Jesaja – Die derde tot die sesde weeklag (5:18-24) – Francois Malan

5:18-23 Die volgende vier ‘ellendes’ dui die oorsake aan vir Jerusalem se aanstaande smart. Hulle smart is egter die straf op hulle lewenswyse en gedrag.

5:18-19 Die derde ellende openbaar die skynheiligheid en selfbedrog van hulle dade wat hulle woorde weerspreek. Die beelde wat die profeet skilder is van ‘n arbeider wat ‘n bondel dra en ‘n waentjie sleep, albei van sy sondes wat aan hom vasgebind is, om te wys dat Jerusalem ‘n volle lading sonde dra (letterlik: Wee julle wat sonde dra/trek met bande van valsheid/nietigheid, en sondigheid met die tuie van waens ). Vanweë hulle afgodsdiens bring hulle die onheil oor hulle self. Maar hulle praat asof hulle daarna uitsien om te weet wat die Here se plan met hulle is, onbewus dat die Here net oordeel oor hulle bedink. Hulle weet nie dat hulle vra vir ‘n harde oordeel van die Here nie. En dan vra hulle nogal dat dit gou moet gebeur, en noem Hom ‘die Heilige van Israel’ wat moet kom oordeel oor hulle onheilige lewe (vgl. Amos 5:18-20, twintig jaar voor Jesaja teen Israel; en 120 jaar na Jesaja Jeremia 7:4-11 teen Juda en Jerusalem).

5:20 Dié weeklag kom oor ‘n reeks van drie verdraaiings, wat impliseer dat Jerusalem sy onderskeidingsvermoë totaal verloor het deur hulle selfbevrediging, wat slegs na korttermyn voordeel kyk. Dit is waarskynlik eufemismes vir ons huidige terme van ‘inkorting’ (downsizing) wat lei tot werkloosheid, ‘geleentheid’ vir onbeperkte mag vir die sterkes, en ‘wet en orde’ vir die behoud van die status quo. Die wee-uitroep bevestig dat die manipulasie en bedrog om hartelose uitbuiting met mooi woorde te omskryf tot ‘n harde en jammerlike einde sal kom. Die devaluasie van woorde is ‘n kenmerk van korrupsie en ‘n instrument vir valse propaganda; terwyl waarheid, akkuraatheid en integriteit die onontbeerlike voorwaardes is vir ‘n gesonde gemeenskap.

5:21 Die vyfde weeklag in die reeks waarsku teen outonomie, waar jou eie wysheid en kennis van tegniese dinge gebruik word sonder die groter verwysing na die Here se vereistes vir sy kinders. So’n morele selfstandigheid lei tot ‘n sosiale ramp, al dink die ‘wyses’ en ‘slimmes’ dat hulle immuun is teen die bedreiging. ‘Wysheid’ en ‘verstandigheid’ is gawes van God, soos aan Josef (Gen 41:38-39) en Dawid (1 Sam 16:18; vgl. Jes 11:2) vir die goeie orde van die samelewing. Maar as dit gebruik word vir selfverheerlikking (‘in eie oë’) is dit ‘n verdraaing van waardes (Spr. 26:12).

5:22 -23 Met die sesede weeklag kom die digter terug na selfbevrediging met drank (soos in v11). Dit gaan nie om die drank as sodanig nie, maar die gevolge van die glorie van die ‘helde’ by die drinkery en die mense met mag, wat die drank meng. Dit versteur die openbare orde;’n regverdige regstelsel stort in duie, en teen ‘n prys gee howe uitspraak ten gunste van uitbuiters; die onskuldiges staan geen kans nie. Daarmee verval ‘n menswaardige samelewing. (Ef 5:18 sê: drank maak jou bande en remminge los, wat jou op die regte pad moet hou). Die woord ‘regverdig’ kom driemaal in vers 23 voor: ‘…wat die slegtes regverdig vir omkoopgeld en die reg van die regverdiges van hulle ontneem,’ so anders as die God van hierdie volk (5:16).

