Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Redding volgens Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament

  1. a) Redding in Hebreërs

Hebreërs praat sy eie taal. Die skrywer het baie van die Joodse godsdienstige taal en simbole oorgeneem om sy boodskap te skryf. Hy gebruik die verhaal van Israel se tog deur die woestyn as analogie vir wat die gelowiges nou ervaar. So kan die skrywer wys hoeveel beter die Christene af is. Hy gebruik dus die godsdienstige taal van offers, priesters, tabernakels, engele, verbond en so aan, alles dinge wat die Israeliete met hulle tog deur die woestyn leer ken het, om te verduidelik wat redding vir die gelowiges beteken (Heb 8:1-10:22). As kern van sy beskrywing van verlossing is die verlossing van Israel uit Egipte. Die gelowiges word dus aangemoedig om in geloof getrou te bly op hulle moeilike reis deur hierdie wêreld, oppad na die ewige redding by God (Heb 13:13-16).

Die groot struikelblokke om te oorkom is sonde en die dood wat uitdrukkings van ongeloof en ontrouheid is. Sonde lei tot verkeerde optrede voor God en is die bron van onreinheid. God se program van redding word deur Jesus in werking gestel en uitgevoer. Die duiwel was natuurlik die vyand wat vernietig moes word, en juis dit het Jesus kom doen toe Hy mense geword het (Heb 2:14-15): Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy (= Jesus) ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Ons sien dus hier by Hebreërs dieselfde teologie van dood en lewe. Die dood, wat die gevolg van die sonde is, hou mense in sy mag. Self kan hulle nie weer lewend word nie. Die beeld wat hier gebruik word, is dat Jesus die duiwel, wat die baas was oor die slawe wat in die kettings van die dood was, te kom vernietig en so die slawe te kom vrymaak.

Die Hebreërskrywer plaas ook die redding in ‘n breër perspektief. In Heb 5:8-9 staan daar: Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword. Hier gaan dit oor Jesus en een van die redes waarom Hy redder kon word. Niemand is volmaak nie, behalwe Jesus. Toe Hy op aarde was, het Hy dit bewys deur sondeloos te leef en kan daarom doen wat sondige mense nie kan doen nie, naamlik om voor God vir ander in te tree. So is Hy die bron van saligheid. So verduidelik die Hebreërskrywer waarom ons Jesus vir die verlossing kan vertrou. In die vers wat op bogenoemde gedeelte volg, naamlik, Heb 5:10, word daar dan ook gesê dat Jesus as Hoëpriester aangestel is om vir mense wat aan Hom behoort in te tree.

Die priesters was onder andere verantwoordelik vir die offers vir sonde. Met die sondevergifnis was dit vir Israel moontlik om God se volk te bly. Omdat hulle gedurig gesondig het, moes daar gedurig geoffer word. Met Jesus is dit anders. Hy is nie alleen die Hoëpriester nie, maar ook die offer wat gebring word – en in sy geval is daar net een offer nodig; dit hoef nie herhaal te word nie: So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem (Heb 9:28; lees ook Heb 9:23-28) en omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd (Heb 10:10). Op die manier verduidelik die Hebreërskrywer dat die gelowige nie meer bekommerd hoef te wees oor die sonde nie. Jesus het eens en vir altyd as offer die sonde weggeneem. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring… Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! (Heb 9:12, 14) en deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak (Heb 10:14)

Jesus is ook die Hoëpriester. Daarna kyk ons volgende keer.




Mense en Redding: Paulus (8) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die gedagte van koninkryke en magte wat in stryd met mekaar staan, was natuurlik deel van die wêreld van destyds (soos op ‘n ander manier vandag ook). Paulus sluit daarby aan as jy verduidelik wat gebeur as mense gered word (Kol 1:12-13). So kry ons beelde wat verband hou met die stryd. Daar is die beeld van die triomftog (Kol 2:15; lees ook Ef 4:8): Hy (= Jesus) het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. Die beeld dui op die oorwinning wat Jesus oor al die magte wat mense bedreig behaal het. Hulle is nie meer ‘n bedreiging vir gelowiges nie, met ander woorde, gelowiges is verlos daarvan. ‘n Triomftog is gewoonlik gehou as die generaal of koning na sy stad met alles wat hy buit gemaak het terugkeer. Dan kan mense aan dit wat hy saambring sien dat hy werklik gewen het en hoe groot die oorwinning was. Jesus het die magte gewen (ontwapen) en hulle is nou gevangenis in sy triomftog – so kan almal sien dat Jesus gewen het.

Om te beskryf dat geredde gelowiges ‘n heeltemal nuwe bestaan kry, sê Paulus dat gelowiges nuut geskep word. God is die skepper en daarom kan Hy nuut skep (2 Kor 5:17): Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. Die 1983 vertaling praat van ‘n nuwe mens, maar die Griekse woord ktisis verwys na die skeppingsaksie. God skep nuut, daarom is alles vir die persoon nuut.

Uit hierdie beskrywing is dit duidelik dat Paulus ‘n wye verskeidenheid beelde gebruik om verskillende aspekte van redding mee te beskryf. As hy die nuutheid van die gelowige wil beskryf, is die mens ‘n nuwe skepping, as hy wil sê die gelowige is sonder skuld voor God praat hy van ‘n hofsaak waarin mense vrygespreek is; as hy wil beklemtoon dat daar vrede tussen God en gelowiges is, gebruik hy die beeld van versoening, en so aan. Die belangrikste manier waarop Paulus die verskillende fasette van redding bespreek is dus by wyse van verskillende beelde uit die alledaagse lewe.

Dit mag ‘n vraag wees, wanneer vind die redding nou presies plaas, want gelowiges is nog steeds in die wêreld en doen nog steeds sonde, ervaar nog steeds die stryd met die bose… waar is die redding? Paulus verduidelik dit volgens ‘n sisteem wat in die teologie ‘reeds-nog nie’ genoem word. Die redding is reeds daar. In die oë van God is ons reeds sy kinders, is ons vrygespreek in Christus, is ons skuldbrief teen die kruis vasgespyker. Deur ons geloof in Jesus is ons gered en niks kan ons van die liefde van God en Jesus skei nie. Inderdaad, as God vir ons is, wie kan teen ons wees? (Rom 8:31-39). MAAR, ons lewe tog nog in die wêreld met al sy versoekings. Op die vlak van die alledaagse lewe, die etiek, lyk dinge tog anders. Daar duur die stryd nog voort en het die redding nog nie volledig deurgebreek nie. Daar word verwag dat ons soos geredde mense sal optree, maar dit gebeur nie altyd nie – vandaar die ‘reeds-nog nie’ (Rom 13:11-14). Die finale voltooiing van die redding vind eers plaas met die wederkoms van Jesus (Rom 5:9; 14:10-12; 1 Kor 1:7-8; 15:1-58; Phil 3:10-11).

Ons is nou klaar met Paulus se beskrywing van redding. Volgende keer begin ons kyk na die beskrywing van redding in Hebreërs en ander Nuwe Testamentiese briewe.




Mense en Redding: Paulus (7) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Nog ‘n manier waarop Paulus die radikale verandering in die gelowiges se lewens beskryf, is deur die antieke gebruik van loskoping te gebruik. Dit kom daarop neer dat geld of betaalmiddele gebruik word om die situasie te verander. Gelowiges word beskryf as mense wat in ‘n posisie van slawerny of gevangenskap verkeer. Hulle word nou deur Jesus ‘losgekoop’ in die sin dat die prys vir hulle vrylating betaal word. Nou is hulle bevry van wat hulle gebind het. Paulus verduidelik in Gal 3:13 dat Jesus gelowiges losgekoop het van die verpliging om die wet vir hulle redding slaafs na te kom: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is”. Daarom kan Paulus later in die brief skryf: Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie (Gal 5:1). Gelowiges kan nou as vry mense saam met God leef.

Om losgekoop te word en vry te wees beteken egter nie dat mens ‘vry’ van alles kan wegstap nie. Die vrygekoopte is dankbaarheid aan die een verskuldig wat hom of haar losgekoop het. In die tyd van Jesus is daar verwag dat die vrygekoopte is nou lojaal en met verantwoordelikheid teenoor die een wat hom vrykoop het sal optree. Paulus impliseer dit in 1 Kor 6:19-20:  en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik en in 1 Korintiërs 7:22-24: ’n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers ’n vrygemaakte van die Here. Net so ook is ’n vry man wat deur die Here geroep is, nou ’n slaaf van Christus. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie. Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. Die klem val hier op Jesus wat die prys vir die vryheid van die gelowige betaal het en die gelowige wat nou in ‘n nuwe vry verhouding met God kan en moet leef.

Dan is daar ook beelde wat impliseer dat gelowiges van ‘burgerskap’ of status verander het: Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet (Kol 1:12-13). Hier word beelde gekombineer. Eerstens word gelowiges geskik gemaak om te erf, wat op adopsie of aanneming in God se familie dui. So word gelowiges nou in die oë van God kinders wat moet erf. Dan is daar ‘n tweede beeld wat op die verandering van heerskappy fokus, met ander woorde, wie nou heers in die lewe van gelowiges. Hulle is nou deel van die koninkryk van Jesus as efgename. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is… In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël (Eph 1:13). Redding gaan dus om die verandering van status van gelowiges sodat hulle nou deel kan wees van God, sy heerskappy en sy familie.

Deel van hierdie beeld is ook die nuwe verbond of ooreenkoms wat Jesus met die gelowiges gesluit het: Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” (1 Kor 11:25). Israel was die verbondsvolk, met ander woorde, die volk wat God uitgekies het om ‘n spesiale verbond mee te sluit. Die kern van die verbond met Israel was dat God vir hulle ‘n God sal wees en dat hulle vir hom ‘n volk moet wees. As Jesus met die gelowige so ‘n verbond sluit, impliseer dit dat God deur Jesus nou hulle God is en dat hulle sy volk moet wees. Hier sien ons weer die statusverandering van die gelowige, van geen volk na God se volk.

Paulus gebruik dan ook die beelde van loskoping, adopsie, kindskap, erfenis saam om te beskryf wat met die redding van die gelowige gebeur het: Hy (= Jesus) is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word… Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. (Gal 4:4-7). Geen wonder dat as Paulus van redding praat die deel wees aan God se familie so sterk rol speel nie. In 1 Thessalonisense word gelowiges as God se nuwe familie beskryf wat op ‘n nuwe verhouding tussen God en die gelowiges gebaseer is. Paulus beklemtoon nie alleen dat mense deel word van God se nuwe familie nie, maar ook dat hulle so moet optree. Etiek, of optrede en redding is dus twee sye van dieselfde munt.

Volgende keer kyk ons verder na die beelde wat Paulus gebruik om redding mee te beskryf.




Mense en Redding: Paulus (6) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Nog ‘n beeld wat hierby aansluit, vind ons in Kol 2:14: Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Die skuldbewys waarvan hier gepraat word, werk baie soos vandag se rekeninge. As jy iets by iemand koop of leen, teken jy ‘n dokument waarop staan wat jy die ander persoon skuld, ‘n soort van ‘n kontrak. As jy nie jou skuld betaal nie, kon die persoon aan wie jy die geld skuld, jou voor die hof daag en jou selfs in die tronk laat gooi (ons lees so iets in Matt 18:28-30 waar die amptenaar wat nou net deur die koning van ‘n klomp skuld vrygespreek is, nie sy mede-amptenaar sy skuld wou vryskeld nie en hom in die tronk laat gooi het). Jesus het die gelowige se skuldbewyse egter weggevat en aan die kruis laat spyker – ‘n metafoor om te sê dat die prys wat volgens die skuldbewys betaal moes word, aan die kruis betaal is. As die gelowige dus in die hof verskyn skuld hy of sy niks, want daar is geen skuldbewys nie. Hierdie beeld beklemtoon dus dat gelowiges nie hoef te bekommer oor skuld voor God nie. Jesus het die skuld weggeneem en gelowiges kan nou met reg voor God staan as mense sonder skuld.

‘n Ander beeld wat deur Paulus gebruik word, gaan oor versoening tussen persone. As die verhouding tussen twee persone in Paulus se wêreld ten gronde gegaan het, was daar maniere om die verhouding weer te herstel, of ten minste te probeer herstel. Laat ons ‘n eenvoudige voorbeeld neem. Veronderstel een persoon kul ‘n ander in ‘n transaksie met 20 skape. Dit laat die verhouding op die rotse loop. Hulle is effektief nou vyande van mekaar. Hoe gaan mens nou die verhouding regstel? Die twee persone sal nie met mekaar wil praat nie. Nou word ‘n derde persoon as bemiddelaar ingeroep. Hy staan tussen die twee partye en onderhandel deur met beide partye te praat. By die persoon wat gekul is, hoor hy wat die persoon verwag om alles weer reg te stel. Die een wat die ander persoon gekul het, probeer hy oortuig om vergoeding te betaal. So onderhandel hy of sy met die twee partye om uiteindelik die verhouding weer te herstel, of om die twee weer te versoen. Dit sien Paulus as die rol van Jesus as die een wat versoening bewerk, natuurlik met God as die een wat die inisiatief geneem het. Hy het tussen die mens en God kom staan en die verhouding herstel (Kol 1:22-23): Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Paulus bespreek dit ook in 2 Kor 5:18-21: Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen… Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie… (lees ook Rom 3:25-26; 5:11). Die klem in die beeld val op die verhouding tussen God en die gelowiges wat herstel is en die vrede wat gekom het. Nou kan die verhouding weer normaal ontwikkel.

Die beelde kan ook in kombinasie gebruik word. In Rom 3:25-26 gebruik Paulus verskeie van die beelde so saam: Hom (= Jesus) het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Vir Paulus het Jesus se dood as offer vergifnis, versoening (vryspraak) en regverdigmaking (vers 24) aan die gang gesit. Dit belemtoon die versklillende fasette van die proses – elke beeld wil ‘n ander aspek van die reddingsproses beklemtoon.

Volgende keer kyk ons verder na Paulus se gebruik van beelde.