Jesaja – Die Here regeer oor Assirië! – Francois Malan

37:21-29 Die Here is God wat regeer en beskik ook oor die Assiriërs

37:21 Die gedig is die antwoord van die Here op Hiskia se gebed om verlossing, maar  spreek eintlik die koning van Assirië, wat vir Sion met geweld gedreig het, aan.

37:22 ‘Die maagdelike dogter van Sion verag jou en lag jou uit; agter jou skud die dogter van Jerusalem haar kop’ Die gedig begin met die bevestiging dat Jerusalem Assirië verafsku en nie geïntimideer is deur  hulle growwe grootpratery nie. Dit spruit waarskynlik uit hulle vertroue op die Here.

37:23 Dit gaan oor meer as die stad Jerusalem se reaksie. Sanherib het die Heilige van Israel verkleineer deur Hom met die gode van ander volke, wat geen ware gode is nie, te vergelyk. So het hy die Heilige gesmaad, soos Hiskia gebid het (37:4). Dit is godslastering, soos Jesaja gesê het (37:6). Hy is egter die lewende God. Sanhererib se arrogansie het hom verhinder om dit van die aktief teenwoordige God wat aan Israel toegewy is (v16), raak te sien.

37:24-25 is ‘n opsomming van die hoofadjudant en Sanherib se toesprake waarin Sanherib alles vir homself toe-eien: Ek het…berge opgery; Ek het…seders afgekap; Ek het…bosse binnegedring; Ek het…water gegrawe; my sole het … riviere laat opdroog. Hy erken nie dat die Here hom gestuur het nie (36:10; vgl. 29:2-3). Totaal sonder selfbeheersing het die koning van Assirië nie die doel van die Here opgemerk nie, en God se skepping en sy mense verniel. Die gebrek aan selfbeheersing is tipies van ongetemde supermagte wat niks ontsien om hulle magsbehepte planne uit te voer nie…en dan spog Sanherib nog oor sy vernietiging van God se skepping. Daarmee kla hy homself aan.

37:26-29 Sanherib se hoogmoedige ‘ek’ kom teen die Here te staan, wat sê: Ek het dit bewerk…Ek het dit voorberei … Ek het dit nou laat gebeur…Ek weet hoe jy te kere gaan…Ek moes jou woorde aanhoor…Ek sit ‘n haak deur jou neus (soos vir ‘n bul)…’n stang tussen jou tande (soos vir ‘n perd)…Ek lei jou terug…(nie meer bruikbaar vir die taak waarvoor jy gestuur is nie).

Dink wat die Heilige, die Toegewyde aan Israel, die teenwoordige Ek is, die lewende God, kan doen!  Alles waaroor Sanherib spog is die werk van die Here! Dit was nie soseer Assirië se mag nie, maar die ineenstorting van die gemeenskappe nog voor Assirië daar gekom het (v27), wat aan hom die oorwinnings gegee het. En nou spog hy asof dit hy is en hy verkleineer die Here. Die Here weet Sanherib het sy mandaat oorskrei (10:6-7). Hy het egter gedink hy is verhewe bo die heerskappy van die Here (36:20; 10:15). In verse 28-29 sê die Here twee maal: Jy het jouself opgewerk teen My (te kere gegaan teen My). Hy het al meer arrogant geword en homself oortuig hy kan die Here oorwin, daarom moes die Here ’n haak deur sy neus sit om die kwaai bul, wat Hom wil verpletter, te tem en die wilde perd in te breek om hom weg te lei van Jerusalem af, terug na sy eie land met ’n berig oor ’n opstand wat daar broei.