5:24 Die effek van die ses ‘ellendes’ wat op hulle wag, neem toe. Die digwerk beskryf ‘n samelewing wat sy middelpunt verloor het, en sy verwysingsraam, en sy fokus, en sy doel, en sy geleentheid om goed te lewe. Daarom volg daar twee kort harde profetiese ‘daaroms,’ wat die Here se negatiewe besluit oor hulle bekendmaak. Die eerste aanklag is dat Israel die Here van die leërskare se onderwysing of wet verwerp het as hulle norm en gids vir hulle sosiale orde. Dit kom neer op ‘n verwerping van die Heilige van Israel (die Here wat aan Israel toegewy is). Sy woord en wet is aan Hom verbind. Die gevolge van die verwerping van sy waarskuwingswoord en daarmee vir Hom, word uitgedruk met ‘n plantbeeld: ‘n tong van vuur wat stoppels verteer, wortels wat vrot, en blomme wat soos stof wegwaai – alles spreek van mislukking en vernietiging tot niks.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die eerste twee ellendes (5:8-17) – Francois Malan

5:8-25 Anders as 5:1-7 se digterlike taal, is 5:8-25 in meer leerstellige terme. Die sesvoudige ellende (verse 8,11,18,20,21,22) wat vir die volk van die Here wag, word gevolg deur twee profetiese uitsprake (verse 24,25). Die ellende wat kom (telkens ingelei met Hoi van die klaagsange/lyksange: ‘Ag!’ of ‘Wee!’) is die verwagte rouklagte van dié wat gaan sterf as gevolg van hulle onaanvaarbare gedrag teen die weerloses. Dit is treursange waarna God nie luister nie, want hulle eie optrede lei tot hulle dood.

5:8-10 Die eerste ‘wee!’ sal gesing word deur hulle wat op ekonomiese gebied hulle eie ondergang bewerk het. Dit is gerig teen die volk se onversadigbare grondhonger en die gepaardgaande verdukking van die armes (vgl. die tiende gebod Eks 20:17; Deutr 5:21 jy mag nie begeer nie; en Lev 25 se sabbatsjaar, wanneer grond teruggegee word). Die gevolg van die oorname van die kleinboere se grond is die ontvolking van die land, totdat die groot grondeienaars alleen oorbly in die land, sonder gemeenskappe van mense. ‘In my ore (sê die profeet) het die Here van die leërskare (gesê): vir seker (soos in ‘n eedswering) baie huise sal vernietig word (soos mense uitgekoop word deur die rykes), ook die grotes en mooies (van die grondbaronne) sal ruïnes wees (met hulle eienaars in ballingskap weggevoer’ –vgl. Amos 3:15. Die oeste sal onwinsgewend karig word: een gomer (tiende van ‘n efa) wat gesaai word, lewer slegs een efa graan (23 liter) as oes. ‘n Land wat deur 10 pare van 2 osse op een dag geploeg kan word (ongeveer 4 hektaar) lewer slegs ‘n bat (23 liter) druiwe – deur die droogte. Uitbuiting van jou bure word gevolg deur jou verminderde oeste.

5:11-12 Die tweede weeklag is deur die dronkaards en die rykes se fuifpartye: die konsentrasie op drink en plesier verhinder enige aandag vir wat die Here doen, vir die werke van sy hande. Israel se grootse tekortkoming was hulle onvermoë om God se plan en die uitwerking daarvan raak te sien. Die visioen van Jesaja beweer dat al die gebeure in die geskiedenis van Ussia af (720 v.C.) tot na die ballingskap in Babilon (450 v.C.) God se handewerk is, wat inpas by sy plan met sy volk om van hulle, wat arrogante afgodsdienaars geword het, nederige en sober dienaars van die Here te maak.

5:13 ‘Daarom… word my volk in ballingskap weggevoer, weens hulle gebrek aan kennis (van die plan en wil van God vir hulle); hulle geëerdes (grondbaronne wat so woes feesvier) ly honger en hulle menigte (gewone mense aan drank verslaaf) vergaan van die dors (op pad, aangejaag na hulle ballingskap).’ Waar die Here regeer word rekenskap geëis van afbrekende optrede teen medemense en, deur soos die heidene te lewe, is die Here se land verontreinig.

5:14 ‘Daarom..’ Die doderyk (sje’ool die onderwêreld) word voorgestel as ‘n gulsige monster wat nie genoeg kry nie (Spr 27:20; 30:15-16; Hab 2:5). Soos ‘n swart gat wat sterre insluk, sal die dood Jerusalem, sy vooraanstaandes en sy menigte opslurp, verteer en uitwis. Hulle glorie (hadarah) en rykdom (hamonah) en geraas (sjeonah) waarin hulle hulle verlustig het, sal saam met hulle daarin afdaal. Israel se voorste mense is dood as gevolg van hulle foutiewe idee van gejubel en bravado.

