Die Jordaanrivier

Die Jordaanrivier – Coen Slabber

Die Jordaanrivier loop van Sirië tot by die golf van Akaba in ’n noord-suid rigting. Jordaan beteken letterlik afdaal – die Jordaanrivier is dus die rivier wat afdaal. Dit verloop in ’n skeurvallei en sak tot laer as seespieël. In die noordelike deel van die Huleh-meer vloei vier strome saam. Hulle word onder andere gevoed deur die sneeu van Berg Hermon wat smelt.

jordaan

Van hierdie meer vloei die rivier na die See van Galilea 32 kilometer verder. [Op die webblad is daar artikels oor die See van Galilea en die Dooie See.] Daarna verloop dit na die Dooie See 105 kilometer suid van die See van Galilea soos die kraai vlieg. Die rivier het baie kronkels en in werklikheid is die afstand 320 kilometer. Die Dooie See is ongeveer 400 meter onder seespieël.

Baie belangrike gebeurtenisse vind by hierdie rivier plaas. Kom ons kyk na ’n paar:

  •  Die eerste vermelding van die Jordaan kry ons in Genesis 13. Abram en Lot moet die land tussen hulle verdeel. Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos ’n tuin van die Here. Lot kies die Jordaanvallei en trek ooswaarts. So skei hy en Abram.
  •  In Genesis 32 lees ons dat Jakob by die Jabbokdrif (die Jabbok was ’n sytak van die Jordaan) met ’n man gestoei het. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het … Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.
  •  Die Israeliete moes deur die Jordaan trek om in die beloofde land te kom. Die rivier was vol – oor al sy oewers. Maar dan: Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan (Josua 3).
  •  Nadat Elia vir Agab gesê het dat daar vir ’n paar jaar geen dou of reën sou val nie, trek hy ooswaarts na die Kritspruit net anderkant die Jordaan (1 Konings 17).
  •  Elia het met sy mantel op die water van die Jordaanrivier geslaan: Die water het na links en na regs verdeel. Hy en Elisa is op droë grond deur die rivier. Hulle staan nog en gesels toe kom daar ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in (2 Konings 2).
  •  Naäman, die hoof van die leer van Aram, ontwikkel melaatsheid. Sy vrou se bediende beveel aan dat hy na Elisa moet gaan, want hy sal hom kan genees. Elisa se opdrag is dat Naäman hom sewe maal in die Jordaan moet was. Hy was woedend – hy het iets meer verwag. Uiteindelik oorreed sy amptenare hom om tog vir hom in die Jordaan te was – en sy vel het gesond geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein (2 Konings 5).
  •  Elisa en die profete wat hy onderrig het trek na die Jordaan. Terwyl hulle besig was om bome af te kap val een man se byl in die water. Nadat die man vir Elisa gewys het waar die byl ingeval het, kap Elisa ’n stuk hout af en gooi dit op daardie plek in. Dit het die byl bo laat dryf (2 Konings 6).
  • Jesus het van Galilea getrek na Johannes die Doper by die Jordaan. Johannes het daar vir Jesus gedoop. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheerlik ek My (Matteus 3:13 – 17).
  • Jesus en sy dissipels was in die streke van Sesarea-Filippi by die Jordaan. Daar vra Jesus vir sy dissipels: Maar julle …. wie, sê julle is Ek? Daarna volg Petrus se belydenis: U is die Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:13 – 20).
  • Jesus is op pad na Jerusalem. Hy reis deur Jerigo wat by die Jordaan was. Daar maak hy twee blindes gesond (Matteus 20:29 – 34)
  • Jerigo was ook waar Jesus en Saggeus, die hooftollenaar, mekaar ontmoet het en waar Jesus by hom tuisgegaan het (Lukas 19:1 – 10).

Uit hierdie kort oorsig is dit duidelik dat die Jordaanrivier ’n belangrike rol in die geskiedenis van Israel gespeel het, maar ook in die lewe van Jesus.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber





Dawid en die Psalms

Dawid en die Psalms – Coen Slabber

Die boeke van die Bybel het aanvanklik geen titels/opskrifte gehad nie. Soos ander antieke Midde-Oosterse literatuur is na hierdie boeke verwys volgens hulle openingswoorde. So word daar na Genesis as bere’shith – in die begin – verwys. Die versameling liedere, getuienisse, gebede, profesieë en ander materiaal wat uiteindelik die Psalms sou word, word in die Septuagint die psalmoi (liedere gesing met ’n snaarinstrument) genoem.

