Die Here se reaksie (59:15b-21) – Francois Malan

59:15b In vers 1-2 het die digter gesê die Here verberg Hom vir Israel weens hulle sonde, maar hier is die Here self in die prentjie. Hy is wel oral, soos blyk uit die aanklag in verse 2-8 en volgens die belydenisklag van verse 9-15a, maar hier tree die Here self op. Die Here sien daar is geen reg in die samelewing nie (soos in verse 8,9,13,14 herhaal is) en Hy is ongelukkig daaroor.

59:16 Hy het ook baie meer en skerper gesien, tot in die harte en gesindheid van die mense, dat daar  niemand is wat daarvoor omgee en iets daaraan wil doen nie. Daarom tree Hy self op om sy eer te beskerm (letterlik: daarom het sy arm vir Hom hulp gegee), en sy geregtigheid het Hom onderskraag.  In Eseg 34:11-16 neem die Here die herderskap oor sy kudde self oor omdat die herders so sleg is. Hier tree Hy in as ‘n soldaat om sy heerskappy van reg, geregtigheid, waarheid en vrede te vestig, iets waarvoor niemand gewerk het om dit te verdien  nie.

59:17 Die digter-profeet teken die Here in die rol van ‘n vegter wat ‘n soldate uniform aantrek vir die stryd. Maar dit is ‘n stryd sonder die geweld van oorlog of met fisiese wapens, soos later in Efesiërs 6:11-17 vir die gelowige voorgeskryf word: geregtigheid is sy borsplaat om die pyle/aanslae van die bose af te weer; verlossing is sy helm, wat  kop en denke beskerm en onderdruktes en verdwaaldes verlos van verkeerde gedagtes en planne; Hy klee Hom met wraak oor die onreg wat sy mense aangedoen word (vgl. Deut 32:35 en Rom 12:25); en Hy draai Homself toe met ‘n mantel van toorn oor sy mense se verwerping van Hom en sy goedheid en geregtigheid.

59:18 Die woord ‘daad/dade’ (gemul) kom drie keer in die vers voor. Dit gaan om die lewenswyse van die mense en hulle verkeerde dade teen mede-mense. Elke verkeerde daad van die vyande van die Here en van sy teenstanders tot aan die eindes van die aarde (eilande/kuslande as beelde vir die verste uithoeke van die aarde) word vergeld en kom op hulle koppe neer.

59:19 Die dreiging van die Here dat Hy reg en geregtigheid sal inprent, word voorgestel as die koms van ‘n onweerstaanbare mag, soos ‘n rivier wat alles voor hom wegvee (1983  ‘wanneer die teëstander, tsar, aanstorm soos ‘n rivier’ is ‘n afwyking van die ander vertalings, wat tsar as ‘n byvoeglike naamwoord vertaal, wat beter pas in die gang van die betoog: ‘Hy sal kom soos ‘n ingehokte/stormende rivier,’ 1953: ‘saamgeperste stroom,’ NLV: ‘opgedamde vloed,’ BVA: ‘vol rivier’) ‘wat aangedryf word deur die Gees van die Here’  (sommige vertalings: ‘die wind van die Here’ wat die stroom aanjaag – want die Hebreeuse woord ruach word gebruik vir wind en gees). Die gevolg sal wees dat almal, van wes en oos (letterlik: van sonsondergang tot die opkomende son) hulle onderwerp aan die Here se heerskappy met reg en geregtigheid, wat soos die opkomende son sal skyn en met sy Gees indring in die lewens van mense (vgl Joh 16:8-11).

59:20 Die belofte van die Here toe Israel nog in ballingskap was, 43:1: Ek verlos jou, en 44:6: jou Losser, word hier herhaal met ‘n beperking daarby: Ek sal kom as Losser, na dié wat hulle omdraai/bekeer van hulle oortredings. Die Gees van die Here oorwin deur Israel innerlik te verander.