5:15’ So word die mense verneder, manne word verneder en die hoogmoedige oë kom tot ‘n val.’ 2:9 het gesê mense wat hulle voor hulle eie handewerk (afgode) gebuig het, het tot ‘n val gekom.

5:16 Die skrywer skets hier die teendeel van die ellende van die ballingskap en die doderyk. Die Here word groot gemaak deur sy mense se konkrete dade van reg en geregtigheid, wat Hy van sy wingerd verwag het (5:7). Dit is die enigste manier om die Here te verhoog (letterlik: die Here van die leërskare sal groot gemaak word deur reg, en die Heilige sal geheilig word deur regverdigheid – in die samelewing).

5:17 God se oordeel sluit af met ‘n skynbaar idilliese prentjie van ‘n weiveld met genoeg weiding; hier egter as beeld van lewe op die puinhoop van die stad Jerusalem. Die eens besige en vooruitstrewende stadsgebied met sy geboue en banke is nou ‘n rustige weiveld sonder enige besigheidslawaai (vgl. Jesaja se tydgenoot se voorspelling, Miga 3:11-12). Die vertaling van 5:17 is moeilik. Letterlik: skape sal wei soos in hulle weiveld, en vreemdelinge sal die puin van die vettes/rykes eet.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die Here se heiligheid beteken oordeel en hoop (5:1-7) – Francois Malan

Die eerste hoofdeel van Jesaja, hoofstukke 1-12, handel oor die heiligheid van die Here. Die middel-gedeelte daarvan, 5:1-10:4, begin met die toorn van die Here wat nie bedaar het nie (5:24) en sluit daarmee af in 9:8-10:4. Tussenin. 6:1-9:7 vertel die profeet in die eerste persoon van sy persoonlike ervarings: sy roeping, sy konfrontasie met koning Agas, en sy onderrig van sy volgelinge. Hy getuig: Sion se hele lewe en toekoms is in die Here se hand.

5:1-7 is ‘n liefdeslied wat begin met die Here se ingrype in die geskiedenis van Israel, en eindig met hulle weiering om Hom in gehoorsaamheid lief te hê. In enkele verfstrepe word die hele lewe van Israel geskilder.

5:1 In vers 7 hoor ons dat die digter oor die Here se minnesang skryf, ‘n liefdeslied deur die digter se Geliefde (Hom wat ek liefhet), nl. die Here. Die Here sing oor Israel, sy wingerd (vgl. Jes 3:14; 27:2; Ps 80:9-16; Mat 21:33).

5:2 Die Here is die eienaar van die hele land (Eks 19:5; Lev 25:23; Ps 41:1). Hy is toegewy aan sy wingerd en het hard gewerk om alles te doen wat sy wingerd nodig het om baie en goeie druiwe te produseer: omgespit, klippe verwyder, geplant, gebou, uitgekap – die werkwoorde getuig van volle toewyding en harde werk om die beste omstandighede vir vrugdra te skep (Ps 80:16). Die laaste werkwoord, ‘verwag,’ wys dat die toegewyde arbeid nie sonder intense belangstelling gedoen is nie. Die Here wag op die goeie vrug wat die wingerd sal oplewer. En die Eienaar is diep teleurgestel deur die wilde, suur (letterlik: vrot, stinkende) druiwe wat geproduseer word deur die wingerd (in 5:8-30 word die metafoor van die suur druiwe en wat dit behels verder verduidelik).

5:3 ‘En nou’ die draaipunt van ‘n betoog (soos in 5:5). Deur die wingerd se onverklaarbare reaksie word die liefdeslied nou ‘n hofsaak waarin Jerusalem se inwoners en Juda se manne opgeroep word. Daar was waarskynlik ook wynboere onder hulle wat wingerd ken. Hulle moet as regters oordeel oor die Here se arbeid aan sy wingerd en sy wingerd se negatiewe reaksie daarop. Eintlik moet hulle hulle eie antwoord op die Here se toewyding aan hulle beoordeel.

5:4 Met twee retoriese vrae verklaar Hy voor die regters dat Hy alles moontlik vir sy wingerd gedoen het, en hulle, as kenners van ‘n wingerd, moet sê waarom sy wingerd nie gelewer het wat Hy van hulle verwag het nie. Sy verwagting van 5:2 word herhaal om sy teleurstelling te beklemtoon. Sy aanvanklike ywer en energieke toewyding het heeltemal afgekoel, want sy werk aan sy wingerd het misluk en die Eienaar het sy wingerd prysgegee.