Die gedig stel die wil van die Here teenoor die wil van Assirië. Maar dit is geen stryd nie. Die Here is die regeerder oor mens en skepping. Sy heerskappy verwyder die Assiriese bedreiging van Jerusalem

Skrywer:   Prof Francois Malan




Jesaja – Tweede en derde reaksies (37:1-20) – Francois Malan

7:1 Die tweede reaksie op die hoofadjudant se uitdagings kom van Hiskia. Soos sy gesante skeur hy ook sy klere en trek sakklere aan as tekens van neerlaag en rou. Maar anders as sy raadsmanne, gaan hy na die huis van die Here om die krisis na die Here te verwys. Hy aanvaar nie die hoofadjudant se aantyging dat die Here die stryd gewonne gegee het, soos die ander gode van die hoofadjudant se tweede toespraak nie. Hy aanvaar dat dit die uiterste krisisoomblik is, maar die Here, die aktief teenwoordige Ek is, bepaal die verloop van die geskiedenis. Hiskia tree hier op as ‘n model van ‘n gelowige.

37:2 Die koning het die profeet van die Here nodig om vir hom in te tree by die Here. In hierdie krisis swig sy politieke realisme eindelik voor profetiese geloof.

37:3-4 Openlik word die hele toedrag van sake vir die profeet uitgespel: dit is ‘n dag van moeilikheid (1983: rou) wat dringend om die Here se hulp vra; dit roep om die Here se bestraffing van Assirië, wat sy Naam geminag het. Die amptenare weet hulle saak is hopeloos as hulle terugdink oor wat Assirië 20 jaar tevore met Samaria, die hoofstad van die 10-stamme, gedoen het. En hulle het nie meer die moed gehad om iets aan te pak nie.

Die beeld van die vrou wat nie krag het om te baar nie, word ook in 26:16-18 gebruik, en wys waarskynlik na Hiskia se ideaal om sy koninkryk onafhanklik te maak, maar waarvoor daar nou glad nie meer krag is nie.

Hiskia se versoek is tentatief. Hy praat van die moontlikheid dat die Here Jesaja sal hoor en Assirië bestraf, as Jesaja bid vir die oorblyfsel (wat telkens in die boek genoem word). Die amptenare erken dat Jesaja hulle geestelike meerdere is met sy besondere verhouding met die Here, en vra daarom dat hy vir hulle tot die Here sal bid. Die oorblyfsel verwys hier na die klompie van Juda wat in Jerusalem oorgebly het uit die hele Juda-gebied wat reeds verower is en weggevoer is.

37:5-7 Die derde reaksie op die die hoofadjudant se uitdagings kom van Jesaja, wat die Here se reaksie daarop aan die afvaardiging oordra. Jesaja gaan nie bid soos hulle gevra het nie. Hy gee reeds die Here se antwoord op die koning se besoek aan die tempel (37:1), en op sy boodskap wat hy aan Jesaja gestuur het (37:3-4). Deur die Here se goeie boodskap word Hiskia se moeilikheid opgelos en sy vrese besweer. Moenie vrees nie! nie vir die amptenare (letterlik: jongetjies, knegte) van die koning van  Assirië se grootpratery en godslastering nie. Die Here het alles gehoor.

Geen ander god kan praat nie, maar die Here kom self aan die woord: Ek gaan hom onrustig maak (letterlik: Ek sal ‘n gees in hom plaas); Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak (Ek sal hom deur die swaard laat val in sy eie land). Twee maal word verwys na sy eie land (by sy eie gode). Hiskia weet nou dat die lewende God weet dat Hy gelaster is, en dat Hy sy eer sal herstel deur te doen wat Assirië gereken het nooit kan gebeur nie.

37:8-13 Die derde toespraak van die Assiriër het dieselfde inhoud as  die eerste twee met drie belangrike verskille: die berig oor Egipte se aantog maak Assirië haastig (onrustig!) om Jerusalem gou af te handel; Juda hoor die boodskap aan met minder vrees ná die versekering van die Here. Die boodskap word direk aan koning Hiskia gerig om hom te waarsku teen die Here se misleiding  en nie soos die tweede boodskap wat aan die manne op die muur gerig was nie. Die tweede toespraak het gevra: waar is die ander gode en die Here daaronder geklassifiseer; die derde: waar is die ander konings wie se gode hulle nie kon red nie. Nou moet Hiskia as koning besluit, en ook elke leser.