59:21 Wat my betref, dit is my verbond met hulle – verwysende na hulle wat hulle omdraai van hulle oortredings af volgens die vorige vers. (1983: ‘met die volk’ vertolk die woord ‘hulle’  te wyd). Die term ‘my verbond’ word verder verduidelik met ‘my Gees’ en ‘my woorde.’ Die drie: my verbond, my Gees, my woorde, sal in jou mond wees om dit te verkondig en te omhels. Ps 1:2 sê: Gelukkig is die mens wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend oordink. Die ware verbondsmense is hulle wat lewe in hulle verbintenis met die Here, met sy Gees en met sy woord. En dit sal van geslag tot geslag voortgaan. Daarmee sal die gelowiges hulle onderskei van die oortreders wat hulle nie aan die Here, ‘Die Ek is’ persoonlik teenwoordige, en aan sy Gees en gesindheid en sy torah/onderwysing hou nie.Die hele hoofstuk, wat handel oor die diepe verdeeldheid in die gemeenskap oor wat die wil van die Here vir hulle is, sluit met die versekering van die Here se teenwoordigheid en verlossing vir dié wat hulle by Hom skaar met sy ope samelewing vir alle mense wat aan Hom verbind lewe in reg, geregtigheid en barmhartigheid (vgl Rom 10:8-13).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Here wag op geregtigheid (59:1-15) – Francois Malan

Die lang gedig, wat nie altyd duidelik is nie, weerspieël die konflik in die vroeë Jodendom, en ondersteun hoofstuk 56 se aksent op ‘n oop inklusiewe gemeenskap en hoofstuk 58 se eis van ekonomiese regverdigheid in die samelewing. Die situasie het vererger en die onderlinge gemeenskap is  verskeur. ‘n Regsorde wat persoonlike vryheid waarborg bestaan nie, en mense blameer God.

59:1 Daar is iets radikaal verkeerd in die samelewing. Die verbondsooreenkoms  tussen die Here en die gemeenskap werk nie, en sommige verwyt die Here vir die chaotiese toestand waarin die land verkeer (soos in 40:27), maar die beskuldiging word kortaf verwerp met een vers: ‘Kyk! die hand van die Here is nie te kort om te help/red nie, en sy oor nie  te  swaar (doof) om te hoor nie! (vgl. 50:2). Sy krag is nie verswak of ingekort nie. Sy hand, dit is sy krag om te red/help en in te gryp word nie verminder nie. En hulle oneffektiewe godsdiens kan nie God beskuldig dat Hy nie hoor nie (vgl. Jak 4:3).

59:2 Verse 2-8 beskuldig Israel dat húlle nie die verbondsooreenkoms nakom nie, en dit is nie die Here wat in gebreke gebly het nie! Vers 2 stel hulle tekortkominge in algemene terme. Dit gaan oor hulle oortredings en sondes. In die volgende verse word dit duidelik uitgespel. Hulle oortredings het’n  skeiding gebring tussen hulle en hulle God en hulle sondes het gelei tot ‘n onwilligheid by God om hulle gebede te verhoor. ‘Julle God…’ beklemtoon die verbondsverhouding, en maak die oortreding daarvan so ernstig.

59:3 Julle hande is bevlek met bloed – skuldig aan  misdadige geweldshandelinge teenoor medemense (vgl. 1:15)

julle vingers met onreg – onbillike behandeling, teistering van swakkeres

julle lippe praat valsheid/leuens – om mense te mislei en te beswadder

julle tong uiter/mompel verkeerdheid/slegtheid – wat net verhoudings vertroebel.

Al hulle optredes (hande en vingers) en woorde (lippe en tong) is ‘n skending van die beeld van hulle God, die Here (Die Ek is die Teenwoordige), en maak mense (sy skepsels) seer. Dit getuig van die innerlike onvrede van mense wat net vir hulleself lewe.

59:4-6 Die vers kyk na die regspleging as die plek waar verontregtes veronderstel is om  reg, geregtigheid en billikheid te verkry, waarvan openbare verhoudings afhang. Maar dit geskied nie in howe waar leuens die waarheid verdring nie (Eks 20:16). As die hofprosedures verdraai word deur leuens en valse voorstellings, is niemand veilig nie. Dit is die soort onreg wat skeiding bring tussen die Here en sy volk (v2). Goeie menslike verhoudings en ‘n gesonde samelewing is verbind aan toegang tot die Here.

