Het jy geweet? Begrafnisse

Het jy geweet? Begrafnisse – Jan van der Watt

Lyke moes in die Joodse tradisie so gou moontlik begrawe word (Deuteronomium 21:23; Handelinge 5:5-6, 10), waarskynlik omdat die klimaat so warm is in Palestina, maar ook omdat lyke as ritueel onrein gesien is.

Om iemand nie te begrawe nie, was om aan daardie persoon geweldige oneer te bewys (1 Konings 14:10-14; 2 Konings 9:34-37; Openbaring 11:9). Hoewel die Jode se bure, naamlik die Grieke en Romeine, lyke veras het, was dit nie ʼn gebruik onder die Jode nie. Alleen in uiterste gevalle is dit toegelaat, byvoorbeeld as die liggaam vreeslik geskend was (1 Samuel 31:12) of as daar ʼn plaag gedreig het (Amos 6:10).

Nadat die persoon sy laaste asem uitgeblaas het, het die oudste seun of ʼn ander nabye familielid die gestorwene se oë toegemaak sodat dit lyk of hy/sy slaap (Genesis 46:4). Daarna is die liggaam gewas (Handelinge 9:37) en met lekkerruik parfuum en olie gesalf (Johannes 12:7). Die liggaam is dan in materiaal (vir gewone mense gewoonlik linne) toegedraai (Matteus 27:59; Johannes 11:44). Daarna is die persoon in ʼn voorbereide graf gaan neerlê (Johannes 19:39-42). Die liggaam is gewoonlik op ʼn houtdraagbaar geplaas en deur lede van die huishouding na die graf gedra (2 Samuel 3:31). Die familie is deur professionele roubeklaers begelei, wat gewoonlik vroeër al na die huis toe gekom het. Dit was belangrik om hardop te huil en so jou rou en smart bekend te maak (2 Samuel 3:31; Jeremia 9:17; Amos 5:16; Matteus 9:23). Dit was ook belangrik dat die persoon in die ‘familiegraf’ begrawe moes word. As iemand nie in die familiegraf begrawe word nie en die familie ook nie vir ʼn aantal dae intensief rou nie (die hele rouproses vir die vrou moes tot ʼn jaar duur), is dit as oneer vir die gestorwene gesien. Nie een van die vereistes was in die geval van Jesus se begrafnis teenwoordig nie. Daaruit lei teoloë af dat Jesus se lyding na sy dood aangegaan het – ook sy begrafnis was vernederend. Met sy opstanding sou alles egter verander.

Grafte is dikwels uit rotse gekap sodat dit soos ʼn kamer met beddens lyk. Die lyke is dan op die ‘beddens’ neergelê. Nadat die lyk ontbind het, is die bene bymekaar gemaak en in ʼn kissie deur die familie bewaar. As daar dus van ʼn nuwe graf met Jesus se begrafnis gepraat word (Johannes 19:41), beteken dit dat daar nog nie iemand voor Hom in die graf begrawe is nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 




Het jy geweet? Belastinggaarders en tollenaars

Het jy geweet? Belastinggaarders en tollenaars – Jan van der Watt

Belasting betaal is amper so oud soos die mens self! In Israel was belasting betaal ook iets algemeen. Nog erger – elke keer as ʼn vreemde nasie Israel oorwin het, moes die Israeliete aan daardie oorwinnaar belasting betaal. Geen wonder dat ʼn mens ʼn paar keer van belasting in die Bybel lees nie

Afgesien van tempelbelasting was daar ook ander belasting waarvan die Bybel vertel. Mense moes hulle dienste aanbied (2 Samuel 20:24; 1 Konings 5:13; 2 Kronieke 2:2, 17-18), kos gratis gee (1 Konings 4:7) en dan is daar ook tol van handelaars gevra (1 Konings 10:14-29; 2 Kronieke 9:13-28). Soos reeds gesê, kon vreemde oorheersers ook belasting op volke lê waaroor hulle geheers het. Dit was vir die Jode ’n baie sensitiewe saak dat hulle vir die Romeine belasting moes betaal. Daarom probeer hulle Jesus oor die belasting vasvra (Markus 12:13-17). As Hy sou sê dat ʼn mens nie belasting moes betaal nie, sou die Romeine vir Hom vies gewees het en as Hy gesê het dat ʼn mens wel belasting moes betaal, sou die patriotiese Jode nie tevrede gewees het nie.