5:5-6 ‘En nou’ die volgende draaipunt, nadat die landbouers se opinie gevra is. Die Eienaar lewer self uitspraak oor wat Hy met sy wingerd gaan doen. Na die opbouende werkwoorde van 5:2 volg afbrekende werkwoorde: sy heining word verwyder (Ps 8:13), verbrand (Ps 80:17), sy muur afgebreek, sy wingerd vertrap (Ps 80:14)) – almal woorde wat die Here se onttrekking van sy sorg aan sy wingerd beskryf. Dit word gevolg deur ‘n reeks passiewe werkwoorde in 5:6: tot niet maak, nie meer gesnoei word nie, nie geskoffel word nie, ingeneem deur doringbosse en onkruid, wolke word verbied om daarop te reën. Die wingerd wat so deur sy Eienaar beskerm was, word nou blootgestel en kwesbaar, en onherstelbaar vernietig. Alles hang af van die Eienaar, wat nou heelteal vervreem is en nie meer sorg nie. Die prentjie van ‘n tuin wat heeltemal verwaarloos is, beskryf Juda wat in ballingskap vertrek, verwerp en oorgelaat is aan hulle eie dwaasheid en onbekwaamheid.

5:7 Hier is die kode om die liefdeslied, wat ‘n hofsaak en ‘n oordeelsuitspraak geword het, te ontsluit. Die wingerd is Israel-Juda wat aan die Here van die leërskare verantwoording moet doen, aan die Almagtige God. Die draai in die liefdesgedig wentel om die werkwoord ‘verwag’ wat vir die derde keer gebruik word. Die Here wou Hom in sy wingerd se vrugte verlustig. As die wingerd nie produseer nie, verloor die wingerd die Here se sorgsame aandag en beskerming. Die goeie druiwe wat verwag is, is reg en geregtigheid in hulle samelewing. In plaas van reg (misjpat) was daar onreg (mispach – verbreking van die reg en bloedvergieting); die Here het geregtigheid (tsedakah – billikheid en opregtheid in verhoudings) verwag, maar kyk! ongeregtigheid (tse‘akah – weeklagende hulpgeroep). Die flou sosiale protes van die onderdruktes teen die roofsugtige sosiale beleid is hulle hulpgeroep tot God (Eks 3:7,9; Ps 9:13). Met dié merkwaardige woordspel het die digter van ‘n landboubeeld na die sosiale verhoudings beweeg, wat altyd ‘n hoofitem op die profete se agenda is. Dié teenstellings onderstreep dat Israel, die Here se geliefde, die mees elementêre sosiale verhoudings wat die Here tussen die magtiges en die magteloses verwag het, versaak het. Die mislukking van Juda op die sosiale gebied lei tot sy eie vernietiging (vgl. Mt 21:33-44 se wingerd waarvoor Jesus doodgemaak word, veral 21:41 – en Jn 15 se druiwestok wat liefde as vrug moet dra deur in Jesus, die egte druiwestok, te bly, anders… 15:6). God se verwagting en gelowiges se hoop is om in gemeenskap net Jesus, die ware wingerdstok, te bly.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die Here se ‘takkie’ (4:2-6) – Francois Malan

4:2 Hierdie derde ‘dag van die Here’ paragraaf in hoofstukke 2-4, in prosa, is die een positiewe na die twee negatiewe ‘dag van oordeel’ aankondigings. Soos die afdeling in 2:2-5 begin het, wys die slot in 4:2-6 vooruit na die heilstyd van die toekoms, wat uitstyg bo die huidige omstandighede wat tussen in beskryf is. Deur die louteringsoordeel van 2:6-4:1 kyk die profeet na die Here se trou wat Juda en Jerusalem in die toekoms, ná die ballingskap, wonderlik sal herstel. Die land en stad wat verwoes is, sal weer vrugbaar en vol vreugde wees. Dit word verder uitgewerk in 61:1-12 waarvolgens die Here ten volle en met oorgawe gedien sal word. Die oorblyfsel, die paar uit Israel wat vrygekom het (1:9), word gereinig van hulle wandade en deur die Here beskerm. Hulle word genoem ‘die uitspruitsel van die Here.’ Die teks sê eintlik die takkie wat uitspruit sal mooi en eerbiedwaardig word, en die vrugte van die land sal ‘n majesteit en ‘n heerlikheid wees vir die oorblyfsel van Israel.