Israel se verdraaide samelewing word beskryf met twee metafore: slangeiers wat uitbroei en spinnerakke wat geweef word. Die slangeiers wat uitbroei bring net meer gif in die gemeenskap, meer onreg en geweld. Skynbaar beskeie verdraaiings van die reg (‘’n skuldige los lieg in die hof’) het geweldige en langdurige gevolge in die lewens van mense. Met ‘n web van woorde (o.a. met valse getuienis) word die slagoffers vasgespin en uitgesuig, en die mense wat die woorde gespin het, kan nie daarmee ‘n kleed van geregtigheid vir hulle weef nie, dit is ‘n web van  oortredings/boosheid en geweld.

59:7 Hulle voete hardloop na die kwaad en hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet

Hulle gedagtes is gedagtes van boosheid/oortreding, geweld/vernietiging in hulle hoofstrate/hoofweë.

Nêrens is dit nog veilig in die samelewing wat in anargie verval het nie. Hulle het ‘n opstandige gemeenskap sonder hoop geword wat hulleself vernietig.

59:8 Die pad van vrede, sjalom,  ken hulle nie

In hulle (diep) spore (van die waens wat die oes wegry; as beeld van hulle lewenswyse) is daar geen reg nie

Hulle paaie (lewenswyses) wat hulle vir hulleself gemaak het,  is krom (oneerlik) – hulle gekose manier van  lewe is nie reguit, met reg en geregtigheid, nie.

Elkeen wat daarop loop (so lewe) ken nie sjalom nie.

Die slotsom van die gedeelte is: geen sjalom – geen reg – geen sjalom. Die rede daarvoor is dat die basiese vereistes vir ‘n  menslike samelewing makeer. Die vasgelegde praktyk van onregverdige uitbuiting is wyd verspreid – en dit vloei voort uit die regbank (regstelsel en praktyk). Israel is inderdaad vergiftig.

59:9  Die klagstaat van verse 2-8 lok ‘n beswaargebed uit, wat enersyds Israel se erkenning/belydenis is en andersyds die aanklagte van die Here bevestig. Reg en geregtigheid (vriendelikheid) word deurgaans van Israel verwag, bv. in 56:1. Maar hier verwys dit skynbaar nie na Israel se verpligting as die Here se volk nie, maar wat hulle van die Here verwag, maar nie van Hom kry nie. ‘Daarom bly die reg (in hofuitpsrake) ver van ons af, en die goeie (tsedakah kindness)  haal ons nie in nie; ons wag op lig – op ‘n duidelike verduideliking deur die Here, maar kyk! duisternis!, maar  ons wandel (lewe) in die duisternis’. Om op die lig te wag sonder om iets aan die geweld te doen, is hopeloos.

59:10 Hulle hoop op ‘n ordelike en voorpoedige samelewing, maar hulle ondervind slegs duisternis asof hulle soos blindes teen ‘n muur aanskuifel, en hulle struikel asof hulle besig is om dood te gaan. So erken hulle hulle toestand en die hopeloosheid daarvan.

59:11 Ses terme som op wat Israel van die Here verwag: reg en geregtigheid/vriendelikheid (v9a); lig en verduideliking (9b), reg en hulp/redding (v11). Met beelde wat die geluide van eensame diere en voëls maak, op soek na ‘n maat, word die hele volk (‘ons almal’)  se treurige toestand beskryf: die lae gegrom van ‘n beer, en ‘n duif se aanhoudende gekla:

‘ons verwag reg, maar daar is geen (reg nie), op redding, maar dit is ver van ons af’. Die gemeenskap kort alles wat hulle van God nodig het om ‘n leefbare en vreugdevolle lewe te leef (58:14). Maar hulle is in so ‘n ellendige toestand dat hulle niks van die Here vra nie. Hulle bekla slegs hulle behoefte.

59:12-13 Die aanklag was dat Israel nie die Here gehoorsaam het nie. Hier erken Israel die inhoud van die aanklag. Die fout lê nie by die Here nie (59:1 word bevestig), maar by Israel se verset teen die Here en dit maak dat die gemeenskapslewe totaal bederf het. Hulle erken hulle menigvuldige rebellies (teen die Here), hulle sondes (teen die Here en hulle medemense), hulle oortredings (van die Here se wet) en onregverdigheid/boosheid. Opstande in die naam van maatskaplike geregtigheid lei  nie baie keer na reg in die samelewing nie, veral nie as dit deurspek word met leuens nie.