In die studie van die psalms word daar gewoonlik baie aandag gegee aan wie die skrywer was en wat die historiese agtergrond van die psalms was. In die Christelike tradisie staan die psalms as ’n geheel mettertyd bekend as die Psalms van Dawid. Daarom kry ons dat individuele psalms dikwels aan gebeure uit sy lewe gekoppel word. Baie psalms se opskrif lees dan ook: ’n Psalm van Dawid.

 

Wat beteken dit as ons lees van Dawid? Daar is twee probleme hiermee:

(1) Dit mag verwys na Dawid, die seun van Isai wat vir Saul as koning opgevolg het. Dit mag egter ook verwys na enige latere koning uit die geslag van Dawid.

(2) Die woordjie wat met van vertaal word, mag ook ander betekenisse hê. ’n Paar moontlikhede is:

  •  Aan – Die psalm word aan Dawid (of ’n latere koning) gerig of is aan hom opgedra.
  •  Behoort aan – Hierdie psalm behoort aan ’n versameling wat deur Dawid of ’n latere koning geborg of gemagtig is.
  •  Vir – Vir Dawid of ’n latere koning om te gebruik of van te leer.
  •   Daar word gebid vir Dawid of ‘n latere koning.
  • Dit gaan oor Dawid of ’n latere koning.
  • Deur – Die Skrywer is Dawid of ’n latere koning.

Hier het ons te doen met ’n herhalende patroon in die Skrif: boeke wat anoniem was, het mettertyd skrywers gekry wat met hulle geassosieer is. Ons dink hier onder andere aan Matteus en Markus. Sodra boeke deur die gemeenskap aanvaar word, wil hulle dit graag assosieer met iemand van wie hulle weet. Ons kan sien hoekom Dawid se naam in die opskrifte met die psalms geassosieer word. Veral in Kronieke word Dawid beskou as die beskermheer van aanbidding: Hy (Hiskia) en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf (2 Kronieke 29:30). Ons weet dat Dawid baie liedere geskryf het. ’n Goeie voorbeeld kry ons in 2 Samuel 22. In 1 Konings 4:32 lees ons: Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig. Sy reputasie as musikus en digter maak van hom ’n natuurlike kandidaat om as skrywer van die psalms as ’n geheel geïdentifiseer te word.

Die lang opskrifte wat verwys na sekere insidente in die lewe van Dawid het ’n verdere betekenis. Kyk na Psalm 3 se opskrif: ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Mense het onmiddellik aanvaar dat Dawid hierdie psalm geskryf het, alhoewel hier geen vermelding van die skrywer is nie. Al wat hierdie opskrif probeer doen, is om mense te help om hulle verbeelding te gebruik om die werklikheid van die toneel te begryp.

Vergelyk ons hierdie lang opskrifte met die inhoud van die psalm sien ons dikwels raakpunte, maar ook punte van verskil. Psalm 51 is ’n goeie voorbeeld: Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid na aanleiding daarvan dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. Hierdie psalm is baie toepaslik vir ’n koning met “bloed” aan sy hande, maar Dawid kan tog nie sê: Teen U alleen het ek gesondig nie. Is hierdie opskrif nie dalk later bygevoeg nie? Die hele doel van die opskrifte was om hierdie psalms te koppel met insidente uit die lewe van Dawid waarvan die Ou Testament ons vertel.

Die tradisionele Joodse Midrash (antieke kommentaar oor ’n deel van die Hebreeuse Skrif wat aan die teks van die Bybel geheg is – Oxford English Dictionary) sê dat alles wat Dawid in die Boek van die Psalms gesê het, op homself, op Israel en vir alle tye van toepassing is. Om die psalms met insidente uit die lewe van Dawid te koppel het mense geleer om die betekenis van die psalm en die verhaal waarna verwys word, raak te sien.