37:14-20 Die boodskap word nie deur die hoofadjudant gebring nie, maar draers wat die opgerolde brief oorhandig. Hiskia antwoord nie op die brief nie. Nadat hy die brief gelees het neem hy die brief na die tempel om die rol voor die Here uit te sprei in die allerheiligste, tussen die gerubs weerskante van die ark. Hiskia bid self. Dit begin met ‘n lofprysing (v16) van die onvergelyklike lewende Skeppergod wat regeer oor die hemel en die aarde, oor al die koninkryke op aarde, ook oor dié wat nou deur Sanherib verwoes word. Hiskia se dringende versoek is dat die Here Juda verlos uit Sanherib se hand, sodat die koninkryke van die aarde kan weet dat Israel se God die Here is (die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’), U alleen.  Dit is Hiskia se geloofsoortuiging.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Geen uitweg vir Jerusalem nie (36:11-22) – Francois Malan

Jerusalem is heeltemal vasgespin in die web van Assirië, hulpeloos met geen uitweg nie!

36:11 Die eerste antwoord van die drie afgevaardigdes van Hiskia is geen antwoord nie, maar ‘n versoek om sagter te praat in die taal van Assirië wat Hiskia se drie amptenare verstaan, sodat die volk wat op die stadsmuur sit nie die uitdagings hoor en verstaan hoe ernstig die toestand is nie. Van hulle het uit hulle dorpe, waar Hiskia hulle afgodsaltare afgebreek het, na Jerusalem gevlug tydens Assirië se opmars.

36:12 Deel van Assirië se strategie is juis propaganda om die volk se vertroue op die Here en ondersteuning vir Hiskia af te breek (vgl. Deutr. 20:8). Die gevolge vir die volk word nou hard uitgespel sodat hulle kan hoor wat met hulle sal gebeur as hulle op die Here en Hiskia vertrou. Dit is sielkundige oorlogsvoering voor die slag.

36:13-15 Die tweede toespraak, 36:13-20, is teen die versoek van vers 11 met ‘n luide stem gerig aan die bevolking in Hebreeus, die ‘taal van die Judeërs,’ om ‘n wig in te dryf tussen die bevolking en hulle koning en sy vertroue op die Here. In die eerste toespraak het die hoofadjudant reeds gesê die Here kan hulle net so min help as Egipte. Nou wil hy hulle vertroue op Hiskia ondermyn.

Waar die tema van die eerste toespraak Jerusalem se  ‘vertroue’ is, is die tema van die tweede toespraak of die Here of enigiemand Jerusalem uit die hand van Assirië kan ‘red.’ Die woord ‘red’ word sewe keer gebruik (36: 14, 15, 18, 18, 19, 20, 20).

36:16-17 Ten tweede maak die Assiriese koning ‘n positiewe teen-aanbod:’ maak ‘n vredesverbond met my en kom uit na my toe…’ dit beteken gee oor aan my. Die eufemisme verberg nie die werklikheid nie. Die oorgawe word in twee dele aangebied: daar sal eers ‘n tussentyd van vrede wees met elkeen sy eie wingerdstok, vyeboom, put waarvandaan hulle gevlug het om in Jerusalem te kom skuil. Die ellendige situasie in oorvol Jerusalem sonder kos en water maak die aanbod baie aantreklik. Maar die langtermyn strategie is verbanning uit hulle eie land om te verhoed dat hulle teen Assirië sal rebelleer, na ‘n vrugbare ander land met koring en wyn, maar in ballingskap.

Soos Sanherib die doel van die Here met Assirië, as sy stok om Israel te slaan, misverstaan het (36:10), verstaan Sanherib ook nie dat geen ander land die Judese bevolking se land, wat die Here aan hulle gegee het, kan vervang nie.