59:14-15a Die gedeelte vanaf vers 9 word afgesluit met ‘n opsomming van die belangrikste en ooglopende dinge wat kortkom in die gemeenskap van Israel wat teruggekom het uit die ballingskap. Dit word saamgevat met vyf sinonieme terme vir die handelinge wat ‘n gemeenskap lewensvatbaar maak: die reg (misjpat) en geregtigheid (tsedakah) soos in vers 9; waarheid (‘emet) wat volgens verse 4 en 13 in die howe makeer;  opregtheid/wat nie verdraaid is nie (nekogah) en waarheid  (‘emet) herhaal die vorige twee om dit te beklemtoon. Die vyf wys duidelik dat die lewe van ‘n gemeenskap afhang van sy etiese verantwoordelikheid. Maar dit makeer alles in Israel se samelewing. Vers 13 se wegdraai van die Here af en vers 9 se reg wat ver van hulle verwyder is, onderstreep hoe jammerlik die gemeenskap ontaard het. Die ononderhandelbare vereistes van reg en geregtigheid is die voorwaarde vir ‘n nuwe gemeenskap van verlossing en vreugde  wat die Here vir die teruggekeerdes aangedui het in 56:1-2. Dit het verdwyn. Nou is dit duidelik: as daar geen reg en geregtigheid is nie – is daar geen lewensvatbare samelewing nie!




Geloof wat gelewe word (vervolg) (58:8-14) – Francois Malan

58:8 Die soort vas, wat die Here vra, lei daartoe dat jou lig deurbreek soos die daeraad. Dit lei tot genesing, beskerming en veiligheid – dan sal die Here jou weer raaksien en verhoor (vgl 58:3 se klag). Die Here sal aan jou ‘n goeie lewe gee.  Letterlik:’ jou geregtigheid sal voor jou uitgaan en die heerlikheid van die Here sal jou versamel’ (jou agterhoede wees) soos die wolkkolom met die uittog uit Egipte (Vgl Eks 13:21-22Jes 52:12; Ps 139:5)

‘jou geregtigheid’ – soos die Here sy verhouding met jou reggestel het, moet jy jou verhouding met mense gaan regstel. Sy heerlikheid word gesien in sy liefde en vergifnis; so moet jy ook sy liefde deurgee en sy vergifnis toepas.

‘n Goeie lewe kom slegs deur goeie verhoudings met jou bure en medemense. Die gemeenskap se veiligheid en sekuriteit word bedreig deur selfsugtigheid, hebsug, afsydigheid en uitbuiting. As dit afgelê word, kan die Here se seën verwag word.

58:9 In vers 3 is gekla dat die Here nie hulle vas en verootmoediging raaksien as ‘n goeie werk wat beloon moet word nie. ‘n Loon word nie hier gegee nie, maar die versekering van die Here se teenwoordigheid by hulle, ook in hulle teëspoed en smart. Sy teenwoordigheid beteken dat Hy hulle raaksien en vir hulle toeganklik is. Maar gemeenskap met Hom is verbind aan die aandag wat jy aan jou medemens gee (vgl. Mat. 5:23-24). Volgens Jes 58:3-5 aanbid Israel die Here terwyl hulle hulle medemense verdruk. 58:9 wys die weg na egte aanbidding: as jy sorg dat die mense by jou nie meer verdruk word nie (Lett:erlik dat jy die juk uit jou midde verwyder) – alle vorms van verdrukking (juk) is vir God onaanvaarbaar, ekonomies, polities en sosiaal. God se kinders is veronderstel om vryheid vir almal te bevorder, om ‘n regverdige ekonomie te bedryf; nie meer dreig nie (lett: nie met jou vinger wys nie), nie beskuldig nie, nie sleg van ander praat (skinder) nie, hulle uitskel en verneder nie, alles dinge wat egte buurmanskap en vriendskap onmoontlik maak.

