Jesus vir sy dissipels sy hande en voete “wys”. Wat Hy presies “wys” word nie gesê nie. Kom ons by die Johannesevangelie lees ons wel dat Jesus na die merke in sy hande en sy sy verwys. Hieruit sien ons dat spykers gebruik is. Tog noem Johannes weer glad nie die voete van Jesus nie.

Ons ideë van Jesus se hande en voete wat aan die kruis vasgeslaan is, kom dus van ‘n kombinasie van die feite uit Lukas (Jesus wys sy hande en voete) met die verwysing in Johannes na die spykermerke in die hande van Jesus (sonder verwysing na die voete).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Speletjies

Speletjies – Jan van der Watt

Wat het die mense destyds met hulle vrye tyd gemaak? Hulle het nie TV’s of boeke gehad om te lees nie. Natuurlik het hulle hard gewerk. Die vroue moes vir die huishouding, kinders en kos sorg – dit was ‘n voltydse werk, hoewel almal in die gesin moes help. Die mans se “werksdag” was ook lank, van sonop tot sononder (6 vm tot 6 nm), wat beteken het dat nie veel vrye tyd oorgebly het nie. Tog het nie almal gewerk nie – sodat daar dus mense met meer vrye tyd as ander was. En dan was daar nog kinders ook.

Ons weet van bordspele wat baie gewild was. In die voorhof van Pilatus se fort waar Jesus verhoor is, is daar op die rotsvloer sulke “borde” uitgekrap waarop die soldate gespeel het.

Dan was daar musiek en danse wat deel van die alledaagse lewe uitgemaak het. Ons lees van die kinders wat met musiek saam dans.

Ons lees ook verhale van kinders wat kleifigure gemaak en daarmee gespeel het, nes ons kinders in die ou dae klei-osse gemaak het.

Verder kan ons aanneem dat dinge soos stoei en sulke “krag-speletjies” ook onder seuns gewild was. Terwyl die seuns mekaar so reggesien het, het die meisies, nes ons dogters, pop gespeel.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Slawe – hoe is hulle behandel?

Slawe – hoe is hulle behandel? – Jan van der Watt

Baie mense dink dat slawe in die ou tyd net sleg behandel is. Dit was nie heeltemal waar nie. Daar was slawe wat sleg behandel is, maar dit was nie outomaties so nie.

Slawe was die eiendom van sy of haar baas. Die slaaf het geen persoonlike regte of ‘n “eie wil” gehad nie. Die slaaf was soos ‘n stoel of tafel in ‘n huis. Die baas kon daarmee doen wat hy wil.

As ‘n mens dit besef, besef jy dat ek nie my kar sommer sal verniel nie – dit is immers vir my ‘n bate. Net so was slawe die eienaar se bate. As hulle op die lande moes werk, was dit belangrik dat die slawe gesond en sterk bly. Daarvoor het die baas gesorg en daarom sou die baas nie sy slawe onnodiglik sleg behandel nie.

Natuurlik, hoe meer vaardighede die slaaf gehad het, hoe kosbaarder was die slaaf. Immers, ‘n groot bron van slawe was oorloë. As jy ‘n land inneem, was al die geleerdes, vakmanne ens. slawe gemaak. Dit kon dus wees dat jy ‘n slaaf kon kry wat die “minister van opvoeding” in die ander land was, of ‘n professor, of advokaat. So ‘n slaaf was natuurlik baie waardevol en is goed opgepas.

Ons weet van slawe wat as bestuurders van plase aangestel is, as privaat “onderwysers” vir die kinders van rykes, ens. Hulle is dus nie sleg behandel nie.

Wat wel gebeur het, is dat ongehoorsame slawe gedissiplineer is. Om dissipline te handhaaf, moes daar soms met geweld en selfs die dood (as afskrikmiddel) gereageer word.

Wat die slegste vir slawe was, was die totale verlies aan eie vryheid, die plaas van jou lewe en wil in die hand van iemand anders. Jy verloor beheer oor jouself en jou eie vryheid. Dit kan sleg wees… behalwe as jy ‘n slaaf is van die Goeie Meester.

Skrywer: Prof Jan an der Watt

 




‘n Lysie van siektes waarvan ons in die Bybel lees

‘n Lysie van siektes waarvan ons in die Bybel lees – Jan van der Watt

Siektes in Bybe;l

Bloedvloeiing vir 12 jaar  – Matteus 9:20

Boggelrug, blinde, kreupele, misvormdheid, gebreekte voet of hand, pêreloog, skurfte of veluitslag, beskadigde geslagsdeel – Levitikus 21:18-20

Kanker – 2 Timoteus 2:17

Kneusplekke en rou wonde – Jesaja 1:6

Koors – Petrus se skoonma – Matteus 1:14-15 , ‘n Klein seuntjie – Johannes 4:52

Maagkoors soos by Publius se pa – Handelinge 28:8

Onvrugbaarheid, by Sara, Hanna, and Elisabet – Genesis 16:1; 1 Samuel 1:6; Lukas 1:7

Swere:

– die Egiptenare tydens die sesde plaag – Eksodus 9:9-10

–  Koning  Hiskia 2 Konings 20:7

–  Job Job 2:7

– Swere van Egipte, bloedvinte, uitslag en jeuksiektes Deuteronomium 28:27; 28:35

– Pesswere, soos by die Filistyne wat die Ark gesteel het 1 Samuel 5:6

– Swere van die bedelaar Lasarus Lukas 16:20

Kwaadaardige en pynlike sere – Openbaring 16:2

Water – Lukas 14:2

Wurms, soos wat Herodus gehad het – Handelinge 12:21-23

Skrywer: Prof Jan van der Watt