 

4:3 Die belofte van ‘n geseënde aarde in 4:2 en van die mense wat deur die Here heilig genoem word in vers 3 herinner aan die geseënde aarde van Genesis 1 en Levitikus se heilige gemeenskap, wat aan die Here gewy is omdat Hy hulle vir die lewe opgeskryf het (Eks 32:32-33; Ps 69:29; 56:9; 139:16; Flp 4:3; Openb 3:5). Om in God se boek opgeskryf te wees beteken om deel te wees van die lewe in die stad van God (Openb 20:15). Die wyse waarop die Here hulle sal heilig = aan Hom toewy (Eks 19:6), word in vers 4 uitgespel.

 

4:4 Die oorblyfsel waarvoor die Here gesorg het in Sion. wat in Jerusalem oorgebly het, impliseer dat die grootste gedeelte van die inwoners verantwoordelik is vir die geweldige ramp wat oor die volk kom met die verwoesting van die land en die wegvoering van die meeste van sy inwoners. Deur die Here se oordeel en sy vuur van vernietiging is Jerusalem gereinig van hulle onafhanklikheid van God (vol afgodery), gejaag na besittings (vol silwer en goud), verdrukking van die swakkeres (vol oorlogsperde) van 2:6-8, alles wat Jerusalem onrein gemaak het. Die Here sal Jerusalem reinig van sy wandade; en die bloed wat aan die hande van Jerusalem kleef verwyder (letterlik: Die Here sal die afskeiding van die dogters van Sion afwas – na aanleiding van die mentruasie-onreinheid volgens die priesters se rigiede wette in Lev 15:19-24 wat hier as metafoor gebruik word – en die bloedskuld van Jerusalem afspoel uit hulle midde – dit verwys na die gemeenskap se bloedskuld, maar ook van elkeen se hart). Die Here reinig deur die Gees wat oordeel en met vuur verteer. 1 Petrus 1:6-7 sê die egtheid van ons geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat deur vuur gelouter word, word getoets deur allerhande beproewinge, en Openb 7:14 sê dat dié wat uit die groot verdrukking kom se klere is gewas in die bloed van die Lam sodat hulle die Here dag en nag kan dien.

 

4:5 Die visoen kyk verby Israel se wegvoering na Assirië in 722 v.C. en Juda se ballingskap na Babel in 597 v.C. en 587 v.C. Dit gaan oor wat die Here met sy wingerd, sy nuwe volk, in die verre toekoms gaan doen. Die tempel word herstel en die volk word verseker van die Here se blywende teenwoordigheid by hulle. Die woord wat gebruik word is ‘skep,’ dit gaan iets nuuts wees, onbekend tot dusver, maar wat aansluit by die verlede: elke woonplek en elke bymekaarkomplek word ‘n tempel, en soos met die uittog uit Egipte se wolk wat die tabernakel oordek het (Eks 40:34) en die volk bedags en snags gelei en beskerm het (Eks 13:21-22), sal die Here teenwoordig wees by elke persoon en by al hulle samekomste om hulle op sy weg te lei en hulle op sy manier te beskerm; sy magtige teenwoordigheid sal vir hulle ‘n dak wees waaronder hulle skuil – volgens Joh 2:19,21 vervang Jesus se liggaam die tempel as ontmoetingsplek met God; volgens 1 Kor 3:16-17 is die gemeente die tempel van God; volgens 1 Kor 6:19 is elke gelowige se liggaam ‘n tempel waarin die Heilige Gees woon.

 

4:6 Die digter bevestig wat in Ps 121:5-8 en Ps 91 besing word. Veiligheid en beskerming word gewaarborg deur die Here se teenwoordigheid, maar slegs vir dié wat by Hom skuil en nie hulle rug op Hom draai om op hulle eie besittings, mag en eiewillige godsdiens te vertrou nie. Die Here sal hulle ‘toevlug’ en ‘skuiling’ wees teen die aanslae van die lewe. Dit is die toekoms vir dié wat hulle tot die Here bekeer, van Israel, Juda, en tot vandag.

Dit is die afsluiting van Jesaja se lang inleiding met twee groepe uitsprake van oordeel en hoop: 2:14 oor hoop ná die oordeel van 1:3-31, en 4:1-6 oor die uitsig op die Here se toekomsplan vir sy getroue volgelinge, ná die oordeel van 2:5-4:1.

Skrywer:  Prof Francois Malan