 58:10 As jy jouself uitgiet vir ‘n honger persoon – van jou kos uitdeel, en voorsien in die behoefes van die mens wat in nood is (eerder as om net die rykes te pamperlang), dan sal jou lig skyn in die donker en jou duisternis wees soos die middag. Die lig verwys waarskynlik na sjalom in die samelewing, met voorspoed, harmonie onder mekaar en vry van buitelandse bedreigings (vgl. Jes 9:1 en 2 waar Israel se donkerte ‘n beskrywing is van die bedreiging van Assirië en hulle bevryding as lig voorgestel is, wanneer die wonderbare Seun hulle sal bevry). Die Here wil ‘n gemeenskap met reg, geregtigheid en barmhartigheid tot ‘n lig maak wat deur almal gesien kan word.

58:11 ‘Die Here sal jou bestendig (sonder ophou) lei (as jou gids) en vir jou (letterlik: jou siel) versadig te midde van verbrande/verdroogde lande;’ en Hy sal jou bene versterk, en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed nat gemaak is en ‘n fontein wat nie verswak/opdroog nie. Die Here waarborg sy veilige leierskap deur die droogtetye (soos met die uittog uit Egipte en die terugtog uit Babel) en volop water in ‘n dor land, soos Psalm 23 se waters waar rus is selfs in die donker dieptes. Jesus praat van die gawe van die Heilig Gees as strome lewende water wat uit jou binneste sal vloei (Joh 7:37-39) en aan die Samaritaanse vrou bied Hy ‘n fontein van water aan, wat in haar sal opborrel tot die ewige lewe (Joh 4:14).

58:12 Die stad Jerusalem is veral tydens die leierskap van Esra (vanaf 458 v.C.) en Nehemia (445 en 430 v.C.) opgebou (die eerste groep onder Serubbabel het reeds in 538 v.C. teruggekom – hierdie opbou  geskied nou 80 jaar na die eerste Jode teruggekom het). Die gemeenskap sou in dié stadium die energie, moed en bronne gehad het om die eeue oue ruïnes weer op te bou, sowel as die fondamente van baie geslagte, indien hulle geleer het om in vrede saam te lewe. Dan sou hulle genoem word: Hersteller van die breuk; Bewoonmakers/herstellers van die paaie om te kan woon – mense wat ‘n nuwe lewensvatbare gemeenskap moontlik maak. Die soort gemeenskap word nie in die eerste plek deur ‘n amptenary of tegnologie of groot geld of oorspronklikheid gebou nie, maar begin deur jou medemens raak te sien en vir hom om te gee.

58:13 ‘As jy jou voet terughou ter wille van die sabbat en nie jou besigheid doen op my heilige dag nie’ – die Sabbat (die Hebreeuse woord sjabat beteken om te rus) is die alternatief vir ‘n rustelose, aggressiewe, ongetemde hebsug wat rondhardloop om jou  medemens te misbruik vir jou eie voordeel. Deutr 5:12-15 het rus vir al die lede van die huishouding voorgeskryf, werkers ingesluit. Almal moet rus en die oorvloed van die skepping geniet. Maar vir die mense wat hier aangespreek word, is so ‘n Sabbat onbekend.  Hulle verdruk hulle diensknegte en medemense (v6) en jaag na wins ten koste van ander (v3,9b) ook op die Sabbat as hulle vroom in die tempel of sinagoge aanbid.  Hier word die Sabbat ‘n toets vir self-beperking van jou eie begeertes en of jy volgens die Here se wil wil lewe. Die Sabbat is bedoel as ‘n vreugdevolle feesdag aan die Here gewy om Hom te eer deur o.a.  hongeriges te voed en armes te klee, om te gee, eerder as om te gryp en te versamel (vgl. Mat 12:12; Hand  25:32). Die Sabbat is bedoel as ‘n onderbreking van jou daaglikse program, nie jou eie begeertes en plesiere te soek nie, en’n (ydel) woord/saak te praat nie (1983: nie handeldryf nie).

58:14 Dan sal jy vreugde vind in die Here – die Here belowe dat ‘n alternatiewe gemeenskap, waar mense in vrede met mekaar lewe, in reg, geregtigheid en barmhartigheid, hulle vreugde in die Here sal vind. Die Hebreeuse woord hier vir vreugde praat van ‘n blydskap, sonder hebsug of onderdrukking, oor ‘n goeie lewe wat die Here aanbied aan dié wat op Hom vertrou en volgens sy wil met mekaar lewe met ander waardes as dié van die wêreld om ons. Ware vreugde vloei nie voort uit die najaag van jou eie belang nie, maar medemense is die pad wat die Here aanwys as die toegang tot Hom (vgl. Mat 25:34-40; Jesus se nuwe gebod is juis dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet, deur sy lewe vir ons te gee; Joh 13:34).