36:18-20 Niemand kan tog dink dat die Here hulle uit die hand van die magtige Assirië kan red nie. Geen ander god van die lande, wat Assirië reeds ingeneem het op pad na Juda toe, kon hulle red uit Assirië se hand nie. Soos hy die betekenis van land van Juda misverstaan het, verstaan die Assiriër ook nie die God van Juda nie, die Here is anders as die ander gode.

Die gevolgtrekking van die tweede toespraak is dieselfde as van die eerste: Juda het geen opsie nie – nie ‘n militêre of ‘n godsdienstige nie. Almal moet buig voor die mag en wil van Assirië.

36:21-22 Die eerste reaksie van die Joodse leiers in verse 11-12 is kort en gedemp. Met die Assiriër se tweede toespraak daag hy Juda minagtend uit en minag hy selfs die Here wat hom sou gestuur het (36:10), en hulle reaksie kom in drie fases: eers bly hulle net stil omdat hulle niks te sê het om te bewys dat die Here anders is as die ander gode nie (volgens 2 Koning 18:36 is dit die manskappe op die mure wat stilbly). Verslae kom die drie koninklike gesante  met geskeurde klere by Hiskia aan met hulle verslag van die onderhandelings, as teken van hulle neerlaag en rou oor Jerusalem se sekere ondergang, aangesien die res van die hele Juda reeds deur Assirië ingeneem is.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die koningskap van Hiskia (36:1-39:8) – Francois Malan

Die vier hoofstukke vorm ‘n eenheid in die boek. Dit dek dieselfde geskiedenis as 2 Konings 18:13-20:19, met kleiner variasies en sonder die boete wat Hiskia aan Sanherib betaal het, 2 Kon 18:14-16.  Hiskia se lied in Jes 39:9-20 kom weer nie in 2 Konings voor nie. Dit gaan oor die bedreiging deur Assirië, die opkoms van Babilon as ‘n wêreldmag, en die ingewikkelde interaksie tussen die profeet Jesaja en die koning van Juda, Hiskia, die seun van Agas.

Die profeet Jesaja se werk is toegespits op sy eie tyd met die Assiriese bedreiging aan die begin van die 8e eeu v.C. Die drie uitdagende toesprake in 36:4-10; 13-20 en 37:6-13 toon die arrogansie van die Assiriese ryk en die profetiese wyse waarop die bedreigings aangebied word. Die klem lê op die kompetisie tussen die Here en die Assiriese gode, met die oppergesag van die Here. Daarom is die effektiewe reaksie op die arrogante bedreiging van Assirië die gebed van die vrome koning Hiskia (37:16-20) en die woord van die Here wat Jesaja gebring het, waarmee die bedreiging oorwin is (37:22-29). Die hoofstukke kulmineer in ‘n wonder-verlossing van ‘n magtelose Jerusalem (37:33-38), wat die spilpunt is van die opkomende Sion-tradisie as sou Jerusalem nie kan ingeneem word nie. ‘n Eeu later met die Babiloniese invalle, word hierdie vertroue van die Jode as ‘n groot fout bewys.

Die hele eenheid hfs 36-39 roep op tot vertroue op die Here in tye van nood, twyfel en vrees.

Die gedeelte is ook duidelik aangepas by die omstandighede van ‘n eeu na Jesaja, tydens die Babiloniese krisis, soos blyk uit die inbring van Babel in hoofstuk 39 en die profetiese woord van oordeel in 39:5-7. Daarop volg dan die Here se nuwe verlossing in 40:1-2. Dit is ‘n tweedelige boodskap van oordeel en genade, Jerusalem wat verwoes word en dan weer herstel word. Die boek Jesaja gaan oor die Here wat die vreemde, vir Hom uitsonderlike, taak het om sonde in toorn te straf (28:21), wat gevolg word deur sy eintlike werk van genade. So gaan die hele boek oor twee aspekte van God se handelinge: hoofstukke 1-39 fokus op sy oordeel en hoofstukke 40-66 op sy genade wat deur lyding tot openbaring kom.