Die psalms se krag en gesag word nie bepaal deur die persoon wat hulle geskryf het nie – ’n belangrike persoon wie se naam ons ken nie. Hulle was gebede en lofliedere wat God aanvaar het. Hulle is deur die geloofsgemeenskap aanvaar, want dié het besef dat hulle waar is – al was hulle anoniem. Vir Christene is die feit dat hulle deur Jesus Christus aanvaar is ’n verdere beklemtoning van hulle gesag. Daardie geloofsgemeenskap wat hulle aanvanklik aanvaar het, nooi ons uit om te luister hoe God met ons deur hierdie psalms praat – en om dit ons eie gebede en lofprysing te maak.

Verwysing:

Goldingay, John (2006): Psalms, Volume 1, bladsy 28.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber




Soldate in die Nuwe Testament

Soldate in die Nuwe Testament – Coen Slabber

Op die webblad is daar drie artikels oor oorlogvoering in die Ou Testamentiese tyd. In verskeie gedeeltes in die Nuwe Testament word daar ook na soldate verwys. As ons kyk na films wat handel oor gebeure van daardie tyd, kry ons amper die indruk dat daar ‘n soldaat op elke straathoek was. Was dit so? Kom ons kyk eerstens na wat ons weet van soldate in Judea en Galilea in Jesus se tyd. Darna gaan ons kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Soldate in Judea en Galilea

Herodes die Grote: Sy persoonlike leër het bestaan uit Jode sowel as buitelandse huursoldate. Rome het drie legioene aan hom geleen. Hierdie legioene moes die invallers uit Parthië uitdryf. ‘n Legioen in die Romeinse leër het uit 3 000 tot 6 000 soldate bestaan. Teen die tyd van Jesus se geboorte het Herodes egter nie meer Romeinse troepe gehad nie. Hy het wel heelwat Joodse soldate gehad plus een eenheid (kohort) elk van huursoldate uit Duitsland, Gallië (die huidige Frankryk) en Thrasië (‘n antieke land geleë wes van die Swartsee en noord van die Egeïese See). ‘n Kohort het bestaan uit ses afdelings van 100 soldate elk. Herodes het wel ‘n paar Romeinse raadgewers en offisiere gehad.

Herodes Antipas. Hy het ook sy eie leër gehad. Ons weet egter min van sy leër – sy soldate was waarskynlike Jode en buitelandse huursoldate.

Pontius Pilatus. Sy setel was Sesarea Maritima, die provinsiale hoofstad van die Romeine. Daar was vier kohorte soldate en ‘n kavallerie. In Burg Antonia, in Jerusalem, was nog ‘n kohort gestasioneer. Hulle het die fort en die asenaal beskerm. Vir die groot Joodse feeste het die goewerneur na Jerusalem gereis. Daar het soldate saam met hom gekom. Hulle was tydelik in die Praetorium, die goewerneur se paleis, gestasioneer. Romeinse soldate het gewoonlik met vaandels, wat hulle gode vereer het, gereis. As hulle na Jerusalem gereis het, het hulle die vaandels agtergelaat, want die Romeine het probeer om die godsdienstige gebruike van die land waar hulle gestasioneer was, te eerbiedig. Hierdie soldate is hoofsaaklik in Sirië gewerf en hulle gebruikstaal was Grieks. Die senior offisiere was waarskynlik Italianers.

Die hoëpriester. Die Romeine het die hoëpriester toegelaat om Jerusalem en Judea te regeer. Die goewerneur het egter die hoëpriesters aangestel en verwyder en slegs die goewerneur kon die doodstraf instel. Die soldate van die hoëpriester se primêre taak was polisiëring, maar hulle kon ook die stad beskerm.

Met hierdie as algemene agtergrond kan ons nou kyk na tonele in die evangelies waarby soldate betrokke was.

Die soldate en Johannes die Doper (Lukas 3:14): Ons lees dat soldate na Johannes die Doper gekom het en hom uitgevra het. Omdat Johannes veral in Galilea opgetree het, was hierdie waarskynlik soldate van Herodes Antipas – Jode.

‘n Offisier kom na Jesus (Matteus 8:5 – 13): ‘n Offisier kom na Jesus. Hy vertel vir Jesus dat sy slaaf verlam is en baie pyn verduur. Hierdie was waarskynlik ‘n centurio – ‘n hoofman oor honderd. Dit is baie onwaarskynlik dat daar Romeinse soldate in Galilea, waar hierdie gebeurtenis plaasgevind het, gestasioneer was. Hierdie offisier was waarskunlik ‘n nie-Joodse huursoldaat en offisier in die leër van Herodes Antipas.

Jesus word gevange geneem (Johannes 18): Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde … Hierdie was waarskynlik soldate van die Romeinse afdeling in Jerusalem. In vers 12 lees ons: Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem. Dit maak dit duidelik dat hier ook Romeinse soldate betrokke was. Dit was waarskynlik nie ‘n volle afdeling – 100 soldate – nie.

Jesus voor die hoëpriester (Matteus 26 en 27): Ons lees dat Petrus by die wagte in die binnehof van die hoëpriester se woning gesit het (26:58). Johannes sê dat een van hierdie wagte wat daarby gestaan het vir Jesus geklap het: Antwoord jy die hoëpriester so? (18:22). Markus vertel dat die wagte Hom geklap het toe hulle Hom wegvat – na die vonnis uitgespreek is (14:65). Hierdie soldate het Jesus opgepas voor Hy aan Pontius Pilatus oorhandig is.

Jesus voor Pilatus (Matteus 27): Pilatus gee Jesus oor om gekruisig te word. Nou lees ons: Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ‘n pers mantel om. Hulle vleg ‘n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ‘n stok in sy regterhand … Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Hierdie is die afdeling wat saam met Pilatus van Sesarea gereis het. Hierdie soldate was meestal Siriërs – mense wat die Jode gehaat het.

Jerus voor Herodes Antipas (Lukas 23): Herodes was in Jerusalem vir die Paasfees. Daarom stuur Pilatus vir Jesus na Herodes. Herodes se soldate het Hom toe met veragting behandel. Hulle was waarskynlik Jode.

Die kruisiging (Lukas 23): Omdat slegs Rome die doodstraf kon voltrek, was dit Romeinse soldate wat betrokke was by Jesus se kruisiging.

Die graf (Matteus 27): Die priesterhoofde en die Fariseërs oortuig Pilatus dat Jesus se graf vir drie dae veilig bewaak moet word. Hulle het die graf verseël en die wag daar laat bly. Met Jesus se opstanding lees ons: Van skrik vir hom (die engel van die Here) het die wagte gebewe en soos dooies geword. Omdat hulle toegelaat het dat Jesus uit die graf “ontsnap” het, was die wagte se lewens in gevaar. Die piester- en familiehoofde het geld bymekaar gemaak en vir die wagte gegee op voorwaarde dat hulle vertel dat Jesus se dissipels sy lyk gesteel het. En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.

Ons kry ook verwysings na soldate in Handelinge en Paulus gebruik soldate as beelde in van sy briewe.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Seder (4)

Die Seder (4) – Coen Slabber

By elke sitplek word ’n kussing geplaas sodat tydens die ete die deelnemers sigbaar kan leun. Dit is ’n antieke teken van vryheid – slawe is gedwing om regop by maaltye te sit, terwyl die eienaar kon leun.

Die orde van die Seder

Paasfees val op die 15de Nisan. Die maan het reeds vir 15 dae gegroei. Daarom moet die Seder geleidelik groei deur 15 stappe.

  1. Kadeshdie seën oor en die drink van die eerste beker wyn. Die seën word deur die leier uitgespreek.
  2. UrechatzDie hande word gewas. Dit is ’n simboliese rituele reiniging. ’n Beker water word na die leier gebring wat die water oor sy hande uitgooi. In ander tradisies was al die deelnemers hulle hande – of aan tafel of by ’n wasbak.
  3. Karpas aptytwekker. Die groen groente word in die soutwater gedoop en geëet. Dit prikkel die kinders se nuuskierigheid.
  4. Yachatz daar is ’n hopie van drie matzah op die tafel. Op hierdie stadium word die middelste matzah in twee gebreek. Die grootste deel word weggesteek en sal later gebruik word. Die kleiner deel word weer op sy plek tussen die ander twee teruggeplaas.
  5. Magid die verhaal van die Paasfees: die oorgang van slawerny na vryheid. Nou word die vier vrae gevra – gewoonlik deur die jongste kind. Hoekom verskil hierdie nag van alle ander nagte?
    1. Alle ander aande eet ons gesuurde en ongesuurde brood. Waarom eet ons nou net ongesuurde brood?
    2. Alle ander aande eet ons ’n verskeidenheid van kruie. Waarom eet ons vanaand net bitter kruie?
    3. Alle ander aande doop ons nie ons kos nie. Hoekom doop ons dit vanaand twee maal?
    4. Alle ander aande sit ons regop as ons eet. Hoekom lê ons vanaand skuins aan tafel?

Hierdie vrae vorm natuurlik die raamwerk vir die verhaal van Paasfees. Deuteronomium 26:5 – 8 word dan gelees en verduidelik. Die tien plae word opgenoem. Na die lees van elke plaag verwyder elke deelnemer ’n druppel wyn met sy vingerpunt uit die beker. Die wysgere sê dat alhoewel hierdie aand ’n aand van bevryding is, kan jy nie volkome bly wees nie, want van God se skepsels het gely. ’n Vol beker wyn is ’n teken van volkome blydskap – daarom word van die wyn uitgehaal. Die drie belangrikste simbole – die offer, die ongesuurde brood en die bitter kruie – word verduidelik. Lofgesange word gesing, insluitend die gewilde Dayena (Dit sou voldoende gewees het) wat verklaar dat al het God net een van die baie dade vir die Jode gedoen, sou hulle Hom steeds gedank en geloof het. Die tweede beker wyn word nou gedrink

  1. Rohtzahdie hande word weer gewas en die seën uitgespreek.
  2. Motzee hierdie is die eerste van twee formele seënuitsprake. Die seën bevat die woorde Hy wat voorbring – motzi in Hebreeus.
  3. Matzahdie tweede seëning word uitgespreek. Die eerste matzah word geëet.
  4. Maror die seën word uitgespreek voordat die bitter kruie geëet word.
  5. Koreich die bitter kruie word tussen twee stukkies matzah geplaas – soos ’n toebroodjie – en dan geëet. Die onderste matzah word hiervoor gebruik.
  6. Schulchan Orech – die feesmaal word geëet. Daar word gewoonlik met die eier begin.
  7. Tzafun – die afikoman wat vroeër weggesteek is, word nou geëet. Elkeen ontvang ’n olyfgrootte deel van ’n matzah om te eet. Daarna mag geen verdere kos geëet word nie.
  8. Bareich – die tradisionele seën na maaltye. Dit word gedoen uit dankbaarheid aan God vir die kos wat geëet is en vir al sy seëninge. Die derde beker wyn word nou gedrink. Die voordeur van die huis word nou oopgemaak en Elia word simbolies ingenooi om aan die Seder deel te neem. Volgens tradisie sal Elia die koms van die Messias aankondig – ’n tyd van vrede en volmaaktheid.
  9. Hallel – lofgesange. Die hele Hallel word opgesê. Psalm 113 – 114 word voor die maaltyd opgesê; Psalms 113 – 118 word opgesê na die seën oor die maaltyd uitgespreek is. Dit word gevolg deur Psalm 136. Hierna word die vierde beker wyn gedrink nadat die toepaslike seën uitgespreek is. 
  10. Nirtzah – die hoop word uitgespreek dat die gebede en rituele vir God aanvaarbaar was. L’shanah haba’ah b’Yerushalayim! – Volgende jaar in Jerusalem 

Verdere liedere kan gesing word. Bespreking oor die tora kan volg. Ons weet nie of Jesus en sy dissipels hierdie volgorde gebruik het nie. Ons lees, byvoorbeeld, niks van die lamsvleis in die beskrywings van hierdie laaste paasmaaltyd nie. Hierdie gee vir ons egter ’n goeie oorsig van ’n tradisionele paasmaaltyd. 

 

Skrywer: Dr Coen Slabber