‘En Ek sal jou laat ry op die hoogtes van die aarde/land (die pad na ware sukses), Ek sal jou laat eet van die erfenis van jou vader Jakob (van die produkte van die land wat die Here aan Jakob gegee het); want die mond van die Here het gepraat’ – en sy woord doen wat dit sê (Jes 55:11).

Die oop gemeenskap wat in reg, geregtigheid en barmhartigheid met mekaar saam lewe, waarvoor die digter-profeet pleit, het deur die eeue nie by Israel posgevat nie, behalwe by klein groepies, todat Jesus gekom het en dieselfde boodskap gebring het deur aandag te gee aan die Samaritane (Joh 4), ‘n Griekse vrou uit Fenisië (Mark 7:26) en mense van die tien Griekssprekende stede (Mark 7:31-10); en Hy het gebid vir die eenheid van almal wat aan Hom behoort, sodat die wêreld in Jesus kan glo wat die Vader gestuur het omdat Hy hulle liefhet  (Joh 17:20-23).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Geloof moet gelewe word (58:1-7) – Francois Malan

Die gedig is ‘n lang en ernstige opdrag van die Here dat sy diep verdeelde volk aangespreek moet word oor hulle skynheiligheid. Die Here verwag dat sy volk se lewe hulle belydenis sal weerspieël, oor wie en hoe hulle Here is, dat hulle nie met hulle lewe ‘n boodskap verkondig wat strydig is met hulle vertroue op die Here en sy woord nie.

58:1 Roep met ‘n keel (sit ‘n keel op, roep hardop), moenie terughou nie (moeie bang wees om dit luid en duidelik uit te roep nie), soos ‘n sjofar (ramshoring wat vir die stryd oproep), verhef jou stem (roep met ‘n luide stem). Die verkondiger van die Here se woord word in geen onduidelike taal nie vier maal die opdrag gegee om die Here se woord te verkondig, hard en duidelik, sonder om doekies om te draai, want dit is ‘n saak van lewe en dood vir mense en gemeenskappe. Die volk van die Here moet op hulle oortredings van die Here se opdragte gewys word.

Maak aan my volk hulle opstand/rebellie bekend (stel die saak hoog, duidelik sigbaar voor) en aan die huis van Jakob hulle oortredings – dit is ‘n lewe wat ingerig word uit teenstand teen die woord en wil van die Here. Later word dit uitgespel dat hulle optrede teenoor mekaar, teenoor hulle arbeiders en arm medemense, ‘n optrede is wat indruis teen die Here se opdragte daaroor.

58:2 En dit gebeur terwyl hulle die indruk wil skep dat hulle baie godsdienstig is. Hulle begeer met vreugde; vreugde word twee maal in dié teks gebruik (1983 vertaal: graag, daarvan hou) – hulle verheug hulle daarin om dag vir dag die Here te soek en na sy wil te vra, so asof hulle ‘n volk is wat in geregtigheid lewe en nie die voorskrifte van die Here verlaat het nie; hulle vra by die Here sy voorskrifte vir geregtigheid en geniet dit om na die Here te kom met lofprysing en gebed. Die digter berispe sy tydgenote wat die diens van God verander het in ’n daad van selfbevrediging  sonder etiese inhoud. Hulle geniet hulle aanbidding. Maar ware aanbidding fokus op die Here se wil en wense soos deur sy woord verduidelik word. Hulle voel goed oor hulle eredienste en in hulle eredienste, maar dit is teen die ware bedoeling van die Here.