Sanherib bedreig Jerusalem oor sy geloof (36:1-37:38)

Die Assiriese koningsdokumente ondersteun die Bybelse berig oor Sanherib se opmars en beleëring van Jerusalem in 701 v.C. toe die stad op wonderbaarlike wyse gered is. Die Bybel wil egter nie ‘n geskiedeniskroniek aanbied nie, maar is ‘n weergawe van God se handelinge wat ’n boodskap is, om die Here te alle tye te vertrou soos Hiskia, en nie soos sy vreesagtige pa Agas nie.

36:1 In die veertiende jaar van Hiskia se regering, nadat hy al ‘n hele aantal hervormings teweeg gebring het (2 Kon 18:4-6), is al die vestingstede van Juda reeds deur Assirië ingeneem, en net Jerusalem is nog oor, soos ‘n voëltjie in ‘n kou.

36:2 Lakis was die tweede belangrikste vestingstad in Juda. In Nineve is ‘n relief ontdek waarin die beleëring van Lakis geskets is, met grondwalle wat gebou is om oor die stad se muur te kom. Die hoofadjudannt (‘rabsake’) van die koning trek teen Jerusalem op met ‘n groot leër wat ook hier ‘n wal om die stad gooi sodat niemand kan in of uitkom nie en hongersnood in die stad veroorsaak. Die Assiriese leiers ontmoet vir Hiskia op dieselfde plek waar Jesaja vir Agas ontmoet het in Jes 7:3. Daarmee word die gelowig-vertrouende koning Hiskia teenoor die twyfelende ongelowige Agas gestel. Twee modelle van geloof/twyfel waartussen Israel altyd moet kies.

36:3 Van Sebna en Eljakim se latere geskiedenis is reeds in Jes 22 berig. Hiskia stuur sy drie hoogste amptenare om met die hoofadjudant van Assirië te praat.

36:4-6 Die eerste toespraak begin met ‘n vermetele eis waarmee die ‘groot koning’ van Assirië aan homself die gesag opeis, en  hom opstel teenoor die profetiese ‘So sê die Here.’ Die term ‘vertrou/vertroue kom ses maal in die gedeelte voor in spotvrae aan Hiskia en die volk (vv 4,5,6,6,7,9). Dit is juis wat Jesaja van Agas en Juda gevra het, dat hulle op die Here moet vertrou (7:9; 8:17; 10:20). Daarteenoor staan Assirië se ‘strategie en mag,’ waarop Assirië vertrou.

Met twee retoriese vrae daag die Assiriër vir Juda uit: waarop is jou vertroue gebou? Op woorde? Wat nie strategie of oorlogsmag kan vervang nie! Op wie vertrou jy? Op Egipte? Wat ‘n gebroke riet is wat in jou hand steek as jy daarop leun! (Die Here verbreek egter nie ‘n geknakte riet nie en sy dienskneg word nie geknak nie (43:2,3).

36:7 Soos met Egipte kan julle ook nie op die Here vertrou nie, want Hiskia het mos juis die Here se altare in Juda afgebreek sodat hulle net in Jerusalem sal aanbid (2 Kon 18:4). Sanherib het geen begrip daarvoor nie dat die Here die enigste ware God is op wie Hiskia vertrou (2 Kon 18:5), en dink die Here is beledig met Hiskia se afbreek van die afgode.

36:8-9 Die toespraak word spottend gerig teen Juda se militêre mag in vergelyking met die groot leër uit Lakis. Hulle word uitgedaag om genoeg soldate te voorsien vir 2,000 perde wat Assirië sal voorsien om ‘n bietjie sports te hê. Egipte sal nie strydwaens en perde aan Juda kan voorsien nie, want hulle is klaar oorwin.

36:10 Die laaste uitdaging aan Hiskia se vertroue op die Here wil die mat onder sy voete uitpluk. Soos Jesaja gesê het in 10:5-19, is dit die Here wat Assirië gestuur het as sy stok om Israel te straf vir sy verwerping van die Here