ʼn Metode wat die Perse ingevoer het en wat goed gevestig geraak het, was dat die koning van ʼn land aan die onderdrukker ʼn som betaal het. Hy het dan die reg gehad om die geld van elke individuele lid van sy koninkryk te verhaal. So ʼn koning was dan die belastingagent. Dit is ook die sisteem waarop die tollenaars later sou werk, maar met een belangrike verskil. Die reg om belasting in te vorder is aan die hoogste tenderaar gegee. Hy het die geld dan vooruit betaal en moes dan deur die loop van die jaar die geld van die gewone mense terugvorder. Dit het natuurlik tot allerhande misbruike aanleiding gegee. Skelm tollenaars en slegte administrateurs van die konings het dikwels meer ingevorder as wat hulle moes. Immers, alles wat hulle ekstra kon kry, was vir hulle wins. Die gevolg was dat hulle die mense uitgebuit het en daarom was die tollenaars ook so ongewild. Uitbuiting het selfs so ver gegaan dat van die konings belastingbetalers gedwing het om hulle grond vir hom te gee of hulle kinders as slawe te verkoop. Nehemia, byvoorbeeld, het hierdie tipe korrupsie teengestaan tot groot vreugde van die volk (Nehemia 5).

Ons kla dikwels oor belasting, maar luister hierna. Die Romeine het baie verskillende soorte belasting gehad, wat dit vir die gewone mense baie moeilik gemaak het. Hulle het verkoopsbelasting gehad op goedere wat verkoop is, hulle het boedelbelasting gehef, asook vervoerbelasting van goedere wat vervoer moes word. In Jerusalem is daar selfs ‘erfbelasting’ (op elke huis) gehef om die muur van die stad te bou.

Kyk wat moes ʼn gewone inwoner van Palestina aan belasting betaal: Die Romeine het ongeveer 19% van die oes gevat as oesbelasting, 1% van die inkoste van ʼn gesin as gesinsbelasting, 5% verkoopsbelasting, 7% geskenke vir die amptenare en ander vorms van belasting wat op 32% uitwerk. Die Jode 8% op oeste, 1% op die families en 3% offer en ander belasting gehef wat op 12% uitwerk. Dan is daar deur wat ons korrupsie sou noem nog 5% deur die belastinggaarders uit die mense gewurg. Dit beteken dat ʼn gewone Jood 49% van sy inkomste aan die belastinggaarder moes afstaan

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Het jy geweet? Die paradys?!

Het jy geweet? Die paradys?! – Jan van der Watt

Die Persiese (Iranse) konings in die Bybelse tyd het indrukwekkende paleise gebou. Deel van hierdie paleise was gewoonlik ’n pragtige tuin waarin die koning kon gaan stap of ontspan het.

Die interessante is dat van die konings die tuine ook as tipe “vertoonvensters” vir hulle mag gebruik het. In die tuine is daar bome en plante uit hulle hele ryk geplant. Al die vreemde en eksotiese plante moes wys hoe groot en magtig die koninkryk was. Die tuin is gewoonlik omhein en bewaak – en so ʼn tuin is “paradys” genoem.

Dit laat ons natuurlik dink aan Genesis en die “paradys”. Adam en Eva het daar gewoon en daar was diere en bome (ook spesiale bome soos die boom van kennis van goed en kwaad). Die tuin was omhein en bewaak. God het ook op sekere tye hier kom “wandel” (wat die ideë skep dat Hy uit die “paleis” in die “tuin” kom “wandel” het). Hierdie tuin is ook “paradys” genoem. Die ooreenkomste is meer as opvallend.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Het jy geweet? Jesus in doeke toegedraai

Het jy geweet? Jesus in doeke toegedraai – Jan van der Watt

Ons lees dat Jesus in doeke toegedraai is na sy geboorte.

Dit was die algemene ding om met ʼn baba te doen. Die baba is na geboorte gewas en dan met sout ingevryf. Dit moes die baba reinig en die velletjie ferm te kry. Die baba is dan ‘in doeke’ toegedraai. Die baba se gewrigte is eers met linne vasgedraai. Hulle het gedink dit is beter vir die baba tot die spiere sterker word. Dan is die baba met ʼn vierkantige doek toegemaak. Die doek is soos ʼn koevert om die baba gevou. Ander linnedoeke is dan rondom die baba gedraai sodat die baba byna soos ʼn kokon gelyk het. Die baba is gereeld skoongemaak en is gereeld met olyfolie ingevryf, wat selfs ʼn bietjie lekkerruikgoed in kon hê.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt