Jesaja 40-55 – Francois Malan
(ook genoem Deutero-Jesaja – Tweede Jesaja)
Hoofstukke 1-39 van Jesaja handel oor Juda en Israel tydens die lewe van die profeet Jesaja. Volgens hoofstukke 40-55 is Israel en Juda in die Babiloniese ballingskap en word die val van Babel asook die bevryding, terugkeer en herstel van die hele Israel aangekondig. Israel word opgeroep om terug te keer na die Here en na Jerusalem.
Jesaja het op sy laatse ongeveer in 686 v.C. gesterf (die sterfjaar van Hiskia; vgl. Jes 1:1). Die tien stamme van Israel is reeds in 722 v.C. in ballingskap na Assirië weggevoer (vgl. 2 Kon 17:23). In 701 v.C. is Sanherib terug na sy land volgens Jesaja 37:37. Die Assiriese ryk het in 612 v.C. tot ‘n val gekom voor die uitbreidende Babiloniese ryk. In 597 v.C. word die eerste groep van Juda in ballingskap na Babel weggevoer (vgl. 2 Kon 24:10-17). In 587 v.C. val Jerusalem en vind die laaste wegvoering van Juda na Babel plaas, minstens ’n honderd jaar na Jesaja se dood.
[Jesaja 1-39 eindig met die dood van Hiskia. Sy goddelose seun Manasse neem oor (685-641 v.C. vgl. 2 Kon 21:1-18); Nahum tree op as profeet (650 v.C.); Amon (640-639 v.C.; 2 Kon 21:19-25) volg sy pa se afgodsdiens; Josia (639-609 v.C. 2 Kon 22:1-23:30) het met sy hele hart die Here gedien en die afgodery bestry; in 626 v.C. begin Jeremia in Jerusalem as profeet optree (Jer 1:1-3); Sefanja vanaf 625 v.C. (Sef 1:1); Josia se seun Joahas regeer net drie maande toe Egipte se farao hom met sy broer Jojakim vervang. Jojakin se seun Jojagin volg hom na 11 jaar op, maar gee Jerusalem na drie maande oor aan Nebukadneser van Babel, wat vir Jojagin en al die leiers in ballingskap na Babel toe wegvoer in 597 v.C. en Sedekia as regent in Jerusalem aanstel. In die tyd waarsku Jeremia vir Sedekia en sy regering telkens teen hulle opstand teen Babel, totdat die Babiloniërs die stad Jerusalem vernietig en die res van die bevolking in ballingskap wegvoer in 587 v.C. (2 Kon 24:18-25:21). In 593 v.C. het die priester Esegiël in ballingskap in Babel begin optree as profeet (Eseg 1:1-3).]
In 539 v.C. word Babel deur die Perse onder Kores ingeneem. Tweede Jesaja gaan oor die verwagting rondom die Persiese koning Kores wat die eerste groep van Israel in 538 v.C., onder leiding van Sesbassar en Serubbabel, laat terugkeer na Jerusalem, ongeveer 150 jaar ná Jesaja se dood (2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4) Die tweede groep onder Esra keer in 458 v.C. terug na Jerusalem, 80 jaar na die eerste groep (Esra 7-8).
Hoofstukke 40-48 verkondig dat die Here die Persiese koning Kores as sy dienaar gaan gebruik om sy verbondsvolk te bevry; Hoofstukke 49-55 handel oor die herstel van die volk en die stad Jerusalem, met klem daarop dat Israel die dienaar van die Here is. Hulle gaan nie meer oor hulleself regeer nie, maar as dienaar van die Here in vrede met mekaar lewe as voorbeeld vir die nasies om sodoende die nasies na die Here toe te trek.
[Hoofstukke 56-66 bevat verskillende profesieë lank ná die terugkeer uit Babel, met oproepe tot bekering van sondes, van afvalligheid en van vals godsdiens, wat onder God se oordeel val, en met verkondiging van God se wêreldwye verlossende genade, wat alle volke omvat, om in geregtigheid en barmhartigheid te lewe. Die Here bring ‘n nuwe bedeling, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, wat baie teenstand van die Jode kry.]
Terwyl 1-39 hoofsaaklik oor die Here se oordeel en die aanstaande ballingskap van Juda praat, praat hoofstukke 40-55 oor Israel se wonderlike verlossing deur die Here en hulle terugkeer. Die dubbele tema ‘oordeel en verlossing’ word deur die hele boek Jesaja telkens uitgebrei, en word herhaal in die verhaal van Jesus se kruisiging en opstanding, om die straf en smet van ons sonde te dra en ons te laat opstaan uit die sonde. Tweede Jesaja word waarskynlik teen die einde van die ballingskap deur ’n ander digter-profeet as Jesaja geskryf as ’n vervolg op hoofstukke 1-39 in die gees van die visoen van Jesaja (Jes 1:1).
Die Here se doel met Israel as sy dienaar is dat hulle in reg, geregtigheid en barmhartigheid moet saamlewe en so die vrede van die Here ondervind (Jes 9:6) sodat die nasies hulle goeie lewe sal sien en na Jerusalem toe sal stroom om die Here te leer ken (Jes 2:2-3; 52:15; 61:11; 66:18-21). So het die Here reeds in 1750 v.C. aan Abraham belowe, dat in hom al die volke van die aarde geseën sal wees (Gen 12:3). Maar Israel wil hulleself regeer en bid dat die Here die nasies met mag sal oorwin, soos hulle destyds, al in 1020 v.C., vir Samuel gesê het, toe hulle ’n koning oor hulle begeer het om hulle in hulle oorloë te lei (1 Sam 8:5,20).
Skrywer: Prof Francois Malan