58:3 Getrou vas hulle en verneder hulleself voor die Here (moontlik in sak en as), maar die Here neem nie daarvan kennis nie! Want hulle doen dit vir hulle eie begeertes en plesier; om deur die Here raakgesien te word, om die Here se aandag op hulle te laat vestig – eintlik ‘n erkenning dat hulle godsdiens op hulleself gevestig is, dat die doel van hulle godsdiens is om daardeur iets te verkry. Daarom het hulle godsdiens ‘n middel tot ‘n doel geword en nie ‘n doel opsigself nie. Die Here is dus bruikbaar om voordeel te behaal, soos die Satan vir die Here gevra het: Is dit verniet dat Job U vrees? (Job 1:9) – bedoelende sonder hoop op wins. Godsdiens wat bereken wat ek daaruit sal kry, werk nie by God nie! Daarby verdruk hulle al hulle slawewerkers (Septuaginta: die mense onder julle hand – onder julle beheer; die Hebreeuse woord verwys na ‘seermaak, gepynig word). Hulle godsdiens is ‘n opstand teen die Here se eis van liefde tot God met jou hele hart, en jou naaste soos jouself. (Deutr. 6:5; Lev 19:18). Dit bely hulle dag vir dag en gee voor dat hulle God en hulle naaste so liefhet, maar juis nie toepas nie, nie in die erediens en kerk nie en nie by die huis of in die samelewing nie.

58:4 ‘Kyk! Julle vas net tot twis/onenigheid (wat op ‘n regstryd/hofsake met mekaar uitloop)  en twis (met standpunte teen mekaar);  julle vas om  met die vuis van boosheid te slaan; julle vas nie op die dag (vandag soos ons nou praat) om julle stemme in die hoogte (by God) te laat hoor nie.’ Die mens wat vas, baklei omdat hy net op homself gerig is, sodat daar geen grootmoedigheid of vrygewigheid kan wees van mense wat groter as hulleself is nie. Sulke soort aanbidding gee geen toegang tot God nie want die God van Israel is nie beskikbaar om ‘n instrument te word van die mens se berekende manipulasie nie. Dié soort aanbidding is ‘n totale verdraaiing van die beeld van God en ‘n totale verwringing van sosiale verhoudings.

58:5 Die Here soek nie uiterlike tekens van verootmoediging by ‘n mens (adam enige mens) nie, met geboë hoofde (soos ‘n biesie in die stroom of soos verlepte plante) in sak geklee en as op die kop nie.Vir die Here is die uiterlike tekens nie van belang nie, want dit dien slegs om deur mense gesien te word (vgl. Mat 6:16-18).

58:6 Ware vas, wat die Here wil hê, behels nie ‘n soort gedissiplineerde vroomheid nie, maar ‘n lewe met dade wat  jou medemens help en opbou, nie afbreek of verkleineer nie. Dit gaan nie vir God om ‘n passiewe roetine lofprysing van Hom nie. God werk in die gemeenskap en wil hê al sy volgelinge moet saam in die gemeenskap werk om Hom daarmee te prys. Egte vas gaan oor die regstel van onreg teenoor mense in die gemeenskap. Dit eis van jou om af te sien van jou voorregte en van die misbruik van jou mag:

Bevryding van mense wat onregverdig gevange sit – moontlik as slawe (Neh 5:5; vgl Jer 34:16) Letterlik: maak los die onregverdige/bose bande/kettings (gevangenskap)

Bevryding van onderdruktes – verwys na die skuldbande van mense in die mag van die ryk uitbuiters (Neh 5:3-7).                         Letterlik: maak los die stroppe van die juk

Laat die onderdruktes vry – dit bevestig die voorafgaande opdrag

Breek elke juk stukkend – dit brei uit op die voorafgaande twee opdragte.

58:7 Die vas wat die Here van ons verwag is om soos Hy te wees, genadig, barmhartig en vrygewig teenoor ander wat minderbevoorreg is, om jou brood te deel met ander, ook jou huis, jou klere, die basiese lewensbehoeftes (opgenoem in Mat 6:25).  Dit vra iets van jou, wat jou iets kos. Dit is egte vas wat die Here behaag, nie slegs ophou eet nie.

Om jou brood te breek (uit te deel) vir die wat honger is (vgl Neh 5:17)

En die armes, rondswerwers (dakloses) in te bring in die huis (Septuaginta ‘in jou huis’)

Wanneer jy iemand sien wat naak is (letterlik: wat homself verberg) jy hom klee – van jou klere gee as ware vas

En dat jy nie sal wegkruip vir jou familie/medemens nie  (letterlik: jou eie vlees nie) – van die armes in jou familie nie – egte vas is om hulle raak te sien en te help.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan